Wolf Wolf – Jurie Mentz

Renza se kortverhale Julie 2019 (Genre speurverhaal / liefdesverhaa)

Om in ‘n rolstoel te sit het beslis sy beperkinge. Leon kyk moerig na die boonste rak in gang drie van die supermark. Die bokse Jungle Oatso Easy is ver bokant sy strekhand. Hy is lus en vlieg uit die rolstoel, gryp een van die verskeidenheidpakke en val weer plat. Maar hy durf nie. Net een persoon wat dit raaksien en hom later elders herken en sy hele dekmantel is daarmee heen.

Die moeilikste deel van sy nuwe ‘rolstoellewe’, het hy pas uitgevind, gebeur in die parkeerarea. Hy het homself disnis gesukkel om uit die kar te klim. Die hidroliese stelsel help darem om die rolstoel van die dak af te kry, maar na ‘n maand in die gym sukkel hy nog om sy eie gewig aan sy arms op te tel. Hy is nie juis die oefentipe nie.

Om in ‘n kar te klim is net so ’n beslommernis.

“Watter een?” vra ‘n vrou skielik langs hom en Leon ruk om en op na haar. “Ek kon nie help om te sien dat jy na die kitspappe op die boonste rak kyk nie. Dit is bietjie hoog, nê? Watter een kan ek vir jou aangee?”

Dit is nie gewoonlik te hoog nie. Dit is net hoog as jy op jou gat sit! Om gehelp te word is nie deel van Leon se verwysingsraamwerk nie. ‘n Man is verkieslik kapabel om sy eie pap van die rak af te haal.

Maar hoe maak ‘n man wat met sy sitvlak op wiele vasgeplak is, wat iets nie kan bykom nie? Moet so ou maar tevrede wees met ‘n alternatief op die onderste rak? Rice Crispies? Graanvlokkies? Weet Bix?

Sy goeie Afrikaner-opvoeding maak darem dat hy vreeslik ordentlik die hulp aanvaar. Of is dit haar mooi gesiggie se skuld? “Ja dankie, die gemengde kitspap-pak.”

“Reg.” Sy strek. Boonop nie ‘n slegte lyf nie! sien hy. Veral as hy regraai dat sy min of meer so oud soos hy is.

‘n Ordentlike man sal wegkyk.

Leon het nog altyd met sekerheid geweet dat hy nie regtig ordentlik is nie. En om eerlike omgee mense te oortuig dat hy in ‘n rolstoel vasgekuister sit, is boonop laakbaar.

Behalwe as dit vir ‘n edele doel is.

“Wonder jy of ons mekaar moet ken?” vertolk die vrou die feit dat hy na haar staar verkeerd. “Ek is jou buurvrou, skuins oorkant die straat. Carmen Steyn.”

“O dankie … Ek is Leon Rossouw.”

“Ek weet. Jy het in mevrou Lelani Smidt se huis, skuins oorkant my ingetrek. Sy was ook in ‘n rolstoel nadat haar bene afgesit is.” Carmen sit die ontbytpap in die mandjie op Leon se skoot.

“Baie oplettend.” Dit maak hom dankbaar dat hy toevallig oorsee was tydens tant Lelani se begrafnis. As sý of iemand anders hom daar gesien het, was daar nou te veel mense wat sy geheim moet stilhou. “Dit is juis hoekom ek die plek by mevrou Smidt se dogter huur en haar kar oorgeneem het. Dit is goed ingerig vir iemand wat … gestremd is.”

“Jy weet dan seker dat mevrou Smidt ses weke gelede in haar plek vermoor is. ‘n Sagte teiken. ‘n Ouer dame wat …” Haar gesig vertrek.

“Ek het gehoor.”

“Mense wat bereid is om weerlose mense te vermoor vir honderd rand en ‘n selfoon is lafaards,” waarsku Carmen. “Jy moet jou oë oophou, Leon. Dit sal miskien goed wees as jy by ons buurt se WhatsApp groep aansluit. Ek neem aan dat jy mevrou Lelani se kontrak by Buffalo Security ook gaan oorneem.”

“Moet ek?”

“Ek sou as ek jy was. Die manne se gewapende reaksie is nogal blitsig. Jy moet hulle nommer op spoedbel op jou selfoon stoor. En die blitspatrollie.”

“Ek sal so maak.” Leon kyk haar agterna tot waar sy by een van die kasregisters gaan staan om te betaal.

Wat is haar storie? Verbeel jou, om hóm te waarsku om versigtig te wees. Sy is duisend maal meer weerloos as wat hy is, met haar fyn postuurtjie.

Ten minste kan hy ‘n formidabele uitklophou plant, as iemand in sy vuiste vasloop. En hy sal soos ‘n kameelperd skop, as hy nie veronderstel is om voor te gee dat hy nie sy bene kan gebruik nie. Met Leon Rossouw mors niemand nie.

Hy is toegerus om mense opdraand te gee. Vir tien jaar lank was hy in die SAP se spesiale taakmag. Na sy uittrede het Leon begin spesialiseer in tegnologie wat die installasie van sekuriteitskameras en huis-outomatisering insluit. Alles word met selfone en laptops beheer. Duur toeristing wat nie almal kan bekostig nie. Veral nie mense wat in ‘n gemiddelde woonbuurt bly nie, soos tant Lelani nie.

Wyle tant Lelani…

Plaas dat hy vir háár iets spesiaal gedoen het. Maar dit is Pretoria en tant Lelani het gewoon in ‘n ‘veilige’ woonbuurt agter ‘n valhek, met ‘n sekuriteitswag …

Hy het Lelani Smidt lewenslank geken. Die vrou was nie net een van sy ma se beste vriendinne nie. Sy was ook sy peetma. Dit is hoekom hy onmiddelik ja gesê het toe haar dogter wat vir hom soos ‘n suster voel, gevra het dat hy moet help om haar moordenaar aan te keer.

Maar waar begin hy? Daar was nie eens ‘n duidelike motief vir haar moord nie.

Nie dat misdadigers deesdae regtig ‘n motief nodig het nie. En hy glo ook glad nie dat misdaad skielik gaan ophou as hulle háár moordenaars vastrek nie.

Maar hy en baie ander mense wat haar geken het, sal beter voel as tant Lelani se slagters agter tralies beland.

Vandaar sy strategie. As jy nie weet waar om te begin soek nie, word self die lokaas en bring die donners na jou toe. Kry hulle agter tralies, al is dit net vir ‘n jaar of twee.

Buite by die kar laai Leon sy pakkies op die agterste sitplek. Daarna werk hy homself agter die stuurwiel in en hys die rolstoel op dak toe.

Terwyl hy ‘n oomblik wag om sy asem terug te kry, verstaan hy hoekom daar spesiale parkeerspasies vir gestremdes is. Dit is ‘n helse operasie om in en uit karre te kom.

“Is jy oukei?” Carmen treë van die bree stoep af en kom loer by die oop ruit langs hom in. Sy het intussen al by die groente en vrugte winkel gaan draai. Daarvan getuig die boks in haar hand.

“Ja dankie. Dit is net … nogal warm.” Met die agterkant van sy hand vee hy die sweet van sy voorkop af.

Sy huiwer ‘n oomblik, voordat sy aanbied. “Jy hoef nie elke keer winkel toe te ry as jy iets nodig het nie. Vra vir my. Ek het baie keer vir tant Lelani haar brood en melk gekoop. En piesangs. Sy was nogal lief vir piesangs.”

“Sowaar …”

“Die laaste keer was die dag van haar moord. Sy kon groen piesangs eet, nie ryp nie. Sy was ‘n suikersiekte lyer. Ek het ook daardie dag vir tant Lelani gaan geld trek om haar huishulp mee te betaal.”

“Was die huishulp steeds daar, nadat jy gery het?”

“Nee, tant Lelani het die vrou betaal en toe het ek haar by die bus gaan aflaai. Thuli is ook nie meer vandag se kind nie.”

Leon kyk met groter aandag na haar. Wat is dit met die vrou? Is sy almal se heilige beskermengel? Tant Goeddoen van Pretoria?

Moontlik aanvaar Carmen dat sy intense kyk beteken dat hy ook ‘n piesang en broodkoper benodig, want sy vra. “Moenie huiwer om op my nommer te druk nie. Ek ry byna elke dag hier by Spar verby. Gee my jou selnommer, dan bel ek jou van myne af. Daarna kan jy dit op jou foon stoor en my bel as jy iets nodig het.”

“Ek …” Sy eerste reaksie is om ‘n aanbod soos hierdie van die hand te wys, maar hy het ‘n rol om te speel. Oortuigend te speel. “Goed, baie dankie.”

Hy wag dat sy bel en stoor die nommer op sy foon.

Daarna raak hy haastig. Netnou bars hy in trane uit omdat iemand bereid is om so oor hom te fif en faf. Of hy vererg hom dalk daaroor. “Ek moet ry. Geniet die res van jou naweek.”

“Jy ook.” Sy huiwer ‘n oomblik voor sy vra. “Waar kyk jy vanmiddag rugby? Jy is welkom om by my te kom kyk. Daar gaan ander mense ook wees. En moet niks saambring nie. Behalwe as jy iets anders as wyn of bier wil drink.”

Leon se mond gaan oop en weer toe van skok en verbasing. Is daar regtig nog mense wat soveel omgee vir ander mense? Hy sweer as hy haar mooi vra, sal sy bereid wees om hom te kom bad.

Sies Leon! Carmen sou beslis nie eens met hom gepraat het as hy met sy twee voete stewig op die aarde voor die rakke gestaan het nie. Laat staan nog hom oornooi vir rugby en tjop en dop. “Dankie, maar ek het reeds ander planne.”

“Reg, mooi dag verder.”

“Dankie, jy ook,” roep hy agterna, toe sy omdraai en wegstap.

Soos wat hy daar sit, is hy die spreekwoordelike wolf in skaapklere wat nie eens ‘n pick-up line nodig gehad het om een van die mooiste vroue in die buurt se selnommers op sy foon te kry nie.

Hy is nie regtig in die mark vir ‘n vrou nie. Dit was ook nie deel van die plan om een te ontmoet nie, maar noudat sy hier is, mag hy dalk net hierdie een keer ‘n uitsondering maak. Hy kan nie onthou wanneer laas hy iemand ontmoet het wat in die eerste tien minute gewys het hoeveel sy vir ander mense omgee nie.

Wanneer hy die kar in trurat druk weet hy verseker dat hy haar beter wil leer ken. Maar eers as die missie verby is, want as hy nou uit hierdie stoel opstaan en agter haar aanhardloop, skop sy sy voete onder hom uit en sit hom permanent in ‘n rolstoel.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.