Isa se Uitdaging – Adele Reynders

IsaseUit

Isa se uitdaging – Adele Reynders

 

Copy right Adele Reynders

Oorspronklike uitgewer, hardekopie – Donker Sjokolade, ‘n druknaam van Malan Media (Edms) Bpk.

Nou onder die vaandel van Renza Uitgewers

Baie dankie!

 

Die oomblik toe Rudi na soveel jare weer vir Isabella Botha sien, kan hy nie glo hoeveel sy verander het nie. Hy onthou haar nog met haar sexy jongmeisie bikini lyfie.

Wanneer Isa vir Rudi Welthagen weer sien, wens sy dat sy al maande tevore probeer het om ‘n kilo of twee te verloor. Hy is nog net so aantreklik soos toe hulle jeug geliefdes was.

Sal dit uitwerk, noudat hulle ‘n tweede kans op geluk kry?

 

Hoofstuk 1

 

Rudi Welthagen weet hy behoort hom te skaam omdat hy nou na al die jare weer hier bo in oorle Pa se studeerkamer geparkeer staan, net om so ‘n skrams kykie op Isabella Botha van langsaan te kry.

“So ‘n lyfie in ‘n bikini sal enige man laat sonde doen,” het sy pa hom en Boet altyd gemaan en hulle voor die venster weggeboender. “Waar het ons met julle opvoeding gefaal? Hou op om mense af te loer en te staar!”

“Pa ons staar eintlik verlangend na die water, want Isabel het ons genooi om te gaan swem.” Rudi het sy kleinboet gelos om die praatwerk te doen. Sy eie stem het gewoonlik te veel van sy emosies verraai waar dit oor Isa gaan.

“Dis eksamentyd.” Vir ‘n staatsdiensamptenaar was Pa heeltemal te op die hoogte van hulle skool se kalender.

“Net ‘n uur Pa, om af te koel. Dis darem Saterdag.”

“Mm, om af te koel?” Die klank in sy pa se stem het Rudi laat voel dat sy ore soos rooiwarm elemente gloei. “Nou maar goed. Julle gaan al drie en oor ‘n uur is julle terug voor die boeke.”

Dit was so duidelik soos daglig dat sy pa hom nie alleen by Isabel vertrou het nie. ‘n Hele span lyfwagte moes saam.

Sy pa was natuurlik reg. Wat Isabel betref het hy drome gedroom en gesigte gesien.

Nou is Pa ook nie meer met hulle nie. Maar dit voel steeds asof sy pa hom vanuit ‘n ander dimensie staan en gadeslaan.

Terwyl hý die swembad langsaan gadeslaan.

Nie dat hy verwag om haar nou daar te sien nie. Dit is middel winter, vroegaand en ysig koud. As Isabel dus haar verskyning per toeval langs die swembad sou maak, sal dit verseker in ‘n dik langboek wees, met ‘n warm wintersjas bo-oor wees.

Nie dat enigiemand dit sal waag om in so ‘n vuil en verwaarloosde swembad te klim nie. Dis op die oomblik ‘n broeiplek vir siektes soos balharzia, builepes, tifus, geelkoors, malaria en alles wat in modderkleurige water kan oorleef. Ai en oom Barto was altyd so gesteld op sy silwerskoon ysblou swembad.

Oom Barto en tannie Elsie Botha, Isabel se ouers. Mense wat Rudi se familie moes word want daar was ‘n tyd toe hy aanvaar het dat hy en sy beslis eendag sou trou. Dit was ook wat háár ouers, sý ouers en almal wat hulle geken het, geglo het.

In daardie idilliese tyd, het hy nooit gedink dat iets tussen hom en die liefde van sy lewe sou kom nie.

Iets het. Want hulle is toe nooit getroud nie.

Wát daardie iets was, kan hy tot vandag toe nog nie uitwerk nie. Sy was immers net so lief vir hom as wat hy vir haar was. Tensy hy in daardie waas van kalwerliefde verkeerdelik aanvaar het dat sy oor hom voel soos hy oor haar. Elke jaar wat verbygegaan het, het aan meer ‘wat as? en sê nou maar?’ scenario’s geboorte geskenk. Hy het besef dat hy alleenlik klaarheid sal kry as hy eendag die geleentheid het om dit met haar te bespreek.

Iets waarvoor hy die afgelope jare nog nie kans gesien het nie.

Daarom is dit nou of nooit. Hy gaan nie weer uit Pretoria weg voordat hy nie weet wat hulle borrel laat bars het nie.

Rudi het direk na matriek diensplig vrystelling gekry en is eers Kaapstad universiteit toe om te gaan bosbou swôt. Isabel het die volgende jaar haar matriek gemaak en is na die Pretoriase onderwyskollege saam met sy sus Alet.

Ná sy studie het die weermag hom opgeraap en rondgeslinger. Hy moes seker meer vir haar geskryf het, terwyl hy ver weg was. Maar hy is ‘n buitelig ou en nie veel van ‘n skrywer nie. Dit was seker verkeerd om net aan te neem dat géén nuus mos goeie nuus is, wanneer hy agter die vyandige linies van Angola verdwyn het.

Blykbaar nie.

Vrouens smag glo na kommunikasie. Mooi woorde. Gedigte. Maar hoe teken jy hartjies en soentjie, skryf poësie en spuit naskeer op pienk papiervelletjies, as ‘n vyandelike missiel die kameraad langs jou met moederaarde gelyk vee?

Die nuus van Isabel se troue aan die einde van daardie jaar, het hom verpletter.

Hy weet nou nog nie hoe hy dit kon regkry om kop op te tel en aan te gaan met sy lewe nie.

Sý eie mevrou Welthagen en die ma van sy seuns het hy drie jaar later in Sabie ontmoet, en tien jaar later lewendig verloor, aan een van sy bosbou kollegas.

Nogal sy baas in daardie stadium.

Woedend en seergemaak wou hy net wegkom van alles en almal. As bosbouspesialis het Nieu Seeland hom opgeraap. Al wat hom soms teruggebring het Suid-Afrika toe, was sy besoeke aan sy seuns en sy ouers.

So tussen Pa en Ma en sus Alet, het hy soms nuusbrokkies oor Isabel ontvang, wat intussen Isa geword het. Dit is nie asof hy doelbewus uitgevra het nie, maar hy het altyd ore gespits as iemand haar naam genoem het.

Mooi sexy Isa, wat blykbaar ook drie jaar gelede deur die meule van egskeiding is, maar intussen weer in ‘n vaste verhouding betrokke is.

En dis een plek waar hy nie sy neus insteek nie, in ander mense se verhoudings. Al was die versoeking hoe groot om haar onmiddelik te kontak.

Die landlyn se gelui op die lessenaar agter hom, laat hom van die venster af wegstap om te gaan antwoord.

“Ek hoor by Boet jy het darem veilig aangekom en dat hy en Lali jou by die huis afgelaai het. Ek het vreeslik met hom geraas omdat hulle jou alleen daar gelos het. Is jy orraait? Het jy alles wat jy nodig het?” Dit is sy suster Alet wat bel. Lali is hulle skoonsus.

“Piekfyn. Net moeg. Ek het vir Boet gesê as ek nou in die bed klim, slaap ek tot Maandagoggend. Hulle móét my eers uitlos.”

“In daardie geval sal ons jou twee weke gee om eers jou voete te vind, voordat ons jou met besoeke oorval,” spot sy.

“Baie bedagsaam, dan hoef ek julle ‘kleintjies’ nie soos destyds uit my kamer te gooi nie,” speel hy saam. Hulle gesin is gek oor mekaar, maar hulle het nog nooit die ander se drumpels deurgetrap nie. Meesal by Pa en Ma bymekaargekom en daar gekuier. Veral met hom doer in die buiteland.

“Ek gaan jou nie langer ophou nie. Wou net sê welkom terug in Suid-Afrika!”

“Dankie.” Die warmte in sy suster se stem, maak sy keel vreemd dik.

Rudi wag dat sy moet aflui, maar daar is ‘n oomblik se stilte, waarna sy weer praat. “Boet sê hy en Lali het brood, melk en botter gekoop en vir jou in die yskas gesit. Daar is seker nie veel ander kruideniersware nie.”

“Klaar gekyk,” stel Rudi haar gerus. “Hier is genoeg van alles. As ek nog iets nodig het, sal ek gaan koop. Boet het darem seker gemaak dat Pa se kar nog met die eerste draai van die sleutel vat.”

“Dan is jy beslis nie gestrand nie. Daardie kar gaan nog ‘n miljoen kilo’s op die klok kry en aanhou ry. Ek moet groet. Tinks of epos as ons kan help met iets, of as daar goed is wat jy wil weet.”

“Dankie. Daar is iets wat ek … wil weet.” Hy huiwer. Dit is nie wenslik om vir Alet te veel inligting te gee nie. Sy en Isabel was altyd hopeloos te na aanmekaar. Groot vriendinne. “Isabel … Isa. Ek hoor by Boet sy het ná haar egskeiding hier langsaan by tant Elsie ingetrek.”

“Dis reg, maar tant Elsie bly nie meer self daar nie.Sy het al hoe meer begin val en nadat sy sowat vyf maande gelede haar heup gebreek het, het Isa vir haar ‘n plekkie in die Queen Olive huis vir bejaardes gekry. Daar word sy vier en twintig uur versorg.”

“Iemand het so iets op Pa se begrafnis genoem.” As hy werklik moes eerlik wees sou hy erken het dat iemand dit vir iemand ánders genoem het en dat hy ore gespits het om te hoor. “Gaan dit darem goed met die tannie? Het sy herstel ná die breuk?”

“Blykbaar baie goed onder omstandighede. Sy loop natuurlik nog swaar. Jy kan dink op negentig sal sy nie sommer meer huppel en spring na so ‘n terugslag nie.”

“Sjoe, sy is inderdaad nie meer vandag se kind nie. En met Isa? Nog nie intussen getroud met daardie ernstige sleepsel waarvan jy my op Pa se begrafnis vertel het nie?” Alet mag nie agterkom hoe gretig hy al vir weke wag om hierdie vraag te vra nie. “Ek neem aan as sy nog nie met hom getroud is nie, het hy waarskynlik intussen by haar ingetrek?”

“O nee, daardie ou was al geskiedenis, voor Isa se Israeltoer. Dit was selfs op Facebook. Lees jy nie ander mense se nuus nie?”

“Natuurlik lees ek ander mense se nuus … soms. Maar Isabel is nie een van my drie en veertig vriende daar nie. Ek het nie eens geweet sý is op Facebook nie.”

“Sy is.”

Hy moet bieg, al probeer hy sy bes om dit met ‘n ongeërgde klank in sy stem te doen: “Ek het haar eenkeer probeer opspoor, maar daar is nogal baie Isabel Botha’s. En ‘n hele paar het nie foto’s by nie. Toe gee ek op.”

“Jy sal haar nie onder Isabel Botha kry nie. Botha was haar nooiensvan. Soek die naam Isa Krynauw tussen my vriende. Maar ek moet jou waarsku, sy is selde op Facebook. Dis beter om met haar dogter René Krynauw vriende te maak. Sy plaas gereeld nuus oor Isa ook. Kan jy glo die kind trou een van die dae met ene Jason Olivier?”

“René Krynauw? Orraait, ek sal ééndag bietjie gaan loer,” antwoord hy en probeer om onaangeraak te klink. Alet moet mos glo dat hy nooit weer aan Isa gedink het sedert hy die dag Afrika se stof afgeskud het nie. Ook nie sedert hy daardie kant bedank het en sy planne agtermekaargekry het om terug te kom nie. Glad nie. Wie is Isa in elk geval?

Hy slaag daarin om sy suster om die bos te lei, want sy groet sonder om hom met ongemaklike vrae lastig te val. “Dan sien ons mekaar oor twee weke. Lief jou ouboet!”

“Ditto sus. Twee weke.” Hy sit die foon neer en trek sy laptop nader om op Facebook in te teken.

Isa Krynauw. Single! Al is die foto nie baie duidelik nie, herken hy dadelik daardie skitter bruin oë wat hom altyd aan sterretjies laat dink het. Sy hart struikel vir ‘n sekonde of langer in ‘n jellierige fibrilasie en spring dan op ‘n skuins galop weg.

Hy is skoon uitasem.

Maar niks hou by by die tempo waarteen sy kop sommer vanself begin somme maak nie: Na al die jare is Isa weer alleen en hy is op sy eie. Niks keer hulle om aan te gaan waar die noodlot hulle destyds in hulle spore laat stop het nie. Dalk is dit so bestem omdat hulle nou op ‘n later en ryper stadium in hulle lewens ‘n beter kans het om dinge tussen hulle te laat werk.

Durf hy hoop, of gaan daar nog nerwe spat? Een ding waarvan ‘n man nie hou nie, is om kwesbaar te wees. Die een keer wat hy onbewaak arms laat sak en nie gekeer het nie, het die lewe hom ‘n harde hou toegedien.

Dit was Isabella Botha se uitklophou.

Sy is inderdaad selde op Facebook, kom Rudi agter toe hy so bietjie teruggaan op haar profiel. Sy het drie maande laas iets op haar muur geskryf. Like so af en toe iets wat iemand anders skryf en reageer met eenlettergrepige woorde wanneer iemand vir haar ‘n direkte boodskap stuur.  Facebook is duidelik nie haar ding nie, want behalwe die onduidelike profielfoto is daar net foto’s van katte en wilde diere. Hy stuur nietemin vir haar ‘n ‘friend request’. En sommer vir haar dogter René ook.

Dit maak hom amper seer om te sien hoe baie die meisie na haar ma lyk. Dit kon sý kind gewees het. Hulle kind …

Nie dat hy ontevrede is met sy twee seuns nie. Maar so ‘n ou klein Iabellatjie sou die kersie op sy aanwas koek wees.

In teenstelling met haar ma se bedeesde profiel is daar baie aksie op hierdie pragtige jong dame se muur. Trou is daar die gonswoord!

Isa se ex, die jongedame se pa, sowel as die aanstaande skoonouers woon in Lydenburg. Hulle het Isa vir die naweek saamgeneem om troureëllings te gaan bespreek. Dit verklaar die stilte by buurhuis.

Skielik is sus Alet op chat. ‘n Blou omraamde blokkie in die middel onder wat wat hy nie kan mis nie, al maak hy sy oë toe: Uitgevang. Jy check op Isa. Hoekom anders is jy so vinnig op Facebook?

Hy wil dit eers ontken, toe skryf hy net: So what as dit so is?

Oelala! Sterkte, hoop dat jy haar nie dié keer weer sal laat wegkom nie.

Háár nie laat wegkom nie. Hy gluur onthuts na Alet se foto’tjie op die skerm voor hom. Asof hy enige keuse gehad het om haar te behou of nie? Hy moes net aanvaar en stilbly.

Moenie laf wees nie. Ek stel nie belang in haar doen en late nie. En wat ‘n verhouding met haar aanbetref, ek sal dit nie eens in ‘n duisend jaar van Sondae oorweeg nie. Mens kan lekker lieg as jy nie in iemand se oë hoef te kyk nie. Nee, dis nie jok nie, dis selfbehoud. Onthou, once bitten, twice as shy.

Hang seker af wie vir wie gebyt het, of hoe ouboet?

Bedoelende?

Niks. Net dat elke saak twee kante het en iewers tussenin is die waarheid. Mooi bly. Praat weer. Raaisels! ‘n Saak het twee kante en tussenin is die waarheid. Hierdie saak is baie eenvoudig. Sy meisie het hom gelos, terwyl hy ‘n recce op die grens was. ‘n Bykans onvergeefbare daad. Een van sy vriende wat dieselde oorgekom het, se konsentrasie was so daarmee heen, hy het op ‘n landmyn getrap en ‘boem.’

Sy ander pel is in en uit Castle Cary. Dan carry die Castle hom en dan carry hy weer die Castles, maklik so twee tot drie dosyn op ‘n aand.

Maar dan het Alet altyd deur dik en dun by haar vriendin gestaan. Hoekom sal dit nou skielik anders wees? Hy het hom destyds nie verwerdig om met haar oor sy verbreekte verhouding te praat of te probeer redeneer nie. Hoekom sal hy dit nou doen?

Hy skryf net: Mooi aand. Praat weer.

Praat weer, mwah! en af is Alet se chat liggie.

Verbeel jou twee kante. As hy so na die vroumense se redenasies en lewensuitkyke luister sal dit beter wees om liewer van vooraf kwaad te word vir Isa, as om sy gevoel vir haar wat net nog nooit wou weggaan nie van vooraf te koester.

Daar doen sy hart sowaar weer snaakse dinge in sy borskas toe hy vir oulaas na Isa se foto op Facebook kyk voordat hy uitklim en afskakel. Fibrileer soos ‘n slap jellievis wat deur die golwe rotse toe gestuur is om halfpad verpletter daar te lê en hap vir suurstof.
“Mens is nie veronderstel om soveel te weeg nie!” Isa raas so hard met haar skaal dat die arme kat wat opgekrul in ‘n sonkolletjie op die bed lê en slaap, se oë eers wawyd oopvlieg en toe skrefies trek. Sy stert piets heen en weer van ontsteltenis. Stemme word nie in sý huis verhef word nie.

“Jammer Fernando Alonso, maar jy sou ook so geklink het as jy nóg drie kilogram opgetel het sedert jy laas op die skaal geklim het.”

Dit was nogal erg om gister saam met haar ex-man en dié se sexy veel jonger vrou en hul aanstaande skoonseun Jason se pa en mooi ma rondom ‘n tafel te sit en die kinders se troureëllings te bespreek.

“Besef jy as ek nie dringend ‘n plan maak nie, sal die bruid se ma die vetste mens op die troue wees.” Asof dit nie erg genoeg is dat sy ook die enigste persoon sonder ‘n metgesel daar sal wees nie. “Miskien moet jy maar my maat op René se troue wees. Ons hoef nie eens vir jou nuwe klere te koop nie, aangesien jy met ‘n pragtige swart pak en wit strikdassie gebore is.”

Onvergenoegd skuif sy die skaal terug onder die bed in. Dit is die storie van haar lewe. Wanneer normale mense seerkry en ly, hou hulle op met eet en verloor vele kilogramme. Nie sy nie. Sy tel kilogramme op.

En sy het ‘n paar dekselse moeilike jare agter die blad. Eers haar egskeiding. Plus vier kilogram. Toe Pa se heengaan. Plus vier kilogram. Ma se depressie en heupbreuk. Plus twee …

Kêrel Faan se heengaan. Nou wel nie héén, soos in oorlede nie. Maar heen soos in los haar en trou ‘n maand daarna met ‘n vrou wat veertien jaar jonger as hy is omdat hy glo nie nog ‘n winter alleen in sy kasarm wou slaap nie.

Twee enorme kilogramme, en Faan se ‘beste Sannie’ toesprakie wat haar nog slegter laat voel het: “Isabella, ek wil met jou eerlik wees. En dis baie persoonlik. Ons manne …hou nie van vet vrouens nie. Die ouens wat nie met my saamstem nie lieg. Ek sê jou nou, hulle lieg.”

Sy glo hom. Maar as mans net van Barbie en Cindypoppe hou, wil sy nie ‘n man hê nie. Mans is vermetel. Hulle matig hulle aan om vrouens te kritiseer, maar geeneen van hulle lyk soos Simson die sterke of ‘n voormalige Meneer Heelal nie.

Faan en sy enersdenkendes se agterstewes, sy het nie hulle goedkeuring nodig om gelukkig te wees nie.

Vrouens se koppe werk gelukkig anders. Hulle kyk verby die uiterlike en sien die ware mens binne-in die pakkie raak. Dit is hoekom haar jare lange vriendinne haar aanvaar net soos wat sy is.

Saam met Anina en Willa kuier sy gereeld by die Spur oor eindelose bordjies ribs en vlerkies of die spesiale aanbiedinge van twee hamburgers vir die prys van een. Twee burgers vir elkeen.

Maar dit moet stop … nou en hier vroeg in Julie.

Nie omdat sy wil man vang nie. Nee, dis die heel laaste rede waarvoor sy sal ophou eet! Geen man is dit werd nie. Sy wil gewig verloor terwille van haar kind wat binnekort trou en terwille van haar eie gesondheid.

As sy so aangaan sal sy een van die dae uit die bed rol. Behalwe dat niks in haar klerekas meer vir haar pas nie, is sy ‘n uitstekende kandidaat vir ‘n hartaanval.

Sy is moeg, uitgeput, onfiks.

Sy verduidelik vir die kat: “Probeer ‘n bietjie om met sestien kilogram se bakstene in ‘n rugsak op jou rug tot op die dak te spring. Fernando, ek kan nie eens teen die drie trappies by die agterdeur opklim sonder dat my gô uit is nie.”

Fernando gaan sit op sy alie en lek sy linkerbeen soos ‘n joga meester en toe daag hy haar met sy oë uit om hom dit na te doen.

“Op geen manier nie. Ek kan nie eens haar tone sien nie, laat staan nog raak. Jou ma is deesdae ‘n regte potjierol.”

Koffie sal haar laat beter voel. Sy stap kombuis toe en skakel die ketel aan. Fernando Alonso kry katblokkies en ‘n skeppie van sy gunsteling pakkiesvleis in sy bakkie.

Dis hulle twee se kwaliteit tyd saam. Hy met sy kossies en sy met haar koffie en drie beskuite.

Behalwe, van vandag af sal sy nie beskuit met haar koffie neem nie.

“Al wat my sal laat beter voel, is as die ou Isa van lank gelede weer terugkyk uit Ouma se monster-spieël. Daar is nie meer uitsteltyd nie. Dis nou of nooit,” lig sy Fernando, sowel as haarself in.

Sy bad en wend haar soos dikwels die afgelope maande tot Ouma se klerekas om iets te vind wat pas. Al wat nog hier hang, is die oorgrotes wat nie saam is aftree-oord toe nie. Isa kies een van Ouma se reuse bont kaftans en ‘n swart langbroek met ‘n rek so wyd dat dit om die aardbol kan span.

Haar selfoon lui. Dis haar dogter:

“Hoe laat moet ons Ma se kar vat om te laat diens?”

“Nie vandag nie René.” Dit ís vandag, maar Isa is te depressef om enigiets te doen. Soos wat sy nou voel, wil sy nie eens meer lewe nie …

Miskien moet sy gaan sit en ophou asemhaal. Hoe lank kan mens sonder suurstof uithou? Dit werk nie. Die onwillekeurige spiere van haar diafragma trek sommer self lug in haar longe.

Sy kan seker van ‘n groot deel van haar probleme ontslae raak deur heeltemal op te hou eet. Hoe lank kan mens sonder kos aan die lewe bly? Vrek lank. As sy haarself vir ses maande in die huis toesluit en vir René vra om vir haar elke dag net ‘n appel deur die tralies te gee, sal sy dalk op die troue ‘n fraksie na die persoon lyk wat sy iewers langs die pad verloor het.

Wat haar aanbetref kan die kar maar vir altyd ongediens bly.

“Dit is hoekom ek verlof geneem het,” klink René se verwarde stemmetjie in haar oor. “Ons moet die kar neem om te laat diens en ek moet Ma terugneem huis toe. Reg? Onthou môre werk Ma en dan moet die kar reg wees.”

“Die kar sal niks oorkom as ek nog ‘n week so met hom ry nie. Doen iets lekker met jou verlofdag.”

“Hoe lyk dit dan met ontbyt by Coco? Dan gaan kyk ons na die rokkies by Donna Clair. Ons moet begin rondkyk vir iets spesiaals wat jy troue toe kan aantrek. Die oggend behoort aan ons twee. My en Jason se afspaak met die dominee is eers drieuur.”

Rokkies? Die arme kind met haar nommer ses lyfie slaan die bal heeltemal mis. Rokkie is ‘n verkleinwoord vir ‘n tabberdjie, van nommer tien of selfs ‘n kleiner lappie. Wat Isa benodig is nie ‘n rok of ‘n uitrusting nie. ‘n Tent is nader aan die soort die affêre wat die bruid se ma na die troue toe sal moet aantrek.

“Ek sal liewer nader aan die datum gaan rok soek,” sug sy. Die realiteit tref haar so hard, dat haar selfbeeld nou laer as die Titanic se skaduwee op die seebodem is.

“Orraait, dis darem nog ‘n hele vier maande voor die troue.” Asof haar kind nodig het om haar daaraan te herinner. “Onthou om Vrydag tweeuur reg te wees. Ek kan nie meer wag om na die venue te gaan kyk waarvan pa gister gepraat het nie.”

“Ek sien self daarna uit om die plek te sien.” Dit is blykbaar ‘n skilderagtige mooi plek by Waterval Boven.

“Wat doen Ma vandag?”

“Oortollige goed uitgooi.” Soos vet! “Leegmaak, opruim. Tyd om die plek reg te ruk,” en die lyf.

“Kan dit nie wag tot oomôre nie?”

“Nee, niks kan meer wag nie.”
Hoofstuk 2
Sy sal haar hele lewenswyse moet verander. Iewers op die boekrak in die studeerkamer is haar lêer met diëte wat sy oor baie jare bymekaargemaak het.

Voor in is ‘n paar maerword wenke in de trant van: Verander jou leefpatroon, eet minder en raak meer aktief. Die meeste mense vergaar die kilogramme oor baie maande en jare. Moenie verwag om dit met ‘n kitsdieet in drie dae af te skud nie. Volhard en hou vol, selfs al bereik jy plato’s.

Daar is net een dieet waarvan sy weet wat volhoubaar is en dis Willa se ma se vetverbrandingsdieet. Tannie Hanna het op ‘n stadium twintig kilogram daarmee verloor.

Die dieet is blykbaar uitgewerk deur ‘n dieetkundige van die Sacred Memorial Hospital om oorgewig hartpasiënte vinnig gewig te laat verloor voor groot operasies.

En dis wat Isa wil doen. Baie kilo’s verloor, voor ‘operasie troue’.

Haar selfoon lui en sy is so verdiep in haar navorsing dat sy amper nie betyds antwoord nie.

“Môre, dis Henk wat jou kar vandag gaan diens. Ek het die olie, filters en onderdele klaar gekoop en wag vir jou. Ek het al my ander afsprake afgestel vir jou kar.”

O vrek, sy durf nie regtig op nommer nege en negentig kanselleer nie. Al is sy hóé jammer vir haarself. Die arme man het beslis nie die fondse om filters en ander noodsaaklikhede vir Peugeot’s uit sy sak te koop en boonop ‘n dag se inkomste te verloor nie.

“Ek is nou daar.” Sy sug swaar en staar ‘n oomblik na die selfoon. Sy durf nie weer vir René bel met ‘n nuwe deuntjie nie. Sy ken haar, René sou nie gras onder haar voete laat groei het nie. In hierdie stadium is haar verlofdag se program propvol nuwe planne.

Tensy die wysers van die horlosie teen die muur heeltemal verkeerd is, is haar twee naaste viendinne al lankal by hulle onderskeie soutmyne.

Daar is net een genade. Sy sal die kar maar wegvat en terugstap huis toe. Henk se werkswikel is darem net ‘n kilometer van haar huis af. ‘n Goeie stappie is presies wat sy nodig het, noudat sy besluit het om ‘n nuwe blaadjie om te slaan. Met die terugkom sal sy by die groentewinkel inloer om haar sopbestanddele aan te skaf.

Isa haal die sopresep se bladsy uit die lêer en druk dit in haar handsak, voordat sy na haar motorhuis toe stap. Vyf minute later hou sy voor Henk se plek stil.

“Moet ek jou gou eers huis toe vat?” wil hy dadelik weet toe sy die sleutels in die aansluiter los en korrel om by die hek uit te stap. “Ek sien jy het nie ‘n get away car vir jouself gereël nie.”

Dit voel asof alles en almal haar groot lyf impliseer. Get away car! Verbeel jou. Orraait miskien was dit net ‘n grap. Dit sou regtig seergemaak het as hy van ‘n insleeptrok gepraat het.

“Nee wat dankie, ek stap sommer gou terug huis toe. Wil in elk geval gou by die groentewinkel aandoen om ‘n paar goedjies te koop.” En by die apteek om te hoor of hulle nog daardie dieetstropie vervaardig wat haar tien jaar gelede so hupstootjie gegee het toe sy agt kilogram verloor het.

“Die winkelsentrum is driehónderd meter hiervandaan af,” waarsku Henk en meet haar lyf met sy oë, asof hy eintlik na haar omtrek verwys. Die klem op die woord driehonderd laat dit boonop soos driehonderd kilometer te voet in ongerepte berglandskap klink. ‘n Afstand wat oor dae met ‘n viertrek voertuig aangedurf moet word. Of oor baie maande met ‘n wa en span osse.

Haar gemoedstoestand bereik ‘n nuwe laagtepunt. Dis presies hoe die stryd wat voorlê voel.

‘n Rotsbesaaide swaarkry pad.

Sy trek haar skouers reguit en sê meer vir haarself as vir Henk: “Van nou af gaan ek beslis meer stap. Soos jy kan sien het ek die oefening broodnodig. Nee, nodiger as brood …” Brood is iets wat sy van vandag af gaan uitskakel.

“Sterkte. Ek sal jou kar later na jou huis toe bring.” Dis duidelik dat Henk dink as sy die stappie eenmaal aangedurf en dit oorleef het, sal sy dit nie ‘n tweede keer vandag regkry nie.

Sy weet hy staan haar en agternakyk, daarom val sy flink in die pad.

Die driehonderd tree na die sentrum toe is regtig nie ‘n probleem nie. Dis die sewehonderd tree daarna wat sy met haar aankope sal moet aandurf wat ‘n bietjie meer van ‘n uitdaging sal wees. In haar kop tel sy die gewig van haar produkte bymekaar. Negehonderd gram tamaties, een en ‘n half kilo wortels, ses uie, ‘n bondel seldery, een pakkie bone, ‘n soetrissie, ‘n pakkie uiesop en biefblokkies.

Vrugte van dag een: Sy kies papino’s, nartjies en ‘n pakkie appels.

Sy stap met haar sakke uit en trek die geld vir haar kar se diens by die kitsbank langsaan.

Nog voordat sy tot by die apteek kan stap, voel die twee sakke van die groetewinkel asof elkeen ‘n ton weeg. Sy sit dit op die grond neer en fluister vertroulik vir die apteker dat sy ‘daardie stropie soek wat eetlus demp.’

Hy moet vêr oorleun om te hoor wat sy sê. Dan skud hy sy kop negatief: “Ons maak al vir ses jaar nie meer ons dieetmengsel nie. Ek kan vir jou iets natuurliks gee.”

“Werk dit?”

“Dit help net as die gebruiker gewillig is om sy of haar eetgewoontes te hersien.” Die uitdrukking op sy gesig is ‘n wisselwerking tussen skepties en geamuseerdheid. Dis duidelik dat sy nie die eerste ‘meer as gemiddelde’ persoon is wat kom smeek vir ‘n wonderkuur nie.

“Ek het my planne agtermekaar. Sopdieet.”

“Dan glo ek jy sal hierby baat vind,” fluister hy terug en roep daarna luid oor sy skouer. “Tina, een van daardie Wilder than Nature se fat-aid pakkies. En sluit vir die vroutjie die drie spesiale botteltjies in met die eetlusdemper, vetverbrander en energie booster.”

“Reg baas.”

“Dankie.” Isa stap na die ander toonbank toe. Daar is nog ‘n klant wat Tina se aandag vereis en Isa wag dat hulle eers moet klaarmaak. ‘n Lang skraal man, wat ‘n wit polistyreen koelhouertjie in sy hande hou. Die soort waarin mans ses biere hou, of visaas.

Aangesien hulle in ‘n apteek is, vermoed sy dat dit eerder medisyne is wat by ‘n sekere temperatuur bewaar moet word, of menslike onderdele wat pas van ‘n geskikte donateur geoes is en nou na ‘n kritieke siek pasiënt in ‘n hospitaal toe moet gaan.

Die man lig die deksel en Isa kyk liewer weg.

“Isa, jy moet hierdie man se fudge probeer. Dis smelt in die mond lekker. ‘n Smaaksensasie,” por Tina haar aan.

O is dit dít wat in die houertjie is? Erge versoekings.

“Klink lekker. Maar needankie.”

Sy sal steeds nie kyk nie. Hou liewer vir Tina dop wat die ‘iets natuurliks’ en die drie ekstra botteltjies oplui en in ‘n apteeksakkie sit. “Die fat-aid is voorraad vir tien dae. Twee kapsules in die oggend ná ontbyt en twee voor middagete. As jy dit later in die dag drink, slaap jy daardie nag glad nie. Die res se aanwysings is op die ingeslote pamflet. Jy het nie hoë bloeddruk nie? Of het jy?”

“Nie waarvan ek weet nie.”

“As jou kopvel begin saamtrek en jy wil jou man en hond skop, moet jy dit liewer los,” waarsku die apteker haar.

Genugtig, dit gaan ‘n opdraende pad wees! Maar niks wat die moeite werd is kom maklik nie.

“Wat kos dit?” Isa haal haar beursie uit.

Die bedrag wat die vrou noem laat Isa se ore tuit, maar sy haal haar bankkaart uit die beursie en hoop dat dit sal deurgaan. Daar is ‘n limiet op haar daaglikse uitgawes en sy het klaar ‘n reuse-bedrag vir die kar se diens onttrek.

Haar ore raak sommer by voorbaat rooi by die blote gedagte dat die transaksie dalk nie deurgaan nie. Maar dan sing die masjien en spoeg papiere uit.

“Die fudge?” Fudgeman loer by haar beursie in toe sy die kaart verlig bêre. Hy voel sy naam staan op een van die baie bloues en bruines daar binnein.

Maar jammer, dit behoort reeds aan Henk werktuigkundige en die bedrag is tot op die laaste sent uitgewerk.

“Nee dankie, nie vandag nie.” Isa haak haar handsak oor haar skouer en meet haar kruideniersware met die oog. Sy sit haar toormoeti in die sak wat die leegste lyk en tel albei op.

“Proe net hier.” Die man karring met ‘n tandestokkie in sy bakkie fudge en hou dit voor haar mond. “Mens kan nie hiervoor nee sê nie.”

“Meneer Fudgeman, ek het nou net ‘n fortuin aan vetpille spandeer,” fluister sy afgemete. “Verwyder jou versoeking voor my neus.”

“‘n Bietjie krapperig vandag?” Hy laat sak sy stokkie en staan eenkant toe. “As jy so liggeraak is voor die gebruik van daardie pille, maak jou man ook elke dag fudge en gaan verkoop dit elders om onder jou voete uit te kom. My vrou is op daai goed en haar lont is net so kort.”

‘n Ysingswekkende stilte sak oor die apteek neer. Alle oë is op Isa en haar omtrek. Sy kan net raai wat hulle dink: So lyk iemand wat ‘n fatbooster en drie bottels humeurgif nodig het. Gif wat maak dat menige man sal pad vat!

Arme arme mens, wat boonop moet nee sê vir Fudgeman se smelt in die mond lekkerny.

Isa vlug soos ‘n hasie … maar eintlik voel dit of sy soos ‘n swaar gewonde seekoei wegstrompel. Behalwe dat daar nie ‘n gat of riete is waarin sy kan wegraak nie. Net sewehonderd tree van hel wat nie net kalorieë gaan verbrand nie, maar haar dood gaan kos soos wat sy nou voel.

Sy het net genoeg asem om tot op die middelman van die kruising anderkant die sentrum te kom, wanneer die verkeerslig eers geel en toe rooi word.

“Issie antie oukei?” vra ‘n klein twak wat koerante verkoop.

“Piekfyn.” Groen lig en sy skarnier vir die ander kant. Ernstige gebed en deur die genade, bereik sy die volgende draai waar sy agter iemand se struik kan gaan staan en hyg. En rus!

Daarna tel sy die treë tot waar haar straat begin. Een twee … twintig … dertig en baie meer.

Sy gaan dit nie maak nie. As sy nou in newels neerslaan en iemand gryp haar handsak, skor die vent die tweeduisend plus rand wat vir die kar se diens moet betaal.

Sewentig tree. Haar bene dreig al hoe meer om onder haar pad te gee.

Die plakkies wat sy aan het is beslis nie geskik vir maratons nie. As sy vandag oorleef, is die volgende item op haar inkopielys tekkies. Of gemaklike stapskoene.

Van agter af kom ‘n voertuig. Ry effens stadiger. Ry verby. Agterliggies aan. Kom terug.

“Isa! Vir wat stap jy? Waar is jou kar?” Dis buurvrou Edna van sewe huise vêrder aan in die straat bly.

“In vir ‘n diens,” stamel sy die woorde uit.

“Liewe aarde vrou. Klim dat ek jou gaan aflaai.” Buurvrou wip uit en maak die deur aan die passasierskant oop waarna Isa letterlik op die sitplek neerval.

Edna is vyf jaar ouer as Isa, maar sy lyk fantasties in haar tennisklere. Goedgevormde, skraal, bruingebrande bene. Sy is viets en fiks en sal waarskynlik tien jaar langer as sý leef. En wie moet sy daarvoor blameer? Net haarself.

“Dankie. Wil jy gou kom koffie drink?” vra Isa en sukkel uit die kar toe buurvrou by haar hek stilhou.

“Nee baie bedrywig, ons is mos op pad Mosselbaai toe vir ‘n tennistoernooi. Ek moet nog gaan pak. Maar my spanmaat het daarop aangedring dat ons net ‘n paar vinnige balle slaan voor die lang sit in die kar.” En daar gaan sy weer.

Isa sit die pakkies neer en krap in haar handsak agter haar huissleutel en die hek se afstandbeheer aan.

En toe kliek sy.

Nee, sy kliek nie net nie. Dit tref haar soos ‘n donkieskop tussen die oë.

Haar huissleutels is in haar kar. Haar kar is ‘n moordende kilometer van hier af. En sy kan niemand bel nie, want haar selfoon lê op die lessenaar langs haar maerwordboek.

Sy moet haarself letterlik teen die hek regop hou om nie in mekaar te sak van skok nie. Daar is dik tralies en ‘n hemelhoë muur tussen haar en die agterdeur wat hopelik nie gesluit is nie.

Sy bars in trane uit.

“Isabel? My donder dit ís jy,” prewel ‘n mansstem agter haar uit en sy kyk om en op.

En toe wil haar hart in elk geval gaan staan.

Of sy het reeds die tydelike met die ewige verwissel en wag nou voor die poorte van die hiernamaals om deurgelaat te word, want dis onmoontlik dat Rudi Welthagen vandag hier voor haar kan staan. Sy wag dat sy beeltenis moet vervaag, wat moet aandui dat sy weer haar bewussyn herwin het. Maar dit gebeur nie.

“Rudi?” Sy vee die trane met albei hande van haar wange af. “Maar jy is in Nieu Seeland!”

“Wás in Nieu Seeland.” Daar is ‘n uitdrukking van totale ongeloof op sy gesig, terwyl sy oë haar gesig bestudeer. Dan laat sak hy sy blik, maar kyk dadelik weer op, asof hy nie kan glo wat hý voor hom sien nie. “Ek is terug.”

Isa krimp ineen. Alles in en aan haar skok tot stilstand. Rudi was haar eerste, haar grootste, haar heel belangrikste en enigste hoërskool liefde! En as sy nou regtig moet eerlik wees met haarself, haar enigste ware liefde daarna ook.

Hoeveel keer het sy nie oor al die jare terugverlang na hierdie man nie? Gewens om die horlosie terug te draai en vir hom te wag, totdat hy klaarmaak met sy omswerwinge. Alles van en aan hom voel soos die ander helfte van haarself, wat sy iewers in die lewe tragies verloor het.

Hulle was geesgenote met gedeelde belangstellings. Saam kon hulle, hulle verlustig in die samestelling van die kleinste goggatjie en mooiste blomme. Van hulle beste gedeelde oomblikke was die voël  identifiseringskursus wat hulle as skoolkinders by die dieretuin gedoen het en die uitstappies saam met die Ornitologiese Vereniging daarna.

Daar was min belangstellings wat hulle nie gedeel het nie.

Selfs hulle musieksmaak het ooreengekom. Een Kersfees het sy toevallig vir hom presies dieselfde Roy Orbison kasset gekoop, as hy vir haar.

En die kere wat hy haar in sy ams gekoester het, was soos om in kalm waters te kon anker gooi nadat woeste golwe jou lewensbootjie gevaarlik naby aan die rotse verby gestuur het.

Saam met hom het sy haar eerste tree in die grootmenswêreld gegee. Aardskuddend so, want geen man se soene kon ooit weer elke stukkie vrouwees in haar met soveel passie wakkermaak nie. In al die jare daarna en selfs terwyl sy getroud was, kon sy hom nooit vir so lank as een hele dag uit haar gedagtes verban nie, al het sy hoe hard probeer.

Natuurlik het sy soms, met ‘n hart wat vanself vinniger begin klop het gewonder hoe dit sou wees om hom weer te sien.

Hoekom moes hy juis vandag hier aankom, terwyl haar voorkoms en gemoedstoestand ‘n algehele laagtepunt bereik het?

“Is daar fout?” vra Rudi en staan effens weg. “Ek kon nie help om te sien hoe jy die hek beetpak nie. En huil jy?”

Sy huil ja! Sommer van skaamte ook: “My huissleutel en remote is in my kar. En my kar is by Henk om gediens te word.”

“Nou kom ek neem jou gou na Henk toe, dan gaan haal ons jou sleutels,” paai hy sag, soos ‘n pa sy dogtertjie sal troos as haar roomysbolletjie kaplaks uit die horinkie geval het.

“Te veel moeite. My agterdeur is altyd oop. As jy kans sien om weer oor te klim. Boomlangs.” Hy volg haar blik. Bekyk die boom en huiwer. Sy gryptak van destyds is nou baie hoër en dikker.

En hy is natuurlik ouer …

“Ek is seker ek kan dit nog doen.” Hy spring, vang raak en slaag sowaar daarin om homself teen die tak op te hys. Hy klouter oor en land anderkant. Minder ligvoets as in toeka se dae, maar darem sonder om ‘n enkel te swik of ‘n been te breek. “Jy sê die agterdeur is oop.”

“Jip.”

“Dis stupid,” dreig hy met ‘n vinger deur die hek se tralies. “Diewe kan inkom, jou voorlê en vermoor.”

“Ek weet.” In die stadium mag dit dalk soos genadedood voel. “Die interkom is steeds langs die voordeur. Lig die telefoon en druk die knoppie.”

“Ek onthou nog hoe dit werk!” knip hy haar kort en keer sy rug op haar om weg te stap.

Isa snak onwillekeurig na asem. Na al die jare is die man se lyf en agterstewe selfs nog meer sexy. Ouer, meer volwasse en sterker.

Haar hart werk al weer harder as wat gesond is.

Kon sy nie maar twee maande gelede al wakker geskrik het en begin het om haarself reg te sien nie? Of kon Rudi Welthagen nie maar twee maande eers weer in haar lewe instap nie? Teen daardie tyd behoort sy minstens tien kilogram minder te weeg.

Sál sy tien kilogram minder weeg. Dit is ‘n belofte.

Maar die skade is gedoen. Eerste indrukke is blywend.

Eerste indrukke tydens hul tweede ontmoeting, wat sy altyd gehoop het soos ‘n feeverhaal verder sou verloop. ‘n Tweede kans vir ‘n ou liefde wat nooit sou roes nie. Hoe hulle eendag weer sou drade bymekaarmaak. Misverstande uit die weg sou ruim. Saam oud sou word.

Welkom terug in die werklikheid Isa Krynauw. Die lewe gee nie derde kanse nie en jou tweede kans het pas gekom en gegaan.

Sy is seker Rudi Welthagen sal hierdie prentjie van haar, terwyl sy op haar heel slegste lyk en voel nooit in sy lewe sal vergeet nie. Die uitdrukking op sy gesig spreek boekdele!
Hoofstuk 3
Hoekom het Alet en sy ouers nooit vir hom gesê dat Isa letterlik ‘n berg van ‘n molshoop gemaak het nie? wonder Rudi terwyl hy rondom die huis na Isa se agterdeur stap.

Hy is dankbaar dat hy kon wegstap om sy asem terug te kry. Hy is nie kortasem van moegheid oor die boomklim toertjie nie. Hy ly aan skok.

Dis nie asof hy verwag het om iemand raak te loop wat lyk soos die godin van ewige jeug nie. Inteendeel, ‘n bietjie karakter en lewenslyne op ‘n vrou se gesig is vir hom pragtig. Maar in Isa se geval lyk dit asof sy net laat gaan het. Duidelik het sy haar hartseer frustrasies met sjokolade en groot borde kos probeer versmoor. Al wat oorgebly het van die ou Isa is haar pragtige sielvolle groot bruin oë, nou effens versink in haar rooi bolwangetjies. Hy wil nie eens raai wat haar bloeddruk en cholesterol vlakke is nie.

Sy was altyd klein en fyn. ‘n Goeie twintig sentimeter korter as hy. Maar wat sy in lengte te kort geskiet het, het sy beslis in die laaste jare in breedte opgemaak.

Hoekom het hy aanvaar dat sy na al haar swaar en seerkry tot ‘n halwe mensie sou wegsmelt? Rudi stap by die agterdeur in en die bekendheid van tant Elsie se lekker groot kombuis bring ‘n knop in sy keel. Die ontbythoekie waar hy en Isa vir ure lank oor bekers koffie in mekaar se oë kon kyk. Uit in die gang met sy baie familiefoto’s. Niks het nog verander nie. Aan sy linkerkant is die sitkamer en regs die eetkamer met sy langwerpige geelhouttafel en volgepakte hoë outydse buffet. Hy haal diep asem voorat hy die voordeur van binne af oopmaak en die hekinterkom se knoppie druk, sodat die swaar hek oopskuif.

Woordeloos stap hy hek toe, tel die pakkies op, stap in en sit dit op die kombuistafel neer.

“Koffie?” vra Isa.

“Um.” Sy eerste reaksie is om nee te sê, sý moet wegbly van koffie af. Eintlik wil hy desperaat wegkom van sy eie ontnugtering af, maar hy hoor hoe sy stem hom verraai deur te antwoord. “Tee sal lekker wees, dankie.”

“Gaaf.” Sy skakel die ketel aan. Haal bekers uit. “Ek wil net gou my gesig gaan afspoel.”

Sy glip om die deur en hy hoor hoe haar voetstappe haar gang af neem. Miskien moet hy die geleentheid aangryp en in die teenoorgestelde rigting by die voordeur uithardloop. Dit sal wreed wees teenoor haar, maar dalk sal hy daarin slaag om die prentjie van ‘n uiters vewaarloosde Isa uit sy kop kry, as hy nie te lank daaraan blootgestel word nie.

Water begin loop in die badkamer en inplaas van vlug sak hy willoos in een van die kombuis stoele neer.

Hy kan dit nie doen nie. Hy kan haar nog steeds nie seermaak nie.

“Dankie, jy het my lewe gered met jou geklouter oor die muur.” Sy is terug.

“Plesier.” Om die een om ander rede lyk sy beter. Minder rooi. Haar vel is verbasend glad. Sy is eintlik nog steeds vir hom mooi, moet hy teësinnig aan homself erken, al was sy eerste indrukke van haar natgeswete lyf allesbehalwe vleiend.

Baie van sy vriende se vrouens het ook deesdae meer lyf as twintig, dertig jaar tevore. Die verskil is dat sy nie geleidelik voor sy oë verander het nie. Die een oomblik was sy kop en sy lyf nog vol van prentjies en gedagtes van Mejufrou Bikini-en-bene van langsaan. En woep woep WOEP, moet sy brein alles herbereken.

Isa is nie meer ‘n meisietjie nie. Sy is nou ten volle vrou. ‘n Vol vrou.

“Ek hoor jou dogter trou oor vier maande,” maak hy praatjies om sy ongemak te verdoesel. “Alet het vir my gesê hulle hou die datum oop, want hulle is reeds tentatief genooi. Waar hou julle die troue?”

“Die kinders oorweeg ‘n idilliese mooi plek naby Waterval Boven. Dis tussen Pretoria en Lydenburg waar beide René se pa en Jason se ouers woon. Ons gaan die naweek kyk en as hulle daarvan hou en die plek is beskikbaar vir die tweede Saterdag in November, stuur hulle oor ‘n maand kaartjies uit.” Sy pak koffiebekers melk en suiker op ‘n skinkbord en soek in die kas na iets. ‘n Houertjie kunsmatige versoeter.

“Gits, jy drink seker jou tee in ‘n koppie met ‘n piering?” Sy bêre die bonkige koffiebeker en korrel na ‘n ander rakke. Wik en weeg dan tussen tannie Elsie se spierwit Artsbergspogstel en die fyn geblomde Noritake koppies en pierings wat sorg vir ‘n lente uitspattigheidjie in ‘n andersins somber bruin kombuis.

“Nee asseblief, gebruik die beker!” Sus Alet kan nie uitgepraat raak oor Isa se kunssinnigheid nie. Hoekom sien hy niks daarvan hier nie? Die huis lyk nog steeds netsoos wat haar ma dit meer as twintig jaar gelede die laaste keer verander het.

“Waar wil jy sit?” vra Isa. Sy bring weer die bekers nader en giet water oor ‘n teesakkie en dan op haar koffiekorrels.

“Enige plek. Sê jy maar.”

“Ons kan op die stoep tee drink.” Sy tel die skinkbord op.

Twee tree en hy haal die skinkord uit haar hande en plak dit op die ontbyttafeltjie neer.

“Net hier.” Hy gaan sit self. Die stoep kyk uit oor die swembad. Dis deels waar sy drome oor hom en Isa lank gelede begin het. Daardie droom het pas aan skerwe gespat.

Sy gaan sit oorkant hom: “Vertel my van jou seuns.”

“Ruan en Steyn. Oudste is ‘n ambulansman in Nelspruit en kleinboet werk in die wildtuin.”

“En jy is terug om te bly.”

“Dis so half en half die plan …” Vaag. Mag sy nooit agterkom dat sy self deel van die plan was nie. Die moontlikheid is skraal dat hy na vandag in die as van hulle vergange ‘verhouding’ gaan krap op soek na ‘n kooltjie wat hy weer tot ‘n vlam kan aanblaas.

Natuurlik sal hy een of ander tyd moet klaarheid kry oor hom en Isa. Hy was destyds te seer en omgekrap om alles te ontleed. Maar ‘n taktiek van pleisters plak en wag dat die vel bo-oor groei, werk nie as wonde nog binnekant bloei nie. As daar enige misverstande was, sal hy tog eendag wil hoor wat dit was.

“Wanneer het jy teruggekom van Nieu Seeland af?” vra Isa, terwyl hy so half in sy eie gedagtes versonke suiker en melk in sy tee gooi.

“Eergister,” antwoord hy, nadat hy eers vinnig moes dae terugtel.

“Saterdag. Js jy van plan om in jou pa se huis te kom bly?” kom die vraag net so ietsie vinniger as haar normale praat tempo? As dit ‘n gedagte is wat haar bly of opgewonde maak, moet hy dit nou en hier in die kiem smoor.

“Ons gaan verkoop. Ek besluit nog waar om my in Suider-Afrika te vestig.” Sy hoef nooit te weet dat hy dit oorweeg het om ‘n waardasie op die huis te kry en sy broer en suster uit te koop nie. Deur nader aan haar te bly, sou hy die situasie tussen hulle op ‘n dag-tot-dag-basis evalueer.

Sy planne het pas verander.

“Die mark is nie wat wonders op die oomblik nie,” waarsku Isa. Dis duidelik dat sy hard probeer om hom aan die gesels te kry.

Hy ontspan effens. Vriendskap kos niks. Vriendelikheid ook nie.

“Ons is nie te haastig nie. Sal so drie maande gee en dan bietjie afkom met die prys, as dit nie anders kan nie. Daar is gelukkig nie meer ‘n verband op die plek nie. Ek is nie haastig om weer te begin werk nie.” Rudi drink van sy tee en wens dat die agent wat hy gekontak het om die plek te waardeer hom nóú moet bel om hom te verlos. Hy wil nie te veel van die prentjie voor hom inneem nie. Wanneer hy oor drie maande weggaan wil hy haar liewer onthou soos lank gelede. “En jy? Heeldag by die huis of toevallig net vandag? Ek het by Alet gehoor jy hou nie meer skool nie.”

“Ek werk Dinsdae, Woensdae en Donderdae in ‘n privaat pottebakkers studio.” Dan voeg sy so half terloops by. “Die produkte word in ons galery of aan winkels verkoop.”

Dit prikkel sy belangstelling. Sy was as kind al besonder kunstig. “Watse produkte? Koppies en bekers? Eetstelle?”

“Handgemaakte artikels wat nie met Mister Price se pryse hoef mee te ding nie.” Sy lag effens. “Ek konsentreer liewer op funksionele enkel-items en beeldhouwerke. Behalwe dat my kind vir my gevra het om vir die troue klein goedjies te maak as geskenke vir die gaste.”

“Wat gaan dit wees?”

“Sy wil sulke sterretjie bakkies hê waarin sy tjoklits vir die manne en ‘n teekersie vir die dames wil sit.”

“Ek wil sien. Is hier iets van jou in die huis?” Daar gebeur dit weer met hom. Soos ‘n paar jaar gelede, voel dit asof hy iets belangrik mis as hy nie sien wat sy doen nie. Alles wat Isa gedoen het, was vir hom interessant. Al het sy ‘n gedroogde blom en ‘n blaar op ‘n kaartjie vir iemand geplak het hy gedink dit lyk fantasties.

“Nee, niks. Ouma wou nie dat ek my goed uitpak nie.” Sy lag effens. “Verandering voel soos ‘n bedreiging vir mense met Alzheimer’s.”

“Alzheimers? Ek het nie geweet nie. Maar sy bly mos nie meer by jou nie.”

“Ek weet en dit is algemene kennis dat Alzheimerpasiënte nie weer gesond word nie. Maar sy is nou eers vyf maande in die inrigting en ek hou aan glo dat sy dalk weer eendag kan terugkom.”

“Sal jy haar huis toe laat kom? Jy het nie die infrastruktuur om ‘n semi invalide te versorg nie.” Rudi se selfoon lui. Die agent is hier. Hy sluk sy laaste bietjie tee en staan haastig op. Beduie voordeur toe. “Skuus, die agent is by my hek. Nou moet ek ongeskik wees en dit terwyl jy nog skaars aan jou koffie geraak het.”

“Alles reg. Ek verstaan dat jy moet gaan.” Isa stap saam en druk haar hek se skakelaar om hom uit te laat. “Ek is weg vir die naweek wat kom, maar as jy wil, sal ek jou een aand in volgende week vir ete nooi.”

Eet! Dis van eet dat sy … Eet behoort vir haar ‘n skelwoord te wees.

“Sal lekker wees,” antwoord hy egter om haar nie seer te maak nie. Hy sal wel aan ‘n goeie rede dink hoekom dit hom ongelukkig nie sal pas nie.

Die laaste ding wat hy wil doen, is om te sién hoe sy eet.
Isa kyk Rudi met ‘n warboel van gevoelens agterna terwyl hy hek toe stap en omstap na langsaan, waar ‘n pragtige vrou uit ‘n peperduur BMW klim en sy hand skud. Daarna druk hy sy hek oop en wag met ‘n glimlag dat sy terugklim in haar kar en deurry. Wanneer sy stilhou is hy dadelik by om die deur vir haar oop te maak.

So lyk ‘n man se gesig as hy waardeer wat hy voor hom sien.

Isa kan met sekerheid sê dat hy nie gehou het van wat hy gesien het toe hy haar by die hek kom groet het nie.

Bang dat Rudi sal opkyk en sien hoe sy hulle staan en dophou, tree Isa terug en maak die voordeur toe. Sy leun teen die muur en maak oë toe, om die afgelope halfuur te laat insink. Haar hart is op ‘n sukkeldrafstappie van sy eie en sy konsentreer hard om haar asemhaling in ‘n soort reëlmaat te tem. Tevergeefs, die een steek die ander aan en haar holdertebolder gedagtegang dra ook nie by om enigiets te laat kalmeer nie.

Rudi Welthagen is terug in Suid-Afrika. Hy is op hierdie oomblik in sy grootword huis langsaan. In lewende lywe.

Hy was hier in haar huis. Vir ‘n kort rukkie het haar hart byna oorgekook van warmte, soos wat dit altyd in sy teenwoordigheid was.

In plaas daarvan om bly te wees, voel Isa ongelooflik leeg. Hulle weersiens was soveel anders as in haar drome. Nie eens die ou tradisie tussen familie en bekendes om mekaar te soengroet na jare se afwesigheid is gehuldig nie. Al sou sy waarskynlik diskreet weggekoes het as Rudi haar so wou groet. Maar hy het nie eens ‘n poging aangewend nie. Ineendeel hy het van haar blink natgeswete gesig weggedeins.

Rudi se reaksie sal haar vir die res van haar lewe bybly.

Hy was teleurgesteld en geskok, al het homself daarna redelik gou reggeruk.

Eers toe sy begin ruk, besef sy dat daar rou snikke uit haar liggaam skeur. Vir die tweede keer vandag huil sy soos ‘n kind, totdat sy vir Fernando kat teen haar bene voel skuur.

Dis sy manier van troos want tipies man weet hy duidelik ook nie wat om met ‘n vrou in die middel van ‘n tranedal te maak nie.

“Dankie my liefiekat.” Sy tel hom op en streel oor sy snoesige lyfie. “Vergeet van Rudi. Ons gaan kook liewer die sop, dan bly ons besig.”

In die kombuis sit Isa die kat in sy geliefde sonkolletjie neer. Daarna was sy hande en haal ‘n groot pot uit om solank water te kook, terwyl sy die groente verwerk.

Teen vieruur bring Henk haar kar terug. Sy betaal hom en trek die kar in die garage.

Daarna skep sy die afgekoelde sop in bakkies om te vries. Vanaand is sy nie lus vir TV kyk nie. Sy sal eerder in die bed gaan klim en vir oulaas nog ‘n bietjie huil!

Sy is immers pure vrou wat na ‘n lekker tranevloed kan kop optel en beter voel.

Sy kan egter nie ophou dink aan Rudi se reaksie nie. Dis duidelik dat hy soos die meeste mans aanvaar dat vrouens nie mag verander, verouder of vemeerder oor jare nie. Natuurlik sou sy self verkies het om nog te lyk soos in die stadium waarop sy met haar skrale lyfie in ‘n nousluitende destydse nommer twee en dertig rooi rok langs hom gestaan het, op pad na sý matriek afskeid toe.

En ‘n jaar later op haar matriekafskeid in ‘n sexy ysblou rok, toe hy spesiaal van Kaapstad af teruggevlieg het vir háár matriekafskeid.

Albei foto’s hang steeds in die gang op pad na haar ma se slaapkamer toe. Sy stap daarnatoe en kyk lank na haar eie beeltenis. Haar blink bruin hare tuimelend oor haar linkerskouer op die een foto en los en welig op die ander een.

Op die oomblik is haar hare in ‘n slordige slap poniestert agter haar kop vasgemaak. Dis lanklaas deur ‘n haarkapper gesny en versorg. Sy lyk soos ‘n slonskous.

‘n Middeljarige antie!

En dit terwyl Rudi net nog aantrekliker geword het. Selfs met die bietjie grys teen sy slape en hier en daar tussen die donker hare.

Sy raak teer met haar vinger aan Rudi se beeld agter die koue glas van die fotoraam. Daar was in hulle skool baie meisies in sy eie standerd wat nie ‘n geheim daaraan gemaak het dat hulle graag met haar sou wou plekke ruil nie. Miskien was dit hoërskoolmeisie jaloesie, maar een van sy klasmaats het selfs vir haar kom sê dat sy nie so ‘n oulike ou soos Rudi verdien nie.

Dit het haar laat besef dat dit net ‘n kwessie van tyd sou wees voordat hy iemand sou raakloop wat hom waardig is. Al het hy dit nooit self pertinent vir haar uitgespel nie, was sy voorbedag op die tekens. Die belangrikste een was die feit dat hy opgehou het om die briewe te beantwoord wat sy so gereeld vir hom geskryf het terwyl hy diensplig gedoen het.

Sy het hom beter verstaan as wat hy ooit sou kon raai: Na al die jare was dit vir hom onmoontlik om vir haar in haar gesig te sê dat hy nie meer in haar belangstel nie. En hy kon nie die woorde vind om dit vir haar te skryf nie.

Daarom het hy eerder soos ‘n groot speld verdwyn. Onbereikbaar gaan wegkruip en die Angolabosse as verskoning gebruik.

Uiteindelik moes sy die boodskap kry.

Dis die grootste rede hoekom sy daardie Desember met die macho polisieman getrou het, wat nie kon ophou vertel hoe mooi sy vir hom is nie. Sodoende was dit vir Rudi nooit nodig om haar in haar peetjie te stuur nie. Sy het dit vir hom maklik gemaak om met sy lewe aan te gaan.
Hoofstuk 4
Dag twee van haar dieet. Dinsdag. Sop en groente.

Die studio waar sy werk is naby genoeg om daarnatoe te stap.

By die studio maak sy ‘n vaas met takke in vlakreliëf op, wat almal na asems laat snak. Dit word ‘n meesterstuk. Al sal Rudi dit dalk nooit sien of waardeer nie, besef sy dat háár bosbouman beslis die inspirasie is. Tot verlede week het sy rondgeploeter en geen tema gehad vir haar uitstalwerke nie. Nou kry sy rigting. Op die lang vaas waaraan sy werk is daar die abtrakte suggestie van bome, blare, sade.

Isa voel amper energiek terwyl sy die middag half vyf terugstap huis toe om te gaan bad en regmaak vir haar en haar twee vriendinne se gebruiklike kuieraand by die Spur. Sy wil nie nou al vir hulle sê dat sy op ‘n streng dieet is nie. Hierdie keer sal sy eers aan haarself bewys dat sy in staat is om deur te druk en vas te byt. Sy drink ‘n koppie sop, terwyl sy vir Anina wag om haar op te laai.

“Die special. T-bone en vlerkies en ‘n glas rooiwyn,” besluit Anina wanneer hulle by hulle gewone tafel gaan sit en hulle gewone kelner vir hulle die gewone spyskaarte bring en soos gewoonlik wag om hulle gewone bestelling te neem.

“Twee. En ‘n Castle.” Willa klap die spyskaart toe. Hoekom sy hoegenaamd op die spyskaart gekyk het, weet niemand nie, allermins sy! “Isa, die gewone met ‘n glas witwyn?”

“Nie vanaand nie. ‘n Gebakte aartappel met botter, groente en ‘n glas water, dankie.”

“Wat?” Albei kyk haar aan asof sy die seuntjie by die tafel langsaan se pers ballon met ‘n speld geprik het en dit haar skuld is dat hy nou luidkeels daaroor staan en gil.

“Sorry? Sê net weer daardie bestelling.” Die kelner gluur haar aan asof sy ál die Spur se ballonne gebars het.

“Aartappel en groente.” Hy moet nie vir hom doof en onnosel hou nie. Toe hy uiteindelik oor sy verstarring kom, skryf hy die nota op sy boekie en stap weg.

Die ander twee sit en wag vir ‘n verduideliking. Niemand peuter met Dinsdagaand se tradisie nie.

“Ek wou nie nou al vir julle iets gesê het nie, maar die waarheid is, ek wil dringend gewig verloor. Ek het besluit om jou ma se sop dieet te volg, Willa.”

“O.” Willa slaak ‘n sug van verligting en waai met die hand. “Nee man, begin môre.”

“Nee, ek het gisteroggend al begin. Ek moes eenvoudig. Die skaal wou ontplof en ek het amper flou geval toe ek gister terugstap het nadat ek my kar vir Henk geneem het om te diens.”

“Het jy al die pad gestap? Hoekom het jy nie gereël dat een van ons jou kom oplaai nie?” Albei is hoogs ontstoke. “Jy sal vrek.”

“Ek moet oefening kry.”

“Orraait, volgende week join ons jou,” besluit Anina. “Gee net weer vir my die resep, sodat ek ook kan sop kook.”

Dis die gesindheid. Dis hoe ware vriendinne van twintig jaar mens bystaan.

“Naand Isa,” groet iemand langs hulle tafel.

Isa hoef nie op te kyk om te weet dat dit die laaste persoon is wat sy in die Spur wou raakloop nie. Maar natuurlik kan of wil sy hom nie ignoreer nie. Sy kyk op in Rudi se wye glimlag en moet hard sluk, voordat sy in staat is om te antwoord.

“Rudi! Naand. Onthou jy vir Willa en Anina? Hulle was saam met my en Alet in die klas.”

“Natuurlik onthou ek vir Willa en Anina. Dis lekker om julle weer te sien.”

“In die lewe,” roep Willa uit en kom half orent van verbasing. “Dit is dan Rudi Welthagen.”

“Die einste,” antwoord hy met ‘n verleë laggie.

“Jy lyk nie ‘n dag ouer as in jou matriekjaar nie.”

“Nee vrek,” keer hy verontwaardig. “Moenie maak asof my ouderdom en wedervaringe nie padkaarte op my bakkies gelaat het nie.”

“Willa bedoel net jy lyk goed vir jou hoë ouderdom,” trek Isa sy been.

“Ons is nog nie so oud nie,” keer Willa verontwaardig en draai weer na Rudi toe. “Hoe lank kuier jy in Suid-Afrika? Jy woon mos eintlik in Nieu Seeland as ek reg onthou.”

“Ek kuier nie. Ek is terug in Suid-Afrika om te bly.” Met desperate passies probeer hy hom klein maak terwyl mense in die smal gangetjie agter hom wil verbydruk. Dit werk nie en hy skuif langs Isa in. Sy is teer bewus van die brandpunt waar sy arm per ongeluk aan hare raak. Soos gewoonlik ruik hy skoon en vars. Al weet sy nie watter naskeermiddel hy op die oomblik aan het nie, sal sy sy persoonlike reuk tussen duisende manne en vele kosdisse geblinddoek herken. Hy hoef eintlik niks aan hom te spuit nie. Hy het altyd wonderlik geruik, selfs na ‘n harde rugbywedstryd wanneer hy haastig was om onder ‘n stort te kom.

Toe die stormloop in die paadjie verby is, staan Rudi weer op. Hulle groet en daarna stap hy na waar mense op hom wag. Isa herken hulle as sy jonger broer en skoosuster Lali en sy waai.

“My donner maar die man het sexy geword. Ek bedoel hy was nog altyd smart en aantreklik, maar nou is hy dit in die oortreffende trap,” babbel Willa. “Dis so onregverdig. Mans preserveer beter as vrouens.”

“Mans is gelukkig. Kos pla hulle nie soveel as wat dit ‘n vrou pla nie,” is Anina se verklaring.

“Dis omdat ons vrouens lewenslank moet sorg dat mans en kinders se mae vol bly. Dis later ‘n gewoonte wat mens moeilik afskud,” sug Isa. Haar oë draai vanself na waar Rudi nou met die kelner korswel. Sy posisioneer haarself so dat sy hom per ongeluk tussen Willa en Anina kan dophou. Maar ‘n paar minute later kyk sy haastig af toe sy Rudi se blik op haar betrap.

“Dis hoekom jy skielik wil maer word.” Willa gluur haar agterdogtig aan. “Dis omdat jou ou skool-kys terug is in Suid-Afrika.”

“Nee, dit het niks met Rudi Welthagen te doen nie,” keer Isa verontwaardig. “Ek het besluit om gewig te verloor omdat ek nie soos ‘n olifant op René se troufoto’s wil lyk nie.”

 

Dag drie. Sop, vrugte en groente. Geen aartappel. Die studente in haar pottebakkersklas vra net af en toe raad en Isa rol klei uit om ‘n paneel met ‘n bostoneel te maak. Daarna verf sy gister se vaas en sit dit op die rak vanwaar dit oond toe moet gaan.

Isa hou haar hande en kop doelbewus besig, sodat sy haar nie soos baie ander dae aan Annemarie se beskuit vergryp nie.

Haar middagete bestaan uit ‘n tamatie-en-avokadopeerslaai. Daarna stroom die studente vir die middagklas in en wanneer Isa iemand met ‘n ontwerp moet help, vergeet sy dat sy nog ‘n bietjie honger gevoel het.

Amper draai sy om en stap nog ‘n keer om die blok toe sy later by die huis kom en sy vir Rudi in die oprit met die eiendomsagent en waarskynlik voornemende huiskopers sien gesels. Gelukkig staan hy met sy rug na haar hek toe en Isa glip vinnig in. Hopelik ongesiens. Behalwe dat sy oortuig is dat die eiendomsagent haar stip dophou.

Laataand roerbraai sy vir haar ‘n pak gevriesde groente en eet meer as die helfte saam met haar sop op.
Donderdag, dag vier. Volgens die dieet mag sy al twee tot drie kilogram minder weeg. Kan sy dit waag om op die skaal te klim? Of gaan sý breek?

Sy kan haar net voorstel hoe teleurgesteld sy sal wees as nog niks gebeur het nie.

Twee en ‘n half kilogram af? Kan dit wees? Sy klim af en daarna weer op. Soms is die skaal nie heelemal ge-yk nie. Dit bly twee en ‘n half.

Op vandag se spyskaart is daar sop, ten minste drie piesangs en afgeroomde melk.

Maar in die middagklas gebeur daar ‘n ramp des rampe. Een van die studente stap met die heerlikste sjokoladekoek in. Die vroutjie verjaar.

“Veels geluk.” Isa durf nie na die sjokoladekoek kyk nie. As sy kyk, begin haar ander sintuie ook werk. Ruik sy die heerlike ryk donker sjokoladeversiering, kan sy net raai hoe dit in haar mond gaan smelt. “Nee, dankie, nie vir my nie.”

Sy weet mos dat die dunste skyfie koek, die potensiaal het om die verlore kilogramme terug te sit aan haar lyf. Sy kan buitendien nie eens na kos kyk nie. Kos val haar agressief aan. Dit veroorsaak ‘n hewige allergiese reaksie wat haar meters wyd laat swel.

Sy sal nie na die mense rondom haar in die studio se gesigte kyk nie. Die paar wat nie intens jammer vir haar voel nie, gaan dink: Siestog, ou vettie is te skaam om voor ons ander te eet. Maar hou dop. Sy sal weldra ‘n stuk koek gaan afsny. Sy sal daamee wegstap, om dit vinnig in die kombuis of badkamer te gaan verorber. Ons weet mos sy eet skelm. Sy móét skelm eet, want kyk net hoe lyk sy.

Nie vandag nie. Hulle wag verniet.

Koffie. Sy mag koffie drink, al neem dit haar tot skrikwekkend naby aan die soete verleiding verby. Die kersies op die koek lok soos die rooi ligte van ‘n verbode distrik. Maak drange in haar wakker wat met veel meer as eet te doen het.

Rudi se arms om haar lyf … Rudi se lippe op hare. Sy oë wat met haar praat. Haar vertel dat sy kosbaar is. Sy hande … en dis waar sy haarself weer hard terugbring aarde toe. Hy mag nie aan haar raak terwyl sekere dele van haar anatomie onvleiend oor haar onderklere bult nie. Hy durf haar nie sonder klere sien nie. Sy wil haarself ook nie sonder klere sien nie. Om haarself mét klere te sien is al ‘n geestelike skok. Wat doen dit nie aan arme Rudi Welthagen nie?

Nie dat hy te lank daaroor sal tob nie. Mans se motto is mos: ‘daar is vele visse in die see.’ Met genoeg rietskraal dames om van te kies en keur, sal hy beslis nie belangstel om meer van háár te siene te kry nie.

Vergeet van Rudi Welthagen.

Hy is mos nie die rede vir haar stryd nie. Dit gaan oor haar kind René se groot dag wanneer herinnerings lewenslank in albums en agter portretglas bewaar moet bly. Op daardie dag gaan Isa haarself beloon met die mooiste uitrusting wat sy kan bekostig! Nie met die enigste een wat pas nie.

Sy sál sestien kilogram minder weeg voordat sy vir haarself ‘n rok gaan koop.

‘n Rooie, want dit is die kleur wat René vir haar groot geleentheid gekies het. Isa sien al hoe sy by elke boutiek in Brooklynsentrum instap. Maar sy sal nie begin rondkyk voordat sy nie ten minste weer in ‘n nommer tien pas nie.

Dit gaan vasbyt kos en daarom sal sy nie eens in die rigting van die koek kyk nie.

 

Vrydagoggend meet Isa haarself. Sy sal dit van nou af ten minste een maal per week doen.

Sy is wyd! Oor die bors, onder die bors. Boude wat in geeneen van haar eie langbroeke kan pas nie. Boarms, genugtig. Middel … hopeloos te veel om gesond te wees. Bobene …

Dit voel soos ’n onbegonne taak.

Snaaks dat sy nooit gedink het haar ma is erg geset toe sy hierdie yslike groot klere gedra het nie. Maar dan was Moeder nog altyd ‘n goeie agt sentimeter langer as sy…

Sop vir ontbyt. Daarna inpak vir die naweek in Waterval Boven saam met die kinders. Nog sop om saam te vat.

Die res van die naweek sal sy moet bontstaan om by die dieet te hou.

Haar groot uitdaging sal waarskynlik Sondag wees wanneer sy sop bruinrys en groente mag eet. Watter restourant het bruinrys en opgekookte groente op hulle spyskaart?
Hoofstuk 5
“Ek dog jy het gesê jy gaan vir Isa nooi om saam met ons te kom braai.”

Die eerste van Rudi se gaste klok Sondagoggend by sy ouerhuis in. Hy het mense oorgenooi. ‘n Paar ou skoolvriende van wie drie gades het en twee kollegas wat saam met hom in Mpumalanga gewerk het en nou in Pretoria woon. En vir Boet en skoonsus Lali, met hulle drie kinders.

Die eiendomsagent wat die huis wil verkoop, Dorita de Villiers het vanoggend vroeg hier aangemeld om iets uit te klaar oor die huis se verkoop en toe vasgehaak.

Dit pla hom nie, want sy het dadelik aangebied het om vir hom die pap en sous en slaai te maak. En sy is nogal gesellig, aangenaam en vriendelik.

Hy het ‘n huis vol mense.

“Wanneer laas het julle vir Isa gesien?” hoor hy hoe sy skoolvriend Johan vir een van die ander manne vra.

“Ongeveer tien jaar terug met een van ons skoolreünies,” kom die antwoord en daarna ‘n vraag. “Hoekom was jy nie daar nie?”

“Ag, dit was presies in die stadium toe my en die ex se moeilikheid begin het. Ek was nie lus om gesig te wys nie. Intussen het ek agtergekom ek is nie die enigste held wat geval het nie. Daar staan Rudi. En ek hoor Isa se speurder ex het met so jongetjie weggeloop.”

“Hoekom is Isa nie hier nie, Rudi?” vra Boet. “Jy het Saterdag op pad terug van die lughawe gesê jy gaan haar saam met die ou skoolvriende nooi.”

“Ek wou haar vra, maar sy is saam met haar kinders weg vir die naweek,” antwoord hy ongeërg.

“Ek het op Facebook gesien hulle het gaan kyk na ‘n venue in Waterval Boven omgewing,” vertel Lali.

“Hoekom daar?” wil Johan verbaas weet. “Ek kan nie verstaan hoekom die jong mense deesdae op sulke plekke trou dat dit onmoontlik is vir gaste om dit by te woon nie.”

“Haar gewese man en die aanstaande bruidegom se mense bly in Lydenburg.”

“Rudi en het jy en Isa al bietjie gesels sedert jy terug is?” steek Johan sy voelers uit.

“Ja natuurlik. Ons is bure, jy weet.” Rudi ruk homself vererg op. Hier gebeur dit nou net. ‘n Stilte in die vriende en familiekring wat beteken dat almal lang sinne tussen die reëls lees. Daarna maak hulle ernstige verkeerde afleidings.

Hy staan op en gaan steek die braaivleisvuur aan.

“Net bure?” wil Johan weet. Hy is minder subtiel as die ander. “Ek glo dat die vlammetjie van lank gelede weer ‘n vuurtjie kan word.”

“Beslis nie. Ek sê mos, ons is net goeie bure!” Daar verbrand hy homself met die blerrie vuurhoutjie. Hy gryp sy koue bierbottel en hou die vinger daarteen. “Vervlaks.”

“Vervlaks wat? Het jy jou vinger in die vlammetjie gaan staan en brand?” vra sy skoonsussie liefies. “Moet ek vir jou ‘n ysie bring?”

“Nee wat, ek byt die vinger sommer af voor dit te erg seer raak. Waar is jou wynglas? Het jy nog iets om jouself in te verdrink, Lali?” vra hy kastig vreeslik besorg.

“Boet het vir my volgemaak, dankie swaer.” Sy lag asof iets veel snaakser is as sy grappie oor verdrink en hy vererg hom so dat klein vonkies voor sy oë begin spat. Vonkies wat nie uit die vuur kom nie.

Maar Lali en Boet is spanmaats en nou kry hy dit van sy broer: “Ag ek het maar onderneem om die skinkwerk op my te neem, net vir ingeval die gasheer vasgenael na ons buurvrou staar en vergeet waar hy is en waarmee hy besig is.”

“Hoe so? Sy is nie eens hier nie.”

“Dankie tog. Anders het ons dalk ‘n herhaling van nou die aand in die Spur beleef, toe jy wyn op my vrou se skoot geskink het omdat jou oë op ‘n ander tafel was.”

“Ek was ingedagte. Sommer in die niet gekyk.”

“En die niet se naam is … Isabel Krynauw!”

Rudi voel hoe ‘n warmte in sy nek ontstaan.

Skoolvriend Johan karring ook: “Beplan jy nie om haar weer te sien noudat jy terug is in die land nie? Want as jy nie wil nie, gaan ek.”

Daardie woorde steek soos ‘n kaktusdoringkie met weerhakies in ‘n gevoelige senuweepunt.

“Ek het geen planne om weer met haar uit te gaan nie.” Hy sál die onderwerp verander en sommer onder die nuuskierige oë uit padgee. “Ek gaan net gou kyk of die pap op die stoof nog reg is. Kan ek vir iemand iets uit die kombuis saambring?”

Dorita tou agter hom aan. Terwyl hy die pap roer, lig sy die souspot se deksel en ruik aan die inhoud. Sy staan teenaan hom. Hy sit die vurk neer en sien dat sy in sy gesig opkyk en wag vir iets om te gebeur.

Wat moet gebeur? Wag sy dat hy haar moet soen?

Darem seker nie. Hulle ken mekaar nog skaars.

“Ons kan seker nou maar die vleis op die kole gaan sit.” Rudi staan twee drie tree weg en beduie vir Dorita om vooruit te stap. By die kombuis uit. Stoep toe.

Teleurgesteld draai sy om en Rudi kyk haar ‘n oomblik peinsend agterna, voordat hy volg. Dorita is mooi. Sexy geoefende lyfie. Enige man sal twee keer kyk na so vrou en hy is beslis nie ‘n uitsondering nie. Maar eintlik verkies hy dit om die voortou te neem waar dit kom by hofmakery.

Boonop is sy in hierdie stadium sy huisagent. Hulle sal ‘n professionele werksverhouding moet handhaaf totdat die huis se verkoop afgehandel is.

Al slaan Dorita in hierdie stadium nog nie sy voete onder hom uit nie, kan hy nie die moontlikheid uitskakel dat dit een of ander tyd dalk kan gebeur nie. Nie dat hy verwag om ooit in sy lewe weer pens-en-pootjies vir iemand te val nie.

Isa was die uitsondering en die rede daarvoor was waarskynlik sy jeugdige ouderdom.

“Wat gaan julle met die huis doen, noudat albei julle ouers weggeval het?” wil iemand weet toe hulle op die stoep uitstap en Rudi die rooster op die kole sit om skoon te brand.

“Dis in die mark.” Hierdie deel van die gesprek val in Dorita se kraal en sy neem oor. “Ek is op die oomblik alleenagent. Daar was al heelwat belangstelling, maar niemand het nog met ‘n konkrete aanbod gekom nie. Oor twee weke wil ek die huis skou. Ek gaan die Welthagens hard laat werk om die plek reg te ruk.”

“Al het ons besluit om te verkoop, raak ek nogal hartseer as ek daaraan dink dat ons kuiers op hierdie stoep min raak. Soveel mooi herinnerings hier.” Boet lyk aangedaan en Rudi sit sy regterarm om sy skouer, soos in die ou dae.

“Ons het nie ‘n ouerhuis nodig om ‘n hegte familie te wees nie. Van nou af gaan ons weer baie kuier. Ek het julle erg gemis daar in die verte.”

“En ons vir jou.” Lali kom nader met die bak vleis. “Intussen sal ons maar soveel kuiers as moontlik inpas totdat die huis ‘n nuwe eienaar kry. Jy sal ons maar moet verdra, Rudi!”

“Dis lekker om almal hier te hê.” Rudi pak die vleis op die rooster.

“Alet sê sy gaan vir Isa ook nooi om Saterdagaand hier te kom eet. Hulle is mos groot vriendinne …”

“Nee!” keer Rudi en die rooster ruk onder sy hand.

“Wat nou? Het jy jou sowaar weer gebrand?” vra Lali besorg.

“Ons moenie vir Isa te veel by ons familiesake betrek nie. Ons het volgende naweek baie om te bespreek. Dit gaan haar eindeloos verveel,” beduie hy en klap die rooster toe.

“Ons gaan seker nie nét familiesake bespreek nie. Mens moet eet ook.” Boet gluur hom aan en sy volgende woorde klink soos ‘n ultimatum. “Saterdagaand kuier ons familie rondom jou beroemde potjie, Rudi. En Isa kuier saam.”

“Dis nie billik om te verwag dat sy moet tyd afstaan aan ons familiekuier nie. Sy het haar hande vol met haar kinders se troureëllings.” Rudi weet hy is besig om die rondte te verloor, maar hy is magteloos om die bordjies te verhang.

“Net soos wat ons nie vier en twintig uur lank familiesake kan bespreek nie, moet mens aanvaar dat sy nie heeldag troureëllings met haar kinders wil praat nie. Ons gedenk liewer die goeie ou dae en ons wildtuinvakansies saam met die Bothas.”

“Hou ons wildtuinvakansies uit hierdie gesprek! Dis omdat julle so sentimenteel vasklou aan die verlede dat mens nie kan aanbeweeg nie,” vlieg hy sy broer in.

“Boet, los vir Rudi uit. Kan jy nie sien Isa is vir hom ‘n teerpunt nie?” Lali sit die leë bak neer en kruip onder haar man se arm in.

“Dit is nie meer ‘n teer punt nie. Vervlaks, ons het uitmekaargedryf soos honderde paartjies voor en na ons en ons het aanbeweeg. Sulke dinge gebeur.”

“Dan sal dit beter wees as ek ook Saterdag oorkom. Om haar uit jou hare hou, as sý dalk nog idees het,” bied Johan boetvaardig aan. “Ek sal haar vra om saam met my te gaan koffie drink.”

“Wat bedoel jy met koffie drink?” Amper laat val Rudi sy bottel bier. “Wil jy by haar aanlê?”

“Ja, ek oorweeg dit sterk. Hoekom klink jy so verbaas? Of dink jy sy gaan vir my nee sê?”

“Ek dink niks. Doen wat jy wil. Maar as jy enige bybedoelings met haar het, sal jy met my te doen kry.”

“Miskien sal sy Johan se bybedoelings geniet,” lag een van die ander manne.

“As jy met haar mors, ryg ek jou oorskulpe agter jou kop aanmekaar met ‘n vislyn.” Rudi lag nie saam nie. Nie omdat hy dink dat daar vir hom en Isabel ‘n toekoms is nie, maar omdat elke vrou te kosbaar is om ‘n man se speelding te wees.

“Aha! Dan is daar gevoelens,” som Johan die situasie verkeerdelik op.

“Hallo, wie is hierdie Isa van wie julle praat?” wil Dorita weet. “Ek dink dis blerrie ongeskik van julle om so van ‘n ander vrou voor Rudi se date te praat.”

“Rudi se date?” Johan kyk verward rond. “Sorry, ek het nie geweet hy het ‘n date genooi nie. Wie is dit?”

“Ek!” Dorita lyk vreeslik seergemaak en amper brand Rudi homself weer. Die keer nie net met die kole of vuurwarm rooster nie, maar met ‘n vrou. Waar kom sy daaraan? Sy het haar vanoggend self ongenooid hier kom aanmeld en sy kombuis oorgeneem.

Nou maak sy aanstaltes om hom ook oor te neem.

“Gits, ek dog jy is net die eiendomsagent,” stamel Johan. “Ek bedoel … Besigheid. Sorry.”

“Verskoning aanvaar. Maar nou is ek nuuskierig. Wie is hierdie wondervrou waaroor julle net nie uitgepraat kan raak nie.”

“Isabel Botha, die bure se dogter. Sy is deesdae Isa Krynauw en sy bly na al die jare weer hier langsaan in haar ouerhuis.” Boet beduie oor die huis se dak. “Ons het ons altyd vergaap aan haar mooi lyfie en bene wanneer ons daar gaan swem het. Sy was die enigste kind en hulle het die enigste swembad in die straat gehad.”

“Wat? Praat julle van die vetsak met die uitgerafelde poniestert wat so verspotte klein silwer Peugeotjie ry? Julle maak seker ‘n grap.” Dorita skud haar kop in ongeloof en toe bars sy uit van die lag.

“Nee,” trap Lali haar vas. “Jy praat nie so van Isa nie!”

“Dan is dit sy?” Dorita sukkel duidelik om dit te aanvaar. “Hoekom sou ‘n oulike man soos Rudi, in ‘n slonskous soos daardie belangstel?”

Daar volg ‘n geskokte stilte voordat Lali met ‘n ysige stem uit die hoogte verklaar: “Sy is nie ‘n slonskous nie. Sy is natuurlik.”

“Isa is glad nie so groot soos wat jy dit maak nie. Nie alle vrouens leef op blaarslaai en koue water nie. En party van ons moet werk vir ons geld en het nie tyd om in die gym rond te hang nie,” vlieg een van die ander vrouens Dorita in. ‘n Ware vrou met kurwes.

“Ek doen eenmaal ‘n week kleiwerk saam met haar. Sy het die mooiste persoonlikheid en is baie talentvol.” Die vrouens staan saam teen Dorita.

“Dan het jy seker gesien hoe ‘n pragtige gladde vel sy het, Lina,” praat Lali met haar.

“Ek het! Is sy baie jonger as ek?”

“Sy is net ‘n jaar jonger as Rudi. En jy Dorita? Jy is seker nie meer as vyf jaar ouer as Rudi nie,” vra Lali met die onskuld van ‘n sesjarige.

Of miaau sy soos ‘n nare straatkat? Rudi is dik van die lag oor die erns waarmee die meisies vir mekaar naels wys.

“Ek is vier jaar jonger as Rudi!” Dorita bly skielik stil. Sy het reguit in Lali se strik getrap.

“Mens sou dit nooit sê nie,” merk sy skoonsus op.

“Toevallig hou ek niks van geraamtes nie. ‘n Voller vrou het net soveel meer om lief te hê,” besluit een van die ander manne. Hy moet waarskynlik, want sy vrou daar langs hom is hoogrooi van ontsteltenis oor die wending wat die gesprek neem. “As ek my liefling uitneem vir ‘n steak en sy verkies om te pik aan ‘n bak slaaiblare, bederf ek haar nooit weer nie.”

“Ek stem saam. My vrou het ‘n wonderlike persoonlikheid en daarby hou sy van kook.” Vriend Peet sit sy arm beskermend rondom sy volronde vroutjie.

“H’m en ek sien sommer hoe julle tweetjies daarvan hou om saam te eet ook,” kry Dorita ook ‘n hou in en Rudi trek asem is. Binnekort gaan iemand sterk genoeg oor die saak voel dat die hare hier op sy stoep gaan waai.

Of hulle gaan haar van die stoep af boender.

“Ek is tevrede met my vroutjie net soos sy is,” verklaar Peet met ’n stem wat soos ‘n Suidpool windjie klink.

“‘n Tevrede man! Wat meer kan ‘n vrou vra?” probeer Boet om die spanning verbreek en om die onderwerp te verander. “Lali het ‘n heerlike gebakte sjokolade poeding gebring. Enigiemand al reg vir nagereg?”

As die nagereg naby was, het iemand hom seker daarmee gegooi.

“Nie vir my nie dankie. Ek bly weg van soetgoed af.” Daarna daag Dorita vir Peet en elke mens daar op die stoep uit. “Jy vra wat méér kan ‘n vrou verlang as om ’n tevrede man te hê? Ek sal vir jou sê wat. Om in ‘n sexy swembroek te pas. ‘n Bikini.”

“Nee wat, op my ouderdom doen ek nie meer die bikini of swemklere ding nie,” erken Lali, toe niemand anders reageer nie.

“Wie wil in ‘n swembroek pas, as ek en sy ons eie privaat borrelbad op die stoep het?” Boet kyk betekenisvol na haar, voordat hulle uitbars van die lag asof hulle ‘n baie diep geheim deel.

Dit laat Rudi met nuwe oë na sy broer en skoonsus kyk. Vir die eerste keer besef hy hoe ‘n mooi verhouding hulle het. Hulle verstaan mekaar. Aanvaar mekaar vir wie hulle is en kyk verby die foute na iets baie diepers as wat hy ooit ervaar het.

Lali is steeds pragtig, maar mens kan sien dat haar lyfie drie kinders gedra het. Noudat Rudi terugdink besef hy dat sy sedert baba nommer twee nog nooit weer regtig skraal was nie. En oor die jare het nog meer kilo’s gekom om te bly.

Boet sit self met ‘n magie en boonop was skeer nie op sy Sondagoggend-roetine nie. Sy kennebak is ‘n sout en peper simfonie. Nie dat dit enigiemand anders behalwe Dorita sal pla nie. Miskien moet hy dringend in ‘n spieël gaan kyk wat aan hom uit plek is. Dalk het hy vergeet om hare te kam. Dit kan duidelik teen hom tel.

Een vir een kyk hy sy vriende deur. Hulle is ook maar almal net gewone mense, met ‘gebreke’. Dorita is die enigste perfekte een, al is dit met die hulp van verskeie lae grimering. Haar hare is in ‘n netjiese snit. Nie ‘n enkele een uit plek nie. Sy is gering, gehalsnoer, ge-armband en die oorbelle pas by alles. Skoene dieselfde skakering rooi as haar langbroek.

Perfek.

Maar rondom haar mond is daar gedurig in ‘n onbewaakte oomblik ‘n trek van diepe onvergenoegdheid.

Durf hy daaruit aflei dat sy getroude vriende gelukkiger en rustiger as die enkellopers is?

 

Jy kan Isa se uitdaging as eboek bestel by liefdesverhalenmeer@gmail.com vir R20.00 Of jy kan dit op Amazon as eboek koop. Volg die skakel.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.