Clarissa Clairvoyant – uit elke boek

Clarissa Omnibus

Clarissa Clairvoyant se eerste 5 boeke is nou as Omnibus beskikbaar. Jy kan die omnibus ontvang vir R50.00 deur die naam te epos na liefdesverhalenmeer@gmail.com Clarissa Clairvoyant – Die Gawe is nie hierby ingesluit nie. As jy dit gratis saam met die Omnibus wil ontvang, skryf net Clarissa Omnibus + Die Gawe.

Lees gerus die gratis uittreksels uit die volgende Afrikaanse eboeke: Clarissa Clairvoyant- Die Gawe, Verdwyning van Demi Patrick, Blinde Sambok, Ruiter van die dood, Loervink en Wraak van die vrou in die water. Onthou dat dit net uittreksels is. Die volledige boeke kan op Amazon gelees word, of bestel word by liefdesverhalenmeer@gmail.com

Jy kan enige eboek van Adele Reynders vir SA geldeenheid aankoop en op jou selfoon of laptop lees. liefdesverhalenmeer@gmail.com Kos ongeveer R20.00 stuk. Jy ontvang eers jou boek en betaal dan. (Clarissa 1-5 is ook in ‘n omnibus as jy dit as geheel wil ontvang @ R50.00

Daar is ook heelwat eboeke om gratis te lees op hierdie blog. Kyk eers wat jy gratis kan lees, voor jy koop.

Clarissa Clairvoyant – Die Gawe is die eerste korter boekie in die Clarissa reeks. (Net meer as 7duisend woorde) Sy het hier te doen met ‘n eerste moordsaak – Haar beste vriendin se pa.

Dit is Clarissa en Elmien se laaste jaar op universiteit. Elmien se pa Phillip Vermaak is onlangs oorlede – Die omstandighede daar rondom is uiters verdag:

Clarissa se niggie se troue sou soos meeste van hulle vriende en familie s’n taamlik vervelig gewees het, as dit nie vir twee van die bruidegom se polisiekollegas was nie.

“Ek vrek oor ‘n ou in uniform,” fluister Elmien in Clarissa se oor, nadat sy vir die hoeveelste keer oor haar skouers gekyk het na die manne in blou wat in die derde ry agter hulle sit.

Met die uitstap vorm die ouens ‘n erewag en die bruidspaar stap onderdeur ‘n koepel van swaarde.

“Dit is so mooi, ek beswyk sommer. Veral daardie een derde van links af.” Dit is voorwaar die eerste keer dat Elmien soos ‘n bakvissie oor ‘n man tekere gaan. Clarissa het al begin wonder vir wie haar maatjie se ogies so anderkant toe draai.

Dan sien sy hom.

“Hy kyk vir jou ook,” gooi sy petrol op Elmien se vlammetjie. Dit is waar! So rankige vent wat oë vir niemand en niks anders as Elmien het nie.

Sy is vanaand self ‘n bietjie kwesbaar. Dit moet waaragtig die uniforms wees, want tussen die manne het sy ook ‘n kêrel met kort donker krulhare en die sagste blou oë raakgesien. En daardie oë het al meer as een keer in háár rigting gedraai.

Bonus op bonus sit die manne by die tafel oorkant die een wat Clarissa en Elmien met haar ouers en diverse ander familielede deel. Oë bly dwaal en nadat die bruidspaar die dansvloer geopen het, staan blou-oog reg langs haar met ‘n uitgestrekte hand.

“Stan Fourie,” stel die wonderwerk in uniform homself aan haar voor. “Dans?”

“Clarissa Maree,” onthou sy darem so halfpad deur die dans om haar naam ook te noem.

Later sug Elmien toe hulle by die nageregtafel staan: “Dit is ‘n mooi troue en ‘n héérlike onthaal. Ek dink nie ons hoef so vroeg te ry as wat ons aanvanklik beplan het nie.”

Die mooi van die troue het natuurlik uitsluitlik te doen met langeraat Anton de Jager wat feitlik teenaan Elmien staan en net soos die res van hulle dink dat die poedingbakkies te klein is vir al die lekkernye wat daar op die tafel uitgepak is. Syne loop oor!

Danksy Stan Fourie is Clarissa ook nie te verveeld met die aand se gebeure nie.

Hulle vier drink daarna koffie en die koppies is nog nie koud nie, of die ondenkbare gebeur. Die klok slaan twaalfuur en die bussie (of is dit ‘n koets?) waarmee die polisiemanne moet terugry barakke toe staan reg om te vertrek.

“Ek wil jou weer sien Elmien. Mag ek kom kuier?” vra Anton.

“Natuurlik, maar ek en Clarissa is net hier vir ‘n paar dae. Ons moet nog gaan klaar eksamen skryf in Pretoria. Is julle in Witbank gestasioneer?” vra Elmien.

“Ons is. Maar dit is my laaste winter in die Suidpool. Ek soek ‘n oorplasing Nelspruit of Hoedspruit toe.” Dan kyk die jong man na Elmien. “Anders gaan ek in Pretoria werk, want jy is daar. Hoe lank moet jy nog swot?”

“Ons maak vanjaar klaar.”

Dit moes liefde met die eerste oogopslag wees, want Anton wil dadelik weet. “En dan? Waar gaan jy dan heen?”

“Werk seker. Hopelik by ‘n lodge … in die Nelspruit of Hazyview-omgewing. Ek en Clarissa hoop om by dieselfde plek werk te kry.”

“Dan soek ek ‘n oorplasing Hoedspruit of Hazyview toe,” wysig Anton sy plan ‘A’. “Maar eers van Januarie volgende jaar af.”

“Clarissa, mag ek ook maar saam kom kuier?” Stan is minder voorwaarts as sy maat. “Julle bly mos op dieselfde kleinhoewe.”

“Ja sekerlik. Bel net eers, want ons sal seker heen en weer tussen Witbank en Pretoria ry.” Dankie tog, dan wil Aspoestertjie se prins in blou haar ook weer sien!
Sommer Sondag laatmiddag al, kom die twee manne in ‘n vrot Kewertjie daar aangesit. Blou van die koue en blouer van die honger. Gelukkig het die Marees gebraai en die meisies is met bakke vol oorskiet terug na die kombuistafel in die Vermaakhuisie waarby hulle vier nou sit en kuier.

En soos wat die manne inval, sal daar niks aan die bene oorbly vir die plotbrakke om aan te kou nie, sien Clarissa. Dit is nou as hulle twee nie die bene self ook fynkou en verorber nie! Clarissa voel skielik ‘n oneindige deernis teenoor die skraal blouoogseun wat al hoe meer steelkykies in haar rigting waag.

Wanneer Elmien opstaan om koffie te maak, kyk Anton met nuwe oë na die kombuis om hulle. “Dis hier! Ek onthou nou net. Dit is jou pa wat onlangs oorlede is nadat hy gif gedrink het, Elmien. Ek is so jammer … Homself per ongeluk … vergiftig, was die bevinding.”

“Ek onthou ook jou pa,” las Stan by. “Hy was ‘n week voor sy dood by die stasie. Wou gehad het dat twee van die speurders saam met hom iewers heen ry. Hy wou vir hulle iets belangrik gaan wys.”

“Watse iets?” Nou het hy Clarissa en Elmien se onverdeelde aandag.

“Ek weet nie. Die stasiebevelvoerder het gesê dat hy alles in ‘n verklaring moes gaan neerskryf en dit op skrif terugbring. Hy wou nie onnodig mannekrag aan iets afstaan wat nie die moeite werd is nie.”

“En wat het my pa geskryf?” wil Elmien angstig weet.

“Ek weet nie of hy ooit die verklaring ingebring het nie. Miskien in ‘n stadium toe ek nie aan diens was nie. Weet jy iets van sy verklaring, Stan?”

“Ek het hom nie weer na daardie dag gesien nie. Net gehoor hy het homself … Dat hy dood is.”

Die Gawe is gratis beskikbaar op die blog. Om vanaf Amazon aan te skaf, volg die skakel.

Die res van die boeke beslaan uit tussen 24 en 30duisend woorde:

Clarissa 1 – Die verdwyning van Demi Patrick. Clarissa ontmoet die aantreklike privaat speurder Francois Duval en word toevallig by sy ondersoek betrek. Hulle raak aangetrokke tot mekaar, maar Francois is erg skepties en versigtig vir ‘n vrou wat meer weet van wat hy dink en voel, as hy self!

Pyn skiet soos die skrapnel van ‘n handgranaat deur haar lyf. Donkerte. Die terugstoei deur die newels. ‘n Pyp in haar keel. Naald in die arm. Alles aan haar is seer.

“Ken jy jou naam?” Die man in die wit jas is waarskynlik ‘n dokter.

Natuurlik. Haar naam is Demi Patrick.

“Weet jy wat met jou gebeur het?” Geoff buk oor haar. Het hy haar ontdek waar sy gelê het? Dan het Densell waarskynlik uitgeglip sonder dat Geoff hom gesien het.

“Wie het dit aan jou gedoen?” vra die dokter. 

Sy lig haar hand op en rig met ‘n vinger, soos die loop van ‘n pistool. Die persoon in die visier is Geoff. Sy mond gaan oop in protes. Hy steier orent van skok.

“Nee Demi, dis onwaar!” kreet hy. Ten spyte van haar eie pyn vul dit Demi met genoegdoening. Aanval, is die beste manier van verdediging.

“Nee, ek is nie Demi nie, ek is Clarissa!” Clarissa sit verward regop en vryf ontsteld oor haar gesig. Wat ‘n bisarre nagmerrie het sy nie so pas gehad nie? Sy kon amper die ander vrou se pyn voel.

Of was dit nie ‘n droom nie? Wou iemand of iets vir haar ‘n boodskap uit ‘n ander dimensie stuur? Demi Patrick self dalk? Sy haal haar dagboek uit haar bedkassie se laai en skryf soveel as wat sy kan onthou van haar droom daarin neer, voordat sy opstaan om tande te borsel en haar gesig met koue water af te spoel.

Daarna stap sy kombuis toe om te gaan koffie maak. Twee bekers, vir haar en Francois.

Vandag gaan hy terug Pretoria toe. Hoekom gee dit haar dieselfde hol kol op haar maag as wat sy elke Sondag gekry het wanneer haar kinders na ‘n heerlike naweekkuier moes teruggaan universiteit toe? Sy was reg daardie eerste aand toe sy hierdie mooie man onder die straatlig voor haar hek sien staan het. Hier is moeilikheid. Sy is ontydig besig om ‘n skeur in haar hart te ontwikkel. ‘n Hart wat nog ten minste twee maande aan Stan moet behoort. Nee, ‘n hart wat vir altyd aan Stan moet behoort.

Wat dit ookal is wat Francois in haar wakker maak, dit het geen bestaansreg nie. Buitendien, hy is oppad terug Pretoria toe en na vandag sal hy ook liewer ompaaie rondom Waterval Boven ry, want hy is doodbang vir seerkry en betrokke raak by iemand wat nog nie oor haar man se dood is nie. Hulle praat nie daaroor nie, maar sy weet dit sonder twyfel. Na vandag wys Francois hakskene, al is sy waarskynlik die enigste persoon wat hom uiteindelik kan help om Demi op te spoor.

Asof die koffiereuk hom lok, stap hy by die kombuis in en haar hart maak ‘n geniepsige kramp in sy aritmiese gang, net om haar te herinner aan die feit dat sy vrou is.

Koop die boek vir R20.00 epos liefdeverhalenmeer@gmail.com of Lees op Amazon:

Clarissa 2 – Blinde Sambok. Francois wou net by Clarissa op Waterval-Boven kom kuier. Sy laaste saak is immers afgehandel toe sy agterkom dat iemand sy speurdersneus in ‘n dwaalspoor vryf.

“Goeie genugtig, ‘n toebroodjie sou heeltemal voldoende gewees het,” protesteer Francois, maar glimlag tog van oor tot oor toe sy ‘n feesmaal op die borde begin uitpak. “Ek moet erken my lyf skree al lankal vir ‘n bord met tuisgemaakte groente en dun gesnyde skaapboud. Hoenderpastei? Jy laat my na my ma verlang.”

“Dit was oorblykos van iemand se verjaarsdagfees vanmiddag.” Sy sit die borde een na die ander in die mikrogolfoond.

Ewe tuis in haar kombuis haal Francois ‘n kurktrekker en wynglas uit. Hy trek die prop uit en skink vir haar. Daarna maak hy vir hom ‘n groen botteltjie oop. “Sit ons sommer hier in die kombuis?”

“As dit reg is met jou.” Sy dek borde, messe en vurke en servette op plekmatjies en bring die kos nader. “Dank gou vir ons, voordat die kos koud word.”

Hy neem haar hand in syne, maar sy verstyf skuldig toe sy haar oorlede man se figuur in die deur sien staan. Sy skouers hang en hy draai sy rug effens op haar waarna sy haar hand skuldig terugtrek.

“Jammer …” prewel sy. Maar dis te laat. Sy weet die skade is reeds gedoen. Iewers in ‘n ander dimensie het sy vir Stan diep gewond.

“Is jy orraait?” wil Francois besorg na sy amen weet. Hy roer sy vingers skuldig. “Jammer waaroor? Ek dog mense vat hande en dank. Ons familie doen dit.”

“Dit was ons gewoonte ook.” Net dit. Sy wil nie vir hom sê dat Stan sedert sy dood nog steeds hier in die huis rond dwaal nie. Dis genoeg om elke besoeker aan Clair’s Khaya vir die res van hulle lewe weg te jaag. Buitendien dis net sý wat hom sien, want niemand anders het nog daarvan melding gemaak nie.

“Was ek te eie met jou? Ek sal nie weer nie.”

“Dis nie jy nie. Mense hou hande tydens tafelgebed. Sommer iets wat … my bygeval het.”

“Jy het aan jou oorlede man gedink en skuldig gevoel omdat jy voel dis nie reg dat ‘n ander man jou hand in júlle huis vashou nie.”

“Moontlik.”

“Onthou net, Stan is weg. Hy stel nie meer belang in wat hier op die aarde aangaan nie.”

“Nee waarskynlik nie.” Sy tel haar mes en vurk op. “Kom ons praat liewer oor jou laaste saak. Kom jy nou van daar af? En waar het dit jou oral heen geneem?”

Hy kou en sluk voordat hy entoesiasties begin vertel. “Dit was nogal interessant. ‘n Versekeringsaak. Miskien het jy destyds daarvan in die koerante gelees. Die man is sewe maande gelede deur ‘n krokodil gevang in die Zoeloeland mere gebied.”

“Ek het so iets in die koerante gesien. ‘n Man, sy vrou en ‘n paar vriende het daar gekamp en visgevang. Wie was hy?”

“Bertus Botha. Hy wou gaan hande afspoel nadat hy aas aan die hoek gesit het, toe gryp die krokodil hom aan die arm en trek hom in. Reg voor sy vrou se oë. Sy was natuurlik histeries.” Francois sit effens terug met sy bottel bier in die hand.

“Ek kan myself nie eens voorstel hoe erg dit moet wees om ‘n geliefde so te verloor nie,” antwoord sy. “Hoe het dit gebeur dat jy by die saak betrokke geraak het? En wat het uiteindelik gemaak dat die saak homself sogenaamd opgelos het? Dis mos wat jy oor die selfoon gesê het. Dat die saak homself vir alle praktiese doeleindes self opgelos het.”

“Wanneer ‘n slagoffer verdwyn, soos in Bertus Botha se geval, moet daar ‘n sekere hoeveelheid tyd verbygaan voordat sy polisse uitbetaal. Tensy daar bewyse opduik wat sy dood bevestig.” Hy sit sy bier neer en vertel verder. “Ongelukkig is sy weduwee die enigste getuie wat fisies gesien het hoe die krokodil hom aan die arm gegryp het en diep waters toe gesleep het.”

“En sy is sekerlik helaas ook die enigste een aan wie die man se polisse gesedeer is.”

Hy lag: “Klink jy skepties? Maar ja, hulle het nie kinders nie.”

“Ek onthou dat daar heelwat in die media oor die omstandighede gespekuleer is. Een van die skindertydskrifte het ‘n week later geskryf dat Bertus se suster vermoed dat haar skoonsus in ‘n skelm verhouding betrokke was. Sy het geglo die tydsberekening rondom Ouboet se verdwyning was óf baie gerieflik, óf deel van ‘n groter plan.”

“Jy onthou goed,” prys Francois haar. “Bertus se suster en haar man het vir langer as ‘n week op die oewer van die meer gekampeer en elke dag die omgewing gefynkam vir tekens van ‘n oorskot of stukkies klere en skoene.”

“In daardie krokodilbesmette water?” Clarissa skud haar kop. “Daar is nie veel van ‘n kans om iets te vind nie. Dis die perfekte plek om van ‘n liggaam ontslae te raak.”

“Sê jy wat wonder of dit moord was?” vra Francois met ‘n versigtige klank in sy stem. “Is daar ‘n sesde sintuig of … ‘n soort stem wat dit vir jou sê?”

“Nee Francois!” lag sy dit af. “Ek spekuleer net saam.”

“Maar as jy aan iets van Bertus sou raak?”

“Ek raak aan niks,” keer sy haastig. “Die saak is mos nou afgehandel. Vertel liewer vir my hoe het dit geëindig? Wat het ‘n wending in die saak gebring? Jy sê mos dis opgelos.”

“Hulle het Bertus se horlosie, ring en die gespes waarmee sy stewels vasgemaak was in ‘n dooie krokodil se maag gevind. Die gespes kom van baie spesiale stewels af en sy naam is binne in die flambojante ring gegrafeer.”

“Uit ‘n dooie krokodil? Na sewe maande?” Ekskuus, maar nóú is sy skepties.

“Armbande, ringe, klippe, hare is alles dinge wat nie verteer nie. Dit kan vir jare in ‘n krokodil se maag bly, sonder om deur die normale kanale uitgeskei te word.”

“As jy so sê. Maar hoe is hierdie spesifieke krokodil dood en waarom sou iemand die karkas oopsny? Buitendien as iemand so ring en horlosie iewers raakslag, wat is die kans dat jy dit sal inhandig? Finders keepers, jy weet.”

“Bertus se vrou Hanna het ‘n reuse beloning beskikbaar gestel vir enige bewyse wat met haar man se grudood verband hou. Sy het foto’s van hom, sy ring, horlosie, skoene en gordel op plakkate laat druk en oral opgeplak. Al die mense wat op die rivier oewer woon moes dit sien.”

“Sedertdien maai hulle krokodille af en sny die karkasse oop om te kyk of daar ringe en horlosies in die dier se maag is?”

“Hulle slag in elk geval elke dooie krokodil oop en vat dit vir die toordokters. Alles aan ‘n krokodil haal goeie pryse op die swart mark. Veral die maaginhoud! In hierdie geval was daar boonop ‘n vet beloning vir die horlosie en ring. Die horlosie is natuurlik in sy dinges in geroes, maar mens kan steeds Bertus se naam en verjaarsdagdatum op die onderste plaat lees.”

“En teen sulke bewyse kan niemand stry nie,” verklaar Clarissa. “Dus, as jy tevrede is, veels geluk met ‘n saak wat afgehandel is. Het Hanna al haar man se besittings teruggekry?”

“Nee, ek het dit twee dae gelede eers by die polisie gekry. Hanna is op die oomblik oorsee. Ek het wel met haar geskype en soos te verstane is sy nogal emosioneel. Miskien het sy teen haar beterwete bly hoop op ‘n wonderwerk, al het sy hom self onder die water sien wegraak.”

“Dit bring seker ‘n soort klaarheid aan die grusaamheid van wat gebeur het. By gebrek aan ‘n liggaam moet die horlosie en ring dit seker doen.” Clarissa skuif haar stoel agteruit en staan op. “Sagopoeding en ‘n ystervarkie met koffie vir nagereg?”

“Net ‘n varkie dankie. As ek nou koffie drink slaap ek nie vanaand nie.”

Hoofstuk 3

Francois lyk vars en uitgerus toe hy Clarissa die volgende oggend in die kombuis opspoor. ‘n Heerlike skoon naskeerreuk en ‘n wonderlike gemoedelikheid volg op sy hakke toe hy naderkom.

“Na hierdie nagrus sal ek nie weer nee sê vir ‘n beker koffie nie.” Hy beduie na die vol koffiemasjien waarin die laaste kookwater drup. “Mag ek myself help?”

“Ja asseblief! Trouens, maak dit twee bekers, ek drink saam terwyl ek vir ons ontbyt maak. Kyk gerus solank deur die brosjures wat ek daar op die tafel neergesit het. Ek stel voor ons begin met ‘n paar nabygeleë besienswaardighede? Jy weet mos van die reünes hier in die berg.”

“Ja, ek sal dit graag wil sien. Ek is ook al lankal nuuskierig oor die stasie waar die stoomtreine gehou word.”

“Dis waar hulle in Paul Kruger se tyd die treine herstel het. Ons kan sommer na ontbyt al daarnatoe ry.” Clarissa sien self uit na ‘n dag weg van die gastehuis af. Al praat Valentino se vrou Dada skaars Engels en geen Afrikaans, is hulle albei betroubaar en het sy geen probleem om die besigheid vir kort rukkies in hulle hande te los nie.

Maar ai as een van haar twee kinders net genoeg belanggestel het om die plek by haar oor te neem, sou dit nie in die laaste ruk soos ‘n sementblok om die voet gevoel het nie. Dan sou sy dalk ook ‘n bietjie kon gaan rondrits. Maar Riëtte en haar man het pas ‘n baba ryker geword. En Ricus geniet sy werk in die Natalse middellande.

Sy oorweeg dit soms om Clair’s Khaya in die mark te sit, al het sy dit van haar ouma geërf … Iets wat seker ‘n onvergeeflike sonde sal wees. As sy eendag daar bo deur die poorte stap, wag haar voorsate haar in om haar eers te teer en veer, voordat die vewelkomingsfunksie ‘n aanvang neem.

Clarissa sit ‘n pan met ‘n druppel olie op die stoof en haal spek en eiers uit die yskas. Die spek kom eerste aan die beurt. Daarna breek sy eiers in die pan. Sy hoef nie te vra nie, sy onthou mos dat Francois sy twee eiers feitlik blou van hardheid eet.

En bruin roosterbrood. Twee snytjies vir hom en een vir haar. Botter en aarbeikonfyt.

Sy dek weer twee borde, messe en vurke op die plekmatjies. Hierdie kombuis etery raak ‘n gewoonte.

Naderhand wonder sy hoe ver Francois is met sy koffieskink proses? Hoekom is dit skielik so stil hier agter haar in die kombuis? Is die man so verdiep in die brosjures? Sy draai om na waar hy bewegingloos na háár staan en kyk. Staar? Sy hoef nie gedagtes te kan lees om te verstaan wat die uitdrukking op sy gesig beteken nie.

Hy is in verwondering oor gevoelens waarvan hy onverwags bewus raak. Hy begin om vir haar om te gee. Te veel in ‘n heeltemal te kort tydjie en hy verstaan glad nie hoe so iets gebeur het nie. Hy het nie daarvoor gevra nie, want dit maak hom kwesbaar. Sy verstand waarsku dat hy moet hakke wys en hardloop. Maar iets laat hom lus voel om die nuwe ontwaking te koester en ‘n kans te waag. Al is sy blou oë stip en peinsend op haar gerig, is dit so sag dat dit haar tot in haar diepste wese ontroer.

Clarissa wonder sélf wat gebeur het. Hoe word iemand van wie sy twee maande gelede niks geweet het nie, so ‘n belangrike deel van haar lewe? Daar gaan nie ‘n dag verby waarop sy nie wonder hoe dit met hom gaan nie.

Dis so stil dat sy elke tik van die muurhorlosie kan hoor.

Kry jou eboek by liefdesverhalenmeer@gmail.com R20.00 of kry dit op Amazon:

Clarissa 3 – Ruiter van die dood.

Iewers in Augustus jaag ‘n ruiter en sy perd voor ‘n aankomende voertuig in. Die ruiter, sy perd en die bestuurder van die voertuig sterf op die toneel. Steeds jaag die perderuiter voort, asof sy lewe daarvan afhang …

Clarissa hoor maar min van Francois Duval. Hy is ‘n bietjie versigtig vir haar, want sy weet meer van hom, as wat hyself besef. En dit maak seer.

Sy gaan kuier by Anton en Elmien op hulle plaas en ontmoet die spookruiter en vir dokter Charl Renard, wat met probleme van sy eie worstel. Aanvanklik kan sy hom  nie hanteer nie.

Clarissa kom om en by halfses eers in Bosbokrand aan. Hoe is dit moontlik dat sy so stadig vorder en dit met die wonderlike sterk vierwielaangdrewe Audi?

Sy bel vir Elmien: “Jong julle moenie my te vroeg verwag nie. Ek het my misgis met die tyd wat die roete sou neem nadat ek uit Sabie weg is. Eet as julle reg is. Ek het ‘n gevulde pannekoek by Harry’s geëet en dit sal my hou tot more.”

“Ek hou nie daarvan dat jy in die donker ry nie. Wees net versigtig en bel as iets verkeerd gaan. Ek en Anton is op bystand.”

“Niks behoort verkeerd te gaan nie …”

Dit is al donker toe sy die laaste skof verby die Acornhoek afdraai aandurf. Dan is Klaserie voor haar. Hiervandaan is dit ongeveer twintig kilometer tot op die plaas, as sy die GPS kan glo.

Net verby die Klaserie-afdraai skakel Elmien haar op die sel en Clarissa trek soos ‘n gehoorsame padverbruiker op die skouer af.

“Waar is jy?” vra Elmien angstig.

“Naby! Net verby Klaserie.” Sy lees die plaas se naam aan haar linkerkant en ‘n bord aan haar regterkant. “Volgens my kar se GPS is ek nou ongeveer twintig kilometer van julle af.”

“Dankie tog. Ons was al dood van bekommernis.”

“Dit was nie die plan om julle te ontstel nie. Skuus man.” Maar voordat Clarissa kan aflui, gebeur daar iets so dramaties dat sy haar selfoon op haar skoot laat sak en net staar.

“Clarissa?” hoor sy hoe Elmien iewers te midde van die snaakse ‘mirage’ uitroep.

Die groot swart perd met die hartvormige bles op die voorkop het van nêrens af verskyn. Wit stoom staan voor sy neus en van sy lyf af op, asof hy vuurwarm gedryf is deur sy ruiter in ‘n oorlewingsrit. Van die skrik vir haar voertuig wat in sy pad staan, klim hy op sy agterpote en kap woes met sy voorste hoewe. Die ruiter moet alles insit om nie af te val nie. Wanneer die perd weer viervoet op die aarde trap, hoor Clarissa skote klap.

“Help my!” skreeu die man en kyk Clarissa in die oë voordat hy met ‘n boog uit die saal trek. Hy ploeg in ‘n stofwolk op die pad se skouer, terwyl sy perd paniekerig probeer wegkom. Maar hy gly en sy agterbeen vou onder hom in. Hy rol om op sy rug, struikel weer half orent en hink reguit op ‘n aankomende voertuig af.

Instinktief koes Clarissa vir die vlieënde rondtes en bid dat die bestuurder in die kar wat aankom sal kophou. Hy is waarskynlik self in ‘n stupor geskrik. Hy rem en swenk weg, mis die spartelende perd net net, maar raak daarna die pad byster en stort oor ‘n afgrond. Ligte wat brand en verdwyn soos ‘n kar wat menige kere rol. Uiteindelik stop dit iewers onder tussen bosse en gras.

Daarna is dit stil. Doodstil.

Selfs die stof gaan lê.

Wat nou? Clarissa haal haar flits uit die paneelkissie en lig in die bosse. Toe spring sy uit die Audi. Sy moet iets doen. Gaan kyk of die slagoffers nog leef.

Sy lig met die flits na waar sy vermoed die ruiter die grond genadeloos hard getref het. Daar is niks.

Dalk het hy van die pad se skouer afgerol. Sy hardloop nader en lig met die flits waar sy verwag om ‘n lewelose liggaam en ‘n gewonde perd te sien…

Steeds niks.

Het hy dalk iewers in gras platgeval om onsigbaar te wees vir sy vyand? Duidelik nie. Aan die kant van die pad is die plaasdrade nog heel.

Dan was hy nooit daar nie. Nie vanaand nie.

Clarissa hardloop na die afgrond waaroor die voertuig is. Dié is nog daar.

Daar kom ligte van agter af. Nog ‘n stel ligte van voor af.

Dit is ‘n baie ou bakkie met ‘n kappie oor sy bak waarin ongeveer sewe mense sit. Nog drie voor in, waarvan een ‘n vrou met ‘n baba is. Clarissa is dankbaar dat die perd nie voor hierdie bakkie ingehardloop het nie. Sy ys as sy dink aan al die liggame wat dan sou seerkry en rondgeslinger word as die bestuurder die ongeluk wou vermy.

“Probleme, mevrou,” vra die bestuurder.

“Daar was ‘n ongeluk. ‘n Perd wat voor ‘n kar ingejaag het. Hy het uitgeswaai en oor die afgrond gery.” Sy beduie met die flitslig na waar die kar op sy dak lê.

Daar waar iemand nou hande-viervoet by die venster uitkruip en teen die wal uitgesukkel kom terwyl bloed oor sy gesig stroom.

Nog ‘n voertuig hou stil. Waar kom almal vandaan? Clarissa was oortuig dat hare die enigste kar op die pad is.

“Ons bel die nooddienste. Hier is ‘n sendinghospitaal so drie kilometer terug op die Kampersruspad. Miskien is daar ‘n dokter aan diens.”

“Toemaar, ek is een van die hospitaal se dokters. Is daar nog beseerdes?” vra ‘n man wat uit ‘n ouerige tweedeur Pajero geklim het en haastig na die pasiënt drafstap.

Bel! Vir die eerste keer dink Clarissa weer daaraan dat haar selfoon iewers in haar kar lê en dat sy nog laas met Elmien gepraat het.

3

“Ons is nou daar. Ons ry al,” klink Elmien se ontstelde stem in Clarissa se ore toe sy uiteindelik weer by haar foon kom en terugbel. “Is jy orraait? Hoe lyk die kar?”

Daar is vier missed calls van haar en Anton op die foon.

Clarissa keer. “Nee wag, ek is orraait. Ek was nie in die ongeluk nie. Daar het net een voor my gebeur. ‘n Baie snaakse ongeluk.”

“Wel ons draai nie nou om nie. Sien jou nou.”

Sy stap terug na waar die slagoffer wat in die ongeluk was nou op die gras lê. Die dokter kon intussen daarin geslaag om die bloed wat uit sy kopwond stroom te stop.

Sy oë is egter steeds wydgesper en hy prewel oor en oor: “Die perd. Die groot swart perd.”

‘n Gemerkte polisievoertuig hou stil. Een kyk van die polisiebeampte wat uitklim en nou by hulle kom staan en sy gevolgtrekking is, “dronk soos ‘n vrugtetor aan ‘n garedraad. Wat is sy storie van ‘n groot swart perd?”

Die dokter keer. “Nee, kom ons kyk eers. Hy ly waarskynlik aan skok en het ‘n slegte kopwond. Dalk halusineer hy. Wat is jou naam?”

“Donald Alberts.” Die man beur orent.

“Hoeveel vingers?”

“Twee. Ek is oukei, dokter. Maar daar was ‘n groot swart perd.”

Die dokter glimlag gerusstellend. “Jy sal moet steke kry. Weet jy van die sendinghospitaal hier naby. Ek is pas van diens af, maar een van my kollegas sal kan help. Hy sal jou waarskynlik vir die nag laat opneem en moniteer.”

“Hier wás ‘n perd,” kom Clarissa tot sy redding. “Dit het van daar af gekom en eers op my afgepyl. Gelukkig het ek langs die pad gestaan om ‘n oproep te neem, anders was my kar dalk die een wat daar onder op sy dak lê.”

Die polisiebeampte kyk lank na haar, voordat hy besluit dat sy darem nugter genoeg lyk om mee te praat. “Dan moet ons kyk watter wildboere in die omgewing hou perde aan. Sal julle die dier erken as jy hom weer sien?”

“Swart, met ‘n wit bles teen die voorkop,” antwoord Donald sonder om te skroom.

“Die bles is amper hartvormig, met ‘n streep wat tot op die neus loop,” bevestig Clarissa.

Die boek kan gekry word by liefdesverhalenmeer@gmail.com R20.00 of op Amazon:

 

Clarissa 4 – Loervink. Dit is sleg om besteel te word. Slegter om die heeltyd te voel dat iemand jou afloer, terwyl jy besteel word.

Karl Struben se lêer is gister gesluit. Die skrywe in die verslag kom kortliks op die volgende neer. Karl Struben, in lewe opsigter en inwoner van die Berg-landgoed het van die leer af geval, sy kop hard gestamp en in die proses sy nek gebreek. Toevallig land hy op die yslike stuk plastiek wat hy gebruik het om die plaveisel teen verf wat mors te beskerm. Die wind waai die punte oor sy liggaam. En die reën wat volg veroorsaak dat niemand ‘n neus by die deur uitsteek om te gaan ondersoek instel nie.

Dit was dus ‘n ongeluk. Karl Struben het nie vyande gehad nie. Ook nie juis vriende wat gereeld kom kuier nie. Sy kinders bly oorsee.

Die persoon wat daardie Maandag op sy liggaam afgekom het, is sy buurvrou Jolene Greeff. Sy was in die Wildtuin vir die naweek.

As opsigter van Berg-landgoed was Karl se inkomste maar karig. Dié dat hy self die verfjop van sy geut aangepak het. Die gees was gewillig, toe drop sy vlees hom, doer van die boonste sporte van die leer af.

Gister was ook die dag waarop Karl Struben se seun James en dié se vrou Maja uit Australië aangekom het, om van hom te kom afskeid neem. Hulle sal ook in die volgende twee weke sy goed uitsorteer en die plek te ontruim. Al doen hulle finansieël besonder goed in Perth, is dit nie asof daar geld rondlê vir vliegtuigkaartjies nie.

Mens kan seker nie altyd verwag dat die dood mens waarsku soos die kanker wat sy ma Sielie vir drie jaar afgetakel het nie.

James se pa se dood het gekom soos die spreekwoordelike dief in die nag. Onverwags. Genadeloos. Op ses-en-sewentig was die ou kêrel nog so taai soos ‘n ratel en van plan om binnekort by húlle in Australië te kom kuier. Hy het dit selfs oorweeg om daar te kom woon.

‘n Duur proses, maar al lyk dit op die oog af asof die ou man niks besit het nie, is daar tog iets besonder waardevol in sy huis. ‘n Belegging. ‘n Fantastiese familie-skat wat ma Sielie van haar ouers ge-ërf het.

Wie sou ooit kon raai dat die minder mooi skildery van die halfnaakte etniese bruid wat bokant Karl Struben se bed gehang het een van Irma Stern se werke was?

Niemand. Want sedert sy vrou se dood het Karl niemand in sy slaapkamer ontvang nie. Hy het ekstra slotte aangebring en die deur gesluit, selfs al was hy net winkels toe.

Al het niemand die skildery ìn die huis gesien nie, het die skildery se bestaan opskudding buite Karl se beskeie blyplek veroorsaak toe hy ‘n maand voor sy dood begin voorbrand maak het om dit te verkoop.

Maar Mohammed het nooit na die berg toe gekom nie. Die berg is na Mohammed geneem. Verskeie van hulle. Toegedraai in ‘n laken het Karl Struben die skildery op neutrale plekke vir potensiële kopers gaan wys. Een het selfs van so ver as Kaapstad af gekom. Die ontmoetings het by verskillende kleinerige koffiewinkels en gastehuise in en om Nelspruit plaasgevind. Al die kunskenners het bevind dat die skildery eg is en dit sonder om te skroom met ses syfers plus gewaardeer. So ‘n rare fonds dop nie elke dag uit die spreekwoordelike kelder op nie.

Geen wonder Karl wou nie mense toelaat in sy ‘kelder’ nie. Hy wou rustig en op sy tyd onderhandel met die koper wat met die hoogste bod vorendag kom.

Geld wat Karl se reis en moontlike verblyf in sy nuwe land moes betaal.

Nou is dit James en Maja se erfporsie. Natuurlik het hulle reeds begin somme maak en beplan wat hulle daarmee gaan doen.

Daar is net een laaste struikelblok. ‘n Grote …

James en Maja het hulle tasse op die gehawende houtbankie langs die dubbelbed in die gastekamer neergesit. Die sleutel van die hoofslaapkamer was nou wel nie meer met bobbejaan-snot agter die mosaïk kruis in die gang vasgeplak nie. Dit het in die slot gesteek en die deur het op ‘n skreef oopgestaan.

Nie dat dit vreemd is nie. Karl sou tog beslis nie die deur sluit as hy tuis is nie.

James en Maja het ingestorm en voor Karl Struben se enkelbed in die hoofslaapkamer vasgesteek en opgekyk na waar hulle fortuin sou hang… toe die skok van ‘n leeftyd hulle tref.

Dit is weg.

Die Irma Stern-skildery het soos mis voor die son verdwyn. Daar is wel ‘n verkleuring in die verf teen die muur wat wys dat daar eens ‘n skildery vir ‘n hele paar jaar die daglig van die verf afgehou het.

Maar van die skildery wat vir die vierkant verantwoordelik was, is daar nie ‘n teken nie.

Konsternasie is nie regtig die woord om gevoelens in daardie stadium te beskryf nie. Platgeslaan, geskok tot in die fondamente van hulle menswees en magteloos het hulle aanvanklik daar gestaan.

Waar begin ‘n mens soek? By die eienaar van Berglandgoed wat ‘n spaarsleutel van elke wooneenheid op die eiendom het? Maar die man sweer hoog en laag dat die enigste ding wat hy in Karl se woonstel gaan doen het, was om die krag af te skakel. Dit was nie eens nodig om die yskas leeg te maak nie. Dit was reeds leeg. Behalwe vir twee tweeliter Cokes. Die res het hy gelos vir James en Maja om uit te sorteer.

Hulle glo hom. Barend van den Berg van die Berg-landgoed is self oor en oor ‘n miljoenêr. En as hy enigiets koop wat ouer as sewentig jaar is, sou dit heel waarskynlik nog ‘n veteraanmotor wees om by sy versameling te voeg.

Die volgende persoon wat James onder kruisverhoor neem is die buurvrou Jolene. Het Pa Karl by vroumense gekuier, of hulle by hom? Wie was in sy slaapkamer sedert sy dood?

Niemand van wie sy weet nie. Net Barend wat die krag afgeskakel het en die yskas se deur kom oopmaak het. Barend se vrou Karien was by. Maar hulle het beslis met niks daar uitgestap nie. Hoekom sou hulle?  Dit is tog James en Maja se plig en voorreg om die plek te ontruim. Hy het hulle juis ‘n ekstra maand kans gegee om dit te doen, want hulle kom van ver af.

Hy kon die plek intussen verhuur het, maar hy is nie geknel vir die soort kleingeld nie.

En Jolene? Sy was nog net een keer tevore tot in Karl Struben se sitkamer. Maar gang af? Nog nooit. Hoekom?

Het die susters van die kliniek hom ooit in sy kamer kom sien? Nee Karl was blakend gesond tot op sy laaste dag.

Iemand wat die woonstel skoonmaak of diens?

“Jou pa het self skoongemaak. Hy het gesê sodra hy in Australië woon, is daar nie ‘n mop wat die vloere vanself was nie.” Jolene kyk van die man na die vrou. Iewers is daar ‘n groot skroef los. “Wat gaan aan?”

“Daar was ‘n skildery in my pa se slaapkamer … ‘n Irma Stern. Dit is gesteel, of weg. Ek het nog die dag voor my pa se … ongeluk met hom oor die ding gepraat. Toe was dit nog daar.”

“Dit was beslis nog daar,” het sy vrou Maja bevestig.

“Wat? ‘n Irma Stern?” Jolene hoef nie te veel koerante te lees of elke aand nuus te kyk, om te weet dat ‘n Irma Stern skildery onbetaalbaar, onkoopbaar en onbekombaar is nie. Iemand haal dit nie van ‘n muur af en verkoop dit sonder om ‘n drie geslagte terug pedigree daarvan voor te lê nie. So skildery haal koerante, word met trompetgeskal en simbale aangekondig. Dit word geadverteer waar alle belanghebbendes en voornemende kopers dit kan sien.

Dan raak dit nog meer sigbaar op veilings.

“My oupa het dit van die kunstenares self gekoop. Daar is ‘n kort nota agterop die skildery geplak in mej Stern se eie handskrif wat dit bevestig.”

James is polisie toe om ‘n verklaring af te lê. Daarna kontak hy Nuus 24 met die laaste foto’s wat van die skildery geneem is. Daar is onderhoude met hom en Maja op TV nuus, plaaslik en internasionaal. Die lughawens is verwittig om uit te kyk vir die kosbare werk net vir ingeval iemand die skildery landuit wil smokkel.

As hy nie reeds daar is nie.

James Struben bied selfs ‘n beloning aan vir enige inligting wat lei tot die opspoor van die skildery. ‘n Grote …

Wanneer die polisie se spesiale taakmagspan ry en die stof uiteindelik dreig om te gaan lê, haal Jolene haar foon uit om haar broer te bel.

4

Francois draai die steak op die vuur om. Hy hou van braai. Hy hou egter nie daarvan dat sy selfoon se lui dit onderbreek nie.

Hy kyk lank en gesteurd daarna en Clarissa hou hom geammuseerd dop. Hy wag beslis dat die persoon wat bel moet moed opgee. Die foon raak vir ‘n kort rukkie stil, maar dit lui dadelik weer. Iemand soek Francois Duval met ‘n seer hart.

Uiteindelik sit hy die braaitang neer en tel die foon traag op om te kyk wie dit is.

“Dit is my sus. Vertrou haar om enige heilige oomblik te onderbreek.” Hy vee oor die skerm en antwoord. “Jolene?”

Die gewone oor en weer groeterye. Die vrae oor hoe dit gaan en toe verander Francois se gesig.

“Wat? ‘n Irma Sternskildery het uit jou oorlede buurman Karl Struben se huis verdwyn? Jy praat nou van hoë profiel Africana. Is jy seker dat die skildery enigsens bestaan of vat die mense ‘n kans?”

“Die skildery bestaan. Daar is waardasie sertifikate en ‘n foto van die prent. Wanneer laas het jy koerante gelees en nuus gekyk? Suid-Afrika gons oor die etniese bruid wat verdwyn het.”

“Werklik? Nee ek was besig om te pak. My DSTV is al vir ‘n week lank ontkoppel.” Die steaks vat vlam en Francois druk die foon op luidspreker en plak dit op die tafel neer. Hy gryp sy tang en draai die vleis haastig om.

Steaks is belangriker as ‘n verdwene Irma Stern-skildery.

Noudat die foon op die tafel naby Clarissa lê kan sy ook hoor wat Jolene sê:

“Volgens sy seun en skoondogter was die skildery nog die aand voor Karl se dood in die huis. Karl was op die punt om dit te verkoop en die geld te gebruik om mee te emigreer Australië toe. Hy het die skildery ‘n rukkie tevore laat waardeer vir ses en meer syfers en verskeie kopers het belanggestel.”

“En daar was ‘n toeloop van mense in Karl se huis om te kom kyk… As ‘n miljoen rand op die tafel lê, beskikbaar om net te vat.”

“Nee wag, Karl het nooit met die skildery te koop geloop nie …” Sy lag. “Oukei, nie op daardie manier nie. Hy het die skildery in ‘n laken toegedraai en al die waardeerders op ander plekke in Nelspruit ontmoet, juis omdat hy nie wou hê vreemdes moet weet dat hy so skildery het nie.”

“Enigiemand kon dit in sy huis opspoor as sy foon ge-Rica is … Hoe lank voor sy dood het die laaste waardeerder of koper dit in lewende lywe gesien?”

“Ongeveer ‘n week blykbaar. Iemand van die Pretoria kunsmuseum. Hulle het geskik, maar die transaksie het nooit plaasgevind nie. Sy kinders is verpletter … Eers die pa se dood en nou die skildery. James is oortuig dat die twee verband hou met mekaar. Hy glo sy pa is vermoor vir die skildery. Maar die polisie beskou dit as twee afsonderlike gevalle.”

“Vermoor? Hy het mos van die leer afgeval. Het hy nie altyd ‘n bietjie hard gedrink nie?”

“Hy was relatief nugter toe hy geval het. Of liewer, dalk van die leer afgehelp is. Ek glo ek is die laaste persoon hier wat hom lewend gesien het voor ek en Mary-Ann wildtuin toe is en dit was in die oggend.”

“Iemand wat lief is vir sy dop, hou nie noodwendig die horlosie dop nie.”

“Ek het met hom gepraat. Ek weet hoe lyk iemand wat aangeklam is. Hy het nog dieselfde klere aangehad toe ek en Abel hom gekry het.”

“Jammer.”

“Ja dit was sleg om hom so te sien.” Daar is ‘n oomblik se stilte. “James sê hy sal ‘n privaat speurder betaal om die skildery op te spoor. Die polisie gaan niks regkry nie. Hulle het te veel ander werk. Toe het ek aan jou gedink…”

“Hou op dink, ek braai.”

Boek beskikbaar by liefdesverhalenmeer@gmail.com R20.00 of Amazon:

Clarissa 5 – Wraak van die vrou in die water – Vir ‘n tyd lank praat almal oor Diana Croxley wat feitlik spoorloos verdwyn het vanaf hulle luukse huis in Marloth Park. Haastig om Afrika se stof af te skud, verkoop haar man die huis vir ‘n appel en ‘n ei aan Francois Duval, die privaatspeurder wie hy aangestel het om die saak te ondersoek. Maar die saak neem skielik ‘n onverwagse wending …

Clarissa besef eers dat daar weer selfoonontvangs is, toe die foon ‘n klomp kere na mekaar biep om boodskappe aan te kondig. Dan is sy nie meer te ver van Satara af waar sy beplan om oor te slaap nie.

Daar is eintlik regtig niks wat haar haas om in Marloth te kom nie. Francois se bouwerk en sy planne gaan nie weghardloop nie. Dit het buitendien deur die nag toegetrek en hulle voorspelheelwat reën teen laatmiddag se kant vir Limpopo en Mpumalanga. Dit sal te nat wees om met sement te werk.

Maar as sy langer in Hoedspruit gebly het, sou sy dalk nie vanaand in Elmien en Anton se gastekamer oorgebly het nie. Charl … Haar hormone word demone as sy net aan hom dink. Sy sal niks toelaat totdat sy nie meer sekerheid het oor wat die toekoms behels nie.

Daar is niks soos ‘n tref en trap nag om vriendskappe te vernietig nie.

Al vertel haar lyf haar dat dit waarskynlik ‘n geleentheid sal wees om te onthou!

Maar is sy gereed daarvoor? Francois Duval is ook nog deel van haar bestaan. Hy gee om, maar probeer sy bes om die teendeel te wys. Daar was ‘n tyd toe sy amper begin glo het dat hy die nuwe man in haar lewe gaan wees. Toe is hy die een wat so hard remme aanslaan dat die liefdesbootjie sommer op die kaai omgedraai het.

Dit maak damn seer.

Clarissa ry by die ruskamp se hek in en is verras om te sien dat daar nogal heelwat karre in die parkeerarea is. Sy loop ‘n draai in die badkamer, koop koeldrank en ‘n broodjie en gaan sit by ‘n tafeltjie op die stoep voor die kafeteria om na haar boodskappe te kyk.

Riëtte wat foto’s van die baba op What’s App gesit het en ‘n klomp vriende koer en kraai.

Elmien wat gebel het en wou weet of sy haar bestemming veilig bereik het.

Sy bel dadelik terug. Dié keer is Elmien se foon besig en sy moet ‘n boodskap los. “Nou net hier aangekom. En nogmaals dankie vir die aand en dat ek daar by julle kon oorslaap.”

Twee boodskappe van Charl. Hy wil ook weet of sy veilig is. Wanneersy hom terugbel, praat hy eers met iemand in die agtergrond. Hy is besig met iets, maar maak tyd vir haar. Dit laat haar byna kosbaar voel.

Dan praat hy met haar. “Bonjour nooi, bel jy uit Satara?”

“Jip.”

“Aah ek wens ek was nou daar by jou. Op ‘n stadium het ons eenmaal ‘n maand Wildtuin toe gery. Toe glad nie, terwyl ek hier in Hoedspruit gebly het nie.Nou mis ek die plek.”

En dan. “Luister mon cheri, ek bel jou later vanaand. Jy sal nie glo nie, ek is eintlik in die teater besig om te sny. Een van die susters hou die foon teen my oor. Dit is eintlik nie toelaatbaar nie …”

“Genugtig, natuurlik is dit teen die reëls. Laat jy gaan. Netnou fire die hospitaal se super jou,” spot sy.

“Dokter Adam kan my nie fire nie, ek het reeds bedank. Bye!”

“Bye.”

Die volgende boodskap is van Francois Duval, sien sy en wanneer sy daarna luister kan sy dadelik hoor dat hy erg ontsteld is.Clarissa, hier het iets gebeur. Jy moet groot asseblief dringend by my in Marlothpark aansluit. Waar is jy op die oomblik? Seblief bel my terug.

Wanneer het hy gebel? Sy kyk op haar foon en sien dit was ongeveer ‘n uur gelede.

Sy volgende boodskap is ‘n halfuur gelede. Die hele ding kan in ‘n nagmerrie ontaard. Hoe laat sien ek jou?

Die laaste oproep is weereens van Francois. Hy moes dit gemaak het terwyl sy met Charl gepraat het. Iets is beslis verkeerd, want hy roep uit: Aag vervlaks man, bel my! 

Sy bel.

Hy moes die foon sit en dophou het, want dit het nie eens regtig gelui voor hy antwoord nie. “Dankie tog, Clarissa.”

“Wat gaan aan? Hoekom klink jy so ontsteld? Is iemand dood?”

“Ja, maar ek wil dit nie met jou oor die foon bespreek nie. Is jy naby?” Sy kan nie onthou dat hy al ooit tevore so ontsteld geklink het nie.

“Ek is in Satara en beplan om vanaand hier oor te slaap.”

“Nee asseblief, los dit en kom deur.”

“Dit is nou te laat om te ry tot by Malelane of Krokodilbrughek. Wil jy vir my oor die foon sê wat aan die gang is, of kan dit wag tot more-oggend?”

“Dit is nou eers drie uur, jy sal dit nog maak.”

“Francois, dit is ál drie-uur. Ek gaan nie jaag nie.”

“Ry tot by Onder Sabie en slaap daar oor, dan kan jy moreoggend vroeër hier wees.”

“En as ek klaar my bespreking gemaak en betaal het?” daag sy hom uit.

“Dan ruil jy dit om. As jy moet kanselleer sal ek jou geld teruggee. Hét jy klaar betaal?” Hy is so omgekrap soos ‘n gewonde luiperd wat in ‘n spelonk vasgekeer is.

“Nee nog nie.”

“Dan sien ek jou more oggend vroeg. Asseblief.”

Clarissa stap by die besprekingskantoor in om vir haar ‘n rondaweltjie in Onder Sabie te bespreek. Daar is ‘n lang tou mense wat wag om gehelp te word. Sy verstaan dit nie mooi nie. Die Oktober skoolvakansie is tog verby. Daar is boonop nie plek vir ‘n muis in Satara nie, hoor sy toe die mense voor in die ry teleurgesteld moet omdraai.

Reg voor haar staan ‘n jong paartjie met ‘n besprekingsvorm. Daar is ‘n ouer dame by hulle. Die uitdrukking op haar gesig is verwese, verlore, verslae …

Op daardie oomblik besef Clarissa hoekom. Die vrou se man is minder as ‘n maand gelede oorlede. Dit is nog onwerklik. Sy raak in die nag aan die slaap en glo dat sy elke volgende oggend uit hierdie nagmerrie gaan wakkerskrik. Dit gebeur nie.

Haar hele wese is in opstand. Hy kan nie weg wees nie.

Dit was so skielik.

Hierdie vakansie het hý nog vir hulle vier bespreek en betaal. En nou staan sý alleen hier. Sy wou nie saamkom nie, maar die kinders wou haar nie alleen laat agterbly nie.

Dit voel soos ‘n stukkie geskiedenis uit Clarissa se eie lewe …

Maar die vrou is nie alleen nie. Haar man staan reg langs haar, sien Clarissa. Sy arms is beskermend om haar skouers gevou, en sy weet dit nie.

Sê haar, pleit sy oë, toe hy Clarissa s’n op hom vang. Ek sal haar altyd beskerm. Ek sal haar altyd liefhê. Ek sal altyd by haar wees.

Sy staal haarself daarteen. Ignoreer hom. Moet net nie dat hy agterkom dat sy hom sien nie.

Wanneer die jong mense hulle rondawelnommers kry en begin wegstap, bly die vrou egter staan, reg voor Clarissa.

“Kom Ma.” Die skoonseun trek die vrou aan die arm agter hulle aan.

Die man pleit by Clarissa. Asseblief help my, sy is so verlore. Ek het gehoop dat iemand my een of ander tyd sal raaksien en met haar sal praat. Ek weet jy doen.

Ignoreer …

Sy stap doelbewus reguit vorentoe dwarsdeur sy beeltenis, asof hy nie daar is nie en vra vir die amptenaar agter die toonbank. “Is daar ‘n rondawel beskikbaar vir een persoon  vanaand in Onder Sabie?”

“Vir net een persoon?” Hy raak besig met die rekenaar en loer op die skerm. Daarna skud hy sy kop. “Niks by Onder Sabie nie.”

Netsowel dat sy nie sommer net begin ry het nie! “Kyk asseblief vir my in Skukuza of Pretoriuskop?”

Hy is nie baie lus nie, maar hy doen dit darem. Uiteindelik kyk hy op.“Lyk tog of daar ‘n baie basiese hutjie in Skukuza oop is. Geen kombuis of badkamer nie. Jy sal die ablusieblok moet gebruik.”

“Doodreg, ek neem dit.” Clarissa haal haar kredietkaart uit en wag vir die transaksie om deur te gaan.

Wanneer sy uitstap val die wasige figuur van die man langs haar in. Sy stap by die kafeteria in om ‘n bottel water en vrugtesap vir die pad te koop.

Sy weduwee staan nie ver daarvan nie. Lusteloos, half teen die koeldrankyskas aangeleun.

Kyk na haar. Sy is ‘n wrak. Sy het opgehou met eet. Sy wil nie meer leef nie. En die kinders is moeg vir die lang gesig.

Clarissa wil haar vir hom vererg, maar sy weet dit sal nie help nie. Sy verduidelik geduldig. “‘n Lang gesig, helaas is deel van ‘n mens se bestaan wanneer jy iemand na aan jou verloor het. Ons almal gaan een of ander tyd deur ‘n rou proses. Een of ander tyd, al wil niemand dit glo nie, raak dit weer beter.”

“Dit voel nie of dit ooit weer beter gaan word nie,” prewel die weduwee onverwags en kyk dan verstom na Clarissa. “Maar hoe weet jy dit?”

“Ag flippit. Sit jy my nou op die spot,” raas sy met die man langs haar, wat nou breed glimlag.

Hannes. My naam is Hannes. Sê dat daar ‘n boodskap van Hannes is.

“Hannes,” herhaal sy. “Hy het vir my gesê.”

“Maar Hannes is dood.” Die vrou is diep geskok. “Ken ek jou? Hoe weet jy wat my oorlede man se naam is?”

“Ek het nie geweet nie. Nee, ons ken mekaar nie …” En ek is nie ‘n blerrie medium nie, los my uit, wil sy uitroep.

Sê haar! Al wat ek vra is dat sy weer moet vrolik wees. Dit sal haar laat beter voel as sy weet ek is nog hier. Maar haar trane maak seer.

“Oukei! Hannes is hier. Hy staan reg langs jou. Hy sê dat hy by jou sal wees solank as wat jy hom nodig het. Hy sal jou beskerm, waar dit binne sy vermoeë is.” Clarissa gee hom ‘n vuil kyk. “Jy weet dat dit nie altyd moontlik sal wees nie. Jy is nie van materie nie.”

“Praat jy met hom? Sien jy hom?” Die vrou gryp haar arm vas. “Ek wil hom ook sien. Hoe doen jy dit?”

“Dit gebeur net …” Clarissa sien nie kans vir lang en ingewikkelde verduidelikings nie. Sy draai na die man. “Is daar nog iets? Ek moet ry om betyds in Skukuza te wees.”

Vanaand sal ek met haar praat in haar drome.

“Moenie beloftes maak wat jy nie kan nakom nie,” raas Clarissa omgekrap, maar sy draai nietemin terug na die ontstelde vrou toe. “Hy sê vanaand, wanneer jy slaap sal jy van hom hoor … droom.En jy moet glimlag. Trane maak hulle seer, daar aan die anderkant. Nou moet julle my verskoon, ek raak laat.”

Uit die hoek van haar oog sien Clarissa hoe die vrou se dogter haastig nader storm. Sy los die water en sap op die naaste rak en drafstap by die winkel uit om weg te kom.

Hannes wag haar langs die kar in.

“Wat dink jy doen jy?” raas sy en maak die kar se deur oop. “Nou is jou dogter vir my die joos in. Ek vat jou nie met my saam nie.”

Nie nodig nie. Ek wou net kom dankie sê!

“Plesier. Totsiens. Goed gaan. Bye. Vaarwel.”

Tot weersiens.

“Nee!”

Net ‘n grappie. Waar is jou humorsin?

“Dit is nie snaaks nie.” Sy klim in, klap die deur toe en ry uit die kamp weg.

Ek hoop jy het ‘n baie goeie rede, meneer Duval, grom Clarissa onderlangs toe sy later net voor die Tshokwanepiekniekplek by ‘n trop leeus verby ry.Hulle vangs is feitlik op die teerpad, maar sy het nie tyd om te stil te hou nie.

Sy ry ook nie in om koeldrank of water te koop nie. Dit kan wag tot in Skukuza.

Dit is nie haar gesprek met Hannes wat haar omgekrap het nie. Dit is sy weduwee se pyn wat seermaak.

Eers toe sy in die bed in haar hut in Skukuza lê, begin sy beter voel. Dit het sag begin reën en die klank daarvan op die grasdak sus haar byna dadelik aan die slaap.

Charl bel haar ‘n halfuur later wakker. “Slaap jy al?”

“Nee, ek is nou wakker …”

Sesuur Woensdagoggend is dit Francois se beurt. “Slaap jy nog?”

“Nee, ek is nou wakker!”

Koop direk in SA rande – liefdesverhalenmeer@gmail.com R20.00 of op Amazon: