Kat, ‘n liefdesverhaal – Adele Reynders

Katliefdesverhaal

Kat, ‘n liefdesverhaal – Adele Reynders oorspronklik geskryf onder skuilnaam Adriaan Pieterse vir Renza Publikasies se Afrikaanse skrywers Omnibus 6

 

Arno Senekal het nog nooit in sy lewe ‘n troeteldier gehad nie. Hy is ook nie in die mark om weer vrou te vat nie. Maar ‘n ietsie bietsie tienie winie minie kat seuntjie maak meer emosies in hom wakker as wat hy gedink het hy in staat is om te voel.
Hoofstuk 1

Arno Senekal moet mooi kyk wat die klein donker gedoentetjie is wat agter Stewart aankom. Raaiskoot? Dit is ‘n radio-beheerde speelgoeddingetjie op wiele wat voortrol en elke keer lomp agter teen die skoen se hak bots wanneer die kind vassteek. Daar is selfs ‘n regop antennatjie om goeie radio-ontvangs te verseker.

Maar wanneer die antennatjie sak na nog ‘n botsing met ‘n skoen, besef hy dat dit die een of ander klein diertjie se stert verteenwoordig. Op daardie oomblik begin die leerlinge om ‘n kring rondom Stewart en sy agtervolger te vorm. Wat dit ook al is, die kinders vind dit hoogs vermaaklik en Arno stap nader om sy eie nuuskierigheid te gaan bevredig.

“‘n Katjie,” verduidelik een van die dogters en maak oop om hom in die kring van die spotters toe te laat. “Maar Meneer, hy is ‘n sorry ekskuus vir ‘n klein wolletjie.”

Bang dat iemand op hom of haar gaan trap, tel Stewart die kat op. So klein, dit pas in die holte van die groot seun se linkerhand.

“Ek het hom op pad skool toe by die dumping site hier naby gekry, Meneer. Hy en sy family was in ‘n boks. Maar die ma en die ander kleintjies was klaar dood,” verduidelik Stewart. “Hierdie kêrel het so keel opgesit, ek kon hom nie los nie. Iemand moet hom vat en gaan kos gee.”

“Kêrel?” Arno haal die kleinding versigtig uit Stewart se hand en draai hom om. “Is jy seker dit is ‘n mannetjie?”

“Meneer, dit is ‘n hý. Hierdie is ‘n lid met ‘n lat,” verseker Stewart hom. Die kinders bars uit van die lag en kleintjie krimp ineen. Siestog, hy is nie net ‘n kat met ‘n lat nie, hy is ‘n sensitiewe lid van die samelewing. Sy lewe moes op ‘n ashoop eindig, maar hy het terug geveg. Hy is piepklein en honger … en nou lag sy nuwe vertrouelinge hom uit.

En daarvoor het hy net een antwoord. Hy krap die hand wat hom vashou. Bloed spat.

“Toemaar ouboet, jy is baie oulik en dapper.” Amper smyt Arno hom dat hy daar trek. Maar hy vat hom stewig om die dun middeltjie vas en draai die pote anderkant toe. Laat hy maar vir die wind en niks voor hom mik.

Daar is amper niks lyf nie, net gekoekte haartjies. En vlooie!

“Meneer moet hom asseblief huis toe vat en mooi gaan grootmaak.” Stewart se swart oë word sag, terwyl trane in die hoekies opwel. Groot en oud vir graad tien. Maar swaarkry het hom sag gemaak, in plaas van wreed. “Dit moes vreeslik gewees het om sy hele gesin rondom hom te sien doodgaan.”

Die kinders raak stil. Arno ook. Hoeveel emosie en geestespyn kan ‘n babakat ervaar? Waarskynlik geen, as jy hom vra. Maar klein katjies ervaar sekerlik ook fisiese ongemak, hongerte en het ‘n behoefte aan warmte en koestering.

En dit is wat Kat nou nodig het. Noudat sy ma nie meer is nie, moet ‘n méns instaan en daardie rol probeer vevul.

Maar daardie mens is nie hý wat Arno Senekal is nie. “Nee sorry ou Stewart, jy het hom gekry. Gaan sorg vir hom.”

“Onmoontlik Meneer. My pa is ‘n sekuriteitswag en sy Alsation slaap elke aand in die kombuis. Simson is net ‘n snack vir hom. Asseblief Meneer!”

“Wie anders wil ‘n katjie versorg?” vra Arno hoopvol en hou die kat soos ‘n trofee in die lug.

Hy is ‘tussen huise’, pas geskei. Selfs al was hy en die ex nog bymekaar was kat huis toe neem nie ‘n opsie nie. Sy ex háát diere.

In die twintig jaar wat hulle getroud was, het hulle nie eens ‘n goudvis in ‘n bak aangehou nie. Selfs toe hulle ‘n gerieflike huis in ‘n doodgewone woonbuurt gekoop en afbetaal het.

Daar was ook nooit kinders nie. Miskien eendag, het sy beloof. Totdat dit te laat was…

Waarna die bom in hulle huwelik finaal gebars het. Onderwysers is volgens haar uitgegroeide middeljarige kinders. Dis die spesie waaraan Arno behoort. En ai, sy hou net so min van kinders as troeteldiere het sy uiteindelik met die sak patats vorendag gekom.

Elke jaar van hulle samesyn het sy blykbaar minder van hom gehou, totdat daar uiteindelik geen gevoel meer oorgebly het nie.

Miskien het die volwasse senior vennoot in die prokureursfirma waar sy werk, haar gehelp dat haar oë finaal oopgegaan het. Die gawe ou het ook gehelp dat sy hulle huis behou het en die beter kar.

Die afgelope ses maande woon Arno by sy sus en swaer en leef uit bokse, terwyl hy dreig om blyplek te soek. En al hou Swaer en Sus dalk meer van hom as wat sy ex van hom hou, is geen kat op die werf welkom nie, daarvan maak hulle Jack Russells seker.

Arno oorweeg die opsies: Hy kan seker uiteindelik sy soektog na ‘n woonplek met nuwe ywer aanpak en die kat aanneem. Maar op ‘n onderwyser se salaris kan mens nie juis kies en keur waar jy woon nie. En ‘n troeteldiervriendelike huurplek bestaan nie eintlik nie. Dit het hy al dikwels by desperate kollegas en vriende met pelskinders gehoor.

“As Meneer hom nie vat nie, wag daar ‘n miserabele lewe op hom. Dan moet ons hom liewer in ‘n sak sit en gaan verdrink.”

Dit skok Arno uit sy gedagtes terug. “Nee Sipho. Wie doen so iets?”

“Dis wat my pa se broermense op die plaas doen. Katte is pesdiere daar.”

“Moordenaar. Jou oom is ‘n moordenaar,” begin Saartjie en ‘n koor van histeriese uitroepe volg. “Ons sit jóú sommer in ‘n sak, met baie klippe in en sink jou.”

Vir ‘n tranedal op die speelgrond het Arno beslis nie vandag krag nie.

“Meneer asseblief, Simson is nog so klein,” roer ‘n ander dogter ‘n baie netelige en direkte probleem aan. “As hy nie nou melk kry nie, gaan hy buitendien dood wees voor die skool vanmiddag uitkom. Hy is aan meneer se genade oorgelaat.”

Meneer se genade? Die dingetjie veg vir homself ‘n pad uit ‘n boks oop en nou is die kans besonder goed dat hy weens mense se gebrek aan omgee van die honger gaan omkom.

En een van daardie mense is hý wat Arno Senekal is!

“Daar is ‘n veearts straat-op,” slaan Saartjie die yster terwyl hy nog warm is. Daardie yster brand waar dit saak maak.

Net toe lui die skoolklok. ‘n Skooldag begin.

“Meneer, hulle verkoop melk en botteltjies daar.”

Verkoop … Dit kos geld, iets waarin Arno nie juis swem nie!

Die katgedoente het hom voorwaar in ‘n dilemma. Binne twee sekondes gaan daar vyf en twintig besige graad tien seuns by sy houtwerklokaal instap. Hy durf hulle nie sonder toesig daar loslaat nie. Maar dit voel regtig asof die dingetjie reeds aan die ontwater is. Selfs sy stemmetjie klink flouer as vyf minute gelede. Die kleur van sy pienk neusie is ook bleker.  Of verbeel hy hom dit alles?

“Goed, laat ek gou die katjie veearts toe neem.” Veeartse het kontakte. Soos goeie huise vir opteldiere.

“Simson!” Koor die kinders. “Sy naam is Simson Senekal.”

“Simson. Maar oor die Senekal sal ons nog moet besluit. Maar hoekom Simson? Die dingetjie is so klein.”

“Meneer, as jy deurgemaak het wat hierdie kat deur is en jou hele family lê dood op die slagveld rondom jou en jy wil nog steeds leef, het jy Simson se inner strength. Simson van die Bybel het pilare omgetrek nadat sy oë uitgesteek is.”

“‘n Baie wyse vergelyking, Stewart. Boonop aangehaal uit die Bybel. Jy is vandag klaskaptein. Een klagte van die hoof terwyl ek weg is en ek vat die kat persoonlik terug na sy boks op die dumping site en los hom daar. Verstaan ons mekaar?”

‘n Kort geskokte stilte en toe praat almal gelyk: “Meneer, ons promise! Ons gaan design en ons sal niks van die masjiene aansit nie. En ons sal vir Stewart luister asof hy die pastoor is.”

“Julle ontwerp op die agterkant van die gebruikte A4papier. Niemand skeur van die rol af nie. Julle raak nie aan gereedskap nie.”

“Niks raak nie. Veral nie die lektriek stuff nie,” beloof Try Once, die klas se voorbok en groot poetsbakker, wie se vinger al in die slag gebly het. Sy gesig wys hy bedoel elke woord wat hy sê en na ‘n kyk wat vrees en bewende broeke moet veroorsaak, glip Arno met die kat voor in sy hemp by die deur uit.

Ten minste is hy rustig daar.
Hoofstuk 2

Arno is nie die soort man wat hom aan mooi vroue vergaap nie. Maar as sy sag en meelewend is en boonop die mooiste paar blou oë het, sal dit hom moontlik twee keer laat kyk.

Maar dit is al. Hy het mos ‘n hele paar keer by die ex gehoor dat hy nie troumateriaal is nie.

Die ontvangsdame by die veearts ruik boonop heerlik vars na iets watvroumense in badwater gooi. As Kat nie onverwags rusteloos in sy hemp geroer het nie, sou hy seker net daar bly staan het.

“Goeiemôre,” kry hy darem uit, voordat hy sy naam verder met ‘n plank platslaan. En toe haal hy die kat voor by sy hemp uit.

“Aha! Jy het vir ons ‘n pasiënt gebring.” Mooi stem vol glimlag.

“Jip. Hy is klein en honger. ‘n Leerling by die skool het met hom daar aangekom.”

“Die skool ‘n blok van hier af?”

“Ja, ek is onderwyser daar. Ek het vinnig weggeglip. Daar wag boonop ‘n klas op my …”

“Dan is jy seker haastig. Wag hier, ek is nou terug.” Hy hoor hoe sy iemand oorreed om Simson eerste te sien.

‘n Bekende gesig wat saam met haar terugkom.  Dokter Leon Venter wat tot in graad nege in sy houtwerkklas was. Al is dit nou meer as tien jaar gelede, lyk die jong man aangenaam verras om te sien dat dit hy is.

“Meneer Senekal, is dit jou katjie?” Hy vat die diertjie en kyk hom deur, van sy swart en wit gesiggie, sy potblou ogies, maer ribbekassie, opgeblaasde magie en sy spierwit toontjies.

“Nee, dit is ‘n opteldingetjie wat een van die kinders daar aangebring het.”

“Die kat is nog nie eens drie weke oud nie,” lig die jong veeartsie hom in. “Hy is honger en koud. Hy moet dadelik weer by sy ma gesit word.”

“Dis die slegte ding. Sy ma en die res van sy gesin is dood. Stewart het hom in ‘n boks by die stortingsterrein gekry.”

“Ag nee, hoeveel nog?” roep die ontvangsdame ontsteld uit. “Dit is erg dat mense dink die ashoop is die plek vir babadiertjies om vanself dood te gaan. Dankie tog vir Samaritane soos jy wat bereid is om so enetjie ‘n kans op nuwe lewe te gee. Onthou dat Leon en Anelda deesdae die knip-knip-operasie gratis doen vir mense wat ‘n lewe red..”

Leon belowe. “Op vyf maande doen ons dit vir Meneer se kat ook. Intussen moet ons vir Kieta melkpoeier en een van daardie botteltjies skenk wat die verteenwoordigers hier afgelaai het. Hy moet minstens elke drie ure so ongeveer twintig mil drink. Sien Ma kans om hom gou te bad? Hy is ‘n vlooines. Die pestelike goed sal hom leegsuip.”

Ma? Dan is die mooie mens die dokter se ma.

“Ek sal. En meneer Senekal, gooi asseblief van hierdie poeier voor by jou hemp in. Dit sal keer dat jy ook ‘n taxi word.” Sy trek Arno se hemp weg en gee drie skudde uit ‘n bottel, waarna sy uitbars van die lag. “Dit ruik nie sleg nie. Jy hoef nie so weg te deins nie.”

Het hy weggedeins? Heel waarskynlik. Wanneer laas het ‘n vrou aan sy hemp getrek, terwyl dit nog aan sy lyf sit? Hy kan nie eens onthou nie.

Miskien sy ma terwyl hy nog op laerskool was, omdat hy sy knope skeef vasgemaak het. Beslis nie ‘n mooi vrou van sy eie ouderdom nie. En verseker nie die afgelope twintig jaar nie. Maar noudat sy dit doen, gebeur daar goeters met sy lyf waarteen hy die matriekseuns waarsku!

Dink liewer aan die realiteit en dilemma van die oomblik. Daar gaan kostes wees. Sy bakkie se brandstof is onder die halfpad-merk. En sy maandelikse begroting ook. Maar hy doen niks om enigiets te keer nie. Hy staan net daar met hande langs sy sye, oë vasgenael op die vrou terwyl sy ‘n wasbak tap en daarna hoogs behendig die katjie tussen skuimbolle indruk. Sy het verniet handskoene aangetrek, Simson is so verskrik en waarskynlik honger, hy krap nie eens nie. Snak net na asem en keer met wydoop voetjies want die hande wat skrop doen dit deeglik.

“Jou oulike, soete dingetjie,” prys sy hom. “Hy is vreeslik dors. Kyk hoe probeer hy om sy badwater te drink.”

Daarna vou sy hom in ‘n waslap toe en prop hom in Arno se hande.

“Maak droog, ek gaan vir hom ‘n bottel haal…” Sy stap gang af.

Darem nie vir te lank nie. Sy kom terug met ‘n dimunitiewe tietiebottel wat sy in kleinman se bekkie druk. Hy drink so woes dat die bottel skoon singgeluide maak. Arno probeer om die tietie uit sy bek te haal, sodat dit kan lug skep. Vergeefs, hy byt vas en steun en krap sy misnoëe uit op die gemene hand wat dit waag om so aksie uit te voer.

“Hey, dis die tweede een wat jy my gee,” raas Arno.

En toe Simson uiteindelik self sy bottel los, hik hy soos ‘n babatjie wat te gulsig gesluk het.

Mooi vrou lag vir die spektakel, maar dan kyk sy na die twee hale op Arno se hand.

“Laat ek dit gou ontsmet.” En daar kruip sy, saam met die kat heeltemal ongevraagd in Arno se hart in. Hy verkyk hom aan die vrou met die lieflike oë wat sy stukkende plekke met soveel deernis versorg.

Amper mis hy sý ma, wat lankal nie meer is nie!

“Ma beter vir meneer Senekal ‘n hele paar ekstra tieties gee, want dié kleintjie gaan hulle kou,” lewer Leon kommentaar van die deur af, voordat hy met ‘n boerboel en dié se nooi by ‘n ondersoekkamer instap.

Dan hét hy die eerste keer reg gehoor. Sy is Leon se ma. Steeds weduwee Venter, of intussen weer getroud? wonder hy. Leon was nog op skool toe die seun se veearts-pa onder die voete en horings van ‘n Brahmaan deurgeloop het. Hy het die kind se ma nooit persoonlik ontmoet nie, maar het spesiaal tyd gemaak vir Leon wanneer hy te lank eenkant en alleen op die paviljoen gesit en tob het.

“Mevrou Venter of intussen weer getroud?” skraap hy die moed bymekaar om te vra.

“Nog steeds net mevrou Venter. Ek help so drie dae ‘n week hier by my seun en skoondogter se praktyk uit. Maar noem my asseblief Ilze.” Sy steek ‘n hand uit en hy dog sy wil amptelik kennis maak, maar toe haal sy al die tyd vir Simson ewe behendig uit sy waslap-handdoek en draai hom in ‘n blou babakombersie toe. Van iewers af haal sy ‘n skoenboks te voorskyn en dit word ‘n wiegie. Skaars land sy kop op die sponsmatrassie, of Simson se ogies val toe.

“Het meneer Senekal ‘n voornaam?” Daardie blou oë lag weer in syne.

En amper wíl sy stem nie. “Arno. My naam is Arno.”

“Aangename kennis, Arno. Leon sê dat jy vir Simson oor drie weke moet terugbring vir sy inspuitings.”

“Ek dink nie ek gaan vir Simson hou nie,” bieg hy. “As ek vir hom ‘n goeie huis hier naby kry, sal ek vir sy nuwe eienaar sê om hom in te bring, as julle nie omgee nie.”

“Natuurlik staan die aanbod. Dis net jammer dat jy nie kans sien om hom te  versorg nie. Hy het jou klaar as sy baas aanvaar. Om hom weg te gee sal nog ‘n tragiese terugslag in sy lewe wees,” vryf Ilze sout in die skraapmerke wat reeds sy vel teer maak.

“Dan moet ek hom so gou as moontlik laat gaan, voordat hy te geheg aan my raak en ek aan hom!” Arno sou dit graag met groter oortuiging wou sê. “Weet julle nie dalk van iemand wat ‘n babakatjie soek nie? Sekerlik is daar baie mense wat kom navraag doen?”

“Arno, ek is jammer om jou te moet sê, ons het twee hokke vol weeskatjies wat wag om huise te kry. Hoor jy nie die gemiaau hier langsaan nie? Almal kom laai weggooi- en optelkatte hier af. As hulle nie huise kry nie, kom haal die DBV hulle en jy weet seker wat dit beteken?”

“Ek verstaan.” Die lokaal raak te klein. Hy tel Simson met sy boksie op. Besigheid moet afgehandel word. Hier moet hy weg. “Wat skuld ek julle?”

“Kom ons gaan kyk. Leon het ‘n nota op die toonbank gelos.” Sy stap vooruit na die ontvangslokaal. En daar sien Arno vir die eerste keer die vele notas teen die sagtebord op die muur. Daar is foto’s van hondjies en katjies wat gratis weggegee word. Geen notas van mense wat katjies soek vir aanneming nie. Wat is Simson se kans om ‘n omgeehuis te kry? Nul. Hy is nie eens die heel mooiste van almal nie…

Hy is sommer net swart met ‘n wit kolletjie hier en daar.

Nee, iemand by die skool móét net bereid wees om vir hom ‘n liefdevolle huis te gee, anders is hy teen Saterdag net ‘n statistiek. Nog ‘n ongewenste diertjie wat vir ewig aan die slaap gemaak is, voordat hy kans gehad het om behoorlik wakker te word…

Arno hou sy beursie in sy hand en terwyl hy vir die rekening wag, trek ‘n ander advertensie sy aandag. Dié van ‘n kothuisie met privaaterf en toesluitmotorhuis op ‘n kleinhoewe drie kilometer van hier af. Die prys pas selfs sy sak. Maar hy is te skaam om die nommer in Ilze se teenwoordigheid neer te skryf, of om een van die skeurpapiertjies te neem. Netnou dink sy hy is een van daardie versukkelde kurkproppe wat rigtingloos ronddobber.

Ilze  druk op die plek waar Leon geskryf het en kyk glimlaggend op. “Dit kos niks! Leon sê jy was baie goed vir hom toe hy sy pa verloor het. Nou kan hy iets vir jou teruggee. Sorg net dat Simson elke drie ure ‘n bottel kry. En sy inspuitings oor drie weke. Leon gaan dit ook gratis doen.”

Sy draai die boek om, sodat Arno dit self kan lees.

“Baie dankie.” Hy sluk verby ‘n onverwagse knop in die keel.

Sy oë dwaal weer na die advertensie teen die muur. Stel jou voor, ‘n huis met ‘n grondjie teen daardie prys? Hy moet probeer om daardie nommer te onthou. Nul agt twee … Gaan nie help nie. Mens dink jy gaan onthou, dan waai dit by jou kop uit.

Sy kans kom onverwags.

“Ek kry vir jou nog ‘n blik melk.” Die volgende oomblik draf Ilze gang af. Arno spring om die toonbank en skeur die selnommer af. Net betyds, want toe hy weer sy staan kry, is Ilze terug met goedjies vir Simson. Twee blikke poeiermelk, katsjampoe, ‘n vlooibandjie met ‘n klokkie aan, twee bakkies, een vir water en een vir melk. En ‘n pak peperduur eerste babablokkies, vir wanneer hy reg is om sy tandjies daarin te slaan.

“En wanneer sal dit wees?” wonder Arno.

“Ag, jy kan dadelik begin. Gooi so handvol blokkies in een van die bakkies en hy sal self ondersoek instel en begin eet sodra hy reg is. Onthou net om vir hom vars water ook uit te sit. Katte drink nogal baie water.”

“Reg.” Lyk hy so onbeholpe as wat hy voel? Moet wees, want Ilze se volgende opmerking bevestig dit.

“Het jy en jou vrou nog nooit ‘n katjie of hondjie grootgemaak nie?”

“Nee …” Hy lag. “Ook nie babas nie.”

“Sal vroulief jou met die kat help? Dis nogal baie opstaan in die nag. Dis soos ‘n nuwe baba in die huis.”

“Ons is geskei …”

“Geen wonder jy sien nie kans vir kleinman nie. Miskien moet jy hom vir die ogggend by my los,” stel Ilze voor. Hulle trek al by die bakkie. Arno dra vir Simson en Ilze sy sak met aardse besittings. Nou dreig sy om die kleinding, met alles terug te dra. “Wat gaan jy die hele oggend met hom in die houtwerkklas doen? Jy kan hom vanaand kom haal, as jy hom teen daardie tyd nog wil hê.”

Hy oorweeg haar voorstel. Veral as dit kan veroorsaak dat hy háár weer gaan sien. Maar dan besef hy hoe kwesbaar dit hom maak. Hy het nie ‘n vrou in sy lewe nodig nie. Selfs nie eens om te help kat oppas nie.

“Nee, nie nodig nie. Die skoolkinders sal help kyk.” Hy maak die slapende Simson in sy boks, met sy blou skapies en wolkies kombersie, in die veiligheidsgordel vas en vat die ‘doekesak’ by Ilze. “Dankie vir julle vriendelikheid en vir al Simson se geskenke.”

“Dan gaan jy hom hou?” wil sy hoopvol weet.

“Wel, ten minste net eers teugneem skool toe sodat die kinders kan afskeid neem.”

“As daar probleme is, jy weet waar om ons te kry.”

“Dankie!”

Arno ry terug skool toe, met Ilze se beeld in die bakkie se truspieëltjie. En toe hy haar nie meer kan sien nie, is haar omgeegesiggie voor sy geestesoog en in sy onderbewussyn vasgebrand.

Sy hart verduidelik aan sy verstand dat ‘n mens iemand soos Ilze net eenmaal in ‘n leeftyd raakloop… Doen iets daaraan.

Iets soos wat?

Nooi haar vir koffie na skool. Waar kom daardie stem vandaan? Hy waai die gedagte met sy linkerhand weg. Nee, te intiem. Netnou dink sy hy wil iets meer as vriendskap aan die gang sit.

Koop vir haar blomme? Jy behoort darem dankie te sê. Blomme het natuurlik die probleem dat dit vroueharte sagmaak. En syne mis ‘n slag by die blote gedagte daaraan.

Gelukkig het hy ‘n wakker verstand wat dadelik inskop: Wat jy ook al doen, Senekal, sorg dat daar geen bybedoelings by is nie. Ilze is al vir tien jaar op haar eie. Geen man kon teen haar veearts kers vashou nie. Hoekom sal sy selfs ‘n tweede kyk in ‘n onnie se rigting gee?

Ons kan dit vandag op skrif sit, sy sal dit nie eens oorweeg om saam met Arno Senekal te gaan koffie drink nie, besluit hy.
Hoofstuk 3

Teen die tyd dat Arno by die skool indraai, besluit hy om nie die ‘wie sál vir Simson ‘n nuwe huis gee’ toespraak te maak nie.

Die voorreg en verantwoordelikheid om vir die kat te sorg het hóm te beurt geval. Miskien moet hy nou op ‘n later stadium in sy lewe uitvind hoekom mense diere as hulle beste vriende beskou. As kind het hy dit ook nie geken nie. Honde was nie prakties op die vierde verdieping waar hy en sus by hulle ouers in ‘n Sunnyside-woonstel gootgeword het nie.

En katte? Nee hulle was doer vêr. Ander mense se ergernisse wat in die opsigter se beddings en ma se potplante gemors het. Karakterlose, liefdelose en ongehoorsame wesens wat hulle alies aan jou afvee.

Maar een kyk in Simson se rigting en Arno weet, al luister sy nuwe katkind nooit in sy lewe vir hom nie. En al skeur hy sy gordyne en grawe sy nuwe groenteplantjies uit, sal hy sommer vir hulle albei se onthalwe liefde gee. Hierdie weerlose dingetjie met sy pienk neusie en wit sokkies het hóm nodig.

As hy hom wil behou, is daar ‘n paar struikelblokke om te oorkom… En die eerste daarvan is reeds vanaand. Die kans dat sy swaer en sus nie ‘n kat in hulle huis gaan toelaat nie, is besonder goed. Miskien moet hy maar sy slaapgoed gaan haal en vir ‘n paar aande op een van die werksbanke in die houtwerklokaal plak, totdat hy en die kat hulle eie huisie het.

Soos daardie kothuis op die kleinhoewe. Ás dit nog beskikbaar is. Maar teen daardie billike prys? Twyfelagtig.

Hy haal sy selfoon uit en skakel. ‘n Jong vrou antwoord. Wonder bo wonder is die plek nog beskikbaar. Sy het glo maar pas eers begin adverteer en Arno is die eerste persoon om te reageer.

“Ek het ‘n klein katjie,” waag hy dit. “Mag ek hom saambring?”

“Natuurlik. Maar op jou eie risiko. Hier is groot honde,” waarsku sy. “Hulle is gewoond aan diere. Maar jy sal jou katjie aan hulle moet voorstel en die situasie aanhoudend moniteer. Daar is ‘n toegespande tuintjie voor die kothuis, maar jy weet mos hoe is katte. Mens kan nie ‘n kat binne hou nie.”

Hy weet nie regtig hoe katte is nie. Hy moet haar maar glo. “Is daar bome?” wonder hy. Dit weet hy darem. Katte klim bome.

“Baie bome,” lag sy. “As jou kat rats genoeg is, sal hy baie wegkomkans hê. Wanneer wil jy kom kyk?”

“Saterdag …”

“Goed so. Jy het eerste gebel, daarom het jy eerste keuse.” Sy rammel ‘n adres af en Arno skryf dit op Simson se boksie. En toe knip die vrou die gesprek kort: “Verskoon my, my babaseuntjie huil. Sal jy die plek vind?”

“Jip, GPS. Dankie.” Arno lui af en klim met Simson uit.

Die klas is sowaar tjoepstil toe hy instap. Maar toe Stewart uit sy stoel glip om in die skoenboks te kom loer is almal by.

“Hy is gebad,” raas die seun, asof dit ‘n vorm van mishandeling was.

“Hulle moes. Hy was vol vlooie.” Arno sien weer voor sy geestesoog hoe die mooi vrou hom in die water dompel en sy hart doen snaakse dinge in sy borskas.

Sy was regtig baie gaaf met hom … Soos seker met elke ander kliënt wat daar instap.

“Het hy kos gekry? En ‘n inspuiting?” dring Stewart aan om te weet.

“‘n Hele tietiebottel vol melk. Maar hy is nog te klein vir ‘n inspuiting. Hy kry syne oor drie weke.” Eina, waar gaan Leon die naald indruk? Daar is nie plek op die lyfie nie.

“Mag ons hom optel?” Hande streel oor die kleine koppie.

“Hy slaap …” Arno klink vir homself soos die pa van ‘n pasgebore baba. En hy het altyd gedink die manne kan so simpel raak.

“Nie meer nie. Kyk sy ogies is oop en hy rek homself uit,” merk Sipho, ingenome met die toedrag van sake op.

“Issie rek nie. Hy druk …” verduidelik ‘n ander kind.

“Druk wat?” Praat die kinders Grieks? Of kom hulle en katte van ‘n ander planeet af, wonder Arno.

“Poep, Meneer. Tjorts. Dis wat so stink.” Sipho hou vir Simson en sy skapieskombers in die lug. Daar is ‘n blerts wat ten hemele pong.

Arno versteen. Wat nou?

“Meneer kan bly wees hy het vanself begin tjorts. As hulle nog so klein is, lek die ma’s die kleintjies se alies anders gebeur daar niks,” lig Stewart hom in. “En as daar met Simson vir ‘n paar dae niks gebeur het nie, sou meneer moes lek. Dis wat die kat se ma sou doen.”

“As sy maag nie gegaan het nie, sou hy opgeblaas en ontplof het,” vertel Sipho.

“Liewe ouers.”

Om Simson weer katwaardig te kry na sy glips, is soos doek omruil, vermoed Arno. Die kinders maak sy boudjies en lyfie skoon met toiletpapier en ‘n bietjie water. En net toe almal dink alles is verby, maak nog ‘n stink slappe sy verskyning. Dit moet sy metabolisme wees wat ingeskop het na die melk. En dit voel in elk geval so bietje soos ‘n ontploffing, behalwe dat die kat se maag en ingewande genadiglik nie skrapnel was nie.

Die klok lui vir langpouse en Saartjie en haar maatjies storm oomblikke later  by die houtwerklokaal in.

“Ons wil met Simson gaan stap.” Sy raap hom op. “Eauw, hy stink. Simpson moet sand kry vir ‘n toilet. En ‘n nuwe slaapboks of bed.”

“Ja.” Daaraan twyfel Arno nie vir ‘n oomblik nie.

“Ek het vir meneer ‘n katmandjie met ‘n deurtjie vir die kere wat mens met jou dier moet reis. My ma sê, net soos met kinders mag mens nie jou katte los vervoer in die kar nie. As jy ‘n ongeluk maak kry hulle seer. Of iemand los die kardeur of venster oop en die arme dingetjie hardloop weg.”

“Nou waar is die kat wie se mandjie dit was?” wil Arno weet. “Het hy weggehol voordat iemand hom in die mandjie kon sit?”

“Nee siestog, meneer. Hy is dood. Een of ander vreksel het vir ons katte gif ingegee. Die veearts hier naby kon darem vir Liefpop, ons dogtertjie deurhaal. Maar Liefding, die seuntjie het dit nie gemaak nie.”

Arno ly aan skok. Hy ly positief aan skok, by die aanhoor van alles wat die arme Simson dalk kan oorkom. Is hy regtig gereed vir die verantwoordelikheid van katpa wees?

“Het meneer groen seep? Ons wil gou sy kombersie gaan was.”

Saartjie ontdek die handskoonmaker en ‘n emmer in die algemene rigting waarheen Arno wys en daar trek hulle met Simson en sy enigste kombersie. Hy is nou toegedraai in die klas se skoonste vuil geel stoflap.

Dit voel nie reg nie. Hy sal laatmiddag by Pep-stores moet inglip om vir Simson nog ‘n kombers en ‘n kussing te koop.

Slaap kry Simson nie juis die res van die dag by die skool in nie. Na langpouse ontdek die meisiekinders die klokkiebandjie en sit dit om sy nek. Hy haat die geluid, trap skuins, val en probeer om dit met die skerp naeltjies aan sy voorpote los te haak.

“Gee kans, Meneer. Hy moet so ‘n bandjie van kleins af dra, anders gaan hy voëltjies vang. Katte raak gou gewoond aan klokkies om die nek,” merk Saartjie beterweterig op. “Ek dink ek moet hom die drie laaste periodes saam met my vat. Meneer se hart is te sag.”

“You got to be cruel to be kind,” skaar Zandile haar by haar vriendin.

Naskool moet Arno na hulle gaan soek, met Simson se botteltjie in sy hand. Vele gewillige hande help om dit vir hom te gee. Die skool is in rep en roer. Daar het beslis ‘n hele klomp van die kinders agtergebly wat geen naskoolse aktiwiteite het nie.

Dit is maklik om toesig te hou, want almal koek om Simson saam. Selfs die skelm rokers!

“Kyk Meneer, ek het vir Simson geleer om self sy eie bottel vas te hou,” spog Koos. “Meneer se kat is baie slim.”

“Nou toe nou!”
Hoofstuk 4

Net voor die winkels toemaak stap Arno met Simson by Pep in. Hy kies ‘n vrolike kombersie met karre op.

“Oulike katjie,” merk die vrou op wat agter hom in die betaalry staan. “As hulle so klein is, hou hulle daarvan om toegedraai te wees, maar hulle koppe en voorpote moet uitsteek.”

“Nie Simson nie. Hy wil heeltemal uitsteek en op my skouer sit. Veral as ons ry. Selfs al glo ek hy sien nog nie ‘n meter ver voor hom nie. Sy ogies is skaars oop.”

Met ‘n swaar gemoed hou hy later voor sy suster se huis stil, klim uit en stap in. Vir eers sonder Simson.

“En as jou skouers so hang? Jy lyk soos ‘n skoolkind wat ‘n lelike brief van die skoolhoof af saambring vir ‘n kwaai pa.” Sus ken hom nie van gister af nie. Sy is in die kombuis en die uie wat sy braai ruik heerlik.

“Daar is ‘n probleem … nee, ‘n situasie. Ek het ‘n kat in die bakkie. Moet ons liewer van vanaand af by die skool gaan slaap totdat ek vir ons ‘n ander blyplek gekry het?”

“‘n Kat? ‘n Meisie?” Amper laat val sy die spaan waarmee sy roer.

“‘n Kat, sus. ‘n Seuntjiekat met ‘n harige swart pelsie en sy naam is Simson.”

“Nee! Mannetjieskatte merk alles in die huis en piepie teen al die meubels.” Haar kop gaan heen-en-weer. “En wat van die Jack Russels?”

“Simson is nog ‘n babatjie. Hy sal niks aan die honde doen nie.”

Sy lag darem vir sy poging om ‘n grap te maak. “Nee Boet, ek is bang oor wat hulle aan hom gaan doen.”

“Miskien moet ek en hy maar vir die volgende ruk by die skool gaan slaap. Ek gaan Saterdag kyk na ‘n ander blyplek. ‘n Kothuis op ‘n kleinhoewe. As alles reg verloop, trek ek einde van die maand in.”

“Jy hoef nie. Dis lekker met jou hier.” Sy loer deur se kant toe. “Dis net die kat. Ek weet nie so mooi van hom nie. Wil jy hom hou?”

“Ja, beslis.” Arno trek sy skouers ferm reguit. Die boodskap moet baie duidelik oorkom.

“Goed. Ons kyk maar hoe gaan dit vir die twee weke. Waar is die meneertjie?” Sus sit die spaan neer en skakel die plaat af.

“In die bakkie.” Sy stap sommer vooruit.

“Genade, maar dit is ‘n ou klein dingetjie. Het jy gesê sy naam is Simson?” Sy haal hom uit sy boks en hou hom in die lug.

“Die skoolkinders het besluit dat hy inherent sterk is. Sy eerste drie weke op aarde was nie met rose besaai nie.” Arno vat die kat by haar, want die Jack Russels raak balisties en Simson blaas en wys weer dat daar aan die punte van sy toontjies vlymskerp naeltjies is. “Sien!”

“Ek sien.” Daar is rooi hale oor haar arm.

“Sorry daaroor. Jy sal dit moet ontsmet. Kom nou, Simson.” Arno hou hom aan sy nekvelletjie ‘n armlengte van sy eie lyf af. Hy is duidelik ‘n gevaar vir homself en almal om hom. In die kombuis bedaar hy en Arno druk sy bewende lyfie voor by sy hemp in. Dit kalmeer hom. Hy raak so rustig dat hy spin van tevredenheid, voordat sy lyfie slaapwarm en slap word.

“Ag siestog, net drie wekies oud. En die res van sy gesin is vermoor.” Sus staar na die swelling onder die hemp, daarna was sy haar hande en gaan aan met die kos.

Sy oorweeg die saak.

“Oukei, hy kan hier bly,” verklaar sy na ‘n rukkie. “Daar is egter een voorwaarde. Simson slaap nie  in die bed by jou nie. En as hy mors, maak jy skoon.”

“Voorwaarde aanvaar. Het jy ‘n boks? Ek wil vir hom gaan sand skep vir die aand.”

“En jy dink katte word so maklik ge-house train?” Sy haal ‘n plat bierboksie en klein tuingrafie uit die besemkas. “Good luck. Maak net vir Simson hier in die kombuis toe voor jy uitstap, anders spring die honde jou met kat en al om.”

Hy haal die kat uit sy hemp. Sy suster los alles en vat hom.

“Ek gaan vir hom kos en water gee.”

Tevrede dat hy in goeie hande is, stap Arno by die agterdeur uit met die boks en grafie.

“Hi Arno! Wat maak jy, swaerie?” Sus se man kom uit die garage en pyl op Arno af.

“Ek skep ‘n sandkas vir my nuwe kat.”

“Kat? Is jy mal?” Die woord kat is ‘n vloekwoord as jy jou lewe lank Jack Russells gehad het. Swaerie se pa het ‘n plaas vol van die brakke. En hulle is opgelei om alle ander vorms van lewe te vernietig.

“Toemaar, nie vir lank nie,” stel Arno hom dadelik gerus. “Ek glo ons het ‘n blyplekkie gekry op ‘n hoewe naby die skool.”

“Wil jy trek?”

“Dit raak tyd vir my om aan te beweeg.”

“Nee man, daar is nog baie tyd. Maak gou jou kat-levvy, ek haal solank vir ons ‘n bier uit.” Hy stap tot op die stoep en draai om. “As jy trek, saam met wie gaan ek my sundowner-doppie maak?”

“Met jou vrou!”

“Dit gaan nie dieselfde wees nie…”

“Ons kan mos oor en weer kuier, soos in die ou dae. Ek by julle, julle by my. Die plek waarna ek gaan kyk het glo ‘n eie erf.”

“En jy het sommer klaar besluit. Was ons nie goed genoeg vir jou nie?”

“Swaerie, dis nie dit nie! Dis net tyd om my alie in rat te kry en aan te gaan.”

Sy swaer maak die kombuisdeur oop. En te laat sien Arno hy los hom oop.

’n Kans wat die klein jakkalsies nie sal laat verbygaan nie. Bruin en wit strepe storm tussen sy voete deur.

Arno los alles. Adrenalien neem oor.

Sy swaer trek met ‘n boog.

Daar in die kombuis staan die arme Simson weerloos langs sy eerste regte aardse maaltyd en opkyk na twee monsters wat dreigend blaf en knor. Boonop lyk dit asof hulle sy kos wil afneem. As hy dit oorleef gaan hy ‘n permanente sielkundige knou oorhou vir die res van sy lewe.

 

Jy kan Kat ‘n liefdesverhaal bestel by liefdesverhalenmeer@gmail.com R20.00 Onthou as jy twee ander boeke by bestel, betaal jy R50 vir 3 boeke.

Hier is ook ‘n skakel na Kat, ‘n liefdesverhaal op Amazon waarna jy dit op jou kindle kan lees: https://www.amazon.com/Kat-liefdesverhaal-Afrikaans-Adele-Reynders-ebook/dp/B01L8LXNGW

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.