Renza Publikasies uitgewers van Afrikaanse Skrywers Omnibusse

Omnibus1

Renza Afrikaanse Skrywers – Omnibus 1

 

 

Saamgestel en uitgegee deur Renza Publikasies

All rights reserved

Copy right © 2014

 

Die Ander Oog – Rika du Plessis

Tessa se oogkleure verskil. Met die bruin oog sien en ervaar sy dinge wat haar lewe in gevaar mag stel. Wie kan sy vertrou?

Bosengel – Adele Reynders

Hanlie se bruidegom laat haar voor die kansel in die steek. Hy is vort met al haar spaargeld. Nou moet sy benoude spronge maak om te oorleef.

Vindingryk – Jurie Mentz

Victor se nuwe baas is nie altyd so eerlik as dit kom by geldmaak nie. En mense wat vir hom werk is vir hom minder as niks werd. Gaan Victor hom aan die kaak stel of gaan hy maar saamspeel, want almal is bang vir die grootbaas?

 

 

 

Die Ander Oog – Rika du Plessis

 

Hoofstuk 1

 

Hugo van Vuuren skop die remme met mening vas toe hy om die draai in die pad ry en die bondeltjie mens voor hom in die pad sien lê. Die fyn misreën verdof die uitsig ietwat, maar dis baie duidelik ‘n vrou wat daar so roerloos lê.

Hy klim haastig uit en met drie lang hale is hy by haar, en sak op sy hurke af. Haar pols onder sy vingers klop dof en hy voel kort-kort hoe ‘n spastiese ruk deur haar lyf trek. Wie is sy en hoe het sy in so ‘n toestand op hierdie stuk verlate grondpad beland? Hierdie pad loop slegs na sy huis toe daar teen die kranse. Nêrens rondom hom sien hy enige teken van ander mense of selfs ‘n voertuig nie.

“Juffrou… kan jy my hoor?” Sy is duidelik nie getroud nie, want sy het slegs ‘n verloofring aan haar vinger. Hy kry geen antwoord nie, en haar asemhaling is vlak en flou. Vlugtig ondersoek hy haar liggaam, en toe hy tevrede is dat hy geen gebreekte bene kan voel nie, skuif hy sy arms onder haar lyf in en kom met haar orent.

By die motor maak hy die agterdeur oop en lê haar so gemaklik moontlik op die sitplek neer. Hy het voor die naweek sy dokterstas by die kliniek vergeet, en kan nou niks meer vir haar doen as om haar saam met hom kliniek toe te neem nie. Miskien het hy doelbewus die tas voor die naweek daar gelos omdat hy so moeg was en uitgesien het na ‘n naweek van niksdoen by die klein kusdorpie.

Toe hy op die plavleisel onder die afdak voor die kliniek se deur stilhou, druk hy twee keer dringend op sy toeter en klim uit. Feitlik onmiddellik kom twee verpleërs met ‘n trollie by die deur uit. Hulle ken al die prosedure. Blitsig, maar versigtig laai hulle die meisie op en stoot haar na binne waar Hugo bevele links en regs uitdeel. Hy skrop en trek sy teaterklere aan. In die teater vind hy die meisie reeds op die ondersoekbed waar ‘n suster van haar oortollige klere ontslae geraak het, en haar aan verskeie monitors gekoppel het.

“Hoe lyk dit suster Lubbe?” vra hy en kom by die bed tot stilstand.

“Wel, haar hartklop was stadig, maar is besig om op te tel. Ook haar asemhaling was erg rukkerig, maar is besig om stabiel te raak,” vertel Karien Lubbe terwyl Hugo die meisie deeglik ondersoek.

“Hm, ek vind ook geen ander beserings as die een aan die agterkant van haar kop nie. Nie baie groot nie, maar julle sal die plekkie moet oopskeer sodat ek kan steke insit,” sê hy en frons. Die meisie se gelaat is beeldskoon, maar nogal baie bleek wat seker in hierdie omstandighede te verstane is. Hy  wens hy kan haar oë sien. ‘n Paar lieflike blou oë gaan perfek by hierdie gelaat pas. Sy is ook pragtig gebou. In sy agterkop vertel iets vir hom hy het haar al iewers gesien. Eintlik vind hy geen afwyking van watter aard ook al by haar nie, behalwe die plek aan haar agterkop.

Sy span werk vinnig en deeglik, en toe die narkotiseur sy deel gedoen het, sit Hugo fyn en netjies die steke by die wond in.

“Neem haar na die privaatkamer wat onbeset is. Hou die monitors nog ‘n rukkie aan haar gekoppel tot sy bykom. Ek sal nou-nou daar kom inloer,” beveel hy, stap uit en raak van sy teaterklere ontslae voor hy na die ontvangstoonbank toe stap.

“Juffrou Botha, maak vir die nuwe pasiënt ‘n leêr oop. Ek kom dit nou-nou by jou haal, en sal dit invul wanneer die meisie bykom.”

“Dokter, wanneer gaan jy my op my naam begin noem?” vra Ronel Botha en flikker haar amper swart oë uitlokkend vir hom.

“Jy is in my diens, juffrou Botha, ons het al hieroor gepraat,” antwoord hy streng, maar om sy mond plooi ‘n fyn glimlaggie. Hy weet sy stel meer in hom belang as om net ‘n werknemer te wees, maar hy het nog nooit met meer belangstelling as werkgewer na haar gekyk nie.

Terwyl hy na sy spreekkamer toe stap, frons hy liggies. Iets aan die nuwe pasiënt laat hom ongemaklik voel, maar hy weet nie wat nie. Het dit met die feit te doen dat hy dink hy het haar al iewers gesien?

Hy neem sy dokterstas, kry die leêr by Ronel en stap na die privaatkamer toe. Hy tref die meisie aan steeds aan die monitors gekoppel met suster Karien by haar.

“Hoe gaan dit hier, Suster?” vra hy, en dan steek hy by die bed vas. Die mooi meisie se oë is oop en sy kyk reguit na hom. Die een oog hemelsblou soos hy gewens het dit moet lyk, maar die ander een bruingeel soos die van ‘n leeu. Nog nooit het hy dit gesien nie, en is ‘n oomblik lank stomgeslaan. Hy kyk vlugtig na Karien, en sien dieselfde verbasing in haar oë. Hy ruk hom egter vinnig reg. Hy weet nou wie hierdie meisie is!

“Nou toe nou, jy het toe tog besluit om jou oë oop te maak en die wêreld om jou te aanskou. Hoe voel jy?” vra hy en neem die meisie se een hand liggies in syne. Genade, hoe is dit moontlik dat twee sulke uiteenlopende kleure oë hierdie meisie se skoonheid so kan verhoog? Eintlik geheimsinnig of misterieus laat voorkom. Die lang blonde hare lê soos ‘n sierkrans om haar kop waar dit onder die verband uitsteek. Hy voel ietwat ongemaklik onder haar ondersoekende blik, want dis meteens of hy voel sy kyk met twee verskillende emosies, een uit elke oog, na hom. Of spruit sy ongemak uit die feit dat hy nou weet wie sy is?

“My kop is seer, dis al. Waar is ek?” vra sy.

“Jy is in Helderberg kliniek, net buite Somerset-Wes. Wie is jy, en hoe het jy daar in die pad beland waar ek jou gekry het?” vra hy reguit. Hy het sy vermoede.

Tessa Strydom wil ineen krimp onder sy skerp ondersoekende blik, maar terselfdertyd wil sy skielik nie vir hierdie man en die meisie by haar vertel wie sy is nie. Sy weet Lukas Burger is ook ‘n dokter by hierdie kliniek, en sy is nie seker of hy iets te doen gehad het met die aanval op haar nie. Hy was wel nie deel van die drie mans wat haar op daardie stuk grondpad met ‘n hou teen die agterkop uit die motor gegooi het nie. Tog kan sy nie op hierdie oomblik aan ‘n leuen dink om te versin nie.

“Ek is Tessa Strydom, maar ek weet nie hoe ek hier beland het nie. Laas was ek nog in my woonstel en ek onthou dat die deurklokkie gelui het. Ek kan nie onthou wie daar was nie.  Ek weet net ek is vreesbevange … ‘n bangheid wat my gedurig oor my skouer laat kyk. Wat maak ek hier?” vra sy en hoop hulle kan nie die bewing wat in haar stem wil deurskemer hoor nie. Ten minste lieg sy nie oor die vrees wat haar hele wese vol lê nie.

“Ek het jou op ‘n stuk verlate plaaspad gekry. Bewusteloos met ‘n gat in jou agterkop. Dit wil voorkom of jy aan ‘n gedeeltelike geheueverlies ly. Iets moes met jou gebeur het wat nie aangenaam was nie, seker vandaar die onbekende vrees. Toemaar, jy is veilig hier. Is daar iemand wat ons kan laat weet jy is hier? Ek sien jy dra ‘n verloofring.” Miskien kan dit help om haar te laat onthou.

“Maar… maar…” begin sy praat en maak dan of haar gemoed vol skiet, en sy draai haar oë weg van hulle af. Dit verg skielik nie baie toneelspel nie, want ineens is daar wel brandende trane agter haar ooglede. “Nee, niemand nie. Die ring hoort nie meer aan my vinger nie. Ek wou dit juis afhaal net voor my deurklokkie gelui het. Ek… ek wil regtig niemand sien nie, asseblief.”

“Toe maar, moenie jou so ontstel nie. Moontlik is jou geheueverlies net tydelik van aard, en onthou jy sommer gou weer alles,” probeer Hugo troos en Karien beaam dit deur liggies die hare van die meisie wat oor haar een oog geval het saggies terug te skuif.

“Dis jou keuse, Juffrou. Goed, ek kan jou vrees verstaan, al weet jy nie hoekom nie.  Maar dink jy nie jy behoort die polisie hiervan in kennis te stel nie? Jy sou jouself tog nie teen die agterkop geslaan het en toe die vlaktes in geloop het nie. Iemand anders moes dit aan jou gedoen het, en dis natuurlik die oorsaak van jou vrees,” sê Hugo gerusstellend, want hy moet seker maak dat sy regtig niks weet nie.

Tessa kyk stil na hom. As hy maar weet hoe ingewikkeld haar lewe skielik na haar oogoperasies geword het, sal hy haar vrees verstaan. Dit wil sê as hy haar gaan glo aangesien die hele besigheid vir haar self onverstaanbaar is.

“Op die oomblik verkies ek om nie hieroor roerings te maak wat in reuse branders kan verander nie. Ek kan hulle tog niks vertel nie. Miskien later indien ek wel onthou.”

“Goed, ek skryf jou naam as Tessa Strydom hier neer. Jy het die mooiste oë, Juffrou. Ek het nog nooit so iets gesien nie, en sou nooit kon dink dit kan skoonheid op ‘n misterieuse wyse verhoog nie,” sê Karien sag om te probeer om die meisie nog meer te kalmeer.

“Ek is so gebore, en my oë het nooit werklik goeie sig gehad nie. Kinders het my hieroor gespot, en my ouers het vir my kontaklense gekry sodat my oë albei blou kon lyk. Om ‘n rede wat die dokters nie kon uitvind nie, wou my oë nie die kontaklense aanvaar nie, en ek het maar vrede gemaak om so met my twee kleure oë saam te leef, al het my sig elke jaar versleg sodat ek later moes bril dra. Twee maande gelede het ek egter ‘n geslaagde operasie in albei oë gehad, en nou kan ek baie goed sien,” vertel sy sonder om uit te brei oor die gebeure daarna.

“Het jy iewers gewerk, Juffrou Strydom?” vra Hugo. Hy kan die vrees in die twee verskillende oë van die meisie lees, en ‘n jammerte vir haar pluk onwillekeurig aan sy hart.

“Ek doen privaat verpleging vir mense wat by hulle tuiste ‘n verpleegster nodig het. Op die oomblik het ek nie werk nie, want die laaste ou dame wat ek tuis verpleeg het, is sowat ‘n week gelede oorlede.”

“Verkies jy om dit te doen, of het jy al oorweeg om in ‘n hospitaal verpleging te doen?” vra Hugo belangstellend.

“Ek het aansoek gedoen by ‘n kliniek in die stad, maar nog niks gehoor nie.”

“Ons kort hier hulp. As jy belang stel, kry vir my jou CV, en daarna gesels ons weer. Suster Lubbe sal nou jou leêr voltooi, en ook die monitors verwyder. Ek sien jou weer môre. Tot siens,” groet Hugo en stap uit.

Tessa kyk na Karien en antwoord al haar vrae om die papierwerk te voltooi.

“So ja, nou kan jy maar rus. Hier is die klokkie as jy enigiets nodig het,” gesels Karien terwyl sy die monitors se konneksies van Tessa af verwyder en daarna uitstap.

Skielik is dit muisstil in die kamer sonder die gebiep van die monitors en die suster en dokter se teenwoordigheid. Tessa kyk om haar rond, lig haar linkerhand en staar na die diamantring aan haar vinger. Weer skiet die onaangename besoek van haar verloofde, Ben Hartman, haar geheue vol. Net ‘n dag voor die drie mans haar woes uit haar woonstel ontvoer het.

Dit is al ‘n geruime tyd dat sy besef iets verkeerd is by Ben. Hy besoek haar baie minder as voorheen, en soms in haar teenwoodigheid het sy gedagtes gedwaal. En toe, sy hom met sy laaste besoek weer gevra het of iets fout is, het hy direk in haar oë gekyk sonder om te praat. Sy het gefrons toe sy ‘n ligte steek in haar bruin oog gekry het, en haar mond het oopgeval van skok toe daar skielik ‘n beeld van Ben waar hy besig is om met dwelms te smokkel voor haar verbyspeel. Sy het ook dokter Lukas Burger in die toneel herken, en alles was so duidelik dat sy haar hande oor haar oë geslaan en haar kop heen en weer geskud het.

“Wat gaan aan, Tessa? Hoekom reageer jy so snaaks,” het Ben gevra.

Nog ‘n rukkie het Tessa met haar hande voor haar oë gesit voor sy dit gewaag het om hulle weer oop te maak. Die toneel het verdwyn, maar dit was in haar geheue ingegrafeer.

“Ben, antwoord my eerlik. Is jy met die smous van dwelms deurmekaar?” het sy sag gevra, en aan die uitdrukking in sy oë het sy klaar geweet hy is skuldig.

“Is jy laf? Ek is ‘n dokter, en sal nooit met so iets deurmekaar raak nie. Waar kom jy aan die lawwe idee?” het hy woes gevra en opgestaan.

“Iets snaaks het gebeur, Ben,” het sy begin om hom eerlik te vertel wat so pas met haar gebeur het. Hy het haar uitgelag.

“Jou verbeelding is op hol na jou operasies, jong. Jou oë is maar net nog gevoelig, en nou verbeel jy jou jy sien vreeslike goed.”

Tessa het stil na hom gekyk. Meteens het sy net geweet hy is skuldig, en haar hart het bo in haar keel geklop. Wat het pas met haar gebeur? Was dit bestem dat sy so iets moes sien en op die manier moes agterkom hoekom Ben so eienaardig optree?

“Nee, Ben. Ek het jou en Lukas Burger gesien tydens julle een smokkel sessie. Jy is skuldig, en hy ook.” Weer was daar skrik in sy oë.

“Hoe bedoel jy nou? Praat jy van iets wat pas voor jou oë afgespeel het, of praat jy oor iets wat jy een of ander tyd gesien het?” het hy stram gevra. Dit was vir haar genoeg. Hoekom sou hy so ‘n vraag vra as hy niks het om te vrees nie?

“Ek sal julle nie gaan aankla nie, Ben, want ek het geen bewyse nie, maar ek wil jou nooit weer sien nie. Ons is nie meer verloof nie, en ek sal dit verkies as jy nou loop.”

Sonder ‘n verdere woord is hy daar weg, en haar hart was gebreek. Sy was dankbaar dat sy op daardie oomblik nie nodig gehad het om te gaan werk nie. As dit nie was dat sy die vorige dag ook so ‘n eienaardige ondervinding gehad het nie, sou sy haar seker nie dié dag so erg daaraan gesteur het nie. Die vorige dag was sy in die winkel om denims aan te pas. Toe die verkoopsdame kom kyk of sy kan help, het sy gesê die spesifieke broek sit pragtig aan haar. Maar toe sy na haar gekyk het, het Tessa dieselfde gevoel in haar bruin oog gekry – eers die ligte stekie en toe ‘n toneel gesien waar die verkoopsvrou vir ‘n ander verkoopsdame vertel dat die broek los en lelik aan haar lyk, maar dat sy niks sê nie omdat sy die broek wil verkoop. Sonder om ‘n woord te sê, het sy die broek gaan uittrek, en uitgestap sonder om enigiets te koop.

Dit was vroeg die volgende oggend toe sy opgestaan en haar gesig gaan was het dat sy weer in die ring aan haar vinger gekyk het. Sy wou dit net afhaal, toe die deurklokkie lui. Voor haar het drie mans gestaan, al drie met kouse oor die kop. Sy wou nog skreeu, toe het hulle klaar haar mond toegedruk en een het op ‘n sekere plek aan haar nek gedruk waarna alles om haar swart geword het. Sy het eers weer hier in die kliniek bygekom.

Om een of ander rede wil sy die aanval verbind aan Ben, en tog het sy geen bewyse nie. Nou is sy in die kliniek waar Lukas ook werk, en as Ben hom van haar kennis vertel het, hoe sal sy ooit weet of sy vir hom moet bang wees? Daardie mans het net gesê hulle is daar om haar te waarsku om slapende honde met rus te laat. Niks meer nie, maar dis of sy die seker wete in haar het dat dit te doen het met wat sy voor haar geestesoog daardie dag gesien het.

Suster Karien kom by die kamer in en kom staan by die bed. Sy streel oor Tessa se arm en kyk met warmte na haar.

“Hulle gaan nou jou aandete bring en daarna gereed maak vir die nag. Indien jy iets benodig, is dit dan die tyd om te vra, hoor. Ek hoop jy het ‘n rustige nagrus.”

“Dankie, Suster,” antwoord Tessa, skielik bang om in die meisie se oë te kyk en weer iets te sien waarvan sy dalk nie gaan hou nie.

 

Dis net skemerdonker in die hospitaalkamer toe Tessa haar oë oopmaak. Iets het haar wakker gemaak. In die vae lig wat vanaf die gang in haar kamer inskyn, sien sy die donker figuur wat na haar bed toe aangestap kom. Dis ‘n man. Hy skakel ‘n klein flitsliggie aan en skyn op haar gesig toe hy by die bed tot stilstand kom.

“Hoekom is jy wakker? Kan jy nie slaap nie?” vra dokter Lukas Burger, en al die spiere in Tessa se lyf ruk styf. Wat kom soek hy hier by haar? Hy is tog nie haar dokter nie.

“Ek het geslaap. Jou voetstappe het my wakker gemaak,” is al wat sy sag antwoord.

“Dan is ek jammer daaroor, Tessa. Ek het gehoor jy is hier en wou net kom seker maak jy is oukei. Het jy al vir Ben laat weet wat met jou gebeur het?”

“Nee, Lukas, hoekom moet ek? Ons is nie meer saam nie,” antwoord sy kortaf, nie seker wat hierdie man alles weet nie.

“Jy dra nog sy ring.”

“Ek het nog nie kans gehad om dit af  te haal nie. Hier, vat dit en gee dit vir hom. Julle kom gereeld by mekaar, ek is seker jy sal nie omgee om dit vir hom te gee nie,” antwoord sy vinnig terwyl sy die ring van haar vinger afstroop. Miskien, as sy in sy oë kan kyk, sal sy kan agterkom of hy haar kwaadgesind is of nie, maar dis te donker.

“Ek is jammer om dit te hoor. Wat het gebeur?” vra Lukas terwyl hy die ring in sy broeksak steek.

“As Ben jou nie vertel het nie, wil ek nie die een wees wat daaroor gaan praat nie. Skakel asseblief my hooflig aan. Ek wil ‘n bietjie opstaan.”

“In die middel van die nag? Waarheen wil jy gaan?” vra hy verbaas, maar skakel tog die lig aan.

“In die tuin gaan loop. Ek het baie om oor te dink,” antwoord sy hom, en kyk nou direk in sy oë wat stip op haar gerig is.

Feitlik onmiddellik voel sy die fyn stekie in die bruin oog, en sy berei haar self voor vir wat nou gaan kom. Dis Lukas wat by drie mans staan, en hy is duidelik omgekrap toe hy vir hulle sê: “Julle het drooggemaak, die meisie is nie dood nie!”

Tessa kan die snak nie keer wat oor haar lippe glip nie, maar sy behou haar teenwoordigheid van gees, en maak of sy wou hoes.

“Verskoon my asseblief,” prewel sy, trek die hospitaal se kamerjas aan wat agter die deur hang en verdwyn in die gang op pad na die voordeur toe.

Lukas wéét, en dis hy wat daardie drie mans na haar toe gestuur het. Hulle moes haar doodmaak, nie net waarsku nie. Hoekom het hulle haar nie doodgemaak nie? Sy was nie by haar bewussyn om te weet hoe die gat in haar kop gekom het nie, so sy sal nie weet nie. Haar hele lyf bewe van die vrees wat soos ‘n monster sy kloue al stywer om haar trek en druk, en druk.

 

Hoofstuk 2

 

Tessa stap na die donkerste kol in die tuin waar sy onder ‘n boom op ‘n bankie gaan sit. Behalwe vir die naggeluide van die paddas, krieke en ander diertjies om haar, is dit stil. Eintlik is sy verbaas dat Lukas nie agter haar aangestap het nie. Natuurlik sal hy teenoor haar maak of hy van niks weet nie, maar nou weet sy dat Ben direk na hom toe gehardloop het met die nuus dat Tessa bewus is van die feit dat hulle handel dryf in dwelms.

“Wat het jou uit die bed gejaag, Tessa?” vra ‘n diep stem meteens agter haar, en weereens trek haar spiere in ‘n spasma soos wat sy orent vlieg.

Die man paai dadelik.

“Toe maar, dis net ek, dokter Hugo. Ek wou jou nie laat skrik nie, maar ek moes van beter geweet het. Jy is reeds gespanne oor jou ondervinding. Jammer, hoor. Kom, sit gerus weer,” antwoord hy, en nou sien sy die donker figuur wat hom losmaak van die boomstam waarteen hy geleun het. Hy kom sit langs haar op die bank. “Jy kan maar met my praat as jy wil. Ek wil graag help as ek kan,” vervolg hy.

Ineens skiet Tessa se gemoed vol ten aanhoor van die simpatieke stem. Tog kan sy haar self nie so ver kry om teenoor hom heeltemal oop te maak nie. Hoe gaan sy ooit weet wie om te vertrou en wie nie? En wat doen sy in elk geval as hy haar nie glo nie? Dit is dan vir haarself nog so ongelooflik dat so iets met haar kon gebeur het, al het sy nou al drie sulke ondervindings gehad.

“Wel, ek het geslaap, maar wakker geword toe dokter Lukas Burger my kamer binnegestap het. Daarna het ek besluit om ‘n bietjie vars lug te kom soek,” is al wat sy antwoord.

“Wat sou Lukas by jou kom soek het? Hy is nie eens vannag aan diens nie, en hy is ook nie jou dokter nie,” vra Hugo. Dalk sal dit haar laat praat.

Sy antwoord bevestig haar vermoedens. Sou Lukas dalk sy kans wou waarneem om die moord te voltooi wat sy drie handlangers verbrou het? Waarom anders was hy by die kliniek terwyl hy by sy huis in sy bed moes gewees het?

“Hy het net gesê hy het gehoor ek is hier en wou kom kyk of ek oukei is. Hy en my verloofde… eksverloofde, is vriende. Ek neem aan Ben het hom vertel dat ek hier is. Ek… het Ben se ring vir Lukas gegee om vir hom terug te gee. Ek wil Ben nie weer sien nie,” antwoord sy en kan daarna nie glo sy het al hierdie dinge teenoor ‘n vreemde dokter kwytgeraak nie.

“Mag ek vra waarom julle verlowing tot niet is?” vra hy sag.

“Dis… dis gekompliseerd. Ek kan eintlik maar net sê dat Ben nie die man is wat ek gedink het hy is nie.”

“Enige kans op versoening?” vra hy weer.

“Nee, beslis nie van my kant af nie. Solank ek hier is, mag julle hom nie toestemming gee om my te sien nie, want ek wil hom nie sien nie, asseblief.”

“Goed, ek sal die opdrag gee. Tessa, is jy seker jy onthou nie wat gebeur het na jy jou woonstel se deur oopgemaak het nie?”

“Nee, niks tot ek hier wakker geword het nie,” antwoord sy. Dis ten minste die waarheid. “Ek onthou wel drie mans met kouse oor hulle koppe…”

“Enige suspisies oor wat kon gebeur het?” vra Hugo weer. “Dalk het hulle jou oor die kop geslaan, maar waarom?”

Sy is taai, wil nie praat nie, al gooi hy ook aas uit.

Moeg van met haar eie gedagtes redeneer, draai sy haar kop in sy rigting waar sy die vae buitelyne van sy liggaam kan sien. Durf sy hierdie man alles vertel? Sy smag daarna om dit wat besig is om met haar te gebeur met iemand te deel. Iemand wat haar dalk sal glo en haar kan help, haar dalk beskerm. Maar sy ken Hugo van Vuuren skaars.

“Ja… ja, ek het ‘n idee, maar ek kan nie daaroor praat nie. Ek is bang vir ie toekoms en ek weet nie watter kant toe hiervandaan nie. Ek kan nie teruggaan na my woonstel toe nie,” erken sy na ‘n rukkie met ‘n hees stem.

“Jy kan my vertrou, Tessa. Ek voel jou vrees aan, en al weet ek nie waaroor dit gaan nie, het ek hierdie onverstaanbare drang om jou te wil help. As daardie drie mans jou leed aangedoen het, moet hulle ‘n rede hê. Dalk glo hulle dat hulle jou doodgeslaan het, en as hulle uitvind jy lewe nog, is jy beslis nie veilig nie. Sal jy my aanbod om in my huis te kom woon aanvaar? Jy sal daar veilig wees. Ek het ‘n goeie alarmstelsel en twee yslike honde. Boonop ‘n huishulp wat op die terrein woon saam met haar man wat my tuinier is. Ek het ook onlangs iemand aangestel wat besig is om vir my ‘n groot lapa te ontwerp en bou. Hy woon in my stoepkamer vir solank hy daar werk. Jy sal dus nie bedags alleen daar wees nie.”

Verbasing spoel deur haar. Hy ken haar net van gister af, weet eintlik niks van haar af nie. Hoekom is hy so gretig om haar te help? Wie sê hy is nie deel van Ben en Lukas se gekonkel en smokkelary nie? Hy en Lukas werk tog saam en ken mekaar tog seker goed.

“Ek verstaan nie waarom jy my wil help nie. Jy het my gister in die veld opgetel en weet niks van my af nie. Bowendien weet ek nie wie om te vertrou en wie nie. Dis of almal rondom my skielik met seekatarms na my wil gryp.”

“Ek kan verstaan dat jy so voel. En ja, ek ken jou nie regtig nie, maar iets in my vertel my jy het werklik hulp nodig en ek kan daardie persoon wees om te help. Jy kan my regtig vertrou. Kom ons gaan drink koffie daar binne, en gesels hieroor,” antwoord hy, staan op en hou sy hand na haar toe uit.

Huiwerig neem sy sy hand wat dadelik warm en sag om hare vou. Vertwyfeld stap sy saam met hom, en gaan sit teenoor hom in hulle klein ontspanningskamer by ‘n tafeltjie. Daar is niemand anders behalwe ‘n jong meisie wat hulle met koffie kom bedien nie. Durf sy dit waag om in hierdie aantreklike man se bruin oë te kyk? Te hoop om nie weer ‘n lelike ondervinding te beleef nie? Noudat sy hieroor dink, wonder sy of die gesigte wat sy sien net altyd die slegtes gaan wees? Kan sy dalk ook in sommige gevalle die goeie sien?

“Waaroor dink jy so diep? Of twyfel jy oor my aanbod?” vra hy sag terwyl sy met haar lepeltjie om en om in die koppie roer, haar oë vasgenael op die spiraal wat dit in die koppie vorm. Te bang om op te kyk.

“Tessa?” kom dit weer vraend, en stadig lig sy haar oë om in syne te kyk.

Gespanne wag sy vir die bruin oog se prikkie… maar dit bly weg. Al wat sy in sy oë sien is kommer en vriendelikheid. Geen beelde van watter aard ook al nie. Al is dit vir haar geen sekere teken nie, voel sy tog hoe sy geleidelik ontspan, en ‘n huiwerige glimlaggie om haar mond bewe.

“Ek wil vir niemand ‘n las wees nie. Jy gaan jou privaatheid kwyt wees met my in jou huis.”

“My huis is groot. As jy my nie wil sien nie, hoef jy nie. Dieselfde geld vir my. Beteken dit jy sal daar kom woon vir so lank as wat daardie flentertjie van jou geheue vir jou duister bly?”

“Slegs omdat ek nie weet waarheen anders nie, gaan ek jou aanbod aanvaar op voorwaarde dat ek jou losies betaal.”

“Dis onnodig,” begin hy, maar sy val hom vinnig in die rede.

“Ek betaal losies, of ek kies koers iewers anders heen.”

“Nou goed, net soos jy wil. My doktersopinie is dat jy nie nodig het om langer as vandag nog in die hospitaal te bly nie. Ek sal na my dagskof hier jou sommer met my saamneem huis toe. Ek het nog nie eens gevra waar is jou woonstel nie? Ken jy hierdie wêreld?”

“Ja, ek ken dit. My woonstel is in die Strand.”

“Dis naby, so ons kan vir jou gaan klere haal as jy wil.”

“Dit sal gaaf wees, dankie.”

“Of miskien sal dit beter wees as ek my huishoudster vat om vir jou te gaan pak en dit te bring. Iemand hou dalk jou woonstel dop.”

Tessa voel hoe ‘n rilling teen haar ruggraat af gly.

“Met jou by my sal ek mos veilig wees, so ek verkies om self my nodige goed te gaan inpak,” antwoord sy nogtans dapper.

“Dis reg so, ons ry sommer direk hiervandaan. Ek het jou klere wat jy aangehad het laat was. Dit sal later vandag vir jou gebring word. Nou dink ek dis tyd dat jy nog ‘n bietjie gaan slaap. Jy lyk moeg en baie bleek. Kom, ek stap saam,” sê hy en sy stap sonder teëstribbelling saam met hom na haar hospitaalkamer toe.

Sy klim op die bed, en kruip onder die reisdeken in. Hy trek dit tot hoog op en druk dit sag agter haar rug in. Hierdie bedagsaamheid of wat sy dit ook al moet noem, bring ‘n knop in haar keel, en sy  fluister net sag: “Dankie.”

“Lekker slaap,” sê hy en skakel haar hooflig af voor hy uitstap.

 

“Toe, nou kan jy ontspan,” sê Hugo vir Tessa na hy haar woonsteldeur agter hulle toegesluit het.

“Dankie. Ek het so vinnig my klere en goed ingepak, ek weet nie of ek alles het wat ek sal nodig hê nie. Maar dit het gedurig gevoel of daar sulke lang tentakelvingers aan my rug wil gryp oral waar ek geloop het,” antwoord Tessa.

“Toe maar, as iets ontbreek, kan ons dit altyd vir jou laat koop. Dit sal beter wees as jy voorlopig self nie alleen dorp toe gaan nie. Ons los ook jou motor net daar waar hy in jou motorhuis staan,” antwoord hy terwyl hy behendig deur die verkeer vleg.

“Dankie, Hugo, vir sommer alles,” antwoord sy sag en kyk by die motorvenster uit hoe hulle uit die dorp ry. Diep raak sy in haar gedagtes versonke, en toe sy haar weer kom kry, hou Hugo langs ‘n groot grasdakhuis stil. Hy kom maak die deur vir haar oop en sy klim uit.

Tessa kyk om haar rond.

“Jou plek lyk nog nuut. Het jy dit hier laat bou?” vra sy.

“Ja, ek woon nog nie ‘n jaar hier nie. Het ook eers in die dorp gewoon, maar ek hou van die natuur, en daarom het ek die stuk grond hier teenaan die kranse met die see daar onder gekoop. Kom ons stap in. Dan, die tuinier, sal jou goed inbring. Daar kom Kobus ook aangestap. Dis die man wat die lapa gaan bou.”

“Dag, Kobus. As jy na my toe gestap kom, het jy gewoonlik iets wat jy wil vra, of hoe?” vra Hugo laggend. “O, en dit is Tessa Strydom. Tessa, hierdie is Kobus van Eeden. Tessa gaan ‘n ruk lank hier kom woon,” stel hy hulle aan mekaar bekend.

“Bly om kennis te maak, Tessa,” sê Kobus en sy glimlag vir die flikkering in sy oë toe hy in hare kyk. Die oogverskil doen dit aan mense.

“Dieselfde van my kant af,” antwoord sy. Kobus se helderblou oë kuier ‘n rukkie duidelik belangstellend oor haar voor hy hom na Hugo wend.

“Ja, ek sien nou op die planne wat ons saam opgetrek het, het ons nie gespesifiseer hoeveel meter van die lapa af wil jy die swembad gebou hê nie,” praat hy met Hugo.

“Ek dink ‘n veilige afstand is so vier meter, of hoe?” vra Hugo.

“Ek het ook so gedink. Nou ja, dan teken ek dit so aan en stap ek maar weer.”

“Kom drink eers saam met ons tee. Lya het ons klaar gesien en ek is seker die ketel kook al,” nooi Hugo.

“Dankie, tee sal nou lekker wees,” stem Kobus in en stap saam met hulle die huis binne. In die sitkamer tref hulle ‘n mollige Lya aan wat reeds ‘n skinkbord met teegerei daar vir hulle neergesit het. Sy glimlag wittand vir Tessa toe Hugo haar teenwoordigheid verduidelik.

“Ek sal vir juffrou Tessa die blou kamer gereed maak, meneer Hugo,” antwoord Lya vriendelik en glimlag verwelkomend vir Tessa.

Tessa kyk na Hugo net toe hy ook na haar kyk. ‘n Ligte skok trek deur haar lyf toe haar bruin oog net effens prik en ‘n toneel wil-wil voor haar afspeel, maar Hugo knip vinnig sy oë, draai na Kobus toe en begin met hom gesels. Gespanne sit Tessa en kyk van die een na die ander. Wat is dit wat sy in Hugo se oë sou kon sien indien hy langer in hare gekyk het? Asseblief, moet tog nie dat dit iets lelik sou wees nie. Moenie dat hy deel van die gemors rondom haar is nie. Hy is dan so goed vir haar, so vriendelik en bedagsaam. Dalk het sy haar dit verbeel, of dalk sou dit hierdie keer iets goed wees wat sy sou kon sien.

Na ‘n rukkie kom Lya weer na binne.

“Juffrou Tessa se goedjies het ek alles in die kaste van die blou kamer uitgepak. Dis die derde kamer in die gang af op linkerkant. Sê maar as daar nog iets is wat Juffrou wil hê ek moet doen. Dokter, aandete sal oor ‘n uur gereed wees,” sê Lya, groet in die algemeen en stap kombuis toe.

“Kom stap saam, Tessa. Ek gaan wys jou daar waar Kobus met die lapa besig is,” vra Hugo, en sy staan gewillig op. Enigiets sal nou beter wees as die stryd wat sy in haar self sit en voer oor wat wat is.

“Dit gaan ‘n yslike groot plek wees,” sê Tessa verwonderd toe sy die aanvoorwerk wat reeds gedoen is bekyk.

“Ja, dokter van Vuuren glo nie aan klein en min nie, dit moet groot en baie wees,” antwoord Kobus laggend.

“Genade, Kobus, ek het jou mos lankal gesê jy moet my op my naam noem. Jy laat my voel asof ek noot mag ophou werk nie, met die gedokter-storie,” sê Hugo met ‘n grinnik.

“Goed, dan, Hugo,” stem Kobus in, maar Tessa frons liggies toe sy sien hoe sy oë effens vernou terwyl hy oor die erf heen kyk. Ag, sy verbeel haar sommer dat Kobus nie juis van Hugo hou nie. Sy ken hulle beslis nie goed genoeg om te weet wat die verhouding tussen hulle is nie. Kobus is maar seker net ordentlik omdat Hugo sy werkgewer is.

“Die kos is op die tafel,” roep Lya van die stoep af, en al geselsend oor wat hy nog alles op die erf gedoen wil hê, sit Hugo sy handpalm liggies teen Tessa se rug om haar in die huis se rigting te stuur. Langs hulle stap Kobus in stilte saam. Hugo het iets genoem dat Kobus nie net inwoon nie, maar ook saam met hulle eet.

“Hugo sê jy was in ‘n ongeluk. Ek neem aan jy voel beter omdat jy intussen ontslaan is,” sê Kobus nadat daar ‘n rukkie lank net die geklingel van eetgerei hoorbaar was.

“Ja, baie dankie, ek voel stukke beter,” antwoord sy net. Duidelik het Hugo nie die hele waarheid vir Kobus vertel nie. Hy sal wel sy redes hê, en eintlik waardeer sy die feit dat hy haar dus hierin in ag neem. Sy kyk onderlangs na die twee mans by haar aan die tafel. Beide is baie aantreklik. Hugo met sy pikswart hare en amper net sulke swart oë, lenig gebou. Kobus met sy donkerbruin hare effe lank in die nek en blou oë wat haar aan blousel laat dink. Kobus is stewig gebou, maar met niks oortollig aan sy lyf nie.

Skielik kyk Kobus op en vang haar oë op hom gerig. Sy wil glimlag, maar die fyn stekie in haar bruin oog trek onmiddellik haar lippe in ‘n stywe, strak lyn. In die toneeltjie voor haar sien sy Kobus met kort hare, netjies aangetrek waar hy met ‘n onbekende man staan en gesels. In sy een hand is die skitter van ‘n hele klompie diamante. Maar wat haar die meeste ontstel, is die vuurwapen onder sy arm teen sy lyf.

“Wat is fout, Tessa? Dit lyk of jy ‘n spook gesien het,” vra Kobus, en sy oë is nou versluier op haar gerig. Onmiddellik verdwyn die toneel ook, en sy skud haar kop liggies.

“Nee, ek het net skielik ‘n steek in my kop gekry. Dis nou beter. Seker maar afkomstig van die wond aan my kop. As julle my sal verskoon, ek voel nogal effens moeg en sal maar wil kamer toe gaan,” antwoord sy, en staan terselfdertyd op.

“Natuurlik gee ons nie om nie. Jy hoort nog in die bed. Vra vir Lya as daar enigiets is wat jy nodig het,” antwoord Hugo, en albei mans staan op toe sy wegstap nadat sy nag gesê het.

In haar kamer maak sy die deur toe, en stap asof in vertraagde reaksie na die badkamer toe. Hoekom het Kobus anders gelyk as wat hy nou lyk, en hoekom het hy ‘n vuurwapen by hom gehad? En waar kom hy aan al daai diamante? Is hy nie wie hy voorgee om te wees nie? Moet sy hom ook nou wantrou? Sou Hugo iets meer van hom weet anders as dat hy vir hom werk?

Sy tap ‘n skuimbad en gaan lê lank daarin terwyl haar gedagtes nie wil rus kry nie. Eers toe die water al amper koud is, klim sy uit, droog af en gaan klim in die bed. Sy sit dadelik haar bedlig af, en staar na die vonkelende sterre hoog in die hemel by die venster uit.

 

Hoofstuk 3

 

Sy kan die see ruik, is Tessa se eerste gedagte toe sy die volgende oggend wakker word. ‘n Ligte briesie waai by die oop kamervenster in en wapper die kantgordyne kartelend heen en weer. Die son is al besig om op te kom, en sy spring uit die bed. Normaalweg staan sy vroeg op, maar sy dink die pille wat Hugo vir haar gegee het, het haar dieper en later as gewoonlik laat slaap.

Op pad badkamer toe steek sy vas. ‘n Wit vel papier fladder ook liggies in die inkomende windjie op die grond rond. Dit was nie gisteraand hier nie. Vinnig buk sy en tel dit op.

“Ek sal niemand vertrou as ek jy is nie,” lees sy sag die enkele woorde wat daar geskryf staan. Haar hart klop benoud hoog teen haar keel. Iemand wat van haar dilemma weet, weet ook sy woon nou hier. En daardie iemand was hier op die gronde met sy alarmstelsel, honde en al, om hierdie nota by haar kamervenster te kon ingooi. Ás dit daar ingegooi is, en nie dalk onder haar deur ingeskuif is nie. Sy het gisteraand die kamerdeur gesluit uit vrees vir die onbekende.

Vertwyfeld staan sy met die papier in haar hande. Moet sy vir Hugo hiervan vertel? Dalk maar alles vertel? Maar hoekom sal iemand haar waarsku terwyl sy tog verseker is sy sal hier veilig wees? Miskien moet sy hom net van die nota vertel, en nie van die dinge wat sy soms in ander se oë sien nie. Dis dalk beter as net sy hiervan weet.

Tessa stort en trek vinnig aan. Dalk kry sy nog vir Hugo voor hy gaan werk. Sy vou die nota op en steek dit in haar denim se sak voor sy by die kamerdeur uitstap. By die ontbyttafel tref sy egter net vir Kobus aan, en hy groet glimlaggend.

“Môre, Kobus. Lyk my ek het lelik verslaap, en neem aan Hugo is al kliniek toe?” vra sy toe sy gaan sit.

“Nee wat, ek sal nie sê jy het verslaap nie. Jy het mos nie nodig om iewers te gaan of te gaan werk nie. Ja, Hugo het so pas gery nadat hulle hom gebel het om in te kom vir ‘n nuwe geval. Jy lyk maar baie bleek. Ek dink jy moet dinge ‘n bietjie stadiger vat.”

“Ek sal, dankie,” antwoord sy en skep vir haar ontbyt. Hy is so vriendelik, klink selfs effens bekommerd oor haar. Hoe sal sy ooit weet wie is vriend en wie vyand? Sy kan tog nie sumier aanvaar dat die tonele wat sy sien almal waarskuwings van een of ander aard is nie? Dalk wil sommiges vir haar iets heeltemal anders vertel. Oegh, sy is so deurmekaar!

“Daar agter in die tuin waar ek werk is ‘n baie gerieflike hangmat as jy dalk buite met ‘n boek of iets wil kom ontspan,” sê Kobus toe hy sy mond liggies met ‘n servet klad en opstaan. Sy blou oë is vriendelik op haar gerig, en hoe sy ook al kyk, sy kan niks anders sien nie.

“Dankie, ek sal kyk hoe ek later voel, en of hier iets in die huis is wat ek wil lees.”

“O, Hugo het baie boeke in sy studeerkamer. Ek is seker hy sal nie omgee as jy een gaan uitsoek nie. Lekker dag vir jou hoor, en pas jou maar op, moenie onverskillig wees nie,” sê hy, lig sy hand in ‘n groet en stap uit.

Hoekom klink sy woorde meteens vir haar na ‘n waarskuwing? Ag nee, magtig Tessa, as jy alles en almal om jou met agterdog bejeën, gaan jy die lewe vir jouself hel maak. Jou senuwees sal dit nooit hou nie. Sy stoot die bord terug en staan op. Skielik is sy nie meer honger nie, en die nota in haar sak voel of dit haar brand.

In die studeerkamer gaan sy aarselend staan. Stadig haal sy haar selfoon uit haar denim se sak, en druk die knoppies van Ben se nommer een vir een doelgerig.

“Hallo, Tessa, ek hoop jy bel my om te sê jy is oor jou lawwigheid en kom terug na my toe,” begroet hy haar.

“Dag, Ben. Nee, ek bel jou om te vra dat jy en jou makkers my met rus laat. Julle het amper daarin geslaag om my bokveld toe te stuur, en dit was onnodig. Ek het julle mos nie gedreig of gaan aangee nie,” antwoord sy ferm.

Hy lag skor in haar oor.

“Ek weet nie waarvan jy praat nie. Jy sal net ‘n gek van jou maak as jy ons wil gaan aangee. Wie sal nou luister na ‘n helder oordag droomstorie wat jy vir hulle gaan spin? Jou verbeelding speel met jou parte, Tessa. Vergeet daarvan en gaan aan met jou lewe,” antwoord hy bars. Hy kon haar net sowel gedreig het. Sy ken hom.

“Los my net uit, of julle sal dit berou,” sê sy tussen geklemde kake deur en druk die foon terug in haar sak. Sy gaan sit met lam bene op die bank voor haar  en oorweeg sy woorde een vir een.

“Tessa, wat is fout? Wie het jy nou so gedreig? Pla iemand jou oor iets?” vra Kobus meteens agter haar en sy ruk haar asem skerp in. Sy het gedink hy is buite, dat sy alleen in die huis is. Sy staan op, draai om en kyk in Kobus se skerp kykers vas. Hy kom ‘n tree nader.

“Jy bewe. Praat met my, ek kan dalk help,” sê hy sag en lê sy hand teen haar boarm. Sy wil dit eers wegruk, maar voel dan die prikkie in haar bruin oog. Verstar staar sy na hom. Sy sien hom waar hy haar omhels, haar arms om sy nek, en die soen tussen hulle is duidelik vol passie. Sy snak na asem, wil omvlieg en weghardloop, maar hy versterk sy greep op haar arm.

“Liewe hemeltjie, jy is skoon verskrik. Wat is fout, Tessa?” vra hy weer dringend.

“Ek is bang, hoor jy, baie bang. Ek weet nie wie om te vertrou nie, en niemand gaan my storie glo nie,” kreet sy die woorde hees uit en uit pure moedeloosheid laat sy toe dat hy haar teen sy bors vastrek.

“Wag, hokaai nou, bedaar eers. Kom sit hier, ek skink vir jou ietsie,” sê hy kalm en druk haar sagkens terug op die bank. Sy hoor hom by die drankkabinet vroetel en kort daarna druk hy ‘n glas met amberkleurige vloeistof in haar hande. Sy neem ‘n groot sluk en snak nogeens na asem toe dit haar asem wil wegslaan.

“Vertel my. Ek belowe ek sal alles glo wat jy my vertel, want ek sien geen rede hoekom jy vir my sal wil jok nie,” sê Kobus steeds kalm toe sy die glas neersit.

“Ek is gebore met twee kleure oë. My sig was nooit goed nie, en het al hoe meer verswak. Ek was verloof aan Ben Hartman, ‘n dokter. So ‘n rukkie gelede het ek op sy aandrang operasies in albei oë gehad.” Sy vertel hom alles wat sedertdien gebeur het. Die enigste toneel wat sy uitlaat, is wat sy so pas tussen hulle sien gebeur het. “Nou dat ek dit vir jou vertel het, voel dit asof niemand dit sal glo nie, want selfs vir my wat weet dis die waarheid, klink dit nou na onwerklikhede.”

“Ek is bly jy het my vertel. Ek glo jou, Tessa. Nie net omdat ek baie van jou hou nie, maar omdat dit wat jy van my gesien het – die korter hare en wapen aan my sy … die diamante. Dit is waar. Ek is eintlik ‘n speurder, en ek werk hier onder valse voorwendsels. Dis ek wat daardie nota in jou kamer gegooi het. Ek weet jy is in gevaar.”

“M-maar jy het tog hier gewerk voor ek hier kom bly het?” sêvra sy.

“Ja, ek het, maar ek het nie geweet jy gaan hier beland nie. Ek is hier omdat ons Hugo saam met Ben en Lukas verdink. Ons moet egter bewyse teen hulle kry. En ja, jy is reg, die gesigte wat jy sien sal nie as genoeg getuienis dien nie.”

“Hugo? Hugo ook?” krys sy skor. Sit sy hier reg in die adder se nes en vertrou hom? Rillings rits teen haar ruggraat af terwyl sy hom stip dophou.

“Ja, hy ook, en dis hoekom ek geskryf het jy moet niemand vertrou nie. Ek kon sien jy vertrou hom anders sou jy nie onder sy dak kom woon het nie. Dis dalk hulle manier om te verseker jy is onder hulle oë. As ons reg is, weet Hugo van jou ondervindings, want Ben sou hom vertel het.”

“Hoe moet ek weet ek kan jou vertrou?” vra sy effens skepties.

“Ek kan jou voorstel aan my hoof in sy kantoor as jy dit wil hê, en hier is my speurderslisensie,” antwoord hy en trek dit uit sy sak uit.

Hy is ernstig. Sy voel effe kalmer en die lisensie lyk eg.

“Dink jy ek moet hier padgee?” vra sy.

“Nee, bly liewer hier waar ek darem ook is. Moenie dat Hugo agterkom ons het gepraat, of laat glip wie ek is nie. Dit sal help dat hy heel gemaklik met sy transaksies voortgaan.”

“Dalk kan ek help? As ek doelbewus nader aan Hugo beweeg, kan ek vir julle iets uitvind – iets wat meer krag as my stories sal dra?”

“Ek wil jou nie verder die gevaar indompel nie. Regtig, ek dink dit sal te gevaarlik wees, Tessa.”

“Ek sal versigtig wees, ek belowe. Noudat ek weet jy is hier en wat die regte situasie met Hugo en sy twee doktersmaters is, sal ek op my hoede wees vir enigiets abnormaal.”

“Die voordeur het oopgegaan. Ek is weg. Hy moenie weet ons het so lank gesels nie. Wees versigtig,” fluister hy, buk vinnig vorentoe en soen haar vol op die lippe voor hy by die deur uit verdwyn.

“En nou, Tessa? As jy so in ‘n dwaal hier in die studeerkamer sit?” vra Hugo met ‘n tergende glimlag.

Kobus se onverwagse soen lewe nog op haar lippe toe sy na Hugo kyk en ‘n yl glimlaggie prakseer.

“Ek wou iets kom soek om te lees, maar toe is jou studeerkamer se atmosfeer so rustig dat ek sommer hier kom sit en droom het, en boonop veilig gevoel het.”

“Dis goed. Ek wil hê jy moet hier veilig voel, niks bang meer wees nie,” antwoord hy sag, en sy wonder hoe hy so eerlik en gaaf kan lyk terwyl hy haar in werklikheid bedrieg. Alles met voorbedagte rade.

“Dankie Hugo, ek weet nie wat ek sou gemaak het as jy my nie huisvesting aangebied het solank ek so onseker oor alles is nie,” antwoord sy, en staal haar self om haar hand op sy arm te plaas.

“Jy is ‘n baie mooi meisie, en ek hou van jou, wil jou graag help. Ek wil hê jy moet vanaand iewers saam met my gaan eet. Iewers waar ek jou net kan laat ontspan. Ek dink dit sal help as ons ‘n bietjie uitkom. Sal jy?”

Haar hele lyf span styf, maar sy dwing ‘n glimlag om haar lippe en knik.

“Solank jy by my is, sal dit oukei wees.”

“Goed, ek moet teruggaan kliniek toe, maar sal jou so halfsewe kom haal, hoor. Ontspan gerus in my studeerkamer of net waar jy wil,” groet hy en trek sy vingers sag deur haar hare.

Rilling op rilling rol teen haar rug af toe sy vingers haar kopvel aanraak. Sy het nie ‘n kans gehad om behoorlik in sy oë te kyk nie, en het geen gevoel in haar oog gekry nie. Hy klink so opreg, so sorgsaam, en dit maak dit moeilik om te glo hy is deel van Ben-hulle se komplot.

Die res van die dag probeer sy lees, maar vind telkemale dat haar oë die boek verlaat en haar gedagtes besig is met haar spanningsvolle omstandighede. Teen laatnamiddag bad sy en trek netjies aan. Sy is pas klaar toe Hugo sy opwagting maak.

“Jy lyk mooi, en ek is trots om jou aan my sy te hê vir vanaand,” komplimenteer hy haar, en sy glimlag net vir hom met ‘n dankiesê kopknik. Op die stoep kom hulle Kobus teë, en hy kyk vraend van die een na die ander.

“Al gaan ek en Tessa uit vir die aand, is daar wel vir jou kos gemaak, Kobus, so gaan eet maar gerus,” sê Hugo vriendelik. Kobus kyk vlugtig na Tessa. Daar is ‘n dringende boodskap in sy oë, maar sy kan dit nie lees nie. Die bruin oog voel niks en sy sien ook niks.

“Kom, ek wil nie laat wees nie,” sê Hugo en neem haar sag aan die arm.

Die hele tyd in die motor is sy bewus van die spanning wat in haar bly klou. Toe hy by ‘n restaurant teenaan die see stilhou en vir haar die deur kom oopmaak, klim sy stram uit, maar laat toe dat hy met sy handpalm teen haar rug langs haar aanstap.

Dis skemer in die restaurant, maar daar heers wel ‘n aangename atmosfeer met sagte, strelende musiek in die agtergrond. ‘n Kelner neem hulle na ‘n tafel teen die venster wat duidelik vir hulle gereserveer is. In ‘n dun kristalglas staan ‘n lieflike langsteel rooi roos wat Hugo uithaal en vir haar gee. Haar vingers bewe liggies toe sy dit by hom vat.

“Dankie, dis baie mooi,” sê sy sag, en ruik liggies daaraan voor sy dit weer in die glasie met water sit. Hy trek ‘n stoel vir haar uit en sy gaan sit. Hoe is dit moontlik dat hierdie man so ‘n tweegesig kan wees? Lieg Kobus vir haar? Indien so, waarom?

“Jy lyk gespanne, Tessa. Moenie wees nie. Ek sal nie dat jy iets oorkom nie. Geniet die aand saam met my asseblief,” sê Hugo sag, sit sy hande albei oor hare wat op die tafel lê en kyk diep in haar oë. Die kerslig flikker in sy donker oë en ‘n ligte prik skiet deur haar bruin oog. Sy hou haar asem op vir wat nou gaan kom.

Die toneel voor haar is die van Hugo wat vir haar ontbyt in die bed bring, en dieselfde langsteel roos en potjie hier voor haar staan op die skinkbord. Hy glimlag met haar, buk vooroor en soen haar sag teen haar voorkop voor hy die skinkbord sag oor haar bene op die bed neersit. Sy glimlag vir hom en bedank hom, maar dan sien sy die giftige skerpioen wat onder die servet uitkruip, en ‘n ligte gil krys oor haar lippe.

“Wat is dit nou? Jy lyk vreesbvevange. Het jy gehoor wat ek sê, Tessatjie?” dring sy stem tot haar deur en sy skud haar kop liggies toe die toneel verdwyn. Nou is sy totaal en al verward. Sy sien Kobus haar soen, en nou was dit weer Hugo. Maar wat beteken die skerpioen? Dalk ‘n teken sy kan Hugo werklik nie vertrou nie? Iets strook beslis nie hier nie, en sy is nogeens genoop om nie haar vertroue in enigeen te stel nie.

“Ja… ja, ek het gehoor. D-daar het net ‘n kramp in my been geskiet, dis nou verby. Ek sal probeer ontspan. Sy neem ‘n slukkie van die wyn wat hy vir hulle skink. “Dis ‘n lekker wyn,” voeg sy by en glimlag vir hom.

Hy begin haar vertel van eienaardighede wat in die kliniek gebeur het, en later vind sy tog dat sy bietjie kalmer word. Wie sê al die dinge wat sy sien is nie sommer haar eie verbeeldingsvlugte nie? Maar hoe kan sy dit glo as Ben tog laat deurskemer het dit wat sy gesê het sy gesien het is die waarheid?

“Nee dankie vir my vir nagereg. Ek het hopeloos te veel geëet en is beslis besig om ‘n hoofpyn te ontwikkel. Sal jy omgee as ek vra dat ons maar nou huis toe gaan?” vra sy toe die kelner met die nagereg se spyskaart daar aankom.

“Natuurlik kan ons gaan. Jy moes net gepraat het. Ten minste het jy lekker geëet,” antwoord hy, staan op en kom trek haar stoel uit. Hy los geld op die tafel. Daarna neem hy die roos en gee dit weer vir haar voor hy sy arm vir haar hou om uit te stap. Dis nou heeltemal donker buite en net hier en daar brand ‘n straatlig. Hul motor staan in die dieper skadu van ‘n groot boom geparkeer, en skielik trek ‘n benoude rilling deur haar toe sy na die donker kol kyk.

Sy het pas ingeklim na hy die deur vir haar oopgemaak het toe peul daar drie mans agter Hugo uit. Hulle slaan hom oor die kop, en voor sy kan gil, het een man haar beet met sy hand stewig oor haar mond. Sy veg om los te kom, maar hy is te sterk vir haar. Twee gryp vir Hugo en bondel hom agter in die kattebak voor hulle haar vasbind en haar mond toeplak. Sy word op die agtersitplek ingebondel terwyl een langs haar inklim. Hulle praat nie ‘n woord nie, en die ander twee klim voor in. Die een vroetel met die motor se drade en dan trek hy vinnig weg.

Tessa se kop is nou werklik seer. Haar gedagtes spiraal, want niks maak nou meer vir haar sin nie. Hugo is veronderstel om volgens Kobus deel van die smokkeldokters te wees, maar wie is dit dan nou wat hulle gevange geneem het? Is dit blote toeval? Het hierdie ontvoering niks met die smokkel te doen nie? Kan sy ook nie vir Kobus vertrou nie? Het hy haar doelbewus op ‘n dwaalspoor gelei? Sy wou dan so graag in hom glo, want sy hou van hom. Die Vader weet, sy is suf gedink en banger as voorheen.

Woes swaai sy haar lyf en probeer die deur met haar vasgebinde hande oopmaak, maar die man langs haar gryp haar en sy voel die kort kaphou teen haar nek voor alles om haar vervaag.

 

“Tessa… Tessa, kan jy my hoor?” dring Hugo se stem vaagweg tot Tessa se benewelde brein deur. Sy sukkel om haar oë oopgemaak te kry. Dis of hulle toegeplak is. Eindelik kry sy hulle wel halfpad oop, en staar in die halfskemerte om haar. Haar hande en voete is vasgebind. Sowat ‘n meter van haar af lê Hugo, ook vasgebind. Hulle is iewers in ‘n gebou waar heelwat kratte opmekaar gestapel is. Sy sien ook wynvate.

“Hugo, wat gaan aan? Waar is ons, en wie het ons hierheen gebring?” vra sy terwyl sy benoud aan die toue om haar polse ruk.

“Ons is in my eie huis se kelder, Tessa. Wie ons hierheen gebring het weet ek nie. Ook nie hoekom nie. Is jy oukei?” vra hy.

“Ja, kopseer en vasgebind, maar niks anders nie. En jy?”

“Dieselfde. Knop teen my kop en seer, en ook vasgebind.”

“Wat gaan ons nou doen? Ek is banger as ooit, Hugo,” sê sy, en selfs sy hoor die bewerigheid wat in haar stemtoon kruip.

“Tessa, miskien het dit tyd geword dat jy my alles vertel. Jy weet hoekom jy van die begin af bang was, maar jy is bang om my te vertel. Hoekom? Vertrou jy my nie?” vra Hugo.

Tessa knak. Sy kan nie meer dink nie, en enige kant toe sal nou ‘n verligting wees.

“Jy is reg, Hugo, ek het niemand vertrou nie. Ek is ook gewaarsku om niemand te vertrou nie. Tog het ek vir Kobus alles vertel. Hy is ‘n speurder en ek het gedink ek kan hom vertrou.”

“Kobus? ‘n Speurder? Jy maak ‘n fout, hy is ‘n bouer.” Hoekom klink Hugo se stem ineens vir haar so geskok?

“Hy het sy wapen en lisensie vir my gewys.”

“Nou vertel my ook alles, ek dink na alles wat ek vir jou probeer doen het, verdien ek om te hoor.”

Sy snik. Hy moenie so hard en ietwat dreigend met haar praat asof hy niks vir haar omgee nie. Sy het dit nie nou nodig nie. Stadig begin sy vertel, en hou nie op voor sy alles vertel het nie. Sy los slegs die beelde van hom en Kobus wat haar gesoen het uit.

‘n Deur kraak agter haar oop, en voetstappe kom nader.

“Tessa, jy besef natuurlik dat ons jou nou nie kan laat lewe nie, nè? Jy en daai speurder sal vir ewig stilgemaak moet word. Al weet julle heel duidelik nog nie alles nie, weet julle genoeg om vure aan te steek en ons te laat agtervolg. Julle weet net van die dwelms, maar duidelik nie van die diamante nie,” praat ‘n baie bekende stem agter haar, en haar hele liggaam ruk spasties styf. Ben Hartman.

“Ben, hoe kan jy so laag daal?” krys sy die woorde uit. “Watse diamante?”

“Dis ‘n goeie een die, ou Tessatjie. Onthou jy daai ou seniele man wat ek op sy sterfbed in die baai moes gaan bystaan? Wel, hy het my vertrou met sy geheim. ‘n Kluis vol gesteelde diamante. En dis alles hier in Hugo se kelder weggesteek. Ons wag net vir die koper om te arriveer om dit by ons oor te neem, dan is ons skatryk en hoef nooit weer te werk nie,” antwoord Ben smalend en lag hard terwyl hy in haar geskokte oë vas kyk.

“Jy is reg, Ben, sy weet te veel en nou het sy boonop ‘n speurder hierby betrek,” antwoord nog ‘n bekende stem. Lukas Burger. Sy is reg. Dis hierdie twee wat agter alles sit. Maar dan verstar haar oë toe Hugo praat.

“Julle het wragtig nie nodig gehad om my so hard oor die kop te slaan nie. Julle kon net gemaak het of julle wou. In elk geval, nou het ek alles uit haar getrek gekry, so kom maak my los. Wat julle met haar en die speurdertjie aanvang, is julle probleem. Ek het my deel gedoen.”

“Hugo? Jy ook?” snak Tessa na asem.

Hy lag net tartend en staan op toe Lukas sy toue los sny. Sy het haar sowaar in die middel van hierdie addernes begewe, gedink sy is werklik veilig in Hugo se huis. Hulle gaan haar doodmaak. Ysige vingers gryp-gryp teen haar lyf af.

“Dis nou net daar wat jy ‘n fout maak, Ben. Jou deel sal afgehandel wees wanneer jy alles in die hof vertel het. Nee! Moenie eens daaraan dink nie, hande in die lug almal van julle en gesigte teen die muur,” sweepklap Kobus se stem meteens agter Ben en Lukas. ‘n Pistool gly uit Lukas se hand en na ‘n oomblik se huiwering, lig hy sy hande net soos Ben en Hugo.

Tessa rol om en kyk na waar Kobus en twee polisiemanne elk met wapens op die drie mans gerig staan, en ‘n oorweldigende verligting vloei oor haar sodat sy sag aan die huil gaan. Tog sien sy deur ‘n waas hoe Hugo vinnig sy hand laat sak om in sy broeksak te verdwyn.

“Kobus, pasop,” skreeu sy snikkend, maar die skoot het reeds geklap waarna nog twee skote klap.

Kobus sak stadig grond toe, sy hand vasgeklem laag in sy sy. Hugo slaan soos ‘n os neer. Die twee polisiemanne het hom geskiet direk na hy vir Kobus geskiet het. Ben en Lukas se hande is steeds in die lug, en selfs hulle kyk nou verskrik na die twee op die grond.

“Maak my los, asseblief,” pleit Tessa, en die een beampte kom maak haar los. Sy kruip oor die grond na Kobus toe, en tel sy kop op haar skoot.

“Moenie doodgaan nie, Kobus, asseblief,” pleit sy en nou rol die trane eers.

“Sjuut, outjie, ek is oukei. Voel soos ‘n vleiswond, niks ernstig nie,” antwoord hy sag. “Boei daai manne,” gee hy opdrag en beur dan steunend orent. Sy staan op en slaan haar arm om sy lyf terwyl hulle stadig by die deur uitstap.

 

“Ek kon daardie dag toe jy saam met Hugo by sy huis aangekom het al nie my oë van jou af hou nie, maar kon dit nie wys nie. Jy is die mooiste vrou wat ek nog gesien het, Tessa. Gaan jy ons ‘n kans gee om mekaar beter te leer ken?” vra Kobus en streel lig oor haar arm waar sy op ‘n handdoek langs hom op die strand lê.

Dis reeds twee weke sedert Ben-hulle in hegtenis geneem is, en Hugo se dood. Sy is terug in haar woonstel, en sedert Kobus uit die hospitaal ontslaan is, sien hulle mekaar elke dag.

“Ek het daardie dag in die biblioteek al geweet as ek jou nie kan vertrou nie, wie moet ek dan? En toe soen jy my ook nog voor jy weghardloop – ek voel dit nou nog,” antwoord sy effe tergend.

“Kyk in my oë, Tessa, en sê my wat jy sien?” vra hy ernstig.

Sy kyk stip en wag vir die bruin oog om ‘n stekie in te kry, vir haar ‘n toneel te wys van haar en hom saam, niks van geweld of enigiets anders nie. Maar niks gebeur nie. Sy sien slegs ‘n warm toegeneëntheid uit sy mooi blou oë na haar toe uitstraal.

“Jammer, Kobus, maar ek sien niks. Ek gee ook nie om nie, ek wil nie meer beelde sien nie, behalwe as dit iets goed is.”

“Ek het nie van die beelde gepraat wat jy gesien het nie, Tessa, ek wil hê jy moet liefde in my oë sien, ‘n liefde wat ek elke dag meer en meer vir jou voel,” antwoord hy sag.

“Kobus, ek voel dieselfde,” fluister sy terwyl sielsgeluk van haar hele lyf besit neem. Sy glo ook sy gaan nie weer beelde sien nie. Sy wil glo sy het dit tydelik ervaar omdat Ben-hulle se misdade oopgevlek moes word. Al waaraan sy nou wil dink, haar wil inleef, is hierdie mooi ontluikende liefde wat tussen haar en Kobus aan die gebeur is.

Hy rol nader, vou sy arms om haar en trek haar styf teen hom vas voordat sy lippe warm, besitlik en vol teerheid oor hare vou.

End

 

 

 

 

 

 

Bosengel – Adele Reynders

 

Hoofstuk 1

 

“As ‘n vrou nie ryk is nie moet sy vindingryk wees. En dit is wat jy is my kind. En so kreatief!” Met hierdie woorde het Hanlie Wessels se oorlede ma haar kleintyd geprys.

Ai en op spesiale geleenthede soos vandag mis sy haar moedertjie met ‘n seer hart.

Al was Hanlie nog nooit in haar lewe brandarm nie, was dit nog altyd vir haar ‘n heerlike uitdaging om iets uit feitlik niks te vervaardig. Op die tafels wat sy pas gedek het, is haar eie tuisgemaakte geskenke, pleknaamkaartjies en hangende lanterntjies wat sy uit leë koeldrankbottels gemaak het. Die plek lyk selfs mooier as wat sy in haar gedagtes voorgestel het. Selfs die vrugtesjokoladekoekies wat sy ‘n week tevore gemaak het, pronk

soos ‘n feestelike troukoek op die wit terrasborde.

“Jy mag maar,” praat Riaan Boshoff, eienaar van Boslodge onverwags agter haar. “Ek wens ons kon jou vra om te kom help mooi maak vir troues, funksies en temageleenthede.”

“Temageleenthede? Hier in die bos?” Hanlie wonder hoe lank hy al daar staan. Dit lyk asof hy aan die kosyn waarteen hy so rustig leun, vasgegroei het.

“Wel, selfs in Marloth vier ons geleenthede soos Kersfees,” merk hy droog op, terwyl sy mooi blougroen oë ondeund aan die vonkel raak. “Luki het dit in sy kop gekry om op die Facebook bladsy te adverteer dat ons ‘n Kersete in twee sessies aanbied. Hy sal in die kombuis wegkruip en ‘n storm los kook en die plek vir my los om mooi te maak en mense tevrede te hou.”

“Ag, ek is seker jy sal dit sonder sukkel regkry,” troos sy. Hy doen dit immers reeds. Die plek is pragtig, sonder enige versierings.

“Ek het gedink om ‘n paar lawwe Kersboompies en rooi en goue kersklappers in Nelspruit te gaan koop.” Hy klink nie besonder entoesiasties daaroor nie. “Jou goedjies is regtig oorspronklik.”

“Jy kan my lanterntjies maar hou, as jy dink dit kan vir Kersfees ook werk. Ek het dit spesifiek vir die troue gemaak en sou dit weggegooi het na die tyd,” bied Hanlie skamerig aan.

“Asseblief ja, daarmee los jy vir my een probleem op.” Riaan maak homself van die kosyn aflos en stap nader om sy fonds te bekyk.

En Hanlie kan nie help om raak te sien nie. Met sy aantreklik voorkoms is Riaan die grootste Kers-bate. Hy hoef net te glimlag, speelvlerkies op sy rug te sit en almal sal hom aansien vir die engel op die boonste takkie van die kersboom!

Onverwags draai hy na haar. “Is jy klaar hier? Ek wil jou gou help om ‘n paar nette oor alles te gooi om vlieë van die eetgery af weg te hou.”

“Ja, dankie.” Hanlie voel hoe haar wange effens verkleur onder sy reguit kyk. Weet hy sowaar nie hoe aantreklik hy vir die meeste vrouens is nie? Nie dat hy na  dames kyk met dieselfde waardering as hulle vir hom nie. Sy maat Luki het dit giseraand duidelik gemaak aan Hanlie se enkelvriendinne dat nie hý of Riaan in vroue belangstel nie.

Vir Hanlie pla dit glad nie. Sy het immers háár anderhelfte gevind. En oor ongeveer vyf ure trou hulle.

Klein, intiem en voor ‘n paar naby familelede en vriende.

Sy en bruidegom Cornel het saam besluit dat ‘n later troue nie soveel hoef te kos as daardie eerste feëverhaal okkasie nie. Hy behoort te weet waarvan hy praat, aangesien dit sy derde probeerslag is.

En sy laaste, het hy hand en mond beloof! Hanlie is alles waarvoor hy in die lewe gevra het.

Dis verseker ook die tweede en laaste keer dat sy voor die kansel by ‘n man sal inhaak.

Terwyl sy en Riaan die nette oor die tafels gooi, kom sy suster Christel van die huis op die erf langsaan aangestap. “Nou het jy voorwaar genoeg gewerk, Hanlie. Jammer Boet, ek kom haar nou wegsleep. Dis al tienuur. Tyd om so vir ‘n uur of meer met die bene in die lug te ontspan, voordat sy gaan bad en aantrek.”

“Alles reg, sersant!” Riaan lig ‘n hand. “Ek het ook nog een en ander om te doen. Luki het gevra dat ek die beesbraad in skywe moet sny.”

Daarmee glip hy by die groot skuifdeure in.

Christel haak by Hanlie in en begin sommer met haar aanstap.

“Het Cornel jou al vandag gebel of geSMS?” vra Christel ‘n uiters ongemaklike vraag.

“Nee, nog nie. Hy het gisteraand laat weet dat sy vriende vir hom ‘n bachelors hou en dat hulle lekker kuier.”

“Dan slaap hulle seker vanoggend ‘n bietjie laat.”

“Jy weet dan!” Hanlie hou haar stem lig en kommerloos. Maar sy sou beslis ‘n romantiese SMS op hierdie spesiale dag van hom waardeer het. Sy sal liewer die onderwerp verander voordat die eina daarvan soos ‘n deurgesnyde ui haar traankliere irriteer. “Vertel my liewer hoe julle Boshoff’s sulke grondmagnate hier in Marlothpark geword het.”

“Grondmagnate!” Christel lag lekker. “Alles aan my pa te danke. Hy het jare gelede so ‘n lelike ou pre-fab huisie gekoop en ons gesin was elke vakansie hier. En toe die twee erwe langsaan beskikbaar raak het hy hulle gekoop en vir my en Riaan elk een geskenk.”

“Waarop jy en Wim julle skakelhuisies gebou het en Riaan sy lodge?”

“O nee, Riaan het nie die lodge gebou nie. Dit is sy huisie daar agter op die pypsteelerf. Iemand anders het die plek ongeveer twee jaar gelede begin bou en ewe entoesiasties vir my pa kom vertel dat die plek reeds as ‘n lodge geregistreer is. Dit het amper gevoel soos die einde van die paradys soos wat ons dit geken het.”

“Glo ek heeltemal.”

“Skaars is die bouwerk afgehandel of die ondernemer speel bankrot en die yslike plek beland op ‘n veiling. Riaan het in daardie stadium in Londen gewoon en gewerk, maar na my pa se telefoonoproep het hy op die eerste vliegtuig geklim en omtrent al sy spaargeld gebruik om die plek te koop.”

Christel wag op die stoep van haar huis sodat Hanlie eerste by die voordeur kan instap. Sy vertel verder. “Met die bod op hom toegeslaan het hy besluit om terug te kom Suid-Afrika toe, om dit self te bedryf as selfsorg oornagverblyf met ‘n privaat restourant.”

Voor hulle is daar ‘n feesmaal op die kombuistoonbank. “Luki het vir ons die lekkernye oorgestuur vir ‘n laat-ontbyt. Daarna moet jy gaan bad en aantrek, sodat Mia jou kan mooimaak vir die foto’s. Nie dat jy nié klaar mooi is nie. Jy is mos ‘n natuurlike skoonheid. Maar ‘n bruid mag nie te min grimering aansit nie.”

“‘n Bruid? Natuurlike skoonheid? Genugtig, ek is die ma van twee yslike groot kinders, waarvan een al getroud is.” Mia, wat haar moet mooi maak is haar skoondogter.

En Mia is getroud met Hanlie se seun Ricus wat vandag fotograaf speel!

Op hierdie oomblik geniet die kos op die kombuistoonbank egter die twee jongmense se onverdeelde aandag. Forelrolletjies, gevulde eiers, biltong en heerlike oop broodjies.

Net jammer dat haar dogter nie vandag hier kan wees nie. Glo weens hereksamenverpligtinge! Hanlie weet dat die eintlike rede is dat Daniela nie regtig ooghare vir Cornel het nie. Onbekend maak onbemind. Een of ander tyd sal haar dogter vir Cornel leer ken en agterkom wat ‘n wonderlike mens hy eintlik is.
Skuins voor drie stap hulle oor na die lodge, waar Riaan en Luki die sitkamer met sy hoë grasdakke as kapel ingerig het.

“Is Cornel en sy vriende al hier?” wil Hanlie effens angstig weet. Al háár gaste is daar. Die meeste van hulle het die oggend in die wildtuin deurgebring met toerbussies. ‘n Groot geskenk wat Riaan met ‘n toerleiervriend gereël het.

Die venue is gratis en die onthaal doen Luki teen kosprys vir haar en Cornel. Hanlie het geen idee hoe sy Christel en haar mense ooit vir hulle goedheid sal kan bedank nie.

Haar groot dag is volmaak.

Behalwe dat daar van die bruidegom en sy vriende geen teken is nie.

“Nee hy is nog nie hier nie, maar ek het vir Riaan gestuur om te gaan seker maak dat die spul wakker is na gisteraand se gefuif,” verklaar Luki en druk so hier en daar aan die mooi blom en lowerrangskikking langs die tafeltjie waar die predikant gaan staan. “Ek hoop net hulle het hulle soos ordentlike grootmense gedra.”

Op daardie oomblik stap Riaan in met ‘n donderwolkuitdrukking op sy gesig.

“Vir wat kom jy sonder die bruidegom hier aan?” vlieg Christel hom in.

“Ek weet nie regtig wat daar aan die gang is nie.” Riaan maak grootoë vir Hanlie asof hy haar persoonlik ‘n verskoning skuld. “Dit lyk asof daar ‘n orkaan deur die plek is. Die helfte van hulle bagasie is nog nie eens van die bakkies afgelaai nie.”

“Dis drie-uur,” raas Christel se man Wim. “Waar is Cornel?”

“Ek het hom nie gesien nie. Of liewer ek weet nie hoe lyk die man nie. Maar iemand het hierdie CD vir my kom gee en gesê Hanlie moet daarna luister.” Riaan hou ‘n koevert met ‘n CD in die lug. “As dit reg is met jou Hanlie, sal ek dit aanskakel? Of wil jy liewer alleen …”

“Dis baie romanties, maar dit bly ‘n vroteier om laat te wees vir jou eie troue,” val Luki hom in die rede.

“Romanties wees is nie heeltemal Cornel se styl nie.” Hanlie se woorde is meer vir haarself bedoel. Sy wik en weeg. Miskien moet sy liewer iewers op haar eie daarna gaan luister. Aan die ander kant bederf sy dalk net Cornel se spesiale verrassing as hy dalk agter ‘n pilaar staan en wag om haar reaksie te sien.

Haar knik in Riaan se rigting laat hom na die klankstelsel toe stap. Terwyl hy die CD waarop Hanlie en Cornel sou instap uit die gleuf verwyder, voel sy opnuut kriewelrig.

Is Riaan seker dat Cornel-hulle nog nie die bagasie afgelaai het nie? Of is hulle besig om op te pak? Haar sesde sintuig was nog altyd besonder goed ontwikkel en nou skakel dit rooi ligte aan. Sy ken Cornel nog maar ses maande en dit was meesal ‘n e-pos en selfoon romanse met hom in Witbank en haar in Nelspruit.

Alles aan haar voel skielik lam. Ken sy die man regtig?

Wanneer die wysie begin speel, weet sy dat haar voorgevoel reg was.

Die ergste is besig om te gebeur, want Engelbert Humperdink smeek uit die diepte van sy hart: Please release me let me go … for I don’t love you anymore.

Dis bisar! Selfs vir iemand met Cornel se eienaardige humorsin.

Hanlie soek ‘n stoel waarop sy kan gaan sit. Haar bene is lam en haar voete … Eindig haar bene ooit in voete of het hulle haar verlaat? Sommer self pad gevat van skaamte en die res van haar lyf agtergelaat… to face the music?

‘n Speld se val, sou soos die knal van ‘n simbaal klink, die oomblik waarop Riaan vorentoe spring en die musiek afskakel. Daar is nie ‘n kug nie, nie eens ‘n sug of ‘n asemteug van enige van die gaste nie.

Anders het haar ore toegeslaan soos wat met slagoffers gebeur na ‘n bomontploffing…
Hoofstuk 2
Hanlie weet daar is trane op haar wange. Dit het sommer vanself gebeur.

“En nou?” klink skoondogter Mia se onstelde stemmetjie ook op.

“Nou gaan ek hom soek en vrek bliksem.” Ricus sit sy kamera neer, maar hulle dominee-vriend keer hom.

“Los, dit sal vir jou ma net ‘n groter vernedering wees as jy moet stofvreet as gevolg van die esel’s aaaanus.” Dis snaaks. Die vryvertaling waarmee die predikant wat altyd so preuts en gesteld op sy suiwer taalgebruik is, nou vorendag kom.

Hanlie begin giggel, maar niemand lag saam nie.

“Hey chear up!” raas sy toe hulle haar aankyk asof sy pas ‘n klap van ‘n olifantslurp gekry het.

Dis duidelik, vriende na aan jou word nie gebluf nie. Hulle weet wanneer jou hart uit jou borskas losgeskeur en in die openbaar op die grond neergegooi en tot ‘n pappery vertrap is. Wat ‘n verskriklike vernedering!

En die storie eindig nie hier nie. Sy het heelwat Facebook vriende ook, wat haar al klaar geluk en voorspoed met die groot stap toegewens het. Nou sal sy nie meer haar status van verloof aan Cornel na getroud kan verander nie. En vanselfsprekend is hulle ook nie meer verloof nie. As sy dus môre iets daar wil skryf sal dit wees: Enkel. Gedrop voor die kansel.

Nie dat sy lus het om haar gesig ooit weer op Facebook te wys na vandag nie.

Sy sal net stil-stil wegraak!

Ten spyte van haar seer roep sy uit: “Daar is miskien nie meer ‘n troue nie, maar ons gaan nog steeds partytjie hou. Luki en Riaan het die wonderlikste kos gemaak. Daar is wyn en vonkelwyn en die kontantkroeg is in elk geval tot ons beskikking vir die wat iets sterker wil gebruik. Soos ek!”

“Nou wat sal dit wees madame?” Dis Riaan wat haar aan die arm kroeg toe neem.

“Enigiets …” Sy kyk na die hardehout-bottels wat onderstebo hang en weet dat sy nie eens die helfte daarvan nie ken nie.

“Dan meng ek vir jou iets lekker, met al die kleure van die reënboog.” Riaan kyk haar ‘n oomblik met soveel empatie aan, dat hy haar aan ‘n dokter laat dink wat ‘n diagnose moet maak, sodat hy die regte medisyne kan voorskryf. Daarna raak hy doenig met al wat ‘n bottel is.

“Is jy orraait?” Christel kom nader en kyk haar piering-oog en hand-voor-die-mond aan.

“Natuurlik is ek orraait!”
Natuurlik is sy glad nie orraait nie. Haar hele lewe het vandag in duie gestort. Dis eenuur in die nag en net haar normale selfdissipline en afsku aan vergrype het gekeer dat sy haarself nie vroeër vanaand in alkohol verdrink het nie. Sy het Riaan se tweede kleurvolle drankie van die hand gewys en daarna vir die res van die aand met ‘n glas witwyn gespeel. Dapper saamgekuier tot die laaste van haar gaste uiteindelik besluit het om te gaan inkruip.

Sy was oortuig hoe later sy wakker bly, hoe makliker sal sy aan die slaap raak.

Toe nie! Sy rol rond en haar keel dreig om toe te trek. Haar gedagtes maal.

Waarheen hiervandaan? Sy het twee maande gelede uit haar skoolhoupos bedank en haar meenthuis in Nelspruit verkoop want na die troue sou sy mos by Cornel in Witbank gaan woon.

In Witbank sou sy aanvanklik die administrasie van sy makelaars- en eiendomsontwikklingsfirma vir hom in orde gekry het. Daarna sou sy help met die bestuur van een van die indrukwekkende projekte wat Cornel in vooruitsig het. ‘n Projek waarin hy haar oortuig het om al haar geld te belê. En dis wat sy gedoen het, pas nadat die geld verlede week in haar bankrekening inbetaal is.

Wat gebeur nou daarmee?

“Slaap jy nie?” Dis Christel wat op haar tone instap, na ‘n sagte kloppie.

“Nee. Die volle implikasie van my situasie is nou eers besig om in te sink. My nuwe werk, my blyplek. Dit bestaan nie meer nie. Selfs ons vakansie van Woensdag af in Mosambiek. My hele lewe het skielik in duie gestort!” Sy bly stil toe sy hoor hoe Christel se man Wim in die kamer langsaan rusteloos in sy slaap omdraai en hard steun. Daarna fluister sy: “Nou het ek boonop die hele huishouding wakker gemaak.”

“Glad nie. Wim is vodde gekuier. As ek so na sy asemhaling luister is hy klaar weer weg voor. Maar kom ons gaan maak koffie in die lodge se lapa, dan gesels ons daar verder.”

Dis warm, maar Hanlie trek ‘n sweetpaktop oor haar slaap T-hemp aan en stap uit na waar Christel vir haar wag.

Eers nadat sy die ketel aangeskakel het, praat haar vriendin weer: “Wim het gesê hy kan dalk sorg dat jy die graad vier pos by die skool kry. Tineke is mos swanger …”

“My huis in Nelspruit is verkoop. Nee dankie vriendin. Ek dink dis tyd om aan te beweeg. Ek weet net nog nie hoe en waarheen nie.”

“Genugtig, slaap julle nog nie?” Riaan kom uit die donker aan en soos ‘n goeie gasheer wil hy bekommerd weet. “Is alles reg?”

“Skuus as ons gepla het,” maak Hanlie onmiddellik verskoning.

“Julle pla glad nie. Ek het net by ‘n venster uitgekyk en gewonder of ek en Luki vergeet het om die lapa se ligte af te skakel.”

“En julle twee is seker gedaan. Ek weet nie hoe gaan ek ooit vir Christel en julle kan dankie sê vir al die gunste en pasellas nie.” Hanlie sluk weer aan ‘n lastige knop in die keel.

“Jy hoef nie. Dit was vir ons ook ‘n lekker kuiertjie en heelwat van jou gaste het beloof om terug te kom hierheen vir naweke of vakansies.” Riaan tree agteruit. “Nou ja, dan gaan ek maar eers induik.”

“Nee, drink eers gou saam koffie, Boeta.” Christel wag nie eens dat hy atwoord nie. Sy haal nog ‘n koffiebeker uit die rak.

“Is hierdie nie ‘n privaat partytjie nie?” vra hy met sy oë op Hanlie.

“Nee kuier gerus saam,” nooi Hanlie dadelik. “Ek is dankbaar dat daar nog ‘n siel of twee in hierdie onmoontlike ure van die nag wakker is.”

“Ek hoop nie dis daardie skurk wat jou slapelose nagte gee nie. Geen man is dit werd nie.” Riaan lig ‘n vinger.

“Behalwe as hy jou hele toekoms met hom saamgeneem het.” Hanlie trek haar skouers moedeloos op. “Soveel so dat ek glad nie weet waarheen ek my kar se neus môre moet draai as ek hier wegry nie!”

“Jy en Christel het mos saam skoolgehou …” stel Riaan versigtig voor. “Nelspruit?”

“Klaar my wortels daar uitgetrek. Ek wil nie weer my gesig in Nelspruit wys nie.”

“‘n Skoolhoupos op ‘n ander plek? Net nie te ver nie van Nelspruit af nie,” besluit Chistel. “Wim kan dalk daarmee ook help, hy ken die skoolhoofde op Komatiepoort en Barberton. Gelukkig is tyd nou aan jou kant. Jy het ‘n redelike wins gemaak op jou meenthuis en jou onderwyspensioen word ook een of ander tyd uitbetaal.”

Dit neem Hanlie ‘n hele rukkie voordat sy genoeg moed bymekaargeskraap  kry om byna asemloos te antwoord: “Ek het die wins van my huis Donderdag laat oorplaas na Cornel se rekening vir die huisprojek wat ons saam sou doen. Die een wat ek sou help bestuur.”

“Wat?” ontplof dit gelyk uit broer en suster.

“Jy skenk jou lewensgeld aan ‘n man wat jou voor die kansel in die steek gelaat het,” steun Christel voort, terwyl Riaan nou net stom na haar kyk.

“Hoe moes ek dít voorsien het, toe ons ewe liefies Donderdagoggend in die bank se ontvangs gesit en hande vashou het voordat ons ‘n persoonlike bankier gesien het?” verdedig Hanlie haarself. As die Boshoffs so tekere gaan, sal sy hulle beslis nie inlig dat selfs haar onderwyspensioen aan Cornel gesedeer is nie. “Magtig, die man is mos ‘n makelaar en ontwikkelaar. Hy is sekerlik in staat om persoonlike teleurstellings van werk te skei.”

“En reken nou net, hy is die argitek van sy groot teleurstelling.” Christel trap voor die yskas se oop deur rond. Dit lyk asof sy vergeet het, dat sy dit self oopgemaak het om melk uit te haal.

Stoom trek uit die ketel. Dit skakel met ‘n klikgeluid af en dit is Riaan wat uiteindelik kookwater oor die koffiekorrels in die bekers gooi. “Help julleself asseblief met suiker en melk.”

Hy haal die melk langs sy suster uit en maak die deur toe.

“Jy is besteel,” is die gevolgtrekking waartoe Christel uiteindelik kom.

“Ek hoop nie so nie.” Hanlie sug diep en seer en gaan sit met haar koffie op een van die gemaklike banke. Die Boshoffs se reaksie help nie om die berg van haar skouers af te haal nie.

“Wat nou van julle wittebrood?” Christel gooi suiker in haar beker en roer soos ‘n besetene.

“Dis reeds betaal. Ek het die besprekingspermitte en betalingsbewyse by my. Ons sou eerskomende Woensdag daar aankom. Dis nóg geld wat ek verloor.” Ja, sý het dit óók betaal, met haar twee laaste onderwyssalarisse! Vakansieverblyf op ‘n skitterwitstrand met eilandstyl houthuisies wat op ‘n platform tot diep in die see strek. En die bootreis na die Portugese eilande … Dit was Cornel se romantiese voorstel. Maar ongelukkig was die man gekniehalter deur ‘n tydelike kontantvloei-probleem.

“As ek my vingers om daardie man se nek kry…” raas Christel.

“Dan sal ek hom vir jou vasdruk tot hy ophou skop!” tree Riaan ook toe tot die stryd.

Net jammer die twee was nie aan haar kant toe Cornel so ywerig was om haar geld te steel nie. Maar hoe op die aarde sou enigiemand kon raai wat sy planne was? Selfs sý sien nou eers die veelvuldige rooi ligte wat eintlik lankal moes aangaan.

“Julle wittebrood kos seker ‘n arm en ‘n been. Ek en Wim loer al jare na die pryse in die Rapport, maar helaas dis een vakansie wat ons nie beskore is nie.”

“Nou vat hierdie een vir julle. Asseblief gaan hou in ons plek vakansie,” besluit Hanlie op die ingewing van die oomblik.

“Jy moet van jou trollie af wees! Ons sal jou nooit kan terugbetaal nie.” Christel sit die koffiebeker op die tafel neer en keer heftig met beide hande in die lug. “Ons gaan plak elke Desember op die strand naby Ponta. Dis goedkoop genoeg. Maar ‘n bootreis. Nie vir ons nie!”

“Nou daar het jy dit. Julle paspoorte is reg. Julle is reeds halfpad daarnatoe. En as niemand dit gebruik nie, is dit nog geld wat in die water beland. Selfs al kanselleer ek dit eerste ding Maadagoggend, sal ek geen geld terugkry nie.”

“Ek stem saam. Neem Hanlie se vakansie oor. Een of ander tyd maak jy en Wim dit weer aan haar op. Dalk nie in geld en kontant nie, maar met iets anders.” Riaan haal ‘n pak beskuit uit die kas en sit dit tussen hulle neer.

“Julle het klaar! Ek skuld julle,” roep Hanlie uit.

“Jy skuld niemand,” keer Riaan en toe voeg hy by. “Ek glo my swaer sal mal wees oor die vyf nagte bootvaart tussen die eilande. En as dit nog dieselfde pakket van drie jaar gelede is, beteken dit dat alle eet- en drinkgoed by die prys ingesluit is.”

Dit gee Christel stof tot nadenke.

“Goed ek sal Wim se arm draai,” stem sy uiteindelik in. “Maar dis ‘n baie groot geskenk, Hanlie. En wat nou van jou? Wat gaan jy vir die res van Desember doen? Jou kinders ry Richardsbaai toe om Kersfees by hulle pa te wees. Miskien sal hulle bly, in die lig van die omstandighede …”

“Glad nie. Hulle moet steeds gaan. Ek wil alleen wees om te dink. Ek soek ‘n wegkruipplek waar ek vir ‘n paar maande kan laaglê en wonde lek.”

Na vandag is haar selfbeeld boonop ook tot in die grond vertrap. Wat het sy verkeerd gedoen dat Cornel op nommer nege-en-negentig van plan verander het? Sy het hom twee keer deur die loop van die dag van haar eie selfoon af probeer bel. Geen antwoord nie. Toe bel sy van Ricus s’n af. Cornel het geantwoord, maar die foon onmiddelik doodgedruk toe hy haar stem herken.

“Vir wegkruip en alleen wees, kan ek nie ‘n beter plek as Marlothpark aanbeveel nie.” Riaan beduie na die bosse rondom hulle.

“Almal se plekke is seker nou al uitverhuur vir die vakansie. Julle s’n ook, het ek gehoor.” Nie dat Hanlie die tarief wat hulle of die ander mense vra kan bekostig, noudat sy haar geld weggegee het nie.

“Ja, alles is ongelukkig uitverhuur,” bevestig Christel.

“En die lodge is tjok-en-blok volbespreek van Maandag af.” Riaan trek sy skouers verskonend op.

“Ek wil nie in die lodge bly nie. Dis te duur. En te veel mense gaan kom en gaan. Ek wil regtig alleen wees.”

Daar is ‘n lang stilte tussen hulle. Iewers in die verte brul ‘n leeu en Hanlie is darem nie te seer om die mooi daarvan te waardeer nie. Maar daarmee saam kom die hartseer en die trane dreig sommer weer om te loop. Sy draai van die lig af weg, sodat die ander dit nie kan sien nie.

“Is jou meubels nou al in Witbank?” verbreek Riaan ‘n ongemaklike stilte wat tussen hulle kom lê het. “Of stoor jy dit iewers?”

“Nee, gelukkig of ongelukkig nie. Ek neem aan dit was ook deel van Cornel se slim uitgewerkte plan. Dit word by die vervoermaatskappy gestoor totdat …” Sy haal diep asem. Om selfs net Cornel se naam te sê, maak diep seer en tot haar verleentheid kan sy nie die sin voltooi nie.

“Vriendin …” Christel staan op en kom sit langs haar op die bank.

Hanlie klad haar oë amper ergerlik en maak seker dat haar stem beter klink wanneer sy weer praat: “Cornel het gesê hulle moet dit daar hou tot na Nuwejaar, totdat ons terug is in Witbank is om dit self te ontvang en uit te pak.”

“Dan het ek vir jou moontlik ‘n oplossing …” begin Riaan stadig. Daar is duidelik ‘n huiwering in sy stem. “My pa en ma se krokhuisie.”

“Nee Boeta, die plek staan al vir twee jaar leeg.” Christel kyk onseker na haar broer. “Wanneer laas was jy daar? Ek is seker dat die geboutjie intussen ‘n skenking aan rysmiere geword het. Nie dat rysmiere aan asbes vreet nie.”

“Jy is reg, die plek kort te veel aandag.” Die mooie man is sigbaar spyt dat hy en sy suster die saak enigsens aangeroer het. “Gee my bietjie kans, ek sal rondvra oor ander huisvestng.”

“Watter soort aandag?” dring Hanlie aan. Sy was nog nooit bang vir werk nie.

“Skoonmaak, verf, pesbehandeling … en daar is nie meubels in nie.”

“Wat sal jou pa my vra vir die huur van sy huis? Langtermyn. Vir die res van my lewe.” Dis hoe Hanlie nou voel.

“So lank? Nee wat, ek glo nie jy sal so lank hier uithou nie. As jy die plek vir ses maande wil gebruik, beskou dit as ‘n ruiltransaksie vir Christel en Wim se vakansie. As jy langer wil bly, kan ons met my pa praat oor ‘n geskike huurtarief. My pa het in elk geval gesê ek en Christel moet maar met die plek maak wat ons goeddink.”

“Klink vir my goed. Amper te goed om te glo. Dan sal ek Maandag bel en reël dat my trek hierheen kom.”

“Jy moet eers na die plek gaan kyk, voordat jy te opgewonde raak,” waarsku Riaan.

“Wanneer kan ek gaan kyk?”

“Sodra die son môre sy kop oor die groot Krokodil uitsteek.” Riaan staan stadig op. “Maar voor dan sal ons beslis eers ‘n uur of meer se slaap moet inkry.”

 

Hoofstuk 3

 

Na ‘n laatontbyt Sondag vertrek Hanlie se gaste uiteindelik. Dis net Ricus en Mia wat nog vasbyt.

“Nou wil jy seker gaan huiskyk! Ek hou jou al die afgelope halfuur dop en ek dink jy het vir Santie en kie weggewens.” Riaan hou ‘n bossie sleutels in die lug voor haar.

“Ja! Hoe kom ons daar?”

“Ons stap in die tweespoorpaadjie voor my plek verby. Volg my.” Riaan stap voor en eers verby sy verste stoep is die klein prefab struktuurtjie tussen digte bome en struike sigbaar.

Ricus steek in sy spore vas, kyk met afkeer na die verwaarloosde huisie en waarsku. “Hier kan slange wees.”

“Hier sál slange wees,” antwoord Hanlie onverstoord en stap aan. “Ek hou van die omgewing en die diep skaduwee wat die twee maroelabome oor die huis maak.”

Op die stoep vang sy Riaan se oog en hy knipoog vir haar voordat hy die sleutel in die deur druk om oop te sluit.

“Dis nie ‘n vreeslike mooi huis nie,” daag Mia hulle uit. “Ek het gehoop dat dit ten minste ‘n grasdak het, soos al die ander huise in Marlothpark.”

“Dis Riaan en Christel se grootword vakansiehuisie,” waarsku Hanlie. Jongmense kan soms so onsensitief wees. “Vir my is ‘n sinkdak beter as gras, mens kan die reën hoor val.”

Sy wys na die wolke wat donker begin saampak.

“Grasdakke is mooi, maar daar kruip maklik vlermuise en ander ongediertes tussen die balke in,” stem Riaan saam en staan terug sodat die res van die geselskap eerste kan instap. “Skuus, dit is maar vuil. Ek sal môre die lodge se skoonmakers stuur om hier skoon te maak.”

Hanlie is verras, want so klein as wat die huisie van buite af lyk, is die oopplan sit- en eetkamer nogal ruim. Links van die sitkamer is twee piepklein slaapkamers en regs ‘n ietwat groter slaapkamer en badkamer met ‘n regte bad. Van ‘n kombuis teen die agterste muur van die sitkamer is daar nie juis sprake nie. Dit bestaan uit ‘n enkelwasbak in ‘n staalkassie onder die venster. Langsaan is ‘n kassie met oop rakke onder ‘n tweeplaat gasstoof. Die hoë driedeur-blikkas links sal waarskynlik ‘n bietjie meer pakplek bied vir byvoorbeeld kruideniersware. En dit is dit!

“Dis nou nie juis ‘n kombuis waaroor ‘n binneversiering tydskrif ‘n foto-artikel sal wil doen nie,” spot Christel.

“Dis heeltemal voldoende dankie.” Hanlie begin amper opgewonde voel wanneer sy omdraai en agter haar kinders aan op die stoep uitstap.

“Ma kan nie hier bly nie.” Ricus wag haar met ‘n brombeer houding lans die braaiplek in.

“Ek het gehoor hier is soms leeus in Marlothpark.” Skoondogter tuur na die digte bosse rondom hulle.

“Ongelukkig was hier lanklaas leeus. Maar mens sien darem gereeld luiperds hier. Hulle hou van die droë rivierlopie hier voor ons huise. Ses maande gelede het een sy prooi in daardie boom opgetrek.” Riaan beduie na die groot maroelaboom feitlik teenaan die huis

“Genoeg. Daar is ‘n woonstel oop in die kompleks waar ons bly. Ek bel gou om te hoor of dit beskikbaar is …” Ricus haal sy selfoon uit sy sak.

“Ricus, los jou ma. Nommer een het sy pas ‘n diepe teleurstelling beleef en nommer twee is sy oud en mooi genoeg om haar eie besluite te neem. As sy besluit om tussen maroelabome en haak-en-steek bosse te kom wegkruip, stel ek voor julle ondersteun haar,” tree Riaan ferm, dog met ‘n vriendelike glimlag vir Hanlie in die bresse.

“As jy bekommerd is oor jou ma se veiligheid, kan ek jou belowe dat sy veiliger tussen Marloth se leeus, luiperds en hiënas is, as tussen die spul wolwe in die stad.” Iets in Christel se stemtoon laat Ricus sy selfoon wegsit.

“Nou wat is ma se PVA na dese?” wil hy weet. “Ek en Mia ry netnou terug Nelspruit toe en daarna …”

“Alles reg Ricus,” troos Hanlie. “Doen julle ding. Ek gaan lekker hier bly.”

“En om jou moeder behoorlik welkom te heet, neem ons haar laatmiddag vir ‘n wildbesigtigingsrit en ‘n skemerkelk by die uitkykpunt.” Riaan haal ‘n paar sleutels van ‘n groot bos af en hou dit na haar toe uit. “Joune Hanlie. Sluit, dan stap ons terug lodge toe. Tensy jy nog wil rondkyk.”

 

“Dis Langpadvervoer. Die trok met jou trek is by die hek. Waar moet ons aflaai?” Dinsdagoggend vroeg klink die man se woorde soos musiek in Hanlie se ore.

“Gee my tien minute, ek kry julle by die hek!” Hanlie gryp karsleutels en drafstap na haar Volkswagen Polo toe.

“Wat gebeur?” Sy sien nou eers dat Riaan en twee van sy werkers daar naby besig is met iets.

“My trek is by die hek!” roep sy opgewonde.

“Wonderlik, Agnes en Elizabeth het gesê hulle wil jou gaan help uitpak en regskuif. Ek stuur hulle na jou plek toe.”

“Nie nodig nie!” keer sy. “Ek het genoeg tyd om dit self te doen.”

Eintlik wil sy uitroep; asseblief nie, hou hulle daar weg, want sy weet die twee dames wil net kom aas. Sy kon dit al gister agterkom tydens die huisskoonmakery. Wou dadelik weet of sy baie kombuisgoed het om uit te gooi, want die kombuis is dan so klein!

En klere?

Sy sal beslis van party van haar formele pakkies en baadjies ontslae raak.

Groot fout! Agnes het hulle lywe met die oog gemeet, omdat hulle omtrent ewe groot is. Daarna het Elizabeth verontwaardig afgegaan het oor ‘n dogter wat sy deur verpleegsters opleiding moet sit. En die kind het niks.

“Niks! En sy het jou lyf, Hanlie.”

“Ek sal regverdig wees, maar gee my net eers ‘n dag of twee tyd om uit te soek en eenkant te sit.” Hanlie sien dat daardie versoek op dowe ore geval het, want teen die tyd dat sy met Langpadvervoer se trok voor haar nuwe huis stilhou, sit die twee duidelik haaks op die stoep te trappies en wag. Hulle baklei al klaar oor goeters wat hulle nog nie eens gesien het nie!

Hanlie klim uit, groet en sluit die voordeur oop.

Agter haar hoor sy die twee se opgewonde uitroepe toe die dubbeldeure van die vragmotor oopgaan. Daar is bokse. ‘n Menigte bokse.

Die manne dra meubels in. Die twee bankbeddens wat altyd in Ricus se kamer was, gaan na die een slaapkamertjie. Die sitkamerbank en twee stoele, kom net hier waar sy staan Haar ronde kombuistafel met sy vier riempiesstoele by die kombuis. Sy stuur die klein lessenaartjie waarby sy altyd gesit en boeke merk het met sy bypassende boekrakkie na die tweede slaapkamer toe.

Haar dubbelbed met sy twee bedkassies maak die hoofslaapkamer byna kant aan wal vol.

Toe tref die bokse haar soos ‘n vloed. En terwyl sy die manne by die trok gaan betaal en afsien, neem sy haar besluit. Sy sal roekeloos moet uitgooi!

“Bokse wat gemerk is met, pakkies, werksklere, deftig en skoene, bly net hier in die sitkamer. Ons sal dit nou deurgaan. Die res moet gaan waar dit hoort. Kombuis, badkamer, slaapkamer.”

“Hanlie, ons wil iets sê voor ons begin,” verklaar Agnes plegtig. “Ons wil nie jou uitgooigoed verniet hê nie. Ons sal koop en die res vir jou verkoop. Dis amper Kersfees en bonustyd. Die mense het die tyd van die jaar geld. Hulle kán en wil koop.”

“Ons weet mos van jou troue se nonsens. Die man het jou geld gesteel.” Elizabeth wys kwaai met ‘n vinger. “Ek het gehoor Christel sê vir Wim dat jy nou ‘n kerkmuis is. Mens moet help waar mens kan.”

Waar op die aarde moet sy haar kop indruk? Almal in Marlothpar weet dat sy nie geld het nie! Hanlie besef haar mond hang oop van skok. Sy beter toemaak voordat een of ander subtropiese ongediere invlieg en nesmaak!

“Maar ons gaan deel in die wins,” verduidelik Agnes verder. “Ons moet alles mooi merk, sodat ons die bedrag in drie kan deel. Een deel vir jou, een vir my en een vir Liesbeth. Het jy plakkers?”

“‘n Juffrou het altyd plakkers.” Hanlie vlieg om en soek haar skooltas.

“Nou kom ons begin met die skoene.” Elizabeth skop teen ‘n boks.

“Waar en wanneer verkoop ons die goed?” Hanlie is skoon oorweldig.

“Vrydagmiddag, in Komatipoort waar die mense die busse vang.” Agnes is al besig om een van die bokse uit te pak. “Hoeveel vra ons vir hierdie mooi skoene?”

Dit voel vir Hanlie asof sy in ‘n vreemde nuwe wêreld beland het. Iewers in Afrika, maar nie in die Suid-Afrika wat sy ken nie.

 

Hoofstuk 4

 

Hanlie dwing haarself om nie vanaand daaraan te dink dat Wim en Christel op haar en Cornel se romantiese wittebrood-avontuur is het nie.

Wit sand, diep blou water, die son wat agter hulle ondergaan …

Sy sal eerder die beste maak van nou en hier. Sy skakel haar laptop aan en teken op Facebook in.

Sy sal nie nou al haar status verander nie. Sy sal ook nie reageer op boodskappe van gelukwense met die troue nie.

Daar is twee nuwe vriendversoeke; een van Riaan Boshoff en een van Luki Lorenzo. Sy aanvaar. Riaan stel voor dat sy by twee groepe inskakel Marloth Park en Marloth Park Marketing.

Sy stuur die aansoek en word onmiddelik aanvaar.

Welkom by Marloth Park Marketing, skryf iemand.

 ‘n Vlooimark word gereël vir die Saterdag net voor Kersfees. Alle handgemaakte produkte en geskenke welkom.

Daaraan sal sy deelneem! Danksy haar huidige kontantvloeiprobleem sal sy beslis iets wil maak om te verkoop. Glukkig is sy met haar skoolklassie deur ‘n sukesvolle entrepreneursdag, waar hulle leë koeldrankbottels gebruik het om voëlsaadhouers, muskie-t en vlieëvangers en lanterns te maak.

Al wat sy nodig het om haar besigheid aan die gang te kry, is ‘n massa een en tweeliter koeldrankbottels. En dis vryliks beskikbaar. Trouens, sy het gister ‘n hele paar in Riaan se lodge se draadhok-asblik gesien. Sy sal dit sommer môreoggend gaan oes as dit nog daar is.

Eerste aand ’n jou huisie. Is jy ingeburger?Bang vir die bosgeluide? skryf Riaan op haar muur.

Glad nie. Die waarheid is, ek hoor niks. Dis wonderlik stil.

Bel as jy bang is of ek iets by jou moet kom verjaag.

Maak so, maar ek is regtig oukei, dankie. ‘n Ware ridder. Maar sy sal hom nie onnodig in die donker bosse laat rondhardloop nie. As Riaan enige ander ou was, sou sy vir ‘n kort oomblik gewonder het of hy dalk skimp vir ‘n koffie-uitodiging.

Maar hy is nie sommer net enige ou nie. Hy het vir Luki in sy lewe. Dus sluit sy af met: Lekker moeg. Huis nog onderstebo. Gaan nou inkruip. Nag, lekker slaap.

Maar sy wil nie nou al inkruip nie. Sy rig haar nuwe fabriek in. Skerp mes, skêr, gom. As sy nou net leë koeldrankbottels gehad het, het sy dadelik weggespring.

Daarom wag sy skaars dat die son die volgende oggend behoorlik gesig wys tussen die bome. Sy bad, trek aan en gryp ‘n swartsak op pad uit.

Eers toe sy in die lodge se asblikke begin krap agter leë bottels aan dink sy daaraan dat sy seker eers moes gevra het. Aan die ander kant, dis weggooigoed en al die mense slaap seker nog.

Orraait, party van hulle slaap waarskynlik nog want die spat van water laat haar besef dat die lodge se swembad gebruik word.

“Hanlie?” roep iemand boonop.

Sy kyk stadig op. “Riaan!”

Hy en Luki staan langs mekaar op die swembad se dek. En hulle oë draai van die asblikke af na die swartsak in haar hand, terug asblikke toe. So lyk vraagtekengesigte!

“Is alles reg?” Luki kom eerste tot verhaal.

“Natuurlik! Geniet die dag.” Sy waai ‘n verleë groet en drafstap terug huis toe waar sy die deur agter haar toeklap. Hoekom lyk die manne so onthuts? Het hulle ‘n bobbjaan daar verwag?

Vergeet van hulle! Sy skuld hulle geen verduideliking nie. Dis nie asof sy hulle gaste se kameras of selfone gesteel het nie.

Sy het ‘n goeie oes gemaak. Sewe bottels! Voor tienuur weet sy al dat sy nog nie haar slag verloor het nie. Sy het nie verniet al die sny- en plakwerk aan die kinders se kunswerke gedoen nie. En die meeste van die verfwerk, wanneer verveling ingetree het.

Waar kry sy nog bottels?

Voor-die-hand-liggend, by die munisipale stortingsterrein! Sy weet presies waar dit is. Op pad na die Malelane uitgang op Olifantstraat, linkerkant van die pad.

Twee swart sakke? Nee drie. Daar gaan sy ‘n reuse fonds daar maak.

Sy draf na die Polo en daarna moet sy haarself letterlik dwing om by die spoedbeperking te hou! Dertig kilometer per uur op die grondpad. Vyftig op die teer. Sy konsentreer so dat sy amper verbyry.

Sy hou stil en maak haar deur oop. Vir een kort oomblik is haar asem weggeslaan. Nie net deur die reuk nie, maar ook deur die hoeveelheid materiaal wat sy moet deurwerk. Hier kry haar nuwe besigheid vandag ‘n fenominale hupstoot!

Toe vlieg sy agter die stuurwiel uit en agter haar vlieg ongeveer een-miljoen vliëe by haar wit karretjie se oop deur in.

“Is jy nou mal?” vra ‘n vrou wat ook tussen die afval rondsnuffel agter bruikbare goedere aan. Sy klap die deur agter Hanlie toe. “Jy hou stil, maak die deur net groot genoeg oop om jou eie lyf uit te laat en maak die deur weer vinnig toe. Kyk hoe lyk dit nou daar teen die binnekant van jou venster.”

“O gits!” Dit plaas ‘n ernstige demper op haar entoesiasme.

“Waarna soek jy?” vra die vrou. “Ek kan dalk help.”

“Leë tweeliter koeldrankbottels.”

“Dis my lyn ook. Alle plastiekhouers.” Die vrou vou arms oor haar bors.

“Ek sal betaal …” Hanlie wonder of sy haar tong nou of later moet afbyt. Dis nie asof sy swem in kapitaal om uit te lê nie en sy voeg by. “Maar jy moet my ‘n goeie prys vra, want ek is vrek arm op die oomblik.”

“Ek sal happy wees met ‘n rand vir my tweeliter bottels,” stel die dame self voor en laat sak haar arms. “My naam is Siena.”

“Deal, Siena! Ek is Hanlie.”

“Nou gaan trek net eers jou kar daar weg. Dis in die trok se pad.”

“Siena, vandag moet ons nie meer as honderd bymekaarmaak nie. Ek het net honderd rand by my,” keer Hanlie toe Siena ‘n sak bottels iewers uit ‘n wegsteekplek gaan haal. “En ek het niks geld in die bank nie.”

“Jy kan my skelt,” verklaar die vrou onverstoord en neem die blou noot wat Hanlie na haar uithou.

“Ek hou nie daarvan om skuld te maak nie,” begin Hanlie verduidelik. Maar iemand hou langs hulle stil en sit ‘n plastiekbak met braaivleis en broodjies op ‘n klip neer.

Siena duik daarvoor.

Sy maak oop en ruik aan die kos.

“Seker is dit mense wat terugry Gauteng toe. Hulle laai kos hier af, waar mense dit waardeer. Ons dumping site werkers mors niks. Ruik, dit makeer niks.”

Terwyl Hanlie vooroor leun, kom ‘n Nissan Navara van iewers af aan. Dit hou stil en trek van die pad af. Riaan Boshoff klim haastig agter die stuurwiel uit, klap die deur vinnig agter hom toe en kom met lang treë aangestap.

“Hanlie, is alles reg? Ek het verbygery na Hectorspruit se vrugtestoor, toe sien ek dat jou kar hier staan. Nou kom ek terug … en jy is nog hier.”

“Dis oukei, sy werk die dumping site saam met ons,” verduidelik Siena toe Hanlie na woorde soek. Sy wil nie nou al haar besigheidsgeheim verklap nie.

“Ek is klaar vir die dag. Bye.”

“Is reg, maar hier op die dump deel ons. Kry ‘n broodjie en stukkie wors.”

“Baie dankie.” Hanlie vat die plastieksakkie met kos by haar mededeelsame nuwe vriendin. Sy ignoreer die geskokte kyk wat Riaan haar gee en skuif agter die stuurwiel in. “Tot Maandag Siena, koebaai Riaan!”

Sy is al amper by die grondpad waar sy gaan links draai toe sy in haar truspiëeltjie sien dat Riaan haar hand oor die mond staan en agternakyk.

By die huis giggel sy lekker daaroor terwyl sy die spul bottels in ‘n Sunlight liquid bad dompel. Wat moet die verfynde man van haar asgat-aksies dink?

Die broodjie en vleis wat Siena vir haar gegee het makeer regtig niks, maar teen drie-uur maak ‘n vlakvark gesinnetjie hulle opwagting voor haar stoep en sy deel dit tussen die vier vreterige varkies. Agter haar in haar ‘fabriek’ is daar nie minder nie as tien klaar voëlsaadhouers en sewe muskietvangers.

Net toe kom Riaan op ‘n drafstap in die tweespoorpad na haar huis aan. Hy roep van ver af: “Hanlie, kom ry saam, daar is leeus by die uitkykpunt.”

“Gee vyf, ek is nou reg.” Sy draai om en glip by die skuifdeur in. Oppad badkamer toe, druk sy haar werkskamer se deur toe, net vir ingeval Riaan dit dalk in sy kop kry om te kom kyk hoe ver sy met haar uitpakkery is.

Sy was vinnig haar gesig, hande en voete en wonder hoekom sy die moeite doen om lipstiffie aan te sit, nadat sy hare gekam het. Niemand hier rond sal dit tog waardeer nie.

Voordat sy uitstap, trek sy haar gunsteling plat blommetjiesplakkies aan.

Riaan kom stadig orent waar hy vir haar op die muurtjie langs die braaiplek gesit en wag het. Sy oë gly goedkeurend oor haar gesig en talm ‘n oomblik op haar lippe, voordat hy met sy regterhand lodge se kant toe beduie.

“Sal ons gaan? Luki wag seker al by die bakkie.”

Die twee manne doen die leeukykding in styl, sien Hanlie later by die rivier. Hulle haal drie opvoustoele en ‘n tafel uit en daarop verskyn ‘n feesmaal soos wat sy nog nooit uit ‘n piekniekmandjie sien kom het nie.

Dankie Riaan en Luki, besluit sy terwyl sy heelwat later by haar huis in ‘n lekker skuimbad klim. Hulle uitgestrekte hande van vriendskap laat haar beslis beter voel oor haar lot.
Hoofstuk 5
“Is al jou goed gemerk en is jy reg vir die groot sale?” Dis Elizabeth en Agnes wat omkyk omkyk van die lodge af aankom. Hulle sluip skelm weg. “Het jy change vir tweehonderd rand?”

“Natuurlik. En ek wag al van twee-uur af vir julle.”

“Ja sorry, Riaan is nie daar nie en Luki was weer laat met die lone. Kom dat ons ry. Ons wil nie die groot verkeer na die trust mis nie.”

Hulle draai links op die Ngwenya Lodge pad en ry teerpad tot in Komatipoort.

Agnes laat haar op die oop stuk grond voor die aartappel en uiewinkel stop. Dit wemel van die mense! Daar is ook ander ondernemes wat produkte het om te verkoop, maar Hanlie is oortuig daarvan dat sy die enigste een is met voorvaders uit Europa.

“Dit werk nou so,” verduidelik Eizabeth. “Jy hou hierdie swart handsak om jou nek. Jy verkoop nie Ek en Agnes vat die kleingeld en ons verkoop. Sodra ons genoeg fifties en hundreds het, dan bring ons dit vir jou.”

“Julle is baie optimisties.”

“Moenie worry nie, watch net.”

Hanlie staan half terug, want dit is inderdaad duidelik dat haar twee vennote sake onder beheer het. Kort-kort stap een van die twee na haar toe en stop geld in haar hand en sy sit dit in die handsak. Een na die ander raak die bokse leeg en Hanlie sien al hoe stop sy by die Spar en koop haar yskas en spensrak vol.

Totdat …

Sy het die man van nêrens afsien kom nie. Voel net skielik die koue metaal in haar regtersy.

“Your money or your life,” spoeg hy die woorde langs haar gesig uit.

“Nee!” Verbouereerd sien sy dat die toue van die handsak losgesny is en sy hou stywer vas. “Help!”

Dis die enigste aansporing wat Agnes en Elizabeth nodig het. Hanlie het lankal gedink dat party van daardie lang dun skoenhakkies wat sy nooit langer as ‘n uur aan haar voete kon hou nie, gevaarlike wapens is.

En dit is.

Bloed spat en die aanvaller los die handsak, want hy moet nou keer vir sy eie lewe!

Dan is die manne in blou op hulle en tien minute later sit sy tussen haar vennote in die polisiekantoor. Die Polo en paar stukkies oorblyware staan darem nou veilig geparkeer voor die deur.

“Die blitsem wou haar rob …” ontplof Elizabeth en beduie na Hanlie toe ene sersant Manualla hulle vanuit sy kantoordeur kom aangluur.

“Ons sê niks en ek het klaar gebel!” Agnes lig haar foon.

“Hoekom het jy gebel? Dink jy jy het ‘n lawyer nodig?” Die kêrel bars uit van die lag. “So by the way, wie het jy gebel?”

“Vir hom! Riaan sê vir die man hy kan ons nie hier hou nie.” Sy beduie deur se kant toe.

Riaan? Hanlie draai haar kop na waar die hand beduie. En daar staan hy sowaar. En weereens is sy mond halfoop agter sy hand. En haar hart maak sulke snaakse draaibewegings want hy lyk kompleet soos ‘n engel wat gestuur is om haar na ‘n nuwe aarde weg te voer.

Dan storm hy op Hanlie af.

“Het iemand jou al hospitaal toe geneem?”

“Hoekom?” Hanlie kyk af op haar klere. Dis vol bloedspatsels. Sy keer. “Dis nie myne nie.”

“Hulle het ‘n man op die aartappelplein aangerand,” verduidelik die sersant. “Hý is onder polisiebewaking hospitaal toe vir steke. Maar moenie vrees nie, ons soek hom al lankal. Hy het die ander vendors lankal gepla.”

“En hierdie drie?” vra Riaan. “Is hulle nou in aanhouding?”

“Nee asseblief nie. Dis duidelik julle ouens dink die polisie het nie genoeg serious werk nie. Maar as julle weer ‘n boot sales wil hou, sorg dat julle genoeg lyfwagte het. Hierdie is Komatipoort.”

Dis die einde van hulle vriendskap, besef Hanlie toe Riaan met ‘n donderwolkgesig beduie dat sy en haar trawante vooruit moet ry.

Hy wil seker maak dat hulle reguit teruggaan Marlothpark toe en dat hy haar nie weer iewers uit ‘n tronksel moet red nie, kom die gedagte by Hanlie op.

En sy moet haarself net inhou om nie aan die giggel te gaan nie. Sy trek die handsak onder haar sitplek uit en sit dit op Agnes langs haar se skoot.

“Deel ons geld, terwyl ons kans het. As ons eers by die huis kom, sorg die man dat ons paadjies vir ewig skei. Hy dink waarskynlik dat ek die boosheid vanself is.”

Maar toe glad nie.

Hy volg hulle nie eens tot by haar huis nie. Kan seker nie wag om vir sy liefie te gaan vertel van die adder wat hulle aan die boesem koester nie.

Tien minute later is daar egter ‘n SMS van hom af op haar selfoon: Kom eet asseblief vanaand so om en by 7 by my en Luki. Hy het vir jou ‘n proposisie.

Kom graag, dankie.

Sjoe, dan is hy darem nie té kwaad vir haar nie.
Riaan stap Hanlie tegemoet toe sy vyf voor sewe lodge toe stap.

“Dis vakansie. Die restourant is vol, maar Luki het vir ons drie op een van die privaatstoepe laat dek.”

Soveel moeite. Hanlie se asem slaan skoon weg toe sy na die tafel kyk. Dit was beslis die regte ding om uit haar winste van die dag twee boksies duur sjokolade en ‘n goeie rooiwyn te koop.

Riaan trek vir haar ‘n stoel uit en gaan sit skuins oorkant haar.

“Dankie.” Hy lyk ‘n oomblik bly oor sy sjokolade, waarna hy haar stip aankyk.

Sy wag. Nou gaan hy seker raas. Hy doen nie.

“Wyn?” vra hy uit die bloute en beduie na die oop bottel witwyn in die ysemmer.

“Asseblief.”

“Hanlie, jy moes nie,” raas Luki toe hy ‘n oomblik later uitasem en rooi in die gesig by hulle aansluit. Amper stik sy in haar glas. Die raas kom uit ‘n ander oord! “Spaar jou geldjies. Die sjokolade en wyn moes jou ‘n klein fortuintjie uit die sak gejaag het.”

“Ek … wou …” stotter sy.

“Hou op baklei en vertel vir Hanlie wat vanaand op die spyskaart is, Luki. En kom sit en drink wyn.” Riaan haal die bottel uit die ys en skink daarvan in nog ‘n glas.

Luki val op die derde stoel neer, voordat hy dramaties lostrek: “Ons skop af met ‘n koue garnaalslaaitjie. Vandaar die yskoue ligte vrugtige witwyntjie. Daarna volg my spesiale gevulde hoenderborsie met groente in seisoen. En vir nagereg … kyk wat gebeur.”

Hy klink sy glas teen hare en Riaan s’n, neem ‘n diep teug uit syne en vlieg op kombuis toe.

“Gelukkig is hy ietwat hiperaktief,” spot Riaan en sit gemaklik agteroor. “Soms maak hy my mal, maar die meeste van die tyd dank ek my sterre daaroor. Ek het nie in Marloth kom bly om my dood te werk nie. Ek wou net die oornagverblyf hier aanbied. Maar toe Luki die plek sien …”

“Was die koeël deur die kerk. Dis hoekom ek besluit het om nie weer terug te keer Londen toe nie.” Luki sit drie pragtige borde borde tussen hulle neer. “Riaan se voorwaarde was dat elkeen sy eie salaris genereer.”

“Maar die ou mannetjie werk hard. Terwyl Geoff nie hier is nie, help ek deur my stem soms dik te maak. Luki is so sag, ek wil nie dat die personeel oor hom loop nie.”

Wie is Geoff? wonder Hanlie, maar kry nie kans om te vra nie.

“Ek het alles onder beheer.” Luki waai met die hand en tel die swartpepermeul op. Terwyl die vlokkies oor sy garnale reën beduie hy verder. “Met goeie beplanning en uitstekende opleiding van my personeel, is alles daar onder beheer. Die groente en stysel is gaar. Al wat hulle hoef te doen, is om die hoenderborsies of filletsteaks op die warm bakplaat te gooi en te braai.”

“Nou ja bon appetite.” Riaan neem die pepermeul wat Luki ir hom aangee. “Wat van jou Hanlie?’

“Asseblief.” Die bord is te mooi om om te krap en Hanlie fees eers met die oë tussen die kleurvolle rangskikking van slaaiblare, tamaties en ander lekkernye. Sy proe aan een van die garnale. Die bord lyk nie net mooi nie. Dis ‘n smaaksensasie.

“O my hene dis heerlik. Hierdie sousie!” Hanlie is doodseker dat sy nog nie tevore so lekker seekosslaai geproe het nie.

“My eie resep. En my eie sondroogtamaties. Ek is so bly dat Riaan my toelaat om my eie kruie en groentes te kweek.”

“Hoe en waar?” Hanlie is verras. “Ek het vroeg vanoggend ‘n besoek van ‘n aaptrop gehad. Hulle het ‘n halfuur lank deur die venster na die mango en piesangs in die vrugtebak in die kombuis gestaar. Ek dink as die voordeur op ‘n skrefie oop was, het hulle hulleself kom help.”

“Ek het vir hom ‘n voëlhok oorgetrek met skadunet en sifdraad.”

“Riaan is die engel in my lewe,” verklaar Luki en waai met die een hand. “As ek vir iets wens, dan word dit waar!”

“Dis die regte soort engel om in ’n mens se lewe te hê!” besluit Hanlie. “Myne was toe mos Lucifer, die verraaier van die heelal.”

Op daardie oomblik vang Hanlie Riaan se oog en hy knipoog vir haar. En iets in haar wens dat hy liewers niemand se engel moet wees nie, maar eerder ‘n regte man … ‘n Man wat vir haar kan wys hy dink dat sy nie heeltemal onaanvaarbaar is as vrou nie.

Cornel het haar selfbeeld vermorsel.

Hanlie verbreek oogkontak en konsentreer weer op die kos op haar bord.

“Moenie antwoord as ek uit my beurt praat nie, maar het jy iets gehoor van ene Cornel?” vra Riaan asof hy haar gedagtes kan lees.

“Nie ‘n woord nie.”

“So ‘n pestelens,” brom Luki en toe troos hy. “Maar toemaar, die wiel draai en elke hond kry sy dag…”

“Jy reken?” Sy wens sy kan hom glo.

“Karma is ‘n bogger.” Riaan reik oor die tafel en vou ‘n hand vertroostend oor hare.

Sy kyk vinnig op, in sy oë wat nou ernstig en intens met haar praat. As hy so lyk, moet sy hom glo. Sy wens net dat sy die aanraking net so platonies kan ervaar as wat hy dit waarskynlik bedoel, want haar hartklop verander ongevraag van ritme.

Ter wille van Luki trek sy haar hand uit syne, al wens sy skielik sy kon dit daar bêre totdat die dood hulle eendag skei!

“Sit weg die witwynglase en vul die rooies,” stel Luki voor. Hy maak die leë voorgereg borde bymekaar en staan op om die hoofgereg te gaan haal.

“Die lewe het net ‘n manier om dit wat jy saai, soos onkruid in jou eie lewe te laat opkom en groei.” Riaan skink drie glase rooiwyn wanneer Luki met sy eetbare gestileerde prentjies terugkom.

“Hanlie, ek het vir jou ‘n proposisie. En moenie dink dis die enigste rede hoekom ons jou genooi het nie.” Luki raak om een of ander rede vreeslik apologeties.

“Laat ek hoor.”

“My personeel keer byna almal huiswaarts oor die Kerstyd. Sien jy kans om saam met Riaan kelnerin te speel?”

“Kelnerin?” Sy is verras. “Is kelnerinne nie oulike sexy jong meisies nie?”

“As dit benede jou is …” keer Luki.

“Nee, nee! Ek sal graag.”

“Wonderlik. Daar is ‘n basiese besoldiging, maar jy gaan natuurlik ook fooitjies verdien. Veral die Amerikaners tip goed! Ons kry twee groterige groepe oor Kersfees en Nuwejaar.” Luki sny ‘n stukkie van sy hoender af, maar voordat hy sy vurk na sy mond bring, val iets hom by. “Dress code. Rooi, swart en wit.”

“Geen probleem nie. Wanneer werk ek my eerste skof?”

“Volgende Saterdagaand.”

“Volgende Saterdagaand?” Amper stik sy in haar wyn.

“Ja, hoekom? Is iets verkeerd?”

“Ek het ‘n stalletjie by die Kersmark. Ek is net bang dit hou bietjie laat aan.” Sy byt haar onderlip. Hier bied Luki haar ‘n geleentheid aan om te oorleef en nou gaan hy seker dink sy soek verskonings, of is te lui om te werk.

“Die mark sal waarskynlik nie te laat aanhou nie, maar jy gaan dalk moeg wees.” Riaan glimlag weer boetvaardig. “Alles reg Lukiskat, ek sal die eerste skof werk. Dan kan Hanlie Sondag met die middagete buffet inval.”

“Uitgesorteer,” sug Luki verlig. “Vertel ons van die mark, Hanlie. Wat gaan jy verkoop?”

“Produkkies wat ek uit leë koeldrankbottels maak.” Noudat die aap uit die mou is, haal sy haar selfoon uit en wys foto’s.

“Dis so blerrie oulik,” verklaar Luki en toe verskyn daar ‘n uitdrukking van algehele begrip op sy gesig. “Dit is hoekom jy in asblikke krap.”

“En by die stortingsterrein rondhang!” Riaan vee kastig verlig oor sy voorkop.

“Wat het julle gedink? Dat ek oorskiet kos soek?”

“Jy was innig dankbaar vir die braaivleis en broodjiepakkie wat Siena vir jou gegee het,” herinner Riaan haar ewe droog.

“Dit was ‘n baie groot geskenk. Natuurlik moes ek dit waardeer. Sou jy nie?” daag sy hom uit.

“Nagereg.” Luki skuif sy stoel haastig agteruit. “En Dom Pedros.”

“Sjoe, ek weet nie of ek nog moet …” Twee bottels wyn is byna leeg en Hanlie kan nie ontken dat sy haar deel daarvan gehad het nie.

“Moenie worry dat jy dalk langs die pad sal omval en bly lê nie. Ons engel sal saam met jou huis toe stap en sorg dat jy veilig is.” Luki beduie slaphand in Riaan se rigting, voordat hy die poedingbakkies uit die yskas haal.

“Baie dankie,” kry Hanlie flouerig uit.

Sy glo sý sal veilig wees, maar as sy nog iets drink sal Riaan dalk moet keer vir sy ‘kosbaarhede’.

Gelukkig weet sy presies hoe kwesbaar iemand kan wees wat terugbons na ‘n liefdesteleurstelling. En sy is nou daar waar menige gekweste vrou haar aan die voete van die eerste en beste aantreklike en simpatieke ridder sal werp.

Maar haar morele waardes is te hoog om haarself goedkoop te maak. As dit boonop ‘n man is wat vir die ander span boul, bly sy liewer op haar eie voete.
Hoofstuk 6
Hanlie is nie lus om die deur oop te maak toe iemand skuins na een Woensdagmiddag eers teen die deur en toe teen die kombuisvenster trommel nie.

Sy loer deur ‘n skreef in die gordyn.

“Riaan!” Sy soek sleutels. “Wag ek maak oop.”

“Luki het gesê ek moet kom kyk of jy nog leef!” Hy spot, maar terselfdertyd slaan die kommer in sy stem deur. “Hy stuur broodjies en sê ek moet vir ons koffie daarby maak.”

Riaan druk verby en skakel die ketel aan.

“Hoe vorder jou produksielyn?” Hy soek bekers in haar kas, vind die koffiepoeier en draai daarna na haar toe om. Hy wag vir haar antwoord.

“Goed dankie. Maar ek kan regtig nie kuier nie, aangesien ek ‘n eenman, korreksie, eenvrou fabriek is,” spot sy. “Ek het tonne onverwerkte materiaal om te verwerk.”

“Nou is dit nie wonderlike nuus dat ek hier is om te kom help nie?” Hy lig sy arms en roer sy vingers. “Met tien vreeslike vaardige vingers. Steek hulle in die werk.”

“Ek weet darem nie. Laat ek net eers seker maak of ek genoeg pleisters het,” spot sy. “Dis gevaarlike werk!”

“Niks kan so gevaarlik wees as om vir Luki komkommers in skyfies te sny nie. Hy soek hulle so dun.” Daar is dit weer. Die humor in sy oë, wanneer hy die foelie oopvou en ‘n hoekie van een broodjie oplig.

“Die komkommerskyfies is papierdun,” sien Hanlie verwonderd. “En jy het dit gedoen?”

“Die uwe! Met ‘n gevaarlike gadget.”

“Punt gemaak. Jy het die job.”

Hulle eet die broodjies en drink koffie.

Hanlie was oortuig dat Riaan net ‘n grap gemaak het toe hy gesê het dat hy kom help, maar na die tyd begin hy sommer self draadjies sny en buig om die bottels aan te hang. Hy haal die skerp mes uit haar hand en sny die gate in die bottels. En toe neem hy die plakwerk oor.

Al wat vir haar oorbly is om die patroontjies op die bottels te verf.

Donderdag meld hy negeuur daar aan en Vrydag seweuur.

“It’s the final countdown,” sing hy met die instap. “Het jy al gedink hoe om jou werke uit te stal?”

“Ek het ‘n opslaantafel en boekrakkie. Dan het ek gedink om party van die saadhouers aan boomtakke te hang.”

“Dan moet die boomtakke in potte geplant word. Laat dit aan my oor.”

“Regtig angelboy? Sal jy dit vir my doen?”

“Ek sal. Ek gaan jou boonop help stalletjie opslaan ook.”

“Wow.” Woorde ontbreek haar om haar dank mee uit te spreek. Die gelui van die selfoon red haar van een of ander dwase uitlating.

Die nommer is onbekend, maar die mansstem wat met woedende beskuldigings lostrek is oorbekend. Woorde soos bedrog en kontrakbreuk tref haar soos ‘n rotsstorting.

“Cornel?” Sy voel hoe ‘n lammigheid in haar tone ontstaan en teen haar bene opklouter. Haar keel is skielik kurkdroog. “Hoe kan jy my van bedrog beskuldig? Jy is die een wat …”

“Wat wát?” ‘n Witwarm ontploffing wat haar nog meer ontsenu.

“Ons troue. Jy het …” my in die steek gelaat! Dit sou seker die regte woodkeuse wees. Sy verwens die knop in haar keel wat dreig om haar stem dik te maak en haar verstand in wol te laat verander. “Jy het weggeraak. Wat het gebeur?”

“Ek was nog nie reg vir die verbintenis nie. Verstaan dit Hanlie. Eerder voor die troue as om nog ‘n keer in die skeihof te beland.”

“Donderdag in die bank was ook vóór die troue. Maar steeds los jy my om elke sent wat ek op my naam het in jou bankrekeningte oor te plaas. En toe die siek en venederende manier waarop jy my op ons troudag voor al my vriende in my peetjie stuur.” Dankie tog, op een of ander manier het sy haar stem weer onder beheer gekry.

“Dis reg, meisiekind. Ek wou jou kwaad maak, sodat jy gouer oor jou hartseer kan kom.”

“Hoe bedagsaam. Maar jy is reg. Ek is nie meer hartseer nie. Ek is die hel in en wonder al vir langer as twee weke wat dit was wat ek in jou gesien het.”

“Ten minste sal ons dan seker soos volwassenes saam aan die behuisingsprojek kan werk.”

“Nee dankie. Ek wil niks saam met jou doen nie. Gee my huis se geld terug.”

“Onmoontlik, jy het ‘n kontrak geteken waarin jy die geld in my maatskappy belê.”

“Na jou eie ‘kontrakbreuk’ kan jy my nie dáárby hou nie,” keer sy flou. “Ek sal jou siviel aankla vir diestal.”

“Waarvoor? Vir geld wat nog nie in my bankrekening reflekteer nie? Wat het jy gedoen om dit te laat stol, Hanlie?”

“Hoegenaamd niks. Dit is lankal nie meer in my rekening nie. Miskien is die tien werksdae nog nie verby nie.”

“Sal jy die bank bel en hoor hoekom die geld nog nie in my rekening wys nie.”

“Doen dit self!” Hanlie kan die man se vermetelheid nie glo nie.

“Ek het. Die geld het ‘n week gelede van die stelsel af verdwyn,” erken hy. “Ek het reeds navraag gedoen… Hulle sê dit is jou geld. Jy moet dit opvolg.”

“Onmoontlik. Ons was tog saam in die bankier se kantoor. Jy het self gesien hoe die transaksie gedoen is. Ek sal volgende week by die bank gaan hoor wat aan die gang is.” Hanlie skakel haar selfoon af en draai na Riaan wat onverstoord aangaan met sy plakwerk.

“Is als reg? Klink my dis die ex.” Hy kyk op met die onskuld van ‘n engel wat in ‘n padda verander het.

“Iets het met die oorplasing van my geld verkeerd gegaan. Dis nie by Cornel nie en dis nie in my rekening nie,” verduidelik sy.

“Nooit!” Hy kyk op sy horlosie. “Ai en dit is nou te laat om Nelspruit toe te ry en die bankbestuurder aan sy strot te gaan gryp. Kom ons konsentreer nou op jou uitstalling.”
“Die mark was ‘n reuse sukses. Byna alles is verkoop.” Hanlie blom toe sy en Riaan Saterdagaand net na sewe by Luki se restourant instap. “Maar ek sou dit sowaar nie alleen reggekry het nie. Dankie, dat ek jou Angelboy kon leen!”

“Ag, Riaan is tog so ‘n skattebol!” Luki druk Riaan vlugtig teen hom vas en toe beduie hy na die tafels in die eetkamer. “Hier kom ‘n groot groep. Julle sal moet kophou. Vind uit wie  verantwoordelik is vir watter rekeninge en skryf elke drankie op wat tafels toe gaan.”

“Jimmel,” steun Hanlie.

“Toemaar ons is ‘n span,” troos Riaan. “Net soos die vlooimark, sal ons vanaand ook oorleef.”

“Maar wat van arme Luki?”

“O nee Luki sal regkom. Geoff is terug.”

“Geoff?” Dit is nóg ‘n heeltemal te aantreklike man wat Riaan aan haar voorstel. Maar tyd vir gesels en uitvra is daar nie. Die kombuispersoneel pak die borde kos op ‘n toonbank naby die deur en sy en Riaan moet kophou om dit by die regte persoon te besorg.

Haar voete is gaar, besef Hanlie toe Riaan haar net na twaalf by haar huisie afsien. Hy staan ‘n oomblik daar asof hy onseker is wat sy volgende aksie moet wees.

Omdraai en huis toe stap? Of vooroor buk en haar ‘n nagsoentjie gee?

‘n Dankiesoentjie van haar kant af sal seker nie die verkeerde indruk skep nie.

“Riaan ek …” sy kyk op na hom en lig haarself op haar tone. Dis die oomblik waarop hy afbuk. Lippe wat aanmekaar raak. Net vlugtig … goeienag.

Nie so vlugtig nie …

‘n Lang en innige dankie? Dit voel heeltemal te goed. En sy mag mos maar veilig voel in die arms van ‘n goeie vriend wat sag en warm om haar vou. Dit help ook om haar weer vrou te laat voel en haar arms gly om sy nek.

Maar op daardie oomblik dink sy aan Luki en dit voel asof sy op die punt is om haar beste vriendin se man te probeer verlei. Sy verstyf en beur weg.

“Jammer,” prewel Riaan ook en staan terug.

“Heeltemal verkeerd. Weet nie wat my besiel het nie.” Uitasem sluit sy oop en stap in.

“Jy is reg. Mens het tyd nodig om oor …” Hy bly staan op die drumpel en beduie oor sy skouer. “Slaaptyd.”

“Sien môre twaalfuur.”

“Twaalfuur. Lekker slaap.” Daarmee draai hy om en stap na sy huis toe.

En sy sluit haar deur en rus lank met haar kop teen die koel hout aan die binnekant.

Lekker slaap? sê hy.  Soos wat sy nou voel slaap sy nooit weer nie. Sy is besig om gevoelens te ontwikkel vir iemand wat haar nie beskore is nie.

Hoekom altyd die verkeerde man?

Hanlie trek slaapklere aan, klim in die bed. Sy tel haar laptop op haar skoot en teken op Facebook aan.

Daar is ‘n boodskap van ‘n vreemde dame. Ene Dina Bruwer. Sy skryf:

Hanlie, jy ken my nie, maar ek moet jou waarsku. Cornel Venter is nie wie jy dink hy is nie. Skryf dit vir my noudat dit te laat is en hy weg is met my geld!

Hanlie lees verder: Cornel het ‘n miljoen rand erfgeld van my oorlede man gesteel. Gemaak asof hy met my wil trou en my toe voor die kansel gedrop. En oppas verder: geld wat hy leen gee hy nooit weer terug nie. Hy het vier FB profiele. Op een is hy Vader Cornel. Hy bedel geld by almal vir sy ‘sendingwerk’ in ‘Kenia’. Gan kyk na die dankbare kindergesiggies op Cornel se ‘bedieningsbladsy’

Sy volg al Dina se skakels op en dit wat sy sien laat haar skoon naar voel.

Ten minste weet sy nou verseker. Cornel is ‘n gewetenlose skurk wat haar geld met voorbedagde rade gesteel het. Hy was nooit lief vir haar nie en hy was nooit van plan om met haar te trou nie.

Maar die wiel het ‘n manier om te draai. Wat jy aan ander doen … Dina is op die oorlogspad. Sy en ‘n paar ander slagoffers het reeds Cornel se naam op die FB skurke bladsy gesit.

Dis maar ‘n klein troos, want dit bring niemand se geld terug nie. Ook nie hare nie.
Hoofstuk 7

 

Kersdag is die restourant besiger as ooit. Middagete bestaan uit twee sessies. Twaalfuur en tweeuur.

Solank as wat dit pap reën moet mens skep,” fluister Riaan bemoedigend toe hulle op ‘n stadium tussen twee tafel bymekaar verbyskuur.

Dankie tog vir hom. Wanneer sy bekommerd glo dat sy beheer oor ‘n situasie verloor het, duik hy op en sorteer alles uit.

‘n Hand gaan by een van die vêr tafels op en sy draf nader om te gaan help.

“Ons is gereed vir die hoofgereg en dan soek ons nog ‘n bottel Du Toitskloof Merlot.”

“Natuurlik!” Sy vlieg om kombuis toe. Daar is nie ‘n enkele bord op die toonbank langs die deur nie. Wat is die oponthoud?

En sy kry hulle in ‘n vurige omhelsing in die waskamer.

Geoff en Luki.

“Tafel sewe!” kry sy dit uiteindelik uit, toe sy effens tot verhaal kom.

“Nou daar!” Luki draf by haar verby, terwyl Geoff agt borde uit die skottelgoedwasser haal.

“Ons raak bietjie agter met die skottelgoed,” verduidelik hy en skuur ook by haar verby.

Hanlie bly hand oor die mond van skok agter.

Arme arme Riaan. Hy weet beslis nie wat hier agter sy rug aan die gang is nie. Hoe kan Luki dit aan hom doen?

Sy is bly dat die restourant na vandag gesluit is tot en met die Nuwejaarsfunksie. Hierdie manne maak haar senuwees klaar.

“Riaan, jy hoef nie saam met my huis toe te stap nie,” keer sy toe die laaste gaste vertrek. Netnou sien hy op haar gesig dat iets verkeerd is.

“Wag eers liefste engele!” roep die skynheilige Luki uit. “Nou gaan ons vier ‘n glasie op Kersfees klink. En deksels, julle gaan seker nie nee sê vir ‘n bord feeskos nie.”

“Nee dankie, ek wil gaan platval en my voete oplig.” Hanlie wil nie eens in Riaan se rigting kyk nie. Binne die volgende paar dae gaan hy agterkom dat hy deel is van ‘n liefdesdriehoek. En na wat sy in die waskamer gesien het, is hy die oortollige been.

“Nee, jy het vyf dae om te rus. En ek wil vir jou dankie sê dat jy vir Christel en Wim jou vakansie gegee het. Nou kan ek en Geoff vir vyf salige dae in hulle plakkerskampie naby Ponta gaan muf.”

“En Riaan dan?” Dis uit voor sy haarself kan keer. “Julle kan dit mos nie aan Riaan doen nie.”

“Wat aan my doen nie?” Riaan ruk geamuseerd op. “Dink jy ek en Luki is ‘n paartjie?”

“O vrek, dink jy Riaan is een van ons?” maak Luki haar verder deurmekaar. “Ons is besigheidsvennote en ek skuld hom hom ‘n lewe vir die wonderlike kans om die restourant in sy lodge te bedryf.”

“Maar jy het vir my vriendinne gesê dat nie een van julle in dames belangstel nie.”

“Ek moes hom red. Daardie Santievrou wou kloue in die man slaan,” verduidelik Luki. “Die meeste vroue wil sy voete onder hom uitslaan. En hy het ook tyd nodig om oor sy egskeiding te kom.”

“Londen het my heeltemal van Les genees, dankie,” keer Riaan met sy oë op Hanlie. “Ek is lankal reg om aan te beweeg. Ek het net nog nie weer ‘n vrou ontmoet met wie ek ‘n pad wou stap nie.”
Die meeste vroue wil Riaan se voete onder hom uitslaan! Dit was Luki se woorde en Hanlie sal dit onthou vir solank as wat sy die huisie by sy gesin huur. Al vrek sy oor hom, sal sy dit nie vir hom wys nie.

Hanlie het Kersaand met stywe skouers langs hom teruggestap huis toe. Hy het op die stoep omgedraai en teruggestap na sy plek toe. Met ‘n hart wat kramp en pyn na die huisie langsaan, het sy later in die bed geklim. Sy was nog nooit iemand wat die eerste stap in ‘n verhouding geneem het nie.

Maar miskien moes sy hom nie heeltemal so stief behandel het nie.

Laatmiddag van die ses-en-twintigste is daar ’n klop aan haar deur en haar hart doen tuimelbewegings in haar borskas toe sy sien dat dit Riaan is met ‘n bottel Amarula in sy hand.

“Hanlie, as jy nie lus is vir geselskap nie…”

Sy is alleen. Hy is alleen. En sy wil by hom wees. Maar vervlaks, onder geen omstandighede mag hy dink dat sy agter hom gaan aanloop nie.

“Ek kry vir ons twee glase …” sê sy net toe dit lyk asof hy gaan omdraai en wegstap. “En ‘n pakkie aartappelskyfies en doopsous.”

Vir ‘n ruk lank sit hulle stil langs mekaar daar op die bankie op die stoep.

“Wat is jou planne vir môre?” vra hy toe dit te donker raak om te sien.

“Ek moet bank toe gaan in Nelspruit,” sug sy.

“Hoekom?” Hy waai met die hand sodat die bewegingsensitiewe lig bokant hulle aangaan. Eers toe hy haar in die oë kan kyk, sê hy streng. “Ek hoop nie dat jy steeds beplan om jou huis se wins aan Cornel te skenk nie!”

“Nee, beslis nie. Maar ek moet seker gaan uitvind wat die bank met my geld gedoen het.”

“Hanlie …” Hy skud sy kop in ongeloof. “Wanneer laas het jy ‘n saldo van jou rekening gekry?”

“Net na my kansel-ramp. Daarna nooit weer nie. Ek weet mos dat my rekening na die oorplasing leeg is.” Die lig gaan weer af en die keer waai Hanlie ongeduldig.”Of weet jy iets wat ek nie weet nie?”

“Tegniese probleme met die oorplasing. Die persoonlike bankiers is soms so nalatig.” Sy oë lyk vreeslik ondeund.

“Nooit, wat het jy gedoen, Riaan?”

“Hoegenaamd niks. Maar ek en Pieter, dis nou die een bankbestuurder, het vir jare lank daar saamgewerk voordat ek Londen toe is.” Hy trek sy skouers op, asof dit eintlik nie saak maak nie. Dis ook nie so belangrik nie. “Toe vra hom ‘n week of twee gelede net dat hy moet seker maak, honderd persent seker moet maak dat alles met julle transaksie presies volgens bankprosedure verloop het.”

“En toe …”

“Toe plaas hy die geld oor in ‘n veilige plek, terwyl hy die saak deeglik ondersoek. En daar kom hy sowaar op verskeie ongerymdhede af. Vanselfsprekend het hulle dit daarna teruggeplaas in die rekening van die regmatige eienaar… Joune!” Die lig gaan weer af, maar Hanlie sit te versteen om ‘n arm te lig, want reg bokant Riaan se kop verskyn daar onverklaarbaar ‘n stralekrans. Wanneer hy boonop sy arms optel om te wys hóé onskuldig hy aan die hele saak is, lyk dit soos vlerke.

En dit laat die lig aangaan.

Toe sien sy dat daar sowaar ‘n engel reg langs haar op die bank, hier in die bosse van Marlothpark sit.

En sy gryp die engel vas om te keer dat hy wegvlieg! Wanneer haar lippe syne vind, net om dankie te sê, kom sy tot haar vreugde agter dat hy meer man as engel is. Of is hy? Sy soene lig haar dan op tot op ‘n wolkie doer bo. En vervlaks, hy hoef haar nooit weer op die aarde neer te sit nie.

Veral nie toe hy prewel: “Ek het daardie eerste dag al geweet ek kan lief raak vir jou. En as jy nooit dieselfde kon voel as ek nie, wou ek ten minste die seer van die lewe van jou af weghou.”

Met so ‘n engel aan haar sy, kan sy haar nuwe boslewe met ‘n ligroos perspektief aanpak.

Slot

 

 

 
Vindingryk – Jurie Mentz

 

Al wat hy hoef te doen, is om haar liggies te skouer. Sy weeg so min, die kleinste impak sal haar oor die afgrond laat vlieg. Dis ‘n lang pad ondertoe waar sy vir die eerste keer met die oppervlak van die aarde gaan kennismaak. Die kans dat hulle haar lyk daar in die digte groen lower gaan kry is nul. En selfs wanneer die stank van verrottende vlees dreig om die geheim uit te blaker sal niemand veel notisie daarvan neem nie. Wilde diere en wegloop vee misgis hulle ook soms met die los grond hier op die plato.

En val daar af.

Tommy Holwagen het al twee keer tevore hier van ongewensde vyande ontslae geraak. Vier jaar gelede vir die eerste keer en toe sewentien maande later. Niemand het die verdwyning van Nommer Een of Nommer Twee aan hom verbind nie en die liggame is nooit gevind nie.

Hierdie perfekte ligging sal hom nooit verraai nie.

Wat die plek nog meer ideaal maak is die feit dat mense niks verloor het op sulke afgeleë, onherbergsame plekke nie. Skerp hoë kranse en onmeetbare diep donker skeure. Die ideale graf vir iemand van wie jy móét vergeet.

Soos van Sasha Drew. Sy weet dit nog nie, maar Tommy het alles deeglik beplan. Die ring wat hy ses maande terug vir haar laat maak het, het sy self vanoggend afgehaal en op die bedkassie van sy woonstel gelaat. Hy moes beloof om twee kleiner diamantjies langs die blink halfkaraat in die middel te laat set. Hulle is immers nou ‘n jaar saam…

Hy skuld haar iets spesiaal.

Hy skuld haar niks.

Die blote gedagte laat ‘n witwarm woede in hom opwel. Magtig, ‘n minnares is nie veronderstel om te dink nie. Tot nou toe was sy baie gehoorsaam. Mooi by die reëls gehou. Reëls wat hy oor en oor vir haar uitgespel het. Gedink hierdie een keer is daar nóg ‘n vrou wat sou sorg vir stabiliteit in sy lewe.

Maar uiteindelik moes hy weer agterkom, daar is net twee vroue in sy lewe wie hy kan vertrou. En dit het baie jare geneem voordat hy werklik kon ontspan oor hulle. Sy eie vrou, Ansa. Sy het haar lojaliteit aan hom oor en oor bewys. Hulle praat uit een mond.

Of liewer, hy is tevrede met die manier waarop sy gedurig met hom saamstem. Hom selfs napraat, asof sy self met sy briljante idees vorendag gekom het.

En sy sekretaresse, juffrou Bosman …

Wat sou hulle twee van ‘n Sasha Drew in sy lewe dink? Hy mag nie toelaat dat iemand soos sy hulle drie se harmonieuse verhouding bedreig nie.

Tom staan nader aan haar. Sy vertolk dit verkeerdelik as toenadering. Sit selfs haar arm om sy lyf. ‘n Normale man se weerstand sou dalk verkrummel het. Nie syne nie. Tommy Holwagen is ‘n man van vaste beginsels. Sy ja is sy ja en sy nee sy nee. En as hy eers ‘n besluit geneem het … is hý die enigste een wat toegelaat word om van plan te verander.

En dit gaan nie vandag gebeur nie.

Sasha Drew was goed in die bed. Nie meer so jonk nie. Glad nie skaam nie. En ‘n paar borste … Ai man, hy het ‘n ding oor borste.

So jammer dat sy soos die meeste minaresse dit vir hom ongemaklik begin maak het deur eise te stel in die lyn van los daardie ‘ding’ daar by die huis.

Niemand ráák aan die díng daar by die huis nie! Die ‘ding’ is sy vrou, sy kameraad, sy vertroueling en die geliefde ma van sy vyf volwasse kinders. Geleerd, met ‘n graad. En hel, sy kan werk. Die huis is altyd blinkskoon. Sy is slim op die rekenaar. Self oor die jare geld verdien en belê. Ken meeste van sy geheime waar hy deur vindingrykheid en vertroue ‘n paar ekstra randjies of nog ‘n stukkie grond bekom het.

Die ‘ding’ daar by die huis is sy onkreukelbare vroom beeld. Sy pad hemel toe. Mens skei nie!

Minaresse is vervangbaar. Oral beskikbaar.

En met daardie wete tree hy vorentoe en stamp.

Sy weeg so min, amper volg hy haar oor die afgrond. Klippe rol onder sy Jerusalemplakkies uit en volg die roete van haar doodsveragtende gil.

As hy vandag saam met haar oor hierdie afgrond gestort het, sou hy haar nooit kon vergewe nie.

Hy gryp ‘n tak vas totdat hy sy balans ten volle herwin het.

Daarna draai hy om bakkie toe en vergéét dadelik van haar.

Sasha Drew? Wie de joos is dit?

Van nou af sal hy aan haar as Nommer Drie dink as hy nodig het om hiernatoe terug te keer.
Het die laaste klant vir wie hy ‘n huurplek naby Lydenburg gaan wys het sowaar haar goedkoop handsak in sy bakkie vergeet? Gelukkig ry Ansa nooit saam met hom in hierdie ou stukkende plaasbakkie nie. Maar sou sy dit dalk onverwags doen, hoe sou hy die teenwoordigheid van ‘n handsak in sy voertuig verduidelik? Nalatige potensiële huurder.

Tommy Holwagen loer vinnig of daar iets van waarde in die sak is.

Vier geldnote, waarvan die waardevolste pienk is. Hy druk dit in sy bakkie se asbak.

‘n Identiteitsdokument.

Sasha Drew. Is dit ‘n naam wat ‘n klokkie moet lui? Beslis nie. Nog nooit van haar gehoor nie.

Tommy kyk na haar foto. Enige ander man sou miskien daarvan gehou het om haar in sy arms te neem en lank en aanhoudend met haar liefde te maak. Maar nie hy nie. Hy hou hom nie met haar tipe op nie. Die vrou op die foto lyk soos ‘n slet!

‘n Skelm, onderduimse bekruiper, sou sy ma haar genoem het, as sy ooit iewers in haar moes vasloop. Die tipe wat tussen ordentlike getroude pare inwurm en poog om huwelike op te breek. Dan sou sy ma se mondhoeke so half afkrul, terwyl sy met haar fyn handjie voor haar waai. Sy maak so as sy die lelike woorde wat uit haar eie mond kom in wind wil laat verdwyn.

Tommy hou stil en gooi die ID-boekie in die koue bergstroom.

Nommer Drie is nou net ‘n statistiek.

Tommy wens dat dit so maklik was om van sy ma ook ‘n statistiek te maak. Sý is deel van sy lewe. Hy dra haar met hom saam. As hy in die spieël kyk, is sy daar. Of die gevolge van haar onverantwoordelikheid.

Boonop is bloed veronderstel om dikker as water te wees.

Dis nie dat hy sy ma haat nie. Haat is so onproduktief. Hy het net kleintyd opgehou om vir haar lief te wees. Veral na wat sy aan hom gedoen het. Sy ma glo dat hy te klein was om te onthou. Sy vertel die storie steeds met ‘n geoefende klank van histerie in haar stem vir almal wat ore het om te hoor.

Die .. ongeluk het gebeur een aand terwyl sy besig was om kos te kook.

Klein Tommy was áltyd ‘n moeilike en besige mannetjie, haar persepsie van hom. Wil van sy eie gehad. Daardie dag van die … ongeluk, waarvan hy liefs moes vergeet, het Tommy soos gewoonlik gegil dat die dak kon lig vir aandag, volgens haar.

Toe tel sy ma hom op die heup. En onverwags, want sien hy was ‘n groot en sterk baba en sy was so klein en fyn. Onverwags neuk hy vooroor. Kop eerste teen die warm plaat. En o vader, sal sy ooit in haar lewe daardie reuk van brandende vleis vergeet?

Dit was glo verskriklik.

Sy gille daarna het deur murg en been geskeur. Sy kon dit eenvoudig nie hanteer nie. Sal iemand haar kwalik neem as sy bieg dat sy hom net daar neergesmyt het en weggehardloop het?

Nie in ‘n duisendjaar van Sondae nie.

Tommy was ‘n moeilike mannetjie.

Hy het nie geval nie, man. Dis sý wat dit aan hom gedoen het. Hy het gehuil om opgetel te word, soos wat tweejariges dikwels doen. Hy wou sien wat daar bo aangaan. Sy het arms uitgesteek en hy het arms uigesteek. Vertroue.

Toe druk sy, sy gesig teen die warm plaat.

Uit die bloute en onverwags.

Maar eintlik het sy vir hom die belangrikste les van sy lewe geleer. Dis hoe vertroue werk. Maak seker dat jy niemand so vertrou dat jy beheer oor jou gesig, jou lewe en jou aardse besittings verloor nie.

Die kuns is egter om ander se vertroue te wen. Hy of sy moet glo dat dit die gelukkigste dag in hulle lewe is, die oomblik waarop Tommy Holwagen jou gesig van jou kop afstroop, beheer neem oor jou lewe en jou aardse besittings feitlik as ‘n geskenk aanvaar.

Dis hoe sakeman Holwagen besigheid doen en ryker word.

Vindingryk.
Hoofstuk 2
Daar is nie werk nie. Vindingryke mense adverteer slim uitgedinkte skemas waar jy éérs moet betaal en daarna niks. Hy kan ‘niks’ met ‘n hoofletter ‘F’spel maar uit respek vir Moeder het hy opgehou vloek.

En ter wille van sy gesondheid het hy opgehou rook en drink ook.

En omdat hy ‘n middeljarige blanke Afrikaner man is, moes hy ophou werk ook. Hy het nie ‘n keuse gehad nie. Sy werk het verdriedubbel, sy rang het vasgesteek op sersant. Vol sersant Brummer.

En toe besluit sy hart: Genoeg. En krok.

Waarna hy sy dieet ook ernstig aangepas het.

Victor Brummer skuif die gratis weeklikse koerant wat sy moeder elke Dinsdag spesiaal net vir hom daar neersit van sy Weetbix-bakkie af weg.

“Jy moet loer Vic, daar is ‘n sakeman van Mpumalanga wat ‘n sekuriteitspersoon en regterhand soek.” Sy ma sit ‘n koppie rooibostee voor hom neer. Swart en sonder suiker. Sy het gou geleer.

“Salaris?” vra hy sonder enige entoesiasme. Hy kon duidelik hoor hoe sy ma klem lê op die woord Mpumalanga. Net soos wat sy vier maande gelede klem gelê het op Maputo waar hy ‘n hospitaal se sekuriteit moes opskerp. Sakke vol kontant het daar verdwyn. Hy het ‘n deurbraak gemaak. Die skelms aan die kaak gestel.

En die volgende dag in ‘n smerige sel ontwaak.

Ultimatum. Óf hy bedank en verlaat die land. Óf húlle werk deur die prosedures.

Skaars is hy terug of sy ma kom hier aan met ‘n e-pos van werk op ‘n skip – Disney iets. Dit was ‘n foefie soos min. Jy stuur jou CV en kry die pos! Dan betaal jy vir die administrasie in die kantoor. Bewyse dat jy ernstig is oor die werk. Dan betaal jy geld vir internasionale polisieklaring. Nog geld vir ‘n visum. Meer geld vir ‘n werkspermit.

En dan hoor jy niks meer nie.

Uiteindelik google jy Disney-iets en vind uit jy is by ‘n nare foefie ingesleep.

As sy ma dus vir hom werk vind, moet hy … worry!

“Kyk daar, ek het dit omkring.” Sy ma het nog nie haar entoesiasme verloor nie.

“Die besoldiging is min. Maar jy kry gratis huisvesting en ‘n voertuig. Die man besit besighede en eiendomme regoor Suid-Afrika. Lees die advertensie en sê of ek jou CV maar kan instuur.”

Hy gooi water op die twee blokkies in sy bakkie, nie melk nie. Geen suiker. Dan trek hy die koerant nader.

Wakker sekuriteitspersoon en regterhand 50+ verlang om na sakeman se belange te help omsien. Gratis huisvesting. Wonderlike werksomstandighede. Foto en CV verlang.

Dit voel vir Victor asof die man iemand soek om sy vuilwerk te doen. Die salaris is inderdaad ‘n belediging vir selfs ‘n jong skoolverlater, maar dit is deesdae die soort geld waarmee die meeste blanke mans van vyftig plus mee tevrede moet wees.

Iéts is beter as niks, veral as die einde van die maand al weer net om die draai is. Dis genade dat sy twee dogters al groot en getroud is en dat hy in hierdie stadium nie meer onderhoud van iewers af hoef uit te hoes nie.

Hy kyk op in sy ma se oë. Eintlik is hulle twee baie lief vir mekaar. Maar omop vier-en-vyftig weer kind in die huis te wees is baie gevra.

En vir haar om op sewe-en-sewentig nog elke oggend aan te trek en reg te maak om te gaan werk, kan nie maklik wees nie. Dit is soos sout in wonde. In hierdie stadium is hy veronderstel om háár lewe makliker te maak, nie om ‘n las te wees nie.

“Is reg ma,” sê hy en skeur die advertensie versigtig vir haar uit. “Stuur asseblief my CV vir die man. En kom ons hou maar duimvas.”
Die man in die restourant maak nie naastenby die indruk op Victor as wat hy verwag het nie. Hy is meer geïnteresseerd in die Spur se spyskaart as in die potensiële sekuriteitspersoon en regterhand met wie hy die onderhoud moet voer.

“Die hamburgerspecial. Betaal een kry een verniet.” Sy blou oë boor in die van die kelner. Hy soek nie misverstande nie. “En twee glase water.”

Die man se naam is Tommy Holwagen en as die onderhoud suksesvol verloop, is hy binnekort Victor se nuwe werkgewer.

“Is jy seker jy wil nie ook ‘n hamburger eet nie, Victor?” vra Ansa, Tommy se vrou.

“Nee dankie.” Brood en skyfies is twee plesiere wat hy uit sy lewe verban het. En hy eet nie tussen etenstye nie.

Blykbaar is brood en skyfies ook nie vir Ansa Holwagen beskore nie, want die oomblik waarop die kelner die borde voor hulle neersit, verwyder Tommy die boonste helfte van die broodrolletjie van haar hamburger af en haal meer as die helfte van die skyfies uit haar bord.

Dit is waarskynlik ‘n ou gewoonte, want sy knip nie ‘n oog nie.

Hulle buig hoofde en Tommy dank vir die kos.

Victor hou hulle stip dop en sien verras dat Tommy se regteroog wawyd oop bly. Iets, of een of ander gebrek het gemaak dat die lid van sy regteroog nie sluit nie. Nou eers sien hy die letsel wat ‘n paadjie tussen sy donker wenkbroue maak en op sy wangbeen eindig. Wat ook al die oorsaak van daardie ongeluk was, dit het die vel van sy ooglid gestroop.

‘n Koeëlwond, raai Vic en kyk vinnig weg toe die alsiende oog so onder gebed in sy rigting draai.

Dis dalk hoekom die man die sekuriteit rondom hom en sy vrou wil verskerp.

Hulle is moontlik aangeval of beroof.

Egpaar Holwagen begin eet, in stilte.

“Nog ‘n glas water,” beduie Victor vir die kelner wat ‘n oog oor die tafel kom gooi. As hy moet kyk hoe ander mense eet, mag hy seker drink. Water.

Hy kon netsowel nie daar gewees het nie.

Wanneer die kelner sy water bring, kyk Tommy op en bestel nog iets. “‘n Wafel met roomys. Bring ‘n ekstra bord.”

Tommy eet sy kos tydsaam klaar en foeter sy mes en vurk bo-op ‘n gefrommelde servet neer. Daarna roer hy vir die eerste keer die rede vir hulle ontmoeting aan:

“Ek het die korrespondensie tussen jou en juffrou Bosman onder oë gehad, meneer Brummer. Jou CV lyk goed.” Hy druk met elmboë op die tafel en sit vingerpunte teen mekaar

Victor wag dat hy verder praat. Wat moet hy anders doen? Sekerlik nie die man hartlik bedank omdat hy voel die CV lyk nie te sleg nie.

“Kan jy onmiddellik begin?” vra Tommy en dit sink nie dadelik in nie.

Dan knik hy. Inderdaad kan hy. In oorle pa se ou Camry waarmee hy deesdae rondry, het hy min of meer alles gepak wat hy besit. Nie omdat hy oortuig was dat hy die werk sou kry nie. Omdat hy sy ma ‘n breuk wou gee. Hy was van plan om ná die onderhoud verder ooswaarts te ry en vir ‘n paar weke iewers te gaan rondhang, totdat sy ma hom weer mis en vra om huis toe te kom.

“Ja beslis. Beteken dit dat ek die werk gekry het?” Victor wag om oogkontak met Ansa ook te maak. Hy soek goedkeuring op iémand se gesig, want Tommy s’n bly koud en uitdrukkingloos. Dit help nie. Wat Ansa aanbetref kon hy netsowel nie daar gewees het nie. Sy staar voor haar in die niet.

“Die jop is joune.” Driekwart van die wafel bly op Tommy se bord. Een kwart kom op ‘n bord vir Ansa. Die stukkie roomys wat hy afstaan is nie eens genoeg om ‘n merk op die bord te laat nie.

Nou ja, dit is hulle saak.

“Is daar iets wat jy wil vra, Victor? Of het juffrou Bosman alles vir jou duidelik genoeg uitgespel?” vra Tommy.

“Wat betref die huurinvordering in Belfast by die fabriek en die huisvesting, ek neem aan dit is kontant en aan die einde van elke maand?”

“Dit is. Juffrou Bosman ontvang dit gewoonlik in haar kantoor, maar dit gebeur soms dat mense bietjie agter raak met die huur en dan sal jy moet gaan invorder. Dis nie altyd maklik nie. Maar die belangrikste is natuurlik betroubaarheid. James van Vuuren, jou voorganger het my diep teleurgestel …” Tommy sit sy mes en vurk neer en leun vorentoe. Sy volgende woorde moet gewig dra. “Die polisie het hom op heterdaad betrap met my bakkie, my beeste en die meubels wat ek goedgunstiglik vir hom en sy flerrie van ‘n vrou geleen het.”

“Kom ons vergeet liefs van daardie episode.” Vir die eerste keer neem Ansa weer deel aan die gesprek. “Dra jy jou wapen aan jou, meneer Brummer?”

“Ek doen.” Victor tik op sy baadjie.
Hoofstuk 3
Sy woonplek naby Belfast is taamlik beknop. Driekwartbed in die een hoek. Hangkas daarnaas. Daarin hang hy sy twee baadjies en sy dik army jas. Dankie vader dat sy ma hom geforseer het om dit in te laai. Drie denims. Twee truie. ‘n Klompie langmouhemde. T-shirts. Gemaklike stewels, tekkies. Onderbroeke, kouse.

Dit maak die kas vol.

Stort, toilet, kombuiswasbak, alles in sy slaapkamertjie. Klein venstertjie bokant die kombuiswasbak. Kroegyskassie, ketel en TV op een prop. Dit peul soos ‘n oorryp puisie laag op laag uit die muur. Die gasstoof kort ‘n bottel. As hy wil kook is dit duidelik vir sy rekening.

Victor maak vir hom rooibostee en kook twee eiers in die ketel. Dis halfsewe en snerpend koud. Dit beteken sy kas is vanoggend weer leeg. Hy het alles laag op laag oormekaar aangetrek.

Hy sweer die kamer het oornag afgekoel tot onder vriespunt. Hy eet en gaan wag daarna in die yl wintersonnetjie. Een van die huurders het vuur gemaak van kartonbokse en die ander kom wring saam om die vlamme.

“Is jy Tom Holwagen se nuwe 2IC?” roep ‘n mooierige vrou met skouerlengte blonde hare.

“Klink my so,” antwoord hy.

“Dit was my man se jop, totdat Tommy ons geframe het.”

“Hoe so?” Daarmee het sy Victor se onverdeelde aandag.

“Lang storie! Onder andere voertuig en veediefstal.” Sy hou die pad dop. ‘n Stofwolk verklik die feit dat daar ‘n voertuig op pad is. “Ek sal jou nog die storie vertel. My naam is Salomien van Vuuren. Maar jy het my nie gesien nie. Ek mag nie meer hier bly nie. Tom het my weggejaag nadat hy James laat uitlewer het.”

“Blerrie sot,” raas ‘n ander man. “Ry altyd met die ou bakkie hiernatoe, asof ons nie weet van sy nuwe Amarok wat in sy garage geparkeer staan nie.”

“Dis seker beter om die grondpaaie met ‘n ou bakkie as ‘n nuwe een te ry,” skerm Victor vir sy baas.

“Great, lek maar die man se alie solank as wat dit goed gaan. Gelukkig het jy nie met ‘n mooi vrou hier aangekom nie. Maar split my en jy sal agterkom dat jy geen vriende in die Holwagens se wit plakkerskamp maak nie.” Salomien wys vir hom ‘n middelvinger.

Net voor die ou bakkie agter die bome verskyn, verdwyn sy in een van die huurkamers.

Tommy hou langs Victor stil. Hy kyk nie eens in die rigting van sy huurders nie. Groet nie. Die spul is duidelik ietwat benede hom.

Maar vandag is hy broederlik joviaal teenoor Victor.

“Verskoon maar die ou skedonk,” verduidelik hy wanneer Victor sy sit op die pasasiersitplek langs hom kry en die deur toemaak. “Maar ek durf nie dat hierdie spul sukkelaars agterkom dat ek ‘n beter voertuig daar by die huis het nie.”

Victor ruk op. Is die man regtig so naïef? Die mense is arm, hulle is nie blind en dom nie. En sekerlik kom party van hulle ook soms op die dorp en sien hoe die baas en sy vrou se regte wiele lyk.

“Man, jy sal hou van die fabriekprojek,” beduie Tom om die volgende draai. “Jy sal sien, ek het hierdie ding om die armes te help. Voel vir hulle. Dis hoekom die fabriek heeltemal binne loopafstand van die woonstelle is. Baie mense werk daar en kan dan huis en werk toe loop.”

Dit laat Victor se dunk van Tom Holwagen weer ‘n bietjie styg, al het hy nie eens die moeite gedoen om ‘n hand te lig om die armes daar by sy huurkamers te groet nie. Of woonstelle soos wat Tom en juffrou Bosman dit ewe pretensieus noem. Die man se lewensfilosofie en sy optrede klop nie heeltemal nie, maar soos wat Victor nou voel wil hy nooit weer analities na enigiemand se persoonlikheid kyk nie.

Hy wil net bestaan … basies oorleef.

“Vertel van jou fabrieke en hoe jy die behoeftiges daardeur help, meneer Holwagen,” moedig Victor hom aan.

“Enige ou wat met ‘n lewensvatbare besigheidsidee by my kom, kan ‘n klein fabriekie by my huur. Nominale bedraggies. As hy nie genoeg uitleg- en beginkapitaal het nie, dan skiet ek dit voor, met dien verstande dat hy of sy dit een of ander tyd aan my terug betaal. Opheffing van die armes.”

“Klink na goeie werk.”

“Mens kan ook maar net probeer.” Tommy is nou so beskeie, dit lyk asof hy in sy Pepstores baadjie kan verdwyn. “Holwagenfabrieke is eintlik  ‘n hele ekonomiese-industriekompleks. Daar is ook interaksie tussen mekaar. Die steenmaker sorg vir materiaal vir nuwe geboue. Maar wag ek wys jou.”

Voor hulle doem drie rye langwerpige geboue met verskeie oprol garagedeure ongeveer een meter uitmekaar op. Dit lyk soos ‘n stoorpark van enkelgarages.

“Sien jy daardie houthoop links langs die eerste fabriek. Dis black wattles waaruit houtskool vervaardig word. Dis Ben Ackerman se besigheid. Ons koop die dik stompe by Bongo Zuma en Jan du Plooy maak meubels daarvan. Jan is in die middelste fabriek,” beduie Tommy.

“Ons?” kan Victor nie help om te hoor nie.

“Man weet jy…” Tommy sug diep. “Party mense is beter entrepreneurs, ander uitstekende bestuurders. Ben kan nie met geld werk nie. Ons het ‘n punt bereik waar ek hom eerder ‘n salaris betaal om die plek te bestuur. Agterste ry heel regs is Anelda sy vrou se kersfabriek. Anelda is ‘n agtermekaar mens. Haar huur is altyd op datum.”

“Goed om te hoor.” Victor kry die gevoel dat dit dalk vir hóm een probleem minder is.

“Sementsteenfariek langs die meubels. Christo Pieterse het stoorplek agter, waar hy sy trokkie parkeer en die stene op palette sit. Hy skuld my ‘n klomp geldvir die trok. Ek het vir hom ‘n hyskraan bo-op laat monteer.”

“Goeie idee. Ek kan nogal raai dat ‘n pallet stene ‘n paar kilogram weeg.”

“Sien, selfs jy wat ‘n leek in die besigheidswêreld is verstaan die konsep van work smarter, not harder. Maar nou is die man kwaad vir my. My selfs gedreig.” Tommy ril sigbaar.

“Hoekom?” Victor loer geskok na die man se profiel. “Die hyskraan maak mos sy eie lewe makliker.”

“Uitstaande skulde. Kan jy glo dat hy om een of ander rede verstaan het dat hy die bakkie met hyskraan rentevry kan afbetaal? En dit net omdat ek vir hom gesê het dat hy hom nie oor rente hoef te bekommer nie.” Tommy skud sy kop. “Hy dog hy het sy skuld aan my afbetaal na ‘n jaar, toe trek hy nog maar by die boonste deel van die ysberg.”

“Intussen het hy nog net rente betaal en geen kapitaal gedelg nie.” Dis nie ‘n raaiskoot nie. Victor weet hy slaan die spyker op sy kop.

“Presies.”

“Maar jy het hom dan laat verstaan dat hy hom nie oor rente hoef te bekommer nie.”

“Presies, hy hoef hom nie oor die rente te bekommer nie. Dis juffrou Bosman se afdeling. Sy het lank in ‘n bank se leningsafdeling gewerk.”

“Maar as iemand my iets laat terugbetaal en hy beweer dat ek my nie oor rente hoef te bekommer nie, verstaan ek dat ek geen rente hoef te betaal nie.” Victor kan stik in sy woorde. Dit is mos nie regverdig nie. En al weet hy dat dit nie sy probleem is nie, voel hy tog hoe ‘n slegte sooibrand hier diep in sy sluk ontstaan.

“Jy sien, jy dink soos ‘n armgat sukkelaar. Dis tipies van ons Afrikanermense om te verwag dat ‘n kontanthupstoot of lening rentevry moet wees.” Tommy wen homself op. “Ek moes my hele lewe lank werk om geld te maak. Noudat ek dit het, moet die geld ‘n slag vír my werk. Work smarter, not harder. En as jy nie daarmee saamstem nie, kan jy maar nou al jou goed pak en loop.”

Moenie my dreig nie, dan doen ek net mooi dít. Victor bal sy vuiste in sy jas se sakke. Maar dan doem sy ma se gesig voor hom op. Hy sien nie kans om weer in haar pienk blommetjies gastekamer te gaan plak nie.

“Nee, ek verstaan van rente.” Maar hy is nog steeds jammer vir Ben Ackerman. As die arme drommel net van die begin af daarvan bewus was dat hy ongeveer lewenslank aan sy lening gaan terugbetaal, het hy dalk die lorrie en hyskraan aanbod van die hand gewys. Of  ‘n lening deur die bank geneem.

Tommy beduie na die fabriek reg voor hulle.

“Stoffering. Meubelherstelwerk.”

“Tweedehandse meubels.”

“Oudhede uit die omgewing. Die meeste nuwerige meubels kom van Rustenburg af. Ansa se suster en man se pandjieswinkel. Ek en my swaer het jare gelede die onderneming daar begin. Jy weet hoe gaan dit met mynmense. Koop as die geld en danger pay inkom. De duurste meubels, yskaste, stowe, mikrogolfoonde. Ag, you name it.” Tommy maak ‘n draaibeweging met die hand. “Kom die twintigste is daardie geld uitgesuip.”

“Vrou blaas in sy nek want die kinders huil vir kos.” Victor sien die prentjie so voor hom, al was dit gelukkig nog nie nodig om in sy lewe sy knie so diep te buig en mooi te vra nie.

“Jong ons betaal maar, al is party van die goed byna niks werd nie. As die lening nie na drie maande terug betaal is nie, neem ons die meubels na my seun se winkel in Pretoria. Dit haal soveel beter pryse daar.”

“Meer geld!” En so cash jy en jou inhalige familie in. Julle bliksems, ontstel Victor hom weer. Hy beter sy bek hou.

“Ons help hulle. Hou die goed vir ten minste drie maande in die winkel vir ás die eienaar dalk met die kontant vorendag kom. Maar nou met die situasie met die myne …” Tommy skud sy kop.

“Mm, almal weet wat die situasie met die myne is. Die mense gaan nie werk nie en kry nie geld nie.” Victor kan nie gou genoeg uitklim wanneer Tommy met die bakkie onder ‘n sinkafdakkie stilhou nie.

“Dié kant toe Victor,” beduie Tommy en stap na ‘n eenkant geboutjie. Dit lyk soos nog ‘n enkel-motorhuis, maar wanneer hy die afstandbeheer druk en die deur oopgaan sien Victor dat daar ‘n instapkluis aan die een kant is. “Juffrou Bosman se kantoor.”

Hy druk weer die knoppie en die deur rol toe.

Daarna stap hulle buite om die gebou. Daar is slegs een langwerpige venster hoog bo. Te hoog vir iemand om van buite af die bedrywighede binne dop te hou. Net onder die venster is ‘n stewige plaat met ‘n gleuf in, waarvan die bokant soos ‘n posbus oopgebuig is.

“Die kontant vir die huur word hierin gegooi. Juffrou Bosman verwerk dit in die kantoor op ons rekenaar. Daarna druk sy kwitansies en fakture waar iemand nog geld skuld. Dit plaas sy vir jou in ‘n posbus aan die binnekant wat jy met ‘n sleutel van buite oopsluit. Jou taak is dan om die koeverte by die regte fabrieke te besorg.” Tommy haal ‘n paar sleutels aan ‘n ring uit sy baadjiesak.

Werktuiglik neem Victor dit en toets een van twee wat lyk asof dit kan pas. Eerste passing werk.

“Nou ja, probeer om die sleutels nie te verloor nie, want jou salaris word kontant in ‘n koevert vir jou daarin gelos.”

Sy aalmoes. “Reg.”

“En as ek hier wegry om na my belange elders te gaan omsien, bly jy weg van my vrouens af. Jy kan nog vir Ansa vra as daar iets is wat jy nie weet nie, maar vir juffrou Bosman los jy uit. Niemand pla vir juffrou Bosman nie. Verstaan ons mekaar?”

“Heeltemal.”

“Maar hou ‘n oog oor haar werkplek tussen die agt-en-twintigste van elke maand en die tweede van die nuwe maand. Maar op so manier dat niemand dit agterkom nie. Nie sy nie en ook nie my huurders nie. Dis wanneer die groot geld inkom.”

Teen die tyd dat hulle die fabrieke agterlaat, ly Victor aan ‘n totale inligtingsoorlading.

En hy ly aan skok.

Of is hy bloot net dom? Is dit dalk hoekom hy net ‘n gewone werknemer is en nie ‘n vindingryke sakeman soos Tom Holwagen nie?
Hoofstuk 4
Tommy Holwagen is bereid om sy eerste gedagtes oor Victor Brummer terug te trek. Daardie dag waarop hy die man aan die fabrieksopset gaan bekendstel het, het hy gedink hierdie dwarstrekker gaan nie die paal haal nie.

Maar in die maand waarop Victor vir hom werk het hy agtergekom dat die man besonder pligsgetrou is en sy opdragte noukeurig uitvoer. En hy meng nie met die plebs waar hy bly nie.

Die einde van die maand het gekom en gegaan sonder enige drama met sy sekuriteitsman, Victor stil op sy pos.

Nou is dit tyd om Victor aan die opset in Pretoria voor te stel. Hy en seun Frik se tweedehandse meubelwinkel. Die goudmyn.

Tommy is baie lief vir al sy kinders en kleinkinders, maar Frik het ‘n spesiale plek in sy hart. Miskien is dit omdat die jong man hom herinner aan sy eie jong dae. Maar veral kom hy en Frik goed oor die weg omdat hy kan sien dat dit die één kind is wat in sy voetspore gaan volg.

Tommy het Frik grootgemaak om eendag oor die Holwagen koningkryk te regeer. Eendag sal hy en Ansa verdien om op hulle louere te gaan rus.

“Taai besigheidsman, hierdie Frikkie van my,” spog Tommy nadat hulle vir Ansa by die skoondogter en die helfte van sy kleinkinders afgelaai het.

Die winkel is ver van die jonger Holwagen se huis in ‘n taamlike gehawende besigheidssentum.

“Die sentrum behoort aan die Holwagens, maar ek het vir Frik gesê hy moet dit stilhou. ‘n Goeie ding, want noudat die ekonomie so druk kan hy maak asof die eienaars hom ook aan die strot beet het wanneer die huur ingevorder word.” Hulle hou langs ‘n netjiese Ford Ranger stil en Tommy beduie. “Frik s’n.”

“Netjiese voertuig,” stem Victor saam.

Tom se borskas swel. Sy sekuriteitsman doen deesdae alles net reg. Eet by wyse van spreke uit sy hand.

“Dis nou hier waarheen ons die herwonne of gerestoureerde meubels stuur om verkoop te word. Nie die beste woonbuurt in Pretoria nie.” Tommy lag effens. “Jy moet die ryk anties hier sien intrippel, neus in die lug. Dan onderhandel hulle kastig oor die prys en Frik kom af asof hy nie werklik bewus is van die waarde nie. Hy mag maar want die goed kos ons mos byna niks.”

“Ek hoor jou.” Victor vryf oor ‘n antieke geelhout stuk en merk op. “Mooi ou kassie.”

“Ou dame in Lydenburg s’n. Ene mevrou Nel. Ek het haar lewe gered deur die kas te koop. Sy het nie eens meer ‘n teesakkie in die huis oorgehad nie.” Tommy huiwer net vir ‘n oomblik sodat dit kan insink, voordat hy vir Victor van sy volgende heldedaad vertel. “Toe koop ons haar huis. En gee haar lewenslange verblyfreg in die hoofslaapkamer.”

“Klink gaaf. Maar hoekom sou jy so iets doen?” Victor kyk hom vreemd aan.

“Ek het haar ‘n aanbod op die huis gemaak. Laag, moet jy verstaan. Mense kibbel mos maar altyd oor die pryse. Toe soek sy meer en ek aanvaar dit. Eers daarna het ek met my meesterplan vorendag gekom.” Tommy gloei.

“Beïndruk my verder.” Is die man nou sarkasties?

Tommy gluur hom lank en deurdringend aan. ‘n Broekbewe kyk, wat die meeste van sy ander werknemers sou laat rittel. Eers toe dit vir hom duidelik is dat Victor inderdaad beïndruk is, besluit hy om te antwoord.

“Ouetehuis, in die kleine. Tussen tien en vyftien inwoners. Vorige eienares, dis nou mevrou Nel in die hoofslaapkamer. Slegs een huurder in elk van die ander slaapkamers. My ma in die eetkamer, waarvan een hoek nou ook ‘n badkamer het. Vier in die dubbel garage wat deel is van die huis. Sitkamermeubels vervang deur ‘n lang gesellige eetkamertafel.”

“Vindingryk.”

“Presies. Mens moet altyd aan ander mense ook dink. Daarom het ek vir mevrou Nel uiteindelik slegs die helfte van die kooprys uitbetaal. Versorging kos geld. Die res is in ‘n trust en juffrou Bosman hanteer dit vir haar. Natuurlik onder Ansa se bekwame toesig.” Hy sien uit die hoek van sy oog hoe Frik met ‘n vrou kibbel oor die prys van ‘n klavier en hy voel weer hoe sy borskas swel. Hierdie mooie seun van hom het hy reg grootgemaak.

Dan kyk hy op sy horlosie. Dis tyd dat hy die twee manne los om besigheid te praat. Frik is heeltemal bekwaam genoeg om vir Victor die twee besighede in die gebou waarvan die huur nou al drie maande agter is, uit te wys.

Sandy of Candy of wat ook al haar naam is, wag seker al in Heidelberg.

Sy is nie die enigste een wat gereageer het op die advertensie vir ‘n winkelassistente vir sy nuwe grimeer en skoonheidssalon wat hy daar wil begin nie.

Maar sy is die enigste een met die regte naam.

Naby sy bestemming skakel hy sy ander selfoon aan. Doodseker maak dat hulle afspraak nog staan. ‘n Besige sakeman durf nie toelaat dat iemand sy tyd mors nie.
Frik is baie soos sy pa, som Victor hom onmiddelik op. Hy glimlag miskien net ‘n klein bietjie meer. En hy is nie so vrek suinig soos die ou man nie. Hulle sit halftwee in ‘n besondere goeie steakrestourant.

“Bestel enigiets op die spyskaart,” moedig Frik hom aan. “En watse bier verkies jy? Of sal dit wyn wees?”

“‘n Glas droë rooiwyn. Ek wil nie graag drink en bestuur nie.”

“Maar jy slaap mos vanaand hier by jou ma in Pretoria oor. Waar woon sy?”

“Kilnerpark.”

Hulle bestel en halfpad deur die ete kry Victor ‘n oproep van Tommy.

“Vic ou kêrel, ek het ‘n helse krisis op my plaas naby Harrysmith. Winter, veldbrand. Jy sal sien op die nuus.”

“Moet ék ry?” Victor kyk verbouereerd na die byna leë glas rooiwyn langs sy bord.

“Nee jy bly net waar jy is. Ek is al halfpad op pad daarnatoe. Die brandweer het intussen laat weet dat alles onder beheer is. En van die boere in die omgewing is op ‘n gereedheidsgrondslag met hulle waterkarre. Ek wil net gaan seker maak dat die skape veilig is en ‘n draai deur die huis stap”

“Jy kom seker nie vannag nog terug nie, meneer Holwagen?” maak Victor seker. Harrysmith is nie net om die draai nie.

“Nee, ek gaan bly vir ten minste ‘n week. Kom te min op die plaas. Maar jy gaan môre terug Belfast toe, sommer met die Sentra wat ek en Frik vir jou leen om in Pretoria mee rond te ry. Ek wil hê dat jy die kar daar op die plaas gebruik. Dis nie reg dat jy jou kar daar opry nie.”

“En mevrou Holwagen?” Moet hy haar in daardie skedonk laat ry?

“Ansa bly daar by Frik-hulle. Ek sal haar met my terugtog oplaai en huis toe bring.”
“Kan ek by jou kom sit, of is jy te upstairs om met ons tipe te assosieer?” vra Salomien toe Victor tien donkiedrolle in sy klein braaiertjie pak. Hy hou van die reuk van vleis wat braai, al is dit soos vanaand net ‘n stuk wors.

En broodrolletjies.

As jy vir jouself moet kosmaak vergeet jy van die helfte van jou nukke en fiemies.

Hy is nou so honger, hy eet sommer ‘n boks vol slap tjips en drie vleispasteie op.

“Nee, kom sit gerus.” Victor bied vir Salomien sy enigste plastiekstoel aan en gaan sit op die stoepmuurtjie.

Salomien is nogal vir hom mooi. Sy is net te maer. Vel en been. En die swaarkry het spoortjies op haar gesig gelaat. Maar ten spyte van haar armoede is haar lang blonde hare altyd mooi skoon.

Siestog, sy is seker vrek honger.

“Jou man?” vra Victor en toets die hitte van sy vuurtjie deur sy hand oor die kole te hou. “Hoe lank gelede is hy in Tommy se lokval gevang?”

“Ses maande terug.” Sy staar in die vlamme.

“Verhoorafwagtend of reeds gevonnis?” Hy sal ‘n blik baked beans oopmaak en haar nooi om saam te eet.

“Dood. Hy het homself in sy sel opgehang.”

“Bliksem.” Hy ruk sy hand weg, maar dit het niks met die hitte van die vuur te doen nie. “Waarmee?”

“Sy belt.”

“Het hulle dit nie van hom af weggeneem nie?”

“Toe nie.”

“Maar hoekom hang jy dan nog hier rond, as jy nie op hom wag om terug te kom nie? Ek is seker daar wag ‘n beter lewe in die stad op jou.”

“Op die oomblik pas dit my om hier te wees. Ek help in my sussie Riana se kersfabriek. Sy betaal my redelik goed. En ek bly by Gina wat vir die meubelfabriek stik. Ek kruip net weg sodat Tom Holwagen nie moet weet dat ek nog hier is nie.”

“Hoekom nie?” Victor haal die wors uit sy plastiekomhulsel.

“Hy vat so hier en daar kanse met van die vroumense. En dié wat nee sê, moet hulle goed vat en bokkeroff.”

“En jy het nee gesê?”

“Nie dat dit hom gekeer het nie. Tom Holwagen vat gewoonlik wat hy wil hê. En toe sê ek vir my man daarvan. Tom sê toe vir hom hy is vreeslik jammer, maar dis ek wat hom probeer verlei het.” Sy sluk en wring haar hande inmekaar op haar skoot. “Of so het dit vir hom gelyk.”

“Sy woord teen joune,” brom Victor omgekrap en dink by homself: Geweet die man is nie so baba-onskuldig nie.

“Tom sê toe verder dat hy kan verstaan dat James en ek nie meer na so ‘n misverstand hier sal wil bly nie. Hy stel toe voordat ons op sy ander plaas by Lydenburg moet gaan bly. Ons mag al die meubels in ons kamer kry en met sy bakkie trek. ‘n Groot guns. Net een versoek, sou ons drie van sy Nguni kallers op die sleepa saamneem en in die kamp naaste aan die huis loslaat?”

“En toe frame hy julle?”

“Hier op die agterpad Lydenburg toe. Gesê ons het die bakkie, sleepwa en die vieslike vuil stukkies meubels ook gesteel.”

“Fok.” Daar gaan die laaste een van sy goeie gewoontes ook nou. ‘n Moerse vloek wat niks doen om hom te laat beter voel nie. Hy byt sy onderlip voor hy vra. “Lus om saam met my eet?”

Die son kom oor haar gesiggie op. “Asseblief.”

“Ek kan vir ons ‘n bottel rooiwyn oopmaak.” Amper voel hy soos ‘n prins wat ‘n kosbare prinses die hof maak.

Hy geniet elke oomblik van hulle samesyn.
Hoofstuk 5
Tommy en Ansa Holwagen het iewers in die nag drie dae later teruggekeer na hulle huis op die dorp,  lei Victor af toe hy die oproep Maandag ontvang dat hy die baas by sy huis moet kom sien.

“Ek weet dis die laaste week van die maand,” verduidelik Tommy oor ‘n koppie tee. Hy drink soos gewoonlik alleen. “Maar daar is moeilikheid in Rustenburg en ek moet ry. Die goed kom nie meer in soos wat dit moet nie. Ek moet vir my swaer en skoonsuster gaan sê dat ons die besigheid moet toemaak en dat ek nie meer werk het vir hom nie.”

“Hy kry darem seker ‘n pensioen?” waag Victor dit om te vra.

“Van waar Gehasie?” Tommy lag in sy koppie. “Dis elkeen se eie verantwoordelikheid om te sorg vir sy oudag.”

“Tom, jy kan dit nie aan my suster en haar man doen nie.” Victor het haar nie in die deur sien staan nie,maar nou stap Ansa dreigend op haar man af. “Hulle het hulle lewenslank vir my en jou afgesloof. ‘n Paar rand om hulle deur die maand te sien, gaan my en jou nie armer maak nie.”

“Ansa, moenie so met my praat voor ‘n werker nie.” Tommy is duidelik onthuts oor die feit dat Ansa haar suster se kant teen hom kies. Dit is duidelik nie iets wat mag gebeur nie,want die man is so wit soos ‘n outydse badkamerteel. “Wag vir my in die kombuis, ons sal praat voor ek ry.”

“Nee, Tommy. Wat gaan jy omtrent my suster en haar sieklike man doen? Ek soek nou ‘n antwoord, voor ‘n getuie.”

“Die antwoord is nee. As jy wil aalmoese uitdeel, gebruik jou eie geld. Moet net nie dat ek dit agterkom nie.”

“Jy weet dat my geld sedert my aftrede by die bank joune ook is.” Ansa is na aan trane.

“Dis hoekom ek ‘n suksesvolle sakeman is en jy net my vrou.” Hy tel sy kleresak en aktetas op en stap met ‘n dreigende houding op haar af.

Victor voel hoe sy spiere span. As die man nou nog boonop ‘n hand teen sy vrou gaan lig, sal hy hom persoonlik pleister. Dis iets wat mens in die polisie leer doen het. Ouens groter as jy vasvat en afbring aarde toe.

Maar Tommy buk vooroor en kus sy vrou. Dan sê hy kliphard. “Lief jou, skatlam. Soet wees.”

Sy ruk weg, maar dit lyk nie asof dit hom enigsins pla nie.

Op pad deur toe, deel hy laaste opdragte aan Victor uit: “Vic, maak seker dat juffrou Bosman nie in haar kantoor gepla word deur mense by wie sy al weer moet sukkel om hulle huur te kry nie. Ek sien julle teen die vyfde van volgende maand.”

“Gewetenlose bliksem,” fluister Ansa en Victor wag dat sy moet oopmaak teenoor hom. Hom in haar vertoue neem. Hy was immers getuie van ‘n baie vreemde klein dramatjie. Maar sy glimlag skielik. “Nou ja, elke hond kry sekerlik sy dag. Nou moet jy my verskoon, meneer Brummer. Ek moet vir juffrou Bosman werk toe stuur.”

“Natuurlik.”

Hy moet hom nie so ontstel omdat sy baas en sy vrou moeilikheid het nie, besluit Victor terwyl hy na die Sentra toe stap. Sy werk is om te sorg dat almal hulle huur betaal en dat die vrede hier rond bewaar word.

Hy parkeer die kar op ‘n strategiese plek en stap vir ongeveer sewehonderd meter na die fabrieke toe. Tussen die bome steek hy vas, want net toe kom juffrou Bosman met haar Volkswagenkewer aangery. Of altans, hy vermoed dat dit sy is. En hy wens dat hy die Holwagens se vertroueling van naderby kan beskou.

Al wat hy kan sien is dat sy lang blonde hare het, maar voordat hy tussen die bome kan uitstap om ‘n verbyvlug te maak, sien hy ‘n gebukkende figuur van die fabrieke af naderkom. Juffrou Bosman ry in en klim uit die Volla. Victor se vingers sluit om sy pistool. Hy is gereed om haar te verdedig teen die sluiper, as dit nodig is. Maar dan sien hy tot sy verligting dat dit Jan du Plooy van die houtwerkfabriek is.

Jan storm by die garagedeur in en die volgende oomblik is die twee in ‘n hartstogtelike omhelsing. Oomblikke later sak die garagedeur oor die toneel.

Eers toe iemand ‘n giggellaggie naby hom gee, raak Victor bewus daarvan dat hy nie alleen is nie.

“Salomien!” Sy hart mis ‘n slag. Hy kan sweer dat dit die eerste simptome van verliefdheid is.

“Ek vermoed dit al lankal,” giggel sy en hou haar selfoon in die lug. “Ek wonder wat sal Tommy Holwagen daarvan sê as hy moet weet dat sy heilige juffrou Bosman ‘n verhouding met Jan du Plooy het. Ek is so bly dat my selfoon redelike ordentlike foto’s kan neem en ‘n zoom het. Dis ongelukkig redelik ver, maar iemand soos Tommy Holwagen sal nie twyfel wie saam met Jan du Plooy op die foto’s is nie.”

“Jy gaan nie!” lag Victor. Hy wonder of hy die selfoon van haar moet afneem. Maar dan besluit hy. By hierdie onderlinge struwelinge raak hy nie betrokke nie.

Salomien het in elk geval ‘n rekening van haar eie om met Tom Holwagen te vereffen. Hy kan maar net hoop dat daar nie verdere seerkrye en ontnugterings op arme Ansa ook wag nie.

“Daarsy, MMS gestuur. Nou moet Tom maar self besluit hoe om die saak verder te hanteer. As hy juffrou Bosman wil ontslaan, glo ek dat Jan genoeg verdien om vir hulle albei te sorg.” Salomien sit haar selfoon tevrede weg. “Ek weet in elk geval nie hoe Tom kan dink dat hy met sy veelwywery kan wegkom nie.”

“Het jy al vir juffrou Bosman ontmoet?” wil Victor weet, toe Salomien langs hom inval en saamstap in die rigting van die Sentra.

“Nee, nog nooit. Hy is seker bang ons vertel vir háár ook dat hy nie regtig ‘n goeie baas is nie. Oe, ek haat hom!”

Die volgende oomblik lui Victor se selfoon. Toe hy sien dis Tommy, weet hy dat Salomien nou vir hom ook moeilikheid gemaak het.

As hy nie antwoord nie, is hy in die stront.

As hy antwoord, is juffrou Bosman in die stront. Want lieg gaan hy nie lieg nie.

“Het jy dit gesien?” blaf Tommy in sy oor toe hy antwoord. “Juffrou Bosman en daardie Jan du Plooy.”

“Jip.”

“Fok hulle. Daarvoor gaan sy boet.”

Victor kyk verbaas na sy foon. Die man het net neergesit. Geen verdere verduidelikings en geen nuwe opdragte nie.

Nie dat juffrou Bosman se liefdeslewe iets met hom uit te waai het nie. Hy sal maar net ‘n ogie oor haar hou om seker te maak dat Tom Holwagen nie skielik rondpluk planne ontwikkel nie. Gelukkig sal dit die man seker ‘n tydjie neem om terug te ry Belfast toe, as hy dalk beplan om sy dreigement om haar te laat boet onmiddelik wil uitvoer.

Dan besef Victor met ‘n skok dat Tommy nie vir een van hulle gesê het waarheen sy besigheid hom hierdie keer neem nie. Dalk is hy sommer hier naby.

“Salomien, weet jy dalk waar juffrou Bosman woon?” vra hy angstig.

“Nee, ek het geen idee nie. Mense skinder dat sy onder dieselfde dak as die Holwagens woon en dat hy beurte maak met hulle albei. Dis hoekom ek so lekker kry oor haar en Jan.” Salomien giggel weer.

“Het Jan al iets gesê oor haar?”

“Nee, hy swyg soos die graf. Sê net dat Tommy een of ander tyd sy moses gaan teekom en dat dinge nie so kan aangaan nie.” Salomien kreukel haar neus te oulik en toe merk sy op. “Maar ek dink nie hy het bedoel om die baas van die plaas se meisie te expose nie.”

“Wat hy ook al bedoel het, ek dink ons moet dalk seker maak waar juffrou Bosman bly. En as dit by hom en Ansa aan huis is, moet ons haar dalk net waarsku dat hy hoogs die hel in is oor haar en Jan.” Hy gaan haal sy kar se sleutels uit sy kamer.

“Ek ry saam.” Salomien bly sit in die Sentra langs hom en hy skakel maar ewe gedwee weer aan en begin ry. “Wat van Jan?”

“Wat van Jan?” herhaal Victor haar vraag, soos ‘n regte stommerik.

“Hy sal seker weet waar sy bly.”

“O natuurlik. En miskien moet ons hom liefs ook waarsku oor wat gebeur het.” Victor is beïndruk. Die vroumens is nie net oulik nie, sy is slim ook.

By die T-aansluiting draai hy regs en ry na die fabrieke toe.

Hulle tref Jan buite sy fabriek aan en op sy selfoon. Aan sy hele houding kan hulle agterkom dat hy bitter ontsteld is.

“Wat gaan aan? Is daar iets waarmee ons kan help?” Victor voel onmiddelik sleg. Die man het duidelik ander probleme ook en nou gaan hy uitvind dat iemand hom en juffrou Bosman saam gesien het en dat daar foto’s van hulle by Tom Holwagen uitgekom het.

“Jy het dit gedoen!” Hy druk ‘n vinger onder Salomien se neus in. “Dis jou skuld, jou klein klits.”

Maar voordat Victor die man op sy plek kan sit, bars Jan uit van die lag. “Ag what the heck. Dis seker tyd dat hy moes uitvind. Uiteindelik kan dinge nou na ‘n kant toe gaan.”

Ten minste weet hy reeds, dink Victor verlig. Ten minste is hy nie nou die drol in die drinkwater nie. Maar hy is steeds bekommerd oor die vrou en hy vra: “Jan, weet jy dalk waar juffrou Bosman bly?”

“Natuurlik!” Hy lag nog meer. “Die bliksemse Tom Holwagen is mos mal, stapelgek. Hy noem haar juffrou Bosman, wanneer hy haar in die werk steek. Dan moet sy haar blonde pruik dra, want dit turn hom glo aan. Nou is die blonde pruik al deel van haar werksmondering.”

“‘’n Pruik? Nou wat is juffrou Bosman se regte haarkleur?”

“Dis duidelik dat julle nie weet nie. Bosman is haar nooiensvan.”

“Wie se nooiensvan?” wil Salomien verskrik weet.

“Ansa Holwagen s’n. Ansa was ‘n nooi Bosman.”

“Dan het jy ‘n ding aan met die baas se vrou?” Salomien lyk so oulik as haar mond so oopval.

“Jip. Ek moet dit seker maar erken noudat die aap uit die mou is. Ja, ek en Ansa is lovers en ek is mal oor haar.” Hy sluk darem in die stadium sy lag heel in. “Hoekom lyk julle so bekommerd? Uiteindelik lyk dit asof die lewe ‘n slag vir Tommy Holwagen gaan terugkry oor wat hy aan ander doen.”

“Dink jy Tom Holwagen gaan toelaat dat die lewe hóm ‘n pak slae gee? Hy deel uit, Jan! Hy ontvang nie,” raas Salomien ontsteld. “As jy vir Ansa lief is, gaan haal jy haar en vat haar weg, voordat Tommy haar in die hande kan kry.”

“So erg.” Jan se oë rek bekommerd.

“Dink jy my James het homself opgehang? Hy sou dit nooit gedoen het nie. En weet jy wie was die laaste ou in sy sel? Tommy Holwagen!”

“Vervlaks ek sien wat jy bedoel. Goed ek ry nou dadelik.”
“Hy het haar eerste gekry,” laat weet ‘n ontstelde Jan hulle ‘n halfuur later. “Miskien was hy nooit weg nie. Maar hy het haar nou net in sy ou bakkie gebondel en hulle ry nou in die rigting van Lydenburg.”

“Het jy dalk ‘n idee waarheen hulle op pad is?”

“Ja.” Hy noem die plek se naam. “Ek is nou ook oppad daarnatoe. Die ou bliksem het  glo ‘n stuk grond daar. Ansa het my eendag daarvan vertel. Die mees godverlate plek, maar met ‘n uitsig wat vir altyd aanhou. Die universiteit wou verlede jaar met sy bergklim klub daar gaan verken, toe kraam hy glo ‘n rol doringdraad uit en belet hulle sy grond.”

“Kan jy ‘n GPS programmeer?” Hy druk die instrument in Salomien se hande en sien dat sy die adres heeltemal behendig invoer.

Dis gelukkig nie so ver as wat hy gedink het nie en hulle kom byna dieselfde tyd as Jan en die polisie daar aan.

“Ons sal julle Sentra hier moet los. Dit lyk na bergklim verder,” verklaar een van die polisiemanne.

“Hulle kan saam met my ry. Maar kan ons asseblief net gou maak?” Jan draf terug na sy bakkie toe. Victor maak die agterdeur vir Salomien oop en spring haastig voor langs Jan in, nadat sy haar sit gekry het.

“Jimmel hoekom sou hy haar hiernatoe gebring het?” roep Salomien ontsteld uit. “Dis afgesonder en die pad sleg genoeg om enige mens se longe uit te skud.”

“Ek weet nie, maar ek glo nie hy wil vir haar die view wys nie.” Victor hou vas waar hy kan. Die afgronde aan sy linkerkant gee hom die aapstuipe.

En dan is hulle op die plato. Die eerste wat hulle sien is die ou bakkie. Geen mens in sig nie.

Die polisie hou in ‘n stofwolk langs hulle stil.

Wanneer die enjins stil raak, hoor hulle ‘n vrou wat hartroerend huil. Ansa! Sy leef.

“Waar is meneer Holwagen?” vra Victor angstig.

“Oor die afgrond. Hy het sy balans verloor en geval. Dit was so hittete of hy het my met hom saamgeneem. Gelukkig is ek so bang vir hoogtes dat ek aan daardie boompie vasgehou het.” Sy klou aan Jan vas.

“Hoekom het jy saam met hom in die bakkie geklim, as jy gesien het hy is so kwaad vir jou?” wil Jan omgekrap weet.

“Hy was nie kwaad vir my nie. Hoekom sou hy wees? Hy het gesê dat ek saam met hom moet ry, want hy wil planne laat optrek om vir ons ‘n huis hier te bou.” Sy klink so oortuig van haar saak, dat nie een van die ander mense bereid is om haar voor die SAPD reg te help nie.

Laat sy maar haar man onthou, soos wat hy was terwyl hulle gelukkig was.

En laat sy maar glo dat hy nooit van haar verhouding met Jan du Plooy uitgevind het nie.

“Ons sal bergklimmers moet kry om sy liggaam te herwin,” verklaar een van die polisiemanne en stap na die diensvoertuig se radio toe.

Intussen verken Victor die omgewing. Is daar nie iewers ‘n plek waar hy solank kan afklim nie? Miskien leef die ou bliksem nog.

Heelwat verder links lyk dit asof hy ‘n ent na onder sal kan vorder. Maar so twee meter laer strand hy op ‘n nou rotslysie. Hy moet liewer opgee en terugklim boontoe.

Voordat hy egter kan roer, hoor hy ‘n selfoon bokant hom lui en Ansa wat antwoord.

“Hi sus. Ek het dit reggekry. Ek het met jou saamgestem dat dit gevaarlik sou wees om hom met sy eie medisyne terug te betaal. Maar ek het mos vir jou gesê dat ek hom haarfyn dopgehou het toe hy die vrou hier afgestamp het. Hy is byna saam met haar oor die afgrond, was dit nie vir die tak waaraan hy vasgegryp het nie.”

Daar is ‘n paar oomblikke se stilte en Victor kan hoor hoe sy rondbeweeg. Klippies oor die afgrond. O vrek, hy hoop nie dat sy dit in haar kop kry om oor die kant te loer nie. Maar dan praat sy weer:

“Man ek ken die vreksel mos soos ‘n boek. Geweet hy gaan voel dis hoogverraad as hy uitvind van Jan. Ek moes net seker maak dat Salomien ons twee weer saam sien. En ja, toe speel sy so reg in my hand. Ons afgeneem met die ou selfoon wat ek vir haar as troosprys gegee het toe Tom haar lewe opgedons het. MMS vir hom gestuur.”

Stilte.

“Presies,” praat Ansa weer. “En ek weet mos hoe Tom sy teregstellings doen. Dit was vir my maklik om saam te speel toe hy my eers klap en toe met sy liegstorie van die huisbouery vorendag kom. Kastig om te wys hoe jammer hy is oor sy uitbarsting. Gevra ons moet weer probeer.”

Sy lag saggies. ‘n Diep lekkerkry laggie voordat sy vol bravade antwoord op iets wat haar suster blykbaar te sê het.

“Natuurlik was dit gevaarlik, maar ek het die verrassingselement aan my kant gehad. Stewig aan die tak vasgehou, so effens eenkant toe getree toe hy storm en hom so ligte stootjie tussen die blaaie gegee, toe dit lyk asof hy sy balans weer herwin.”

Aplous? Want sy bedank haar sus uit die diepte van haar hart vir iets wat ‘n staande ovasie moes wees en sê dan: “Slaap gerus. Julle besigheid is veilig in my hande. Dinge gaan van nou af verander. Tom het altyd gespog dat dit sy vindingrykheid is wat gemaak het dat hy vandag ‘n skatryk selfgemaakte sakeman is. Nou sal die hele wêreld uitvind dat die mees vindingryke sakeman eintlik ‘n vrou is. Alles wat hy het, het ek vir hom help opbou.”

Haar voetstappe raak weg, maar Victor sit nog vir ‘n klein rukkie geskok op sy ongemaklike lysie.Hy wag dat sy hartklop bedaar. Hoe kan enige vrou wat moes toekyk hoe haar man  ‘n ander vrou van ‘n krans afstamp net doodstil onder die seil van die bakkie bly lê en maak asof sy niks gesien het nie?

Waarskynlik presies soos wat hy nou gaan doen. Met ‘n ompad terugklim tot op die plato en maak asof hy niks gehoor het nie.

Hy het nie veel van ‘n keuse as om vir nog ‘n wyle in Ansa Holwagen se diens te bly nie. Daar is twee goeie redes voor.

Hy sal deksels graag vir Salomientjie beter wil leer ken.

En as hy nou bedank sal daar waarskynlik te veel suspisie wees. Net dalk het mevrou Holwagen agtergekom dat hy nie deel van die groep was toe sy teruggestap het nie.

‘n Man maak nie ‘n vindingryke sakevrou agterdogtig met vinnige skuiwe  nie. Inteendeel, jy maak soos sy! Jy maak asof jy niks gesien het nie, niks gehoor het nie en beslis nie oor enigiets gaan uitpraat nie.

Maar hel, teen die tyd dat Victor weer by die groep aansluit, praat almal oor die snaakse reuk wat oor die vallei hang. Soos die reuk van dierkarkasse in verskillende stadia van verrotting …

End