Uiteindelik sal die liefde wen – Uittreksels uit boeke

Liefdewen3=7

Uiteindelik sal die liefde wen 3

Gratis uittreksels uit van die Afrikaanse eboeke van Adele Reynders

Die boeke is as eboeke beskikbaar op Amazon. Volg asseblief die skakel. https://www.amazon.com/Adele-Reynders/e/B005GEOMZE

Of jy kan dit as ‘n eboek koop vir R20 stuk by liefdesverhalenmeer@gmail.com – Skryf asb die titel van die verlangde boek – Ons stuur dit aan en jy betaal na die tyd.

 

Adele Reynders skryf Romanzas en liefdesverhale met ‘n humoristiese aanslag. Die storie is belangrik, verkieslik met ligte speur, spanning of selfs bonatuurlike lyn.

Hier volg uittreksels uit boeke wat op Amazon vir kindle beskikbaar is.

 

Inhoud:

Stryd om Bateleur

Blombos Requem

Vuur van Verlange

Romein van die Timbavati

Liefde anderkant Verdwaal

Liefde en konflik op Verdwaal

Isa se Uitdaging (Malan media Donker sjokolade)

E-pos vir my ‘n droom (Malan media Donker sjokolade)

Volpunte vrou

Medisyneman

Skaakspel van die Liefde

Neptunus en die PI

 

 

1) Stryd om Bateleur (Komies en bonatuurlik)
Ru Els erf ‘n lodge in Marlothpark by haar biologiese ma. Dis egter nie net vir ‘vat’ nie. Sy moet ‘n paar verrassings en uitdagings oorkom. Spoke trotseer en die sexy Eduard Swanton uitskakel as kompetisie!
“Baie vindingryk,” vlieg Eduard Swanton haar van ver af in. “Maar ek weet nie wat jy wou bereik deur my kar te saboteer nie. As die olieliggie en aanboord rekenaar my nie gewaarsku het om stil te hou nie, het ek jou nou gedagvaar vir ‘n nuwe enjin … of ‘n nuwe kar.”

“En ek het wat gedoen?” vra Ru omgekrap.

“Die olieproppie van die samp uitgedraai,” help die Land Rover Samaritaan haar hulpvaardig reg.

“Dit was nie ek nie. Ek sal jou dagvaar vir … crimen injuria as jy my valslik beskuldig. Ek weet nie eens waar sit ‘n vervlakse samp dinges nie.”

“Dis onder die kar.” Die vreemdeling help Eduard om die sleepwa af te haak en onder die afdak in te stoot.

“Waar is die kar nou?” vra Ru.

“Nelspruit. Daar is ‘n BMW garage.” Die ou van die Land Rover weet teen die tyd dat Eduard sy tong ingesluk het. Hy skoffel heen en weer met arms vol goed om te help om Eduard se bagasie uit die Land Rover te laai en op die stoep te deponeer. En Ru weet sy is nie veronderstel om weereens raak te sien dat haar tydelike buurman ‘n baie sexy lyf het nie.

“Baie dankie vir jou hulp.” Eduard sit die laaste boks neer. “Kan ek vir jou ‘n bier aanbied? Ek weet nie hoe koud dit is nie, maar dit was darem in die koelboks.”

“Ja dankie, dit sal lekker wees.” Die man haal ‘n pakkie sigarette uit sy sak, skud dit in panfluitformasie uit en hou dit na Eduard toe uit.

“Nee dankie. Dis gelukkig een sonde wat ek nog nie by my ellelange lys gevoeg het nie. Maar jy kan vir haar een aanbied. Sy rook soos ‘n skoorsteen.”

“Wat? Ek rook nie, dankie.” Ru kan haar ore nie glo nie. Eduard Swanton is ‘n blatante leuenaar wat gisteraand die uitsig na Marloth se sterreruim met rookwolke so dik soos ‘n brand in ‘n suikerrietplantasie versper het en daarna sy stompie neergesmyt het.

“Wat?” roep sy in haar selfoon toe dit begin lui en sy sien dat dit Louis van der Veen die prokureur is.

“Sê vir Eduard Swanton hy moet sy foon aanskakel, ek wil met hom praat.”

“Hou aan.” Sy hou die foon ‘n ent weg. “Swanton, waar is jou foon? Louis soek jou.”

“Sê vir hom ek is gatvol, ek wil nie met hom praat nie. Hy is gefire as my prokureur.” Eduard gluur haar met twee blou blitse aan.

“Jy is gefire, hy wil nie …”

“Orraait orraait! Ek het gehoor. Sê dan net vir hom dat Angelique se Suzuki Jeep se sleutel in die tweede laai van haar lessenaar is. Julle mag die kar gebruik solank as wat julle daar is. En natuurlik staan Ed se scooter ook nog daar in die garage.”

“‘n Scooter?” Nou het Louis van der Veen haar onverdeelde aandag.

“‘n Vespa. Die sleutels van die stuur hang in die kombuis agter die deur.”

“Ek sal vir hom sê.” Sy bars uit van die lag. Sy sien al hoe hierdie moderne sexy man sy agterent op die grondpaaie van Marloth deurstamp, as hy met die Vespa Komatiepoort toe ry. Sy roep. “Eduard, Louis sê daar is ‘n Vespa in die garage wat jy met liefde mag gebruik. Die sleutel vir die stuurwiel hang agter die kombuisdeur.”

“En die Suzuki Jeep,” herinner Louis haar van anderkant die swart kassie. “Sê hy mag die Jeep ook gebruik.”

“Skuus Louis, ek hoor nie mooi nie.”

“Sê vir hom van die Suzuki Jeep.”

“Gits, lyk my daar gaan die selfoonsein nou net.” Sy hou haar foon ‘n ent weg. “Hallo hallo. Nee jammer, niks gehoor nie. Bel maar weer volgende maand of so.”
Later in die boek:

Ru lê ‘n rukkie stil en probeer vasstel wat die snaakse geluid is wat haar pas wakker gemaak het.

As sy vandag in haar meenthuis in die stad wakker geword het, sou sy onmiddelik geraai het dat dit ‘n buurman is wat probeer om ‘n grassnyer aan die loop te kry. Hier in die bosse kan dit seker ‘n steekse kettingsaag wees wat een of ander uitheemse gewas tot vuurmaakhout moet reduseer wat nie wil saamwerk nie.

Of …dis buurman wat probeer om die Vespa aan die loop te kry om iewers heen te ry. En dit moet sy sien!

Sy trek haar sweetpaktop oor haar slaapklere aan, sluit die deur oop en stap uit.

Die garage se deure staan oop. Regs is die geel Suzuki Jeep geparkeer, die een waarvoor Eduard ongelukkig nie ‘n sleutel het nie.

Links spook die man met die Vespa. Daar staan ‘n kan petrol en ‘n blikkie met tweeslag olie. ‘n Kombinasie wat in die brandstoftenk gegooi moet word. Sy vermoed dat Eduard wel die sleutel in die stuurmeganisme gesit het en dit gedraai het. Dit is gewoonlik stap een. Nou skop hy vir ‘n vale om die gedoente aan die brand te kry. En as iets amper gebeur, dan wikkel hy die handvatsels en net sodra hy versigtig optimisties lyk, sê die ding poef.

Eduard kyk op en sien haar daar staan.

“Môre,” groet hy darem.

“Môre.” Die gesprek is oor, wat hom aanbetref maar sy kan darem nie die arme man heeltemal aan sy eie lot oorlaat nie. “Het jy die petrolkraantjie oopgemaak?”

“Huh? Die wat?” Daar is ‘n oliestreep oor sy voorkop. Eduard het waarskynlik al meer as eenkeer sweet afgevee.

“Die kraantjie aan die kant. Mens vergeet soms daarvan,” beduie sy.

“Soos ek nou.” Hy lyk verleë, buk en doen ‘n verstelling. Die fiets spoeg rookbolle uit terwyl dit lewe kry en soos ‘n kind wat ‘n lekker nuwe speelding gekry het, gaan sit hy op die saal en draai die handversneller oop.

“Waar is jou valhelm?” roep sy bo die geraas uit.

Hy waai met sy hand in die lug om vir haar te wys dat toughies soos hy nie ‘n valhelm nodig het nie en trek weg. En amper is hy in ‘n tref en trap ongeluk waarin hy tegelykertyd die skuldige en die slagoffer is, want die fiets draai so skerp, hy ry amper oor homself soos wat hy afkom aarde toe en in ‘n olie-petrol-reën bly lê.

“Het jy onthou om die stuurmeganisme oop te sluit met die sleutel wat in die kombuis was?” vra Ru.

“Shit.” Hy staan op, tel die fiets met ‘n gesteun op en draai die sleutel om die stuurwiel los te sluit. Hy begin ewe geduldig van voor af en die keer gaan dit beter, want genadiglik het die fiets nie danksy sy vorige pogings gesmoor nie.

Toe hy die koppelaar los en begin ry, swaai die fiets se ronde gat gevaarlik en Ru wag in spanning dat hy weer moet ploeg. Maar verbasend genoeg kom Eduard reg, waarna hy met ‘n stofstreep agter hom iewers heen padvat.

Uiteindelik kan sy dubbel vou van die lag. Dit lyk asof die vlakvarke in die modderpoel daar naby ewe lekker saamlag.

Ru stap by haar huisie in en skakel die ketel aan. Terwyl sy koffie maak, spits sy haar ore vir die Vespa se dreungeluid. Sy borsel haar tande, trek ‘n skoon denim en wit T-hemp aan en verf haar gesig.

En luister met toenemende kommer of sy nie die Vespa hoor aankom nie.

Sê nou hy het weer geval, hierdie keer regtig seergekry en lê iewers tussen die bosse en bloei. Moet sy nie maar na hom gaan soek nie? As hy iets oorgekom het, is dit op haar gewete.

Maar nee, daar is ‘n baie groter kans dat Eduard iewers in ‘n plek sit en ontbyt eet.

Vergeet hom, hy dink mos hy is te smart om ordentlik teenoor haar te wees. Dit was tyd dat hy ‘n bietjie afkom aarde toe. Letterlik. Sy gaan haal haar Dragon Tattoo boek en gaan sit op die bank op die stoep om te lees…

En word so weggevoer dat sy eers weer bewus word van wat om haar aangaan wanneer Gert se Land Rover ‘n natgeswete, vuil en stowwerige man daar afgooi, waai en wegry. Eduard is tot die dood toe uitgeput soos ‘n onfikse atleet wat pas ‘n maraton gehardloop het en nou bewusteloos agter die wenstreep gaan neerslaan.

“Waar is die Vespa?” vra Ru versigtig om hom nie om te krap nie.

“Gevrek met die terugkom van die winkels af, net toe ek by Waterbok links wou draai. Toe stoot ek hom so ‘n ent af in Swartwitpens straat. Maar toe kom Gert verby en gaan haak die sleepwa om hom op te laai. Hy sê hy sal die ding gaan diens en overall.” Hy steek halfpad teen die trappe vas en steun. “En waar het jy soveel kennis oor Vespas opgedoen?”

“My vriendin Wilna het een. Dis great fun.”

“Om haar te sien ploeg?”

“Nee, om saam met haar te ry.” Sy blaai die bladsy om en sak dieper in die bank weg om lekker verder te lees. “Maar ek sal beslis nie saam met jou ry nie. Jy is ‘n gevaar vir jouself en vir ander padverbruikers.”

“Ek sal jou ook nie nooi om saam te ry nie.” Selfs verby die hoek van haar boek sien sy dat haar mosie van wantroue hom ‘n lekker dolksteek gegee het. “Damn, ‘n stort en ‘n bier sal nou goed afgaan.”

“Ek sou gestort het voor ek winkels toe gery het,” giggel sy.

“Ek gee nie om as ‘n paar inwoners gesien het dat ek gewerk het nie.” Daarmee hys hy homself met sy laaste kragte tot op die stoep, sluit sy woonsteldeur oop, stap in en klap dit agter hom toe.
Iets het Eduard Swanton kwaad gemaak, sien Ru toe hy ‘n halfuur later uit sy woonstel storm met sy selfoon omhoog in die hand.

“Het Louis vir jou iets gesê van die Suzuki Jeep se sleutel? Het hy jou gevra om vir my ‘n boodskap te gee?” ontplof hy. Hy is nie kwaad nie, hy is briesend.

“Jy wou nie met hom praat nie. En ook nie met my nie.”

“Ek vra nie wat ék gedoen of nie gedoen het nie. Ek vra of daar iets is wat jy versuim het om vir my te vertel?” Hy trap rond van ongeduld.

Sy antwoord nie, wens net sy is nie so dik van die lag nie, as hy vooroor buk en in haar oë kyk.

“Jou blerrie merrie,” sis hy met gevoel. “Weet jy wat weeg daai donnerse fiets?”

“Nee. Wat?”

“Baie. En hoekom waarsku jy my nie dat ek olie en stof oor my hele gesig het nie? Het jy gesien hoe lyk my gesig toe ek hier wegry?”

“Nie juis anders as gewoonlik nie.”

“Kon jy my nie sê ek lyk soos ‘n Arabier na ‘n stofstorm nie?”

“O dit? Ek wou dit nog inpas nadat ek jou gevra het of jy ‘n valhelm het, toe ry jy al.”

“Klein klits!” Eduard kom orent en Ru weet die enigste ooreenkoms tussen hom en ‘n Arabier is dat hy soos ‘n sexy sjeik lyk, met vierhonderd vrouens in sy harem.

Bateleur is ‘n spookstorie met ‘n komiese aanslag.

 

2 Vuur van verlange (Komies en bonatuurlik)

Wanneer jy werklik lief raak vir iemand, brand die vuur van verlange wanneer julle geskei is, erger as ‘n veldbrand. Daleen huur ‘n huis naby Lydenburg om van haar ex-man, ‘n prokurower (sy háát die spesie) af weg te kom en om rustig aan haar vertaalprojekte te werk. Sy ontdek ‘n dagboek in ‘n grot wat in die Anglo-Boereoorlog geskryf is. Hoe meer sy daarin lees, hoe meer haat sy die Engelse. En na net ‘n paar dae in haar huurhuis kom sy agter iets is daar nie pluis nie. Dit spook. En sy het net vir Thomas Smith ‘n Engelsman en prokureur, wat boonop maak asof hy nooit agtergekom het dat dit in die ou huis spook nie.

Dan is daar ook Snuffels die boerboel, wat nét sy kan raaksien. Saam met hom verken sy die plaas en maak ‘n interessante ontdekking:

 

Daleen het dit nog nooit tevore in haar lewe gesien of hanteer nie. Maar die feit dat dit nog steeds blink en nie aangeslaan is nie, laat haar vir geen oomblik twyfel aan wat sy voor haar sien nie.

Ses goue Britse ponde.

Hierdie ontdekking het beslis niks met Snuffels se baas te doen nie, want die inhoud van hierdie seilsak neem haar veel meer jare terug as wat ‘n hond se lewensduur is.

Hierdie is geskiedenis. Africana? Volksbesit? Daar is heelwaarskynlik wetlike implikasies betrokke by die ontdekking wat sy gemaak het. Dit moet seker gerapporteer word. Maar by wie? Die polisie? Nie met al die gawe goed wat mens deesdae in die koerante oor ons regsdienaars lees nie. Wapens en ammunisie wat tussen neus en oë verdwyn nie. ‘n Museum dalk? Die universiteit?

Daleen stap heen en weer in die kombuis. Sy sal eers moet huiswerk doen, navorsing op die internet om agter te kom hoe werk die wet.

Intussen, waar steek sy hierdie kosbare skat weg totdat sy weet wat om daarmee te maak? Haar oë val op die uitstalkas met porselein ornamente. Sy kies die lelikste pot en sit die ponde in hulle bruin papiersakkie daarin. Sy glip uit om ‘n beker grond langs die kombuistrap te skep en gooi dit bo-oor. ‘n Bossie plastiekrose rond haar kunswerk af, waarna dit in die middel van die kombuistafel beland.

“Pragtig,” spot sy en gaan was haar hande wat nie net vol grond is nie, maar nou ook taai en nat gesweet is, ten spyte van die koue wat oor die Hoëveld aangekruip kom.

Hoe de joos gaan sy hierdie nag omkry? Hoe sal sy in haar lewe weer kan slaap, voordat sy die geheim van die spelonk opgelos het? More gaan sy met ‘n skerp flitslig, tou en haar eie rugsak terug om die plek behoorlik deur te kyk.

 

“Mevrou jy hoor nie ons klop nie? Ek en John het amper die huis rondom jou afgebreek,” raas Sarah Maandagoggend. “Dis al negeuur en ek wil kom stryk.”

Sarah skuur by haar verby, maar steek in die kombuis langs die rak vas. Sy tel ‘n pilleboksie op.

“En wat is dit?”

“Slaappille. Ek het dit in die badkamerkas ontdek en een gedrink. Ek kon nie slaap nie.” Daleen vryf oor haar oë.

“Thomas was bang daarvoor.” Sarah druk die pille in haar sak en mik daarmee deur toe. “Hy sê iemand wat so alleen bly en wegkruip vir die samelewing raak naderhand so depressief dat hulle ‘n einde aan alles wil maak.”

“Ek is nie depressief nie. Los my pille,” roep Daleen agterna. “Ek mag dit dalk weer nodig kry.”

“Dis nie jou pille nie. Hier staan dit duidelik. Faan van Zyl. Een voor slaaptyd, indien nodig. Is jou naam miskien Faan van Zyl? Ek gaan eers vir Thomas vra of jy dit mag drink.”

“Mmm,” kreun Daleen omgekrap. “Simpel busy body.”

Sy gaan bad, trek aan en sit ‘n flitslig in ‘n rugsakkie. Sy stap met ‘n stywe rug by die waskamer verby, waar Sarah nou staan en stryk en haal ‘n bottel koeldrank uit die yskas. Dit kom ook in die rugsak. Buite probeer sy lyk soos iemand wat die roos en laventeltuin waardeer, omdat Sarah haar steeds dophou.

Wanneer sy seker is dat Sarah se aandag elders is, glip sy by die garage in. Sy het gereedskap nodig, ‘n hamer en bytel. En ‘n tou wat sy aan die boom kan vasmaak, as sy die nodige moed bymekaar kan skraap om dieper in die spelonk in te beweeg.

“En nou? Werk ons nie vanoggend nie?” Daleen wip soos sy skrik toe John agter haar praat.

“Nee, mens moet soms bietjie wegkom van die rekenaar af.”

“Om te wat?” John se oë is op die tou in haar hande.

“Ek wil dalk iets op die dorp gaan haal. ‘n Lessenaar,” jok sy.

“Met jou kar?”

“Sal nie pas nie, nê.”

“Oorle oom Faan se bakkie se sleutel hang in die studeerkamer. Sal goed wees as jy daarmee ry. Jy moet net diesel ingooi.”

“Dankie, ek sal beslis van so aanbod gebruik maak. Wat doen jy, John?”

“Maak die ding reg.” John wys na ‘n klein trekkertjie waarvan die onderdele in vyftigduisend stukke lê.

“Nice! Gaan hy weer loop?”

“Of course gaan hy weer loop. Sommer vanmidag nog.” Hy raak so verdiep in sy werk dat Daleen ‘n tou, hamer en bytel van die rakke af steel, sonder dat hy opkyk.

Dis nou of nooit, besluit sy en begin hardloop in die rigting van die koppie.

Oorlogvoering, grinnik sy by haarself. Guerilla oorlog. Selfs die trui wat sy aan het is kakiekleurig en sy smelt eenvoudig met die gras saam. Haar hare is in elk geval die kleur van strooi en sy is oortuig dat niemand in ‘n duisend jaar van Sondae sal weet waarheen haar geheime missie haar gaan neem nie.

Vanoggend hoef sy nie eens te wag vir die boerboel om haar te lei na die paadjie wat teen die koppie opgaan nie. Haar voete klim sommer self.

Met are wat wil bars van adrenalien en avontuurlustigheid kruip sy by die grot in en skakel die flits aan.

“Snuffels, is jy hier?”

Niks hond. Nie ‘n geluid nie. Dan sal sy maar sonder haar kameraad aan die werk moet spring.

Haar eerste missie is om die kis oop te kry. Sy gebruik die hamer en bytel daarvoor en uiteindelik gee die slot mee. Die deksel protesteer met ‘n kraakgeluid voordat sy dit oopbeur. As sy verwag het om nog goud en skatte in die kis te vind, sou sy seker teleurgesteld gewees het. Maar ‘n pragtige ou Statebybel is ook ‘n kleinood. En die vergeelde ou joernaal langsaan is net so aanloklik. Sy haal dit versigtig uit. Ook die pen en inkbotteltjie waarvan die inhoud lankal verdroog is. ‘n Tonteldoos en kersstaander.

Daaronder klere en linne wat voel asof dit kan skeur en verbrokkel en sy besluit om nie verder te krap nie. Dis buitendien die joernaal wat soos ‘n dagboek geskryf is, wat onmiddelik haar volle aandag gryp. Sy gaan sit in die bek van die spelonk waar sy kan sien en begin blaai.

Dis geskryf deur Johannes Cornelius Gerhardus van Zyl, eienaar van hierdie plaas, in die jaar 1877. Hy is die trotse pa van ses kindertjies. Drie seuns en drie dogters. Almal dra swaar aan name, maar een van die dogters se noemnaam is Alida.

Alida? Daleen kyk verras van die joernaal af op na die boom waarin die name van Graham en Alida gekerf is. Hoe oud is die boom en hoe lank terug is die name uitgekerf? Bome word maklik honderde jare oud. Sy hoop dat van die antwoorde in die joernaal opgeteken staan en bêre dit vir eers in haar rugsak. Daar is nog baie tyd om daardeur  te werk. Maar nou wil sy eers die res van die plek deurkyk voordat een of ander staatsinstansie oorneem.

In die kombuiskassie ontdek sy borde en koppies van fyn porselein. Pikswart messe en vurke wat daarop dui dat dit eintlik silwer is. ‘n Lapsakkie met iets hard in en toe sy dit in die lig van die flits ooprol, trek sy haar asem onwillekerig skerp in. Wat sy sien, is mooier as mooi. Enige vrou se droom. ‘n Diamant halssnoertjie, armband, ring en oorbelle en niemand sal haar oortuig dat dit kostuum juwele is nie. Sy weet sommer hierdie is die ware Jacob.

Bestaan daar iets soos ‘finders keepers’? wonder sy en sit die juwele aan.

Daarna draai sy die flitslig in die rigting van die donker opening wat na die volgende vertrek lei.

“Gorrel jou grotman!” roep sy uit toe die lig op ‘n foto van Oom Paul Kruger val. Hy gluur haar met ‘n diep frons tussen die oë aan. “Vir wat kyk jy so na my? Ek doen niks verkeerd nie. Ek léén die juwele, sodat dit veilig kan terugkeer beskawing toe.”

Sy draai die portret om en stap eers weer uit om tot verhaal te kom.

“Blessit ou fossiel,” raas sy en bind die nylontou se een punt aan die karee en die ander punt  haar lyf. Te veel mense het al in die vertakkings van grotte verdwaal of het in diep gate geval en is jare later eers gevind … as oorskot. Dit mag nie met haar gebeur nie.

Diep asemhaal voordat sy buk en inkruip. Daarna deur na die volgende vertrek.

En toe sien sy dit in die lig van haar flits… Afgryslik!

Sy weet nie wanneer sy begin gil het nie. Sy weet ook nie hoe sy weer bytwee-twee vernouing in die grot uitgekom het nie, want sy kan nie onthou dat sy gebuk het nie. Sy weet ook nie hoe die tou om haar lyf losgekom het nie, of hoe en waar sy die rugsak opgetel het nie.

Sy is eers weer bewus van wat rondom haar aangaan toe sy modderbesmeer en sopnat deur die spruit struikel en haarself te pletter teen ‘n man vashardloop.

Thomas Smith.

“Jimmel wat de hel?” roep hy uit en probeer koes, maar op geen manier kan hy uit die pad van ‘n direkte aanslag kom nie.

“Hy is so dood soos ‘n mossie!” Sy is steeds buite haarself van skrik toe hulle aftuimel grond toe.

“Dead? No, I am still alive, but only just,” kreun Thomas Smith winduit.

“Dankie tog daarvoor. Maar ek praat nie van jou nie. Iemand anders met ‘n dolk tussen sy ribbes.” Daleen spring op en vryf haar maermerrie. Skuldig besef sy hoe hard Thomas met die grond moes kennis maak. Reg op sy rug, met haar boonop op hom.

“Hey, is jy orraait?” vra sy angstig.

“Ons moet ‘n ambulans kry en die polisie bel.” Thomas rol op sy maag om en krul soos ‘n ietermago op.

“Ek verstaan van die ambulans, maar gaan jy nou ‘n saak van aanranding teen my maak?” wil Daleen ontsteld weet.

“Nie vir my nie. Jou ander slagoffer leef dalk nog.”

“Slagoffer? Dis nie ek wat hom vermoor het nie. Jimmel, wat dink jy van my?”

“In die stadium dink ek nog nie … iets nie. Ek werk eers aan jou profiel.” Thomas kry homself steunend op sy voete. Voete en bene wat hom maklik dertig sentimeter oor haar laat troon, noudat sy naby hom staan. Hy haal ‘n paar maal diep asem en vra: “Ken jy die slagoffer?”

“Nee, want dis moeilik om gelaatstrekke uit te maak.”

“Geskend?”

“Nee, daar het van hom net ‘n skelet oorgebly.”

“O. Sjoeee. Waar is hy? Kom wys my.”

“Daar bo, op die plato in ‘n grot.”

‘Nou wat maak jy daar bo, op die plato … in ‘n grot?” Hy draai effens om en kyk in die rigting waarheen sy beduie en Daleen voel skuldig toe sy sien dat sy duur hemp agter geskeur is.

“Die hond het vir my die plek gaan wys. Ek vermoed die slagoffer was sy baas. Is jy seker jy is oukei?”

Voordat Thomas kan antwoord, lui sy selfoon en terwyl hy dit uit sy sak probeer haal, kom hy agter dat die velle van sy regterhand in die slag gebly het. Hy antwoord: “Ouch, Smith,” waarop iemand ongevraagde kommentaar lewer, want hy roep verontwaardig uit. “Jy sou ook so geklink het as jy pas in ‘n hit and run ongeluk was. I was hit by a running lady. Ek het laas op skool so hard geval nadat my fiets se ketting gebreek het. Luister, kanselleer my afsprake vir vanmiddag. Ek kom nie terug kantoor toe nie.”

Hy sit sy selfoon weg en kyk Daleen vas in die oë. “Gaan wys my. And this better be good.”

“It is even better, as jy dink misdaad is gooood! Volg my. Maar dis ‘n stywe klim. Is jy nie te stukkend daarvoor nie?” Sy sit haar rugsak op die grond neer.

“Ek was in die weermag. Daar ontwikkel mens ‘n uithouvermoë en ‘n pyndrempel wat ‘n tandarts na sy tang laat gryp,” spog hy.

“Hou op om so ligsinnig oor die saak te wees.” Sy ruk in haar spore om en drafstap voor hom uit. “Sot!”

“I heard that!”

Van Thomas se humor bly nie veel oor hy uiteindelik oor die grusame fonds in die grot buk nie. Omdat hy soveel groter as sy is, het dit ook heelwat meer moeite en oorreding gekos om hom deur die tweede opening van die spelonk te laat kruip.

“Dit moes inderdaad lank terug gebeur het,” bevestig hy Daleen se vermoede en toe trek hy ‘n gesig. “Dit ruik sleg hier binne. Ons moet uit.”

“Volg my, ek is reg agter jou,” spot sy toe hy haastig vooruit laat spaander. Hy moet sy lyf amper dubbel vou om uit te kom. As die grotmuur nie so sterk was nie, het hy seker ‘n deel daarvan met hom saam geneem na waar die lug skoon en vars is.

Buite drapeer hy homself oor ‘n laaghangende tak van die groot kareeboom en hyg na asem.

“Ekskuus, maar ek raak bietjie benoud in klein spasies,” verduidelik hy, voordat hy die polisie op sy selfoon bel.

“Alles reg. Ek kry jou daar onder by die rivier. Of by die huis.” Sy moet werk aan ‘n voorprong, sodat sy die rugsak met joernaal iewers kan wegsteek, voordat daardie wakker blou oë dit raaksien.

 

3 Blombos Requiem (Spookstorie liefdesverhaal)

Agtergrond: Blombos Requiem was veronderstel om die laaste kort vertelling te wees in die bundel In Limbo, meer spookstories. Erika Cilliers het vertel van die huis wat aan haar oupa behoort het, waar die man met die kierie loop … Van die babas wat huil … Waar die honde weier om in die huis te kom, omdat daar op ‘n stadium nare dinge gebeur het.

Kevin het twee kinders Joannie en Daniel en Maritza een naamlik Markus. Albei aanvaar onderwysposte op die klein dorpie Blombos, waar hulle tydelik langs mekaar in ‘n ‘skakelhuis’ woon.

Hierdie boek is nie altyd net komies nie.

 

Hoofstuk 5
Van laatslaap kom daar Vrydagoggend niks.

Seweuur klop iemand hard aan die agterdeur langs Markus se slaapkamer en Maritza staan uiteindelik teësinnig op om te gaan oopmaak:

“Ek is Siena. Mevrou Erasmus van die skool het my gestuur om te kom hoor of julle iemand nodig het om bietjie huis skoon te maak noudat julle gesettle is.”

“Sjoe, dis nog baie vroeg. Kevin slaap sekerlik nog. Van my kant af sal ek beslis in hulp belangstel. Eenmaal per week?”

“Ja, ek is nog nuut hier op Blombos. Ek het elke dag van die week oop.”

“Vrydag by my. Kevin moet maar self besluit watter ander dag van die week hom sal pas.”

Maritza beduie dat Siena solank moet inkom en skakel die ketel aan om vir hulle koffie te maak.

“Is Kevin die ou man wat nou net hier uit is?” vra Siena.

“Ou man? Is middel veertig oud?” Maritza kyk onthuts na Siena. “Ek is ook een van die dae daar en ek voel nog op en wakker.”

“Nee, veertig is nie oud nie. Dan is dit seker nie jou Kevin nie, want hierdie man is beslis nader aan sestig.”  Siena raak sommer uit haar eie met gisteraand se skottelgoed besig. “Hy loop met ‘n kierie. ‘n Kwaaie ou man, wat my amper by die tuinhekkie onderstebo gestamp het. Hy het nie eens gegroet of gevra wat ek soek nie.”

“Is jy seker hy het by die huis uitgekom?” wil Maritza weet.

“Hier by jou agterdeur uit.”

“En jy is baie seker?”

“Baie seker.”

Iemand was in haar huis! Dit beteken sy en Markus het albei gisteraand vergeet om die deur te sluit, besef Maritza geskok. Iemand kon hulle vermoor het! Dalk is Markus dood en dis dalk hoekom hy nie Siena se klop gehoor het nie. Sy voel hoe die paniek in haar opstoot. Maan haarself tot kalmte en gaan loer by haar mooi donkerkop seun se slaapkamer in.

Hy slaap soos ‘n klip.

Maar hy leef.

Haar handsak is nog in haar kas en op die oog af lyk dit asof daar niks uit die huis weg is nie.

Kan dit oom Basie van die perde wees? wonder sy en gaan gooi kookwater oor die koffiekorrels in bekers. Sy en Markus het hom mos nou die aand daar in die omgewing van die stalle hoor loop. As dit hy is, is hy welkom om te kom kuier. Maar sy sal dit verkies dat hy klop voordat hy instap.

“Gisteraand kon ek glad nie slaap nie,” praat Kevin onverwags van die sitkamerdeur af en sy wip van skrik. “Oom Faan raas oor ons laat singery, maar intussen blaf sy honde deurnag. Bly om te sien jou ketel het al gekook. Genoeg water om vir my ook koffie te maak? En nou? Hoekom lyk jy soos iemand wat ‘n spook gesien het?”

“Nee, nie ‘n spook nie. ‘n Oortreder of  betreder. ‘n Ou man was blykbaar vanoggend in my huis. Siena het hom netnou sien uitstap.” Maritza beduie na die vrou by die wasbak.

“Siena?”

“Ja, jou tante het haar gestuur om te kom hoor of sy ons met die huiswerk kan help. Siena, dis Kevin.”

“Dis nie vir hom wat ek netnou gesien het nie. Daardie was ‘n kwaai ou kêrel met ‘n kierie.”

“Ek dink ek of Markus het vergeet om die deur te sluit.”

“Julle moet honde kry. Goeie waghonde. My nuwe skoonma soek huise vir vyf honde,” beduie Siena.

“Nee, ek weet darem nie …” keer Maritza.

“Watse honde is dit?” Toorwoorde wat Markus uit ‘n diepe slaap laat ontwaak het, want hier  kom hy gang af gestorm.

“Ek weet nie. Die teef is so halfmas krulhaar dingetjie. Die pa kan enigiets wees.” Siena begin lag. “Dis twee maande oue puppies man en nou dreig die SPCA om hulle te kom haal. Sê die goed kan nie net pap eet nie en moet inspuitings kry.”

“Die SPCA gaan hulle laat uitsit. Assebief Ma en …Kevin.” Hy proe nog aan die naam. Nie gewoond daaraan om grootmense en mense met outoriteit op voorname aan te spreek nie. “Ons het ‘n groot erf. En hier is baie keer oorskiet en braaivleisbene. Ek sal uit my sakgeld hondeblokkies koop.”

“Kevin?” Maritza draai vraend na hom. Sy weet nie eens of hulle toegelaat sal word om ‘n hond aan te hou nie.

“‘n Hond is dalk nie so ‘n slegte idee nie. Miskien kan ek myne leer om harder te blaf as oom Faan se keffertjies.” Kevin sluk sy koffie vinnig en sit sy beker by Siena in die wasbak. “Maritza, sal dit reg wees met jou as Markus vir hom ook ‘n hondjie gaan kies?”

“Natuurlik.” Hoe op die aarde kan sy nee sê? Haar kind is in die wolke.

“Siena, sal jy asseblief jou skoonma bel en sê ons wil gou kom kyk na die honde? Maar ons gaan net twee vat,” waarsku Kevin. “Maritza ry jy saam?”

“Nee, ek is nog in my slaapklere en ek gaan nêrens heen voor ek nie gebad het nie.”

Twee ure later word die twee snaakse halfuitgegroeide steekbaardgoedjies deel van hulle huishoudings.

Kevin en sy kinders doop hulle hond Scott en Markus s’n is Tjoklits. Brakke wat met die intrapslag eers gebad moet word, want die goedjies krap en tand hulle lyfies van die oomblik waarop hulle uit die boks klim.

“Moenie vrees nie, ons het hondesjampoe gekoop op pad huis toe. En aangesien niemand meer ons bad gebruik nie, bad ons hulle sommer daar in my badkamer.” Kevin stap vooruit.

Die hondjies volg ewe kordaat, maar wanneer Kevin die krane oopdraai, begin die twee tjank en storm stert tussen die bene by die huis uit.

Wanneer hulle dreig om by die erf ook uit te hardloop, sit die drie kinders hulle agterna.

“Ons kan die bad nie uitstel nie. Die goed is brandsiek,” waarsku Kevin.

“Dan moet ons hulle buite bad.”

“Jy is reg, Maritza. As Mohammed, wat nou ons twee nuwe honde is nie na die berg of die bad wil kom nie, sal ons maar ‘n heuweltjie, in die vorm van ‘n skotteltjie water na hulle toe moet neem.” Kevin haal ‘n diep skottel uit sy kombuiskas en Maritza gaan staan langs hom in die badkamer, terwyl hy krane oopdraai en wag dat die skottel vol loop.

“Pa ons het die honde gevang, maar hulle wil nie by die deur inkom nie,” kom rapporteer Daniel.

“Duidelik nie gewoond daaraan om  binnenshuis te wees nie. Moenie kommer nie, ek bring die water uit stoep toe.”

Kevin draai krane toe en probeer om die skottel op te tel.

“O maggies, wat weeg water?” steun hy en roep oor sy skouer. “Daniel of Markus. Kom vat eenkant.”

“Wag ek kan jou mos help.” Maritza stap nader en probeer optel, maar die skottel staan so vas dat dit voel asof dit aan die bodem van die bad vasgeplak is. Daar waar haar en Kevin se hande aanmekaar raak, voel dit boonop asof iets bo-oor vou en afdruk. Dit keer ook dat hulle weer kan los.

“Wat beteken dit?” vra Maritza verbaas.

“Dit beteken die skottel is te swaar vir ons twee om op te tel,” besluit Kevin, maar Maritza wonder wat die eienaardige kyk wat hy haar gee beteken. Dis nie sý wat sy hande vasdruk nie. Maar toe voel dit asof iets of iemand haar aan die polse gryp en by die bad probeer inpluk.

“Nee!” roep sy uit en wil losruk.

“Deksels. Daardie elektrisiteitgedoente is nog nie uitgestryk nie.” Kevin is so bleek soos die mure rondom hulle en sy weet dat sy waarskynlik ook so lyk, toe hulle orent kom en uitmekaarspat. Hy vryf  sy polse en Maritza sien dat daar by hom ook duidelike rooi vatmerke sit.

“Daar is niks fout met die elektrisiteit nie, Kevin. Dit het vir Joannie ook gevoel asof haar hare in die greep van sterk vingers beland het.”

“Maar ons weet albei dat dit nie hande was nie,” raas hy streng. “Waar sal dit vandaan kom? Nee, dis onmoontlik.”

“Vir wat sukkel julle so om die water te bring?” Onbewus dat daar iets vreemds gebeur het, kom Markus en Daniel ingestap. Maritza weet dat Kevin ook asem ophou toe hulle vooroor buk om die skottel op te tel. Daarna stap hulle skynbaar sonder enige moeite daarmee uit stoep toe.

“Watter ander verklaring kan daar wees?” fluister Kevin dringend wanneer die twee buite hoorafstand is.

“Ek weet nie. Maar wat dit ook al was, ek het nou yskoue rillings oor my hele lyf,” bieg Maritza en wys vir hom dat al die haartjies op haar arms regop staan. “Hier is iets bonatuurlik aan die gang.”

“As dit die geval is?” Sy gesig is naby aan hare. “Dink jy ons moet vir die kinders sê?”

“Liewer nie nou nie. Miskien moet ons eers wag tot …” Wat wil sy sê? Totdat daar nog iets gebeur? Totdat iets ernstig verkeerd gaan? Totdat dit voel asof hulle in lewensgevaar verkeer?

“Wat wil julle nie nou vir die kinders sê nie?” vra Joannie agter hulle.

“Hou jy nie die honde vas nie?” Kevin vlieg om.

“Nee, die ouens het my gestuur om die sjampoe te kom haal.”

“Hier.” Kevin vat die plastieksak raak en sit dit met een beweging in haar hand.

“Dankie. Kom julle?” hou die kind vol.

“Nou daar …” Met sy oë peinsend op Maritza vou Kevin sy een hand oor sy mond. Hy is nog nie oor die skok nie. En as hy in dieselfde rigting dink as sy, weier hy om dit in woorde om te sit. Enigiets bonatuurliks het nie plek in sy verwysingsraamwerk nie.

Hy is skynbaar totaal onbewus van die feit dat Joannie nog nie geloop het nie en hom nou met belangstelling staan en betrag.

“Ek weet wat julle nie dadelik vir ons wil sê nie. Maar ons sien dit lankal self,” verklaar die oulike wysneus.

“Wat sien julle self, Joannie?” vra Kevin met ‘n versigtige klank in sy stem en haal sy hand voor sy mond weg.

“Dat julle mal is oor mekaar. So soen maar, moet net nie dat ek julle weer op heterdaad betrap nie” en toe draai sy om en stap sy met ‘n wippende poniestert uit.

4) Romein van die Timbavati Groot 5 omgewing (Lapa boek)
Die wildtuinplaas Ndlofumatlapa is reeds in finansiële moeilikheid toe doktor Hein Kaiser siek word en gaan vir ‘n hartvatomleiding. Maar inplaas daarvan om iemand te laat waarneem wat weet wat hy doen en in staat is om die plek te red, stuur hy vir Stefano Bettini om te kom help! ‘n Pragtige blouoog, donkerkop Italianer, wat duidelik tot niks in staat is nie en beslis in watte toegedraai moet word. Lw: Die hoofkarakters Andrea en Stefano is al ‘n bietjie ouer en was albei tevore getroud.

“Jammer, maar Stefano gaan nie saam nie.” Charl klap sy kookboeke doelgerig toe, toe Luca hom van die aand se uitstappie vertel. “Doktor Hein het gesê hy mag niks doen wat gevaarlik is nie.”

“Hoe kan dit gevaarlik wees? Luca is mos by,” vra Andrea verbaas.

“Natuurlik moet hy saamkom.” Die veearts se hele houding getuig van verontwaardiging. “Die buffel lê vyftien meter van die boom af. Dit is nie iets wat Stefano elke dag van sy lewe gaan sien nie. En een van die dae is hy weer in Johannesburg. Of Rome of waar ook al. Daar sal hy dit nooit sien nie. Hoe kan enigiemand hom keer om dit te beleef?”

“Dis nie die roofdiere of die boomhuis wat gevaarlik is nie. Dis jy, Luca Willemse, dis uit jou pad wat alle regdenkende mense moet bly. Jy maak altyd so … woes droog,” raas Charl. “Stefano slaap vanaand agter die klipmure en ystergrendels van Ndlofumatlapa se hekke.”

“Ek gaan saam,” roep Stefano uit. “Ek sal self besluit wat ek gaan doen, of nie gaan doen nie.”

“Toemaar, Charl, ek sal hom babysit,” spot Andrea. “As hy iets oorkom, kan jy my maar vir die leeus voer.”

“As hy iets oorkom, voer Hein Kaiser ons almal vir die leeus,” waarsku Charl, voor hy uitroep. “Loop! Vat kos vir die aand en verdwyn, ek het werk om te doen.”

“Het ek iets gemis? Het doktor Hein jou aangestel as my oppasser?” vra Stefano omgekrap.

“Boetman, jy weet duidelik nie. Gaan trek ‘n wessie en ‘n warm baadjie aan en kom veilig terug. En Andrea …” Hy maak ‘n gebaar teen sy keel, wat haar laat verstaan dat sy min of meer tereggestel gaan word as Stefano met soveel as ‘n muskietbyt terugkom. “Hy is jou persoonlike verantwoordelikheid.”

“Ja, Samjoor!” Sy kap haar hakke teen mekaar en trek Stefano hardhandig agter haar aan.

 

“Almal aan boord wat land toe vaar?” vra Luca en skakel die Land Rover aan. Hy het ‘n reuse stuk droëwors agter elke oor.

“Eet jy alleen, Luca? Waar is ons s’n?” vra Andrea en knipoog vir Stefano wat geskok na haar toe draai. Hy sál nie aan ‘n stuk vleis byt wat ‘n man agter sy oor gestoor het nie.

“Sorry.” Luca hou een van die worse na hulle toe uit. “Maar julle sal die een moet deel. Die res is by die kos in die koelhouer gepak.”

“Nee dankie, ons kan wag,” antwoord hulle gelyk en toe dawer die Land Rover soos almal lag.

“Wat is so snaaks?” vra die veearts verontwaardig en druk die voertuig in rat en begin ry.

‘n Rukkie later nader hulle die boomhuis van die agterkant af. Die konstruksie bestaan uit ‘n platform met ‘n dak en hier en daar ‘n paar dwarslatte. Dis eintlik net ‘n groot skuiling wat ingerig is om na watervoëls te kyk. Andrea sien hoe Stefano die balke aan die onderkant inspekteer.

“Die konstruksie is sterk. Jy kan ontspan, ons gaan nie omval as die leeus kom nie,” troos sy.

“Nee, ek is nie daaroor bekommerd nie. Ek kyk net of my naam nog hier staan.”

“Jou naam? Uitgekerf in die hout?” Andrea kyk verwonderd na hom en toe begin sy ook soek. En wraggies, daar staan sy naam groot en duidelik uitgekerf in een van die plat planke. En langsaan staan die naam Hein Kaiser, en die naam Mkhulu. Sy sien hoe Stefano met sy hand daaroor streel en kom agter dat sy emosies skielik baie vlak lê.

“My maggies, is dit jy wat dit gedoen het?” Pieter skud sy kop verbaas. “Ek het vergeet dat ek die name hier gesien het toe ons die platform eenkeer herstel het. So jy ken Ndlofumatlapa van lankal af? Hoe oud was jy toe jy die eerste keer hier gekom het?”

“Klein,” antwoord Stefano en Andrea sien dat hy sukkel om neutraal te klink. Sy besef dat daar binne-in hom waarskynlik ‘n vuurspuwende berg dreig om uit te bars. Hy sluk ‘n paar maal voordat hy verder praat. “Doktor Hein het die kliphuis pas begin bou. Daar was toe nog net drie kleinerige vertrekke klaar.”

“Ek verstaan dit nie. Jy ken doktor Hein soveel jare, maar tog was jy in die sewe jaar wat ek op die plaas werk, nooit hier nie. Niemand weet iets van jou nie. Waar pas jy in sy lewe in?” vra Pieter verbaas.

“Ek pas nie in sy lewe in nie,” antwoord Stefano en klim teen die skuins leer op om die goed aan te vat wat die ander uit die voertuig laai. “En om alles net meer te kompliseer, hou doktor Hein nie van my verloofde nie en my verloofde hou nie van hom – of die bos – nie. Daarom bly ons liewer weg.”

“Ouch. Dis ‘n ongemaklike situasie,” besluit Pieter. “En jy was nog nooit tevore getroud nie?”

“Ek was. Jare gelede, vir ‘n kort rukkie. Ek en mevrou Bettini nommer een is nie kwaad vir mekaar nie, en sy is die ma van my kind. Ek gaan kuier twee keer per jaar by hulle in Rome en sorg dat alles by my restourant daar vlot verloop. En dan kom my meisiekind so eenkeer per jaar Suid-Afrika toe. Haar naam is Isabella.” Hy loop oor van trots en Andrea kyk met ander oë na hom toe hy vra: “Wat kan ek nog aanvat?”

“Net die slaapsakke,” antwoord Luca van onder af. Met alles wat hulle gaan nodig hê op die platform, begin Andrea en Stefano nesskrop.

Daarna gaan sit sy op een van die bankies en trek haar gesig toe die wind effens draai. “Sies, die karkas stink al. Ek hoop die leeus dink ook dis ‘n geurige maaltyd.”

“Natuurlik. Hulle het waarskynlik klaar geruik dat hier ‘n lekker afvalletjie op hulle wag,” verduidelik Pieter.

“Nou onthou ek hoekom ek nie afval eet nie,” antwoord sy vies en skuif effens op toe Stefano langs haar kom sit.

“Toemaar, Luca gaan hom gou dokter, dan sal selfs jy lus wees vir ‘n buffelvleisie.” Pieter spring af om die kollig aan die Land Rover se battery te gaan koppel. Hy roep hardop uit en Andrea weet dis om haar te terg. “Haai, Luca, dink jy nie ons moet ‘n paar repe biltong uit die ou grote se lyf gaan sny nie?”

“Ek het meer gedink in terme van ‘n lekker buffelfilet. Andrea, sal jy dit vir ons gaarmaak? Ek is seker dat jy met ‘n besonderse reseppie vorendag sal kom. Buffelgoulash bredie met ‘n rooipeper-en-amaroelasousie,” spot Luca saam.

“Moenie my so verkleineer voor die sjef van wêreldformaat nie! Ek is nie só ‘n vrot kok nie,” keer Andrea.

“Nee, jou kos is meestal vreeslik interessant. Wat het jy vir ons gemaak om vanaand te eet?”

“Olifantmis met ‘n skerp rissiesous.”

“Verduidelik liewer vir my hoe ons die leeus nader gaan lok, of maak julle staat op die diere se reuksintuie?” Stefano onderdruk ‘n laggie en raak besig met sy verkyker en kamera.

“Ons nooi hulle net uit na die partytjie.” Luca beduie na die CD-speler wat langs hom staan. Toe klim hy teen die leer af en stap met sy jagmes na die buffelkarkas en sny die maagholte verder oop. Met ‘n tak sprei hy die derms oor die grond.

“As Hein Kaiser hiervan hoor, is ons dood! Ons mag niks doen om die balans in die natuur hier op sy plaas te versteur nie,” waarsku Andrea en pak die bakke met southappies en broodjies op die opslaantafeltjie voor hulle uit. “So, hierdie is special treatment!”

“Dan is ek sowaar geëerd om saam met julle hier te kan wees. Baie dankie!” Stefano fynkam die omgewing met sy verkyker.

“Is alles daarbo? Waar is die koelboks met die drinkgoed?” vra Luca met die terugkomslag.

“Jip.” Pieter tik op die rooi houer en begin drinkgoed uitdeel.

Luca maak die hek van die hout-en-draadhok onder die houthuis toe, waar die Land Rover geparkeer staan, om hiënas van die voertuig se wiele af weg te hou.

“Dis die lewe,” sug Andrea in ekstase.

“Jy hou van die veld.” Sy sien dat Stefano ietwat vreemd na haar kyk. Dis duidelik dat hy nie gewoond is aan vrouens wat dit geniet om in die winterstof en sand van die bos te wees nie.

“Ek kan nie meer op enige ander plek as hier funksioneer nie,” antwoord sy eerlik.

“Julle weet nou omtrent alles van my af,” sê Stefano nadat elkeen vir hom ‘n sitplek gevind het. “Vertel my nou van julle. Kom ons begin by jou, Andrea. Getroud? Kinders?”

“Geskei, een seun. Hy studeer natuurbestuur en doen op die oomblik sy prakties in die wildtuin. Ek het sy pa sestien jaar laas gesien. Ek is dolgelukkig op my eie.”

“Ek is ook geskei,” verduidelik Pieter toe Stefano na hom toe draai. “My gewese vrou is gelukkig getroud met iemand anders en die ander ou is goed vir my kinders. Hulle bly hier naby op die dorp en ek sien hulle elke Sondag.”

“My verloofde was gelukkig al met iemand anders getroud nog voordat ek op Ndlofu kom bly het.” Luca neem ‘n diep sluk van sy bier. “Ek was nog nooit getroud nie. En as ek van julle probleme hoor, weet ek nie of ek ooit sal belangstel om te trou nie.”

“Ja, behoed die arme vrou wat probeer om jou op hok te laat staan. Jy is te wild.” Pieter tik op die CD-speler en vra: “Sal ons kyk of die konsert werk?”

“Sure.” Die veearts druk ‘n knoppie en die volgende oomblik luister hulle na die klank van leeus wat weglê aan ‘n karkas, daar in die skuiling oor die luidsprekers.

‘n Hiëna wat op pad was na die buffelkarkas steek dwars vas en loer behoedsaam in die rigting van die boomhuis. ‘n Ent daarvandaan steek ‘n trop blouwildebeeste vas en draai in ‘n stofwolk om voordat hulle begin weghardloop. Luca skakel die CD-speler dadelik af. “Siestog, laat hulle eers gou kom suip.”

“Nou kom ons eet en drink ook, terwyl ‘n mens nog iets kan sien.” Andrea deel bordjies uit. “Dit word vinnig donker, netnou eet julle torre en besies vir aandete.”

“Is dit nie bosveld-cuisine nie?’ terg Stefano en sit sy verkyker langs hom neer.

“Nee, maar mopaniewurms is. En ek kan nou nog nie glo dat jy waaragtig een geëet het nie.”

“Ek het al vreemder disse as dit geëet.”

“Soos wat?” vra sy en sit gereed om ore toe te druk as die verduideliking té grafies raak.

“Aapbredie, in die Amasone.”

“Sies!”

“Maaiers in Botswana. Baloet in die Filippyne. Dis eendeiers wat vir een-en-twintig dae bebroei word. Hierdie eiers word dan in die dop gekook en jy eet dit as volg: Breek die dop, en drink die vrugwater. Dan eet jy die vastestof. Die bene is nog so sag dat niks vermors word nie.”

“Nee, aarde! Dis seker die ergste ding wat ‘n mens kan eet.” Andrea kyk in totale afgryse na hom.

“Nooit! My ergste dis, tot nou toe, was die Ndlofu Lasagne á la Andrea,” spot hy en kyk haar vas in die oë.

“Sies, Stefano Bettini. Iewers in Afrika is daar duisende honger kindertjies wat sal sterf om daarvan te eet.”

“Hulle sal sterf ás hulle daarvan eet. Maar kom ons gee dit in elk geval liewer volgende keer vir hulle,” kan Pieter nie help om te spot nie.  Hy vang die leë koeldrankbottel waarmee sy hom gooi behendig.

Terwyl almal eet en drink verbaas dit Andrea soos altyd hoe verskriklik vinnig skemeraande in die bosveld plek maak vir stikdonker nag. Sy is dankbaar toe die maan net daarna opkom en die veld in ‘n sagte gloed verkleur, want om een of ander rede bly haar armhare kriewel.

Tienuur klouter sy in haar slaapsak op een van die matrasse en los die waghou vir die manne wat beurte maak om die kollig op die karkas te laat skyn. Sy moes ingesluimer het, want toe die veearts teen tweeuur besluit om weer leeu-musiek te speel, skrik sy met ‘n ruk wakker en sit penorent. Vir ‘n oomblik voel dit vir haar of die leeus binne-in die boomhuis is.

Sy moes uitgeroep het, want Stefano is onmiddelik by en slaan sy arm beskermend om haar skouers terwyl hy in haar oor fluister. “Sjuut, als reg. Maar die leeus is naby, ons het die maanhaar hoor steun.”

“Daar is dit weer.” Luca fluister ook. “Onmisbaar. Die grootman van die bosveld se stem. Maar dit is nie die stem van ‘n baie plesierige kêrel nie.”

“Hoe waai die wind?” vra Andrea en sy kan die vrees nie uit haar stem hou toe die klank van die grommende leeu vinnig nader kom nie. Hy wil waarskynlik sien wie die opposisie is wat kom oortree in sy gebied.

“Goed en sleg vir ons,” grinnik Luca. “Ons is tussen die leeu en sy prooi. En die boomhuis is relatief laag bokant die grond aan die kant waarvandaan ouboet kom. Dis nou ás hy nader kom, as die mensreuk hom nie wegjaag nie.”

“Ons het nie ‘n geweer hier nie, of hoe?” wil Stefano versigtig weet.

“Net ‘n .38 rewolwer,” fluister Pieter en haal die vuurwapen onder sy baadjie uit. “Maar ons mag nie skiet nie. Ons sal maar een van die mense moet offer as die leeu besluit dat hier ‘n lekkerder happie in die boom sit.”

“Sal ons lootjies trek oor wie dit moet wees?” spot Luca. “Of besluit ons laaste in, eerste uit?”

“Jy gaan verloor, pêl, as jy dit teen Stefano mik. Jy was nog ‘n glinster in jou mamma se oë, toe het hy al langs doktor Hein op hierdie platform gesit.” Pieter bly skielik stil toe die maanhaar tussen die struike deurbars en vinnig nader kom.

Hy stop naby die boom en tuur tussen die takke deur. Om een of ander rede is daar geen vrees vir mense by hom te bespeur nie. Dit is skielik so stil in die boomhuis dat Andrea wonder of enigiemand nog asemhaal. Haar eie hart tamboer in haar borskas en die volgende oomblik besef sy dat sy en Stefano mekaar styf vashou. Vir hoe lank al?

Luca het sy groot jagmes uit sy skede getrek en hou dit nou in sy hand. Hy hou die lig sodat dit reg in die leeu se goudgeel oë skyn. Uiteindelik draai die dier sy kop weg en die volgende oomblik stap hy tussen die lae struike in, terwyl hy aanhoudend terugkyk na die konstruksie tussen die takke.

“Simba is heeltemal te nuuskierig oor die vreemde spesie hier in die boomhuis,” fluister Pieter bekommerd.

“Daar is hy nou aan die ander kant van die bos. Lyk my die res van die trop het ook nou bygekom,” beduie Luca en Andrea se oë rek groot. Onwillekeurig dring sy stywer teen Stefano aan, want die maanhaar is ‘n reus van ‘n dier, wat kop en skouers bo sy wyfie uittroon. Niemand het besef hoe groot hy werklik is toe hy alleen onder die boom was nie.

Lank tuur die leeu weer in die rigting van die boomhuis. As hy besluit om werklik te kom ondersoek instel, kan hy met ‘n paar groot spronge tussen hulle wees. Andrea stuur haar tong oor haar droë lippe. Sy het grappenderwys teenoor Charl opgemerk dat sy Stefano met alles waartoe sy in staat is, sou verdedig, maar hierdie dier kan hulle almal met die klap van ‘n voorpoot die ewigheid instuur.

“Ek wens doktor Hein was hier,” fluister sy in Stefano se oor.

“Ek voorwaar ook,” fluister hy terug en dit klink asof hy dit uit die diepte van sy hart bedoel.

“Twak, as Hein Kaiser hier was, maak hy ons dood as die leeus dit nie doen nie,” grom Luca en hou die lig op die leeus terwyl hulle op die karkas afstap. Daar volg eers ‘n bloedige konfrontasie tussen hulle en die hiënas wat die karkas vir hulleself toegeëien het, voordat die kroon van die voedselketting sy regmatige plek by die prooidier inneem.

Dis Andrea wat Stefano eerste los en haarself sag uit sy greep losmaak.

“Jammer … ek hoop nie …” fluister hy en raak besig met sy kamera. Hy voltooi nie sy sin nie, en Andrea wonder wat dit is wat hy wou sê.

 

5 Verdwaalpad na die liefde (Groot 5 omgewing – spanning)

Frankie Castillo vlug halsoorkop uit Italië weg van haar gevaarlike ex-man. Sy vind werk as sjef en ‘n heenkome op die plaas Verdwaal wat aan Marius van der Walts se familie behoort en wie haar broer se vennoot is. Daar sal sy veilig wees en hopelik vir ‘n tyd lank kan skuil.

Daar is egter een probleem, Marius het dit duidelik in sy posbeskrywing gestel dat die nuwe sjef ‘n man moet wees. Hy glo sy is ‘n man en is gelukkig so besig met ander goed dat hy nie haastig is om haar te ontmoet nie. Dus sal sy nou op Verwaal vir die baas van die plaas ook moet wegkruip!

Al wat Marius verlang is om weer liefde te vind en dalk nog ‘n keer ‘n gesin te hê, soos dertien jaar tevore voor hy sy vrou en kind in ‘n motorongeluk verloor het. Maar wanneer dit gebeur, is dit dalk met die verkeerde vrou.
Marius stuur die perd teen die koppie daar naby uit en verspied die wêreld om hom. Dan hoor hy die veraf klank van klaviermusiek en besef dat dit uit die nuwe huis se sitkamer kom. Waarskynlik is dit die Frankie-ou wie se senuweeagtige sensitiewe B-mus kant vanoggend kop uitsteek. Hy besluit om ‘n klein bietjie nader te ry, want op hierdie stadium weet hy dat as die ou nie kan kook nie, hy ten minste besonder goed kan klavier speel.

Marius weet dat Derek hom gevra het om nie vandag met die sjef se bedrywighede in te meng nie, maar die klanke van die musiek hipnotiseer hom. Hy is soos ‘n medioker swemmer wat in ‘n sterk seestroom beland het, en homself nie kan verset nie.

Marius huiwer voor die huis, klim van sy perd af en stap in. Hy is so in vervoering dat hy vergeet om die perd se leisels te los. In die sitkamer sien hy egter ‘n vrou voor die klavier. ‘n Baie mooi vrou, met goue hare wat op haar skouers hang en wat ‘n baie besondere talent het.

Zorro roer sy ore senuweeagtig, want die musiek is nou baie hard en die vrou het geen genade vir die akkoorde van Tchaikovski se eerste klavierkonsert nie.

“Damn,” fluister Marius. Asof dit ‘n bevel is waarop Zorro gewag het, draai die perd sy kop skeef en trek die groot bos blomme uit die pot wat in die middel van die sitkamer op die lae tafel staan. Dit kraak tussen sy tande en die blompot val dawerend stukkend op die vloer. Dit laat die vrou by die klavier stop en opvlieg.

“Nee, wat maak jy hier?” roep sy uit, waarna Zorro sy persoonlike merk met ‘n dowwe plof daar op die skitterblink teëlvloer laat val.

“Sorry.” Marius vat die teuels vaster en sleep sy sirkus agter hom aan by die deur uit. “Ek sal iemand stuur om te kom skoonmaak en nuwe blomme gaan koop. My kop het nie gewerk nie. Sê asseblief vir Frankie ook ek is jammer.”

Vir tien minute staan Frankie versteen. Haar hart fibrileer verwoed aan die binnekant van haar borskas. Skok omdat sy die man glad nie hoor aankom het nie. Maar ook iets anders. ‘n Opgewonde gevoel wat haar palms laat sweet en haar ore laat sing.

‘n Afwagting, soos wanneer jou sintuie jou waarsku dat die persoon hier voor jou heeltemal instaat is om jou ekwilibrium uit sy wentelbaan kan stuur.

Sy gryp haar selfoon en bel vir Derek.

“Hy weet nog nie ek is Frankie nie. Ek dink hy het hom disnis geskrik vir my, want ek het hom sommer ingevlieg.”

“Dis orraait. Laat hom maar vir eers wonder wie jy is en wat jou rol hier is.”

 

Laatmiddag is daar nie veel meer om te doen in die kombuis nie. Nadat Frankie en haar nuwe kelners die kos op die buffettafels uitgepak het, maak sy haarself skaars. Sy pak die nagereg buffet op ‘n trollie uit en stuur dit met die kelners stop toe. Al wat sy nou moet doen is om ongesiens by die agterdeur uit te glip. En amper kry sy dit reg. Maar die volgende oomblik kom twee gillende kinders van die veld se kant af op haar afgestorm.

“Spoooook! Help!”

“Manie, waar was jy en jou maatjie?” n Vreemde man kom haastig om die hoek. “Julle kan nie in die aand in die bos speel nie.”

“Ons het ‘n spook gesien,” verduidelik Manie, en hy en sy maatjie kom staan styf teenaan Frankie.

“Baie interessant. Waar?” vra Frankie en probeer om met die pilaar saam te smelt.

“By die begraafplaas.” Die maatjie loer oor sy skouer, asof hy wil seker maak dat nie een van die ‘geeste’ en ‘gedaantes’ hulle gevolg het tot hier nie.

“Gelukkig glo ons mos nie in spoke nie,” troos die man en kyk reguit na Frankie. “Versigtig, hierdie ding kan hande uitruk en dan slaap niemand vanaand nie.”

“Daar bestaan nie so iets soos spoke nie,” beaam Frankie.

“Ons is bang vir spoke, Pappa” steun die outjie.

“Nou as jy bang is vir spoke, wat gaan soek julle in die begraafplaas?” vra Conrad. Hy kyk egter stip na Frankie en op sy gesig staan ‘n vraag geskryf. Maar hy kry nie kans om dit uit te spreek nie want Manie se vriendjie is met oorgawe aan die woord.

“Oom Condraaad, Manie het gesê sy hele familie se voorvadere en sy nefie wat so oud soos ons was toe hy dood is, is daar begrawe. En toe sê ek hy lieg, hy moet vir my die bewyse bring, toe sê hy, hy sal my na die bewyse toe vat. Maar toe kom daar ‘n spook aan en toe hardloop ons.”

“Gelukkig sal hy nie huis toe kom nie. Ek sal hom klits,” sis Conrad en steek sy hand na Frankie toe uit om te groet. “Ek is Conrad, Marius se broer. Het die twee manne jou ingespan om vanaand te help?”

“Hulle het…” antwoord sy deur stywe lippe, want sy sien hoe Marius haastig die bottel wyn tussen die gaste neersit en probeer wegkom van die tafel af.  Maar een omie gryp sy arm vas en trek hom ander.  Frankie gryp die geleentheid om weg te glip aan. “Lekker slaap.”

“Wag, kom kuier saam,” nooi Conrad. “Dis nog so vroeg.”

“Nee dankie, nie vanaand nie.” Sy waai met die hand en spring op ‘n drafstap weg.

 

Sondag is Frankie douvoordag aan die kook. Kort voor twaalfuur sien sy vanuit die kombuis hoe Marius een van haar gedrukte spyskaarte van die tafel af optel en dit aan sy broer Conrad voorlees. Sy koes agter die deur in.

“Vooraf: Hors d’oeuvres, Hoofgang: Fillet Mignon of Gevulde Sampioene met Mozzarella kaas en amandels. Aspersie soufflé, tuinaartappeltjies en groente in seisoen. Creme Brulè en Koffie ala Marius!” Marius knik ingenome met die kop en herhaal. “Koffie ala Marius.”

“Koffie is beslis jou afdeling,” grinnik Conrad. “Ek neem aan jy het Frankie Castillo se CV in die studeerkamer gelees?”

“Is daar ‘n CV in die studeerkamer? Ek moet bieg, ek het sowaar nog nie daarna gekyk nie. Maar ek sal ‘n punt daarvan maak en môreoggend, eerste ding kyk.”

“Marius, Zelda soek jou.” ‘n Hoog swanger vroutjie kom haak by Conrad in. “Lyk my die girl is rasend oor jou.”

“En ma bestel al blomme vir die troue,” spot Conrad.

“Te veel te gou,” keer Marius. “Ek ken haar nog skaars. Ek wil net haar gaan dans, ons wil nie trou nie.”

“Wel dis tyd dat jy ernstig raak oor iemand. Jy raak ‘n regte oujongkêrel,” trap die vrou hom vas.

“Hey Berna los vir Marius. Jy baklei met almal.” Conrad sug swaar. “Gelukkig is alles oor ‘n maand verby. Dis my ergste swangerskap ooit.”

“Dis nou eers julle tweede baba,” roep Marius laggend uit.

“Presies. Ek praat uit ervaring. Pa soek jou om vonkelwyn te skink. Hy wil speach.”

“O oukei.” Frankie hoor hoe sy voetstappe haastig wegraak en sy raap die skinkbord met voorafhappies op en stap in om dit te gaan uitpak. En daar wag Conrad haar in met ‘n breë glimlag en arms oor sy bors gevou in.

“More Frankie Castillo. Welkom op Verdwaal.”

“O gorrel jy weet!” Amper laat val sy die skinkbord.

“Natuurlik. Ek lees CV’s. Maar ontspan. Ek gaan jou nie verklap nie,” grinnik Conrad en haal die skinkbord uit haar hande. “Kom ek help jou uitpak.”

“Dankie.” Sy maak haastig klaar en skaars is sy terug in die kombuis, of sy hoor hoe die gaste opgewonde uitroep en gesels oor die mooi tafel en pragtige bordjies met voorgeregte.

Die hoofgeregte word op individuele borde geskep, sodat die kelners dit kan inneem. Daarna versorg Frankie die nagereg. Teen die tyd dat Marius sy koffie kom maak, wil sy uit die kombuis weg wees.

Maar onverwags staan Marius op en verskoon homself. Frankie hoor hoe Conrad desperaat probeer om sy broer ‘n paar sekondes langer in die eetkamer te hou en sy meet die afstand agterdeur toe en begin hardloop. Die deur is gesluit, en sy probeer koorsagtig om dit oop te kry.

Liewe aarde, kon Marius nie net eers sy poeding eet nie? wonder sy paniekerig en wonder of sy dalk agter die groterige vrou, wat skottelgoed was in die opwaskamer kan skuil.

Maar toe sy opkyk, staan Marius reeds aan die anderkant van die kombuistafel.

“Is Frankie nou net by daardie agterdeur uit?” vra hy en bestudeer haar van kop tot tone.

“Dink jy iemand is by die deur uit?”

“Dis my vraag? Ek het iemand by die deur gehoor.” Behoedsaam soos ‘n kat stap hy om die tafel. Hy kyk deur die kombuisvenster, voordat hy die agterdeur oopsluit en uitloer. En toe draai daardie reguit priemende kykers weer na haar toe.

“Wat is dit met die man? Hy hoef nie weg te hol as mens hom wil bedank nie.”

“Ek sal hom namens jou bedank. Lekker verder kuier.” Sy maak die band om haar hare los en lig die voorskoot oor haar kop. Sy gee nie om dat die hare soos ‘n waterval oor haar gesig en nek val nie, want. tenminste bedek dit die gloed wat ongevraagd teen haar gesig opklouter en haar soos ‘n standerd sessie in die teenwoordigheid van die hoofseun laat hiperventileer.

“Drink saam koffie,” nooi Marius en die uitdrukking op sy gesig versag. “Jy hoef nie saam met hom weg te hardloop nie.”

“Miskien op ‘n ander geleentheid…”

Marius lyk teleurgesteld toe sy met ‘n waai van die hand by die agterdeur uitstap. Sy kan amper daarde blou oë op haar rug voel brand en sy weet dit is nie haar verbeelding nie. Marius van der Walt kan vrek van nuuskierigheid oor haar.

 

Marius stop later die middag met sy Land Cruiser langs Derek se Land Rover onder die appelkoosboom by die plaashuis. Hy stap om die bakkie en haal ‘n reuse bos asters aan die passasierskant uit. Hy klop aan die deur en toe niemand oopmaak nie, kyk hy besluitloos om hom rond, asof hy onseker is oor wat hy met die blomme behoort te doen.

Bo in die appelkoosboom sit Frankie hom en dophou, terwyl sy wens dat die takke haar insluk. Wat soek die man hier? Sy versit effens, want die mandjie met vrugte in haar hand, word swaar. Sy leuen oor en soek ‘n tak om dit aan op te hang, maar die takkie is dun en breek onder die gewig. Die mandjie tref die Land Rover se dak met ‘n dowwe slag en nog voor die volgende hop, waarna dit grond toe gaan, rol die oranje vrugte die hele aarde vol.

Marius sit die blomme wat hy op die stoeptafel neer en stap nader en Frankie waai met die hand, toe sy besef dat hy haar nie meer kan miskyk nie.

Lank en aandagtig bestudeer hy haar, voordat hy ‘n tak gryp om homself aan op te hys. Hy neem naby haar in ‘n mik plaas en tik teen die boom se stam.

“Ek wou die boom lankal uitkap. Dis uitheems en nie eens veronderstel om hier te aard nie. Ek kan nie glo dit so ‘n monster geword het nie. Ons kry gewoonlik nie al die vrugte opgeëet nie.”

“Ek gaan konfyt kook.” Hoekom klink haar stem so simpel?

“Konfyt, sowaar. Doen mense dit nog?” Verbeel sy haar of is daar ‘n efense stotter in sy stem.

“Ek het ‘n vinnige mikrogolfoond resep.”

“My ouma het altyd konfyt gekook van hierdie einste boom se vrugte. Groot pot op die stoof.” Marius pluk ‘n appelkoos en druk dit in sy mond. “Ek is mal oor appelkose en appelkooskonfyt.”

“Wonderlik, dis goed vir jou prostaat.” Genugtig,wat het haar dit laat sê? Sy kan haar tong afbyt.

“My wat?” Die appelkoos trek met ‘n boog en die aantreklike man hyg na asem om tot verhaal te kom.

“Jou prostaat. Of het jy nie so iets nie?” Dan maar ‘n grap maak van haar impulsiewe opmerking.

“Ek vermoed daar is seker iewers… so iets… aan my.” Hy swaai homself uit die boom. Die spasie tussen hulle is na dese te klein. Frankie volg hom en saam tel hulle die vrugte op.

Dis seker die plaaslewe en baie stap wat sorg vir daardie netjiese agterstewe en mooi bruingebrande bene, besef Frankie toe hy half met sy rug na haar buk om ‘n paar verdwaalde appelkose op te raap.

Is jy nou besig om heeltemal gek te word, Frankie Castillo? raas sy met haarself en kyk haastig weg. Van wanneer af vergaap jy jouself aan ‘n manslyf?

Nog nooit en dit gaan ook nie op vyf en dertig jarige ouderdom gebeur nie. Sy stap sommer vooruit kombuis toe.

“Jy speel pragtig klavier.” Marius haal haar in met die blomme en mandjie. Hy sit dit op die kombuistafel neer en sy oë streel vir ‘n oomblik waarderend oor haar nek, borste en middel voordat dit terugkeer na haar gesig toe.

“Dankie.” Frankie se verstand werk in hoogste rat. Sy weet dat Marius binne die volgende paar minute vir haar gaan vra wat haar naam is, en sy weet dat sy waarskynlik ‘n ander naam sal moet gebruik.  Wat sal dit wees? Iets wat nie te ver van die waarheid is nie, maar sy het nie eens ‘n tweede naam nie.

Maar asof haar stille kreet verhoor word, lui sy selfoon.

“Zelda. Ek sal jou nou huistoe neem. Julle vrouens het so lekker oor babas gepraat en ek moes gou iets by Derek hulle kom aflaai.” Hy sit sy foon terug in sy sak, maar oppad uit sien hy ‘n kitaar op die sitkamerbank. “Dit moet Frankie se kitaar wees.”

“Ja dit is toevallig Frankie se kitaar.” Sy begin senuweeagtig giggel. “Dis ‘n Ibanez.”

“Ek sien.” Marius tel die instrument op en speel ‘n paar pragtige akkoorde voordat hy opkyk. “Miskien moet ek en jy en Frankie bietjie saam musiek maak. Gaan jy nog ‘n rukkie hier op die plaas wees?”

“Moontlik.” Genugtig, weet hy wat dit aan haar doen as ‘n man kan musiek maak. Weet hy wat daardie sielvolle blou oë aan enige vrou doen?

“Ek moet gaan.” Marius sit die kitaar skielik neer.
6 Liefde en Konflik op Verdwaal Nog meer Liefde op Verdwaal. ‘n Paar jaar na Verdwaalpad na die liefde. Die wending wat Derek de Vos, Frankie se broer en die plaas Verdwaal na Liefde anderkant Verdwaal geneem het. –

Hoofstuk 1

Om in Januarie in die Klasserie of Timbavati reg langs die Krugerwildtuin te stap is nie ‘n grap nie. Selfs al hang die wolke laag oor die aarde in die belofte van ‘n laatmiddag reënbui, bly dit versengend warm.

Vyf paar voete trap versigtig waar die staptoerleier sy voete oplig. Heel agter stap sy adjudant. Sewe pare oë kam die golwende gras, die droë rivierloop, die bome.

Die veldwagter lig opeens sy hand en gaan staan. Die netjiese ry breek op en vyf mense struikel in mekaar vas, die oë groot van afwagting op hom gerig.

Derek de Vos glimlag maar net. Dit gebeur elke keer. As hy halt roep, verwag hulle dat hy vir hulle een of ander natuurwonder gaan wys.

“Ons rus hier vir ‘n paar minute.” Hy  haal sy waterbottel uit en neem ‘n paar slukke. Vandag se groep bestaan uit vier Duitse toeriste en ‘n kollega Natalie Greeff.

Natalie is ongeveer twee maande gelede aangestel in ‘n pos wat ewe pretensieus as toerisme en bemarkingsbeampte geadverteer is. Dit het gewerk, die optimistiese aansoekers het met die regte grade en papiere gereageer. Natalie se CV was nie die mees indrukwekkendste nie, maar wat die deurslag gegee het was die feit dat sy nie soos die meeste ander hakskene gewys het, toe die kwessie van besoldiging ter sprake gekom het nie. Die salaris is regtig nie wat mens sou beskryf as mededingend nie.

Maar Natalie bring haar kant, dit het sy al binne die eerste week op Verdwaal gewys toe die besprekings sommer hier in die warmste maand van die jaar toegeneem het.

“My naam is Nátálie,” het sy hulle gou reggehelp, toe iemand haar Nêtilie noem. Die a’s is a’s, nie ê’s nie. Dit is hoe haar ma en pa haar jare gelede laat doop het en dít is wie sy is! Tipies vroumens, het hy gedink. Hy gee nie ‘n watsenaam om hoe mense sy naam uitspreek nie. Deerik of Dêriek soos wat mense altyd na sy vernoem-oupa verwys het.

Natalie is besonder mooi met haar skouerlengte donker hare en groenblou oë. ‘n Baie besondere kleur wat hom laat dink aan die diepsee op ‘n helder sonskyndag. Hy hou van vrouens van sy eie ouderdom en dit is sy toevallig.  Volwasse, met sulke sexy karakterlyntjies om die oë en mond. Die probleem met Natalie en dit het hy al met die eerste onderhoud besef, is dat sy eintlik té mooi is om goed te wees vir ‘n enkelloper soos hy, in ‘n werksituasie wat slegs uit ‘n paar personeellede bestaan.

Maar hy het nie die hart gehad om die ander se keuse om haar aan te stel te veto nie.

Daarom het hy maar net besluit om nie vir nonsens te soek nie. Hy bly liefs uit haar pad, tensy dit absoluut van hom vereis word om in haar teenwoordigheid te wees. Gedurende Desember was dit maklik, hy was vir twee weke oor Kersfees met sy kinders by die see. Daar het hy ‘n ander belangrike besluit geneem. Hy vat nooit weer sy twintigjarige meisiekind strand toe nie. Hy wou net heeltyd klere aan haar lyfie trek en manne wat staar foeter.

Maar dit was goed om tyd met haar en sy seun deur te bring.

Nou is hy vars, uitgerus en reg vir werk. Behalwe dat vennoot Marius sommer nou met sy eerste stapgroep vir hom moeilikheid gemaak het. Dit was sý idee, nee noem dit liewer ‘n opdrag, dat Derek vir Natalie vandag saambring om so iets van die bos ook te beleef. Sy kan glo nie die stap-ekskursies verkoop, as sy dit nog nie self meegemaak het nie.

Derek neem nog ‘n sluk uit sy waterbottel en hang dit terug aan sy gordel.

Al het hy sy oë absoluut belet om dit te doen, dwaal dit al weer in Natalie se rigting. Hy onthou dat daar op haar CV geskyf staan dat  sy ‘n seun het. Niks oor sy ouderdom, of waar hy homself bevind nie. Dit beteken waarskynlik dat die mannetjie al op sy eie voete staan. Hy kan haar seker eendag vra. Maar nee hy wil nie regtig uitvind nie. Hy is nie in die minste van plan om sy lewe so te kompliseer dat dit vir hom belangrik genoeg sal raak om uit te vind nie. Hy gaan beslis nie meer by haar betrokke raak as wat absoluut van hom as kollega vereis word nie.

Sy sit half eenkant, bene opgetrek en vingerpunte inmekaar gestrengel net onder die buig van haar kniëe. As sy so doer in die bos staar wonder hy vir ‘n kort oomblik waaraan sy dink. Slegs ‘n ‘vyftigsent vir jou gedagtes’ waaroor hy nie langer as ‘n sekonde gaan tob nie.

Op daardie oomblik draai Natalie om en betrap sy blik op haar. Haar skouers roer ongemaklik en sy draai haar rug effens op hom, voordat sy ‘n boksie sap  uit haar rugsak haal. Met hande wat effens bewe druk sy  die strooitjie by sy gemerkte plek in.

Hy hoop nie dat sy ongemaklik voel omdat sy die idee gekry het dat hy staar nie, want dit was nie doelbewus nie. Hy sal ook nie weer nie. As geswore alleenloper is enige gedagtes wat langer as vyf minute aan ‘n vrou gespandeer word, te lank. Hopeloos te lank. Hy is hier om te werk. Om vir sy stappers maksimum kwaliteit bostyd te gee en dis waar sy aandag nou moet wees.

Derek wink sy adjudant Izak nader en saam begin hulle rondkyk. Hulle wil graag Verdwaal se trop leeus vir die groep wys, daarom het hulle ‘n roete gekies waar die groot katte gereeld gesien en gehoor word.

En daar is dit ook so! Leeuspore, in die wildspaadjie wat na die watergat lei. Vars getrap bo-oor alle ander spore. Hulle wink die groep nader, beduie na die spore op die grond en wys dat hulle doodstil moet wees.

Natalie lyk net so opgewonde soos die res van die groep. Sy sluk die laaste bietjie vrugtesap en bêre die leë boksie in haar rugsakkie. Daarna lyk sy vir Derek soos ‘n fyn  balarienatjie wanneer sy op die punte van haar tekkies staan en trippel. Oulik …

De Vos! Hy beter vir homself ‘n vinger lig. Van wanneer af raak sy hartklop onreëlmatig deur bloot na ‘n vrou te kyk? Twee maande gelede al, moes hy seker aan homself erken.

Maar die nugter Derek waarsku dat dit eintlik die vars leeuspore is wat veroorsaak dat sy hart vinniger klop en die oormaat bloed ‘n effense suisgeluid na sy ore stuur. Adrenalien en die wete dat al is die raakloop van hierdie groot katte in die bos hoe opwindend, die groep se veiligheid sy verantwoordelikheid en syne alleen is.

“Leeus. Die Simpsontrop. Een ouer maanhaar, twee jonger volwasse mannetjies, drie wyfies en drie welpies,ongeveer vyf  maande oud,” bevestig Izak in ‘n fluisterstem. Hy wys van die grond af  hoe hoog die kleintjies is.

Opvallend hoe almal skielik nader aan mekaar staan. Een misstap en selfs die mens kan ‘n prooidier word, al is die tweebeen spesie die sogenaamde kroon van die skepping.

“Ons kan nie lank vertoef nie, selfs al kry ons die leeus. Dit lyk na reën en dan gaan dit vroeg donker word.” Derek wys na sy horlosie en op na die wolke. “Gereed?”

Koppe wat op en af knik.

“Hier gaan ons.” Met twee vingers beduie hy dat die groep se oë wawyd oop moet wees en hulle monde bottoe. Die persoon wat die leeutrop eerste gewaar moet kalm bly en aan die een naaste aan hom raak. Nie ‘n woord nie. Enige mensgeluid of vreemde bewegings sal maak dat die trop laat spaander … of storm.

Wanneer die watergat voor hulle opdoem, is daar egter geen diere in sig nie en Derek beduie vir hulle om agter die bossies af te sak en doodstil te wag en te luister.

As leeus nie besig is om te jag nie, kommunikeer hulle dikwels luidrugtig onder mekaar. Te voet, in die veld hoor mens hulle dikwels lank voor jy hulle sien. As hulle jou eerste sien, is die normale gedrag om laag  af  te sak en weg te sluip van die regop gestalte van die mens. Veral die leeus op die plase buite die Krugerwildtuin wat die mens nog met jag assosieer is baie skugter.

Miskien het hulle dit reeds gedoen.

Behalwe vir die borrelende roep van ‘n vleiloerie, is die bos rondom hulle onheilspellend stil.

Natalie sit reg langs Derek en dié keer betrap hy haar oë op hom. Die glimlag wat haar gesig verhelder stuur sy hart al weer op ‘n vreemde driegang trippel wat sy asem ‘n oomblik wegslaan. As ‘n man elke dag van sy lewe in sulke mooi oë kan kyk, hoef hy nooit weer na enige ander vrou te kyk nie.

Nie dat hý vrou soek nie. Glad nie, dankie.

Derek haal diep asem, glimlag terug en gebruik die verskoning dat hy moet verspied om dadelik weer weg te kyk. Maar sy lyf bly bewus van ‘n skouertjie wat aan sy arm raak.

Is daar minder suurstof in die lug as dit so bewolk is? Moet wees. Sy longe smag skielik na meer.

Minute tik verby en net toe Derek besluit dat dit tyd is om die groep terug te neem na die Land Rover toe, hoor hulle skielik duidelik hoe swaargewigte die bosse breek.

Alle oë is op hom en hy sit ‘n vinger voor die mond. Hulle moet doodstil wag om te sien watter verrassing die bos gaan uitspoeg.

Renosters. Twee pragtige diere. Nee, drie.

Shaka en sy vrou Kosbaar en hulle nuwe kleintjie. Vir die eerste keer sien Derek dat die koei intussen haar kalfie afgelaai het. Fantasties. Sy hart klop weer vinniger, maar die keer is dit van blywees. ‘n Kersgeskenk vir Verdwaal! Hy prewel sag. “Sy naam sal beslis Geskenk moet wees.”

Die renostergesin huiwer ‘n oomblik aan die soom van die bos, voordat hulle na die water stap. Die bul lig sy kop, snuif die lug en loer langs sy horing verby, terwyl die koei dorstig begin suip. Dis die kleinste renosterkalfie wat Derek nog gesien het. Saam met sy groep vergaap hy hom aan die bedrywige nuweling.

Vergaap hom nog meer aan die openlike verwondering op Natalie se gesig.

Aandag op die toneel voor jou Derek, nie die prentjie langs jou nie! Om een of ander rede bly die renosterbul onrustig. Sy kop draai aanhoudend windop.

“Dis waarskynlik waar die leeus is,” fluister Izak. “Hoop nie hulle het ‘n oog op die kalf nie.”

“Hulle sal hom nie sommer by sy ma afvat nie,” troos Derek, wanneer Natalie pieringoog in sy gesig opkyk. Hy voel lus en sit sy arms broederlik om haar. Kry ‘n rare en onverklaarbare behoefte om haar te verseker dat die natuur vir sy kleingoed sorg en dat alles in die wêreld reg en onder beheer is. Sy moenie bekommerd wees nie.

Broederlik se ghwar! Hy is besig om mal te word. Sodra hulle terug is in die kamp, sal hy haar vir die volgende drie weke vermy om homself reg te ruk.

Een van die ouens in die groep neem die renosters met ‘n videokameratjie af. Twee ander korrel met stilkameras.

Hy wys. Vyf minute. Die Land Rover staan minstens ‘n half kilo van hier geparkeer. Soos wat die wolke nou lyk, gaan hulle heel waarskynlik in die reën terugstap.

Maar dan gebeur die ondenkbare. ‘n Nagmerrie. Daar reg voor hulle oë, uit die rigting vanwaar hulle die leeus verwag, staan vyf mensfigure uit die gras en bossies op.

Een bring ‘n geweer na sy skouer toe en al draai die renosterbul snorkend om en probeer wegkom klap die skote soos ‘n klein oorlog rondom en in hom. Die groot dier tol in die rondte, voordat hy witoog van vrees en pyn inmekaarsak en genadiglik sterf. Stropers huiwer nie om horings te oes van lewendige, erg beseerde of tydelik verlamde diere nie.

Takke wat in verskillende rigtings breek en kraak, vertel ‘n storie van ‘n koei en kalf  wat paniekbevange uitmekaar spat.

Wanneer die manne met pangas en byle nader draf om te begin kap, kom Derek tot verhaal. Hy sal iets moet doen. Maar sy nommer een prioriteit is om die toeriste hier weg te kry. Veilig en ongemerk.

“Izak vat die groep terug na die Land Rover toe,” fluister hy dringend. “Laat kom Marius en die polisie. Ek wag hier.”

“Nee ..,” vorm Natalie se mond en sy skud haar kop van kant tot kant.

“Gaan!” Derek bring die swaar jaggeweer na sy skouer toe en rig dit op die stropers om dekking te verskaf. Gelukkig is die spul so besig met hulle buit dat die stappers waarskynlik ongesiens sal kan wegkom.

“Kom,” probeer Izak om die toeriste tot aksie te dwing.

Maar asof dit wat hulle gesien het, nie reeds erg genoeg was nie, loop dinge verder verkeerd. Asof die een Duitse dame uit ‘n nagmerrie ontwaak spring sy op en storm histeries op die stropers af.

“Monsters!” skeur die rou klanke uit haar liggaam.

Chaos. Pandemonium, terwyl haar man haar inhardloop en plattrek.

Die stropers is vir ‘n oomblik totaal verdwaas en onkant gevang. Die skieter gryp na sy geweer waar hy dit teen ‘n stomp neergesit het, maar toe hy dit oplig, word sy skedel versplinter deur ‘n enkele loodpunt uit Derek se 30-06. Hy tref ‘n tweede ou iewers in die lyf en stuur hom ook grond toe. Paniek onder die vier oorblywende stropers. Hulle hardloop eers in mekaar vas en toe bosse toe, terwyl Derek ‘n rondte agter hulle aanstuur.

Hopelik sal hulle lank genoeg weghol vir hom en Izak om die groep by die Land Rover te kry.

“Kom.” Derek haak by die histeriese huilende vrou in en hy en haar man sleepdra haar van die toneel af weg.

Dit voel asof hy die Land Rover in Kaïro gelos het, maar uiteindelik bereik hulle die bosgroen voertuig. Derek druk die sleutel in Izak se hande.

“Ry so vinnig as wat jy kan.”

“Ek los jou nie hier nie. Dis oor minder as ‘n uur donker,” maak Izak beswaar.

“Hulle sal dink ek het saam met die Land Rover vertrek. Gaan nou, ek kan julle nie almal beskerm as die spul besluit het om ons te agtervolg en wraak te neem nie. Mens weet nie hoeveel hulle bereid is om te waag vir duisende dollars nie.”

“As hulle jou kry sal hulle geen genade vir jou hê nie,” waarsku Izak. “En as jy hulle probeer agternasit, sal hulle vir jou ‘n lokval stel.”

“So maklik sal ek nie in een beland nie. Maar ek gaan waaragtig nie dat hulle met die buit wegkom nie. Weg is julle.”

Iets op sy gesig, maak dat niemand verder stry nie. Izak draai die sleutel en die dreun van die Land Rover se enjin verraai onmiddelik hulle posisie in die bosse. Daarom trek hy weg en begin ry.

Derek begin dadelik met ‘n ompad terugstap watergat toe. Wanneer hy hoor hoe die Land Rover uit die veld, op die grondpad draai, trek hy sy asem diep in en blaas dit stadig uit. Hopelik sal sy gaste nou veilig wees. Maar adrenalien en woede laat sy ore steeds sing.

“Kalm word,” maan hy homself, want teen die tempo waarteen sy hart nou pomp, slaan hy voorwaar dood neer. Hy stop ‘n oomblik om sy geweer na te gaan en te herlaai.

Wanneer hy weer begin stap, sak die reën na ‘n ligte windbries met ‘n sagte gesuis uit. Dit word ‘n digte wit watergordyn wat hom deurweek lank voordat hy die watergat bereik. Dis ongemaklik, maar hy het al veel erger ontberings in die bos beleef.

Wat hom meer ontstel, is die ontsettende gevoel van hartseer en teleurstelling hoe nader hy aan die toneel van slagting kom.

Hy hoop dat die koei en kalf weer bymekaar sal uitkom. Hy weet nie of een van hulle gewond is tydens die koeëlreën wat die bul se lewe geëis het nie.

Ai, hoe trots en opgewonde was hy en kollega Marius nie, toe hulle teritoriale koei hierdie pragtige bul gekies het om die pa van haar kalfie te word. Geskei van die koei is die paar weke oue diertjie uitgelewer aan elke roofdier wat sy pad kruis.

Dan hoor hy iets anders.Voeteval? Hy gaan staan ‘n oomblik om te luister. Daar is dit weer.

Derek sak op sy hurke tussen die bossies af. Daar is ‘n redelike goeie kans dat die oorblywende stropers noudat dit donker word sal terugkom om die renoster se horings steeds te oes.

Dis nie die koue of die nat wat maak dat die hare in Derek se nek skielik begin kriewel nie. Bokant die geluid van die reën hoor hy duidelik hoe nat gras teen broekspype en bene piets. Mensvoete, een paar in tekkies, die ander in stewels. Skrikwekkend naby. En hulle kom van agter af…

My donner, dring dit tot Derek deur. Hulle het waaragtig die stapgroep agtervolg tot by die Land Rover. As die reën dit nie doodgevee het nie, sou hulle sy wegbreek voetspore opgemerk het. Die kans is meer as goed dat hulle wéét dat hy nou daar langs die wildspaadjie skuil.

Derek lig die oorgehaalde geweer en wag gespanne.

7 Isa se Uitdaging (Romantiese fiksie – Liefde bo 35)

Isabel Krynauw wil gewig verloor om beter te lyk op haar dogter se troue, nie om haar destydse skoolkys Rudi Welthagen te beïndruk nie. Maar toe sy hom nou na al die jare vir die eerste keer weer sien, wens sy dat sy ses maande gelede al begin anders eet het!

Maar nadat Rudi haar die eerste keer weer gesien het vndat hy terug is in Suid-Afrika is hy genees van sy jare lange besotlikheid en pynlike teleurstelling omdat sy destyds met iemand anders getrou het. Maar geeneen van hulle hou rekening met ‘n splinternuwe aanslag van Cupido se pyle nie!
Uittreksel:
Die vleis ruik al lekker in die pot op die vuur toe vriend Johan aankom.

“Waar is Isabel?” wil hy natuurlik dadelik weet. Was mos ook altyd so half behep met die mooie Isa.

“Nog nie hier nie. Miskien moet ek omstap en haar gaan haal.” Alet sit haar wynglas neer en staan op.

“Ek stap saam.” Johan maak nie ‘n geheim van die rede vir sy besoek nie. Hy is nie hier vir die Welthagens nie. Hy is hier om Isa te sien.

“Nee wag eers. Dis my vriendin,” keer Alet. “Ek gaan haar haal, dan kry ons eers ‘n kans om ‘n paar woorde met mekaar te wissel, voordat ons met vele ander mense moet kompeteer.”

“Die hek se afstandbeheer lê op die tafeltjie langs die voordeur,” beduie Rudi. Hy lig sy pot se deksel en pak die groente en aartappels bo-op. Nou moet dit ‘n rukkie prut, voordat hy sy geheime sous oorgooi en die geur daarna met ‘n paar heel koolblare vasvang.

Wanneer hy raai dat dit min of meer tyd is vir Alet om met Isa terug te kom, gaan sit hy op ‘n stoel vanwaar hy die voordeur en Johan se gesig met een oogopslag sal kan sien. Hy kan hy nie wag vir die man se reaksie op Isa se ongeveer vyftien ekstra kilogramme nie.

“Pa mag ek vir ons musiek hier onder aansit?” vra sy seun Ruan. “Dis ‘n familie reünie, maar die plek is gevrek.”

“Natuurlik! Net nie te hard nie. Mense wil gesels.”

“Oukei dankie.” Die jong man glip weg en sekondes later klink Roy Orbison se musiek vanuit die sitkamer op. Ruan het sy oupa se CDspeler bo in die studeerkamer ontdek en afgedra.

Rudi sit versteend en luister. Hoekom het hy nie vir die kind gevra vanwaar hy die musiek wat hy van plan is om te speel, wil gaan haal nie? Van wanneer af luister jong mense na musiek uit die vorige eeu?

Van alle CD’s wat daar bo in die rak of in die kind se eie repertoire beskikbaar is, los Ruan boonop die een waarna Rudi laas geluister het in die speler.

Wat dit erger maak, is die feit dat dit die één CD is wat vir hom en Isa soveel spesiale herinnerings inhou. Dis voel asof daar met spykerskoene op sy hart getrap word.

‘n Beweging by die voordeur trek sy aandag. Hulle is hier om te skop terwyl hy lê.

Alet stap eerste in, met wat Rudi aanneem die ietwat bonkige Isa is, half agter haar. Maar wanneer Alet eenkant toe staan, trek hy sy asem skerp in en vergeet skoon om Johan se reaksie dop te hou.

Agter Alet staan ‘n asemrowende mooi vrou.

Pretty woman! sing Roy Orbison en die woorde pas soos destyds, asof dit spesiaal vir haar geskryf is. Dis asof die ekstra kilogrammetjie of twee nie saak maak nie.

Dit lyk asof Isa se hare onlangs gesny en versorg is. Die donker hare het byderwetse rooi en swart strepe bygekry en hang blinkversorg tot op haar skouers. Haar gesig is keurig gegrimeer. Die donker oë droomsag. Haar vel lyk streelsag en hy wens hy kon dit een of ander tyd liggies met die agterkant van sy hand aanraak en daarna die kontoere van haar ken en wang volg.

Hoe kon hy vergeet hoe soenbaar haar vol lippe altyd gelyk het, met net die geringste kleur daarop geverf? Soos altyd betower haar glimlag elke mens in die onmiddelike omgewing.

Rooi pas haar nog steeds, sien hy. Dit moet die snit van die baadjie bo-oor die T-hemp en die regaf swart langbroek wees wat haar minder rond laat vertoon. Die klere wat sy twee weke gelede aangehad het beslis uiters onvleiend aan haar vertoon.

Anders het sy dalk ‘n paar kilogram afgeskud. Wat ook al die geval is, haar kurwes en rondings is regtig minder opvallend. Selfs sexy, as hy bereid is om so iets aan homself te erken. Veral as hy op haar stralende gesig konsentreer.

“Isabel, welkom by ons,” roep Boet uit en storm op haar af. Kaplaks buk hy vooroor en soengroet haar op die mond. “Onthou jy nog my vroutjie Lali.”

“Natuurlik. Hallo Lali.” Sy soengroet almal, behalwe vir hom. Toe dit sy beurt is lig Isa ‘n hand en sê: “Haai Rudi.”

Hy vergaap hom so aan haar dat hy vergeet om terug te groet.

Sy skoonsus giggel, maar dis Johan se stamp, wat hom laat reageer.

“Haai! Sien jou hare het strepe. Lyk goed.” Vervlaks, dink voor jy praat, Welthagen. Jy klink soos ‘n idioot en lyk soos ‘n spietkop, besluit hy toe hy onthou om die hand wat spontaan in die lug opgegaan het te laat sak. “Kom sit gerus. Hier langs my is ‘n stewige stoel.”

Sy uitnodiging beland gelukkig op dowe ore, want Johan neem beheer van die situasie. Soengroet asof hy haar enigste langslewende ‘eie’ neef is en lei haar na die oop stoel langs syne. “Wat skink ek vir jou?”

“Ek het ‘n bottel semi-soet witwyn gebring.” Sy beduie tafel toe en sy betrap Rudi se blik steeds op haar. Dan glimlag sy met hom en in die warm bruin van haar oë dans daardie duisend-en- een stout sterretjies, wat hom destyds soms so rasend gemaak het.

Sy lyk tot in haar tone geamuseerd oor sy besotlike reaksie, voordat sy op die stoel langs Johan afsak.

“Alles reg, ek sal oopmaak en vir haar skink,” kom Rudi uiteindelik tot verhaal.

“Onthou jy my? Ek was saam met Rudi in matriek.” Johan klim omtrent op haar skoot, merk Rudi op terwyl hy met die kurktrekker besig raak.

“Natuurlik onthou ek jou.” Sy probeer om effens weg te skuif.

“Mag ek vir jou iets sê. Jy lyk fantasties. En ek is so bly dat daar nog nie weer ‘n ring aan jou vinger is nie, noudat ek my vrou lewend verloor het nie.” Johan vat sommer haar linkerhand, nadat hy kastig die ringvinger inspekteer het en hou dit vas, sonder om haar toestemming te vra.

“Jammer om te hoor. Hoe lank gelede het julle dinge verkeerd gegaan?” vra skoonsus Lali simpatiek.

“Lankal, maar die koeël is eers twee maande gelede deur die kerk. Nog baie rou.” Lyk kastig vreeslik spyt en seer, maar Rudi sien dwarsdeur sy simpatiesoekery. Die man se planne vir die aand is agtermekaar.

Rudi besluit so tussen die wynskinkery deur om die situasie fyn dop te hou. Hy weet hoe die meeste vrygesel manne se koppe werk, en dis nie die kop wat die brein huisves nie. Smeer heuning en vlei die vrouens met die soetste woorde. Intussen het hulle net een ding in gedagte en dis om haar so gou as moontlik saam met hom tussen die lakens te kry.

Wanneer Rudi na haar toe stap en die glas wyn uithou, maak sy haar hand uit Johan s’n los. Dis haar linkerhand en sy is regs, maar nou is die wyn ‘n strooihalmpie wat haar hand vir haar moet teruggee. Haar vingers vou om die steel en raak aan Rudi s’n. Per ongeluk.

Isa kom dit waarkynlik nie eens agter nie, maar Rudi se vingers weier skielik om oop te gaan en te laat los.

Dis asof elke stukkie senuwees in sy lyf op daardie aanraking reageer. Vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde is dit so goed of daar is niemand anders op die stoep nie. Dis asof hy en Isa vir ‘n ewigheid in een siel en gees aanmekaar vas gesmelt word.

Hoe gebeur so iets? En daar speel die lied wat hom altyd laat dink het aan die stadium toe sy aan die ander man verloof geraak het en almal wat hulle geken het gesê het, gaan vat terug wat aan jou behoort.
In dreams …

A candy-colored clown they call the Sandman

Tiptoes to my room every night

Just to sprinkle stardust and to whisper

“Go to sleep, everything is all right”

I close my eyes, then I drift away
Into the magic night, I softly say
A silent prayer like dreamers do
Then I fall asleep to dream my dreams of you

In dreams I walk with you
In dreams I talk to you
In dreams you’re mine all of the time
We’re together in dreams, in dreams

Rudi word gedwing om die glas se steel en haar hand te los, toe hy agterkom dat sy daaraan trek. Sy sit die wyn op die tafeltjie langs haar stoel neer en hy draai om. Dis te laat om die musiek te gaan afsit, maar hy moet probeer wegglip voordat almal agterkom hoe seer hy skielik is. Maar hoe steek mens dit weg as die woorde van ‘n lied jou siel uit jou laat bloei?

But just before the dawn
I awake and find you gone
I can’t help it, I can’t help it, if I cry
I remember that you said goodbye

Hy moet sy pad oopvoel,want alles verwaas voor sy oë. Die braaiplek is ongeveer op tienuur! Aha, reggekorrel. Hy voel die hitte van die vuur voor hom. Steek ‘n hand uit en anker homself teen die steenmuur.

It’s too bad that all these things
Can only happen in my dreams
Only in dreams
In beautiful dreams

“Is jy orraait?” wil Boet dringend hier naby hom weet.

“Natuurlik.” Rudi knip sy oë ‘n paar maal vinnig, waarna hy die vatlap beetkry om sy pot se deksel te lig. Hy sal nie ‘n nog groter alie van homself maak deur voor almal aan die snik te gaan nie. Maar ai, nie eens hy het besef hoe erg Isabel steeds in staat is om sy emosies in ‘n vrugte en eiergeelkelkie op te klits nie.

Gelukkig gesels die ander dik stukke agter hom.

Eers toe hy weer sy stem vertrou, draai hy om: “Ons eet oor tien minute.”

Boet tik met ‘n vurk op ‘n leë glas om aandag te trek: “Rudi, voordat almal begin skep en eet wil ek net vir jou sê ons hele familie is bly dat jy permanent terug is in Pretoria.”

“Nee stadig. Ek is terug in Afrika, Suider-Afrika,” keer Rudi. Nou is die tyd om sy aankondiging te maak, dan hoef hy dit net eenkeer te sê: “Nie Pretoria nie.”

‘n Uitlating wat verbaasde en geskokte reaksies uitlok van almal behalwe Alet.

Rudi roep sy seuns nader. Sy besluite raak hulle die meeste.

“Ek gaan landuit, maar nie weer so ver weg nie. Nie weer ‘n ander kontinent nie.” Hy vou ‘n arm om elke seun. “Ek het ‘n fantastiese pos in Mosambiek gekry. Skaars honderd kilometer van Komatiepoort af.”

“Dan gaan ons Pretorianers jou nog steeds nooit sien nie,” raas Boet.

“Dit sal die dag wees. Dave se vliegtuig vlieg elke Maandag en Vrydag heen en terug. Julle kan kom kuier soveel as wat julle wil. Die baas sê hy gee glad nie om om op Nelspruit te land as iemand wil saamvlieg nie.”

“Kan ons kinders ook saam op die vliegtuig ry, oom Rudi,” wil Boet se jongste weet.

“Natuurlik.”

“Jippie. Kan ons al die Septembervakansie kom kuier?”

“Stadig jong man. Ek gaan eers Oktober permanent daarnatoe.” Verbeel hy hom of gly daar ‘n skaduweetjie oor Isabel se gesig? Onmoontlik. Sy is mos die een wat hom so maklik kon uitskakel. ‘n Kwessie van uit die oog, uit die hart. Maar hierdie keer gaan dit vir hom makliker wees. Hy sal nie toelaat dat sy weer so naby aan hom kom nie.

Die gewraakte Roy Orbison CD was dalk presies die regte ding op die regte tyd. Die afkrap van die dun rofie, die oopmaak van ‘n smetterige sweer en noudat dit skoon gebloei het, sal hy aangaan met sy lewe. Hy werk positief daaraan om finaal oor Isa te kom.

Rudi draai om en haal die deksel van sy pot af. “Kom skep asseblief.”

Veel later, nadat hulle koffie gedrink het, staan Isa op

“Dit was baie lekker, maar ek is seker julle familie het nog baie om oor te gesels. Ek gaan inkruip.”

“Wag, ek stap saam met jou huis toe om seker te maak dat die wolwe jou nie wegdra nie.” Johan klink soos daai einste wolf in skaapklere.

“Dis onnodig, Johan. Dis mos net hier langsaan,” keer sy dadelik en Rudi sien hoe die donker oë ‘n kort oomblik in syne pleit. Sy het beslis self agtergekom dat Johan met ‘n broek vol planne daar aangekom het.

Hy sal haar help, nie omdat hy soveel vir haar omgee nie, maar omdat hy wil seker maak dat Johan nie gaan wegkom met daardie ‘vanaand is die aand’ glimlag van hom nie.

“Ek stap ook saam. Ek het mos belowe om na jou agterdeur se slot te kom kyk. Ek gryp net gou my Leatherman.” Rudi sit sy bierbottel neer. “Johan is reg, mens laat nie ‘n vrou alleen in die donker stap nie.”

“En wat is beter as een ridder? Twee van die goed,” praat Alet saam

“Juis. Dus, as julle ons gou sal verskoon…”

“Nou ja, as jy saamstap, groet ek maar.” Johan vorder tot langs sy kar in die oprit. “Isa, dit was lekker om jou weer te sien. Ek bel jou een aand in die week, dan reël ons om te aan fliek. Of as jy iewers ‘n tydjie kan afknip vir ‘n koffietjie …”

“Ons kan gesels oor die fliek, Johan. Maar my dae is propvol met ons studio se uitstalling wat in September plaasvind. Veilig ry.”

“Great, dan bel ek jou. Gee my net gou weer jou selnommer.” Hy gee Rudi ‘n oorwinnaarskyk.

“My nommer is nog al die jare dieselfde.” Isa se skouers sak sommer. Duidelik het sy gehoop dat dit net by praat sou bly.

Johan werk deur sy kontakte. “Gits, lyk my ek het jou nommer verloor toe ek my nuwe foon gekry het. Nommer asseblief.”

Sy is te ordentlik om reguit nee te sê, besef Rudi toe sy ‘n oomblik talm, maar dit dan tog vir Johan gee.

“Dan bel ek jou in die week?”

“Reg.”

Rudi wip hom so vir die man se knaendheid dat hy sterre sien, maar hy besluit om liewer sy mond te hou, anders verloor hy dalk ‘n jarelange vriend. Hy druk die afstandbeheer sodat sy hek oopgaan en Johan kan ry.

Daarna wag hy dat Isa die hek langsaan moet oopmaak.

“Dankie dat jy my uit hierdie een gered het,” giggel Isa. “Maar jy hoef nie saam te stap tot by my voordeur nie.”

“Wil jy nou van my ook ontslae raak?” wil hy steeds ogekrap weet. “Ek het nuus vir jou, as jy dalk besig is om my ook weg te jaag. Ek gaan nie net saamstap tot by jou voordeur nie, skattebol. Ek gaan déúr jou huis stap om te kyk of jou agterdeur gesluit is. Want dit lyk my dis iets wat jy soms vergeet om te doen.”

“Soms is ek skuldig, maar vanaand het ek gesluit,” keer sy.

“Dan sal ek maar self moet sien of ek jou kan glo.” Hy haal haar sleutel uit haar hand, sluit oop en stap deur die kombuis agterdeur toe.

Dit is gesluit. Hy draai om, vas van voorneme om met dieselfde roete terug te stap en reguit huistoe te gaan. “Jy kan bly wees, as jou deur oop was, het ek jou oor my skoot getrek.”

“Regtig? Jy en wie nogal?” koggel sy hom. Sy mag maar. Hy is mos in beheer van sy emosies. Hy sal dit selfs aan haar bewys deur saam te spot.

“Dink jy ek kan jou nie meer vasvat as ek moet nie? Ek het intussen nog ‘n truuk of twee bygeleer.”

Hy wou dit nie doen nie. Hy moes haar nie teen hom vasgetrek het nie. Hy moes haar nie in sy arms toegevou het nie. Hy moes nie die sagte skoon reuk van haar hare en parfuum teen sy skouer geruik het nie.

Dan sou hy nie die allesoorheersende drang gevoel het om haar voete onder haar lyf uit te soen nie. Haar stywer teen hom vas te trek nie. Nou maak dit hom rasend opgewonde omdat sy terug reageer en in sy arms smelt. Haar mond hipnotiseer hom, trek syne soos teenoorgestelde pole van ‘n sterk magneet nader. Sy lippe vind hare en die oorgawe waarmee sy daarop antwoord dryf hom byna tot raserny.

So voel dit as jy dekades lank honger en dors in die woestyn verdwaal het en dan skielik op in oase met soet water afkom. Dis lewegewend. Nee lewensreddend. Onmoontlik om met een teug genoeg daarvan te kry.

Maar dan beur Isa haarself uitasem uit sy arms los. “Rudi nee!”

“Sorry!” Hy laat haar dadelik gaan en lig sy arms soos in ‘n hênsop. “Ek weet eerlik waar nie wat in my gevaar het nie. Dit sal nie weer gebeur nie.”

“Natuurlik sal dit nie weer gebeur nie.” Sy staan ‘n oomblik met haar vingers op haar lippe. Hy sien die deining van haar borskas, wat hom vertel dat dit selfbeheersing van staal was wat haar eerste laat stop het. Dan stap sy voordeur toe en sonder om weer in sy oë te kyk maak sy dit oop en wag dat hy moet uitstap.

“Dis nie hoe dit lyk nie.” Hy wil verduidelik. Sy mag dit nie verkeerd opneem nie. “Jammer Isa. Dis nie so bedoel nie. Ek weet ‘n verhouding tussen ons sal nooit werk nie.”

“Rudi los dit liewer. Ek weet mos jy stel nie belang nie.” Sy beduie na die deur. “Jy moet liewers gaan. Jou mense wag.”

“Ek weet. Dankie dat jy vanaand saamgekuier het.” Hy sal nie weer aan haar raak nie. Hy kán ordentlik wees, al neuk sy lyf hom op.

“Dit was heerlik. En dankie vir die lekker ete. Nou is dit regtig my beurt om jou te nooi.”  Sy gaan staan op haar tone en piksoen hom sag op sy mond. Al maak sy hart snaakse draaibeweging in sy borskas, bly sy arms met bomenslike selfbeheersing langs sy sye.

“Laat weet maar wanneer. Maar jy is regtig onder geen verpligting nie. Soos reeds gesê, dit gaan rof by die Welthagens.” En daarmee stap hy by die deur uit, deur die hek en tot by sy voordeur sonder om hom eenmaal aan die versoeking oor te gee om om te kyk en te waai.