Sien jou weer, op Skadureen – Adele Reynders

skadureen

Sien jou weer … op Skadureën – Adele Reynders

Eboek verwerking Renza Boeke

 

Sharon Jenkins is nog steeds die joos in vir kollega Max Reyneke omdat hy homself uit die voete gemaak het, net toe sy begin glo het dat daar iets tussen hulle kan ontstaan.

Sy het nie verwag om hom weer op projek Skadureën te sien nie. Maar hy is terug in sy volle glorie. Verwag boonop dat hulle ‘vriendskap’ maar net weer moet aangaan, waar hý dit laas gelos het.

Hy kan daarvan vergeet. Sy sal nie toelaat dat hy haar hart ‘n tweede keer breek nie.

Skadureën lê teen die hange van die Magalies. Dit is dáár waar die laaste van die harige tweebeen “Big foot’-agtige karakters laas gesien is.

Die mense praat van … Waterbobbejaan

 

 

Hoofstuk I

Donderwolke pak saam. Die atmosfeer raak gespanne. Enige oomblik gaan iemand ‘n stoel gryp en dit op ‘n ander ou se kop breek. Bloed gaan spat.

Sharon Jenkins maak haarself klein langs die tafel waar sy sit. As hier vandag oorlog uitbreek, wil sy nie in die kruisvuur wees nie. Sy behoort seker dankbaar te wees dat Marx Reyneke, haar kollega, haar alweer met sy fiets agtervolg het. Ten minste sit daar nou ‘n sterk man saam met haar by ‘n tafeltjie, niks groter as ‘n langspeelplaat nie. Sy mag dalk ‘veilig’ wees, solank as wat hy sy mond hou.

Iets wat hy nie altyd regkry nie.

Een drinkerbroer stel sy saak luid en in geen onduidelike taal. Hy beweer dat sy viertrekvoertuig met gemak teen loodreg mure kan opkruip. Verlede week nog het hy die los sand van die Namib deurkruis en ten slotte tot bo-op die vinger van God gery.

“God’s finger? Maar die rots het jare gelede geknak en van sy dun nekkie afgeval,” lewer iemand anders kommentaar.

Maar die viertrek man het sy antwoord reg: Juis, net daar waar die stuk klip nou nutteloos lê en verweer het hy hom met sy vier-by-vier geklim. Wieletjie vir wieletjie!

Twak, is die opinie van drie ander ouens.

Maar hy sal hulle gaan wys, daar agter teen die koppe waar dit te styl raak vir gewone ou viertrekkies. By ou Bloues se plek. Dan sal hulle bloedsluk want hy gaan hulle neuse vryf in sy trok se breë spore. En hulle sal harder moet sluk aan die beledigings wat hy nou moes aanhoor.

Sharon en Marx se oë ontmoet. Sy sein die boodskap; moet net nie lag nie, want sy sien die ondeundheid op sy gesig. Hy geniet elke oomblik van die bekgeveg.

Boonop knipoog hy vir haar om te wys dat sy glad nie bekommerd moet wees nie. Die saak is nog heeltemal onder beheer. Hy hou sy vinger op die pols van sake en sy oog op die barometer. As dinge kookpunt bereik, sal die persoon eers verby sy lyf moet kom voordat hy naby Sharon kan kom. En amper voel sy weer veilig in sy teenwoordigheid, soos ‘n jaar gelede hierdie tyd.

Ontoelaatbaar. Hy het haar vertroue heeltemal geskaad. Alles wat sy begin voel het, tot poeier en stof vertrap. Eintlik was dit seker haar eie skuld dat sy elke dag ‘n klein bietjie meer vir hom gevoel het. En gehoop het …

Sy sal hom beslis nie ‘n kans gee om soos ‘n dief in die nag skanse te breek om by haar hart uit te kom nie. Hy het sy kans gehad. En dit gruwelik verbeur.

En al het hy miskien glad nie agtergekom dat sy begin lief raak het vir hom nie, het hy die vriendskapsakkoord wat hulle as kollegas opgebou het argeloos geminag.

Sy verbreek oogkontak met hom. Om ‘n moordkuil van haar hart te maak, is nie eintlik wie sy is nie. Een of ander tyd wanneer sy gereed is, sal sy hom vertel hoe sy regtig voel. Maar vir eers ignoreer sy daardie sielvolle groenblou oë wat al vir twee weke gereeld met ‘n duisend vraagtekens na haar toe draai.

Hy aanvaar dat die vriendskap tussen hulle maar net moet aangaan waar hý dit ses maande gelede onderbreek het, sonder ‘n groet of ‘n woord daarna. Van die koudste dag in die winter verlede jaar … tot twee dae in die Nuwejaar in. Ses maande waarin hy nie ‘n woord van hom laat hoor het nie.

Nee, sy ghwar. Hierdie jaar, wat maar pas drie weke oud is, is hy op sy eie. Hy moet maar vir hom ‘n ander ‘buddy’ kry om saam met hom in boskroegies te kuier, die pragtige natuurskoon te verken en nuwe dorpies te ontdek.

Sy wil verkieslik nie eens onthou hoe goed hulle vriendskap was nie.

Maar hier sit hy nou waaragtig in sy volle glorie regoor haar in die Bloekomboskroeg. Dit is natuurlik die enigste plek in die agterpad om koeldrank te drink na ‘n stewige trap met die bergfietse. Hy was nie eens veronderstel om in die eerste plek agter haar aan te stert nie.

Haar vorige besoek by die Bloekomboskroeg het op ‘n interessante noot ge-eindig. In die vorm van ‘n blou en wit wa wat voor die deur gestop het en beamptes wat bloeiende en bakleierige aangeklamde mense opgelaai het. Vandag het sowaar weer die potensiaal want viertrek-man is nog nie klaar met sy verduidelikings aan die ongelowige Thomasse nie.

Sharon sit vooroor en vra sag. “Marx kan ons asseblief gaan?”

Hy sien ook die gevaartekens en lig homself half uit die stoel op. “Natuurlik.”

Maar net voor hulle kan uitglip, versper iemand die deuropening en die kroegman kondig die aankoms van ‘n nuwe gas aan. “Bloubaard Brummer is hier!”

Hy moet ‘n spesiale ou wees, want al raas die TV, raak die stemme rondom stil. Marx sak weer terug in sy stoel en Sharon volg sy voorbeeld.

Bloubaard is ‘n man soos wat Sharon nog nie in haar bestaansjare gesien het nie. ‘n Bonkige kêrel met lang donker hare en ‘n woeste baard wat lyk asof dit oral op sy lyf ook ongetem groei. Sy skouers is effens vooroor gebuig wat veroorsaak dat sy hande tot byna by sy knieë strek. Dit kan ook die swaar kruidenierswarepakkies wees wat hy by hom het, wat sy lyf krom trek.

Of ouderdom? Dit is moeilik om te skat hoeveel somers hy al gesien het,

Iemand roep uit: “Bloues, ons het jou gemis, waar was jy die afgelope drie weke?”

“Besig.”

“Pan Pantoffel wil met sy four by four teen jou klipkoppies kom uitry. Hy sê die ding kan. Hy het glo net verlede week die vinger in die Namib bestyg.”

“Se ghwar. Daai rots het jare terug al omgeval.” Kort en bondig.

“Seg ek ok. Maar hoekom is jy so bedons? Was daar weer oorlog op jou grond? Hoeveel mense het in die laaste tyd deurgeloop onder jou haelgeweer se soutbolletjies?”

“Baie,” brom die kêrel. “En moenie dink julle gaan die lyke kry nie. Ek los hulle om te vergaan in diep skeure en grotte.”

Die harige man versit sy twee inkopiesakke na een hand en kyk na die natgeswete lywe wat bankvas teen die kroeg se toonbank staan. Dan soek sy oë verder in die vertrek. Die enigste oop stoel is by die tafeltjie waar Marx en Sharon sit. Hy kyk eers stip daarna en toe draai hy sy rug op hulle.

Sy lyftaal wys, geweeg en te lig gevind.

“Nee wag meneer Bloues.” Marx vlieg op en trek die stoel uit. “Kom sit gerus by ons, ek koop vir jou ‘n dop.”

Sharon versteen. Dit is tipies Marx. Op elke projek maak hy ‘n paar goeie … of gevaarlike vriende. Haar moed sak in haar skoene. Moet sy hom alleen los, of moet sy wonde help skoonmaak na die tyd?

“Meneer Brummer drink Klippies in drievoud, hou maar jou geld reg. Cash, dop vir dop, want hier kan die ouens nie tel nie,” waarsku die kelner.

“Ek neem aan jy woon hier in die omgewing, meneer Brummer,” probeer Marx ‘n vriendelike gesprek aankoop, nadat die kelner ‘n glas met koperkleurige vloeistof voor Bloubaard neergesit het.

“My grond is daar.” Bloubaard beduie verder teen die Magalies op. Hy proe aan sy dop. Sy gesig, of die deel wat tussen die hare uitsteek vertel dat hy daarmee tevrede is.

“Bergop? Waarmee boer jy?” Marx is soos altyd in sy element as hy nuwe mense leer ken en Sharon kry soms lus om velle van sy maermerrie af te skop, juis daaroor.

“Bojaanskloof is heelbo. Hoekom wil jy weet waarmee ek boer?”

“Vra maar net. Die uitsig is seker asemrowend van daar af.”

Bloubaard is agterdogtig. “Miskien is dit … miskien is dit nie. Soek jy fietsrypad? Jy kan nie daar ry nie, dis te skuins en daar is te veel afgronde.”

“Dis nie baie nice nie Oom,” raas die kelner wat verbyglip. “Hierdie nuwe mense is dan so gaaf met jou.”

“Niemand is net gaaf nie. Almal soek altyd iets,” grom Bloues. “Of is julle van die polisie?”

“Ons is nie van die polisie nie,” stel Sharon hom dadelik gerus. “Ons bou.”

“Bouers, ug,” is Bloubaard se opinie. Bouers is duidelik net so onaanvaarbare betrekking soos polisie!

Dit is een van daardie situasies, hoe meer jy verduidelik, hoe groter raak jou moeilikheid, besef Sharon toe sy daarop uitbrei: “Marx is ‘n elektrisiën en ek maak huise mooi. Verf en so aan. Nog ‘n drankie, meneer Brummer?”

“Mm,” kom dit van iewers uit sy harige lyf.

“Reg.” Sharon wink die kelner nader.

“Onthou oom Bloues doen dit in trippels.” Die kelner staan met sy skinkbord teen sy bors vasgedruk. “En jy moet vooruit betaal.”

“Julle het dit al duidelik gemaak.” Sharon betaal en sit ‘n goeie fooi by.

Dit laat die jong man se stem los raak: “Oom Bloues boer teen die berg se hange met mango’s, lietjies, druiwe, groente en goeie boom … bome.”

“Sjarrap en gaan haal die drank,” bulder die onderwerp van bespreking. “Blerrie wysneus.”

“Oukei Oom.” Die kelner draai om en kies kortpad kroeg toe, terwyl hy die skinkbord nou soos ‘n drukfin bokant sy kop hou.

Viertrek man Pan gluur nou met openlik afkeur na Marx en Sharon. “Bouers. Ons weet hoe bliksems soos julle se koppe werk. Wag tot ‘n ou man soos Bloues vrek, dan tel julle sy stuk berg verniet op en bou ‘n hele dorp daar.”

“Nooit, dit is beslis nie die plan nie. Ons het genoeg werk.” Marx se voet raak waarskuwend teen Sharon s’n onder die tafel. Sy weet dadelik wat hy bedoel. Dit is beslis nie die regte tyd en plek om te vertel dat die onderneming waarvoor hulle werk die plaas Skadureën juis vir ‘n appel en ‘n ei uit ‘n boedel opgeraap het nie! Nogal met tien byna klaargeboude berghuisies wat net afgerond moet word.

Die atmosfeer raak al hoe meer gespanne.

“Wat soek julle hiér? Die rykes suip in die Mall.” Daar is meer manne wat hulle nou met die grootste agterdog bejeën. Sharon sien al hoe hulle met die fietse die hasepad kies, met ‘n klomp wit bakkies wat hulle agternasit.

Dit is algemene kennis. Jy mors nie met ‘n Noordwes boer nie.

“Ons is nie ryk nie. Groot sentrums is nie vir ons nie.” Marx skud sy kop.

“Ons wil nie moeilikheid maak nie. Ons sal nie gaan fietsry op privaatgrond waar ons nie welkom is nie,” beklemtoon Sharon ook en sy probeer om Marx se oog te vang. Hy moet die fietse gaan lossluit. Hulle moet nóú aanskuif. Hulle is nie regtig welkom hier tussen die plaaslikes nie.

Maar Marx Reyneke sit nou asof hy op die stoel vasgeplak is. Hier gaan dit nog lekker word.

Bloubaard Brummer waai skielik met die hand: “Ag julle moet maar gaan ry waar julle wil. Moet net nie gaan staan en verdwaal daar nie! Ek gaan soek na niemand. En veral nie dooies nie.”

“Mens verdwaal darem deesdae ook nie meer so maklik nie. Ons gebruik ‘n GPS.” Marx lig sy slimfoon op. “Hierdie instrument sal ons altyd weer huis toe vat.”

“En jy glo daai simpel ding sal help. Daar is mense wat op plekke wegraak en dan kry ons hulle geraamtes eers tien jaar later.” Bloubaard lig ‘n vinger streng en wys dat hy miskien harig is, maar hy is nie dom nie: “Die Magalies is bedrieglik. Jou slimfoon se GPS wys nie al die diep skeure en wegsteek klowe nie. En veral wys hy ook nie die ongediertes wat daar loop nie. Vierbeen en tweebeen.”

“Tweebeen gediertes, soos mense?” wil Marx weet.

Die kelner steek by hulle tafel vas en waarsku met ‘n stout uitdrukking op sy gesig: “Waterbobbejaan … Maar ons praat nie uit nie.”

“’n Bobbejaan wat in water bly?” hiermee het hy Marx se onverdeelde aandag.

“Nee, sy naam is Waterbobbejaan.” Een van die ander manne wat die gesprek met belangstelling gevolg het, los sy vashouplek aan die kroegtoonbank en slinger nader.

“Waterbobbejaan?” Sharon wag dat iemand eerste begin lag. Dit is beslis ‘n grap. Die legende is ouer as wat sy is.

Maar niemand lag nie.

Marx lyk steeds asof hy nie ‘n basiese idee het waarvan daar gepraat word nie.

Sharon vlieg hom sommer in. “Lees jy nie, Reyneke? Hoe kan jy nie van Waterbobbejaan weet nie?”

“Natuurlik lees ek! Maar ek lees vakliteratuur,” verweer hy homself.

“Jy moes die boek as kind gelees het. Waterbobbejaan van Ben Venter is Africana, jou ongeletterde bar … ingenieur.”

“Jy wou sê barbaar.” Marx se wenkbroue skiet teen sy voorkop op. Nie omdat hy ontsteld is oor haar belediging nie. Hy lyk gewoonlik so as iets vir hom baie snaaks is.

Vandag is dit nie vir háár snaaks nie. Dit is presies wat sy vir hom wou sê, sein sy met haar oë voor sy verduidelik: “Het jy nog nooit gehoor van Big foot en the Abominable Snow man nie? Waterbobbejaan is die Suid-Afrikaanse weergawe daarvan is. Almal se beskrywings stem ooreen. Die diere is ongeveer agt voet hoog, of twee punt vier mete, as jy nie weet van voet en duim nie, donker, harig in Suid-Afrika.”

“Jy is goed ingelig,” spot Marx. “Dan sal jy hom seker herken as jy hom sien.”

“Ek sal nie, want natuurlik bestaan daar glad nie so iets nie. Dit is ‘n legende.”

Net soos wat Pan die meeste van viertrekvoertuie weet, weet hy blykbaar ook alles omtrent die gedrag en bewegings van die spesie Homo Erectus. Dit is glo die spesie waaraan Waterbobbejaan behoort, aldus hom. “Hulle kruip weg. Met al die ontwikkelings, plase wat opgesny is en nuwe paaie waarop voertuie jaag het hulle al meer berg se kant toe uitgewyk. Hier in die digte groei en vele kontoere van die Magalies kan hulle ongesiens wegkruip, self al soek jy met ‘n tjopper.”

Marx is nog nie oortuig nie. “Wat van spore? Hy trap tog seker spore. Daar is seker spore waarmee honde hom kan uitsnuffel.”

“Ja, daar is spore. Maar hoekom wil jy hom uitsnuffel, meneer Reyneke?” vra Bloubaard Brummer omgekrap.

“Want sien is glo.”

“Om TV en koerante toe te hardloop. Weet jy wat dit sal beteken? Hulle soek hom, vang hom. Sit hom agter tralies in ‘n dieretuin, as hy leef of stop hom op en hou hom in ‘n museum?” Bloubaard Brummer pen hom met daardie snaakse geelbruin oë van hom vas.

Marx staan op. “Nee wat, ons het geen belang by die bestaan van ‘n water aap nie. Maar ons gaan in elk geval nou ry. Langer gekuier as wat ons beplan het.”

“Dit was goed om jou te ontmoet, meneer Brummer.” Sharon sit haar fietsryhelm op haar kop, maar die baardman se amper fluisterwoorde laat haar vingers die gespe misvat.

“Trap mooi daar op Skadureën. Dit is ook deel van Waterbobbejaan se loopgebied. Dit was Klong wat die waatlemoen Woensdag van jou bakkie afgesteel het, meneer Marx.”

“Ek het gedog iemand het dit by ‘n stopstraat van die bakkie af laat verdwyn voor ek op die plaas gekom het.” Marx lyk geskok. “Hoe weet jy?”

“Want ek watch vir julle.” Hy wys met twee vingers na sy eie oë en draai dit dan in Marx se rigting. En toe korrel hy vir Sharon. Maar voordat hulle hom verder kan konfronteer, staan hy op, draai om en stap by die deur uit. Hy slinger tussen die karre in die parkeerplek deur en begin aanstryk in die grondpad.

“Ry hy nie?” wil Marx weet.

“Met wat? Sy ou bakkie staan lankal op blokke. Maar sy plek is nie so ver nie en hy loop in elk geval altyd hier verby.”

“Hy het sy kruideniersware vergeet.” Sharon beduie na die twee sakke wat by hulle tafel agtergebly het. “Is daar iemand wat dit vir hom kan gaan aflaai?”

“Niemand wat ek ken sal na sy plek toe gaan nie.” Die kroegman lê oor die toonbank en hou ‘n hand uit. “Bring dit hier. Hy moet maar sy goed kom haal wanneer hy weer verbykom.”

“Toemaar ek sal dit vir hom neem. Hy stap seker nie vinniger as wat mens met ‘n fiets kan ry nie.” Sharon onderskep die pakkies.

“Jy reken? Ek dink nie jy sal hom langs die pad kry nie. Hy is net so glibberig en geheimsinnig soos die aapding waarmee almal spog. Ken al die kortpaaie deur die bosse.”

“Dan gaan ek na sy huis toe. Waar is dit?”

“So vyf kilometer ooswaarts. Daar waar die pad begin sleg raak, kry jy ‘n tweespoor pad wat teen die berg opdraai. Volg die pad tot waar dit teen ‘n lendelam doringdraadheining doodloop. As jy deur die draad kan klim, sal jy ‘n donker kliphuis sien … En dan, wel sterkte.”
Hoofstuk 2

“Is dit wys om verder van die huis af weg te ry? Dit gaan beslis reën.” Marx sluit die fietse eers van ‘n paal en dan van mekaar los.

Hy druk die ketting in sy rugsak en meet die pad met sy oë.

“Volgens hulle is dit vyf kilometer daai kant toe en die pad raak styl.”

“Marx, jy hoef nie saam met my te gaan as jy onveilig voel of bang is vir ‘n bietjie reën nie. Ek het gesê ék sal sy goed vir hom neem. Jy is onder geen verpligting nie. Dit was in die eerste plek nie nodig om saam te ry tot hier nie.”

“Voorstel, ons gaan eers terug Skadureën toe en kry ‘n bakkie om mee te ry.”

“Bye Marx.” Sy haak die pakkies oor die fiets se raam en knoop dit weer aanmekaar vas. “As ek terugkom sal ek die kortpad neem na Skadureën. Volgens Bloubaard is dit slegs vyfhonderd meter bergaf.”

Marx skud sy kop: “Nee, ons sal die roete eers te voet verken en seker maak dat ons dit met die fietse kan aandurf.”

“Jy praat te veel Marx. Ek kon al daarnatoe en terug gewees het.”

“Oukei ry solank. Ek sal sorg vir plan B.” Marx haal sy selfoon uit en skakel. Iemand antwoord en hy sê: “Amos is jy besig? Nie. Goed, dan moet jy ons dadelik met die Tata-trokkie kom haal. Ons is in die grondpad agter Skadureën teen die berg. Net verby die Bloekombos-kroeg.”

Behalwe dat Amos ‘n swaarvoertuig lisensie het, het hy in die omgewing grootgeword. Hy weet presies waar hierdie drinkgat en al die ander van die omgewing is. Maar Sharon wag nie langer nie. Sy klim op, verstel ratte en begin trap.

“Dankie, ek skuld jou ‘n sespak biere,” groet Marx agter haar. Sy vermoed dat hy sal trap dat dit klap om haar in te haal as hy sy foon eers gebêre het.

Haar vermoede is nie verkeerd nie. Hy haal haar spoedig in en skaars ‘n kilometer verder ry Amos met Scholtz en Kie se drieton Tatabakkie hulle van agter af in. Gelukkig, want dit voel vir Sharon asof sy gaan flou val as sy nog een trap gee.

Amos hou ‘n entjie voor hulle stil en klim uit. “Julle ry verkeerde kant toe. Verdwaal julle?”

“Nee, ons weet waarheen ons op pad is.” Sy klim af en knoop die winkelsakkies los. Marx en Amos laai die fietse op die bak. Wanneer hulle al drie voorin sit, trek Amos weg en soek omdraaiplek.

“Die pad loop dood daar,” verduidelik hy. “Dit voel soos kortpad af, maar daar is nie ‘n pad nie. Nie vir ‘n lorrie nie.”

“En vir fietse?”

“Te gevaarlik selfs al loop jy met die voet. Afgronde. Ek draai liewer om.”

“Amos, ons is op pad na Bloubaard Brummer se huis toe. Hy het sy groceries by die kroeg gelos.” Sharon tik op die sakke. “Ek wil dit vir hom vat.”

Daar steek die trokkie viervoet vas onder Amos se ferm tekkie. “Never! Julle vat my nie saam na Bloubaard Brummer se grond toe nie. Hy laaik nie van my mense nie. En hy gaan julle ook nie laaik nie.”

“Ons het hom toevallig ontmoet en ek glo nie hy het ‘n wrok teen mense nie. Hy lyk net soos ‘n loner. Maar jy hoef nie af te klim nie. Ek sal net gou uitspring en sy goed vir hom gee,” troos Sharon.

“Eish, ek laaik hierdie ding niks.” Amos sluit die voertuig weer aan. “En die reën kom weer. Dis skuinspad op na Bloubaard se plek. Ons gaan gly en vassit in die modder.”

Nie so skuins dat die trok dit nie met gemak uitklim nie, maar Amos raak toenemend senuweeagtig. Uiteindelik stop hy: “Jy moet verder ry, Marx. Maar wees versigtig, daar loop lelike goed op Bloubaard se grond rond.”

“Watse lelike goed?” wil Sharon weet. “Goeters soos Waterbobbejaan?”

“Nee, moenie oor daai ding praat nie. Ons sê nooit sy naam hardop nie.” Amos ril sigbaar. “Ek wag hier vir julle.”

“Bestaan hy regtig? Het jy hom al gesien Amos?”

Die man huiwer lank asof hy soek na woorde. “Nee Sharon, nie ek nie. Maar die mense vir wie my ma gewerk het se seun het. Hulle het gaan bachelors hou in ‘n rondawel doer bo teen die berg. Toe hulle in die middel van die nag wakker word, staan hý daar tussen hulle.”

“Wie?”

“Waterbojaan.”

Marx is steeds skepties. “Nou toe nou. Was hy kwaai? Het hy hulle skrikgemaak.”

“Hulle het woes geskrik. Maar hy was nie kwaai nie. Hy was dronk. Hy het al die halwe bottels leeggemaak …”

“Nooit!”

“Ja, sê hulle wat daar was en hom daai aand gesien het…” Amos maak die deur oop en klim uit.

“En hulle is seker dat dit nie vir Bloubaard was wat hulle gesien het en hom met ‘n agt voet aap verwar het nie?” vra Marx.

“Hoe sal ek weet? Ek was nie by daai bachelors nie.”

“Wel wat ookal die geval is, ek dink nie jy moet hier buite wag nie. Jy is veiliger in die trok.” Marx skuif oor, klim uit en beduie vir Amos om in die middel te gaan sit. Daarna skuif hy self agter die stuurwiel in.

“Amos, jy hoef vir niks bang te wees nie. Onthou ek en Marx is by,” troos Sharon.

“Julle sal niks kan doen nie, man. Hy is so sterk soos ‘n oolfant. Nie eens die trok sal hom keer nie. En julle weet nog nie eens van sy boetie nie.”

“Waterbobbejaan het ‘n broer?”

“Nee Marx, ek praat van Bloubaard se broer, Sarel. Dis ‘n ander ding wat gebeur het. Een winternag so paar jaar gelede het Bloubaard Brummer en Sarel Sjebeen Brummer se huis aan die brand geraak. Party mense sê dit was ‘n kers. Ander sê dit was van boomrook. Bure het gejaag om te kom vuurslaan. En toe sien hulle dit …” Amos skud sy kop.

“Wat?” roep hulle gelyk uit toe Amos net stilbly.

“Die lelikste harigste bobjaan wat oor Sarel buk. Toe die mense skree, het die bobjaan stadig regop gekom en soos ‘n kruppelman die bosse ingehardloop. Op sy agterste voete. Soos niemand nog nooit ‘n bobjaan sien hardloop het nie.”

“En waar was Bloubaard?”

“Hy was ook daar. Halfdood, maar hy het later gelewe. Sarel was heeltemal dood.”

“Het die ding hom doodgemaak?”

“Almal het gedink dit was die bobjaan. Maar die dokters het gesê dit was die rook van die vuur. Daar was nie beserings op sy lyf nie. Nou vertel mense dat Sarel rondloop. Sien, Bloubaard loop gedurig en praat met iemand. En dié wat naby kom hoor hoe hy hom Sarel Sjebeen noem.”

“Seker die skok van sy broer se dood …”

“Ons kan nie verder ry nie.” Marx bring die Tata se neus feitlik teen ‘n geroeste doringdraadversperring tot stilstand.

“Dit is hoe ver ons met die trok kan kom. Vandat Bloubaard se bakkie nie meer ry nie, het hy die pad met hierdie draad toegemaak,” verduidelik Amos.

“Nouja, sien julle later. En as julle wil terug gaan Skadureën toe, moenie vir my wag nie. Ek sal stap. ” Sharon vat die sakke en wip by die deur uit. Verder links lê die doringdraad plat. Sy trap versigtig tussendeur en stap na die bruin klipgebou wat tussen die bome sigbaar is. Toe sy naby is, roep sy: “Meneer Brummer, dit is ek Sharon. Ek bring net jou aankope wat jy in die kroeg vergeet het.”

Geen reaksie. Dit breek haar spoed en entoesiasme ietwat.

Dít en die lang gras waardeur sy haar weg moet baan.

Sy loer oor haar skouer en sien dat Marx ook aankom. Al sal sy dit nooit aan hom erken nie, gee sy teenwoordigheid haar die nodige moed om nader aan die gebou te beweeg.

Amos het dit reg gekry om haar bang te praat met sy spookstorie, want as dit iewers op aarde spook, is dit waarskynlik by in hierdie donker kasarn van ‘n plek.

“Beweeg na regs,” roep Marx van agter af. “Daar is ‘n soort voetpad.”

Lekker om sesvoet lank te wees! Hy sien bo-oor goed, waardeur sy moet beur.

Sharon volg sy raad. Stadig, voetjie vir voetjie. En toe sy die platgetrapte strook gras bereik, struikel sy oor iets wat daar lê.

Iets harig en hard. Iets waarvan die ingewande langs hom lê. Die grond rondom dit ‘n siek donker rooi, by swart deurweek. Bloed.

‘n Duiker, met ‘n draadstrik wat diep in sy nek sny. Glasige oë wat half uit hulle kaste peul.

Het sy dadelik begin gil? Of het sy eers geskree toe iets of iemand halsoorkop net voor haar uit die gras opvlieg en die hasepad kies? Sy kon sweer dit is iets met ‘n breë swart rug. Harig? ‘n Massiewe groot hond? ‘n Bobbejaan? Waterbobbejaan? Vir ‘n oomblik slaan die gedagte haar asem weg. Haar hande gaan self oop en Bloubaard se pakkies val grond toe.

‘n Mens. Dit moet ‘n reus van ‘n mens wees in ‘n jas, maak haar verstand haar wys.

“Sharon wat de?” Marx is met reuse spronge by haar. Hy sien die karkas raak en trek haar hardhandig teen haar vas. “My magtig, ons moet dadelik hier wegkom.”

En toe bulder iemand: “Hande waar ek hulle kan sien, of ek skiet julle albei vrek.”

“Meneer Brummer!” Marx steek een hand op, maar die ander een is steeds beskermend om Sharon. “Dit is ons, Marx en Sharon. Ons het saam gekuier by die Bloekombos. Jy het jou pakkies vergeet.”

“Ek weet wie julle is. Dink jy ek is siniel? Wat maak julle met die bok?” Water drup van sy swart reënjas af. Kan dit hy wees wat van die karkas af weggehardloop het?

Onwaarskynlik … Dalk tog.

Sharon keer: “Ons doen niks met die bok nie. Ons het op die ding afgekom.”

“Die plan was om net jou kruideniersware te bring,” benadruk Marx. “Nou gaan ons weer verkas. Totsiens meneer Brummer.”

“My groceries.” Die ou man sit die geweer neer en raap sy pakkies op. Hy maak oop. Daar is ‘n liter bottel met bruin vloeistof in. En dankie tog dit het nie met die val gebreek nie.

Bloues lyk meer ontspanne toe hy weer na hulle kyk. Hy tel sy geweer op en dié keer wys die loop darem grond toe.

“‘n Mooi aand vir jou meneer Brummer.” Marx begin om Sharon weg te stuur van die toneel af: “Maar dit is nie nodig om ons te bedank nie, dit was net ‘n … plesier.”

Ai moet hy altyd modder opskop?

“Werklik?” Bloubaard gluur hom agterdogtig aan. Hy moes agterkom dat Marx sarkasties is. Maar toe versag die uitdrukking in sy geelbruin oë: “Ek kán dankie sê jou stupid ool. Kom saam.”

Wanneer hy om die kliphuis se hoek verdwyn, maak Sharon haar uit Marx se arm los en fluister dringend: “Kom ons hardloop. Ek wil hierdie vervloekte plek nooit weer sien nie.”

“Nee, hierdie stupid ool is nogal nuuskierig oor wat dit is wat hy vir ons wil gee. Jy weet hy boer met dagga.” Marx gee ‘n laggie.

“En helaas, nie een van ons rook eens nie.”

“Maar ons kan koekies daarvan bak of die blaartjies pruim,” hou hy vol, terwyl sy oë stout vonkel.

“Marx, het jy dit nou heeltemal verloor. Ek wil nie as gevolg van onwettige produkte toegesluit word nie.”

“Dit sal nie gebeur nie.” Hy vou haar hand stewig in syne toe en trek haar agter hom aan.

Haar hart klop dawerend in haar keel. En dit het níks met sy nabyheid of met haar hand in syne te doen nie, weet sy. Sy wil nie langer by Bloubaard se huis wees nie.

Bloubaard wag hulle by die agterdeur in. Hy het sy aankope iewers binne neergesit en hou twee leë plastieksakke na hulle uit. Dan beduie hy trots na sy vrugteboord wat in terrasse teen die helling optroon. Fantastiese mango’s en lietjies wat boomtakke laat kreun onder die gewig daarvan.

“Pluk vir julle,” nooi hy, wanneer hulle aanvanklik net staar. ‘Toe toe, of moet ek die geweer gaan haal en julle dreig om julle self te help?”

“Wat ‘n pragtige vrugteboord,” kry Marx sy stem terug. Hy stap nader en begin om lietsjies en mango’s te pluk. Sharon volg sy voorbeeld huiwerig.

Wat as die harige ou olietang besluit om hulle te skiet en dan vir die polisie te vertel dat hy hulle in sy vrugteboord betrap het? Na wat sy vanmiddag by die boskroeg gesien het, is enigiets moontlik.

“Net nie daai kant toe nie.” Bloubaard wys met sy vinger na ‘n groot ringmuur, maar sy bruin oë dans van stoutigheid. “My groentetuin, met alles daarin is vir mý eie gebruik.”

“Ek het nie ‘n pyn daarmee nie. Ek het lankal gevoel hulle moet marijuana wettig maak,” spot Marx. En Sharon gee hom ‘n vuil kyk. Besef hy nie die situasie is steeds plofbaar nie? As Bloubaard hulle nie skiet nie, sluit hy hulle dalk in sy kelder toe, voer hulle vet en bak hulle in ‘n modderoond.

Maar die man se reaksie is verstommend. Hy lag uit sy maag, maar daarna waarsku hy: “As julle hier kom stap of fietsry, moenie my plantasie kom plunder nie. En moenie die polisie saambring nie. Dan gaan julle julle rieme styfloop …”

“Moenie bekommerd wees nie, meneer Brummer. Ons sal nie weer hiernatoe kom nie. Dankie vir die vrugte.” Sharon se sak is halfvol, maar sy het nou net een behoefte en dit is om by die huis te kom en te vergeet van Bloubaard Brummer, sy spookhuis en sy grillerige bok-karkas in die voetpad.

Hy kan verseker wees dat sy nooit op die halfmyl tussen sy grond en Skadureën sal probeer stap of ry nie.

Wat Marx doen is sý saak. Hy kan ry en in slote val en daar bly lê totdat hy ‘n spierwit geraamte is, vir al wat sy omgee.

Ja reg, nê! vlieg haar hart haar in. En wat van my?

Vir iemand wat stukkend gebreek het, is jy vrek voorbarig, hartjie. Bly liewer stil en doen jou klopwerk, anders gaan jy weer lekker bloei.
Hoofstuk 3

“Wat makeer?” vra Amos toe hulle holderstebolder by die Tata se kajuit inklouter. “Het julle die vrugte gesteel en toe sien die baas van die grond julle?”

“Nee, die vrugte was ‘n geskenk. Maar hier is waaragtig iets spokerig aan die plek. En daar lê ‘n dooie bok in die voetpad,” verduidelik Sharon uitasem. “Die arme dier is in ‘n draadstrik gevang.”

“Seker Bloues s’n. Baie mense stel strikke hier,” verklaar Amos. “Leef van die natuur.”

“Poachers!” raas Sharon.

Amos draai geskok na haar. “Dit is nie nodig om kwaad te word nie. Vir party mense is dit die enigste vleis wat hulle ooit te ete kry. Baie minder skade as wat jagters met gewere doen.”

Sy ril. “Jy is seker reg. Dit was net aaklig om te sien.”

Marx draai die voertuig om en begin stadig afwaarts ry, net toe die hemele se krane  oopgaan en dit kliphard begin reën.

Marx skakel die reënveërs aan en hou stil.

“Wat nou?  Jy moet ry. Hierdie pad word modder,” waarsku Amos.

“Ek probeer kyk, of ek Skadureën se geboue van hier af sien uitsteek.”

“Die bome is te ruig. Maar kan ons dit asseblief later uitwerk?” Sharon weet sy moet die boodskap by Marx uitkry: As Amos moet hoor dat Bloubaard hulle van hier af dophou, is hulle môre al hulle werkers kwyt. Veral as die storie van die waatlemoen wat van die bakkie af verwyder is, boonop moet uitkom.

“Jy is reg.” Hy kyk sydelings na haar en trek weg. ‘n Goeie begrip het net ‘n halwe woord nodig! Hulle verstaan mekaar darem nog, al hou sy nie van hom nie.

Vyftig meter verder draai Marx links op die grondpad wat hulle verby Bloekomboskroeg neem.

‘n Blou vangwa staan voor die deur.

“Alweer.” Sharon se mond val oop.

“En ons het dit gemis. Ag nee!” lag Marx en knipoog vir Sharon.

“Ja dankie tog, want as ons langer gebly het, was jy die een wat gebloei het.”

“Ag nee! Ek is dan so gaaf met almal,” spot hy. “Dis mos wat die kelner gesê het.”

“Twak, jy soek moeilikheid met almal. Moes jy regtig vir Bloubaard daarop wys dat ons darem ‘n dankie moet kry vir ons moeite? Stupid Ool.”

“Mens is nooit te oud om goeie maniere te aan te leer nie.”

By die volgende T-aansluiting sit Marx ‘n flikkerlig aan om regs te draai. Dan weer regs in die teerpad wat hulle tot by Skadureën se groot ysterhek neem.

Die grondpad wat op loop na die ou plaashuis, wat Sharon en Marx met twee ander kontrakteurs deel is nou glad en glibberig.

Marx parkeer op ‘n effense gelykte en hulle spring uit.

“Ek kom haal my bier netnou as dit minder reën,” roep Amos bo die klank van die water uit en hardloop na die kwartiere wat hy en die werkers deel. Ou stalle wat in oulike kamers met ‘n aparte badkamer en gesamentlike kombuis omskep is.

“Is reg. Ons los die fietse ook maar eers op die bak. Hulle kan niks oorkom nie.” Marx neem Sharon aan die arm en saam hardloop hulle tot op die huis se wye stoep.

“Oukei, hier is die deal,” sê Marx toe sy haar arm uit sy hand losmaak. “Gaan bad rustig. Ek gaan vinnig stort en vanaand sorg ek vir pasta en ‘n lekker maalvleis sousie.”

“Ek is nie honger nie. Na daardie karkas wil ek nooit weer eet nie,” wys sy sy aanbod van die hand. “En ek het ‘n lekker boek om te lees. Nag Marx.”

“Nee wag, dit is nog so vroeg. As jy nie wil eet nie, kom drink ten minste net ‘n glas wyn saam met my.”

“Nee dankie.”

“Wit wyn.” Hy vra so mooi.

“Goed, net een glas dankie.” Dit sal haar kans gee om met hom te praat oor die ‘nuwe bedeling’ tussen hulle.

“Wit wyn ja. Maar sodra jy my nuwe resep proe, sal jy jou deuntjie verander.”

“Net wyn, dankie Marx.” Sy sal moet ferm wees. Die man het nogal ‘n manier om met mense te toor.
Terwyl Sharon in ‘n skuimbad wegsak, hoor sy hoe Marx vinnig stort in die badkamer langsaan. Kort daarna prikkel die reuk van uie wat braai haar neus. Genoeg om enigiemand honger te maak. Selfs vir iemand wat pas die aakligste gesig van haar lewe gesien het en besluit het om nooit weer te eet nie.

Al haat sy hom deesdae, moet sy erken dat Marx die gawe het die mooi in die lewe uit te bring. Hy kry dit selfs reg die beter prentjie te skilder oor goed wat nogal negatief kan wees. Neem nou maar hierdie ou plaashuis waarin hulle tuisgaan. Driekwart van die plek word gebruik as stoorplek vir boumateriaal. Die kombuis se kaste is lankal uitgebreek en weggedra. Daar is slegs ‘n tweeplaat gasstoof om op te kook en ‘n mikrogolfoond om kos mee op te warm. Op die stoep, waar die sinkplate aan slegs een of twee dakskroewe hang, staan Marx se yskas en ‘n vrieskas vol ys. Dit is somer in Noordwes en Sharon werk saam met manne. Koeldranke en veral bier moet koud gehou word.

Marx se positiewe woorde toe die werkers twee weke gelede vir hulle beddens en die kombuistafel met agt stoele, wat ook as raadstafel dien, indra was: “As ons klaar is met die projek, kan ek en jy gerus hierdie plek regruk, Sharon. Dit kan ‘n lekker wegbreek bestemming maak vir Schotz en kie.”

“Ek dink meneer Scholtz sien dit eerder as ‘n afbreek bestemming!” het sy hom reggehelp.

“Ontoelaatbaar. Die gebou is stewig en die klipmure dik …”

“… en skeef, Marx. En die dak lek byna oral.”

“Goed die dak kort aandag. Maar die huis is karaktervol,” het hy volgehou. “Kyk die uitsig. Van hier kan ons afkyk op die hele oord en ook oor die beste deel van Noordwes. Ek sweer hierdie huis is ‘n oorspronklike Herbert Baker. Ons moet net soek vir die hoeksteen.”

“Dit is moontlik,” moes sy toegee.

“Ag miskien koop ek dan maar die huis en ons maak dit vir ons twee … Dink jy nie ons moet eendag hier aftree nie?” Ja spot maar Marx. Daar was nog nooit regtig ‘n ‘ons twee’ nie en dit sal ook nooit wees nie.

Daarvoor is hy te ligsinnig en duidelik te bang vir verbintenisse.

In ander opsigte stem sy en Marx darem oor die meeste dinge saam. Nou tydens hulle huidige projek besef sy al hoe meer dat hy haar enigste kollega is wie se nek sy nie al op dag twee wou omdraai nie. Meesal stem hulle saam oor die werk en veral ondersteun hy haar met die keuses wat sy maak vir teëls, verfkleure en kombuisontwerpe.

As kollega is hy ‘n bate.  Maar dit is al.

Dit is net haar eie skuld dat sy meer in hulle vriendskapsverhouding gelees het as wat daar was. Haar eie skuld dat sy die vir-altyd-wens begin wens het. Selfs begin droom het om in sy arms te kon wees en die volgende oggend daar wakker te word.

Lank gelede …

Korreksie, nie so lank gelede nie. Hoe lieg mens vir jouself? En hoe skakel jy gevoelens af?

Sy klim uit die bad en begin afdroog. Maar haar gedagtes bly maal na die plekke waar sy en Marx al saamgewerk het.

Reeds tydens hulle eerste vakansie-oord projek naby Lydenburg, ongeveer twee jaar gelede, het sy gehoop dat daar iets meer as net vriendskap tussen hulle mag ontwikkel. Sy was onmiddellik mal oor hom. Marx het van tyd tot tyd laat blyk dat hy haar ook nie te onaardig vind nie.

Maar omdat hy nie die eerste stap geneem en na haar uitgereik het nie, het sy haar gevoelens met alle mag onderdruk.

Maande later het Scholtz en kie se boskamp-ontwikkeling in Hoedspruit gevolg. Sy het weer die tender vir die interieurontwerp losgeslaan. En daar was Marx Reyneke ook weer met sy span elektrisiëns. Dit het al hoe moeiliker geraak om haar hart op hok te hou. Maar sy het, want hulle was immers goeie kollegas en beste vriende. Het sy vas geglo.

Volgens die meeste kenners word langtermynverhoudings en suksesvolle huwelike uit vriendskap gebore. Iewers tussen die saamkuier, stap op mooi bergpaadjies en in die omgewing se kuierplekke, sou dit tot hom ook deurdring dat daar iets tussen hulle aan die ontwikkel was. Het sy gehoop.

En geglo teen die einde van die projek, want dit was op sy gesig geskryf.

Maar sy moes tot haar skok en verleentheid agterkom dat sy die tekens heeltemal verkeerd gelees het. Daardie weemoed wat sy in die laaste week in Junie op sy gesig gesien het, was waarskynlik omdat hy toe reeds van plan was om Suid-Afrika se stof af te skud.

En vir haar. Sonder om behoorlik te groet.

Netsowel dat Sharon nie toe geweet het dat hy op pad na sy kinders in Australië toe was nie. Dit sou haar hart in sy teenwoordigheid aan flarde geskeur het. Dit was meneer Scholtz wat haar eenkant toe geneem het en ingelig het toe sy bakkie se stof nog in die grondpad tussen haar en hom gehang het. Marx is weg … vir altyd.

Toe breek sy in elk geval in duisend stukke.

Al was daar geen afskeid en geen begrafnis nie, het sy haar byna doodgetreur oor hom in die ses maande wat gevolg het.

Nou, die anti-klimaks.

Begin Januarie van hierdie jaar het meneer Scholtz ‘n span vir die Skadureën-ontwikkeling bymekaar gemaak. Nog ‘n vakansiebestemming met tien kleinerige berghuisies in Noordwes. Eers op daardie dag sou sy sien dat Marx terug is in Suid-Afrika en deel is van die span.

Sy dog sy val flou. Dit was soos om iemand wat baie naby en uiters kosbaar was uit die dood te sien herrys.

Marx is terug. Net so, sonder ‘n woord van verduideliking. Sonder ‘n behoorlike hello en beslis sonder ‘n verduideliking vir sy laaste wegsluip sonder ‘n koebaai.

Maar dié keer was sy gewapen en haar hart toegegrendel teen die onverwagte aanslae van ‘n ‘verlief-epidemie’. Die oplossing was om hom met ‘n wrewel te haat.

‘n Wilsbesluit.

Sy sou dit ten alle koste vermy dat hulle tydens hierdie projek weer oor naweke saam rondkuier, al is hulle van Vrydagmiddag drie-uur af tot Maandagoggend alleen in die groot plaashuis. Haar eerste wapen was ‘n splinternuwe bloedrooi bergfiets, waarmee sy die omgewing sou verken. Alleen!

En raai vir wie sou sy nie inlig as sy pad vat nie?

Vir blerrie Marx Reyneke.

Wat sy ook die eerste Saterdag gedoen het. Rooi fiets uitgehaal en weggery, Kroondal se kant toe en daar het sy ure lank rondgehang.

In plaas daarvan om vir haar te vra waar sy was. Of uit te trap omdat hy dalk bekommerd was. Wat hy sekerlik nie was nie, het Marx haar rooi yster met ‘n vreemde ‘oukei’ begroet en in sy bakkie geklim en weggery.

‘n Uur later was hy terug, met sy eie swart en silwer bergfiets.

En toe begin hy sowaar om agter haar aan te stert wanneer sy begin ‘fiets opsaal’. Dit het die ys so half en half tussen hulle gebreek. Sy sal mos nooit erken dat sy ‘n bietjie bang was om vrou-alleen op die grondpaaie te ry nie…

Maar ja, dit was net die ys wat effens gesmelt het. Sy sal self sorg dat die koeligheid tussen hulle hier is om te bly.

Sy is nog besig om aan te trek toe Marx aan die kamerdeur klop.

“Onthou jy het beloof om ‘n glas wyn te kom drink.” Asof hy wil seker maak dat sy die uitnodiging aanneem voeg hy by. “Ek het klaar geskink.”

“Gee vyf.” Sy bêre haar slaapklere en trek ‘n denimkniebroek en T-hemp aan.

“Jou kos ruik voorwaar lekker,” bieg sy toe sy by die kombuis instap en ‘n stoel langs die groot tafel uittrek om te gaan sit.

“Ek het jou gewaarsku!” Hy glimlag en sit ‘n glas wyn voor haar neer. “Jy sal maar moet proe. Asseblief …”

“Dankie.” Sy drink van die wyn, vas van voorneme om haarself so vinnig as wat hulle messe en vurke na die tyd kán neersit, en sonder om té ongeskik te wees, uit die voete te maak.

Maar Marx se volgende woorde laat haar amper stik. “Wat doen ons more? Ek stel voor, ons ry Magaliesburg toe en gaan verken al die winkels daar. Koffie en beskuit hier en ‘n laat ontbyt in een van die lekker eetplekkies daar.”

Neem hy sowaar net aan dat alles sommer net weer reg moet wees tussen hulle? As sy die tipe was, sou sy hom nou kopklap wou gee. So hard dat dit hom op sy sexy sitvlak laat beland.

As hy dan nie besef wát hy verkeerd gedoen het nie, is dit miskien nou die tyd om hom te laat agterkom dat iéts verkeerd is.

Sy wik en weeg. Proe aan die kos en proe aan ‘n paar woordkeuse scenarios. Toe antwoord sy net: “Nee dankie. Ek het ander planne. Ek ontmoet my kinders by Chameleon Village by Harties.”

Sy kon hom seker saamgenooi het. Die kinders hou baie van hom.

“Jou seuns. Great, ek sal die ouens baie graag weer wil sien. Ons het destyds lekker saam gekuier. Een is sowaar intussen getroud. Jy moet nog foto’s wys.”

Ja en een is in Oktober getroud en jy is saamgenooi troue toe as my metgesel. Daar was ‘n hele paar verbaasde gesigte toe sy alleen opdaag, wil sy eintlik graag vir hom sê.

Nee man, julle verstaan iets verkeerd. Tussen my en Marx is daar niks. Ons was net vriende. En ek het hom op die ou end nie eens saamgenooi troue toe nie. Hy is in elk geval nou in Australië en ek dink nie die plan is om terug te kom nie.

O nee, ek is oukei daarmee.

Soos reeds gesê, daar was nog nooit iets romanties tussen ons nie. Romanse is vir tieners en vir die voëls. Sy het haar verdedigingsrelaas naderhand uit haar kop geken. Sy kon vir enigiemand in die middel van die nag, nadat sy uit ‘n diep slaap ontwaak het vertel hoe min sy eintlik vir Marx Reyneke voel. Vriende man! Vriendskap wat vir haar baie meer beteken het as vir hom.

“Hulle sal seker een of ander tyd ‘n naweek hier kom deurbring, dan sal jy hulle sien. As jy nie op daardie stadium ander planne het nie.” Want na more se uitstappie jy is beslis nie saamgenooi nie, Marx Reyneke. Nie sommer weer nie.

Hy moes agterkom dat sy meer inhou, as wat sy sê, want hy vra: “Sharon, is alles reg met jou? Ek kry so die gevoel dat die atmosfeer tussen my en jou verander het sedert ons op Skadureën begin werk het.”

Verander het? wil sy uitroep. Watter atmosfeer? Die een wat nie meer bestaan nie?

Ten minste is hy nie heeltemal so ‘n dom, emosielose, verstandlose klip as wat sy begin glo het nie. Die ergste is dat hy  duidelik geen idee het dat hy haar verwond het nie.

“Wat laat jou dink iets is verkeerd?” daag sy hom uit.

“Daar is ‘n soort antagonisme van jou kant af?” verwoord hy met ‘n versigtige klank in sy stem. “Ek begin glo dat jy ernstig was toe jy gesê het dat ons liewer na ure uit mekaar se geselskap moet bly.”

“Aha, uiteindelik drop die pennie. Natuurlik was …is ek ernstig. Maak jou eie naweek planne. My program is vol en jy is nie deel daarvan nie.”

“Regtig nie?”

“Ja, regtig nie. En hou op om op dieselfde plekke as ek met jou fiets te gaan ry. Hier is duisende paadjies. Gaan soek jou eie.”

Hy ruk op: “Eina, dit maak seer.”

“As jy kan uitdeel moet jy kan ontvang ook.” Dit is uit voordat sy ‘n wag voor haar mond kan sit.

“Wat uitdeel?” Weet hy waaragtig nie? Dan sal sy hom inlig: “Alleen speel. Niemand anders ken in jou planne nie.”

“Doen ek dit? Ek dog ek vra elke keer of jy ook…”

“Regtig? Dink weer. Van wanneer af verdwyn en verskyn vriende vir ses maande sonder om te groet of iets van hulle te laat hoor? Ek het nie eens geweet jy is op pad nie. Dink jy alles moet net weer wees soos dit was?”

Hy kyk lank na haar. Dit is duidelik dat hy wat nie weet, dát hy nie weet nie, ‘n gevaarlike man is. Op sy gesig flits die een emosie na die ander.

Hy gaan sit en begin stadig praat: “Ek weet ek was lank weg, maar ons twee kon nog altyd die drade optel as ons mekaar ‘n tydjie nie gesien het nie. Wel ten minste die paar keer wat ons saam gewerk het. Ons is vriende, jy weet.”

“Wás vriende, Marx. Dit is nie hoe vriendskap werk nie. Vriende groet mekaar aan die einde van ‘n projek. Vriende noem dit aan mekaar as hulle beplan om te emigreer. Dan hou hulle aanvanklik kontak met mekaar. Vir ‘n ruk ten minste. Hulle voertsêk nie net sonder taal of tyding nie.”

Sy wou sê hulle ffff, maar nee, sy praat nie so nie. Hy ook nie.

Inteendeel, hy praat niks. Hy staar net.

En sy het woord-diarree. Sy braak gal: “Vriende wens mekaar aan die einde van die jaar ‘n geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwejaar toe al is dit ses maande nadat vriende uitmekaar gespat het. En vriende is veronderstel om van mekaar te hou. En ek het ‘n ernstige dis-like in jou gevang.”

“’n Wat?” Oh my word! Kan hy sowaar nie glo dat daar een siel op aarde is wat nie van die minlike Marx Reyneke hou nie?

Sy sien kolle. “Verstaan jy nie meer Afrikaans nie? Is dit wat Australië aan mens doen? Kom ek spel dit vir jou uit. Ek hou nie meer van jou nie. Dit sal beter wees as ons die werksverhouding op ’n professionele vlak hou. En van nou af bring ons ons naweke afsonderlik deur.”

Daarsy, kry vir jou katvis! Die skoot gaan reguit huis toe. Marx se mond val oop van skok.

“Ek het dan die fiets gekoop om saam met jou te ry. En ek hou … eerlikwaar baie van jou,” kom hy uiteindelik tot verhaal. “Ek het altyd geglo dit is half wedersyds. Dalk …”

Dalk wat? Maak oop jou mond en praat met my Reyneke! Verduidelik aan my wat in jou kop aangegaan het, smeek haar hart.

Maar haar verstand sien net rooi: “Toe nie. Maar kom ons maak mekaar nie verder seer deur dinge te sê wat kon gebly het nie.” Sy maak dit half af met haar een hand. En wil amper met die ander een skerm, omdat dit voel asof elke hou wat sy in sy rigting mik, haar direk in die krop tref. Winduit.

Op die TV in die een hoek van die kombuis speel musiek. Vir hierdie projek het Marx gesorg dat daar DSTV is. Die volle pakket.

Maar die liedjie is hopeloos te romanties vir die yswind wat van iewers af inwaai en die afstand tussen hulle nog groter maak. Waar kom dit vandaan?

Sharon skeur haar blik van die eina op Marx se gesig weg. Dit is reën en wind wat by die  skrefie van die opgewasemde kombuisvenster inwaai.

En toe sien sy dit. Die swart silhouet van ‘n groteske kop wat nekloos op ‘n bonkige figuur moet pas. ‘n Reus. Die venster aan die buitekant is byna twee meter bokant grondvlak.

“As jy lus het om na iets op die TV te kyk, die remote lê daar voor jou,” hoor sy Marx se veraf stem. Sag en seer. Dan vra hy dringend: “Sharon?”

“Marx, liewe hemel ..,” fluister sy en tel ‘n hand op om te wys wat haar asem nou heeltemal wegslaan.

Hy draai om en volg haar blik. Sy mond gaan oop, net toe die wese probeer om die venster verder oop te vroetel.

 

Jy kan die boek bestel by liefdesverhalenmeer@gmail.com R20

Die boek is ook beskikbaar op Amazon vir $1.00 Volg asb die skakel

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.