Blombos Requem – Adele Reynders

Blombos

 

Blombos Requiem – Adele Reynders

Storie:

Kevin en Maritza hou saam skool. Sy het nog nie ‘n pos vir volgende jaar nie. Maar Kevin is met die goue lepel in die mond gebore. In so mate dat hy selfs instrumenteel is om vir haar ‘n pos en ‘n blyplek op die skilderagtige dorpie Blombos aan te bied. Wat alles so wonderlik maak, is dat hy ook daar gaan wees. As nuwe waarnemende skoolhoof. Dit kon ‘n droom gewees het wat waar word, maar alles is nie pluis in die skakelhuisie wat hulle deel nie.

En so begin ‘n nagmerrie.

Wat die storie so buitengewoon grillerig maak, is die feit dat dit gebaseer is op die waarheid.

Prelude:
Eendag lank lank gelede was daar ‘n pappa en ‘n mamma wat op ‘n plaas gebly het en met koring geboer het. Hulle was die gelukkige ouers van ‘n pragtige, besige klein dogtertjie wat graag in die koringlande gespeel het.

Haar mamma was bang dat sy dalk sou verdwaal, omdat sy nog te klein was om oor die koring te sien. Daarom het sy elke dag ‘n rooi hoedjie op haar koppie gesit en dit met ‘n groot strik onder haar ken vasgemaak. Sodoende kon hulle háár sien hardloop in die groen lande.

Maar ten spyte van die voorsorg, het die dogtertjie eendag weggeraak. Spoorloos verdwyn. Vir dae aanmekaar het die bure en elke plaaswerker in die omgewing kom help soek.

Sy is nooit gevind nie.

Dis hartverskeurend om nooit te weet wat van jou kind geword het nie.

‘n Jaar later het haar bedroefde ouers op die huis se stoep gesit, toe iets rooi tussen die koring hulle aandag trek.

“Daar is sy!” het haar ma uitgeroep, opgespring en nader gehardloop.

Maar dit was nie haar dogtertjie nie. Dit was ‘n helderrooi blom.

“Nee daar!” Die pa het op ‘n ander blom afgestorm.

Eers toe merk hulle op. Spatsels rooi, tussen die groen.

Die blomme was oral.
Erata:
Die enigste ooreenkoms van Blombos met die legende van Rooikappie in die koringlande is die feit dat sy spoorloos verdwyn het en nooit weer gevind is nie. Niemand het na haar gaan soek nie en die blomme van Blombos is deur iemand geplant, dit het nie self opgekom nie.
Hoofstuk 1
Hierdie tyd van die jaar word elke onderwyser se verdraagsaamheidsvlak tot op die uiterste beproef. Maritza van Graan rol die koerant op en foeter die tafel voor haar.

En nes sy gehoop het, maak dit ‘n ma se geraas.

“Stilte!”

Oë rek groot, monde klap toe en die wat bly gaap van skok doen dit gelukkig geluidloos.

Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Kevin Taylor die IT en Wiskunde onderwyser diskreet agter die deurkosyn wegkoes. Hy was op pad in, nou is hy weer uit, alles in een flinke beweging. Verbeel sy haar of hoor sy nou ‘n snaakse proesgeluid wat van daardie kant af kom?

Lag maar lekker jou klont, dink sy grimmig. As jy nie twintig minute laat was om te kom toesig hou nie, was dit nie nodig dat ek ‘n gek van myself met die koerant maak nie.

Tipies man. En omdat hy boonop vrek aantreklik is hang die kinders en elke vroulike lid van die personeel aan sy lippe, al lig hy net ‘n pinkie.

In die jaar wat sy saam met hom op die personeel is, het sy hom nog nooit gestres of opgeklits gesien nie.

Kalm, bedaard, selfversekerd.

Presies die teenoorgestelde as wat sy op die oomblik voel.

Maar natuurlik, hy hoef nie soos sy bekommerd te wees oor waar hý volgende jaar gaan skoolhou nie. Verseker van sy pos kom hy lekker cushy terug na sy eie klaskamer aan die einde van die gang, waarskynlik met ‘n lekker vet verhoging oppad. Dit klink darem asof hy ‘n uitstekende wiskunde onderwyser is, wat gesorg het dat een uit elke drie matrieks moontlik met onderskeiding kan slaag.

Daar gebeur dit nou weer. Meneer Taylor stap in en die klas raak stil.

“Skuus ek is ‘n bietjie laat. Die hoof het my laat roep,” maak hy hoflik verskoning.

“Geen probleem nie, die sessie begin darem eers elfuur,” stel sy hom gerus. Dis drie minute oor elf.

Hy kyk haar ‘n oomblik onthuts aan asof hy probeer lees wat op haar gesig geskryf staan. Sarkasme, humor, gelatenheid, omgekrapheid? Laat hom maar raai. Sy sal nie vir Don Juan Taylor wys hoe moerig sy regtig is nie.

Nie dat dit hom enigsens sal pla as hy moet weet nie. Hy glo mos dat hy in staat is om konflik weg te streel met sy sjarmante persoonlikheid.

Kevin skeur die pak met vraestelle oop en oorhandig die helfte aan haar.

“Sit alle boeke, papiere en veral selfone weg,” gaan hy deur die gewone dril. Die kinders is nie veronderstel om selfone daar te hê nie. Maar helaas… “Die sessie duur ‘n uur en ‘n half. Elf tot twaalf dertig. Ons sal vyf minute aan die einde toelaat omdat ons laat begin het.”

Hulle deel die vraestelle uit en die kinders begin skryf.

Soos twee wafferse waghonde beweeg Kevin en Maritza in die klas rond. Behalwe die geritsel van papier, penne wat krap en ‘n stoel wat af en toe skuif is dit vir die eerste keer regtig stil in die klas.

Die laaste dag waarop ‘n hele paar van hierdie matrikulante die binnekant van hierdie skool sien.

Maritza se tydjie hier raak ook min. Haar tydelike skoolhou-pos verstryk oor ‘n week. Asof die egskeiding haar nie hard genoeg geklap het nie, is sy aan die einde van die maand amptelik werkloos. Die onderhoud wat haar ex-man vir hulle vyftienjarige seun Markus betaal, is skaars genoeg om sy skoolfonds te betaal. Op geen manier kan sy en haar seun saam daarvan leef nie.

Sy sal moet werk vind, dringend. Dis hoekom sy vir die afgelope maand gereeld die Jobmail koop. Sy kyk nie eens meer uitsluitlik vir skoolhouposte nie. Enigiets sal doen.

Haar onderwysdiploma van twintig jaar gelede is so uit die oude doos. Spes vakke, soos bedryfsekonomie en rekeningkunde word deesdae Entrepreneurswese genoem en boeke word op Excell gedoen.

Excell het sy redelik gou onder die knie gekry. Maar so het al die graad agts en neges dit ook verstaan! En juffrou Khumalo wat terugkom is glo ‘n kenner.

Miskien moet sy soek vir ‘n boekhoupos in ‘n klein maatskappytjie. Of verkoopsdame in ‘n winkel. Sy is nie skaam vir enige werk nie. Maar as sy lang ure en oor naweke moet werk, wanneer gaan sy tyd maak vir Markus?

“Jy kan darem lekker broei met jou eie gedagtes,” merk Kevin vriendelik op, nadat hulle die antwoordstelle opgeneem en verseël het. “Meeste van ons dames kollegas is meer geselserig as die kinders. Dit was ‘n plesier om saam met jou te werk.”

“Wedersyds. Geniet jou middag verder.” Sy stap uit en gaan sit op een van die bankies onder die bome, waar sy weer haar koerant oopvou en na administratiewe en rekeningkundige poste blaai. Sy  omkring alles wat potensiaal het met haar rooi merkpen.

“Skuus, ek kon nie help om op te merk dat jy met die Jobmail rondloop nie.” Sy het glad nie verwag om Kevin vandag, of môre, of die res van haar lewe weer te sien nie. Nou staan hy hier voor haar. “Het jy nog nie ‘n pos vir volgende jaar nie?”

“Nee.” Sy vou die koerant moedeloos toe. “As dit nie vir my kind was nie, het ek vir twee jaar China toe gegaan en die mense gaan leer Engels praat.”

“As jy bereid is om China toe te trek, kan jy netsowel aansoek doen vir ‘n pos in Blombos. Die Afrikaanse privaatskool en koshuis het so uitgebrei dat daar blykbaar nog twee poste ontstaan het.”

“Dit was nie in die Gazette of koerant geadverteer nie. Hoe weet jy daarvan?”

“Inside information,” verklaar hy met ‘n effense glimlag. “Die skool behoort aan my ma se suster. Sy is ‘n mevrou Erasmus.”

“Blombos by Stilbaai?”

“Nee, Blombos naby Hekpoort aan die voet van die Magaliesberg. ‘n Baie skilderagtige omgewing.”

“Klink goed vir my. Weet jy dalk watter poste beskikbaar is?”

“Jy sal by mevrou Erasmus moet hoor. Gee die koerant dan skryf ek vir jou haar epos adres neer.” Hy skribbel dit in die een hoek. “Net ‘n waarskuwing, moenie dat die term privaat skool jou bluf nie. Die salaris is nie hoog nie. Aan die ander kant leef mens natuurlik heelwat goedkoper op so ‘n klein plekkie. Min winkels en geen sentrums waar mens kan geld blaas nie.”

Geld uitgee is die laaste van haar probleme. Mens moet eers geld inkry om dit te spandeer.

Kevin keer met die hand asof hy haar gedagtes lees. “Vanselfsprekend is dit nie my besigheid hoeveel geld jy verdien en waar jy dit spandeer nie. Vir my as pa van twee tieners klink dit na ‘n reuse-voordeel, veral gedurende vakansies.”

“Dankie, vir die inligting. Ek sal sommer vanmiddag nog met jou tante kontak maak.”

“Voor ek vergeet. My tante verskaf van aanstaande jaar af gratis verblyf vir nuwe of tydelike personeel. Dis blykbaar nie watwonders nie, maar sy het so ‘n ou spoorwegskakelhuisie uit iemand se boedel gekoop en dit ‘n bietjie laat opknap. Ek sal die een helfte gebruik en die nuwe aanstelling die ander deel.”

Nie watwonders nie! sê hy. Vir haar is enigiets ‘n paleis teen wat sy nou het.

“Ek gee nie om om tydelik daarin te bly, maar as ek ‘n huis of mooi erf raakloop waarvan ek hou, gaan ek koop of bou,” sê hy.

“Verstaan ek reg. Wil jy permanent Blombos toe verskuif?”

“Beslis. Na die eerste termyn gaan ek vir ‘n onbepaalde tyd as hoof in my tante se plek waarneem,” antwoord hy traak-my-nie agtig. “Sy en my oom wil volgende jaar ‘n bietjie gaan reis.”

Maritza hap ‘n paar maal na suurstof: “Jy verruil ‘n top skoolhoupos in Johannesburg vir Blombos?”

“Ja. Hoekom nie?”

“Maar jy is Engels. Jy sê dis ‘n Afrikaanse privaat skool.”

“Ek is Afrikaans. Kan nie help my ma trou toe met ‘n man met ‘n Engelse naam en van nie,” spot hy. “Ek praat net hier Engels omdat ons by ‘n Engelsmedium skool skoolhou. As jy wil, kan ek en jy van nou af met mekaar Afrikaans praat.”

“Dis my huistaal.”

“En jy klink ook pure Engels. Ek moet gaan. Dan gesels ons hopelik binnekort weer.” Hy begin wegstap, maar steek vas, asof iets hom pas bygeval het. “Ek ry Vrydagmiddag deur om na die huis te gaan kyk. Jy is welkom om saam te ry. Jy kan sommer my tante ontmoet en besluit of sy, Blombos en sy vyftig huise met jou gaan akkordeer.”

“Vyftig huise? Waar kom die kinders vandaan wat die skool moet vul?”

“Boere van die omgewing. Enkelouers wat nie mooi weet hoe om met hulle kinders huis te hou nie. Daar is honderd en agtien kinders in die skool, waarvan sewentig in die koshuis woon.”

“Is dit ‘n laerskool en hoërskool? My seun Markus gaan nou graad nege toe.”

“Markus van Graan, oulike seun. Wees gerus, Blombos dek die volle spekrum, van voorskools tot matriek. En onderwysers betaal nie skoolfonds nie.”

“Klink goed.” Maritza byt haar lip en maan haarself om nie dadelik te opgewonde te raak nie.

“Laat weet my voor Donderdag of jy wil saamry, anders pak ek die passasierskant van my bakkie toe met goeters. Neem net vir jouself enkelbed slaapgoed saam. My tannie se plek is vol, ons slaap in die koshuis. ‘n Klomp kinders is al met vakansie.”

“Ek sal net eers kyk of mevrou Erasmus my gaan nooi vir ‘n onderhoud.”

“Sy sal waarskynlik,” antwoord hy met sy gewone selfversekerdheid, voordat hy wegstap.

Skaars by die huis e-pos sy haar CV en besonderhede vir mevrou Erasmus deur. ‘n Uur later kry sy ‘n antwoord: Sal sy asseblief so gou moontlik inkom vir ‘n onderhoud?

Beslis. Sal Vrydagmiddag pas? wil sy weet. Vir haar is dit ‘n missie ter wille van oorlewing. Sy kan nie bekostig om nié te gaan nie.

Sy laat weet vir Kevin dat sy graag saamry.
Hoofstuk 2
Maak nie saak wat haar persepsie tot dusver van Kevin Taylor was nie, teen Donderdag moet sy aan haarself erken dat hy uit meer as net ‘n besondere aantreklike verpakking bestaan. Hy is aangenaam en vriendelik met almal en in staat om ‘n professionele afstand te handhaaf.

“Nie in al die jare wat hy hier skoolhou, was daar ‘n enkele skinderstorie oor Kevin Taylor en enige vroulike lid van die personeel nie,” hoor Maritza toevallig ‘n opmerking van een van die skool se departementshoofde. “Spyt om hom te verloor. So ‘n begaafde man.”

“En jy Maritza? Enigiets in die vooruitsig vir volgende jaar?” Die kollega by die departementshoof sien haar raak en sy stap nader.

“Ek het nog niks konkreets om aan vas te hou nie. In hierdie stadium oorweeg ek onder andere ‘n verkoopspos in my een vriendin se boekwinkel.” Maritza weier om die hoofrol in die eerste Kevin Taylor skinderstorie te speel. Sy swyg liewer oor die feit dat sy skiet vir ‘n pos by dieselfde skool waar hy sy talente gaan begrawe.

Sy aanvaar dat hy privaat en diskreet genoeg sal wees om ook nie daarvan oor te borrel nie. Sy neem haarself voor dat indien die pos op Blombos hare word, sy daar ook ‘n goeie personeellid en kollega vir hom sal wees. Omdat die dorpie blykbaar uit slegs ‘n handjie vol mense bestaan, sal sy selfs so vêr gaan as om vriende te word. Goeie bure ook indien sy langs hom in daardie ou skakelhuisie moet gaan woon en hy nie sommer dadelik ‘n ander huis of blyplek raakloop nie.

Maar dit is dit! Sy is in elk geval nie van plan om soos sy honderde ander bewonderaars aan sy voete te swymel nie. Want as hy vir soveel jare al sy pragtige vroulike kollegas op ‘n veilige afstand kon hou, is hy beslis nie van plan om weer by iemand betrokke te raak nie. As hy wou trou, was daar genoeg troumateriaal by hierdie skool alleen.

Om verlief te raak op ‘n man wat rotsvas met sy rug gekant teen verhoudings en ‘n tweede huwelik staan, is taboe. Dis seerkry op ‘n dag-tot-dag-basis. Jammer, sy speel nie saam nie.

Kevin moes vroeër by die skool weggeloop het, want skaars is Maritza se naweeksak en beddegoed Vrydagmiddag gepak, of hy stop met sy ouerige Isuzubakkie voor haar huurplek.

“Ek ry maar solank van die kleiner goed aan. Eetkamertafel en stoele,” verklaar hy die mini-trekkie agterop en sit haar sak en beddegoed by syne op die agterste sitplek.

Sy is bly dat Markus se pa hom vanmiddag by die skool opgelaai het. Hoe verduidelik sy vir haar seun dat sy saam met sy gewilde meneer Blombos toe ry vir ‘n werksonderhoud, maar hy mag met niemand daaroor praat nie?

Ás sy die pos kry, sal die feit dat Kevin haar nuwe hoof is, ‘n geheim bly tot op die laaste dag.

Van die oomblik waarop hulle begin ry, gesels hulle gemaklik. Kevin gee nie om om van homself te vertel nie. Hy is ook geskei. Woon al vir langer as vier jaar op sy eie. Sy tweeling, ‘n seun Daniel en dogter Joannie word in Maart volgende jaar veertien en gaan graad agt toe. Die twee kuier elke tweede vakansie by hom.

“Ons moet die vakansies en naweke so sinchroniseer dat wanneer Markus by jou is, my kinders by my is.” Hy lag. “Luister na my. Ek praat asof jy die pos klaar aanvaar het.”

“Is dit vir my om die pos te aanvaar, of moet jou tante nog eers besluit of sy my wil aanstel?” vra Maritza versigtig.

“Al wat ek namens haar durf sê, is dat sy baie beïndruk met jou CV is.” Voor hulle doem ‘n Eenstop garage en eetplek op en hy vra: “Lus vir ‘n burger?”

“Baie!”

Kevin parkeer so dat hulle sy bakkie in die oog kan hou.

“Ek was vir ‘n tyd lank uit die formele onderwys,” erken Maritza, terwyl hulle op die bestelling wag. “Ek hoop regtig nie dat dit teen my sal tel nie. Na Markus se geboorte het ek by ‘n vriendin se kleuterskool gewerk om naby hom te wees. Ek het aangebly toe hy laerskool toe is. Dis eers van drie jaar gelede af, toe my ex …”

Sy wou sê toe hulle huweliksbootjie ‘n gat in die romp gekry het en begin water lek het, maar besluit daarteen. Haar verlede gaan haar potensiële nuwe skoolhoof nie aan nie. Wat wel van belang is, is dat sy eers van drie jaar gelede af weer tydelik by skole afgelos het.

“Ten spyte daarvan dat sy dit op jou CV gesien het, het sy jou gevra om in te kom vir die onderhoud. Sy weet gewoonlik presies wat sy doen.” Uit Kevin se houding lei sy af dat hy ook haar CV gesien het, dat hy en sy tante dit reeds bespreek het en dat tentatiewe besluite klaar geneem is. Hy gaan dit net nie alleen met haar bespreek nie.

Sy hoop en bid maar net dat haar positiewe gevoel daaroor reg is.

“Ek was ook nie altyd in die onderwys nie,” vertel Kevin. Hy wag dat die kelner die borde met hamburgers en skyfies voor hulle neersit voordat hy vervolg. “Ek het my vrou in die IT bedryf ontmoet. Twee programmeerders in een huis. Die bom moes sekerlik een of ander tyd bars.”

Hy skud sy kop en lag saggies.

“Ons was twee regte beroepsmense en het nie beplan om kinders te hê nie.” Maritza kan amper nie glo dat dit die privaat Kevin is wat so teenoor haar oopmaak nie. “Toe sy na sewe jaar van getroude lewe swanger raak met die tweeling, kom ek agter dat sy nie die een gaan wees wat sal spoed verminder om plek te maak vir twee skreeubekkies nie. Inteendeel, sy was so omgekrap dat sy die swangerskap wou laat termineer.”

Dis ‘n mooi woord vir aborsie. Maritza probeer om nie té geskok te lyk nie. “En jy? Hoe het jy die vooruitsig van ouerskap hanteer?”

“Ek was in ekstase van die oomblik waarop ek daardie twee lyfies in haar voel beweeg het. Natuurlik was die koeël deur die kerk toe die dokter die twee bondeljies na hulle geboorte in my arms gesit het.”

“En hulle ma ook? Moederlike instink.”

“Ek dink hoe hoër die beskawingspeil, hoe laer …” Hy bly skielik stil, besluit waarskynlik om haar ‘n antwoord skuldig te bly. “Daar was nie iets soos moederlike instink nie. Daarom het ek besluit om rolle te ruil. My ouers en familie was van altyd af skoolmeesters en leerders.”

“Toe pak jy ook die onderwys aan?”

“Toe pak die onderwys mý!” Hy lag. Dié keer gemaklik, soos ‘n man sonder bitterheid. “Die eerste jaar het ek so tussen die doeke ruil my wiskunde op datum gebring en ‘n hoër onderwys graad verwerf. Maar toe ek eers op dreef is, het ek sommer my M en ‘n paar ander kursusse ook gedoen.”

“Ambisieus! Mooi so,” komplimenteer sy hom.

“Inteendeel. Net gevoel mens gaan nie oorlog toe sonder ‘n geweer nie. Veral nie as jou vrou jou die hele tyd laat voel het dat dit wat jy nou doen van jou ‘n verloorder maak nie.”

Aan die manier waarop hy dit sê, kan sy agterkom dat dit waarskynlik die kraak in hulle huwelik veroorsaak het. Hy praat nie verder daaroor nie en sy het te veel respek om hom uit te vra, nadat hy reeds ‘n deel van sy siel aan haar ontbloot het.

Vir die eerste keer besef sy dat hierdie byna ‘perfekte’ wese se lewe nie altyd maklik was nie.

Sy kyk met nuwe oë na hom. Hy is ook maar net ‘n mens, ‘n man wat kan seerkry en ander mense se ondersteuning nodig het.

Hulle eet klaar en elkeen betaal sy rekening waarna hulle verder ry.
Blombos is eintlik nog mooier as wat Kevin vertel het. Die Magaliesberge maak ‘n pragtige prentjie op die agtergrond. Die dorpie het nou wel net vyftig huise en een geteerde straat wat dwarsdeur loop. Maar dis besonder sentraal geleë, naby Rustenburg, Hekpoort, Hartebeespoortdam en Magaliesburg. Selfs binne bereik van vakansieplekke soos Buffelspoort, die Krugersdorpse leeupark en selfs Sun City en die Pilanesbergwildtuin.

Asof mense aan die naam Blombos reg wou laat geskied, is daar min dorpe in die land waar Maritza al soveel bome, struike en plante gelyk sien blom het. Veral kannas. Elke bedding en sypaadjie het sy bos met prominente spatsels helder rooi blomme.

Maritza wonder hoekom dit glad nie gewild in stadstuine is nie. Dalk omdat dit die ander plante en blomme verdring in tuine waarop die hand nie so streng gehou word nie? Maar persoolik verkies sy eerder iets so gewoon en outyds as kannas bo die kaal grond.

Mevrou Erasmus het slegs twee ander aansoeke vir die graad vyf pos ontvang, hoor Maritza tydens die onderhoud.

“Maar ek hou van jou veelsydigheid en die feit dat jy ook met voorskoolse kinders gewerk het. Ek en Kevin het reeds besluit dat die pos joune is, as jy belangstel.”

Aha, dan hét Kevin van die begin af geweet. “Ek stel beslis belang.”

“In daardie geval, welkom op ons personeel.”

Daarna ry hulle met Kevin se bakkie van die skool af agter haar aan, om na die blyplek te gaan kyk. Dis aan die onderkant van die dorp, die laaste skakelhuisie in ‘n ry van vier. Tipiese vierkantige, rooibaksteengeboutjies waarvan die voorstoepe en agterstoepe deur ‘n hoë muur geskei is.

Elke eenheid het ‘n enkelgarage en aan die stasie se kant is daar selfs stalle wat waarskynlik uit die goeie ou dae dateer, toe mense nog perde as vervoermiddels gebruik het.

“Hier was eens ‘n treinspoorstasie in Blombos,” beduie mevrou Erasmus toe Kevin langs haar stilhou en hulle uitklim. “Deesdae ry die trein net so eenmaal per dag deur en sluit in Rustenburg by die hoofroetes aan. Oom Faan en tannie Priscilla het die ou stasiegeboutjie in ‘n winkel en teetuin omskep. Hulle bly in die een helfte van die skakelhuis reg langsaan.”

Twee Jack Russells blaf entoesiasties in daardie tuin.

“Hallo brakkies,” groet Kevin terug. “Ek neem aan julle is oom Faan en tannie Priscilla se engeltjies.”

“Dis hulle raasbekkies! Ons het die skeidingsmuur aan die sitkamers se kant tussen hierdie twee skakelhuise laat afbreek,” verduidelik mevrou Erasmus toe hulle omstap na die ander kant toe. “Gedink as die personeel dalk soms wil saamkuier, maak dit darem ‘n bietjie groter onderdak leefarea.”

Sy sluit oop en stoot die deur oop.

“Die ander eenheid is ‘n spieëlbeeld van hierdie een. Sitkamer, met slaapkamer links. Ek het die kombuis se mure aan die sitkamerkant en gang ook laat afbreek. Dit was sulke klein wurgende hokkies.”

“Dit lyk mooi met die toonbank tussen die kombuis en sitkamer.” Maritza meet vinnig met die oog. Dis ruimer as wat sy vermoed het. Sy sal selfs haar klein ronde eetkamertafeltjie kan inpas.

“Dit doen,” mevrou Erasmus stap gang af. “Die agterste slaapkamer is groter as die voorste een. Lyk soos die sitkamer. Links is die badkamer. En dis dit.”

“Baie oulik!” besluit Maritza, al kyk Kevin so half teen sy neus af na alles.

Sy sal vir Markus die agterste kamer inrig, dan kan hy die een hoek as studeer en kuierplek inrig. Hy kan sy kitaar op die staander uitstal. Hy gaan gek wees daaroor.

“Die badkamers is lekker groot. Stort, bad, wasbak en toilet.” Mevrou Erasmus wag dat haar susterskind ook reageer. Tevergeefs. Die nuwe skoolhoof lyk allesbehalwe beïndruk met die plek.

Natuurlik baie beter gewoond, maar vir Maritza is dit hemel op aarde, veral in die lig daarvan dat sy binnekort uit haar tuinwoonstelletjie in die stad moet wees.

“Dis baie mooi, dankie. Ek sien uit daarna om hier te kom woon,” erken sy en mevrou Erasmus se gesig verhelder.

“Nou ja, die plek staan leeg. Trek in sodra julle kan.”

“Mag mens die stalle nog steeds gebruik?” wonder Maritza en stap venster toe om die agterplaas van hier af te beskou.

“Natuurlik. Julle sal sien dat daar ‘n hele paar van die dorp se perde hulleself saans daar kom tuismaak. Die diere behoort so half en half aan enige iemand wat hier woon en hulle versorg. Party is  hondmak.”

“O Markus gaan daarvan hou! Jippie.” Sy kan nie haar opgewondenheid langer wegsteek nie.

“Het jy ‘n saal en toom?” vra Kevin.

“Nee, maar Markus gaan ry soms saam met sy pa. Miskien kan hy sy pa se arm draai om vir hom een te gee.”

“Toemaar ons sal ‘n plan maak.” Kevin glimlag geheimsinnig.

“Kevin se pa het ‘n plaas Koster se kant toe,” kom mevrou Erasmus met die sak patats vorendag. “Hy en sy twee kinders ry ook perd. Dalk hang daar ‘n paar verlore saals en tooms rond.”

“Nooit!” Dis vir Maritza ‘n aangename verrassing.

“Jip! En dalk kan my pa ‘n ou baaltjie of  twee lusern hier kom aflaai, sodat ons kan kyk watter van die dorp se weesperde besluit om by ons in te trek.” Hy knik met die kop, kyk ‘n laaste keer in die huis rond en toe sê hy onverwags. “Ja, dit lyk goed. Moet sê, Maritza se entoesiasme en opgewondenheid is aansteeklik. Ons gaan inderdaad lekker hier bly.”

Is dit nou nodig om ‘n knop in haar keel te ontwikkel omdat die toekoms rooskleuriger begin lyk?

“Water, my keel is nou lekker droog.” Maritza pyl op die kraan in die kombuis af en hoop dat die ander twee nie agterkom dat daar trane in haar oë is nie. Agter haar hoor sy hoe Kevin vir sy tante vra of die water drinkbaar is.

“Ja, wat, almal drink die water.”

Aangesien daar nie ‘n glas is nie, maak Maritza ‘n bakhand onder en draai die kraan met die ander hand oop. Maar dan ruk sy geskok orent.

Vanuit die kraan kom die hartverskeurendste geweëklaag van ‘n baba, maar geen water nie.

“Ai dis die enigste nadeel van so ‘n ou huis,” verduidelik mevrou Erasmus met ‘n glimlag. “Die pype is al so toegekalk dat dit die snaakste geluide maak.”

“Sjoe, dit klink nes ‘n baba wat huil.” Gelukkig het dit haar gehelp om haar simpel emosies onder beheer te kry.

“Juis. Nou kan julle net raai hoe ons gesukkel het om die bouspan te oortuig om hier te kom werk. Hulle glo vas dat dit hier spook. Veral omdat die oukêrel homself  hier in sy slaapkamer gehang het.”

“Dis erg. Hoe lank gelede het dit gebeur?” Maritza is amper te bang om weer te probeer water drink. Sy weet nie of sy ooit aan die geluid sal kan gewoond raak nie.

“Lankal.”

Dit stuur ‘n rilling langs haar ruggraat af, maar sy is ‘n volwasse mens en gelowig. Sy sal haar ore nie aan allerhande stories uitleen nie. Wanneer sy die kraan weer oopdraai, is die water dadelik daar. Sy sluk vinnig en voel sommer beter.

“Die tuinman is op pad om jou te kom help aflaai, Kevin.” Mevrou Erasmus deel die bossie sleutels in twee. “Sal julle maar besluit wie neem watter eenheid?”

“Terwyl hierdie kant oop is, moet Kevin dit neem.”

“O nou moet ék die hangkant vat?” lag hy. “Maar toemaar, ek glo glad nie aan spoke en dwalende geeste nie.”

“Ek ook nie.”

“Wat maak dit saak wie waar bly? Julle is steeds onder diesefde dak,” som mevrou Erasmus die situasie op. “Glo my, hier is niks bonatuurliks aan die gang in hierdie huis nie. As hier was, sou ek dit lankal geweet het.”

Behalwe vir die geluid wat uit die krane kom. Maritza is oortuig daarvan dat dit haar in die middel van die nag sal laat regop vlieg, as Kevin aan sy kant ‘n kraan oopdraai.

Aan die ander kant as die water eers gereeld gebruik word, sal die pype waarskynlik minder protesteer.

“Ek moet huis toe gaan en gaan regmaak.” Mevrou Erasmus stap deur toe. “Moet net nie so besig raak dat julle van die skool se jaarlikse afsluitingsfunksie vanaand vergeet nie. Julle sal sommer die ander personeel ook ontmoet.”

“Ek wil ook gaan bad en iets anders aantrek. Is dit ‘n deftige geleenheid?” vra Maritza.

“Glad nie. Op Blombos doen ons niks so formeel nie.”  Sy vroetel nog sleutels van ‘n houer af. “Koshuiskamersleutels. Maritza jou kamernommer is B3, dis op die tweede verdieping. Kevin, jy is reg bokant haar in C3. Miskien wil julle net eers daar gaan uitpak en nesskrop voor die funksie.”

Terwyl Kevin en die man aflaai, sluit Maritza die eenheid langsaan oop.

In haar gedagtes skuif sy al haar eenvoudige rottangmeubeltjies in die sitkamer rond. Vir Markus sal sy ‘n lessenaar moet gaan koop, tensy sy die een by haar pa-hulle kan laat haal wat sy as kind gebruik het. Sy het genoeg gordyne. Al het haar ex-man al hulle duur meubels gehou, het hy die meeste van hulle goeie gordyne afgehaal en met blindings vervang, toe die nuwe vrou ingetrek het.

Sy wonder hoe Kevin se huis gaan lyk. As sy moet oordeel aan sy eetkamerstel, is die man se meubels beslis interessanter as hare. Dis ‘n eenvoudige langwerpige eetkamertafel met twee reguit banke wat aan weerskante pas. En twee stoele met hoë regop rugleunings vir die kopkante.Sy skat daar kan maklik agt mense by sy tafel kuier, al neem die stel nie veel plek in op nie.
“As jy nie te veel goed het nie, kan ons ‘n mini treklorrie saam huur, dan kos dit nie te veel nie,” stel Kevin voor terwyl hulle Sondag terugry stad toe. “Die los goed en klere kan ons sommer in die bakkie en jou kar aanry.”

“Uitstekende voorstel.” Haar broer het haar al meer as een keer met sy bakkie help trek. En al sal hy met graagte weer inspring, voel sy te sleg om hom te vra om honderd en vyftig kilometer vêr agter haar aan te ry met háár goed.

“Is jy regtig tevrede met jou deel van die skakelhuisie, of gaan jy ook soos ek, rondkyk vir iets meer geskik?” vra Kevin.

“Wat bedoel jy met tevrede? Ek is in ekstase. Vir my is dit ‘n kasteel. In Johannesburg kan ek net ‘n eenslaapkamertuinwoonstelletjie in ‘n minder gegoede deel bekostig. Die afgelope jaar het Markus se bed in ons sitkamertjie gestaan. Hy was te skaam om vriende huis toe te bring en het al gedreig om by sy pa in te trek.”

“Van Markus gepraat, wat dink hy van jou planne? Is hy tevrede om op die platteland te kom woon?”

“Ek moet bieg, ek het dit nog nie met hom bespreek nie. Hy is ‘n maklike kind wat sal aanpas waar die lewe ons ook al neem. Ek glo as ek hom vertel dat hy dalk ‘n perd sal kan aanhou, onterf hy mý as ons nie hiernatoe trek nie.”

“Moenie dat ek jou vreugde demp nie. My kinders was al tevore op Blombos en hulle wil nie hier kom bly nie. Hulle het besluit om by hulle ma in die stad te gaan woon.”

“Maar … ek dog sy …” wil hulle nie daar hê nie. Sy kan dit nie oor haar hart kry om die sin te voltooi nie. Hoe kan ‘n vrou nie haar eie kinders by haar wil hê nie?

“Dit was destyds. Noudat hulle groot en bietjie meer onafhanklik is, geniet sy hulle. Weet net nie of haar nuwe man so opgewonde daaroor is nie. Miskien verander die twee nog van plan, terwyl hulle Desember hier kuier. Is Markus ook hierdie vakansie by jou?”

“Hy is toevallig.”

“Miskien raak hulle drie goeie vriende …” So klink ‘n hoopvolle vaderhart.

“Ek is seker hulle sal.” En as iemand jou kinders se harte kán verower, sal dit Markus wees. Hy het ‘n slag met mense. Maar sy sal dit nie nou vir Kevin sê nie. Hy sal waarskynlik met ‘n meerderwaardige glimlag op sy gesig dink dat elke ma so oor haar eie broeiseltjie voel!

Selfs sy ex-vrou het immers ‘n verandering van denke ondergaan noudat haar bloedjies mooi groot is.

“Wanneer wil jy hom sê?” onderbreek Kevin haar gedagtes.

“Ek gaan vanaand vir hom vertel dat ons na ‘n skilderagtige blomoorgroeide klein dorpie trek, waar perde los rondloop.” Sy dink ‘n oomblik na: “Net dit.”

“Mm. Skinderstories by die skool.” Sy mond vertrek effens, voordat hy vra. “Wanneer moet ek reël vir die treklorrie?”

“Dalk die Maandag na Markus se pa se troue?” steek sy haar voelers uit. Dan spaar sy ‘n deel van Desember se huur en kry moontlik haar hele deposito terug. Die huiseienaar het gesê dat sy nuwe huurder sal verkies om ten minste ‘n week voor Kersfees in te trek. Nou kan dit gebeur.

“Reg met my. Meeste van my goed is reeds in bokse gepak. Die kinders se klere en besittings is al driekwart na hulle ma toe aangekarwei. Kom Markus en sy pa goed oor die weg?”

“Hulle is baie na aan mekaar. Maar die trouery krap my kind om.”

“Gebroke gesinne en kitsgesinne. Gelukkig is mens aanpasbaar. Ons as ouers moet maar net van ons kant af probeer om die lewe so goed as moontlik te maak vir die jongspan.”

“Daar stem ek saam.”

“Net ‘n versoek. Kan ons asseblief nie vir die kinders vertel dat die vorige huiseienaar homself in die huis opgehang het nie?” Hy maak groot oë vir haar. “Ek weet nie van Markus nie, maar my twee gaan uitfreak.”
Hoofstuk 3
Uiteindelik is die laaste paar dae van die skooljaar toe nie so pynlik as wat Maritza gedink het dit sou wees nie.

Die tyd vlieg verby. Maritza pak. Sy spandeer ‘n dag by ‘n ou studente vriendin wat al vir jare lank vir graad vyf kinders skoolhou en kom met ‘n kop vol tips, ‘n pak fotostate en ‘n gemoed wat oorloop van entoesiasme terug by die huis.

Vrydagmiddag neem sy vir Markus om ‘n geskenk vir die bruidspaar te gaan koop en vreemd genoeg maak die gedagte aan haar ex-man se verbintenis aan ‘n ander vrou, minder seer as ‘n maand gelede.

Die Saterdag van die troue kom en gaan, terwyl sy en ‘n ander vriendin gaan fliek en uiteet. As sy ‘n traan stort is dit omdat hulle te lekker lag vir die komedie wat hulle gekies het en beslis nie omdat sy in sak en as verkeer nie.

Sy laai Markus Sondag by haar gewese skoonouers op en aanvaar ‘n koffie en koek uitnodiging sodat hulle self kan sien hoe oukei sy eintlik is.

Voor sy haar oë uitvee, is dit die Maandag van die groot trek!

Die trokkie laai Kevin se goed eerste op en hy laat weet met ‘n sms dat hulle op pad is.

Haastig gooi sy en Markus hulle kosbare kitare en laaste los goedjies  in haar Golfie, terwyl die sterk manne korte mette maak met een dubbelbed, een enkelbed, die rottangstelletjie, haar ronde eetkamertafeltjie en ‘n paar bokse.

Maritza hou Markus bekommerd dop. Hy is beslis gedemp na sy pa se troue en waarskynlik ook van die spanning oor die onbekende wat voorlê. Niks wat sy uitdink of sê bring sy sprankel terug nie.

Sy maak grappe, maar binne-in haar huil sy vir haar seun.

Besig bly … en besig lyk, sodat hy nie die fyn krakies van onsekerheid in haar eie dapper ‘mombakkies’ raaksien nie.

Op daardie oomblik hou Kevin Taylor se bakkie in die straat agter die treklorrie stil en hy kom met sy gewone selfversekerdheid aangestap.

“Hi Maritza. Hoe vorder dit hier?” wil hy weet en steek ‘n hand uit om vir Markus ook te groet. “Dagsê jongman. Kom laat ek julle gou aan my mense voorstel voordat ons pad vat.”

Hulle stap agter Kevin aan en Markus se mond vorm: “Wat nou? Waar gaan hý heen?”

“Blombos toe,” sê Maritza, asof dit die gewoonste ding op aarde is. “Meneer Taylor is ons nuwe skoolhoof.”

“Wat?” Haar seun se mooi bruin oë kry weer lewe. “No ways! Never!”

“Jip. Hoop julle sien soveel uit na die Blombos avontuur as ek,” praat Kevin doodluiters oor sy skouers.

By die bakkie bly sy kinders Daniel en Joannie egter suurgat in die bakkie sit. Groet uit die hoogte, terwyl Daniel met die CD speler vroetel.

“Nou ja, sal ons in die pad val?” Kevin knipoog vir Markus. “As die atmosfeer in my bakkie nie so dik soos gekookte kondensmelk was nie, het ek vir jou gesê om saam met ons te ry.”

“Nee dankie, ek en my ma het baie om oor te gesels.” Dan kry Markus ‘n ondeunde uitdrukking op sy gesig voordat hy vertroulik sê. “Meneer Taylor, as jy nie die enigste ou was wat daardie bakkie mag bestuur het nie, het ek jou genooi om eerder saam met ons te ry.”

“En ek is vrek lus om jou aanbod te aanvaar,” fluister Kevin. “Maar toemaar, hulle sal seker een of ander tyd agterkom dat ‘n Desembervakansie op Blombos amper net so great kan wees as om vir drie weke Mauritius toe te gaan.”

“Haikôna, sak meneer.”

“Hehe! Nou ja, ry julle agter ons aan. Hou net die trok in die oog. Al is die dorpie hóé nice, die kanse bestaan dat ander mense dit heeltemal kan misry.” Kevin gaan klim agter sy bakkie se stuurwiel in en trek weg toe almal gereed sit om te ry.

“Meneer Taylor,” roep Markus nog ‘n keer uit, toe Johannesburg al agter hulle lê. “Wie sou dit kon raai? Net jammer sy kinders is so bietjie upstairs.”

“Aag hulle is waarskynlik net teleurgesteld omdat hulle dalk regtig gehoop het om see toe te gaan. Nou moet hulle by hulle pa wees en boonop help trek,” raai Maritza.

Maar dit maak nie regtig saak wat Kevin se tweeling nou dink nie. As hulle eers by hulle bestemming kom sál dit beter word. Sy ken mos kinders.

Wat wel wonderlik is, is die feit dat Kevin so pas Markus se dag gemaak het.

En hy het ook die pleister geplak waarmee háár toekoms beter gesoen is. Sy glo sy sal hom altyd daarvoor dankbaar bly.

Die kersie op die koek is die feit dat daar nie minder nie as vier perde in die stalle op halter staan en lusern vreet, toe hulle saam met die treklorrie by hulle nuwe huis in Blombos stilhou.

Mevrou Erasmus kom met ‘n drafstappie van haar huis af aan. Dis duidelik sy hou die pad al van vroegoggend af dop.

“Dis nou julle perde,” lig sy hulle in. “Die vorige eienaar het besluit dat hy te oud is vir perdry en soek net ‘n liefdvolle huis vir die diere.”

“Hierdie perd is dalk self ook te oud om te ry.” Markus vryf  liefdevol oor die donker een se neusbrug. “Maar toemaar Oupatjie, ons sal mooi na jou kyk.”

“Praat jy met perde?” Joannie kyk hom snaaks aan.

“Altyd! En hulle verstaan elke woord wat ek sê.” Markus draai na Maritza toe. “Ma jy is klein. As jy nog steeds bang is vir perde, sal Oupa die een wees waarop jy moet ry. Hy sal eerder self val as om iemand af te gooi.”

“Dis seker nie sy naam nie. Wie sê hy sal luister as jy hom Oupa noem?” daag Joannie hom uit.

“Ek gaan jou van nou af Oupa noem en jy gaan luister,” verklaar Markus. Hy maak die stal se deur oop en gaan staan ‘n ent weg voordat hy roep. “Kom Oupa.”

Die groot swart hings hou dadelik op met eet en gaan sonder huiwering na Markus toe. As daar iets soos liefde met die eerste oogopslag tussen mens en perd bestaan, het dit so pas gebeur.

“Doctor Doolittle,” mymer Daniel en klop die bruin perd sag teen sy nek. “Hierdie is my perd. Wat is sy naam?”

“July. Die merrie is blykbaar Rachel en Oupa se regte naam is Wisdom.” Mevrou Erasmus beduie na ‘n papier met foto’s teen die muur. “Oom Basie het dit daar opgeplak.”

“Dan is die Pinto se naam Indiaan,” lees Kevin.

“Die oukêrel het die sale en tome in die stoor hier langsaan gesit. Hy waarsku dat julle net eers moet seker maak dat alles nog heel en stewig is voordat julle dit gebruik.”

“Waar kan ons met oom Basie kontak maak?” vra Maritza. “Ons moet vir hom gaan dankie sê, dis ‘n baie groot geskenk.”

“Hy sal seker teen môre sy opwagting hier kom maak om seker te maak dat sy kosbaarhede in goeie hande is. Daarna gaan hy en die tante weg vir die Kerstyd.”

“Die perde is in goeie hande,” verklaar Joannie. “Ek kan sien dat Markus ook versot is op diere. Kan ons sommer later vanmiddag met hulle gaan stap?”

“Slim plan. Dan leer die perde ons ken.”

Maritza slaak ‘n sug van verligting. Die ys tussen die kinders is gebreek. Daar is hoop vir die toekoms. Wat dink Kevin daarvan?

Sy draai om, om na hom te kyk en betrap sý goedkeurende blik op háár inplaas van op die kinders. Dan knik hy met die kop. Die glimlag wat stadig rondom sy mondhoeke ontstaan laat iets in haar binneste roer wat sy onmiddelik en met geweld onderdruk.

Gelukkig fluit die manne van die treklorrie agter hulle, wat haar dwing om weg te kyk.

Die toue is los en daar moet afgelaai word. Die lorrie moet nog vandag terugry Johannesburg toe.

Terwyl hulle nader stap sê mevrou Erasmus: “Kevin het jou ma-hulle jou in die hande gekry? Hulle kom Woensdag deur om lusern te bring. Maar ek dink eintlik wil hulle net vir jou en die kleinkinders kom verwelkom op Blombos. En aangesien julle goed nog nie behoorlik uitgepak sal wees nie, moet julle al vyf vanaand by ons kom eet.”

“Nee dankie, Mevrou. Markus het op pad hiernatoe gesê hy maak vir ons vanaand sy gunsteling twee minute noedels gereg om ons nuwe plek mee in te wei.” Maritza wil dit van die begin af duidelik maak dat al was sy en Kevin by ‘n vorige skool kollegas, hulle nie aanmekaar verbonde is nie.

Hulle kan hom en sy gesin met groot liefde en vreugde alleen na al die familie byeenkomste nooi, sonder om oor haar en Markus skuldig te voel. Hulle sal eintlik verkies om op hulle eie te wees.

“Dis jammer.” Kevin lyk regtig vir ‘n oomblik spyt, maar dan roep hy die kinders nader. “Luister dudes en dudi. Dis ‘n ou huisie. Die pype is seker om en by tagtig jaar oud. As dit oopgedraai word, raas dit verskiklik voordat die water uitkom. Moenie vir die geluide skrik nie. Dis net ‘n bietjie lug en verkalking in die pype.”

Makliker gesê as gedaan. Maritza is van vooraf lam geskrik toe sy die kraan in die kombuis oopdraai om vir hulle koffie te maak om saam met die reuse bord toebroodjies wat mevrou Erasmus se huishulp halfeen daar aanbring te drink.

“Klink nes ‘n baba wat huil.” Joannie stap kraan toe en streel oor die handvatsel. “Toemaar babatjie. Slaap soet.”

Almal lag lekker wanneer sy die kraan daarna oopdraai om water by ‘n beker Oros in te meng. Vir die eerste keer kom die water sonder ‘n gekreun en steun uit.

“Die lug is seker nou uit die pype,” kom Kevin met die logiese verklaring vorendag.
“Die baba het weer ‘n wind,” merk Markus lakonies op toe hy die aand in die kombuis met sy meesterkok twee minute noedels gereg besig raak.

“Dit sal seker een of ander tyd ophou.” Maritza pak die laaste boks met kombuisware uit.

“Bedorwe brokkie, miskien kort jy ‘n lekker pak slae,” spot Kevin en gee die kraan ‘n klappie. “Die kos is reg, ons kan maar eet.”

Hulle gaan sit buite op die stoep.

Dis donkermaan en die sterre skyn ekstra helder. Vanaf die stalle runnik en blaas die perde skielik rusteloos.

“Dink ma iets of iemand pla by hulle?” vra Markus en sit sy bakkie pasta neer. “Moet ek gaan kyk?”

“Nee wat. Dis te donker om te sien en ons het nie een ‘n flits nie.”

“Eerste item op ons moet kry lysie, ‘n skerp flits,” skryf Markus kastig in die lug en toe roep hy hard uit. “Dis orraait Oupa, ons is hier.”

Op daardie oomblik kalmeer die perde en Markus tel sy bakkie op om verder te eet, maar sy vurk stol in die lug op pad na sy mond toe.

“Luister. Daar is iemand.”

Hulle hoor duidelik die voetstappe van ‘n mens wat moeisaam met die hulp van ‘n kierie loop.

“Oom Basie? Het jy na jou perde kom kyk?” roep Maritza uit en stap na die punt van die stoep toe. Hy antwoord nie. “Siestog, saam met die ouderdom tree die doofheid in.”

“Hoekom loop hy nie met ‘n flits nie? Netnou val hy oor ‘n klip of iets.” Markus eet klaar en toe sit hy die bakkies inmekaar. “Ek gaan ons kitare haal, dan maak ons bietjie musiek. Ek wil vir Ma ‘n druk of twee leer.”

Waar is die dae toe sy hom leer kitaar speel het? Deesdae is hy die een wat haar nuwe liedjies en drukke leer.

Vervolg …

As jy graag die hele boek gratis as eboek wil ontvang, teken asb in op die bladsy. Of stuur ‘n epos aan liefdesverhalenmeer@gmail.com Aanbod staan tot 31 Maart 2019

Jy kan ook die boek op Amazon as eboek aanskaf deur hierdie skakel te volg: https://www.amazon.com/Blombos-Requiem-Afrikaans-Adele-Reynders-ebook/dp/B00B80JP5M

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.