ePos vir my ‘n droom – Adele Reynders

epos
E-pos vir my ‘n droom – Adele Reynders

Copy right Adele Reynders
Oorspronklike uitgewer, hardekopie – Donker Sjokolade, ‘n druknaam van Malan Media (Edms) Bpk.
Nou onder die vaandel van Renzaboeke – Liefdesverhale 35+ en stories. Om te bestel, epos liefdesverhalenmeer@gmail.com koste R20.00 Jy ontvang eers jou boek en betaal daarna. Kies enige 3 titels en betaal R50.00 altesaam.

E-pos vir my ‘n Droom – Adele Reynders

Begin:
Nog nooit tevore kon sy uitstekende vakmanskap en pragtige hout so met die eerste oogopslag eien en waardeer nie. Van al die antieke en tweedehandse meubelstukke staan die buffet uit, statig soos ‘n middeleeuse katedraal tussen modderhutte. Soveel detail. Soveel warmte. Die kontras tussen ligte en donker hout, die draaiwerk en perfekte passings van die insetsels. Houtsneewerk in die deure gekerf met bytel en hamer, vergelyk met die presisie van moderne kraggereedskap. ‘n Meesterstuk geskep in ‘n era toe kwaliteit nie ter wille van ure, minute en produktiwiteit afgejaag is nie.
Liefdeswerk.
Die glans wat van binne uit die hout straal laat dit voortleef in fasette van grein en vlam. ‘n Monument wat ‘n siel huisves. Of ‘n praalgraf vir eens karaktervolle bosreuse wat met byl en saag van wortels en loof gestroop is.
Amanda stel nie in die buffet belang nie. Die ses-syfer-reserweprys plaas dit vêr bo haar vuurmaakplek. Dis in elk geval heeltemal te groot vir enige gehuggie wat sy in die laaste paar jare bewoon het. Om met die punte van haar vingers oor die glansende hout te streel, laat haar voel soos ‘n adelikke uit ‘n era lank vergete.
“Mooi nè.” Dit neem haar ‘n rukkie om te besef dat die man langs haar met haar praat.
Nog langer om uit ‘n soort hipnose te ontwaak en op te kyk.
“Pragtig,” kom dit uit haar hart. Beide, hý en die meubelstuk. ‘n Mooi mond. Hoekies wat effens afwaarts neig, twee, drie lyntjies langsaan wat dieper keep in ‘n glimlag, maar wat ook wys dat die lewe hom al gelouter het. Korterige donker hare met ‘n skynsel silwer, wat dit moeilik maak om sy ouderdom te skat.
Maar dis sy oë wat hare eenvoudig gevange neem.
Droommooi donkerbruin oë. Niks kan haar oorreed om weg te kyk nie.
So lyk ‘n engel wat gestuur word om aardlinge vreesloos weg te voer na die hiernamaals. Tydloos en betowerend aantreklik. Meer siel as mens.
Wie is hy? Nee, belangriker vraag: Wát is hy?
“La Loge, Auguste Renoir,” mymer die man. “Vir ‘n kort oomblik het jy soos daardie vrou in Renoir se losie-skildery gelyk. Blomme in jou hare. Swart en wit gestreepte baadjie, serp om jou skouers. Die hoë kantkraag van jou wit bloes. Selfs die oorbelle.”
Hy beduie met ‘n hand langs elke oor.
“Maar dis nie net jou klere nie. Dit was meer asof daar iets van die atmosfeer van die skildery vasgevang is in die dromerige uitdrukking op jou gesig. Dis waarskynlik hoekom Renoir haar op doek verewig het. Waaraan sou sy op daardie oomblik gedink het? Of was sy effens verveeld omdat perdewedrenne of operas nie haar belangstelling was nie?”
Sy oë trek effens nouer, asof hy dieper delf. Gedagtes lees? Telepatie. Die geluide rondom hulle vervaag tot ‘n gewyde stilte, ‘n lugleegte, ‘n kokon wat alles en almal anders uitsluit.
“Of veilings?” wonder hy.
Hy praat nie met haar nie. Sy woorde is vir iets of iemand anders in ‘n ander dimensie bedoel. Of vir homself. Dit fassineer haar.
Hy trek sy skouers op en ‘n amper verleë uitdrukking verskyn op sy gesig wat hom so ‘n klein bietjie na ‘n gewone mens laat lyk. “Skuus, ek is nie ‘n woordkunstenaar nie. Miskien dink jy nou dit was ‘n poging om by jou aan te lê. Dit was nie so bedoel nie.”
Uiteindelik moet sy praat. Sy stotter effens, onseker of sy haar stem kan vertrou: “Alles reg. Ek beskou dit glad nie in daardie lig nie.”
“Stel jy belang in die buffet?” vra hy en ‘n glimlag eggo in sy oë.
“Nee glad nie. Dit is net vir my mooi. En regtig duur.”
“Dit is.” Sy kop kantel effens na regs en hy trek sy skouers op, asof hy om verskoning vra vir al die nulle agter die bedrag.
“Mens moet ‘n baie groot huis hê hiervoor. Of ten minste ‘n groot eet of sitkamer.”
“‘n Spesiale plek in ‘n groot huis,” stem hy saam.
“Stel jý belang om te koop?” wonder sy.
“Nee, ek wil dit verkoop.”
“Hoekom sal enigiemand so iets wil verkoop?” wil sy verbaas weet.
“Iemand het dalk nie meer ‘n spesiale plek in ‘n groot huis nie,” antwoord hy en die humor kom lê vlak in sy donker oë en maak sulke bekoorlike kreukeltjies langs die buitenste hoeke.
Die gelui van ‘n klok iewers in die groot vertrek laat hulle albei omswaai. Terugkeer na ‘n lokaal waar duur en waardevolle kunswerke en ou meubels opgeveil word.
“Dit gaan begin. Miskien loop ons mekaar weer eendag raak, La Loge,” sê die man en stap sondermeer weg.
“Dalk.” Amanda Kruger bly staan en vat aan die hoë kraag van die wit sybloesie wat sy van haar ma geërf het. Dis ook haar oorlede ma se pêrels wat sy om die kantkragie gedraai het. Twee ligpienk syblomhaarknippe moes ‘n bos deurmekaargeslaapte skouerlengte ligbruin hare tem. Sommer so skeef vasgesteek, eenkant op haar kop. Hangoorbelle van nagemaakte pêrels en diamante wat sy vir kleingeld by haar gunsteling Chinese ’boutique’ gekoop het.
Dit was besig om laat te raak en sy moes ry. Daarom gryp sy toe so in die uitstap die swart en wit Hospiesbaadjiefonds wat haar vriendin haar uitgedaag het om te koop.
Niks wat sy vanoggend in een van haar haastige, ietwat skuinsdeurstreepte kunstenaarsoomblike aan haar lyf getrek het, kan in valuta met enige van die kosbaarhede rondom haar vergelyk nie.
Tog het dit gesorg vir ‘n een in ‘n miljoen oomblik, wat met geen geld of kredietkaart gekoop kan word nie. ‘n Oomblik gevries in tyd. ‘n Koolstof afdruk van die bewuste na die onderbewuste.
Of die man sy vergelyking as ‘n pluimpie of ‘n grap bedoel het, kon sy nie met sekerheid agterkom nie. Sy sal seker nooit regtig weet nie, want dit het eendag ‘lank lank gelede,’ by ‘n veiling gebeur.
En sy het haar droomman nooit weer gesien nie …
Nie in die twee ure wat sy by die veiling was nie en ook nie in die twee weke wat tussen toe en vandag verloop het nie.

Hoofstuk 1

Amanda kan nie onthou dat sy al ooit tevore in haar lewe so die joos in was nie. Sy klop nie, stap in, gooi haar handsak op buurvrou Linda se helder pienk bank neer en lanseer die pizzaboks in die basiese rigting van die kombuistoonbank.
Dis verbasend dat die boks veilig land, sy remme kry en nie anderkant afneuk nie.
Sy is so haastig uit Menlyn weg, dat dit ‘n wonderwerk is dat sy en haar bakkie die huis sonder enige insidente gehaal het.
Maar waaroor sy seker regtig moet dankie sê is die feit dat sy nie ‘n halfuur gelede ‘n aar in haar kop gebars het van woede en nou iewers in die waakeenheid van ‘n hospitaal lê en ly nie.
Of beswyk het nie.
“Jy is vroeg terug,” steek Linda haar voelers versigtig uit. “Ek dog jy en Willempie kuier so lekker dat jy eers huis toe kom as die eerste haan kraai om ‘n nuwe dag aan te kondig.”
“Jy dog verkeerd! Dit was my eerste en laaste afspraak in ‘n kort en aaklige DatingBuzzz nagmerrie.” Dit is eintlik alles haar eie skuld dat sy in hierdie verknorsing beland het. En die droom mooi man van die buffet. Vandat sy hom gesien het, glo sy weer in sprokies en liefdesverhale met mooi eindes. Dat daar iewers ‘n held is vir elke heldin.
“Raak rustig. Sit, en vertel my wat jou so ontstel het.”
“Ontstel! Ek is nie ontsteld nie. Ek is kwaad. Vanaand haal ek my profiel van die Buzzz af.” Amanda kan nie gaan sit nie, al wil sy. Alles in en aan haar loop op en af. Nee, spring op en af. Selfs haar bloeddruk.
“Mens moet geduld gebruik om ‘n kwaliteit man raak te Buzzz. Die eerste een gaan nie die beste man wees nie,” paai Linda rustig en skakel die ketel aan.
“Dit gaan geen man wees nie,” braak Amanda gal en wonder hoe die broodmes in haar hand beland het. As sy ‘n halfuur gelede so lekker skerp mes opgetel het, het bloed in Cappuccino’s gevloei, nie net pastasous nie. “Daar is nie iets soos kwaliteit op daardie Buzzzted site nie. Die waarheid is, daar bestaan nie ordentlike mans nie, net in storieboeke en in vroue se ryk verbeelding.”
“Jy kan nie tot daardie negatiewe gevolgtrekking kom ná net drie dae op die webwerf nie. Kyk weer. Daar is iewers in die land ‘n wonderlike man vir elkeen van ons, en hierdie spesifieke sosiale netwerkwerf gaan ons help om hulle te vind.”
“Nee, dit veroorsaak dat ‘n mens adders en skurke aan jou boesem koester.”
“Sit tog net die mes neer. Dit maak mý bang as jy so beduie …” Linda staan eenkant toe.
“Jammer.” Amanda druk die mes in sy gleuf in die blok terug.
“Natuurlik is daar suksesstories op die Buzzz. Mense wat uiteindelik gelukkig getroud is.”
“Noem een geval,” daag Amanda haar uit. Linda tel die mesblok op en sit dit doer ver neer.
“Twee, Edward en Annemarie en Riana en Peet. Maar vergeet eers van hulle en vertel my wat met jou en ‘Superdad’ verkeerd gegaan het.”
“Die man is ‘n fake.” Sy trek ‘n hoë stoel langs die kombuistoonbank uit en gaan sit uiteindelik.
“Gee vir my net so ‘n ou buitelynsketsie van wat vandag gebeur het.”
“Goed, in kort.” Amanda trek haar asem diep in. “Ons Buzzz mekaar drie dae gelede raak, skryf mooi briefies tot laat in die nag en reël om mekaar vandag tweeuur by Cappuccino Menlyn te ontmoet.”
“Willem is betyds, wat my regtig beïndruk. Ons bestel elkeen ‘n pot tee en hierdie pizza.” Amanda tik op die boks voor haar.
“O, ek dog jy het die pizza vir ons twee gekoop,” spot Linda en gooi koffiekorrels en kookwater in die bekers toe die ketel afklik.
“Dit is nou ons s’n, ék het daarvoor betaal.”
“Fantasties, dit ruik heerlik.” Linda pak borde, messe, vurke en servette op die toonbank uit.
“Terwyl ons vir die bestelling wag, lyk dit aanmekaar of die man skeel is, want sy een oog draai heeltyd deur se kant toe. En toe uit die bloute gly die vent uit sy stoel en sak onder die tafel in net soos wat ‘n groot slap jellie uit ‘n lepel sal glip. Sjoep swap.”
“Wat?” Linda proes, voordat sy melk en suiker nader bring. “Hoekom?”
“Wonder ek toe ook! Daarom kyk ek om, om te sien wat hom bang gemaak het. En daar by die deur kom so ‘n statige vrou ingestap en sy kyk die tafels een vir een deur en stop langs ons s’n.”
“Oeps. Sy vriendin?” Linda gaan sit kaplaks op die ander stoel.
“Sy vrou! Hy is toe al die tyd getroud. En sy het gewéét hy is daar onder die tafel.” Amanda raak aan haar wang wat weer lekker gloei.
“Op heterdaad betrap. Dink jy die ander mense in die restourant het agtergekom iets is aan die gang?”
“Natuurlik het hulle agtergekom. Dit was so spektakel dat niemand dit kon mis nie. Mevrou het in sy stoel gaan sit en onheilspellend gesis: los my frieken man uit. En toe skop sy hom dat hy reg voor ‘n kelner in die paadjie beland en jy sien net Alfredo trek.”
“En Alfredo is nie die kelner se naam nie. Dis ‘n souserige pasta?”
“Vriendin, as jy nou op musiektrivia was, het jy al jou geld behou.” Amanda tel ‘n skyf pizza op en byt daarin. Kou en sluk. “Na vandag sit ek nie weer my voete in Menlyn nie en ek klim van die Buzzz af.”
“Nonsens, dis geldmors. Ons het vir ‘n maand betaal en ons gaan dit ten volle benut. Ons verander jou profiel ‘n bietjie, verbreed jou horison en gee vir jou ‘n nuwe naam.”
“Verbreed my horison, hoe?” vra Amanda agterdogtig. “Onthou ek het gesê ek wil nie te veel oor myself op die Buzzz uitlaat nie.”
“Ek stem saam! Net genoeg om die manne nuuskierig te maak.” Linda het ‘n admin oggendpos in ‘n skoolkantoor waar sy heeltyd op die internet is. Dit maak haar baie meer gesout met die netwerke soos Buzzz en Facebook as wat Amanda is. “Waar is jou foon?”
“Los my foon, ek verwag ‘n belangrike oproep van iemand vir wie ek werk gedoen het.”
“Jou oproep sal steeds deurkom, al is ek op die internet.” Linda gaan haal die foon en sit dit in haar hande. “Log in dat ek kan sien wat hier op jou profiel aangaan.”
“Jy moenie op my profiel droogmaak nie. En my foto bly ge-hide. Slegs vir die oë van mans wie se attensies ek aanvaar,” waarsku Amanda, terwyl sy aanteken en die foon vir haar teruggee.
“Daar stem ek met jou saam.” Linda blaai vinnig deur die inligting. “Die man moet eers lees en jou op grond van wedersydse belangstellings as gunsteling merk. Maar genade, kom ons kies tog net eers vir jou ‘n nuwe skuilnaam.”
“Los my skuilnaam. Huishen pas by my. Ek wil eendag ‘n huisie in die bos besit en daar gaan nesskrop.”
“Huishen lok mans wat ‘n moederkompleks het.”
“Goed, skryf Auguste. Soos in Auguste Renoir, die groot Franse impressionis …”
“My arme vriendin. Jy kan maar net nie die geheimsinnige held van die veiling uit jou kop kry nie. Vergeet hom Amanda, dit was ‘n skim, ‘n spook wat hom vir minder as een minuut aan jou gemanifesteer het en daarna teruggeklim het in een van die laaie van sy groot buffet.”
“Soms kan een minuut jou vir ‘n leeftyd bybly. Buitendien, ek het ook skilder aspirasies soos Renoir. Weet jy dat hy aanvanklik op porselein geverf het, voordat hy as portretunstenaar naam gemaak het?”
“Onbruikbare inligting.”
“Nie vir my nie,” raas sy sommer.
“Ek probeer net help. Jy skryf goeters wat dowe musikante, blinde skilders en arm digters na jou toe aantrek. Dink prakties Dink oorlewing! Kan ons nie net ten minste die inkomste van jou potensiële held opskuif nie?”
“Nee Linda, ek het jou al hoeveel keer gesê ek wil nie ’n man ontmoet wat spog met sy inkomste nie. Gewoonlik oordryf hulle daaroor. En as hulle nie oordryf nie, is hulle ondraaglik arrogant.”
“Dan moet ons maar ooreenkom om oor daardie puntjie te verskil.”

Natasha bel eers ‘n uur nadat Amanda en Linda klaar gekuier het.
Dis regtig ‘n eienaardige vrou, besluit Amanda vir die hoeveelste keer. Maar dan is die meeste kunsmense half op ‘n planeet van hulle eie. Dit het sy al in haar studente-jare agtergekom.
“Is die projek voltooi?” wil die vrou weet. “En niemand het gesien terwyl jy daaraan werk nie?”
“Ja, jy kan maar kom haal.” Natasha het haar die dood voor oë gestel oor geheimhouding. As sy so klink wil Amanda skoon loer of die bossies oë het en haar ligskakelaars afluister-apparate. “Ek het mos al vir jou gesê niemand word in my studio toegelaat nie.”
“Is jy alleen? Ek is op pad.” Soms maak Natasha haar regtig ongemaklik. Sy kan sweer die swartkop-vrou praat doelbewus met ‘n aangeplakte Russiese of watter land ook al se aksent. Daardie reuse-swartraamsonbril wat sy selfs in die aand dra is so uit die mode, dat Amanda al menige kere gewonder het of dit nie van Noag se gesig af geval het, toe hy die onderste trappie van die ark misgetrap het nie.
‘n Halfuur later kom Natasha met haar rooi BMW ingery. Soos gewoonlik kyk sy eers rond voordat sy uitklim en ingestap kom. Nadat sy die skildery bekyk het, haal sy ‘n koevert uit haar jas se sak en pak die note op die tafel uit, sodat Amanda self kan sien dat dit die bedrag is waarop hulle ooreengekom het.
“Ek moet jou komplimenteer. Dis ‘n besonder goeie stuk werk. Daar is ‘n merkwaardige verbetering in vakmanskap, sedert jou eerste skilderye.”
“Dankie.” Amanda voel ook so, al is sy te beskeie om dit hardop te erken. Sy moes wel met ‘n paletmes die olieverf oor ‘n seilafdruk van die oorspronklike skildery werk, maar om daardie presiese tekstuur van die oorspronklike skildery met ‘n paletmes reg te kry, verg fyn waarneming en goeie tegniek.
Die meeste versamelaars van die werke van ou meesters, sal moet naby kyk om nie gebluf te word nie. Maar in die regte raam sal min van hulle die moeite doen om dit as ‘n namaaksel te probeer uitwys.
Of naby ruik… olieverf het net ‘n manier om vir maande, selfs jare daardie lynsaad olie en terpentynreuk subtiel aan ‘n kenner te verklap.
Natasha se oë gly oudergewoonte oor Amanda se eie stokperdjie skilderytjies in die studio en toe trek sy haar asem skerp in. “En dit?”
Sy stap nader en verstel aan Noag se bril, asof dit effens uit fokus is en heeltemal te donker om die waarheid te praat.
“‘n Selfportret. Dis die vrou in Renoir se losie,” stamel Amanda selfbewus. “Ek het die gesig verander dat dit na my moet lyk.” Was sy nou simpel om die halfgeverfde doek so oop en bloot daar te laat staan? Dis háár geheim en nie vir Natasha se oë bedoel nie.
Natasha draai haar rug effens op Amanda en lig die bril om daarsonder te kyk.
“Interessant. Die werkie oortuig my dat jy gereed is om op die ou meesters se portretstudies ook te werk. Ek bring binne ‘n week vir jou ‘n groot uitdaging. Die geld sal goed wees.”
Daarna tel sy die oorspronklike Irma Stern skildery op en stap vooruit na haar BMW toe.
“Waarsku asseblief die eienaar om nie oor die nuwe doek te vryf of iets daarop neer te sit nie. Die verf is nog sopnat.” Amanda laai die namaaksel versigtig in Natasha se duur kar se bak.
“Moenie bekommerd wees nie. Ons sal dit soos goud hanteer.”
Sy wil sê, nee, moet juis nie. Goud is hard, die verf is nog nat en sag! Maar sy kon nog nooit agterkom dat Natasha humor waardeer nie. Haar gesig is meesal uitdrukkingloos soos ‘n masker, terwyl die groot donker lense haar oë heeltemal wegsteek.
Soms laat dit Amanda dink aan die yslike alsiende en uitdrukkinglose oog van ‘n hottentotsgot, wat wag dat ‘n prooi naby genoeg aan sy grypers verbystap.
“My klant sal verheug wees om die oorspronklike skildery nou in sy kluis te kan wegsluit,” verklaar Natasha en maak die bak toe. “Soos wat ek reeds gesê het, die risiko met die huidige vlaag van kunsdiefstal is net te groot om ‘n skildery van driemiljoen rand teen jou sitkamermuur te hang.”
Sy hamer gereeld op daardie punt en Amanda kan dit heeltemal verstaan. Selfs al verseker jy die skilderye van die ou meesters vir baie geld, is dit onvervangbaar. Volgens Natasha sluit verskeie kunsversamelaars nou die oorspronklikes in die kluis weg en hang ‘n goeie namaaksel in sy plek op.
Nie ‘n afdruk nie, dis te opsigtelik en te goedkoop.
Die werk moet van so aard wees dat dit vriende, kennisse of selfs die mees ingeligde dief sal flous.
Dit is die gehalte waarna Amanda streef. Om ‘n kunsdief genoeg te flous sodat die eienaar kan rustig slaap. Vandat sy Natasha leer ken het, werk sy harder as ooit tevore om suksesvol te wees. Behalwe dat skilderwerk haar groot vreugde verskaf, het sy die afgelope jaar meer geld gemaak as in al die jare van finansiële droogte kort na haar egskeiding.
Kontant!
Sy was op die regte tyd, op die regte plek. Dit was by ‘n stokperdjie en klub-uitstalling waar Natasha haar skilderpogings raakgesien het. Sy het beweer Amanda se visserhuisies beskik oor dieselfde naïwiteit as Maggie Laubser se werke en haar uitgedaag om een na te maak. Nie om te verkoop nie. Bloot ‘n leerkurwe.
Dit het Amanda ‘n volle week geneem voordat sy genoeg selfvertroue kon bymekaarskraap om Natasha te laat weet dat sy die skildery klaar het.
Al was Natasha nie in ekstase oor die resultaat nie, het sy dit gekoop en Amanda toe by die geheim van haar skatryk kliënte ingelaat. Daar was ook ‘n belofte van vele ander werke wat sou volg.
Natasha, beskermer van die kunste het woord gehou. Hierdie Irma Stern is die sesde skildery. Boonop het sy Amanda ‘n week na hulle eerste ontmoeting aan Reuben Abrahamovici voorgestel. ‘n Gesiene kunshandelaar wat vir haar verdere deure oopgemaak het. Hy het haar op ‘n spesiale kursus in Italië gestuur waar sy geleer het om beskadigde ou skilderye te restoureer. En sedertdien kan sy nie voorbly met werk vir hom ook nie.
Die belangrikste ding wat sy egter in die proses geleer het, is om ‘n geheim te hou. Bitter min van die eienaars van peperduur skilderye loop met hulle skatte te koop. Juis omdat dit so maklik gesteel kan word.
“Die superryk versamelaars is soos walvisse in die kunsoseaan. Moenie hulle onderskat nie, moenie hulle senuweeagtig maak nie. En moenie in hulle pad beland nie,” is woorde wat Natasha gereeld gebruik.
Amanda neem hierdie waarskuwing ter harte. Sy wil glad nie in hulle pad beland nie. Sy sal verkieslik so hier en daar ‘n ou klein klippie uit hulle roetes rol en onsigbaar bly. Op daardie manier doen sy haar beskeie deeltjie vir die kunste.

Hoofstuk 2

Milan Roux voel vanaand heeltemal uit sy vaarwater. Dit is nie gewoonlik vir hom nodig om vroue by enkelgroep byeenkomste of op sosiale netwerke te ontmoet nie. Daar is genoeg mense wat hom as ‘n uitstekende ‘belegging’ beskou en daarom gereeld beskikbare dames aan hom voorstel.
Dames getroud of ongetroud snuffel hom uit en meld vanself genooid of ongenooid op sy drumpel aan. Sommige is interessant, ander vervelig, party popmooi en goed versorg ander gewoon en aards.
Maar geeneen van hulle het hom nog ooit so gefassineer soos die stil, geheimsinnige vrou daardie Saterdag op die veiling nie. Hy het haar nog nooit tevore daar raakgeloop nie. Nie dat hy elke Saterdag self gaan nie. Maar hy sou haar onthou het.
Of sou hy?
La Loge … Die reïnkarnasie van ‘n baie ou skildery.
Nie dat sy outyds gelyk het nie. Inteendeel. Daarvoor was die hele prentjie net te kosbaar, selfs kostelik, al kan hy nie vir een oomblik glo dat sy haar aspris soos Renoir se broer se vrou in die prent opgetooi het nie. Sy was buitendien te verras en onkant gevang deur sy opmerking.
Wat het hy op daardie oomblik op haar gesig gelees? Kwesbaarheid, weerloosheid? ‘n Vrou wat al deur die lewe rondgeslinger is en bang is vir nog seerkry.
Daar moes iewers in die hoë balke van die saal ‘n vet klein seuntjie met ‘n pyl en boog geskuil het, want op daardie oomblik was daar ‘n vreemde steekgevoel presies daar waar sy hart sit. Alles rondom hulle het vervaag. Hy het ‘n ongekende gevoel van deernis jeens haar ervaar. Hy wou haar omhels en styf vashou. Haar die versekering gee, dat enigiets of iemand wat haar skade wil aandoen, met hom te doen sal kry.
As twee siele mekaar kan ontmoet op ‘n geestelike vlak, waar verstand, rede en die konkrete nie kan bykom nie, is dit wat met hulle gebeur het. Iewers in ‘n ander dimensie, op heilige grond, asof dit hulle was wat daar in die uitkykhokkie van die operahuis of by die perdewedren vasgekeer was.
En toe lui die klok.
Later by die huis het hy sy boek met wêreldbekende skilderye uit die boekrak gehaal en weer na haar gekyk. Nie na die vrou langs die buffet nie, maar na La Loge, die skildery. Sommige bronne praat van ‘n losie by die perdewedrenne. Ander beweer dis in operahuis. Wat maak dit saak? Hy is versot op die skildery se atmosfeer.
Wat ‘n belewenis om die emosie daarvan in die regte lewe te kon ervaar, al kan hy nie meer die vrou se gelaatstrekke onthou nie.
Hy twyfel of hy haar sal herken as hy haar ooit weer sien.
Hy moes haar naam gevra het en haar nommer.
As hy dit gedoen het, was hy nie nou op ‘n yskoue aand in Augustus oppad na ‘n goedkoop restourant toe nie. Dit glo hy vas.
Dit sou ook nie vir hom nodig gewees het om langer op die Buzzz rond te ploeter nie.
Kollega Roelof het dit afgelag toe hy met sy La Loge-storie kom. Die man het goed kwytgeraak in die lyn van ‘was heeltemal te lank met net een wederhelf getroud, hulpelose romantikus en gepla met spoke van gister.’ Uiteindelik het hy tot die gevolgtrekking gekom dat Milan besig is om varkies te verloor omdat hy ‘n vrou nodig het en hom onmiddelik op een van daardie afspraaknetwerke help inteken.
Dit is ‘n plek waar ‘n man glo na bewering duisende oulike en waardige vroue kan raak Buzzz. As hulle dan boonop deel is van hierdie gesofistikeerde enkellinge groep, ontmoet Roelof hulle op ‘n Donderdagaand in hierdie restourant.
“Dis veiliger as alleen in ‘n restourant,” het Roelof verduidelik.
“Hoe kan ‘n restourant nie veilig wees nie? So vrou is darem nie heeltemal ‘n blinde afspraak nie. Ons het mos al op die Buzzz gesels.”
“Lede wat deel is van die groep ‘Geheime enkelinge’ is gekeurde professionele enkellopendes,” was Roelof se verklaring. “As jy nie tevrede is met jou oorspronklike keuse nie, kan jy op dieselfde aand iemand anders ontmoet.”
“Met ander woorde, jy of sy kan aanbeweeg, nog voordat julle ge-arriveer het?” wou Milan half tong-in-die-kies weet.
“Korrek. Mens noem dit ‘operate’, Milan. Op ons ouderdom is daar nie meer tyd om te mors nie.” En toe sug hy amper spytig. “So baie dames, so min tyd om hulle deur te werk.”
“Deur te werk? In die lewe …” Milan het maar net sy kop in ongeloof geskud en besluit om eerstehands te kom uitvind waarvan Roelof praat.
Hy parkeer in die oop spasie langs Roelof wat al in sy Alfa wag sodat hulle kan saam instap.
“Dis sy daardie,” beduie Milan. Hy herken haar van haar profielfoto en stap nader. “Germaine Gericke?”
“En jy moet Milan Roux wees. Aangenaam.”
“Voorwaar aangenaam.” Hy bedoel dit. Sy is selfs mooier as op haar profielfoto. So moderne dame kan hom laat vergeet van sy tweeweke lange beheptheid met ‘n prentjie wat uit ‘n kunsboek gestap het.
As die La Loge-vrou ander klere aantrek of die kostuum uittrek en haar hare ‘n slag behoorlik kam, bars die beeld waarskynlik soos ‘n delikate seepbel wat deur die wind weggewaai word. La Loge is ‘n droombeeld wat nie bestaan nie.
Germaine is realiteit.
Hulle meld aan by ontvangs, waar Milan moet vorms invul omdat dit sy eerste kuier saam met die groep is. Germaine kom blykbaar gereeld daar en Roelof is na sy sewende besoek die afgelope twee maande ‘n bekende gesig.
“Hoekom het ek jou nog nie tevore hier raakgeloop nie, Germaine?” fluister Roelof agter hom vir haar. “Ek en jy kon ‘n item gewees het.”
Milan is lus en tree terug en trap die man se toon flenters. Dis tipies van Roelof om so openlik in sy slaai te probeer krap. Behalwe dat die man vir hom werk, is hulle sogenaamde vriende. En as ‘n vriend so maak wanneer hy dink mens hoor hom nie, wonder Milan of hy vyande nodig het.
Blikskottel!
“Jy reken?” lag Germaine Roelof se attensies af.
Milan krap die minimum inligting op die vorm en gee Roelof ‘n vuil kyk, voordat hy vir Germaine na ‘n eenkant tafel toe beduie. “Sal ons gaan sit?”
“Jy is die eerste vrou op die Buzzz wie Milan bereid is om in persoon te ontmoet.” Roelof sleep soos ‘n rafel aan ‘n nuwe trui saam. Hy trek vir Germaine ‘n stoel uit en gaan sit self. “Milan was ‘n instant hit. Tweehonderd een en tagtig vroue het hom binne die eerste drie dae as favourite gemerk.”
“Roelof, ek kán my eie praatwerk doen.” Milan weet nie waar om sy kop in te druk nie. Hy is nou sommer vies dat hulle hier is. Hoekom het hy nie maar vir Germaine op ‘n gewone koffie afspraak geneem nie? Sonder Roelof.
“‘n Instant hit? Verstaanbaar, met so aantreklike voorkoms!” merk die pragtige, goedversorgde rooikop op. “Dan gaan jy seker vir die volgende paar maande te besig wees met deurblaaiwerk. Maar ek is nogtans bly om die eerste een te wees wat jou in lewende lywe ontmoet.”
“Ons moet natuurlik ‘n klomp dames elimineer,” brei Roelof verder uit.
“Ons? Nou wat is jou rol in die Milan Roux-afparing-sage?” wil sy skynbaar geamuseerd weet.
“Ek is Roelof Pieterse, sy rekenmeester. Ek is ook op die Buzzz.” Dan mompel hy. “Weet regtig nie hoekom ons twee nog nooit bymekaar uitgekom het nie.”
“Miskien deel ons nie dieselfde belangstellings nie,” sê sy met ‘n skalkse laggie.
“Dis onmoontlik. Wat vir Milan reg is, is reg vir my ook. Wat is jou roepnaam?”
“Roelof, daardie oulike dame wat pas ingestap het, lyk asof sy jou ken,” val Milan hom in die rede. “En sy lyk na jou size. Sien jou later.”
“Oukei.” Hy draai stadig om en kyk deur se kant toe. “Ek sien haar nie. Waar is sy nou?”
“Daar na agtertoe gestap. Verste hoek van die restourant.”
“Size?” vra Germaine geamuseerd toe Roelof traag opstaan en wegloop. Uiteindelik dring dit tot hom deur. Hy is nie genooi om saam te kuier nie.
“Twee en dertig langbroek, agt en dertig bloes en blonde hare wat op haar alie hang,” verduidelik Milan laggend.
“Is dit nie wat alle mans soek nie?”
“Nee, party is darem al verby daardie stadium.”
Iemand tik op ‘n glas en die sameroepster heet almal hartlik welkom. Wanneer sy die reëls vir die nuwe lede uitspel, rus haar oë eers belangstellend op Milan, toe effens afgunsig op Germaine, waarna sy weer terugkyk om hom van kop tot tone te bestudeer.
Dis haar reg as keurder, voorsitter en ystervrou van die ‘singles.’ Die Petrus wat jou deur die poorte van die hemel laat instap of omdraai.
“Wie is sy?” wonder Milan.
“Theresa. Sy reël die byeenkomste, sodat sy eerste opsie op al die nuwe vangste kan kry,” lig ‘n ou agter Milan hom in. “Noudat sy jou selfoon nommer het, sal sy ‘n verskoning kry om jou te bel. Sy het jou deurgekyk en sy hou van wat sy sien.”
“Izzit?” En hy besluit: Dit is nie die soort kyk wat ‘n man van suster Theresa sou kry nie. Die vrou is nie ‘n non nie en sy maak geen geheim daarvan nie.
“Jip. Jy is nuut hier. Ek sê maar net,” grinnik die man weer.
“Wat is hierdie plek? ‘n Recycle bin?” brom hy omgekrap. Daarvoor kry hy stinkmuis-kyke van orals af.
Van daar af bly hy liewer stil. Tjoepstil.
“Ek wou jou al gevra het, is jou naam Milan, soos in Milaan, Italië?” vra Germaine toe hulle weer mag gesels.
“Netso. Sal ek vir ons ‘n bottel wyn koop?”
“Ja dankie, ek drink enige goeie wyn. Wit of rooi.” Nadat hy met die kelner gepraat het vra sy: “‘n Italiaanse oupa, ouma, ma?”
“Dis nie ‘n familienaam nie. My ma was bloot net gek oor Italië.”
“Ook lief vir kuns, soos wat jy op jou profiel noem?”
“Dis sy wat ons lief gemaak het vir kuns. Baie by haar geleer. Ure saam met haar in kunsmuseums deurgebring.” Hy lag effens voordat hy bieg. “Aanvanklik was dit ‘n pyn. Deesdae verskaf dit my al hoe meer plesier.”
“Selfde hier! Ek sal ure bestee in die kunsmuseums in Europa en selfs hier in Suid-Afrika.”
“Versamelaar?” wil hy weet.
“Glad nie. Ek het wel ‘n paar erfstukkies. Niks om oor huis toe te skryf nie.”
“Sal graag wil sien.” Dit is vir hom klaar duidelik dat hierdie vrou aan al die standaarde voldoen wat hy van ‘n vrou vereis en sommer baie meer. Behalwe haar pragtige voorkoms, het hy op haar profiel gelees hoeveel ander gemeenskaplike belangstellings hy en sy deel, soos dans, fliek en reis. Sy hou ook van kampeer, die bos en plaaslewe. Sy is vrolik, vriendelik en sosiaal, net die soort vrou wat by hom sal pas.
Die donkerblou SLK waarmee sy vroeër in die parkeer area stilgehou het, wys dat sy boonop ‘n reuse sukses van haar loopbaan as eiendomsagent maak.
Een ding wat hy nie wil wees nie, is die held wat ‘n vrou uit haar finansiële verknorsing moet haal nie.
“Dans?” Germaine steek haar hand na Milan toe uit.
Op die dansvloer neem Milan haar regterhand in syne, sit sy linkerhand op haar middel en hou haar op ‘n kuise afstand. Terwyl hulle dans, beweeg sy tot teen sy bors en sy hand gly vanself oor haar rug. Hy wonder oor haar borste teen hom, want hy voel nie die onderkleertjie wat daardie tweetjies so jeugdig en perfek in posisie hou nie.
Dit moet chirugies wees besluit hy, aangesien sy nie meer so jonk is nie.
Met die tweede dans laat sak sy haar linkerhand en verskuif sy regterhand na haar lae lae rug. Haar rompie is glad en die gedagte dat hy ook nie die riffie van ‘n onderkleertjie daar voel nie, stuur ‘n ongevraagde sensasie deur sy lyf.
Groen oë koggel in syne, asof sy agterkom dat sy longe nou veel harder moet werk om die liters bloed wat die nuwe haastige ritme van sy harklop genereer te hanteer.
Haar asem is warm teen sy wang wanneer sy fluister: “Jy dans goed. Ek kan my maklik in jou arms verloor.”
“H-m.” Hy dreig om sy kop te verloor toe haar lippe per ongeluk aan syne raak, terwyl sy haar kop draai. Sy ruik hemels. Veral haar hare…
Wanneer laas was hy bewus van soveel sintuie wat gelyk saamwerk om ‘n vrou te waardeer? Twee weke terug met sy Renoir-prentjie vrou.
Van wie hy liefs moet vergeet …
Hy en Germaine eet iets kleins en teen tienuur besluit hy om vir eers halt te roep.
“Nou ja, dit was goed om jou te ontmoet, maar ek moet ongelukkig gaan.” Hy haal sy beursie uit sy baadjiesak. “Ek sal ons rekening vereffen, maar jy is natuurlik welkom om langer te bly.”
“Moet jy regtig nou al gaan?” Sy is opsigtelik teleurgesteld omdat die aand so vroeg moet eindig.
“Môre is vir my ‘n werksdag.” Hy wys vir die kelner om die rekening te bring. “Ek moet erken dat ek jou geselskap regtig baie geniet het. As jy ook so voel, kan ons mekaar beslis weer sien”
“Wat is werk vir jou?” vra Germaine, terwyl hulle wag dat die kredietkaart transaksie verwerk word.
“Koop en verkoop.” Hy teken die strokie en staan op. Waai ‘n groet in Roelof se rigting, wat skaars opkyk. Die man is besig.
“Wag vir my, ek gaan ook nou ry.” Germaine tel haar handsak en jas op. “My dag begin ook vroeg. Ek ontmoet ‘n potensiële huiskoper negeuur môreoggend.”
Hy help haar om die jas aan te trek en laat haar voor hom by die deur uitstap.
“Gesels ons verder op die Buzzz of gaan ek jou weer hier by die Singles sien?” wil sy weet waanneer hulle by haar kar kom.
“Ek glo nie ek sal gou weer hiernatoe kom nie. Maar ons twee sal mekaar weer sien,” beloof hy.
“Wanneer? Nadat jy jou honderde bewonderaars op die Buzzz deurgekyk het?” Daar is ‘n spotklank in haar stem.
“Natuurlik nie,” keer Milan en besluit impulsief. “Wat van môreaand? Uiteet by ‘n lekker restourant? Behalwe as jy reeds ‘n ander afspraak het.”
Hy onthou skuldig dat sy broer en skoonsuster hom lankal genooi het om Vrydagaand daar te gaan braai. Maar hulle behoort te verstaan dat daar soms belangriker dinge kan opduik wat sy onverdeelde aandag verg.
Soos ‘n mooi vrou. Behalwe dat hy ‘n spesmaas het dat skoonsuster weer een van haar alleenloper vriendinne ook genooi het.
Toevallig … Dis nié ‘n afspraak nie!
“Vir jou stel ek enige ander date af,” erken Germaine ook. “Hier is my besigheidskaartjie. Bel my!”
“Sal doen. Veilig ry.” Hulle staan ‘n oomblik bymekaar en sy kyk op in sy gesig, asof sy verwag dat hy haar gaan soen. Maar soos ‘n ware heer sal hy nie ‘n vrou op ‘n eerste afspraak soen nie.
Nie dat hy nie wil nie! Hy sal haar bitter graag in sy arms wil toevou en veel meer aan haar doen as om haar net te soen.
Maar Milan haal die sleutel uit haar hand, klik op die kontrole en maak haar deur oop.
Ware heer wat hy is, kyk hy diskreet weg toe sy laag in die Merc afsak. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe haar kort rokkie uitlokkend hoog optrek.
Hou selfbeheersing, hou! Hy weet mos nou dat sy niks daar onder aanhet nie.
Hy sal, soos ‘n ware heer sy lyf later betig omdat dié hom wragtig nou smeek om net skuinsweg te loer. Sy lyf gedra hom nié soos ‘n ordentlike opgevoede ou nie! Maar gelukkig skop sy breins en goeie maniere in en hy druk die deur toe.

Hoofstuk 3

Vrydag is Milan se gedagtes beslis nie by die werk nie. Hy wonder oor Germaine. Hy wonder oor haar klere … maar veral wonder hy oor die gebrek daaraan.
Dit maak hom terselfdertyd bang en opgewonde.
As dit nie vir Roelof en sy seun Xander was nie, sou ‘n ander koper die erf in Marlothpark reg langs die wildtuin voor hulle neuse opgeraap het.
Vir ‘n jaar lank soek hulle al na ‘n geskikte erf of eiendom op Olifantstraat waarop hulle ‘n kunsgalery wil bou.
“Dis presies die regte plek! Aan die teerpad en boonop naaste aan Ngwenya lodge.” Xander wys vir hulle ‘n foto op ‘n webwerf waar reuse Marlothi’s in oorgawe blom. Op nog ‘n foto staan die rooibokke onder in skaduryke maroelaboom op die linkerhoek van die erf.
“Koop!” stem Milan saam en Xander skakel die nommer.
E-posse vlieg heen en weer en minder as twee ure later is die aanbod gemaak en aanvaar. Daarna tel Milan sy motor en huissleutels van die tafel af op.
“En nou? Gaan ons dit nie met ‘n vinnige dop vier nie?” wil Xander weet.
“Volgende week. Ek gaan huis toe.”
“Voel jy siek? Onthou ons kuier vanaand by oom Hein-hulle.”
“Sonder my. Ek het hulle reeds laat weet dat ek ‘n baie belangrike saak het om na om te sien.”
Roelof en Xander wag dat hy moet verduidelik.
Hulle kan wag tot hulle blou is, hy vertel nie vandag vir hulle wat op sy agenda is nie.
“Onthou net jy het beloof om môre die veiling in Johannesburg by te woon, Pa,” herinner Xander hom. “Bring vir ons daardie Maggie Laubser huis toe. Elke kunsversamelaar behoort ten minste een Maggie Laubser iewers teen sy mure te hang.”
“Ek weet. En dis die plan.”

Raar genoeg is die adres waar hy Germaine Vrydagaand gaan oplaai, minder as drie blokke van sy eie plek en hulle kantore in Groenkloof af.
Milan hou voor haar meenthuis stil en wil net die interkom se knoppie druk, toe sy aangestap kom.
Germaine lyk so sexy in haar baie kort rok en swart pelsjas, dat hy heeltemal vergeet dat hy teen die jag van robbe gekant is. Hy spring uit en draf om die Range Rover om die deur aan haar kant oop te maak. Wanneer sy sit druk hy die deur toe, klim weer agter die stuurwiel in en ry na die eksklusiewe restourant waarheen hy altyd mense neem wat hy regtig wil beïndruk. Groot rotstuine, sagte romantiese beligting, eksklusiewe dekor, uitstekende musiek en alles wat bydra om die perfekte ambiance te skep.
Van die oomblik waarop Germaine uit die kar klim, haak sy styf by hom in. Dit beteken sy vind hom darem ook aantreklik, lig sy ego hom in. Of dalk sien sy hom as die sterker een van hulle twee. Die een wat haar kan vang en regop hou, as sy van haar toringhoë hakke afneuk, skop sy humorsin in.
Hulle maak ‘n mooi paartjie, want vele koppe draai in hulle rigting terwyl die ontvangspersoon met hulle deurstap na die tafel wat hy spesiaal bespreek het. As daar ‘n verslaggewer onder hulle is, lees hy waarskynlik Sondag in die land se voorste skinderkoerant dat hy ‘n nuwe vrou in sy lewe het en waarskynlik op die punt staan om verloof te raak. Dis die prys om te betaal as jy een van twee seuns uit ‘n gesiene Afrikaanse familie is.
Iets aan die manier waarop Germaine aanhoudend besitlik aan hom vat, selfs nadat hulle gaan sit het, wil-wil rooi waarskuwingsliggie aanskakel, maar hy onderdruk dit met mening. Hy is mos al lank in die land. Hy kán dit beheer.
Vir solank as wat hy dit nodig ag sál hy ‘n afstand hou.
Hy moes al vele oorywerige vroue op hulle plek sit die afgelope twee jaar wat hy wewenaar is. Vroue wat vir hom sop, eenbakgeregte, koeke en terte aandra. Sy gewoonte is om dankie te sê met ‘n bos blomme of hy dit nou eet of nie.
Maar wanneer hulle die blomme daarna verkeerdelik met ‘n verloofring of ‘n huweliksaansoek verwar, wys hy hakskene. As hy wil. Alles is binne sy beheer.
Soos gewoonlik skop Milan af met ‘n bottel egte Franse sjampanje. Germaine bestel die Russiese kaviaar en verduidelik aan hom dat sy duur smaak het.
Dit is vir Milan opvallend hoe vroue se smaak duur raak, sodra hulle in sy geselskap beland. Aan die ander kant moet hy aanvaar dat Germaine waarskynlik die één persoon is wat nie daaroor lieg nie. Die SLK waarmee sy gisteraand by die ‘Singles’ opgedaag het, is genoeg getuienis van haar persoonlike lewensstandaard.
Hy bestel vir hom garnale en ‘n witwyn om albei voorgeregte te komplementeer.
Terwyl hulle eet beskryf sy so terloops vir hom ‘n pragtige stuk juweliersware wat sy by ‘n plek in Brooklyn gesien het. Elke mens het seker sy prys, dink Milan en dwing homself om te konsentreer op wat sy sê, toe sy haar skoen uitskop en haar voet tussen sy knieë indruk.
“Wow! Jy is vinnig,” snak hy toe alles in en aan hom op aandag spring. Gisteraand en vandag het hy planne gemaak om háár die hof te maak. Hoe hy die wat, waar en wanneer gaan bepaal. Vanaand doen sy dit vir hom.
Miskien moet hy hom ‘n slag oorgee en die aand bloot geniet. Net hierdie eenmaal in sy lewe. Germaine is ‘n sterk vrou wat weet wat sy wil hê en ook weet hoe om dit te kry. En hy is nie bang vir ‘n sterk vrou nie.
“Ek het geleer dat die lewe te kort is om tyd te mors, Milan.” Germaine se oë is twee groen poele vol beloftes en Milan vermoed as hy by haar planne inval, hy dalk net kan verdrink.
Versuip! sou sy oorlede pa sekerlik ewe kras en onnodig reguit opgemerk het, as hy vanaand ‘n mot by hierdie kersliggie was.
Buitendien, mymer Milan, sy standaarde is besonder hoog. Hy is nie die tipe wat aan elke happie op ‘n skinkbord proe nie. Of in elke moddergat beland nie.
‘De bloed in de pee,’ klink Pa se waarskuwende stem in sy ore. ‘De verstand in de gat.’
“Ek kan dit hanteer, Pa. Gaan net weg.” Hy waai met sy hand. Al het sy pa dikwels die ergste van hom geglo, kan Milan tot vandag getuig dat hy nog nooit in eerste of selfs tweede afsprake van sy klere ontslae geraak het nie. Dit sal ook nie vanaand gebeur nie.
“Skuus, moet ek eers ophou?” Germaine se mooi mond pruil koeëlrond. Genugtig, dis ‘n mond wat vir ‘n man groot vreugde kan verskaf.
Soms mag ‘n man seker ‘n uitsondering maak. Sy lyf luister al sedert gisteraand nie meer na rede nie. Trouens sy lyf probeer om hom wys te maak dat dit die begin van ‘n lang en gesonde verhouding gaan wees.
Milan sluk die laaste van sy wyn en hou die spyskaart na haar toe uit. “Nagereg.”
“Ja dankie, die een voor my… ”
“Koffie?”
“Gaan maak vir my koffie by jou huis,” fluister sy hees.
“Bring asseblief die rekening,” blaf Milan vir die kelner wat met ‘n alwetende glimlag langs die tafel kom staan. Hy wil byvoeg: En voessêk, wat kyk jy? Maar hy is heeltemal te ordentlik daarvoor.
Sy ore begin sing en hy weet net een ding en dit is, hulle moet dringend by die huis kom.
Dit word ‘n nag wat hy nooit sal vergeet nie.
En natuurlik kom hy die volgende oggend hopeloos te laat by die veiling aan. Hy hoop van harte dat die Maggie Laubser nog nie aan iemand anders behoort nie.

“Dankie, dat jy weer deurgery het om by die veiling te wees, Mandie. As dit so aanhou gaan jy boonop my regterhand en gelukbringer word. Kan jy glo dat ons pas die Maggie Laubser vir twee en negentig duisend rand raakgeloop het,” gesels Reuben Abrahamovici opgewonde met Amanda. Hy druk sy nuwe skildery teen sy bors vas. “Twee vir die prys van een. Is jy seker jy sal die dun karton kan deursny sonder om een van die twee skilderye te beskadig?”
“Natuurlik sal ek dit kan doen. Stadig en geduldig,” verduidelik sy. “Sodra die karton buig, splinter die verf af. Maar moenie bekommerd wees nie, in die kursus waarop jy my gestuur het, is ons geleer om selfs ‘n probleem soos hierdie op te los.”
Waar is die man van die buffet? Amanda deel Reuben se blydskap, maar sy is nie net hier om hom by te staan nie. Sy is hier omdat sy wens sy kan die man met die droommooi oë weer sien.
Miskien was hy regtig net ‘n visioen in ‘n betowerende sprokie, want vandag lyk alles hier anders. Op die plek waar die buffet gestaan het, val ‘n Victoriaanse sitkamerstel se bekleedsel deur sy eie gate in die middel van hulle sitplekke en wankel lendelam op stukkende pote. Dit laat haar dink aan koningin Marie Antoinette, driehonderd jaar oud en in ‘n loopraam.
Sy lyk seker ook maar ietwat gewoon vandag. Donkerblou langbroek, wit bloes en potloodstreep blou en wit baadjie. Haar hare is vir ‘n verandering netjies met kamme agter haar kop bymekaargemaak.
“Ek sê elke dag dankie vir die dag waarop Natasha jou ontdek het,” erken Reuben. “Jy het daardie restourasie-kursusgeld al oor en oor aan my terugbetaal.”
“Ek is die een wat moet dankie sê. My eie kunspogings is maar power. In hierdie stadium hou jou en Natasha se werk my aan die gang,” bieg sy.
“Natasha se werk?” Reuben ruk geskok op. “Hoe kan jy nog vir haar werk?”
Daar gebeur dit nou net! Sy moes geweet het dat sy een of ander tyd haar mond gaan verbypraat. ‘n Geheim uitlap, sonder dat sy presies weet wát die geheim is.
Dit lyk asof Natasha self ‘n geheim is, om een of ander duistere rede.
“Hoekom is jy so verbaas daaroor? Ek het vir haar gewerk, voordat sy my en jou aanmekaar voorgestel het.”
“Natasha is twee maande nadat sy ons aan mekaar voorgestel het terug Holland toe. Ek het nooit weer daarna van haar gehoor nie. Nie eens ‘n e-pos gekry nie. Wanneer laas het julle gepraat?”
“So tydjie terug.” Gelukkig betaal Reuben op daardie oomblik sy skilderye, want Amanda besef dat haar gesig waarskynlik ‘n studie van verbasing en konsternasie is. Hoekom sou Natasha vir Reuben wou laat verstaan dat sy landuit is?
“Koffie voor jy ry?” vra Reuben. Die naam Natasha het blykbaar danksy die transaksie en haar vae antwoord by sy gedagtes uitgewaai.
“Nee dankie. Ek wil maar gaan werk.”
“Nou kom ek dra die skilderytjie na jou bakkie toe.”
Hulle is al op die stoep toe haastige voetstappe hulle van iewers af inhaal.
“Meneer Abrahamovici, net ‘n oomblik. Jy het mý skildery gekoop,” roep die persoon uit. “Ek was self geïnteresseerd in die Maggie Laubser.”
Reuben steek met ‘n geamuseerde uitdrukking op sy gesig vas.
“Déjà-vu, meneer Roux. As ek mag vra: Waarom het jy nie gebie nie? Want helaas, dit is waarskynlik die enigste rede hoekom dit nou mý skildery is. Jy kry mos altyd wat jy wil hê.”
Dis hy! Die aantreklike ridder van die buffet. Amanda voel hoe die bloed haar gesig verlaat, terwyl haar hart spook vir suurstof.
“Ek was net te laat.”
“If you snooze you loose. Nou kan jy ook voel hoe dít voel. Eina nê?”
“Ja, auch. Mag ek daarna kyk?” Die man se aandag is by die skildery wat Reuben in sy hande sit. Hy steur hom duidelik nie aan die ‘sekretaresse’ met die aktetasagtige handsak aan ‘n groot kenner van die kunste se sy nie.
“Ek is besonder bly dat jy laat was,” glimlag Reuben. “Jy sou die prys net onnodig opgejaag het. En hierdie keer sou ek nie gestop het nie.”
“Is dit wat jy met Abeltjie in die mou gevoer het, meneer Abrahamovici? Die prys doelbewus opgejaag?”
“Nie so dat jý dit sou agterkom nie, meneer Roux.”
Hy lag effens. “Toevallig het ek agtergekom. Maar wees gerus, ek sou nie eens tagtigduisend rand vir hierdie enetjie betaal het nie. Die prente is rug aan rug geskilder en dit op ‘n dunnerige karton. Dit sal moeilik wees om te kies watter een mens wil uitstal. Die vissershuisie of die kleurlingseuntjie. Die een is portret formaat en die ander een landskap geverf.”
Hy gee die skildery vir Reuben terug en tel ‘n ander een van ‘n stoel af op.
Uiteindelik het die aantreklike man van haar drome ‘n naam gekry. Hy is menéér Roux. Sy wonder of meneer Roux getroud is. Hy dra nie ‘n ring aan sy verkeerde vinger nie.
Haar hart maak rukbewegings in haar borskas. Kalm bly, maan sy haarself. Alle ongeringde manne is nie noodwendig vrygeselle nie. Veral nie geheime helde in romantiese drome nie.
Daar doen sy dit weer. Gaap hom so aan, dat hy haar op heterdaad betrap. Sy kyk haastig af, oortuig dat haar gesig in vlamme uitbars van skaamte.
Wat het veroorsaak dat sy aandag juis op daardie oomblik van die skildery na haar toe moes verskuif?
“Sê hom Mandie!” Dit klink asof Reuben besig is om iets aan meneer Roux te vertel en sy moet dit bevestig.
“Sê hom wat?” Sy is opreg verward. En moet Reuben vir haar Mêndie voor hom sê? Haar naam is Amánda. Sy is Afrikaans. Reuben is die enigste een wat haar naam mag verkrag, want hy is ‘n heiden – ‘n ongeneeslike anderlandse mens.
“Mm gesien jy luister nie. Vertel hom wat met die skildery gaan gebeur. Albei word apart geraam,” verduidelik Reuben self, want sy staan net daar met ‘n mond vol tande. “Mandie gaan die skilderye skei.”
“En hoe gaan jy dit doen, Mêndie?” Meneer Roux lê klem op die Engelse uitspraak van haar naam. Hy lyk verbaas, soos een van daardie puriteine wat glo dat ‘n ou skildery so heilig is dat dit nie eens met ‘n vingerpunt in ‘n chirurgiese handskoen aangeraak mag word nie.
Eintlik stem sy saam. Jy foeter nie onnodig met die ou meesters se werke nie. Maar hierdie geval is ‘n uitsondering en elke kant is veel meer werd as die prys waarvoor Reuben die hele skildery gekoop het.
“Ek gaan dit split in ‘n baie delikate en stadige operasie,” antwoord sy. Presies wat daarna gebeur, is ‘n geheim wat Amanda beslis nie aan ‘n vreemdeling gaan verklap nie, al is die kyk wat hy haar nou gee een van openlike bewondering.
Dit is ‘n soortgelyke kyk as die een wat sy langs die buffet van hom gekry het.
Net heeltemal anders! Orraait anders, want hierdie is ‘n aardse kyk en die een langs die buffet was ‘n heilige kyk.
Maar albei kyke dons haar ekwilibrium heeltemal op. Dis die soort kyke wat veroorsaak dat ‘n vrou op slag verlief raak.
Hy steek sy hand na haar toe uit en sê met ‘n glimlag. “Ek is Milan Roux. Jy is Mêndie ..?”
“Kruger,” lig Reuben hom weer met sy swaar aksent in.
Amanda probeer so ongemerk as moontlik van die onverwagte bakvissie klammigheid in haar handpalms ontslae raak. As hulle hande aanmekaar raak, sal sy hom daarop wys dat haar naam eintlik Amanda is en dat hulle al tevore vlugtig gepraat het.
Maar dan tref dit haar soos Goliat se klippie… reg teen die voorkop.
‘n Wrede ontwaking uit haar droom. Daar gaan die rede vir haar bestaan. Oukei, haar bestaan vir die afgelope net meer as twee weke. Die pragtige seepborrels bars. Die negende wolk, is ‘n donderwolk. Die ridder van die buffet is toe al die tyd ‘n klont in ‘n romerige melkskommel.
Roux kan nog enigiemand se van wees. Maar Milan is nie ‘n algemene naam nie.
En ‘n kombinasie van die twee verteenwoordig die vyand! ‘n Kapitalis wat sy siel vir geld sal verkoop en niks vir sy medemens omgee nie.
“Milan Roux?” Sy trek haar hand terug. Iets in haar ontplof. “Jy is die man wat die Abel Ntonto-skildery twee maande gelede voor Reuben se neus weggeraap het en dit drie weke later in Londen teen drie keer die prys van die hand gesit het. Veels geluk. Die koerante was vol daarvan.”
“En?” Aan die manier waarop hy sy hand stadig laat sak is dit duidelik dat hy haar afkeer op ‘n afstand aanvoel, maar dat hy dit glad nie kan verstaan nie.
“Meneer Roux, ek is bly dat jy te laat was vir die Maggie Laubser. En daardie Frans Claerhout wat jy vashou, is amptelik sy lelikste werk ooit. Ek hoop nie jy is van plan om dit te koop nie.”
“Toevallig is dit reeds myne. Pas gekoop. Maar as jy so sterk daaroor voel, sal ek dit beslis nie in my huis se voorportaal ophang nie. Eerste indrukke is belangrik.” Hy praat beslis nie net van die skildery nie.
“Mandie,” roep Reuben geskok uit. “Jy weet dat dit ‘n uitsonderlike Claerhout is.”
“Uitsonderlik? In daardie geval is dit seker nog ‘n skildery wat ‘n plaas se geld in die buiteland gaan maak, bloot omdat die regte handtekening onderaan staan. Is dit die plan meneer Roux? Om nog Africana te gaan omruil vir ‘n paar euro’s meer.” Sy wens sy kon staatmaak op ‘n wag voor haar mond. Maar nie eens ‘n wag kan die skrapnel wat uitborrel keer nie.
“Aangesien ek genoeg vir die skildery betaal het Mêndie, kan ek seker daarmee maak wat ek wil,” koggel Milan Roux. “Daar is hoeka ‘n Belg wat bereid is om my dadelik driedubbel die prys te betaal vir hierdie aaklige Claerhout.”
“Wel, good luck.”
“Of break a leg? Vir jou ook. Totsiens, meneer Abrahamovici. Vaarwel, me. Mêndie Kroegher.” Daarmee draai hy in sy spore om en stap by die lokaal se deure uit, sonder ‘n verdere woord.
“Was dit regtig nodig?” raas Reuben ontstoke. “Hoekom het jy dit gedoen?”
“Ek weet mos jy was destyds van plan om die Abel Ntonto skildery te koop en dan self in Londen van die hand te sit. Jy het genoem dat jy die helfte van die wins vir Abel sou terugbetaal om sy seun se mediese koste te betaal. Toe spring hierdie blikskottel jou mos voor.” Sy sien hoe die man na ‘n silwer blou Range Rover stap wat in die parkeer terrein met flikkerende ligte op aandag spring wanneer hy die afstandbeheerder in sy hand druk.
Sot.
Kapitalistiese sot!
“Mandie, ek en jy is nie in die bedryf om arm kunstenaars se krisisse te help oplos nie. En dis beslis nie ‘n slim plan om ryk beleggers weg te jaag nie. Veral nie in die huidige ekonomiese klimaat nie.” Reuben kry een van daardie uitdrukkings op sy gesig wat haar altyd herinner aan ‘n bokser wat gereedmaak om ‘n finale uitklophou te plant. “En as jy moet weet, Milan Roux het ook sy wins aan Abel Ntonto oorbetaal.”
“Wat? Hoe weet jy dit?” Dit voel of Reuben haar met ‘n slap verfkwas omklits. Sy hoop die koningin se beentjies is sterk genoeg om haar gewig te dra toe sy hard in een van die lendelam Victoriaanse stoele neersak. Wat soek die goed nou op die stoep?
“As die stoel breek gaan jy betaal!” raas ‘n man wat die res van die stel al op sy bakkie gelaai het en nou terugkom vir sy laaste pronkstuk.
“Sorry, die girl wou flou word,” vra Reuben namens haar om verskoning en steek ‘n hand uit nie net om haar regop te help nie, maar ook uit die spervuur te neem. “Dit het so gekom. Ek het Milan gebel en vir hom van Abel se seun se ongeluk vertel. Hy het sy volle wins vir die kunstenaar gegee.”
“En jy sê my niks!”
“Ek het vergeet. Hoe moes ek nou weet dat jy Abel se kleintjie se beserings so ernstig opneem? Buitendien, dis nie asof Abel Ntonto se werke al Africana-status bereik het nie.”
“Oef!” Sy wroeg al oor die Ntonto’s vandat Reuben haar gebel en ingelig het dat ene Milan Roux die skildery onder sy alie uitgekoop het en die plan in die wiele gery het. Hoe moes sy nou raai daar was so ‘n dramatiese wending in die sage as niemand vir haar niks gesê het nie?
“Nog ‘n ding. Milan is die eienaar van Gregoire se twee kaartspelers. Die skildery wat jy herstel het, nadat die een hoek in ‘n brand beskadig is.” Reuben wys met sy hande ‘n denkbeeldige skildery van om en by vyftig by sestig sentimeter.
“Natuurlik onthou ek die skildery. Maar jy het nooit vir my gesê wie die eienaar is nie.” Die wind is nou heeltemal uit haar seile.
“Jy werk vir my. Dit was nie nodig dat jy weet wie hý is nie. Hy weet in elk geval ook nie dat dit jy is wat sy skildery gerestoureer het nie. In die kunswêreld is diskrete swye soms die aangewese pad om te loop.” Dis Reuben se manier om vir haar te wys sy haar naam flaffie kwadraat gemaak.
“Van nou af is ek met stomheid geslaan.” Sy verwys sommer na Natasha ook. Reuben hoef dit net nie te weet nie.
Sy sal nie weer oor kuns of enigiets praat nie, al martel hulle haar in ‘n elektriese stoel en hang haar aan ‘n guillotine. Nee, dit is ‘n galg waaraan sy dink. Met ‘n guillotine sit hulle iemand se kop en hande in gate.
“Kom ons gaan laai die Maggie Laubser in jou kar. Is jy seker jy wil nie koffie drink nie? Jy staan en bewe soos ‘n riet. Kry jy koud?” wil Reuben simpatiek weet.
“Nee, ek ly aan skok.”
“Gmf.” Hy dink sy maak ‘n grap. “Ry versigtig en kyk mooi na my duur belegging.”
“Maak so.” Amanda spandeer ‘n volle driekwartier op die pad, waartydens haar sondes by haar spook.
Sy voel soos ‘n dwelmverslaafde wie se laaste fix pas uitgewerk is. Leeg en gedreineer.

As jy graag die eboek wil lees, stuur ‘n epos aan liefdeverhalenmeer@gmail.com Onthou om die titel te skryf. Jy kan ook ePos vir my ‘n droom – Adele Reynders op Amazon lees. Volg gerus die skakel: https://www.amazon.com/pos-my-droom-Afrikaans-ebook/dp/B00JHAL3TQ

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.