Totdat die vet vrou sing … ‘n alternatiewe operagids – Adele Reynders

totdatOpera

As jy die stories van die bekende operas ken, gaan jy lekker lag. As jy niks van opera weet nie, gaan die storie steeds snaaks en stouterig wees.

Totdat die vet vrou sing …
‘n Alternatiewe Operagids deur Adele Reynders
Eboekverwerking – Renza Boeke

Storie:
Leonore is in die middel van ‘n kantoorromanse en ingewikkelde liefdesdriehoek vasgevang. Al wat sy eintlik graag wou doen was om te trou. Maar dit het nooit gebeur nie. Sy knoop altyd verhoudings met die verkeerde manne aan.
Dan het Leonore ook ‘n ander droom wat nooit vervulling gevind het nie – Sy sou bitter graag ‘n beroemde operasanger wou word. Sy het ‘n pragtige stem, maar ook dit het nooit gerealiseer nie.
Nou weef sy maar die pragtige operastories en areas in haar elke dag se gewone lewe in.

Vooraf / Overture
Leonore, die sopraan en beroemde operasangeres het eendag, taamlik lank gelede naby ‘n varkplaas met ‘n vrou gestaan en gesels. Dit was koud en die vrou se neus was nat en rooi. Terwyl sy en Leonore staan en praat het, het ‘n vlieg by die vrou se neus ingeglip…
Leonore het versteend gewag vir die niesbui, die gesnork en geblaas. Die ondraaglike gekriewel en ‘n hand wat keer en klap. Dit is bitter moeilik om te konsentreer op dit wat iemand vir jou sê as jy elke oomblik verwag dat daar ‘n vlieg by die spreker se neusgat, mond of traankliere gaan uitkruip.
Tot vandag toe kan Leonore nie onthou waaroor sy en die vrou gepraat het nie, want…
Sy het die vlieg nêrens sien uitkom het nie.
Dit het ‘n duisend en sewe vrae ontketen:
Hoekom het die fyn haartjies wat gekoppel is aan die ingewikkelde senuwee-netwerk van ‘n delikate stuk apparaat soos die neus, die vrou nie teen die vreemde indringer gewaarsku nie?
Wat het van die vlieg geword? Is dit iewers in die vrou se brein? Dalk in die neus- of oorkanaal? Of iewers in die vertakkings van die longe, nadat dit ingeasem is? Kon dit die pad gevind het spysverterings-stelsel toe en haar liggaam langs die normale roete verlaat het? Of het die vrou intussen aan die een of ander onverklaarbare siekte gesterf? En indien een of ander briljante mediese navorser van die vlieginsident geweet het, sou dit dalk ‘n katastrofale pandemie kon keer, waarvan planeet Terra nog nie weet nie? ‘n Epidemie, veroorsaak deur ‘n onbekende virus of bakterie, waarvan die oorsprong in die mikrokosmos van die vlieg se ingewande opgesluit was. Hoe kwesbaar is die mens se liggaam nie op sy pad na verganklikheid nie…
Filosoof wat Leonore is, het sy ook vir maande aaneen gespook om te probeer uitwerk wat die sin daarvan was. Was die vlieg oppad om te gaan werk aan die voortbestaan van sy spesie? Of het hy ‘n kortpad na sy dood gevind? As dit die geval is, wat was die betekenis van sy kortstondige lewe?
Wat ook al van daardie spesifieke individu van die spesie geword het, Leonore het nooit weer met dieselfde oë na vlieë of die lewe gekyk nie. Hoe kortstondig is lewe op aarde nie? Hoe min tyd het die mens nie om jou talente ten volle te ontwikkel nie? Talente soos Leonore se merkwaardige opera stem.
Want net soos wat die lewe van ‘n vlieg kortstondig is, so kortstondig is die lewensduur van die opera en enige ander passie in die mens se lewe.
En nou kort voor haar een en vyftigste verjaarsdag besef Leonore dat passie nie die enigste bestandeel in ‘n huweliks-koek is nie. ‘n Koek wat sy nog nie kon bak nie, weens ‘n tekort aan iets uiters noodsaaklik.
‘n Bruidegom.
Haar tyd raak min om man te vang.
Haar uurglas raak leeg.
Die klok stap aan.
Dinastieë verdwyn onder rots, sand en see.
Die son skuif aan.
Blare verkleur in die herfs.
En die raafswart hare op haar kop is te wyte aan ‘n bottel en ‘n buis.
Daarom … al moet sy soos die vlieg iewers by iemand se neusgat inkruip, sál Leonore ‘n wettige man aan haar vasgehuud hê voordat die klok se laaste uur van haar een en vyftigste jaar slaan. Of ten minste een wat ‘n ring oor die goedversorgde kneukels van die tweede vinger van haar linkerhand gaan skuif, met die belofte van ‘n toekoms saam.
Dis haar doelwit in die lewe, al moet sy moor, roof of iemand anders se man steel om dit reg te kry…

Hoofstuk 1
Die huwelik van Figaro – Komponis: Verdi
Vier en twintig Desember, Kersparty aan die hof van die Hertog van Mantua. Die kantoor van die bankbestuurder waarin die overture van die liefde tussen Leonore en die Hertog van Mantua gedurende die afgelope sewe operaseisoene gestalte gevind het.
Vir sewe jaar werk sy vir die bank by hierdie spesifieke tak.
Vir so lank as wat sy vir hierdie bank by hierdie tak werk, was Bernard besig om opgang te maak, totdat hy uiteindelik die pos van bankbestuurder gekry het. Sy het hom bygestaan en gehelp om sy loopbaan te vorm en te beitel uit die harde marmer van kompetisie en teenspoed.
En… dit het haar die beste deel van hierdie sewe lang jare geneem om hom geïnteresseerd genoeg te kry in haar wat Leonore is. Sewe jaar voordat hy ‘n paar maande gelede in een van hulle passievolle oortydwerksessies aan haar gefluister het dat hy háár liefhet en dat dit verby is tussen hom en die alt saam met wie hy steeds ‘n huis deel, maar met wie hy al vir ‘n baie lang tyd geen duette sing nie. Hy gaan sy vrou los…
Haar lewe uiteindelik op pad na ‘n klimaks!
Toe die anti-klimaks. Sy het verwag dat hy haar gaan vra om met hom te trou, maar hy het haastig klere reggetrek en aanstaltes gemaak om by die huis te kom.
Om een of ander rede glo Bernard dat daar baie tyd is, en dat Leonore niks anders het om te doen as om vir hom te wag nie. Hy is immers ‘n gesogte vangs, glo hy.
Hy sal hom wat verbeel!
Sy arrogansie maak Leonore roekeloos op Oukersaand. Bernard, bankbestuurder, moet tot ander insigte gebring word. Daarom, in plaas daarvan om vir hóm frikkadelle en ys aan te dra, verskuif sy haar attensies na Rigoletto, die assistent bankbestuurder en ’boggelrug hofnar’ of vaal bank-klerk.
Rigoletto druk sy ronde brilletjie verbaas op sy neus. Dis sleg as ‘n man nie kan sien nie. Nog slegter as hy nie glo wát hy sien nie. Sy oë word groter en ronder as die glase. Hy vergeet van die been in die hoendervlerkie en Leonore hoor hoe sy tande daarop knars. Óf hy spoeg uit, óf hy sterf voortydig, besef Leonore en koes betyds. Die man weier om toe te laat dat die gordyn vanaand oor sy lewe sak. Daar stort die romantiese oomblik tussen hulle in duie as die hoenderbeentjie haar net bokant haar hart tref.
“Ek vra om verskoning,” stik hy in ‘n desperate poging om die romantiese oomblik weer terug te bring.
“Als reg.” Leonore beweeg weg. Stap is nie iets wat Leonore gewoonlik doen nie. Stap is rukkerig en ongrasieus. Wat Leonore gewoonlik doen is eerder iets soos sweef, as jy in ag neem dat haar kaftan soos ‘n wolk agter haar staan.
Aangesien niemand nog vir haar ‘n glas rooiwyn geskink het nie, doen sy dit nou self en gaan staan so dat sy vir bankbestuurder Bernard kan dophou.
Die man is soos gewoonlik die hart en siel van die partytjie, selfvoldaan dat hy haar wat Leonore is, later huis toe gaan neem. Sy is mos nagereg, poeding, die pepermentlikeurtjie na die tyd, dink sy met toenemende frustrasie. Maar sy wil dit nie meer wees nie. Sy wil mevrou Bankbestuurder met die M-styl koets word.
Leonore sluk die helfte van die rooiwyn met een teug weg en maak die glas weer haastig vol, voordat iemand dit raaksien. Sy verpes mense wat hulleself soos haar oorlede ma aan alkoholiese vergrype oorgee. Maar nou moet sy haar krag uit hierdie bron put.
Vanaand sal sy vir Bernard wys dat daar ander ridders ook wag om die duet van liefde met haar te sing. Sy kyk weer rond na ander beskikbares en besluit op Figaro, die Barbier van Sevilla, nou in diens van die graaf van Almaviva.
Figaro wat onlangs by hierdie tak van die bank begin werk het by die navrae toonbank. Navraeman is bloot ‘n figurant. Lid van die uitgebreide koor. Daar hoef nie eens klank by sy mond uit te kom nie.
Maar slegs vir vanaand bied hy vir die rol van Figaro aan. Figaro, die man wat Oukersaand ‘n duet met Leonore, operasanger en meester minnares gaan sing, al weet hy dit nog nie….
In sy een hand hou Figaro ‘n sosatie en ‘n frikkadel vas. In sy ander hand hou hy sy glas vonkelwyn. Leonore sien dat hy desperaat stoei om by die klein bordjies uit te kom. Hy móét ‘n bord en servet hê sodat hy in staat kan wees om ‘n gevulde eier, hoenderpasteitjie, gebraaide worsie, koue vleis en bondeltjie wasgoed ook te kan hanteer. Dit is ‘n noodgeval. Sy kan die tekens sien dat die man ‘n alleenloper is. Daar wag nie ‘n vrou iewers met ‘n broodjie in die oond nie.
Die man sweet van spanning en konsternasie.
En toe gebeur dit, instinktief. Die begrip van ‘n vrou wat ‘n man se smagting in een kort oomblik insien, opsom, verstaan en daarop reageer. Leonore stap voor hom in en hou ‘n bord en servet na hom toe uit met sagte hande wat eindig in lang goedversorgde rooi naelpunte.
Sy weet dat sy in staat is om ‘n oeroue verlange in hierdie jong man te laat ontwaak. Haar hals is laag genoeg om die selfoon in sy broeksak eenkant toe te laat skuif. Sy sien hoe sy blik van daar af opskuif na haar melkwit nek wat teen die raafswart hare afsteek, en die volgende oomblik tot rus kom by die kersierooi mond waarmee sy guitig glimlag.
Leonore hou die bordjie wat sy vir Figaro aangee ‘n oomblik langer vas as wat nodig is, sodat sy seker kan maak dat hy diep in haar oë kyk. Dit is die wese van haar vrouwees, die hoofkwartier van waar sy haar boodskappe uitstuur. Hy kan dit nie mis nie. Al is hy waarskynlik omtrent twintig jaar jonger as sy, behoort hy te kan sien dat daar iets besonders voor hom staan.
Maar …
As die vent tevore geleer het om te sing, is hy vanaand disleksies, nootloos en yskoud soos ‘n Dawidbeeld van marmer.
Hy gryp die bord, knik ‘n dankie en pak eetgoed in met die entoesiasme van ‘n man wat in staat is om sy aandag, sy volle aandag aan één baie belangrike saak te kan wei. Kos.
Dan hoor Leonore haar naam.
“Leonore.” Die diep stem van ‘n bariton. Die gesag van ‘n bankbestuurder. Bernard, Graaf van Almaviva self. Of hoor sy die falsetto klank van ‘n jaloerse en ietwat onseker minnaar? Bernard staan daar soos Die Dood in Venisië (Benjamin Britten) en toekyk hoe sy haar web vir ‘n ander man stel. Hy kan dit seker nie hanteer nie. Dis ‘n junior klerk, ‘n klein seuntjie, wat nie veronderstel is om te kan kompeteer teen ‘n man van sy statuur nie .
As die bankbestuurder kwaad wil wees omdat sy haar flikkers openlik vir die jong man gooi, moet hy maar weer goed word, besluit Leonore sonder om ‘n sweempie simpatie met hom of die situasie te voel. Hy behoort teen die tyd te weet dat ‘n bariton meer as bloot ‘n stem en ‘n B-Mus of P-Nis in ‘n verhouding behoort te sit.
Sy lig ‘n pinkie in Bernard se rigting, om te kenne te gee dat sy hom raaksien en dat sy alomteenwoordigheid soos gewoonlik vir haar groot genot verskaf. En toe lui die selfoon in sy hemp se sak en Leonore hoor dadelik aan die man se stroperige stem dat dit sy huidige gravin Norma (Bellini) is.
Dit laat haar woedend omswaai en wegstap. Al wat haar aan die gang hou, is die wete dat die gravin nie regtig kan sing nie en nie ‘n rol in die volgende operaseisoen gaan vertolk nie. Norma sal nié die vet vrou wees wat die laaste area gaan sing voordat die gordyn sak in daardie opera nie.
Bernard, die Graaf van Almaviva en invloedryke bankbestuurder skakel sy selfoon af. Hy druk met sy vingerpunte teen sy voorkop en frons hewig.
Die gravin het hom seker nou ingelig dat sy skoonfamilie uit Alldays al daar is vir Kersfees. Dan sal hy maar weer soos altyd dapper moet glimlag terwyl die skoonfamilie hom met die een slim set na die ander beduiwel, soos hy dit self dikwels aan Leonore stel. En gewoonlik luister sy wanneer hy sy probleme soos twee hande vol kaarte op die tafel uitpak.
Maar vanaand is dit sý probleem, en nie hare nie. Leonore kan aan sy houding sien dat hy haar huis toe sal neem en dan op hete kole sal wag dat die Mercedes se deur oopvlieg om haar uit te spoeg. As sy gesig só lyk, moet hy dringend by die huis kom om die atmosfeer daar vir die Kersnaweek te gaan red.
Leonore stap na Navraeman toe en besluit om haar volle aandag aan hom te wy. Sy fluister sy naam in sy oor en stuur ‘n nostalgiese snak na die man uit. Die regte noot. F-kruis. ‘n Fyn effie vir Figaro.
“Neem my huis toe, dan bly jy daar tot Kersoggend aanbreek…”
“Wat? Verstaan ek jou reg?” Figaro of wie de Joost die Navrae vent ookal is, kan duidelik nie sy ore glo nie. Van iewers uit sy binnesak bring hy ‘n Montblanc-pen te voorskyn. Hierdie spyker gaan hy slaan, terwyl die punt in die regte rigting mik.
Leonore neem ‘n komkommer-stokkie tussen haar vingers. Sy doop dit in die maaskaas en lek dit behendig met ‘n tong, wat agter die bloedrooi lippe verskyn het af. Die uitnodiging is gemaak, maar sy skep eers ‘n gevoel van tergende afwagting.
Laat hom begeer.
Laat hom smag.
Maar nie vir te lank nie.
Sy haal die Montblanc tydsaam uit sy hand uit en skryf in haar eie handskrif op die binnekant van sy linkerhand die uitnodiging meer spesifiek neer. Met die punt van haar Krismisservet raak sy aan die sensitiewe binnekant van sy oop mond.
“Oppas vir brommers,” verduidelik sy, toe sy hele liggaam aan die ruk gaan. “Sal ons gaan?”
Al is die Barbier van Sevilla skielik koorsig van liefde en haastig om by sy Corsa te kom, vou Leonore haar tjalie om haar skouers en stap eers na Bernard, die bankbestuurder, Graaf van Almaviva toe, om hom in te lig dat sy die verhoog verlaat en dat hy nie na die after party’toe genooi is nie.
Bernard kan duidelik stik van frustrasie. Sy planne met haar het nie net ‘n haarsny of perm ingesluit nie! Hy was op highlights ingestel, maar hier verlaat die beeldskone Leonore met haar lang donker hare, helder groen oë en gretige vol rooi mond hom in die middel van die tweede toneel van die bedryf. Hy kon agterkom watter snaar sy met die Montblancpen op die jong man se hand raakgestreel het.
“Geseënde Kersfees, Bernard. Dis jammer dat jy nie vanaand vir my kon tyd maak nie,” fluister sy.
Al is daar nie ‘n geluid uit die gehoor nie, weet sy dat die applous dawerend is. ‘n Staande ovasie.
Stof tot nadenke. Na vanaand behoort Bernard te weet dat hy haar gaan verloor as hy nie vinnig sy sokkies begin optrek nie.

Hoofstuk 2
La Cenerentola (Aspoestertjie). Maar in die geval is dit ‘n man. Wat is die manlik vir Aspoestertjie? Cinderellaman. Komponis: Gioacchino Rossini
Buite homself van woede en teleurstelling pak ‘n man twee reistasse. Om op Oukersaand deur die lelike stiefsusters bevark te word het hom geen plesier verskaf nie. Om uit te vind dat die een stiefsuster jou beste vriend is en die ander een jou eie vrou van amper ses en twintig jaar, maak seerder as om in die stukke van ‘n gebreekte glasskoen te trap.
Dis nie genoeg dat die tweetjies al vir jare ‘n affair aanhet nie, hulle was ook onderduims genoeg om sy onderneming stuk vir stuk in te palm. Hy moet liewers nie vanaand weer daaraan dink nie, want dit laat sy are so swel dat sy brein dreig om te ontplof.
In die badkamer skraap hy sy toiletware bymekaar en gooi dit sommer in ‘n groot plastieksak wat hy in die kombuis gekry het. Adrenalien dreig om sy keel te laat toetrek, terwyl hy sy goed op sy ouerige Toyotabakkie se bak gooi.
Hy het Poppie en Vriend agtergelaat en huistoe gestap. Dit was ‘n skreewedstryd voor al hulle ander vriende. Maar ten minste het sy vrou ná ‘n bottel of meer rooiwyn erken hoe lank terug die komplot al gesmee is. Hulle egskeiding ses maande gelede, kwansuis vir belastingdoeleindes was waarskynlik al stap ses. Omkoopwoorde dat dit ‘n egskeiding in naam is. Die meeste van hulle bates moes hulle op haar naam sit. Daarna sou alles bly soos dit was.
O donner, sy het hom lekker gevang.
Hoekom het hy dit nie lankal gesien kom nie? Dit was die hele tyd voor die hand liggend. ‘n Bankrekening in haar naam, waarin alle gelde inbetaal word. ‘n Bankrekening in sy naam, waaruit rekenings betaal word. ‘n UIT-rekening waarop hulle albei tekenregte het. En ‘n IN-rekening met slegs haar handtekening.
Hy was nog nooit in sy lewe so bevark nie. Hoekom voel hy skuldig dat die tasse waarin hy sy goed gooi ‘n geskenk is wat hy vir haar gekoop het toe hulle ‘n jaar gelede in Spanje vakansie gehou het? En Vriend Bliksem was natuurlik ook daar. Toe nog kastig gelukkig getroud met sy vrou, wat ook net daarna mevrou ex geword het.
Hy klap die tas sommer so in die pak toe. Die orige baadjies en klere waarmee hy gewoonlik gaan werk gooi hy sommer op die agterste sitplek van die dubbelkajuitbakkie voor hy sy aktetas, sy laptop en ‘n paar persoonlike dokumente in die studeerkamer gaan haal. Sy asem jaag in sy keel. Hoeveel goed kan ‘n man in minder as ‘n uur se tyd uit sy eie huis ‘verwyder’? Boeke wat vir hom saak maak. Een van die drie klankstelsels in die huis. Sy kompak-skywe. Hy is lief vir musiek. ‘n Pot, pan, ekstra ketel. Om wat mee te doen? Gaan hy ooit kook waar hy heen gaan?
Waar gaan hy heen? Hy weet nie eens waarheen hy gaan nie. Al wat hy weet is… hy gaan!
Die laaste ding wat hy laai is ‘n opgerolde kampmatrassie.
Maar vir vanaand sal ‘n gastehuis maar moet doen. As daar nog geld in sy rekening oor is.
Voordat hy die bakkie aansluit moet hy eers ‘n paar maal diep asemhaal. Hy is so ontsteld dat die hekpilaar amper voor hom inspring. Hy mis alles: die hek, die mure, sy arme hond, ook maar net-net. As die hek toegaan stop hy ‘n oomblik in die straat, want sy verstand is in ‘n warboel. Hy kan nie reguit dink nie.
Sy bakkie wil ook nie ry toe hy weer petrol trap nie. Die enjin gil harder as sy vrou toe hy haar gedreig het om haar strot net bokant haar stuitjie om te draai en hulle albei vrek te skiet met ‘n kruisboog.
Toe hy uiteindelik besef dat dit sal help om die bakkie in eerste rat te druk, stuur hy die voertuig in die rigting van die snelweg. Hy wil uit die dorp wegkom na ‘n plek waar niemand hom ken nie.
‘n Uur later is Pretoria voor hom. ‘n Bruin bordjie met die naam van ‘n gastehuis in Hatfield naby die universiteit van Pretoria waar sy dogter swot. Sy is nie op die oomblik by die huiskommune wat sy met medestudente deel nie. Sy kuier saam met ‘n klompie vriende by hulle strandhuis in Amanzimtoti.
Amanzimtoti! Amper gooi hy die bakkie om. Hulle strandhuis is nie meer HULLE strandhuis nie. Dit is in sy ex-vrou se naam. Hy besef dat hy sy kind moet laat weet wat aan die gang is en skakel haar nommer met bewende hande. Haar stem kompeteer teen luide musiek in die agtergrond en sy klink allesbehalwe bly om van hom te hoor.
“Pa, hoe kon jy Ma voor al julle vriende verneder het?” Poplap het hom voorgespring.
“Jy verstaan nie wat aan die gang is nie.” Hy stop in sy spore by die groen robot waar hy veronderstel is om te ry. En links te draai. Hy verduidelik. Sy dogter sal sy woede verstaan as sy die waarheid hoor.
“Met oom Piet? Dis onmoontlik. Hy is dan soos ‘n broer vir pa.”
“Asshole,” skree die ou in die Corsa wat amper in hom vasgery het en nou met moeite om hom beweeg en aan sy regterkant stop, by die lig wat inussen geel geword het en nou rooi is.
“Ek is jammer.” Hy maak sy venster oop en kyk vas in een van die mooiste vroue wat hy in sy lewe gesien het. Lang donker hare en oë die kleur van smaragde. Sy is nie meer so jonk nie. Sy ouderdom ongeveer, dink hy, maar sy lyk goed.
Dit was nie sy wat hom uitgedinges het nie. Dis die klein snotkop wat langs haar in die Corsa sit, besef hy toe sy verskonend vir hom glimlag.
“Ek weet pa is jammer, maar sê dit vir ma ook. Dit is nie te laat nie,” hoor hy Zenka se stem uit ‘n ander dimensie praat.
Hy rol sy ruit op en verduidelik: “Ek praat met iemand anders. Jy verstaan nie, dis nie ek wat om verskoning moet vra nie. Ek is nie jammer omdat ek uit die huis uit weg is nie.”
“Wat van môre?” Zenka se stemmetjie word dun. “Dis Kersdag.”
“Ek weet.” Dit voel eienaardig om haar ‘n geseënde Kersfees toe te wens, maar hy doen dit tog. “Nou moet ek my selfoon afskakel. Ek ry soos ‘n stuk gemors, netnou sluit hulle my boonop toe vir dronkbestuur. Dit sal die laaste strooi wees.”
Dit is nie die laaste strooi nie.
Hy verwag dit glad nie, daarom skrik hy homself byna dood toe die venster langs hom in skerwe spat en ‘n harde hou hom teen die slaap tref. Hy kan nie eens keer toe iemand sy selfoon, horlosie en beursie gryp nie.

Leonore kan nie help om op te merk dat die man met die selfoon teen die oor ‘n besondere aantreklike man is nie. Sy let ook op dat hy met ‘n baie ou, gaar dubbelkajuit bakkie ry met ‘n kampmatras agterop. Sy klassifiseer hom as iemand wat nie in dieselfde klas as sy is nie, en beslis nie die soort man wie se naam op haar lysie van potensiële bruidegomme sou verskyn nie.
Sy glimlag effens om hom te laat verstaan dat sy regtig nie op hom neersien nie. Wanneer hy sy ruit toemaak kyk sy weer voor haar, maar ‘n ligte stampie aan die kar en ‘n figuur aan haar linkerkant trek haar aandag. Manne met pistole.
En soos ‘n sneeustorm in Pretoria spat die ruit links van haar in duisende klein blink kristalle.
“My magtig!” Soos ‘n wafferse held spring Figaro regs van haar uit die Corsa en swaai ‘n groot rewolwer in die lug. Wat hy waar uitgehaal het? wonder Leonore.
En toe skree hy: “Voessêk julle bliksems!” dat Leonore met nuwe respek na hom kyk.
Figaro skiet in die lug en een van die ander manne mik ‘n pistool in sy rigting.
Hy gaan sterf, en Leonore saam met hom en die man in die bakkie ook. Sy bid, pleit, smeek en word verhoor.
Klik. Die kaper se skoot gaan nie af nie maar nie een van hulle wil wag om te sien waarheen Figaro sy volgende skoot mik nie. Hulle gryp die matras en ‘n klompie goed van die bakkie af en draf daarmee weg. Hulle hardloop nie eers nie, hulle draf.
Geskok skakel Leonore die nooddienste, klim bewend uit die Corsa en gaan staan by Figaro wat nou sy vingerpunte teen die verdwaasde bebloede man se nek druk.
“Die ambulans is oppad,” troos Leonore.
“Los die ambulans. Ek is nou weer reg.” Die man druk Navrae se hand weg en klim onvas uit die bakkie. Hy voel in sy sakke en toe aan die oorsprong van die bloed bokant sy slaap. ‘n Moedelose rilling gaan deur sy lyf. “My beursie en selfoon is natuurlik weg. Damnit.”
“Jy sal iemand moet laat weet wat gebeur het. Bel van my foon af.” Leonore wens sy kan die foon in ‘n plastieksak sit, voordat sy dit vir hom aangee. Sy hou nie van bloed nie.
“Ek ken nie die nommers uit my kop uit nie.” Hy skud sy kop, kyk na sy arm asof hy verwag om ‘n horlosie daar te sien. As hy dit nog nie agtergekom het nie, weet hy nou dat die rowers daarmee ook weggekom het. “Hoe laat is dit?”
“Elfuur.” ‘n Groot jammerte neem van Leonore besit. Die man is miskien nie van haar stand nie, maar hy lyk basies ordentlik en hy is darem besonder aantreklik. ‘n Soort Cinderella man, vir wie die klok onverwags middernag geslaan het, want alles aan hom lyk in hierdie stadium ‘n bietjie gehawend. “Waar woon jy en waarheen was jy op pad? Ek sien jou bakkie het ‘n Mpumalanga registrasienommer.”
Haar sesde sintuig vertel haar dat die eerste deel van die vraag onnodig was. Dit wat agterop die bakkie is, behoort aan ‘n man wat haastig ‘n paar besittings verwyder het uit ‘n plek wat tot onlangs sy domicilium citande was.
“Ek was op pad na die gastehuis hier naby.” Die man lyk gedaan. ‘n Gedaan man is basies onskadelik. Hy is waarskynlik gereed om homself in die hande van sy vyand oor te gee vir ‘n sny brood en ‘n bier.
Ontoelaatbaar.
“Hulle is weg met jou beursie. Het jy kontant by jou?” Leonore byt op haar onderlip.
“Ek weet nie eens of ek nog enige geld op my naam oor het nie,” mompel hy.
“Jy sal die saak by die polisie moet aangee. Versekering.” Navraeman beduie na die bokse op die bak agter. “Hulle het jou matras weggedra. Wat nog?”
“My horlosie. En … o my g.. de damn ring!” Die man verbleek voor hulle oë en voel vervaard deur sy baadjiesakke. Hy wou sê Götterdämmerung (Skemering van die gode, dring dit tot Leonore deur. ‘n Richard Wagner opera.) Dit is ‘n teken. Die man is sonder sy wete deel van haar nuwe opera. Daar is ‘n rede hoekom hulle paaie moes kruis. Sy weet net nog nie wat dit is nie.
“Watter ring?” vra Navrae.
“Ek het vir my vrou ‘n ring laat maak vir Kersfees. Verbeel jou, ‘n ring, terwyl sy my beste vriend …” tier hy en voel angstig deur elke sak van sy baadjie. Hy vind dit in ‘n binnesak. “Dankie tog, dis nog hier.”
Hy haal ‘n donkerblou fluweelboksie uit en maak dit oop. Die inhoud is een van die mooiste diamantringe, met donkergroen smaragde aan weerskante, wat Leonore nog gesien het. Sy weet die kleur van haar oë word weerspieël in die groen weelde.
“Wow, gelukkige vrou,” sug sy.
“Moenie dink sy gaan dit nog kry nie. Daar is nie ‘n maniér nie,” vlieg hy Leonore in en klap die boksie hard toe, asof sy persoonlik verantwoordelik is vir wat dit ookal was wat hom van plan laat verander het. Dan onthou hy dat hy iewers maniere het. “Skuus, dis nie teen jou gemik nie. Ek het sommer iets onaangenaam onthou.”
“Als reg.”
“Terloops, ek is Matteo Cavallo.” Hy steek ‘n hand uit.
“Leonore Kotze.” Leonore vat die hand en kyk op in die man se mooi blou oë. Daar gaan ‘n rilling deur haar lyf toe die diep blou poele in uitroeptekens met haar praat. Hy hou beslis van wat hy sien, maar is te konserwatief om dit vir haar te wys. Anders is hy nog te geskok om te weet wat in sy onderbewussyn aan die gebeur is.
“Aangenaam.” Hy los haar hand vinnig en klim terug in sy bakkie. Sy gesig ‘n ratwerk van planne om te oorleef totdat hy weer grond onder sy voete kan voel.
“Jy kan in my gastekamer kom slaap.”
“Jy ken my nie.” Hy speel met die sleutel in die bakkie se aansluiter. “Wat as ek jou in die middel van die nag oor die kop slaan en jou huis leegdra?”
“Ek ken jou nie, maar my mensekennis vertel my dat jy nie ‘n slegte mens is nie. Jy sal dit nie doen nie.” Sy is ook nie bekommerd dat sy dalk in die versoeking kan raak om hom te verlei nie. Daar is geen manier nie. Hy is nie op haar standaard nie. Sy wil trou. Ophou werk. Toer in Oos Europa. Eksotiese plekke besoek. Operas gaan kyk in teaters van die wêreld. En Matteo Cavallo sal nie daarmee kan help nie. Hy sal nie kan voorsien in haar persoonlike finansiële, kulturele en statutere vereistes nie. “Buitendien, waar in Pretoria gaan die goed op jou oop bakkie veilig wees?”
Sy is reg. Daar is nie veel in die bakkie nie, maar wat daar is, is in hierdie stadium die somtotaal van sy aardse besittings.
“Baie dankie. Dan aanvaar ek die uitnodiging en belowe dat ek niks in jou huis sal steel nie.” Daar is humor in sy oë, ten spyte van sy benarde situasie.
“Verskoon my net ‘n oomblik. Ek groet net gou my kollega.” Leonore neem Navrae aan die arm en stap eenkant toe. Mens mors nie op jou eie voorstoep nie. En Navraeman is voorstoep. Nee, nog erger. Hy sit binne-in die portaal van die Tak. Eerste linie. Bernard Bankbestuurder beter te hore kom dat daar niks tussen hulle gebeur het nie. Hopelik sal Navrae met spyt vertel hoe Leonore hom ‘n koue skouer gedraai het. “Baie dankie vir die geleentheid huistoe, jong man, maar meneer Cavallo sal my huistoe neem. Geseënde Kersfees.”
“‘n Ander keer?” vra hy hoopvol optimisties terwyl sy haar handsak uit die Corsa haal.
“Nee, dit gaan nie gebeur nie. Nie nou nie, nooit nie,” antwoord sy ferm.
“Maar jy het my uitgelok.” Die omgekrapte styging in toonhoogte van die jong man se stem teken ‘n vraagteken op Matteo se gesig toe hy in hulle rigting kyk. Sy kan net hoop dat hy nie agterkom waaroor dit gaan nie.
“Ek was nie myself nie. Jy is nie my tipe nie,” sis Leonore. “Daar het niks gebeur nie. Moenie volgende week enige ander stories versprei in die kantoor nie.
“Fok jou.”
“Sies. Dis ‘n lelike woord.” Dit pla haar nie in die minste dat Navraeman op sy hakke omkap, sy kar beklim en oomblikke later met skreeuende bande wegtrek nie. Haar volle aandag is by die misdaadslagoffer op wie se passasiersitplek sy net daarna plaasneem.
Sy loer sydelings na sy aantreklike profiel terwyl hy die bakkie aanskakel en sy hoop dat haar intuïsie haar nie in die steek laat nie. Wat as hy enkelvrouens teiken, hulle ringe steel en hulle vir dood in hulle huise agterlaat? Die diamant en smaragring pas nie by iemand wat met so ‘n slonsbakkie ry nie. As voorsorg sal sy die kas waar sy haar juwele hou toesluit sodra hulle by die huis kom. As hy haar wil vermoor, sal sy seker maak dat hy met lëe hande daar uitstap.
Maar om vermoor te word is nie iets om na uit te sien nie.
Sy maan haarself tot kalmte. Asem diep intrek. Stadig uitblaas. Hoop nie hy sien die deining van haar borste en dink dat dit hy is wat haar opgewonde maak nie.
Wees paraat.
Voorbereid op die ergste.
Leonore laat Matteo die bakkie in haar garage parkeer, reg langs haar Atos.
“Koffie?” vra Leonore terwyl sy die deur wat na die res van die huis lei oopmaak en wag dat Matteo met ‘n plastieksak en een tas instap.
“Nie koffie nie, dankie,” antwoord hy en volg haar teen die trappe op. “Sal nie kan slaap nie.”
“Iets sterker as koffie dalk.” Sy laat haarself toe om ‘n klein bietjie te ontspan. Sy som die man op as ietwat onskadelik, tot die teendeel bewys word. “Miskien het jy iets nodig wat jou kan laat ontspan na jou avontuur … avonture. Ek het whisky.”
“Whisky met ys sal lekker wees, dankie.” Hy haal ‘n skoon T-hemp uit sy tas en stap met die plastieksak in sy hand by die badkamer in.
“Daar is watte en ontsmetmiddel in die kassie bokant die wasbak,” beduie Leonore toe sy sien dat hy die wond teen sy slaap in die spieël bevoel en bekyk. Nogal regtig ‘n aantreklike man. Goeie lyf, sien sy toe hy sy bebloede hemp uittrek en die T-hemp oor sy kop trek. Hou op staar! Moenie idees kry nie, Leonore. Sy tel sy vuil hemp op.
“Los, ek sal.” Hy wil nog keer, maar sy stap styf teen die trappe af, gooi dit in die wasgoedmandjie in die opwaskamer en was haar hande. Daarna maak sy seker dat die kas waarin sy haar juwele hou gesluit is en steek die sleutel op sy gebruiklike plek agter die skildery weg, voordat sy die skinkwerk doen.
Dit gaan beslis beter met Matteo Cavallo, as hy kort daarna met ‘n skoongewasde gesig teen die trappe afkom.
“Gaan jy my vertel van wie en wat jy af weghardloop?” vra sy.
Hy vertel. Staccato sinne. Die ewige driehoek, die ander man wat wen en met die vrou en die valuta wegstap.
Leonore probeer simpatiek klink, maar eintlik verheug sy haar in die derde party se triomf. Dis die been wat sy verteenwoordig in haar eie liefdesdriehoek.
Matteo Cavallo voel vodde, kom Leonore agter toe sy kop na die tweede glas whisky knik.
“Ons kan môre verder gesels, as jy wil. Jy is welkom om te gaan slaap.” Sy staan self op. “Ek gaan môre kerk toe. Wil jy saamkom?”
Hy skud sy kop negatief.
“Nie so gedink nie. Maar dit is Kersdag. My broer is predikant op Bronkhorstspruit en sy vrou kook lekker. Het jy enige planne vir die dag?”
Weer negatief. Hy het nie planne vir die dag nie. Hy gaan nie planne maak nie en hy wil ook nie saamgaan nie. Dit kan haar nie regtig skeel nie. Hy kan maak wat hy wil.
“Jy gaan sukkel om jou kontantvloeiprobleem op te los gedurende die vakansiedae.” Sy vermoed sy slaan die spyker waar dit seermaak toe sy kop opruk.
“Ek het ‘n suster en vriende. Sal miskien daar ‘n draai gaan maak.” Hy klink nie baie seker van homself nie. Sy dink nie sy bakkie se diesel sal hom tot by die volgende stopstraat neem nie. Sy het mos gesien die naald lig nie van die onderste strepie af op nie.
“Ek doen dit nie normaalweg nie, maar ek gaan tog vir jou ‘n paar rand leen.” Sy haal vyf pers note uit haar beursie en sit dit op die tafel voor hom neer. “Jy kan dit eendag terugbring as jou goed uitgesorteer is, of jy kan dit hou.”
Dis haar tiende. Sy kan dit netsowel vir ‘n medemens gee wat dit nodig het.
“Dankie.” Hy staar net daarna. Maar om een af ander rede weet sy dat hy dit gaan vat.
En teruggee.

Hoofstuk 3
Die Lustigen Weiber von Windsor – Komponis: Nicolai
“Die man wat die vrolike vroue van Windsor moet gelukkig hou,” spot Leonore toe Bernard bankbestuurder haar die volgende oggend wakker bel.
“Die wat?” Sy kan hoor hy is omgekrap en vermoed dat dit nie net sy huis vol mense is wat hom so laat klink nie. Die kanse is goed dat hy kwaad is oor gisteraand. Dan gee hy tog ‘n bietjie om…
“Het jou vrouens opgedaag? Vrolike vrouens van Alldays en die Oostelike voorstede van Pretoria?” Sy probeer om nie te vriendelik te klink nie, maar nou klink sy meer soos ‘n kat wat wil krap. Hy het haar gedrop, six without love die vorige aand. “Wat bring jou so vroeg op my spoor?”
“Dis Kersdag. Is jy alleen?”
“Watse vraag is dit?” Sy loer vinnig na die gastekamer se toe deur. Gelukkig is daar nie kameras in haar huis nie. En gelukkig is Bernard nie heldersiende nie.
“Ek het gesien dat jy planne het met daardie katelknaap in my kantoor.”
“O hy? Moenie jou oor hom bekommer nie. Hy is nie ‘n faktor nie. Hy moes my mos huistoe bring omdat jy duidelik haastig was op pad na jou huis toe.” Hy moet goed verstaan dat daar niks tussen haar en Figaro Navrae gebeur het nie. Maar indien iets gebeur het, wat nie gebeur het nie, en hy vind dit uit, moet hy ook besef dat dit sy skuld is. Sy wil nie hê dat hy haar soos tweedehandse ware moet hanteer wanneer hulle eers getroud is nie.
“O.”
“Ek het nie eens sy naam gevra nie. Maar wat van jou? Ek weet mos dat daar vandag omtrent vyftien vroue gaan wedywer vir jou aandag.”
“Jy bly nommer een. Jy laat my goed voel. Hierdie klomp vrouens behandel my asof ek die kneg is.” Daar is ‘n bitter klank in sy stem en Leonore kry hom amper ‘n klein bietjie jammer. Bernard, groot belangrike bankbestuurder is meestal die slaaf van sy vrou en twee dogters. En sy skoonma wat by sy skoonsuster in Alldays bly. En sy eie drie susters. Een geskei, een nooit getroud nie en een wat haar man ‘per ongeluk’ met ‘n haelgeweer die ewigheid ingehelp het. Bernard se ander gaste is sy oorle pa se weduwee en háár suster en dié se dogter. (Sy eie ma is tien jaar gelede dood en sy pa is vyf maande later weer getroud. En toe sy pa drie jaar later aan natuurlike oorsake sterf, is die enigste ding wat Bernard in die proses erf oorle Paps se wredewee.) Behalwe vir sy aanstaande skoonseun gaan daar vandag net vroumense saam kuier. ‘n Verskeidenheid vreeslike vroue.
“Jy moet die vuur betyds regkry, Bernard,” hoor Leonore iemand in die agtergrond skree. “Ons wil nie soos verlede Kersfees eers vyfuur vanmiddag eet nie.”
“Klink my hulle soek jou. Geseënde Kersfees en dankie vir die bel.” Leonore weet dat hy vir ‘n uur of langer sal moet verduidelik as iemand daar agterkom dat dit met haar is wat hy op Kersoggend oor die foon praat. Daar is al vermoedens en agterdogte uitgespreek.
“Ook so…” Verder as dit kom hy nie, want in die agtergrond is daar skielik asonante klanke.
“Pak solank die glase in die lapa uit, anders hardloop jy jou weer katswink agter almal se drank aan.” Die stem behoort aan die gravin en hoëpriesteres Norma, die huidige vrou in sy lewe. Haar oparaseisoen is haas verby, want met daardie toon en volume, gaan haar stem breek, voordat Nuwejaar aanbreek. Leonore, met haar geduld en begrip vir ‘n man se probleme, is ‘n ster wat besig is om op die horison te verrys en wat lank gaan skyn. Sy weet dit sommer.
“Ek het getel en daar is nie genoeg stoele nie. Klim van die foon af. Jy moet meer stoele uitpak.” ‘n Ysige stem. As dit aan die skoonma behoort, rys Leonore se nekhare sommer vir sy onthalwe ook.
“Regso,” antwoord hy gehoorsaam en sy stem oor die sel word formeel. “Dankie vir die bel, meneer Beukes. Bring u ook die dag saam met geliefdes deur?”
“Ek gaan by my dominee-broer en skoonsuster en hulle seun eet. Baie rustig, net ons vier,” antwoord sy afgemete. Verbeel jou, meneer Beukes! En geliefdes! Die man is vreesbevange!
Nadat sy gebad het, loer sy by die gastekamer in en sien dat Matteo nog soos ‘n dooie slaap. Sy buk oor hom en merk weereens sy mooi profiel op. Hy lyk amper sorgvry, maar sy weet sommer dat sodra sy oë oopgaan, die frons tussen sy wenkbroue weer diep sal keep.
Sy los ‘n nota en ‘n ekstra bossie sleutels met instruksies indien hy wil ry.

Boris Godoenof – Komponis: Modest Petrowitsj Moessorgski. Libretto: deur die komponis in Russies na Poesjkin se drama wat in Russies geskryf is. Toneel: Die binneplaas van ‘n klooster in Moskou (Bronkhorstspruit), waar Leonore se broer, die monnik, pous en herder is.
Vir Leonore hou Rusland ‘n baie besondere bekoring in. Sy het al dikwels in haar lewe gereis, maar van haar heel kosbaarste herinneringe is van daardie vakansie toe sy met haar voete kuitdiep tussen die herfsblare in Moskou gestaan het. (Dit beteken die blare was ongeveer 1,2 m diep, aangesien sy ongeveer ‘n meter bokant die aarde se oppervlakte sweef, aldus haar duisende bewonderaars. As sy dalk afkyk, moet sy liewer nie sien dat haar voete nie grond raak nie. Die skok kan dalk fataal wees.)
Om kerk toe te gaan hou ook vir Leonore ‘n spesiale bekoring in. Dis waar ‘n mens jou behoeftes mag uitspreek. Sy vra mooi.
‘n Man…
Nie enige man nie, sug Leonore hier diep binne in haar. ‘n Man met ‘n koninkryk, geld en statuur. Dié man … Bernard Bankbestuurder. Sy voel dat sy mag aandring op die heel beste, al behoort dit op hierdie stadium aan iemand anders.
In die kerk vra sy ook vergifnis van sondes. Dit was miskien ‘n bietjie vinnig en ondeurdag om met die jong assistent van navrae bed toe te korrel. Maar dit beteken niks nie. Nie vir haar nie en nie vir hom nie. Vergeet dit net.
Dis hier in die kerk waar sy goeie nuus ontvang. Leonore spits haar ore en dwing haarself om te konsentreer op die boodskap wat haar broer vandag vir sy een en twintig gemeentelede bring. Hy begin nog nie praat nie, aangesien die katedraal se klokke vandag, op Kersdag, langer as gewoonlik beier. Maar toe hy begin praat is sy boodskap eenvoudig:
“Gee vir die armes. Gee mildelik aan die wat nie vandag iets het om te eet nie.” Haar gedagtes dwaal weer na die arme siel in haar spaarkamer toe haar broer met ‘n diep en innige stem praat. “Dankie aan almal wat hul oorvloed by die woning van die herder afgelaai het en in die loop van die dag nog beplan om dit te doen…”
Die Pouslike wederhelfte gaan nie nodig hê om haarself voor die stoof te staan en afsloof nie, besef Leonore. Sy kan dalk vir skoonsus oortuig om vir haar ‘n hondepakkie in te pak, vir die man wat nie wil Kersfees vier nie.

Lucia di Lammermoor – Komponis: Gaetano Donizetti
Dis reeds laatmiddag toe die sopraan Leonore, in die tragiese titelrol van Lucia na haar meenthuis in die ou Ooste van Pretoria terugkeer.
Natuurlik is sy teleurgesteld om te sien dat die ou bakkie weg is. Selfs die dankienota op ‘n stuk papier laat haar nie beter voel nie. Daar is nie ‘n selnommer of adres by nie.
Matteo Cavallo het soos mis voor die son verdwyn. Met ‘n duisend en een vrae in haar kop sit sy die kospakkie in die yskas. Is hy nie eers ‘n klein bietjie beïndruk met haar nie? Nuuskierig oor die beeldskone en suksesvolle vrou wat gisteraand sy lewe gered het nie? Gewonder waarmee sy haar elke dag besig hou nie? Haar selfbeeld kry ‘n gruwelike knou.
Sy bad in skuimbolle en vul haar kelk twee keer uit die duur bottel rooiwyn wat sy net vir haarself oopgemaak het. Die man se netjiese sexy alie. Sy is ‘n prinses, ‘n koningin. Hy het geen idee wat hy besig is om te mis nie.
Leonore droog af en trek haar mooiste, fynste slaapklere aan. Met lieflike musiek uit Lucia di Lammermoor in haar ore vou sy ‘n doekie oor haar gesig en gaan lê onder in die sitkamer op die bank, net vir ingeval Matteo besluit om terug te kom.
Die musiek raak dramaties en min of meer daar waar haar broer haar verkoop en Lucia van haar trollie af raak, sluimer Leonore in, want die bank word ‘n towertapyt wat haar op ‘n lang stamperige reis neem. Haar ingewande begin ruk. Sy is verskriklik naar! Sterf sy al? wonder sy paniekerig en mik vir die gastebadkamer. Sy sak in ‘n beswyming langs die troon neer. So voel soos iemand wat tussen die grafte van die voorvaders dwaal… of te diep in die bottel gekyk het. En te veel sigarette gerook het.

Il Sigreto di Susanna – Die geheim van Susanna – Komponis: Ermanno Wolf-Ferrari.
Dis ‘n geheim. Leonore is ‘n geleentheidsroker, ‘n skelm geleentheidsroker, en nou ‘n siek skelm geleentheidsroker. Die eienaardigste van alles, besluit sy, is die feit dat mense wat self gerook het en dan ophou, ‘n groter kabaal opskop oor ander se rookgewoontes as diegene wat nog nooit aan ‘n sigaret geraak het nie. Haar broer en skoonsuster het ook gerook, maar nou moet sy wat Leonore is dit skelm agter die huis gaan doen. Dis miskien die rede hoekom sy vandag deur twee pakkies gewerk het. Dis hulle skuld.
En Matteo Cavallo s’n. Sy is bekommerd oor hom.
Sy kook in die ketel oor en hurk daarna gallerige en gelerig langs die troon. Nie in ‘n opera nie, maar vasgevang in ‘n verskriklike droom. ‘n Nagmerrie. ‘n Voorbode? Wat is daardie oorverdowende geraas? Slag op slag, skok op skok en toe ‘n dawerende knal in die woonkwartiere langsaan? Leonore word weggeruk na die opera Boris Godoenof (Moessorgski).
Haar buurmanne, die skone ontkleedanser Jonathan en die IT expert Dawid klink asof hulle mekaar met geweld teen die mure vasslinger in die vroeë ure van hierdie dag na Kersfees. ‘n Dag waarop hulle haar genooi het om middagete daar te gaan geniet.
Leonore wag ‘n paar minute om te hoor of hulle gaan ophou. Dit is nie die eerste tweegeveg waarin die ridders in die middel van die nag betrokke raak nie. Sy staan op, want die geveg raak by die oomblik hewiger. In hierdie duel word daar nie net swaarde gekruis nie. Daar word met pistole geskiet. Sy sal moet ingryp om die harmonie te herstel en die vals noot uit te stryk.
In haar sy-japon met pienk en swart pels op die kraag sweef sy by die deur uit en gaan druk die klokkie langsaan.
Geen reaksie nie.
Sy lui die klokkie nog ‘n keer. Dis die Kloktoneel. Dan volg ‘n bloedstollende gil, presies soos in die opera.
Hierdie is nie die sekstet uit Lucia di Lammermoor nie. Dit is ook nie die blinde herder wat in Boris Godoenof genesing op die graf van die vermoorde D’mitri ontvang nie. As sy nie ingryp nie, is een van hulle binnekort dood en bestem vir die graf. Hulle baklei dikwels. Hulle baklei dikwels tot net duskant die dood.
Met bewende hande skakel Leonore die nooddienste op haar selnommer. Haar stem het aanvanklik die dramatiese fluistering van ‘n sniksanger, maar dit klim die oktaaf van ‘n histeriese kabaret-kat, toe die polisie nie dadelik die erns van hierdie huismolessaak insien nie.
‘n Konstabel kom vinnig. Hy kom gelukkig vinniger as wat enigiemand oor die Kersseisoen sou verwag.
Hy trommel teen die deur. Tokkel teen die tralies. Stryk met klippies teen die vensters van die boonste verdieping. Pluk sy moer toe daar geen reaksie is nie en trompetter by die gastetoilet onder se oop venster in.
“Sluit oop die fokken deur, of ek breek dit af!” Sy taal is sterk. Sy diep basstem dra ver.
Die voordeur gaan met ‘n fluitgeluid oop.
Albei manne is vol bloed. Hulle lyk soos volbloedmanne en Leonore voel weer die pyn wat sy dikwels ervaar wanneer sy besef dat hulle nie vir die vroulike geslag beskore is nie.
“Wat gaan hier aan?” vra Leonore, maar haar mezzo-sopraan stem verdwyn in die trio. Die manne sit die geveg voort, nou sommer in die straat.
“Hou op baklei of ek bliksem julle altwee,” klink die soldaat se basstem bo alles uit. Sy luide stem klink soos die kap van ‘n reuse koper simbaal.
Die boesemvriende is tot stilstand geruk. Hulle wil nie eintlik gebliksem word nie. Nie altwee gelyk nie, en nie op hierdie manier nie.
Leonore snak na haar asem. Geen vrou kan ‘n man in uniform weerstaan nie. So jonk en stewig. So viriel. So sterk van persoonlikheid. So ru en vurig. So sterk van taal. So ‘n mooi bas…
En die twee manne kan hom ook nie eintlik weerstaan nie. Sy bas moes iets in hulle ook laat ontwaak het.
“Konstabel, hoe laat kom jy van diens af?” Jonathan is die eerste om sy prioriteite reg te kry.
“Seven bells vanoggend.” Die man haal ‘n notaboekie uit. Hy moet die huismoles aanteken.
“Nou kom eet brunch by ons. Kom met of sonder jou swemklere. Ons maak ‘n splash … in die poel.” Daarvoor kry Dawid ‘n hou op sy bobeen. “Oeffff!”
“Thanks, klink lekker. Hoe laat?” Die konstabel het klaar geskryf.
“Elfish.” Dawid vryf die plek waar Jonathan hom ‘n lammie gegee het.
“Hoe laat?” Die konstabel draai sy kop skeef.
“Om en by elfuur,” beduie Jonathan en draai na Dawid toe. Hy slaag amper daarin om simpatiek te lyk. “Shame, Babes, was dit seer?”
“Nee, dear Jonny, al moet ek vir die res van my lewe met drie bene loop, sal ek nie dat ‘n gebreekte femur in die pad van my liefde vir jou staan nie,” antwoord Dawid dramaties.
Die konstabel gluur hulle agterdogtig aan. Is dit ‘n grap, of is die manne gay? Leonore wonder of hy skielik gaan onthou dat hy eintlik ander planne vir die dag het.
“‘n Gebreekte female,” beduie Jonathan sarkasties en draai na die konstabel toe. “Moenie so geworried lyk nie. Jy is nice, maar jy is nie ons type nie. Ons maak lekker kos en hier is baie bier.”
“Mmm, lekker kos.” Die uniformman vryf oor sy maag.

Hoofstuk 4
Carmen – Komponis: Georges Bizet.
Toneel: Skuins na elf in die meenthuis langsaan, waar die buurmanne flatout en smeulend aan die kook is.
Die asbakkie lyk reeds soos ‘n tweedehandse sigaretfabriek toe Leonore, as die geliefde Carmen self, insweef. Sy het gewag tot op die laaste oomblik om te sien of Matteo Cavallo nie tog gaan besluit om terug te kom nie.
Hy het nie.
Dit was sy laaste kans. Hierna kan hy gaan doppies blaas, of koperinstrumente of in die pypie van die spietkop. Miskien is hy terug na sy vrou toe. ‘n Vrou met berou, wat kan vergeet van haar ontrou en vir ‘n maand of twee kan uithou danksy die afmetings van die diamant.
As dit die geval is, is dit beter so. In plaas van sakke vol geld, het die man sakke vol bagasie, wat sy wat Leonore is beslis nie van plan is om te help dra nie.
Maar hoekom kan sy nie vir ‘n oomblik ophou om aan hom te dink nie? En hoekom hou sy aan hoop dat hulle paaie weer eendag sal kruis?
Sy het nog ‘n laaste troefkaart.
Sy hemp … As hy onthou waar hy dit gelos het!
Leonore steek vas in die opening van die skuifdeur wat op die buurmanne se gesellige patio uitloop en kyk die jonger manne krities deur. Daar is iets besonder viriel aan die soldaat. Konstabel Rangoni het van sy uniform ontslae geraak en keer nou terug na die verhoog as die aantreklike Don José.
Hy het ‘n vuilerige T-hempie aan waarop die woorde Harvard Business School gedruk is, en sy denimlangbroek maak sexy rafels op die kniee. Leonore wonder net vir ‘n kort oomblik of Don weet dat Harvard nie ‘n pub op die Kaapstadse hawefront is nie.
In teenstelling daarmee lyk Dawid en Jonathan soos ‘n tweemanskap in kontrak van een of ander grootnaam model-agentskap. Dawid in ‘n swart denim langbroek met ‘n wit T-hemp. Die Nike-teken steek traak-my-nie-agtig onder die onderbaadjie uit, en Jonathan in ‘n ysblou hempie waarvan die moue opgerol is om sy goed gevormde bo-arms te vertoon. Sy denimlangbroek is splinternuut en kraakvars.
Mooi manne, besluit Leonore en haal ‘n roos uit die bos wat sy gebring het, maar kinders wat nog nie een die statuur van ‘n bankbesturder het nie. Bernard bly nommer een vir haar.
“Is dit vir ons? Dit is pragtig,” jubel Jonathan en neem die blomme by haar.
“‘n Glasie wyn?” vra Dawid.
“Ja dankie. Maar vandag gaan ek stadig.” Leonore hou die los blom na die polisieman Don José toe uit. “Hierdie roos is vir jou.”
“Thanks,” mompel hy. Omdat hy nie eintlik weet wat om daarmee te doen nie, plak hy dit op die tafel langs sy bier neer. Dis seker die eerste keer dat ‘n vrou ‘n blom in sy hand druk. Na ‘n ruk begin die buitenste blare dorstig omkrul en hy druk die roos in sy bier, terwyl hy met moeite langs die stam verby drink.
Daar is ‘n bekoorlike onskuld in die gebaar en Leonore geniet dit om hom dop te hou, veral toe hy die verkilde gazpachio drink in plaas daarvan om die lepel te gebruik om dit te eet.
Die voorgereg lyk pragtig, maar Don José krap tussen die blare, viooltjies en kappertjies deur agter die diminitiewe stukkies vis aan. Hy hoop duidelik dat daar nog kos is waar dié vandaan kom, want sy kop bly draai kombuis se kant toe.
“Shit!” sug hy sag teenoor Leonore, toe Jonathan ‘n bolletjie sorbet voor elkeen neersit. “Dink jy MacDonald’s is vandag oop?”
“Moenie worry nie. Dis ‘n paletskoonmaker, daar kom nog baie gange. Die manne skeep nie af as dit by kos kom nie.” Leonore kan sien hoe haar woorde die konsternasie van sy gesig afvee.
Die gerookte beestong met brandewyn-rosyntjiesous, saffraanrys en Franse repiesgroente word keurig bedien.
“Het julle brood?” vra Don José. “Ek sal vir myself gaan sny, as dit moeite is.”
“Jy wag net hier. Ek bring.” Jonathan se kombuis is sy kombuis. Net Dawid word daar toegelaat en net wanneer hy nie self lus is om kos te maak nie.
“Wie is die mooi man wat gisteroggend elfuur uit jou huis geglip het?” vra Dawid toe Jonathan buite hoorafstand is.
“‘n Vriend wat gisteraand dringend slaapplek nodig gehad het. Bietjie bad luck gehad,” beduie Leonore en maak ‘n gebaar in die lug om te kenne te gee dat dit niemand belangrik is nie.
“Wie het bad luck met wie gehad? L’amour est un oiseau rebelle,” grinnik Dawid en skink haar glas weer vol. In Afrikaans vertaal: Die liefde is ‘n weerbarstige voëltjie. Jy kan nie daardie voël mak maak nie. En geen voël behoort aan net een vrou…of man nie.
“Sy naam is Matteo Cavallo. Hy was amper gekaap by die robot. Hulle het met sy geld, selfoon en beursie weggekom, maar hy het darem die bakkie behou. Buitendien, die man is getroud. Hy het vir sy vrou ‘n yslike groot diamant en smaragring gekoop. Maar hy is nou kwaad vir haar.”
“Hoekom? Dis Kersfees. Tyd van vergewe en vergeet. Jou eie sondes en dié wat teen jou sondig.”
Dis nie wat Leonore wil hoor nie. Al is Matteo nie haar tipe nie, wens sy dat hy iemand anders kan vind wat die ring sal waardeer. Iemand soos sy…
En jou reise en operas in Praag en Oostenryk? Jou luukse huis in Waterkloof? Jou Mercedes. Die man ry ‘n ou bakkie. Fokus op die prys. Kom terug aarde toe. Kom terug na die buurmanne se voorstoep met sy sitbadpoeletjie.
Leonore in die rol van Carmen, haal die roos uit konstabel Don José se bier uit. (Carmen is ‘n vurige verleidster, maar Leonore probeer om dit meer subtiel doen). Sy weet hoe om die man in iemand wakker te maak, sodat hy sélf die jagter kan wees. “Wat is jou gevoel oor die huwelik, Don? Is dit moontlik vir ‘n vrou om ‘n voël in ‘n kou aan te hou? Of selfs aan ‘n draad of ‘n tou? Kan ‘n man getrou wees?”
“Natuurlik. Ek was al vier keer getroud en nie aan een ontrou nie,” stel hy haar gerus en bejeën die bordjie wat Jonathan langs hom neersit met agterdog. Daardie swart halfmaan ding lyk beslis nie vir hierdie plat-op-die-grond aardbewoner na brood nie.
“Vier keer getroud. Nou hoe oud is jý dan?” vra Dawid. “Terloops, dis rogbrood, as jy nie weet nie.” En toe brom hy onderlangs: “Illiterate bastard.”
“Ek is al agt en dertig.” Don José snuif aan die brood en skuif die bordjie weg. “Not good. Die brood is af.”
“Af se voet,” roep Jonathan verontwaardig uit.
“Hierdie brood het nie voete nodig om uit te loop nie,” daag Don hom uit. “Dit pong.”
“Jonathan, die brood is oukei, dis rogbrood,” verduidelik Dawid met ‘n geduldge klank in sy stem. “Relax, Babes, die man ken dit net nie.”
“Het jy kinders?” vra Leonore.
“Nie waarvan ek weet nie. Whaa ka-ka.” Die konstabel lag uit sy maag, min gepla oor die seerkry-uitdrukking op Jonathan se mooi sensitiewe gesig.
“Maar jy het nie een van jou vier vrouens verneuk nie? Hoekom is jy dan geskei? Alle mans verneuk hulle vrouens, selfs die preutse bankbestuurder. Met my. Erken jou aandeel in die aardbol se mislukkings.” Leonore praat afgemete en wag dat die woorde diep insink en toe daag sy hom uit. “Kom nou, ons is niks van jou nie. Of het jy soos die meeste mans nie die guts nie?”
“Net een keer.”
Leonore sluk haar wyn met een teug weg en knyp die sigaret hard tussen die slanke vingers van haar ander hand. Ten minste hoef sy nie hier skelm te rook nie.
“Vertel!” As sy nie so fyn opgevoed was nie, het sy die sigaret op sy onderlip doodgedruk.
“Or forever hold thy peace,” waarsku Dawid toe hy die dreigende aggressie gewaar en skink haar glas weer vol. “Or pieces.”
“Sy het my uit die huis gejaag, want ek het saam met die manne gekuier. Toe gaan ek terug na die barlady toe. Sy was nice … Sy het my ‘n blow job gegee.”
“Ag nee sies man, en jou arme vrou. Hoe moet sy voel as sy weet?” Die keer het Leonore drank nodig. Sy ledig haar glas witwyn en keer die laaste druppels van die bottel daarin om. Ook maar goed so. Die rooiwyn wat Dawid saam met die beestong oopgemaak het, lyk duurder en meer gedistingeerd.
“Sy het uitgevind en my onder my alie geskop.” Don lag effens.
“Dis omdat julle mans meestal gevoellose monsters is, niks is vir julle heilig nie.” Leonore ruik aan die rooiwyn, proe fyntjies daaraan, rol dit op haar pallet en kom tot ‘n gevolgtrekking. “Julle manne mors met vrouens.”
“Dink jy ‘n man kan nie voel nie?” Don is opreg beledig en hoogs verontwaardig. “Ek het feelings vir al my girls. Ek voel vir hulle. Ek het vir elkeen gevoel voordat ek met hulle getrou het.”
“En binnekort gaan hy nog een voel,” besluit Dawid en knipoog ondeund vir Jonathan toe hy haar glas weer met die donkerrooi vloeistof vul. “Sal ons wed? Maar ons sit nie weer die hele wingerd op die spel nie, net ‘n klein trossie.” (Dis ‘n skuinserige verwysing na die opera I’Amico Fritz. Fritz was ‘n geharde oujongkêrel wat sy wingerd verloor het in ‘n weddenskap omdat hy beweer het dat geen vrou sy hart kon wen en hom van plan kan laat verander oor sy enkellopende status nie.)
“Ek het jou gehoor. Jy moet my nie cheap skat nie, Dawid.” Leonore werp die rugkant van haar hand gebelg teen haar beswaarde voorkop. Hy moet oppas, as sy haar humeur verloor, word haar tong maklik ‘n dolk wat kan steek. Maar nie vandag nie, sy het beter dinge om met haar tong te doen as om te sleep … steek.
Sy is so vererg sy sien kolle.
Jonathan se nagereg is ‘n wonderskepping met Port wat soos heuning in ‘n gebelgde keel afgly. Dawid se Ierse koffie en sigare word twee, drie en Leonore vergeet hoekom sy so die joos in was vir hom. En vir Don. Sy skuif nader na Don toe en tuur diep in sy olyfgroen oë.
Daar verskyn ‘n uitdrukking van verbouereerdheid op sy gesig. Hy is nie opgewasse teen Leonore se sjarme nie en sy geniet die situasie terdeë. Sy tel Don se hand met sigaar en al op en en bring dit na haar lippe. Suig behaaglik eers aan ‘n vinger en toe aan die sigaar en blaas die rook daarna weg van hulle af uit.
Don gaap van verbasing en Leonore kan net aanvaar dat geen van sy vorige geliefdes of vroue aan sy sigaar gesuig het nie. Sy sit die kersie op die koek deur vlindersag met haar vingers oor sy halfoop lippe te speel. Terselfdertyd stuur sy haar eie tong oor haar bloedrooi lippe.
Don gaap nog meer.
Dawid gaap ook. Hy verstom hom seker oor die kuns van verleiding wat sy so vervolmaak het. Kyk en leer, boetie. Jy kan ook die komponis van jou eie opera word.
Don José druk sy sigaar hard en met mening in die asbak dood. Dis ‘n geleentheid wat geen volbloed man kan laat verbygaan nie. Hy neem met oorgawe beheer van haar lippe. Hulle tonge dans ‘n tango van hartstog. Hulle lywe vertel die oeroue storie van hoekom Eva vir Adam gemaak is.
Die konstabel ag dit sy plig om haar te arresteer en weg te voer na geslote kwartiere.

Jy kan die Afrikaanse eboek Totdat die vet vrou sing vir R20 aankoop by liefdesverhalenmeer@gmail.com
Totdat die vet vrou sing … ‘n alternatiewe operagids is op Amazon beskikbaar vir kindle teen slegs $1.00 https://www.amazon.com/Totdat-die-vrou-sing-Afrikaans-ebook/dp/B01N2QHLRU
Untill the fat lady sings … is also available in english, for people who love alternative books. Because this is not your everyday read.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.