Op die sewende dag – Adele Reynders

sewendedag

Op die sewende dag – Adele Reynders

Aanvanklik uitgegee deur LAPA uitgewers

Copy right © Adele Reynders

 

Lisa sien hoe Ryno de Leo en sy vrou in ‘n lokval gely word op 7 Desember. Sy vrou sterf in die ‘ongeluk’. Sedert daardie dag is die sewende van geen maand verder meer sonder drama nie.

Iemand is besig om hulle lewe hel te maak. Natuurlik verloor Lisa haar hart op Ryno. En sy het rede om te glo dat hy dieselfde voel. Behalwe dat hy volhou dat hy nie troumateriaal is nie. Nie eens weer in ‘n verhouding met ‘n vrou kan of wil wees nie.

Intussen leer sy die De Leos ken en kom agter dat hulle so ietwat disfunksioneel is … om die minste te sê.

 

Hoofstuk 1

Lisa du Toit bestudeer die rotsformasie bokant haar kop en stuur haar Volkswagen Golf versigtig oor die skuins ruwe terrein van die berg se kant, tussen die ruie bome deur. Dit moet die plek wees waarvan die ou man haar eergister vertel het, besluit sy toe sy stilhou en uitklim. Eers stap sy terug grondpad toe, om seker te maak dat die donkerblou karretjie nie van daar af sigbaar is nie. Dis privaat grond en al staan die groot houthekke oop, glo sy dat die eienaars lekker omgekrap sal wees as hulle ‘n rondloper soos sy hier betrap.

Tevrede dat die kar goed versteek is, haal sy haar rugsak met waterbottel, koeldrank, verkyker en kamera uit en sluit die deure. Daarna begin sy energiek teen die randjie opstap, verby die vier groot ronde klippe tot by ‘n oorhangkrans.

En daar vind sy dit.

Rotstekeninge van die San-kunstenaars waarvan sy wil foto’s neem om op haar geskenksakkies te gebruik.

Die tipiese lang figure in die sketse teen die rotse gaan fantasties lyk op die wynsakke wat sy vervaardig. Ook die twee mitiese figure met die lyf en bene van ‘n mens, maar die koppe van elande. Sy wonder of die eienaars van die grond dalk eendag een van die sakke wat sy maak te siene sal kry. En wat sal hulle reaksie wees as hulle dalk die kraanvoëls van hulle rotse herken?

Volgens haar inligtingsbron is die De Leo’s ‘n gawe familie, hulle is net minder vriendelik wanneer ongenooide gaste hier kom rondsnuffel. Maar sy het nie kans gesien om die mense op kort kennisgewing te pla om toestemming te kry vir haar ‘eksplorasie’ uitstappie nie.

Nadat sy klaar foto’s geneem het, gaan sit sy op ‘n rots en haal ‘n pakkie toebroodjies uit. Sy voel al hoe meer dat haar besluit om hier, suid van die wildtuin te kom woon die beste skuif van haar lewe was. Haar nuwe verpakkingsbesigheid word ondersteun deur die inwoners van die omgewing sowel as toeriste. En sy sien haar twee studente kinders nou amper meer, as toe sy nog in Pretoria gebly het.

Teen twee uur besluit Lisa om terug te stap na haar kar toe maar terwyl sy haar rugsak pak, sien sy dat ‘n ouerige bakkie stadig teen die skuins grondpad uitkruip. Haar hart ruk in haar keel toe sy agterkom dat die voertuig ook korrel om tussen die bome in te draai.

Die bestuurder van die bakkie stop sowat twintig meter bokant die plek waar Lisa die Golf gelaat het en draai die voertuig met moeite om, sodat dit weer terugkyk in die rigting van waar hy vandaan gekom het.

Maar in plaas van ry klim twee mense uit en begin om verder teen die skuins pad op te stap. Hulle praat saggies met mekaar en beduie na die gapende afgrond aan die anderkant. Een van die ouens skop na stompe wat waarskynlik daar geplant is om te keer dat voertuie van die pad afloop.

Padwerkers? Die feit dat een man terugstap en ‘n graaf van die bak afhaal, bevestig Lisa se vermoede. Sy hoop net dat die werkery nie te lank gaan duur nie. Aan die anderkant is sy darem ook nie regtig haastig nie. Die drie dames wat in haar fabriek werk is heeltemal bekwaam om sonder haar aan te gaan.

Sy maak nog ‘n koeldrank oop en probeer uitwerk hoe sy haar teenwoordigheid op ‘n vreemde plaas gaan verduidelik, indien hulle haar sou raaksien.

Daar onder begin die manne om die stompe uit die grond los te woel, waarna hulle ‘n tou aan die bakkie se haak vasmaak om dit met geweld uit die grond te sleep. Hulle beplan waarskynlik om op hierdie gevaarlike draai ‘n stewiger versperring op te rig.

Nadat die stompe verwyder is, parkeer die manne die bakkie half tussen die bome en rol vier yslike groot klippe in die pad. Eienaardig. Maar mense kan seker op hulle privaat eiendom met hulle paaie maak wat hulle wil.

In hierdie geval probeer hulle seker om mense te stop wat van onder af inkom. Dankie tog dit is bokant die plek waar die Golf staan.

Dan hoor Lisa ‘n voertuig van haar linkerkant af aankom en sy is verbaas om te sien dat een van die twee manne tussen die bome instap, buite die sig van die aankomende voertuig, in plaas daarvan om dit voor te keer voordat dit die gevaarlike draai bereik. Vir die eerste keer vandat sy hulle dophou, dring dit tot Lisa deur dat dit dalk kwaaddoeners kan wees wat besig is om die pad te sabboteer.

Sy voel hoe vrees en angs skielik van haar besit neem toe een van die manne boonop ‘n rewolwer uithaal en op die aankomende voertuig rig, terwyl die ander man terughardloop na hulle bakkie toe.

‘n Lokval.

Tyd om te reageer is daar nie, want die volgende oomblik is ‘n ander bakkie op die draai, met die klippe reg voor hom in die pad. Lisa hoor hoe metaal van die impak skeur en sien hoe die bakkie buite beheer ruk en in ‘n stofwolk oor die diep afgrond aan die anderkant verdwyn. Die man met die vuurwapen klouter haastig agterna.

Sy hoor ‘n vrou uitroep en dan raak dit onheilspellend stil.

“Nee moenie.” Lisa besef dat dit ‘n stem is wat uit haar eie liggaam skeur. Haar bene is lam en haar brein weier om te registreer wat sy sopas waargeneem het. Dis onmoontlik. Sulke goed gebeur nie op plase in Mpumalanga nie.

“Wie is daar?” ‘n Liederlike knoop volg en Lisa besef dat dit waarskynlik die gewapende man is wat haar uitroep gehoor het.

“Iemand het ons gesien. Ons moet hier wegkom.” Die man keer haastig terug bakkie toe.

“Wat gebeur met die prokureur?” vra die ander ou.

“Dis klaarpraat met hom. Sy bakkie het op hom geval.” Hy klim in en nog voor sy deur behoorlik toe is, trek die bestuurder weg en begin ry.

Lisa sak stadig op haar hurke tussen die bosse neer en moet haarself inhou om nie histeries te gil nie.

Wat nou? Sy moet die polisie bel. Sy haal haar selfoon met bewende hande uit die rugsak en skakel die noodnommers. Aanvanklik kan sy glad nie praat nie. Maar uiteindelik kry sy die woorde uit. Daarna klim en klouter sy af en oor die afgrond om by die voertuig se wrak te kom. Sy is vreesbevange, want sy vermoed dat die insittendes baie seergekry het.

Haar hart gaan staan byna van skok toe sy die stil liggaam van ‘n vrou ‘n ent ondertoe sien lê. Sy hoef nie lank te vertoef om te besef dat die vrou dood is nie. Dit verg egter al haar selfdissipline om nie om te draai en weg te hardloop nie.

“Anja…,” klink ‘n skor stem vanaf die bakkie op. Dis ‘n man en hy leef, maar die stof en grond waarin hy lê laat hom hoes en stik. Daar is ‘n gapende sny aan sy voorkop.

“Die polisie en ambulans is oppad.” Lisa hurk by hom en haal die handdoekrol wat sy saamgebring het uit die rugsak. Sy druk dit op die wond aan sy voorkop.

“Anja!” Daar is nou paniek in sy stem. “Wie is jy?”

“Lisa du Toit. Lê stil, jy het seergekry.”

“Los my.” Hy druk haar hand van sy voorkop weg. “Ek moet by my vrou kom.”

“Jy kan nie opstaan nie. Die bakkie het op jou geval.” Dis ‘n gespook om hom stil te hou, maar na ‘n rukkie gee hy self op. Lisa vra: “Wat is jou naam?”

“Ryno De Leo. My vrou is swanger. Het sy baie seergekry?”

“Ek weet nie. My vriendin is daar,” jok Lisa. Maar hoe kan sy vir ‘n man in hierdie toestand vertel dat sy vrou dood langs die bakkie lê?

Hy is duidelik nie tevrede met haar verduideliking nie maar kan niks daaraan doen nie want sodra hy beweeg, vertrek sy gesig van pyn.

“Kry my hier uit, asseblief,” smeek hy.

“Ek kan nie. Die bakkie is te swaar.” Lisa probeer agterkom hoeveel van die bakkie op hom rus, maar al wat sy sien is dat die donkerrooi kol op die grond onder hom al hoe groter word. Hy bloei en as hulle nie gou hulp kry nie gaan hy sterf. “Is hier van jou mense naby wat ek kan bel om te kom help?”

“Die voorman en my tweelingsuster Petro wat hier oorkant met vrugte boer.” Lisa help hom om sy selfoon uit sy bosak te haal.

Sy skakel die nommers op sy foon en verduidelik kort en saaklik dat Ryno De Leo en sy vrou in ‘n ongeluk was en dat sy reeds die ambulans en nooddienste geskakel het.

“Is hierdie julle plaas, Ryno?” vra sy toe sy die foon afskakel.

“Familieplaas.” ‘n Kreun ontsnap uit sy bors.

“Bly julle op die plaas?” Sy vat sy hand.

“Dorp… Kom net soms… hiernatoe. Vandag ‘n maand getroud. Anja het… piekniek gepak… by my kantoor ingestap en… aangedring dat ek vir die dag verlof neem.” Daar is angs in sy donker oë toe hy Lisa amper asemloos konfronteer: “Hoekom hoor ek nie jou vriendin of Anja se stemme nie?”

“Wees rustig.”

Die man is nou so wit soos die bakkie wat hom teen die grond vaspen en Lisa wil skree van magteloosheid en selfverwyt.  Hoekom het sy nie dadelik uitgeroep toe die manne die stompe uit die grond gehaal het nie? Nou by nabetragting besef sy dat alles van die begin af baie suspisieus was.

En toe maak Ryno sy oë toe, soos iemand wat besluit dat hy klaar baklei het en moed opgee.

“Nee, bly by my Ryno.” Lisa streel oor die kant van sy gesig. “Maak oop jou oë en praat met my.”

Sy begin om saggies vir hom te bid, want hy reageer glad nie meer wanneer sy met hom praat nie. Vas oortuig daarvan dat sy die laaste persoon gaan wees om hom lewendig te sien, buk sy vooroor en soen hom saggies op sy mond. Hoekom sy dit gedoen het, weet sy nie? Maar die volgende oomblik gaan sy oë oop en die uitdrukking op sy gesig verander van skok en verbasing, na totale verwarring. Sy weet hy besef wat sy gedoen het!

“Jy moet vasbyt. Ek hoor al die sirenes van die ambulans en karre hierbo,” fluister sy.

Dis sewe Desember. Kort voor Kersfees… ‘n Tyd van vreugde en feesviering.

Hoe kan so iets met enigiemand gebeur, net voor Kersfees?

Grond spat en ‘n vrou hurk langs haar. Die vroulike weergawe van die man wat op die grond lê. Ryno se tweelingsuster.

“Boet, wat de joos het gebeur? Hoe het die bakkie hier onder in die vallei beland?”

 

“Lisa Du Toit, hoe kon jy nie die boosdoeners se gesigte sien nie?” Die man wat homself voorgestel het as kaptein Jurie Bothma, stoot sy stoel hard agteruit en roep met ‘n bulderende stem uit. “Ek is lus om te vloek en te rook en te drink. Maar ek sal nie, want ek het twee jaar gelede opgehou om dit te doen.”

“Ek is jammer.” Lisa is vir die hoeveelste keer in trane.

“Komaan, Jurie. Jy werk te hard met die vrou. Sy is moeg en geskok. Al wat sy gedoen het, was om op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek te wees.” Dit is Louw De Leo, Ryno se ouer broer, wat tot Lisa se redding kom. Hy het aandagtig gesit en luister na die verklaring wat sy afgelê het. Die De Leo broers is prokureurs op die dorp.

“Dan lê jy seker ‘n klag van betreding op privaatgrond teen haar?” vra die polisieman.

“Nee, as sý nie daar was nie, was my broer dood,” antwoord Louw. “Dit was ‘n lang dag en ek wil ook deurry Nelspruit toe om te gaan kyk hoe dit met Ryno gaan.”

Hy staan op en steek sy hand na Lisa toe uit. “Mevrou du Toit, ons sal kontak hou.”

“Laat weet my hoe dit met Ryno gaan.” Lisa staan ook op. “Mag ek ook gaan, Kaptein?”

“Ja, maar moet net nie die dorp verlaat voor ek jou laat weet het nie.”

“Ek het nie sulke planne nie.”

 

Hoofstuk 2
Die aanval op Ryno de Leo en sy vrou is lank hoofnuus op televisie en in die koerante. Die prokureur lewe en is buite gevaar, maar hy het sy rug gebreek en aanvanklik word daar gevrees dat hy die gebruik van sy bene sal verloor.

Lisa se winkel bly besig tot op vier en twintig Desember. Teen sesuur sluit sy die deure en sit ‘n kennisgewing op wat lees, ‘gesluit tot na Nuwe jaar.’ Sy skakel ‘n CD met Kersmusiek aan, maak vir haarself ‘n toebroodjie en skink ‘n glas wyn.

Kersoggend maak die eerste SMS’e van vriende en familie haar al vroeg wakker en sy bel haar kinders wat saam met hulle pa en die nuwe mevrou Du Toit vakansie hou. Hulle mag nie agterkom dat sy vreeslik alleen voel nie. Dit sal hulle vakansie bederf.

Terwyl sy later in die kerk sit en luister na die dominee se boodskap, vang die melancholie en alleen-wees op Kersdag haar nog meer. Boonop kan sy Ryno de Leo steeds nie uit haar gedagtes kry nie. As sy so voel, terwyl haar kinders en familie nog almal gelukkig en gesond is, hoe moet Kersfees hom nie vang, nadat hy sy vrou en ongebore baba verloor het nie?

Na die diens sit sy in haar kar en wik en weeg. Miskien moet sy na die hospitaal in Nelspruit ry en self gaan kyk hoe dit met hom gaan.

 

“Ek weet ons moes jou al geskakel het, maar ons het ‘n moeilike tyd agter die rug.” Sy loop vir Petro in die gang raak. “My broer moes vier groot operasies ondergaan. Gister was die laaste een. Hy was aanvanklik baie depressief maar dit gaan darem nou beter.”

“Ek is bly om dit te hoor.” Lisa huiwer voor sy vra. “Is daar al enige verdagtes en weet julle al wat die motief vir die lokval was?”

“Ons het aanvanklik gespekuleer dat dit ‘n roof was. Anja se juwele kon ‘n arm man ryk maak. Maar niks was weg nie. Ek dink jy het die mans onderbreek en laat vlug, voordat hulle klaar gemaak het. Moontlik was Ryno die eintlike teiken.”

“Die koerante skryf dat hy nie juis vyande het nie.”

“Wys my ‘n prokureur sonder vyande en ek wys jou ‘n jakkals wat nie vleis eet nie,” brom Petro. “Ek is bly jy is hier, want Ryno het dikwels die afgelope paar dae na jou gevra.”

Petro stel haar voor aan die familie in die gang voor Ryno se kamer en toe stap hulle in.

“Ryno, hier is Lisa wat by jou was nadat die ongeluk gebeur het.”

Ongeluk, skryn dit deur Lisa. Dit was nie ‘n ongeluk nie. Iemand wou hulle leed aandoen.

“Goeiemôre, meneer De Leo.” Lisa weet nie of sy haar hand na hom toe moet uitsteek nie. Daar is soveel pypies in sy liggaam. “Ek het kom hoor hoe dit met jou gaan. En natuurlik geseënde Kersfees.”

Lisa kyk nou vir die eerste keer regtig na die man wat daar voor hulle op die hospitaalbed lê. Die verband om sy voorkop verberg nie die feit dat hy besonder aantreklik is nie. Dis veral sy intense donker, amper swart oë, wat haar blik gevange hou.

“Dankie… en vir jou ook. Jy het gesien hoe die manne ‘n lokval vir ons gestel het.”

“Ek het nie dadelik besef dis ‘n lokval nie. Jammer.”

“En oppad na my toe het jy gesien Anja is dood en jy het dit nie vir my gesê nie.” Sy stem is skor.

“Ja, ongelukkig. Ek was bang jy trek jouself met geweld onder die bakkie uit as jy moes weet.” Sy verbreek sy oogkontak en voel soos ‘n hond.

“My rug was gebreek. Die feit dat jy my kalm gehou het en laat stil lê het, verklaar waarskynlik hoekom my senuweestelsel in die proses heel gebly het. As ek weer kan loop, moet ek vir jou dankie sê.”

Lisa kyk verbaas op. Sy het vas geglo dat hy haar sou verwyt en uittrap as hy die waarheid uitvind. Nou reageer hy heeltemal anders. “Nee meneer De Leo. Jy moenie vir my dankie sê nie, maar vir ons hemelse Vader. Ek het vir jou gebid.”

“Ek het gehoor…” Hy lyk effens ongemaklik. “Ek het ook gebid, soos nog nooit tevore nie. Maar noem my asseblief Ryno, Lisa.”

“Ek sal. En Ryno, ek is so jammer oor jou pragtige vrou.”

“Ek ook. Ek is jammer dat sý dood is en nie ek nie.” Sy oë blink onnatuurlik.

“Mens kan nie altyd kies wie moet gaan en wie moet bly nie.” Die woorde klink so hol en betekenisloos, besef Lisa. Die kamer druk haar skielik vas, asof daar nie genoeg suurstof is nie. “Ek moet gaan. Ek het regtig net vinnig kom inloer.”

“Natuurlik. Daar wag seker familie en ‘n man vir jou. Dit is Kersdag.”

“Nee, Lisa is nie getroud nie,” antwoord Petro namens haar. “Sy is alleen, haar twee kinders hou saam met haar ex in die Kaap vakansie. Lisa woon in daardie ou sandsteenhuisie in dieselfde straat as julle kantoor. Sy ontwerp en vervaardig spesiale verpakkingsmateriaal.”

“Jy klink soos ‘n speurder, Sus. Het jy die arme Lisa se agtergrond nagegaan?” Ryno glimlag amper.

“Ek het bietjie rondgevra by Lisa se werkers,” verklaar Petro. “Onder omstandighede soos hierdie moet mens weet wie is jou vriende en wie is die vyand.”

“Jy reken? Ek draf dikwels vyfuur in die oggend by daardie huis verby,” merk Ryno op. “Dan is dit nog doodstil daar, jy slaap seker laat, Lisa!”

“Ek funksioneer nie voor sewe in die oggend nie en my werkers kom eers agtuur in.”

“Het jy die huis gekoop?”

“Nee, ek huur met die opsie om te koop.”

“Wanneer jy reg is om te koop, kom na my toe. Ek sal jou papierwerk gratis doen. Ek skuld jou ‘n guns.”

 

Ten spyte van die ‘gesluit tot na Nuwejaar’ nota op die deur, hou mense aan om Lisa by die fabriek te pla. Op Oujaarsdag besluit sy om die fabriek se winkel vir ‘n rukkie oop te maak, na die hoeveelste klop aan die deur.

“Ek het gedink in die warm seisoen bly die mense uit die wildtuin weg,” gesels sy met ‘n klant terwyl sy vir hom wynbottelsakkies uithaal. “Hierdie klompie het die groot vyf op. Of wil jy een van die outjies met die Boesmantekeninge op hê?”

“Ons is op pad Marlothpark toe. Ons het ‘n huis daar. Ek gaan die groot vyf raam en in my kroeg ophang.”

“Nee man, dis vir gebruik,” lag Lisa. Uit die hoek van haar oog sien sy ‘n man wat verbystap. Hy draai by die gang af en sy besef dat hy waarskynlik by haar privaat badkamer instap. Dit is natuurlik deel van die voor en nadele as jy besigheid uit jou woonplek te bedryf. Jou huis behoort aan almal.

“Verskoon my net ‘n oomblik. Ek wil net gaan kyk wat maak daardie ou.” Die persoon is nie meer in die badkamer nie. Hy moes seker by die oop kombuisdeur uitgeglip het.

“Jy moet versigtig wees,” waarsku die man wat die sakkies gekoop het. “Mens kan nie jou hele huis so oop los vir vreemdes om in en uit te stap nie.”

“Ek het ook iemand sien instap. Jy moet versigtig wees.” Dis Petro, Ryno se tweelingsuster wat agter ‘n rak uitstap. “Het jy ‘n vuurwapen?”

“Ek het een, maar sal dit nie sommer gebruik nie.”

“Oppas dan dat so vent jou nie met jou eie wapen oorval nie.” Daarmee stap die klant by die deur uit.

“Welkom in my fabriek. Is dit besigheid of ‘n kuier?” Lisa sien met genoegdoening hoeveel goed Petro in haar inkopiemandjie laai.

“Ek is aangenaam verras met wat jy doen. Ek wil die goed nou koop en dan het ek ‘n bestelling om te plaas.” Sy sit die mandjie op die toonbank neer. “Vyfhonderd van hierdie boksies met die venstertjies, asseblief?”

“Vyfhonderd?” Lisa staan en gaap van verbasing. “Hoe gou? My personeel is met vakansie.”

“Daar is tyd. Ek stel ‘n nuwe mampoerlikeur bekend op die sewende April volgende jaar.”

“Vyfhonderd vir Sewe April. Dit kan ons doen.” Lisa trek haar dagboek nader en teken die bestelling aan.

“Sewe is my gelukkige getal. As ek iets belangrik moet doen, wag ek vir die sewende,” gesels Petro.

“Ek voel weer so oor dertien.” Lisa sit die boek terug op die rak. “Lus vir koffie?”

“My aarde, ek dog jy vra nooit. Ek het al begin wonder of die stadsraad jou water en ligte afgesny het,” spot Petro.

“Hulle wou seker al, maar gelukkig het ek ‘n gasstoof. Kom gerus saam.” Lisa sluit die fabriek se deur en stap vooruit kombuis toe.

“Ek het nie net kom koop nie. Ek het jou kom haal,” lig Petro haar in toe sy ‘n stoel langs die kombuistafel uittrek om te gaan sit.

Lisa is verras. Sy bly al hoe lank hier en bitter min mense het haar nog genooi om enigiets saam te doen. “Kom haal? Waarheen?”

“Die familie het besluit om ‘n partytjie in Ryno se kamer te hou. En aangesien jy een van die redes is hoekom hy in staat is om die nuwe jaar op twee bene in te gaan, het almal besluit dat ek jou vanaand moet saambring. Tensy jy ander planne het.”

Lisa sit die ketel op die vlam en haal bekers uit. “Planne? Ja, om seweuur vanaand in die bed te klim. Ek is nie een van daardie mense wat die Nuwejaar met ‘n dawerende slag inwag nie.”

“Hoe vervelig. Dis tyd dat jy saam met die De Leos partytjie hou. Ons val eers om wanneer die son tussen die bome deur loer.”

“Die blote gedagte daaraan laat my sommer nou al omval!”

“Dan kuier jy saam?”

Lisa gooi korrels in die bekers en toe besluit sy. “Ja, hoekom nie?”

 

Die privaat kamer waarin Ryno lê ontaard in ‘n miernes, maar die hospitaal personeel maak asof hulle dit nie raaksien nie aangesien daar volop eetgoed is wat almal mag geniet.

Lisa kan natuurlik nie help om raak te sien dat die oorgrote meerderheid besoekers uit vrouens bestaan nie.

“Sjuut, Ryno se ma is hier.” Daar sak ‘n gedempte stilte oor die geselskap neer toe ‘n lang skraal vrou, met haar man op haar hakke inkom. Soos ‘n koningin wat weet dat sy gesag afdwing, stap sy tot by Ryno en soen hom liggies op die voorkop, langs die pleister wat intussen die verbande vervang het.

“Naand Ma.” Daar is ‘n geamuseerde vonkel in sy oë, sien Lisa, terwyl almal in doodse stilte toekyk.

“Hoe kan julle ‘n hospitaalkamer so omkeer met kos en drank? Ek skaam my vir my familie. Jou hare lyk sleg, Ryno. Het hulle nog nie iemand gestuur om die pasiënt se hare reg sny nie?” vra sy streng.

“Ma, die verpleegsters het dit hier en daar afgeskeer om by al die stukkende plekke te kom.” Petro trek die vrou aan die arm weg van die bed af. “Pa en Ma, kan ek julle voorstel? Dis Lisa du Toit. Sy is die een wat vir Ryno by die ongeluk gehelp het.”

“Aangenaam.” ‘n Taamlike stewige handdruk, waarna die ouer dame nie weer in Lisa se rigting kyk nie. “Is hier iemand wat kan hare sny?”

“Laat hom net eers gesond word,” brom sy ouer broer Louw omgekrap.

“Hy sal beter voel sodra hy beter lyk.” Die ouer dame trek haarself tot haar volle lengte uit en Lisa sien hoe sy en Louw mekaar reguit in die oë staan en aangluur. Ouboet de Leo is nie soos die ander mense versigtig vir sy ma nie. Maar hy laat hom waarskynlik ook nie eers deur die duiwel stuit nie, dink Lisa in haar enigheid.

Intussen lui Ryno se foon sonder ophou. “Juanita? Ja dankie. ‘n wonderlik Nuwejaar vir jou ook.”

“Ai tog. Alles is terug na normaal. Vrouens wat agter Ryno aanbel en aanry.” Sy ma kyk die spul in die hospitaalkamer deur, Lisa inkluis. “Daardie selfoon sal nog aan sy oor vasgroei. Ons ry liewer.”

Ryno waai vir sy ma en pa toe hulle amper dadelik weer uitstap.

“Julle ma was seker ‘n onderwyseres,” besluit Lisa. “Sy lyk na ‘n kwaai tannie.”

“Nooit. ‘n Onderwyseres is ‘n vulletjie. Sy was ‘n landdros. Befoeterd en beduiweld, nie net kwaai nie,” antwoord ouer broer Louw. “En sy is nie tannie nie. Sy is Mevrou de Leo. Maar vir my pa mag jy oom Deon sê. Hy is ‘n gawe ou.”

Ryno skakel uiteindelik sy foon af en sit dit op die bedkassie neer

“Ja, jou pa is ‘n nice ou. Hoeveel het jou ma hom betaal om met haar te trou?” spot die saalsuster wat vir die hoeveelste keer ‘n draai by die bak biltong kom maak.

“Hy het nie ‘n keuse gehad nie. Sy het vir hom die hotel op ons dorp gekoop.” Louw maak ‘n bottel bier oop en sit dit in Ryno se hand.

“Nee wag, dit sal hom naar maak,” keer die saalsustertjie en vat die bier by hom.  “Terloops, ek hoor dokter Gideon is jou seun? Hy is die mooiste dokter in die hospitaal.”

“Hy is. En as hy weet dat sy ouma oppad plot toe is en ons is nie daar nie, is hy dalk na vanaand die kwaadste dokter.” Louw staan op en trek sy vrou agter hom aan. “Kom, ons kan die manne nie drop nie.”

“Petro, julle hoef nie hier te wag totdat die Nuwejaar aanbreek nie. Dis amper half nege en ek sal bietjie lees en dan slaap,” sê Ryno toe dit op die ou end net sy en Lisa is wat by hom in die kamer agterbly. Maar dan raas sy foon weer.

“Jy gaan nie slaap nie. Jou selfoon gaan besig bly tot eenuur vannag.” Lisa skud haar kop.

“Ons het baie kliënte,” verduidelik Ryno.

“Meesal vroulike kliënte,” Petro knipoog vir Lisa. “Ek sou my foon lankal afgeskakel het. Môre is nog ‘n dag.”

“Is nie net vroue nie…” Maar voordat Ryno kan verduidelik, rek sy oë en hy kyk verby hulle albei deur se kant toe.

Lisa volg sy blik, terwyl Petro fluister.

“Dis Carolyn, Anja se ma.”

“Ek het maar laterig gekom en gehoop die familie en meeste mense is al weg. Ek wou nie voor jou clan praat nie.”

Petro is op haar voete. “Jy kan maar voor my praat. Ek en Ryno het nie geheime vir mekaar nie.”

“Nou maar goed.” Die vrou kyk na Ryno met oë wat so hard soos albasters lyk. “Ek het probeer om te verstaan wat verkeerd gegaan het die dag van die ongeluk. Toe tref dit my. Ryno is verantwoordelik vir Anja se dood.”

Ryno se mond val oop van skok. “Nee Carolyn. Ek het nie eens die bakkie bestuur nie.”

“Nou hoekom is sy dood en nie jy nie?”

“Ek weet nie.”

“Wel, eendag sal jy weet dat jóú naam eintlik op daardie klippe geskryf was.”

“Klippe?”

“Hoe kon jy nie die klippe in die pad gesien het nie?”

“Ek het nie bestuur nie. My aandag was …elders.”

“Tipies. In plaas daarvan om jou vrou te beskerm …” Sy staan dreigend nader.

“Los hom uit.” Petro druk tussen Carolyn en Ryno in. “Jy het gedrink. Ek ruik dit in jou asem. As jy weer naby my broer kom, sal jy met my te doen kry. Ek bel die sekuriteit.”

Waarna die hospitaal in rep en roer is.

“En julle sit ‘n wag voor my broer se kamerdeur, anders bly ek heelnag hier,” dreig Petro.

Ryno hou sy hande oor sy gesig om sy verleentheid weg te steek.

“Moenie dat dit jou so ontstel nie,” probeer Lisa troos. “Ek kan net raai dat dit maar ‘n tipiese reaksie van skok en woede is. Haar ma soek ‘n sondebok om te blameer.”

“Natuurlik. En dit was nie nodig vir so scene nie. Sy is waarskynlik skadeloos,” brom hy.

“Niemand is in die stadium skadeloos nie. En totdat die booswigte gevang is, moet jy op jou hoede wees en niemand vertrou nie,” waarsku Petro.
Hoofstuk 3
“Jy sal nie glo wat vanoggend gebeur het nie.” Petro stap ‘n week later by Lisa se werksplek in. “Iemand het vandag vir Ryno ‘n pakkie met ‘n dooie muis in by die hospitaal afgelewer.”

“Ag nee sies.” Die blote idee maak Lisa naar en siek. “Wie sou so iets doen?”

“Ek raai Carolyn. Maar Ryno sê sy sal nie aan ‘n dooie dier raak nie.” Petro bly ‘n oomblik stil, asof sy gewig wil verleen aan haar volgende woorde. “Daar was ‘n kaartjie by waarop geskryf staan: Sewe Januarie. Happy anniversary.”

“Dis wreed.”

“Ek weet. Sal jy asseblief weer by Ryno ‘n draai gaan maak? Ek kan sien dat sy kop nog oortyd werk en dat hy met ‘n duisend vrae worstel oor wat daardie dag gebeur het.”

“Ek ken nie die antwoorde nie.” Dit is met gemengde gevoelens wat Lisa instem. Sy wil regtig liewer probeer om te vergeet en aan te gaan met haar lewe. Aan die anderkant wil sy so graag met haar eie oë sien dat Ryno oor hierdie beproewing in sy lewe kom.

Alle soorte seerkry is nodig om mens weer te laat beter word, besef Lisa toe sy haar belofte nakom en twee dae later hospitaal toe ry. Ryno se fisioterapeut vat hom vas en dons hom op, terwyl sy by die kamer instap.

“Wag, ek loop liewer. Ek sien julle is besig.” Sy vlieg om.

“Bly gerus. Ek is nou klaar met jou man. Buig jou been, meneer De Leo,” gebied die terapeut.

“Hy is nie my… man nie.”

“Ek kan nie my been buig nie, al probeer ek,” steun Ryno moedeloos. En toe doen die fisioterapeut dit vir hom terwyl hy protesteer. “Nee, eina blikkies man!”

“Nou gaan jy regop staan.” Die fisioterapeut tel hom onverwags op sy voete.

Ryno gryp eers vervaard in die lug en daarna kyk hy verbaas af grond toe, asof hy nie kan glo dat dit sy bene is wat tot daar strek nie. Intussen stroom die sweet in straaltjies van sy voorkop en lyf af.

“Jy staan!” Lisa klap spontaan hande.

“Ook maar net-net,” spot die fisioterapeut. “Maar ons vorder. Kuier maar lekker saam met jou vrou, want môre werk ons met krukke en dan gaan jy stap, ou maat.”

Die fisioterapeut help hom terug op die bed en maak sy papiere bymekaar.

“Die man het nie genade nie. Hy werk jou gal vir jou.” Lisa kyk simpatiek na Ryno toe die fisioterapeut by die deur uitstap.

“Hy wil seker mý vrou met sý spiere beïndruk,” spot Ryno en daardie donker oë koggel in hare.

“Jy moet hom reghelp. Ek is nie jou vrou nie.” Sy hoop nie dat hy agterkom dat daar ‘n warmte uit haar lyf en teen haar nek opklouter wat homself op haar gesig kom tuismaak nie. “Maar dit lyk darem asof dit met jou beter gaan.”

“Jip en ek raak haastig om huis toe te gaan. Louw se ander seun Roelof het my laptop ingesmokkel en ek kon weer begin werk. Nou voel ek nie meer heeltemal nutteloos nie.” Sy gesig raak ernstig. “Het Petro jou vertel van die geskenkpakkie wat ek eergister ontvang het?”

“Sy het. Dit moes ‘n nare ervaring gewees het.”

“Dit was. En dis duidelik, iemand hou niks van my nie. Net jammer ek weet nie wie nie.” Hy trek sy laptop nader. “Mag ek vir jou iets wys?”

“Natuurlik.”

Hy draai die skerm sodat sy kan sien, net toe die oorlamse saalsustertjie daar instap.

“Foto’s! Is dit familiefoto’s? As jy ‘n foto van dokter Gideon het, mag ek ook een kry?” Sy kom loer saam op die skerm.

“Lyk my die outjie is ‘n mediese wonderwerk,” spot Lisa.

“As Gideon in hierdie galery sit, is hy ‘n tronkvoël. Dit is foto’s van mense wat ek en Louw die afgelope twintig jaar nie uit die tjoekie kon hou nie. Lyk een van hulle bekend?”

“Ek kon regtig nie hulle gesigte sien nie.” Terwille van hom kyk sy hulle een vir een deur. “Nee, jammer. Niemand.”

“Is jy seker?” Hy lyk teleurgesteld, maar sit tog sy laptop weg.

“Doodseker.” Sy haal ‘n pakkie uit haar handsak en hou dit na hom toe uit. “Ek hoor by Petro dat jy ‘n selferkende sjokolis is. Dis Belgiese sjokolade wat vriende van my invoer. Ek maak die verpakking.”

“Dankie.” Hy vat die pakkie by haar en kyk eers agterdogtig daarna. Toe maak hy dit oop en hou dit na haar toe uit.

Sy vat een, sit dit in haar mond, kou en sluk. Dit behoort hom gerus te stel.

“Met sjokolade kan jy my in ‘n wip vang. Baie dankie!” Hy haal ook een uit en byt daarin. “Mm, hieraan kan mens verslaaf raak. Dis baie lekker.”

“Hoe kry ‘n man dit reg om soveel tjoklits in te ryg en nie gewig op te tel nie? Watch dit!” Die sustertjie kry ook een, voordat sy Ryno se bedkassie se laai oopmaak. “Het jy al so ‘n groot versameling tjoklits gesien?”

“Tjoklits en sjokoladekoek is my speciality,” verduidelik Ryno met groot oortuiging.

“Dit kan alleenlik jou speciality wees as jy dit bak of maak, nie opeet nie,” keer die suster. “Het jy al koek gebak?”

“Nog nooit. Maar ek het al ‘n koek versier. My dogter se plaas-koek. Dit was so mooi, dat die kleintjies selfs aan die plastiekspeelgoed wat ek op die koek gesit het, geknibbel het.”

“Plastiekspeelgoed?” Die saalsustertjie se stem klim van ontsteltenis. “Hoe oud was sy?”

“Dit was lank terug, met haar eerste verjaarsdagkoek.”

“Mens sit nie plastiek goeters op babas se koeke nie. Hulle sluk dit in en verstik. Jy is ‘n gesondheidsgevaar.”

“Dit was te groot om in te sluk,” beduie Ryno onversteurd. “Maar het jy gesien hoe lyk ‘n brahmaanbul met sulke klein ronde tandmerkies op sy lyf? En ‘n papierpop met ‘n afkop?”

“Wat het gebeur met die papierpop se kop?”

“My dogtertjie het dit afgebyt en ingesluk. Gelukkig is karton bio-degradeerbaar, nes tjoklits.”

“Jy trek my been.” Die saalsustertjie swaai verontwaardig om en stap uit. “Ek gaan vir jou ‘n seer inspuiting kom gee.”

“Sy het dit regtig gedoen,” sê Ryno, toe sy om die deur verdwyn.

“Wat? Vir jou ‘n seer inspuiting gegee?” Lisa kyk geskok na hom. “Dis teen die reëls.”

“Nee man, my dogter het die papierpop se kop afgebyt en opgeëet.” Hy lag effens. “En vandat ek hier in die hospitaalbed lê, kan ek nie anders as om mense ook met papierpoppe te vergelyk nie. As jy breek of knak, geestelik of liggaamlik, speel jy moeilik saam. Die skeur en voumerke kom nooit weer reg nie.”

“Lewenslesse…” Lisa gaan sit op die bankie langs sy bed. “Waar is jou dogter? Ek het haar nog nie hier gesien nie.”

“Sy woon in Londen. Ek hoor hulle kom binnekort kuier en haar kêrel wil ouers vra.”

“En aan daardie uitdrukking op jou gesig, kan ek sien dat jy hom probleme gaan gee,” glimlag Lisa.

“Jy is reg. Met my gaan die mannetjie sy Moses teëkom.” Ryno lig sy vinger dreigend.

 

“Goeie nuus, ons het een van die skuldiges gekry.” Kaptein Bothma stap ‘n maand later selfvoldaan by Lisa se werkplek in. “Nou moet jy saamkom en die bakkie kom eien.”

“Fantasties. Ek is so bly die saak word uiteindelik opgelos.” Lisa staan van haar lessenaar af op. “Wie is dit en hoe het julle hom opgespoor?”

“Ene Karel Bonthuys het homself gisteraand in sy bakkie vergas. Daar is ‘n brief by waarin hy skuld erken. Hy was blykbaar verlief op Anja en het besluit dat hy haar eerder uit die weg ruim, as om haar met ‘n ander man getroud te sien. En jy sal nie raai wat staan onderaan sy brief geskryf nie?”

“Groete Karel?” vra sy toe hy dramaties swyg, om haar stof tot nadenke te gee.

“Nee man.” Hy kyk verontwaardig na haar. “Daar staan op die sewende dag… word jou skuld betaal.”

“Dit was die sewende Februarie.”

“Ten minste verstaan ons nou waarom iemand hulle wou seermaak.” Die kaptein maak die deur oop en beduie na die wit en blou Opel wat voor die deur staan. “Sal ons gaan? Ek wil graag dat jy die bakkie vir ons moet identifiseer.”

 

“Dis nie hierdie bakkie nie,” besluit Lisa nadat sy om die voertuig gestap het.

“Moenie dit aan my doen nie,” steun Jurie. “Hoekom is dit nie die bakkie nie?”

“Daar was nie ‘n streep op die kant nie.”

“Die streep,” herhaal die kaptein skaapagtig en vir ‘n oomblik lyk dit vir Lisa asof hy ‘n kwas wil gryp en die ding toeverf. “En jy weet nog steeds nie watter soort bakkie dit was nie?”

“Nee. Maar ek weet dat dit nie hierdie bakkie was nie.”

“Vroumense!” roep hy gefrustreerd uit. Maar dan kom een van sy kollegas ingestap met ‘n koevert in die hand.

“Die verslag van die patoloog. Die slagoffer se maag is vol slaappille en sy lyf vol bloukolle. Dit was nie selfmoord nie.”

“Want hy het waarskynlik reeds geslaap toe iemand hom in die bakkie geboender het. Hierdie jaar… is nie my jaar nie,” besluit die speurder en gryp die koevert uit die ander man se hand. “Kry die span bymekaar. Ons gaan die terrein waar die bakkie gekry is, weer fynkam. En Lisa, jy beter nie die…”

“…dorp verlaat nie?” vra sy verbaas. “Hoekom nou weer?”

“Hulle het blonde hare tussen die lyk se vingers gekry.”

 

“Ry jy toevallig verby, of kom jy vir my kuier omdat jy ‘n goeie prokureur nodig het?” vra Ryno, toe Lisa ‘n uur later by die hospitaal instap.

“Dis duidelik, Jurie Bothma het my voorgespring.” Sy kan nie die wrang klank uit haar stem hou nie.

“Hy het gebel.” Ryno beduie na die selfoon wat op sy bedkassie lê. “Sit.”

“Ek is moedeloos. Ek het in die Laeveld kom woon omdat ek rus en vrede wil hê. Nou voel dit asof ek in ‘n snaakse web beland het.”

“As jy so onskuldig is, hoekom was jy juis daardie dag op die koppie?” pen hy haar reguit vas.

“Jy dink tog nie … Nee!” Vir ‘n oomblik staan haar verstand botstil. “Ek het na die Boesmankuns gaan kyk. Dink jy ek sou jou wou help en toegelaat het dat jou mense my sien as ek ‘n moordenaar was?”

“Ek weet nie wat om te dink nie. Miskien het Anja jou kwaad gemaak.” Hy vat haar hand en hou dit styf vas. Waarskynlik om te keer dat sy wegloop.

“Niemand sal my so kwaad maak dat ek hom of haar sal wil doodmaak nie.”

“Glo jy nou. Maar wag tot …”

“Ek het nie gekom om deur jou beledig te word nie.” Sy probeer om haar hand weg te trek, maar hy hou dit styf vas.

“Ek beledig jou nie. Ek wonder net.” Sy poging om kwaai te klink misluk jammerlik en sy stem breek skielik. “Jammer. Eintlik besef ek dat jy baie braaf moes wees om af te klim na die wrak toe, na wat jy gesien het. Dankie …”

Hy los haar hand en vryf oor sy oë. Duidelik ry sy emosies nog met hom wipplank.

Tot haar verleentheid voel sy hoe die trane oor haar eie wange begin loop. Sy bedek haar gesig met haar hande, sak vooroor en huil saam met hom.

Vir hom. Oor hom.

Hy is die een wat eerste tot verhaal kom en troos.

“Moenie bekommerd wees nie. Alles sal regkom.” Sy voel hoe hy met sy een hand oor haar hare streel. “En asseblief, voor jy gaan, sit my selnommer op jou foon en moenie huiwer om my te bel as iets gebeur nie. Nie dat ek nou sal kan help nie, maar een van die dae is ek weer … oukei. Op die been. Glo ek …”

Wou hy sê dat hy een van die dae weer homself is? Waarskynlik nie. Hy sal nooit weer diesefde wees nie. Alles in sy lewe het verander.

Alles in háár lewe het verander.

Na die sewende Desember verlede jaar is hy en sy onlosmakend van mekaar in ‘n donker wolk gehul.

Bestel die eboek vir R20.00 by liefdesverhalenmeer@gmail.com Kies enige 3 boeke en betaal slegs R50 vir al 3.

Boeke is ook op Amazon beskikbaar:

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.