‘n Onwaarskynlike Cupido – Adele Reynders

cropped-renza-afrikaanse-skrywers.jpg

‘n Kortverhaal vir Renza se Kortverhale Omnibus –

Monica Thiart bekyk die kaart van Suid-Afrika wat teen haar muur opgeplak is. Dit is vol duimdrukkers, met Pretoria as middelpunt, waarvandaan toutjies gespan is.

Sy mag seker trots voel. Elke duimdrukker verteenwoordig ‘n dorp met ‘n winkel, waar haar tekstielontwerpbesigheid MonT se lappe en produkte verkoop word.

Met haar vinger trek sy die N1 tot by Polokwane na. Dit is waar die verste winkel noord is. Haar vinger ry egter verby tot by Louis Trichardt en draai af in die rigting van Tshipise. As kind het hulle gesin gereeld in die winter daar gaan uitspan. Sommer vir twee of drie weke aanmekaar in ‘n karevaan.

Dit was van die gelukkigste tye in haar lewe.

Die rede hoekom haar vinger vanself vandaar af aan ry, is omdat haar jonger broer en sy vroutjie deesdae daar iewers in die bos woon. Boet doen navorsing vir Departement Omgewingsake of wat ookal hulle dit deesdae noem en skoonsus hou skool by een of ander sendingstasie.

“Kom kuier enige tyd as die stad julle druk,” het Boet en sy anderhelfte genooi toe almal oudergewoonte Kersfees by Pa en Ma in die aftreeoord gekuier het. “Die lewe by ons is anders. Stadiger. Rustiger. Afrika.”

Die woorde stadiger en rustiger bestaan nie regtig in Monica se woordeskat nie. Dit is immers juis omdat sy so hard werk dat haar onderneming so suksesvol is.

Haar ‘ons sal dit oorweeg, dankie’ het die glimlag van haar gewese verloofde se gesig afgevee. Daar was toe al ‘n krakie in hulle verhouding en hulle is kort daarna uitmekaar.

Noudat sy op haar eie is, kan Monica nie insien hoekom sy nie maar die pad noorde toe kan aandurf nie. Enige tyd. Vandag nog!

Monica gaan haal ‘n tas uit haar gangkas en begin pak asof sy vir ‘n jaar weggaan.

Dit is die voordeel van haar besigheid. Solank sy haar sketsblok, selfoon en laptop by haar het, kán sy op enige plek werk, vanwaar sy haar ontwerpe kan e-pos.

Wanneer sy haar bagasie in die kattebak van haar nuwe Mazda laai en begin ry, raak sy regtig opgewonde. Sy was laas so impulsief nadat sy graad gevang en mondig geword het, meer as vyftien jaar gelede. Sy het daardie aand in Johannesburg met net ‘n rugsak en vyf stukkies klere op ‘n vliegtuig geklim en die volgende oggend met ‘n skrikwekkende plat beursie op Frankfurt se lughawe afgeklim.

Vir die avontuur van ‘n leeftyd.

Sy kon ‘n bietjie Duits praat, maar geen Italiaans nie. Daarom kon sy dit nie eens aan haarself verklaar hoekom sy vier maande later in Milan as sjef in ‘n Italiaanse Bistro begin werk het nie. Met Milan as basis het Monica die hele Europa platgetoer. Drie jaar later het sy duidelik vanaf die kruin van Gibraltar gehoor hoe Morocco haar roep!

In Morocco kon sy uiteindelik haar kwalifikasie as tekstielontwerper inspan en sommer werkservaring opdoen. Haar loon was gratis blyplek in ‘n kommune en ‘n bordjie kos elke dag, wat sy moes help voorberei. Maar die kennis in drukprosesse en kleurgebruik kon geen universiteit in Suid-Afrika haar leer nie.

Monica draai op die N1 noord.

Dit is waar die Mazda CX5 se GPS beswaar aanteken: “Herbereken. Waar moonlik, maak ‘n u-draai en ry vyftien kilometer terug.”

“Nee, ons gaan noord,” lig sy die blink blou voertuig in.

“Sleutel die koördinate van jou nuwe bestemming in.”

“Ek kan nie, ek weet nie waar hulle bly nie.”

“Wie is húlle?”

“Familie. My broer en sy vrou.”

“GPS, vind Familie,” beveel die CX5.

Monica glimlag geduldig. Dit het haar lank geneem om gewoond te raak aan die nuutste tegnologie waar jou kar kan terugpraat. “Jy verstaan nie regtig wat familie is nie. Laat ek verduidelik. Die sleutel lê in jou naam. My van is Thiart. My ouers was meneer en mevrou Thiart en ons kinders is ook Thiart.”

“Familie, familie, vind familie.”

Genade, die kar gaan haar van haar kop af dryf, besluit Monica en skakel musiek kliphard aan.

Anderkant Louis Trichardt sit sy sagter om op die padaanwysings te konsentreer. Sy draai regs by ‘n bruin bord waarop geskryf staan Tshipise, Punda Maria en Pafuri.

Die son staan weste se kant toe. Dalk moet sy ‘n plek vind om oor te slaap en haar broer eers more laat weet dat sy op pad is. Hy en skoonsus is nog jonk, dit is Vrydagaand en dalk het hulle ander planne. Hulle weet nie eens sy is op pad nie.

Vrydagaand! Vir die eerste keer tref dit haar tussen die oë dat haar impulsiwiteit haar dalk vanaand in die kar gaan laat slaap. Dalk het broer en skoonsus naweekgaste. Die plekkie waarin hulle woon bestaan uit twee slaapkamers en een badkamer.

Monica is skaars 10 kilometer op die afdraaipad, toe sy ‘n ouerige enkelkajuitbakkie met ‘n oop enjinkap langs die pad sien staan.

Daar steek Mazda CX5 vierwiel vas. “Ons is hier. Dit is familie.”

“Wat laat jou dink ons is familie? Ek het die man nog nooit met ‘n oog gesien nie.”

“Nie jou familie nie, myne. Familienaam, Mazda. Dit is ‘n Mazdabakkie.”

“Dit is die familie wat ons nie regtig wil ken nie.” Monica trap die brandstofpedaal dieper in, maar haar kar het klaar besluit. Hy stop.

Intussen draf die bestuurder van die bakkie nader en kom buk langs haar halfmas ruit om in te kyk. Die uitdrukking op sy gesig, wanneer Monica verby ‘n oliebesmeerde gesig en mooi bruin oë kyk, sou waarskynlik as versigtig optimisties beskryf kon word.

Sy ewe besmeerde hande praat saam. “Ek dink ek het ‘n gasket geblaas … Daar was ‘n slag en toe staan die stoom.”

“Eaau, wat het jou so kwaad gemaak dat jy ‘n gasket geblaas het? Enige ander simptome? Hoë bloeddruk? Hoofpyn?”

Hy deins effens terug en toe lag hy. “Oukei, dit is wat die bakkie gedoen het. Terloops, ek is Stofberg Vosloo. Noem my sommer Stof.”

“Stof Vosloo.” Dit klop. Sy mag nie lag nie. Sy glimlag net. “Monica Thiart.”

“Dankie dat jy gestop het, Monica.”

Nie sý nie, die kar!  “Plesier. Hoe kan ek jou help? Moet ek iemand vir jou bel?”

“Nee, dit sal nie werk nie. Kan jy glo, op hierdie vervlakste kol is nie selfoon opvangs nie. Waarheen is jy op pad?”

Nie selfoon ontvangs nie? Amper blaas iets in haar brein, voordat sy byna asemloos antwoord. “Tshipise.”

“Dan ry jy verby die gasteplaas Moffat’s Rus. Jy sal die bord sien. Stop asseblief daar en vra my broer om my met die Pathfinder te kom sleep. Ek kan nie die bakkie met kruideniersware hier los nie.”

Monica kyk na sy vrag. Hy is reg. Al is daar nou niemand in sig nie, mag die verkeerde elemente wat verbyry, dalk besluit dat die koelhouers en kruideniersware agterop heeltemal te aanloklik is om uit te los.

“Het jy ‘n sterk tou in die bakkie?” Daar doen sy dit weer. Eerste impulsiewe aksies lei altyd na ‘n volgende een en dan nog een! Waar gaan dit eindig?

“Ek het ‘n tou!” Stof kyk haar ondersoekend aan en toe maak hy seker dat hy reg gehoor het. “Wil jy my sleep met hierdie luukse wa van jou?”

“Hoekom nie? My kar is sterk genoeg en splinternuut.”

Stof waarsku. “Jou motorplan en versekering verval onmiddelik as iets verkeerd loop.”

“Ek is bereid om die kans te waag. Kry die tou.”

“Trek maar stadig weg,” waarsku Stof nadat hy sy knope geknoop het. Daarna stap hy terug en skuif agter die bakkie se stuurwiel in.

Hy flits ligte en Monica begin ry.

“My senuwees is klaar,” raas die CX5. ‘n Kar so naby aan sy stert laat die waarskuwings sirenes luidkeels afgaan.

“Ag, kan jy nie net vir ‘n sekonde stilbly nie?” brom Monica met haar aandag op die pad voor haar. Sy moet boonop uitkyk vir die plaasnaam: Moffat’s Rus, aan die linkerkant.

Daar. Sy sit haar flikkerligte aan en draai. Daarna moet die CX5 alles uithaal om deur die plaaspad se dik sand te ploeg. Uiteindelik hou hulle voor ‘n plaashuis stil.

Stof begin net om die toue los te maak, toe iemand op hulle afstorm. Dit moet familie van hóm wees, want dieselfde bruin oë kyk uit ‘n skoon gesig na haar.

“Boet, dis tyd. Ons sal moet jaag, anders kom die kleintjie in die kar!” Hy sien die tou waarmee Stof sukkel. Sy oë draai na die CX5 en rek wyd toe Monica uitklim. “En nou? Wat gaan aan?”

“Die blerrie ding het met my gaan staan,” brom Stof. “Maar moenie dat my probleme joune word nie. Kry vir Tanja by die hospitaal.”

Maar sy broer beduie eers na Monica: “Wie is sy?”

“Monica Thiart.”

“Petrie Vosloo. Ek weet nie waar hy aan jou gekom het nie, maar dankie dat jy hier is om hom te help. Die groep is oor minder as ‘n uur hier.”

“Ry, Boeta.” Stof kom orent en druk die jonger man se skouer. “Ons het alles onder beheer. Sterkte.”

Sy dapper boetvaardigheid was net ‘n front, want toe Petrie agter die stuurwiel van die Pathfinder inspring en met ‘n spoed wegtrek steun Stof met gevoel. “Dit was nie die plan nie. Maar ek is ook bly dat jy hier is.”

“Moenie bly wees nie. Ek gaan ry.”

“O.” Stof vryf verleë oor sy hare en staan terug. “Ek verstaan. Daar is seker mense wat vir jou wag … iewers.”

“Ek was op pad na my broer en skoonsus toe, maar het intussen ek besluit om by Tshipise oor te slaap.”

“Tshipise? Het jy bespreek?” Stof skud sy kop. “Dit is Vrydagaand. Naweke en veral hierdie tyd van die jaar is die plek gewoonlik vol bespreek.”

“O gits. Enige ander gasteplase op pad daarnatoe?”

“Moffat’s Rus.”

“Gaaf. Wat kos dit om hier oor te bly?”

Hy trek sy skouers op. “Is ongelukkig ook vol bespreek. Maar daar is ‘n klein gastekamertjie in die huis oop, as jy my sal help om hierdie krisis te hanteer. En ‘n garage vir jou mooi kar.”

“’n Onweerstaanbare aanbod,” besluit die CX5 namens haar. “Ek weier om ‘n kilometer verder te ry.”

“Verraaier,” sis Monica sag, voordat sy antwoord. “Gaaf dankie, maar moreoggend wil ek vroeg vertrek.”

“Na ontbyt!” pers Stof haar af.

Sy het nie veel van ‘n keuse nie, het sy? Ewe gelate stap sy bakkie toe en help om die sakke af te laai en in te dra.

Met alles in die kombuis, vra sy: “Nou ja Stof, wat doen ek?”

“Vir vanaand gaan jy sous en slaai maak.”

“Het julle nie mense wat hier werk nie?”

“Net ‘n man en vrou en hulle woon môre ‘n begrafnis in Giyani by. As jy nie kan kook nie, kan jy darem seker lees.” Hy tel ‘n swart boek van die rak af. “My skoonsus is baie punktueel. Sy skryf alles in hierdie swart boekie neer. Beplanning van etes en staatmaker resepte.”

Monica vat die boek by hom en vra. “Hoe laat kom jou gaste?”

Hy loer in die rigting van die kombuishorlosie asof die antwoord van daar sal kom. Dit doen. “Oor twintig minute, as hulle op skedule is.”

“Liewe aarde dan moet jy sekerlik eers stort. As jy wil … stort.”

“Natuurlik moet ek gaan stort.”

Wanneer hy omdraai en wagstap, blaai Monica na vandag se datum in die swart boek. Daar is inderdaad twaalf gaste op pad. Die rondawels is toegeken. Spyskaart vir vanaand: Hoendersosaties, skaaptjops en wors.

Waar sal dit wees? Koelhouer, skop haar logika in en sy maak die deksel oop.

Dit is daar. Ook die spek, eiers, kaasworsies en maalvleis vir more se etes. Onder in ‘n kas vind Monica groot enamelbraaiskottels en pak vanaand se braaivleis daarin.

Die res van die koue produkte sit sy in die yskas. Die nagereg, twee gebakte kaaskoeke staan reeds op die boonste rak.

Op die stoof staan ‘n yslike pot gaar pap. Van die sous wat op Tanja se lysie vir vanaand is, is daar geen teken nie. Dit moet nog gemaak word.

Monica haal ‘n pan uit, gooi olie in en skakel die plaat aan. Daarna trek sy ‘n snyplank en skerp mes nader, skil en kap uie en gooi dit in die pan.

“Sjoe, jy doen iets reg.” Stof staan in die deur van die kombuis. In sy bruin oë lees Monica bewondering en waardering. “Jy doen daai uieding soos ‘n professional.”

“Nê? En hoe lank staan jy nou al hier en doddle? Het jy nie werk nie?” Sy sny tamaties in blokkies en roer dit met vars pietersielie en basieliekruid by die uie in.

Wanneer sy later opkyk staan Stof steeds in die deur. Daar is ‘n uitdrukking op sy gesig wat sy nie heeltemal kan verklaar nie, sy weet net dat dit waarskynlik die soort kyk is wat elke vrou minstens eenmaal in ‘n leeftyd op haar moet voel.

‘n Kyk wat ‘n vrou liggaam, siel en gees kan voed.

Sy hoop háár kyk, waarsku hom dat sy nie mors material is nie.

Dit doen. Hy draai om: “As jy my soek, ek pak gou die drank in die yskas by die kroegie langsaan.”

Monica blaas haar asem stadig uit toe hy wegstap. Hier kom moeilikheid. Sy het reg geraai dat Stof gaan aantreklik wees wanneer sy gesig skoon en sy hare gekam is.

Hy is. Skandelik so.

 

Tevrede dat die sous se plaat laag genoeg is om net te prut, begin Monica soek na borde en eetgerei. Sy pak dit op ‘n skinkbord en gaan soek vir Stof. “Waar eet die gaste?”

“By die twee lang tafels op die stoep.”

“Wys my.”

Hy beduie ewe galant met die regterhand dat sy moet voor stap, verby ‘n eetkamer met vier kleiner tafels, ‘n leefkamer en by die skuifdeur uit.

Die huis is op ‘n effense hoogte gebou, met rondawels in ‘n sirkel rondom ‘n swembad. Die uitsig van hier af oor die plaas en rivier daar naby hang, is asemrowend mooi. Veral die son wat laag oor die water hang, slaan haar asem weg.

Maar tyd om haar nou daarin te verlustig is daar nie.

“Tafeldoeke en servette.” Sy klink soos ‘n sersant-majoor, wat ‘n peloton aan die dril moet kry. Ongelukkig is daar net een troep wat kan reageer.

“Gangkas.” Stof storm vooruit, deur die kuierkamer en gang af, waar hy ‘n kasdeur in ‘n breë gang oopmaak. “Kies enigiets wat jy wil gebruik. Terloops, die eerste kamer op regterhand is joune.”

Net toe lui die klok by ontvangs. Die bussie met gaste het waarskynlik aangekom en Stof drafstap weg.

Monica kyk die inhoud van die gangkas deur. Daar is verskeie tafeldoeke op die rakke, netjies gewas, gestryk en opgevou. Kleur by kleur. Sy kies twee lang tafeldoeke met zebrastrepe, tel veertien wit servette uit en stap daarmee stoep toe.

Dit lyk besonder mooi by Moffat’s Rus se haelwit borde, maar Monica is nog nie heeltemal tevrede met die prentjie toe sy terugstaan nie. Daar kort blomme.

Op die ver punt van die tuin sien sy ‘n ry kraal aalwyne wat mals aan die blom is. Met ‘n skerp mes drafstap sy daarnatoe en sny ‘n paar kandelare met hulle blaarrosette af. Dit maak sy staan in die plat terracotta-potte wat sy in die kombuiswerf opgemerk het.

Uiteindelik tevrede dat alles eksie perfeksie is, stap sy uit na CX5 om haar naweektas te gaan haal en sien dat Stof steeds langs die swembad besig is om die laaste twee gaste by hulle rondawels in te deel. Swart boek in die hand!

Teen die tyd dat sy die CX5 se kattebak oop het, is hy by haar.

“Watter een?” Hy huiwer tussen haar wëreldreis koffer en die naweektassie.

“Die kleintjie, die laptopsak en my handsak.”

“Regso.” Hy haal dit uit en druk die knop van ‘n afstandbeheer aan die bos sleutels in sy hand. Dit laat ‘n garagedeur daar naby oopgaan.

“Jou kar se parkeerplek.”

“Dankie.” Sy klim in die CX5 en ry in.

“Mm, dit lyk na ‘n gerieflike oornagplekkie,” besluit CX5. “Hier kan ek rus. Moet jy nou net nie jou kanse laat verbygaan as ek nie daar is om ‘n oog te hou nie.”

“Wat bedoel jy?” wil sy vererg weet.

“Daardie bruin oë. Oe la laa! As ek in mense was …”

“Vergeet dit. Ek het die man pas ontmoet.”

“Wel ek weet nie hoe julle mense se sake werk nie, maar hy lyk werklik in sy skik met jou wat nou sy pad gekruis het. En as ek so na jou hartklop luister …”

“My hart klop, want ek is bang. Dalk is hy ‘n skurk en vrouejagter.”

“Hou op om bang te wees en geniet die rit…”

“Daar sal geen rit wees nie.”

Wanneer Monica uitstap, wag Stof haar in. Hy druk die afstand beheer en die garagedeur gaan toe.

“Is daar tyd vir my om ook vinnig te bad?” vra sy toe hy die tas op ‘n tafeltjie in haar kamer neersit.

“Natuurlik! Die gastebadkamer is reg langsaan. Ek gaan net gou bel om te hoor waar Kobus en Mientjie bly.”

“Kobus en Mientjie?”

“Die veldwagter en sy meisie. Hulle behoort so teen sesuur hier wees. Kobus hanteer gewoonlik die kontantkroeg en Mientjie speel kelner.”

Hulp, uiteindelik.

 

Kobus en Mientjie is nog bloedjonk, sien Monica toe sy later uit die badkamer kom en by hulle op die kuierstoep aansluit.

Stof is besig om die hout in die braaiplek te pak. Hy draai om en toe hy Monica sien rek sy oë.

Miskien wou hy haar aan die jongmense voorstel, maar sy stem stol in sy keel. Hy haal diep asem en vra: “Voel jy soveel beter as wat jy lyk? Toe jy hier aangekom het …”

Wat bedoel die man? Het sy vir hom sleg gelyk in die sweetpak waarmee sy gery het? Haar hare was in ‘n poniestert agter haar kop vasgemaak. Nou is dit gewas en los. Sy weet die denim wat sy nou aan het, pas haar goed en die sagte vroulike wit bloesie met die kantinsetsels is een van haar gunstelinge. Sy het al tevore komplimente vir daarvoor gekry.

“Monica het vanmiddag nie geweet wat haar tref nie. Sy was eintlik op pad na ‘n ander man … mense toe,” verduidelik Stof homself dieper in die moeilikheid in. “Toe smeek ek haar om by my te bly…”

“Dis mooi.” Mientjie kyk snaaks na Stof, toe na Monica en daarna uiteindelik na Kobus. Kobus probeer om sy skouers ongemerk op te trek. Die twee het geen idee wat die verband tussen Stof en haar is nie. Hy is nie van plan om nou iets te verduidelik nie.

As daar ‘n raaisel in die lug hang, het dit pas verdiep.

“Ek gaan die slaai maak.” Monica draai om en stap kombuis toe.

Vir die res van die aand hardloop sy en Mientjie tussen die kombuis en die stoep. En Stof swoeg by die braaier.

Om en by negeuur bedaar alles. Die gaste het klaar geëet en verdwyn een na die ander in hulle rondawelhuisies.

Monica en Mientjie dra die laaste skottelgoed kombuis toe, waar Stof hulle kom haal.

“Kom drink vonkelwyn. Petrie het nou net gebel. Hy en Tanja se seuntjie is gebore. ‘n Gesonde knaap wat ‘n yslike 3,6 kilogram weeg.”

 

Monica kyk verstom om haar rond toe haar selfoonwekker haar sesuur Saterdagoggend wakker piep. Vir ‘n oomblik onthou sy nie hoe sy in hierdie oulike kamer in ‘n vreemde huis beland het nie.

Dan skop haar geheue in en sy vlieg uit die bed. Ontbyt vir twaalf gaste! Sy storm by die badkamer langsaan in, stort vinnig, borsel tande en gaan trek in haar kamer aan.

Swart langbroek, rooi en wit langmou hemp. Lint in die hare.

Stof is met die koffiemasjien besig en kyk bly-verras op toe sy by die kombuis intap.

“Jy is vroeg. Ek wou jou met ‘n beker koffie kom uitjaag.”

“Koffie sal fantasties wees, dankie. Melk en een suiker.” Monica haal eiers uit en sit dit in ‘n pot. Daarna vat sy ‘n skinkbord en pak jogurt, houers met ontbytpap, broodrolletjies, kaas en koue vleis daarop.

“Laat ek die skinkbord dra,” bied Stof aan en sit haar koffie op die rak langs haar neer.

“Nee dankie, dit is nie so swaar nie. Ek sien in die swart boek die gaste kry ontbyt in die eetkamer.”

“As dit in die swart boek opgeteken is, wie is ons om te stry. Wat doen ek?”

“Bring vir my die vier geel tafeldoeke in die gangkas.”

“Geel tafeldoeke?” Hy spreek die woorde uit asof geel ‘n gruwelike skelwoord is. Hy hou beslis nie van geel nie!

Sy ook nie regtig nie. Maar vandag kan dit werk. Die prentjie is klaar in haar kop.

“Ja geel. En eierkelkies vir gekookte eiers. Dit is ‘n selfhelp ontbyt.”

Teen die tyd dat sy die buffet in die eetkamer uitgepak het, staan Stof reg met die geel lappe en help om dit oor die tafels te gooi.

“En nou?” vra hy.

“Gaan oes vir my agt strelitzia blomme. Daar is ‘n groot bos langs die kombuisdeur.”

“Sure.” Hy gryp ‘n kombuisskêr en die deur klap hard agter hom toe hy uitglip.

“Soek mooi blomme uit!” roep sy agterna. “Dit kom in lang glasvase in die die middel van die vier tafels.”

 

Kort na ontbyt vertrek die gaste na Tshipise. Hulle gaan die dag daar deurbring. Omdat dit moeilik is om te voorspel hoe laat die gaste gaan terugkom, bestaan die aandspyskaart uit twee pastas en slaai.

Hiervoor het Monica nie resepte nodig nie. Ook nie baie tyd nie. Daarom haal sy haar sketsblok, potlood en waterverfpallet uit haar laptopsak en stap na die aalwyne aan die onderpunt van die tuin om dit te gaan skilder.

Dit is waar Stof haar opspoor. Hy hou twee glase vrugtesap in sy hande. Een vir haar en een vir hom.

Hy kyk lank na die prent waarmee sy besig is en kom tot die gevolgtrekking: “Jy doen dit nie net vir ‘n stokperdjie nie?”

“Ek is ‘n tekstielontwerper.”

“Dan moet ek vir jou al die ander mooi goed op die plaas gaan wys.”

“Soos wat?”

“Bokke. Swartwitpense. Klippe …”

“Ek is mal oor swartwitpense.” Sy spoel haar kwassie en maak die verf toe. “Sal ons met my kar ry? Jou bakkie is nog laas stukkend.”

“O ja, die arme Mazdabakkie,” val dit hom by. “Maar los jou kar. Ons ry sommer met ‘n Landie. Maar ek wonder …”

“Waaroor?”

“Het jy dalk ‘n paar gemaklike loopskoene of tekkies in jou tas?”

“Ek het vellies, verkyker, kamera en hoed!” Sy drafstap kamer toe.

Met die terugkom tref sy Stof aan waar hy toebroodjies en koeldrank in ‘n rugsak pak. Hy kyk haar goedkeurend op en af. “Vir ‘n stadsnooi is jy besonder goed gewapen.”
Monica voel steeds asof sy op ‘n spesiale wolkie staan, al is hulle laatmiddag weer terug in Moffat’s Rus se kombuis, waar sy besig is om pasta te maak.

Sy sal vandag nooit vergeet nie, al word sy honderd jaar oud. Sy het buitendien ongeveer vyfhonderd foto’s geneem.

So naby het Stof haar aan die Swartwitpense geneem, dat sy elke stukkie detail rondom hulle oë, hoewe en pels kon afneem.

Daarna het hulle teen ‘n koppie opgestap. Ook daar was inspirasie in die vorm van blare, bome, grassade, klippe en  rotsformasies. Dan was daar die eindelose ruimte en verre horisonne van die kruin van die koppie af. Doer onder het die plaashuis en rondawels soos ‘n bitter klein Erich Mayer skilderytjie gelyk.

“Ek wens ons kon bly tot sonsondergang,” het sy uit haar hart gesug.

“Ja dit is waar, daar is min mooier sonsondergange op aarde as juis van hier bo af nie.” Stof het ‘n klip gevind om op te sit. Maar sy oë was bitter min op die horisonne. Hy het meesal vir haar gekyk.

Hy is self ‘n fees vir die oog. “Vertel my van Moffat’s Rus, Stof.”

“Dit was my oupa se plaas. Nie een van sy kinders wou kom boer nie en my pa het die plaas om sentimentele redes uitgekoop en net laat lê. Hy wou die grond twee jaar gelede in die mark sit, toe ek en Petrie besluit het om die skuif na eko-toerisme te maak.”

“Woon julle nou permanent hier?”

“Petrie en Tanja is permanent op die plaas. Ek kom so gereeld as wat die tyd my toelaat hiernatoe. Dan help ek natuurlik graag in krisistye, soos nou. Ek is eintlik ‘n rekenmeester, met kantore in Louis Trichardt.”

Louis Trichardt? Is dit nie toevallig dat sy gisteroggend gewonder het oor ‘n afsetgebied op die spesifieke dorp nie? Miskien kan sy dit steeds oorweeg.

 

Saterdagaand se kuier en ete was ‘n reuse sukses. Sondag spandeer die gaste die dag op Moffat’s Rus. Monica sorg vir ontbyt. Daarna help sy vir Stof om ‘n bees en hoenderpot te maak vir middagete.

Die laatmiddag ritueel is skemerkelkies en southappies onder by die rivier, waar ‘n hemelse sonsondergang op hulle wag.

Daar is ‘n knop in Monica se keel, toe hulle op pak en terugry huis toe.

“Ek weet nie wat ek hierdie naweek sonder jou sou gedoen het nie,” sê Stof toe hulle reg maak om te gaan slaap. “Baie baie dankie dat jy langs my gestop het en vir alles wat jy gedoen het.”

“Plesier …” Sy kan hom seker eendag inlig dat dit eintlik die Mazda se skuld was.

 

Maandagoggend vroeg bel Monica haar broer en skoonsus en hulle wil natuurlik niks daarvan weet dat sy net een aand daar oorslaap nie.

“Dankie, twee aande. Maar Woensdagaand slaap ek in Pafuri.”

“Bespreek net eers. Dit is skoolvakansietyd. Die wildtuin is vol,” waarsku Stof, wat naby haar met die koffiemasjien besig is. “Bring jou selfoon, ek wys jou hoe.”

Na koffie en beskuit haak monica haar handsak oor haar skouer en haal die CX5 se sleutel uit.

“Wanneer sien ek jou weer?” vra Stof dringend.

“Ek weet nie.” Sy byt op haar onderlip. “Wil jy my weer sien?”

“Ek moet jou weer sien. Stop asseblief hier by my op die plaas wanneer jy Donderdag terugkom.” Hy trek haar teen hom vas en soen haar sag op die voorkop. “Dis nou as … jy ook glo dat daar dalk eendag ‘n toekoms tussen ons kan wees.”

“Dis baie gou om te weet …”

“Nou dink daaroor en laat weet my.”
“Iets is anders. Jy is verlief,” som die CX5 die situasie op toe Monica Woensdagoggend by haar boetie hulle wegry in die rigting van Punda Maria. Dit was ‘n heerlike kuier, maar ook ‘n tydjie om oor alles te besin. Waar sy in die laaste tyd so seker was dat sy gelukkig op haar eie is, het iets verander. Sy wil nie meer alleen wees nie. Sy wil nie sonder Stof wees nie. Sy het halsoorkop vir hom geval.

Net voordat sy by die Wildtuinhek inry stuur Monica vir hom ‘n WhatsAp: Ek het pas by Punda Maria aangekom. Hier is dalk nie oral selfoonsein nie. Ek laat weet jou net, dat ek jou baie graag  Donderdagaand op Moffat’s wil sien.

Stuur!

Haar hart klop in haar keel. Wat as hy nie meer dieselfde voel nie. Drie dae het verby gegaan.

Sy ry stadig deur die Wildtuin en kyk kort kort na haar foon. En toe kry sy ‘n boodskap wat haar hart uit haar borskas pluk: Nee, Donderdag gaan nie werk nie. Gesels later as jy by die kamp is. Ry veilig.

En net daar bars sy in trane uit en huil haarself dolleeg.

“Wat gaan aan?” vra die CX5 bekommerd.

“Stof wil my nie weer sien nie.”

“Onmoontlik. Ek was so seker hy is die een. Nou sal ek julle mense seker nooit verstaan nie.”

“Beteken dit dat jy ‘n klomp bybedoelings gehad het toe jy langs daardie stukkende bakkie gestop het?”

“Nooit, ek was net moeg gery.”

Teen skemeraand ry Monica Pafuri binne, steeds hartseer en regtig alleen.

Gelukkig dat Stof haar gedwing het om plek te bespreek. Die kamp is vol. Monica laai haar naweeksak af en stap teen die trappe op na haar huisie. Al wat sy wil doen is om te stort, in ‘n bed te klim en verder te huil.

Maar dan steek sy in haar spore vas. Iemand anders het ‘n vuur in haar huisie se braaiplek gemaak. Iemand wat by die glasdeure uitkom met ‘n bier in sy een hand en ‘n glas wyn in die ander.

“Stof! Ek dog jy wil my nie weer sien nie,” en daar loop die trane weer.

Stof sit die glase vinnig neer en trek haar teen hom vas. “Nee, ek wou nie tot moreaand wag om jou te sien nie. Toe besluit ek om jou vanaand te kom verras. Ek moes ry dat dit klap om voor jou hier te wees.”

“Hoe? Jy is nie in die Wildtuin by my verby nie.”

“Ek het buite langs die wildtuin op gery.” Hy soen haar op die voorkop en toe sag op die mond. “Ek is so jammer as jy die boodskap verkeerd verstaan het. Ek wil jou nooit ooit seermaak of laat huil nie.”

Uiteindelik maak hy sy arms oop en laat haar gaan. “Kom deur kombuis toe. Ek het vleis gekoop om te braai. En slaai. En oja, moenie bekommerd wees nie. Jy hoef nog nie ‘n bed met my te deel nie. Ons kyk maar eers wat die toekoms inhou.”

Toekoms? Wat haar aanbetref het die toekoms al verlede Vrydagmiddag aangebreek. Stof is waarskynlik die beste ding wat nog ooit met haar gebeur het.

Toevallig? Of was daar ‘n Cupido by dit alles betrokke? Heelwaarskynlik ‘n blou Mazda CX5 wat daar onder in sy parkeerplek staan en ligte flikker van lekkerkry.

End

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.