Hi meneer Chip … bye meneer Chip – Adele Reynders

Meneer Chip

Hi meneer Chip … Bye meneer Chip – Adele Reynders

(Kopiereg)

‘n Liefdesverhaal.

Van die oomblik waarop Carla van Zyl vir ryloper Ferdie Crause ‘n geleentheid in haar bakkie gegee het, is haar verbeelding op hol. Hy praat nie veel oor homself nie, maar sy is doodseker dat hy ‘n hele klomp geheime met hom saamdra.

Dit is nie net haar verbeelding wat op hol is nie, dit gaan nie veel beter met haar hormone nie. Voor sy die stof uit haar oë kan vee, is sy tot oor haar ore verlief op hom.

1

Ag nee vervlaks, dit is ‘n nuwe band wat sy laat opsit het wat nou klak klak en klap klap vir haar vertel dat sy teëspoed het.

Asof haar besoek aan die advertensie maatskappy vir wie sy soms vryskut werk doen, nie al klaar rampspoedig genoeg was nie. Haar laaste konsep vir die wenboerewors is afgekeur. En sy het gedink dit is so oulik. Rol boerewors in ‘n warm pan. Slaaiblare en tamaties langsaan. Dan lig die boerewors sy kop en blaas soos ‘n kobra. Die blaarslaai en tamaties kry skielik bene en hardloop dat hulle klein word, terwyl die wors en pap hulleself slap lag.

Of so iets. Die baas het nie gelag nie. Nie vir haar wors … of vir haar ‘so iets’ nie. Nie kreatief genoeg nie, sy sal weer moet gaan dink.

Nou is sy platgeslaan.

Boonop met ‘n pap band!

Carla trek moedeloos van die pad af en hoop maar dat ‘n snelweg patrollievoertuig een van die eerstes sal wees om by haar stil te hou. Al is haar een en ‘n halwe kaluit bakkie nie die heel grootste voertuig op die pad nie, weet sy dat dit nogal spiere vat om ‘n band om te ruil.

Dan klop iemand teen die ruit.

‘n Man met kort bruin hare en ‘n weekoue baard. Hy beduie na die band. Sy hande wys dat hy dit kan fix en Carla maak haar deur dankbaar oop.

“Domkrag?” vra die man. Hy is nie oormatig vriendelik nie, maar die uitdrukking op sy gesig is ook nie stuurs of onaangenaam nie.

Carla klim uit en druk haar sitplek vorentoe om die staalpen en domkrag uit te haal. Sy wil nog beduie dat die spaarwiel onder die bakkie gestoor is en dat hy dit met die staalpen moet laat sak.

Maar hy weet dit self.

Hy weet dit waarskynlik beter as wat sy dit weet, want hy werk ewe behendig.

Wanneer die spaarwiel op die grond lê, druk hy daaraan en toe trap hy daarop asof hy verwag dat dit pap moet wees.

“Ek het dit laat nasien voor ek in die pad geval het,” verduidelik sy.

“Jy kan bly wees,” brom hy en maak vir ‘n kort oomblik oogkontak voordat hy die domkrag op die regte plek sit en begin om die kar daarmee op te lig.

Hy swets onderlangs toe hy met die moere van die stukkende wiel spook. Klim naderhand met sy hele gewig op en uiteindelik kom dit los. Hy draai verder los en haal die wiel af.

“Gelukkig is jou rim nie beskadig nie. Jy sal net die band moet vervang,” verklaar hy nadat hy die band-gedoente deurgekyk het.

“Dit is omdat ek dadelik stilgehou het.”

“Gevaarlik vir ‘n vrou om net stil te hou.” Hy klink nou soos haar ousus of haar pa.

Hy laai die stukkende wiel op die bakkie, bring die spaarwiel nader en sit dit in posisie. Daarna bout hy dit behoorlik vas. Hy laat sak die bakkie, sit die domkrag en spanner terug op hulle plek en staan terug.

“Daars hy. Ready to go.”

“Dankie.” Sy wil ‘n hand uitsteek om te skud, maar hy lig syne op. Te vuil.

Daarvoor het sy ‘n oplossing. Sy stap na die bakkie se kajuit en hou ‘n pakkie met klam doekies na hom toe uit. Sy gaan nooit daarsonder op die pad nie.

Hy vat een en vee. Vat nog een en vee meer. Hy staan eenkant toe en wys dat sy moet ry.

Eers toe besef Carla dat daar geen ander voertuig by haar bakkie staan nie.

“Waar is jou kar?” vra sy en kyk rond.

Hy trek net sy skouers op. Om een of ander onverklaarbare rede het hy sonder ‘n kar daar gekom.

Iewers tussen niks en nêrens op die hoofpad wat Gauteng en Mpumalanga van wes na oos deurkruis.

Eers toe sien sy die groot slap sak langs die pad met ‘n yslike bruin karton waarop MP geverf is.

Die man wat haar gehelp het, is ‘n ryloper!

Sy word yskoud, van die kroontjie van haar hare tot in haar linker kleintoontjie. As sy dit besef het, het sy nie die deur van haar bakkie oopgemaak en uitgeklim toe hy geklop het nie.

Wat as hy ‘n tronkvoël is? Iemand wat vroue oor die kop slaan en hulle van hulle besittings en karre beroof? Erger nog. Wat hulle verkrag, doodmaak en in ‘n sloot gooi.

Hy kon dit seker al gedoen het in die tyd wat hy geneem het om die wiel om te ruil. Haar met die domkrag oor die kop slaan en haar oorskot in die veld gooi. Daar is genoeg dongas en gate in die veld om ‘n liggaam te versteek. Hy kon die wiel daarna reggemaak het en tot in Maputu gevorder het, voordat enigiemand háár wat Carla is vermis het.

“Hoe het jy tot hier gekom?” vra sy. Die vraag moes seker gewees het, hoe gaan jy van hier af verder kom? Maar sy ken reeds die antwoord. Soos ‘n mot in ‘n spinnekop web is sy by ‘n bose plan ingetrek.

Sy het nie meer ‘n keuse nie, Sy sal hom noodgedwonge in haar bakkie laai en aflaai waar hy wil wees.

“Ek het saam met ‘n geleentheid tot hier gery. Hulle het afgedraai Lydenburg toe en ek moet reguit aangaan.”

“Waarheen is reguit?” vra sy.

“Marlothpark.”

“Jy kan saam met my ry. Ek bly …” Is jy nou besimpeld om vir hom te wil sê dat jy daar woon? skop haar verstand in. “Ek gaan vir mense daar kuier.”

“Dit sal gaaf wees, dankie. En ek belowe jou ek sal jou nie oor die kop slaan en jou bakkie vat nie.”

“Daardie gedagte … het nie eens by my opgekom nie,” lieg sy gladweg.

“Dit behoort.”

“Nou wat moet ek in noodgevalle doen? Kan tog nie met ‘n pap wiel ry, totdat die sparks onder die rim die gras langs die pad aan die brand steek nie.”

“Jy hou jou deur gesluit en wag vir hulp. Sekere versekeraars stuur bystandsvoertuie uit,” hou hy vol.

“Maar gelukkig is jy toe nou hier.”

“Ja, gelukkig of ongelukkig.”

“Nou kry jou sak dat ons kan aanstoot. En net so terloops,” en vir geen verdere rede of vir enige toekomstige gebruike. “Ek is Carla van Zyl. En jy is?”

“Ferdi Crause.” Hy lyk darem dankbaar om van die snelweg af verlos te word. Gaan haal sy sak en smyt dit tussen die ander goed op haar bakkie. Verbeel sy haar of hink hy effens?

Nee sy verbeel haar dit glad nie. Hy steun toe hy in die bakkie klim en toe moet hy sy linkerbeen help om te gaan sit waar daar plek is … vir ‘n linkerbeen van sy lengte.

2

Voorraadopname, besluit Carla toe hulle begin ry. Ferdie Crause lyk basies onskadelik. Maar gestel haar ergste vrees word waar en die man is ‘n tronkvoël wat veertigjarige dames soos sy wil beroof, wat staan haar te doen?

In die eerste plek sal sy paraat wees. Sy loer skuinsweg na hom.

Ja veertig is seker min of meer sy size! En noudat die woord size in haar kop wortelskiet, sien sy dat die man nogal groterig is. Nie oorgewig nie, net sterk gebou. Teen daardie lyf staan sy nie ‘n kans nie. As hulle handgemeen raak, is sy aan die verloorkant.

Een verkeerde voet van sy kant af en aanval is die beste manier van verdediging. Sy sal haar nie sommer net laat oorval nie. Hy het ‘n Achillies heal. Sy linkerbeen. Sy sal hom skop dat hy dubbel vou.

Haar verbeelding begin hardloop.

As hy ‘n voortvlugtige is, is hy dalk gewond in ‘n skermustseling. Soos …

Sy vorige slagoffer het die oorhand oor hom gekry en ‘n kombuismes uit ‘n laai getrek en hom gesteek. Of dalk het sy hom geskiet?

Daar was nie bloed op sy klere toe hy die band omgeruil het nie, wat beteken dat die wond intussen verbind is. Iewers waar hy laag gelê het. ‘n Barmhartige Samaritaanvrou wat hom versorg het terwyl hy swak was. Die oomblik toe hy beter word, verwurg hy haar en steel haar kar en bankkaarte. En nou is hy hier …

Sonder die kar.

Wat sou van die slagoffer se kar geword het?

Daarop het sy ook ‘n antwoord. Aangesien elke lid van die SAPD in Johannesburg en Pretoria na hom en die kar soek, het hy die kar in ‘n dam gelos.

Nou help sy wat Carla is, ‘n voortvlugtige om iewers in die bos te gaan skuil.

‘n Voortvlugtige wat intussen sy sitplek agteroor geslaan het en nou soos ‘n baba slaap. Anders lyk dit net of hy vredig slaap, want al is sy oë toe, broei daar sekerlik steeds bose planne in sy kop.

As haar sesde sintuig reg is, behoort sy by Nelspruit, deesdae mos Mbombela in te draai om hom by die polisiestasie te gaan aflaai.

Maar dalk is hy so onskuldig as wat hy lyk. Dalk is daar ‘n goeie rede vir hom om karloos die roete tussen waar ookal en Marlothpark aan te durf.

Gee hom die voordeel van die twyfel, Carla! Dit is nie die arme wese se skuld dat jy vir ‘n advertensiemaatskappy werk wat jou beskuldig dat jy jou kreatiewiteit verloor het nie.

Dink liewer aan wors …

Sy ry verby die Mobombela afdraai en skakel die radio sag aan. Strelende musiek om nie haar passasier te pla nie.

Dit doen blykbaar, want hy word wakker en stel sy stoel, om weer regop te sit.

Tussen Mbombela en Kaapmuiden raak die omgewing skilderagtig en uit die hoek van haar oog sien Carla dat Ferdie belangstellend rondkyk. Hy drink die skoonheid rondom hulle in.

Carla begin ontspan. ‘n Lig gewonde ontsnapte tronkvoël wat die mooi natuurskoon waardeer, kan nie te gevaarlik wees nie.

Dalk het hy net die regering met belastinggeld bedonner.

Vervlaks, hou op met die tronkstories. Hoe laag kan jy daal, Carla?

“Daar is ‘n burgerplek in Malelane,” praat die man wat homself Ferdi noem, onverwags. “Kan ek vir jou ‘n hamburger koop om dankie te sê vir die geleentheid?”

Haar maag skree ook. En toevallig is die Wimpy in Malelane een van haar stilhouplekke wanneer sy Marlothpark toe gaan. Sy koop ook haar eerste kruideniersware daar.

“Dit sal lekker wees, dankie.”

Ferdie draai effens dwars in sy sitplek om na haar te kyk: “Jy is nie ‘n vreeslike praterige mens nie.”

Gelukkig kan hy nie hoor wat in haar kop aangaan nie! Daar is sy nie vir ‘n sekonde stil nie. “Is dit ‘n vraag, of is dit bloot ‘n gewaarwording?”

“Dit is waardering. Mense dink dikwels dat hulle eindelose gesprekke moet voer as hulle ‘n minderbevoorregte skepsel langs die pad oplaai.”

“Ek beskou jou nie as minderbevoorreg nie.” Dit is die een gedagte wat sowaar nog nie deur haar kop gegaan het nie. Dat die man down en out is en dat sy jammer vir hom moet wees nie.

Miskien moet sy dít ‘n slag oorweeg. Dat die man alles verloor het en dat hy daarom sy duim moet inspan om sy bestemming te bereik.

Hy lyk egter nie soos iemand wat niks het nie. Inteendeel, sy denim lyk redelik nuut en op sy kakiegroen golfhemp se sak pronk daar ‘n Jeep wapen…

wat hy dalk uit ‘n slagogffer se kas gesteel het!

Carla stop by die laaste tolhek voor Malelane en voor sy geld kan uithaal, hou hy ‘n bloue na haar toe uit.

Sy skud haar kop. “Nee dankie. Jy betaal vir die burgers.”

3

In Malelane parkeer Carla die bakkie waar hulle dit vanuit die Wimpy kan dophou.

Carla sit haar sak met klere in die kajuit op haar sitplek. “Ek stel voor jy doen dieselfde.”

Ferdie stribbel nie teë nie. Die sak lê byna die hele agterste helfte van die kajuit vol. ‘n Sware vrag. Waarskynlik is alles wat hy besit daarin.

In die Wimpy bestel hulle elkeen ‘n burger en skyfies.

En uiteindelik raak hulle aan die gesels. Koeitjies en kalfies. Ditjies en datjies. Sowaar deel hulle ‘n liefde vir die natuur. Hy kan nie by ‘n trop olifante in die wildtuin verbyry nie.

Sy ook nie!

Leeus hou vir haar ‘n besondere bekoring in. Palm vrees en ontsag in. Majestieus en die welpies is soooo mooi.

Vir hom ook.

Musiek. Toevallig deel hulle dieselfde musieksmaak.

Hulle kan oor byna elke onderwerp gesels, Maar een ding is ‘n taboe. Sy sál nie oor sy lewe uitvra nie. Hy stel in elk geval nie belang in hare nie. Maar dit raak al hoe meer duidelik dat die man maar net ‘n doodgewone ou is, wat gekies het om Marlothpark toe te ryloop.

Omstandighede.

Moontlik het sy voertuig onklaar geraak. Of dalk wag daar ‘n kar vir hom in die bos. Baie mense los voertuie daar en kom met die bus of ‘n shuttle deur. Dit was dalk sy plan en toe verpas hy sy geleentheid. Wend hom tot plan B en klim op sy duim.

“Verskoon my, ek moet net gou gaan hande was voor die kos kom.” Ferdie staan op om badkamer toe te loop.

Hy is nog nie terug toe die kelnerin met die twee borde kos terugkom nie.

“Nog iets mevrou?” vra sy.

“Mayonnaise, asseblief.”

Die vrou stap weg en Carla tel een van haar skyfies op: “Hi mister Chips en goodbye mister chips.”

Sy druk die chip in haar mond, kou en sluk.

Toe tel sy nog enetjie op en vra met haar gewone stem: Waarvoor wag ons mister Chip?

Sy maak haar stem dun: Ons wag vir ons mayonnaise sousie.

Gewone stem: Nie ‘n tamatiesousie nie.

Nee, tamatiesous is vir die burger.

Vir burgers en boerewors! Antwoord sy en tel haar burger op en byt. Toe kyk sy die burger in sy gesig en vra: Is dit ‘n mooi glimlag, of is dit ‘n breë glimlag?

Eers toe raak Carla bewus van die man wat langs die tafel staan en gaap van skok.

Ferdie is terug van die badkamer af. Sy weet nie hoeveel van haar gesprek met die burger en skyfies het hy gehoor nie, maar die uitdrukking op sy gesig wys dat dit net mooi genoeg is om te dink dat sy stapelgek is.

“Gedog mens bid voor ete. Nou sien ek mens spreek die kos aan,” verklaar hy droog, gaan sit en tel sy mes en vurk op.

Die mayonnaise kom en sy dompel ‘n skyfie daarin, voordat sy dit eet.

“Hello mayonnaise en goodbye mister chip?” wonder hy en lyk byna geamuseerd.

“So iets.” Sy kyk doer na die bakkie se kant toe. Dit is alles haar vryskutwerk se skuld en die druk om nuwe advertensies uit te dink. Hy sal nie verstaan nie.

“Probeer gerus die mayonnaise saam met jou skyfies.” Sy stoot die bakkie vorentoe, sodat dit tussen hulle staan. “Dit is hoe die Hollanders dit eet.”

“Dankie.” Hy doop een van sy skyfies en sy kan sweer dat hy saggies in sy weekoue baard prewel. Hello magonnaise, totsiens meneer Chip.”

Sy beter hierdie man dophou. Hy leer vreemde gewoontes aan.

Hulle eet klaar en toe Ferdie betaal, los hy ‘n redelike ruim fooi vir die kelner wat hulle gehelp het. Die soort ding wat ‘n gewone ou sal doen en Carla ontspan al hoe meer.

Totdat hy sê: “Gaan doen jy gou jou aankopies, dan hou ek die bakkie dop. As jy klaar is wil ek ook gou ‘n paar goedjies kry.”

En wat doen sy as sy terugkom is die bakkie weg?

Gelukkig het sy ‘n lysie en weet sy min of meer waar om alles te kry. Sy kom op ‘n drafstap met ‘n handvol pakkies uit.

Sy beurt. Hy mors ook nie tyd nie en kom met ‘n sak vol goedjies terug. Brood is een daarvan. En ‘n sespak bier.

Skaam jou Carla. Wat op aarde het die man verdien om so in jou gedagtes uitmekaar geskeur te word? Dalk het hy vir ‘n oomblik ook gedink, wat as ek uitkom en die vrou is weg met my enigste aardse besittings?

Die laaste skof na Marlothpark, gaan te vinnig verby. Ferdie beduie die pad na sy huis en ongeveer honderd meter voor hul bestemming haal hy iets in sy sak.

Carla verstyf en probeer kyk wat hy in sy hand hou, sonder om haar kop te ver te draai.

‘n Vuurwapen? ‘n Mes? Hier in die afgeleë bos? Nou is sy kans …

Nee, ‘n sleutel.

Hy hou sy hand in die lug. ‘n teken dat sy moet stop. “Ons is hier.”

“Jou plek?” vra sy.

“My huis.” Hy gaan nie daarop uitbrei nie.

Wanneer sy stilhou, bedank hy haar, klim uit en haal sy sak agter sy sitplek uit. Nog ‘n laaste waai en daar stap hy na ‘n kleinerige, ietwat onopvallende huisie.

En ten spyte van haar agterdog en die duisend en een gedagtes wat die man agter tralies plaas, haat Carla die idee dat sy hom waarskynlik nooit weer gaan sien nie.

Jy kan Hi meneer Chip … bye meneer Chip vir R15 lees op jou laptop of selfoon. Bestel by liefdesverhalenmeer@gmail.com

Op Amazon kan jy die boek vir $1.00 aankoop om op jou kindle te lees. Hier is jou skakel:

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.