Hoekom amateur-skrywers hulle stories of gedigte op ‘n webwerf of blog behoort te stoor.

So baie van ons stokperdjie-skrywers publiseer hulle pragtige stories op verskeie groepe en bladsye op ‘n gewilde ‘gesignetwerk’ platvorm. Alles goed en wel, daar is baie mense wat dit lees en ‘n skrywer se eerste behoefte is om gelees te word.  Dit is lekker om te hoor dat lesers van jou storie gehou het. Maar wat gebeur nou as iemand twee weke later vra om daardie oulike storie van jou weer te lees? Jy begin soek. Goed, uiteindelik sal jy die storie seker opspoor en die persoon tag. Of jy kan dit e-pos. Nie alle groepe laat dit toe dat jy stories wat daar geplaas is deel nie.

 

Vir my maak dit net sin dat elke skrywer ‘n bladsy of webwerf het, waar skryfsels bymekaar gehou word. Dit is soos ‘n vouer op jou rak, maar net meer beskikbaar vir jou lesers. Jy kan self besluit wat jy wil deel.

 

Terwyl jy hier lees, wonder jy seker of ek sekere blog- en webwerwe adverteer. Nee, glad nie. Ek het nie ‘n betaalde webwerf wat geld met klieks te verdien nie.

 

Nou hoekom die moeite doen? is seker jou volgende vraag.

 

Ek kan maar net skryf wat ek met my webwerf doen en hoekom dit vir my werk.

 

Ek is ook deel van skryfgroepe. My stories is dwarsoor die ‘gesigveld’. Op my blog / WordPress webwerf, het ek begin om alles te konsolideer. Nou verskaf dit my eindelose genoegdoening om te sien watter stories lesers gaan opsoek en weer lees, selfs lank nadat ek al daarvan vergeet het. (Die blog se statistieke wys presies hoeveel mense jou werf besoek en waarna hulle gekyk het.)

 

As bonus vir lesers, skryf ek gereeld nog stories, wat almal met graagte gratis kan gaan lees. Dit hou die belangstelling lewendig. Daar is byvoorbeeld al ‘n hele klomp Clarissa Clairvoyant-kortverhale, sou iemand dieselfde passie vir die bonatuurlike het as ek. Ek het selfs ‘n paar volledige boeke op my webwerf gepubliseer. Daar is altyd die moontlikheid dat iemand wat aanklank vind by my ietwat vreemde skryfstyl, die ander boeke ook wil lees.

 

Ek was gelukkig genoeg dat van my boeke by Lapa en Malanmedia gepubliseer is. Romanzas en liefdesverhale, wat ek baie graag steeds wil adverteer. Onthou, solank as wat jou boeke by LAPA verkoop, verdien jy tantieme. Dit is dus die moeite werd vir selfs gevestigde skrywers om te help adverteer. ‘n WordPress blog of webwerf is ideaal om fotos van voorblaaie, lokteks en die inligting van waar boeke beskikbaar is te plaas.

 

Ek was windgat genoeg om van my meer alternatiewe boeke self op Amazon te publiseer. Die kompetisie daar is groot en die tantieme beroerd min. Vele ander skrywers volg ook die selfpublikasie opsie, wanneer hulle deur die groot uitgewers weggewys word. Of selfs omdat hulle lus is om te kyk hoe die boek daar gaan vaar.

 

Aangesien die advertensies van boeke so goed werk op die webwerf, het ek besluit om sekere boeke as e-boeke vanaf my webwerf te verkoop. Goedkoop, sodat dit kan verkoop. En sowaar, daar werk dit. Ek verkoop elke week ‘n klompie boeke daar. Lesers kies die titel of titels en e-pos dit na liefdesverhalenmeer@gmail.com Ek e-pos die boek vir hulle, asook die bankbesonderhede waarin hulle kan EFT. Ek het nog nie ‘n enkele leser gehad wat met ‘n boek ‘weggeloop’ het nie.

 

Om in gedagte te hou: Moenie ‘n WordPress blog begin met een kortverhaal en dink jy gaan op jou louere sit en almal gaan jou lees nie. Jy sal gereeld daarop moet skryf en nuwe stories, advertensies of artikels opsit. (Of al daardie oues wat iewers wag om gelees te word.)

 

Die ander fout wat mense maak, (ek ook) is om allerhande twak te skryf wat niks met jou stories of skryfwerk te doen het nie. Hou jou webwerf gefokus, want dan sal google dit ook naderhand optel.

 

Agtergrond oor wat uiteindelik vir my die deurslag gegee het: Ek het so rukkie terug vir ‘n vriendin in ‘n dokter se spreekkamer gesit en wag. Om nie verveeld te wees nie, trek ek toe een van die tydskrifte nader en begin blaai. Dit was daar waar ek vir die eerste keer regtig gesien het hoe suksesvolle mense die blogging / webwerf ding benader. Daar was slegs een persoon wat met ‘clicks’ begin geld maak het. Sy skryf oor reis met haar woefie. Dan skryf sy oor troeteldiervriendelike plekke. Natuurlik sal dit mense met viervoetkinders se verbeelding aangryp. Ons wil nie een ons liefies by die huis los nie. Onthou, die klieketiekliek miljoeners word nie oornag gebore nie. Die meeste bloggers oor wie daar in die artikel geskryf was, het geld gemaak deurdat hulle hul produkte op die blog adverteer.  Een maak en verkoop haar gevriesde kosse van haar webwerf af. Intussen hou sy die belangstelling lewendig deur resepte te deel. Nog ‘n persoon verkoop haar raad en advies om gewig te verloor van haar blog of webwerf af. Intussen adverteer sy ‘n pil en stropie wat jou help om maer te word!

 

Die grootste rede hoekom ek my skrywes op ‘n WordPress webwerf stoor, is omdat ek wonder hoe lank gaan daardie ‘gesigboek’ nog al die inligting en data sal kan hanteer. Dit voel vir my asof my werke veiliger is as dit op meer as een plek gestoor is. Oukei, seker so veilig as wat enigiets op die internet mag wees.

 

Die lekker van hierdie gratis webwerwe en blogs is dat as die versoeking jou pak en jy wil oor ander goed ook skryf, kan jy altyd nog ‘n blog of werf oopmaak. Jy kan altyd skakels van een van jou webwerwe na ‘n ander plaas. So vind lesers jou maklik.

 

Geniet jou skryfwerk en moenie dat dit ooit verlore raak nie. En as jy nog nooit gelukkig genoeg was om gepubliseer te wees nie, onthou Gary Player se woorde: Hoe meer jy oefen om iets te doen, hoe gelukkiger raak jy. In ons geval, hoe meer jy skryf, hoe makliker en vinniger kom die woorde om jou storie te bou.

 

Volg gerus hierdie skakel as jy van Adele Reynders se gratis eboeke wil lees. https://adelereyndersauthorartist.wordpress.com/