Wanneer die son weer skyn – Adele Reynders

Wanneer die son weer skyn

Lees die eerste 2 hoofstukke uit Wanneer die son weer skyn – Adele Reynders

Kopiereg Adele Reynders.

Eboek verwerking Renza boeke

Tersia het jare laas van haar pa gehoor. Nou laat weet iemand haar dat hy sterwend is. Sy het een laaste kans om hom te groet. Sal sy dit kan doen sonder om haar hart weer deur Ivan Romeneske gebreek te kry?

 

Hoofstuk 1

“Die grootste hiervan is die liefde.” Tersia Kruger hou die bordjie in haar hand. Vir so lank as wat sy kan onthou was dit op haar ma se spieëltafel uitgestal. ‘n Plaatjie in koper gegraveer en op hout geplak. Holklinkende woorde op metaal.

“Jy hoort in die asblik,” dreig sy. Maar iets weerhou haar daarvan om dit sommer net weg te gooi. Daarom gaan dit terug boks toe.

Die werklikheid helaas, is dat daar maar bitter min liefde in haar ma se twee en tagtigjarige lewe was. Selfs die kinders vir wie sy skoolgehou het, het haar nie juis as warm en liefdevol ervaar nie. Net as korrek.

Natuurlik sou dele van haar persoonlikheid op Tersia ook afsmeer. Jy wys nie emosie nie. Jy huil nie, selfs al sterf jou dogter en los jou man jou. Jy byt op jou tande en verf ‘n glimlag op jou gesig. En jy praat met geen sterfling daaroor nie. Dan word jy ‘n ysberg van buite met ‘n vuurspuwende vulkaan wat jou maagwand van binne af opvreet …

Dit is seker nie net Ma se skuld dat juis daardie deel van haar persoonlikheid op haar afgesmeer het nie. Mense verskil van mekaar. Mense word aan verskillende beproewinge blootgestel. Ma Elizabeth was die enigste kind van ‘n welgestelde prokureur en sy stylvolle vrou. Egskeiding was nie in haar verwysingsraamwerk nie. Toe Pa dus destyds weggeloop het, het Ma ‘n pos by ‘n Pretoria skool aanvaar en vir almal vertel haar man is dood. In Witbank het te veel mense alles van hulle af geweet. In Pretoria kon hulle in die massa verdwyn.

Daar was nooit weer ander mans in haar lewe nie. Nie eens vir kort rukkies nie, al was Ma ‘n baie mooi vrou.

Tersia het niemand reggehelp wat geglo het haar pa is dood nie. Daar was selfs ‘n stadium wat sy dit amper self begin glo het. Veral omdat jare verby gegaan het sonder dat hy van hom laat hoor het.

In haar volwasse lewe het sy buitendien haar eie beproewinge gehad in die vorm van ‘n moeilike dogter, Eliza. Haar ma wat verduidelik dat mens streng moet wees om die kind te help. En Tersia se gewese man Hanro wat die kind se omgee met liefde, geld en geskenke probeer koop het.

Nie een van die twee weë het Eliza gehelp nie… Sy is dood op negentien.

Daarom het Tersia nie ‘n vinger gelig om hom te keer, toe Hanro ‘n maand later sy goed pak en agter sy suster aan verkas het Australië toe nie.

Ook vir háár sal daar nie weer ‘n ander man wees nie.

Noudat Ma heen is, is sy vir die eerste keer werklik vry. Vryheid is die regte beskrywing vir wanneer jy niks of niemand meer hét om te verloor nie. Dit is waar sy wat Tersia is nou is. Geen familie, bitter min vriende en ‘n klompie kennisse aan wie sy, behoede haar daarvan, nie te geheg wil raak nie.

Mens gaan soek nie onnodig vir komplikasies nie. Dit gebeur meesal sommer self.

Al wat sy regtig nog koester en oppas is haar werk.

Nogal kuns van alle dinge! Ontwerp en skilder.

“Tersia, mens kan nie van kuns leef nie. Waar het dit jou pa altemit gebring?” Ma het slegs af en toe van Pa gepraat wanneer sy hom as ‘n slegte voorbeeld kon gebruik. “Solank as wat jy leef moet jy werk. As jy werk, moet jy huur kan betaal of selfs ‘n huis koop en ‘n kar afbetaal. ‘n Goeie kar, wat jou nie in die steek sal laat nie. Onderwys is ‘n veilige beroep en jy sal altyd seker wees van ‘n inkomste.”

Soos wat haar ma vir bykans vyftigjaar gedoen het. Selfs na haar aftrede nog deeltyds by skole uitgehelp.

Tersia het gehoorsaam eers gaan onderwys studeer, maar toe sy en Hanro trou haarself in elke vorm van kuns uitgeleef en by elke mark uitgestal. Dit is hoe sy by die kuns en handwerk tydskrif uitgekom het vir wie sy vryskut illustrasies doen.

Vir die markte verf Tersia klein skilderytjies op houtblokkies. Aanvanklik het sy dit baie goedkoop verkoop, maar noudat sy ‘n naam daarmee gebou het, verdien sy sowaar ‘n bietjie geld daarmee. Daar is juis so mark wat oor twee weke gaan begin en haar rak is nog nie eens halfpad vol nie. As ‘n uitstaller se tafel of staander begin leeg raak is daar ‘n boete. Sy moet ten minste ‘n boks met ekstra blokkiesprentjies onder die tafel hou. Sy het nog nie eens haar etikette begin plak nie.

Gelukkig geniet sy haar werk en sy kán met geld werk. Sy kom uit met dit wat sy verdien. Maar natuurlik beteken geen werk geen brood!

Soos vandag. Sy moes dringende illustrasiewerk vir die tydskrif onderbreek om Ma se kamertjie in die aftreeoord te gaan ontruim voor die einde van die maand. Nuwe intrekkers wag.

Al was Ma pynlik netjies, was sy so ‘n bietjie van ‘n opgaarder.

Nadat Tersia haar hart uitgehuil het oor wat was en nooit weer sal wees nie, het sy alles in die kamer in bokse gepak. Soort van ordelik, het sy haarself probeer wys maak. Toe het die jong mannetjies wat sy gehuur het om te help dra, die orde behoorlik opgeneuk deur die bokse op ‘n onordelike hoop in haar sitkamertjie te kom dump. So deurmekaar, dat sy nou haar pad moet oopveg na haar lessenaar en rekenaar in die verste hoek toe.

Sy moet die illustrasies wat sy per hand vir die tydskrif geteken het gou gaan skandeer en epos, nog voor eenuur vandag en dit is al twaalfuur. Die oggend het verby gevlieg.

Om alles te kroon maak die eienaar by wie sy hierdie woonstel huur geluide dat hy die huur sal moet verhoog. Dink natuurlik dat daar vir haar ‘n reuse erfporsie wag noudat Ma weg is.

Maar daar is nie.

Ma se onderwyspensioen was maar karig en van die skatte wat Ma van haar ouers geërf het, het niks oorgebly nie.

As die huur opgaan, is dit Tersia se voorland om harder te werk. Dit is nou as sy ooit weer by haar lessenaar en rekenaar kan uitkom.

Tersia is letterlik gestrand tussen bokse, toe haar selfoon lui. Dié hang gelukkig aan ‘n tou om haar nek, want sy durf nie ‘n oproep mis nie. Dit kan nog vryskutwerk of ‘n uitnodiging na ‘n nuwe mark wees.

Dit móét so iets wees, want dit is ‘n vreemde nommer.

“Tersia Kruger …” antwoord sy.

“Tersia, dis Natasha Viljoen.

“Natasha, goeie more. Waarmee help ek?”

“Dit gaan oor jou pa, Stefan Serfontein.” Yswater vee die glimlag van Tersia se gesig af. “Ek wil net laat weet dat hy siek is, fase vier longkanker en dat hy in Steve Biko lê.”

“My pa is sterwend in Steve Biko,” eggo Tersia soos ‘n moroon. Sy kan nie eens onthou wanneer laas sy oor hom gewonder het nie. Nou hierdie nuus, twee weke na Ma se dood.

Hoekom bel hulle háár? Hy het mos ander mense in sy lewe. Mense wat hy bo haar en Ma gekies het. Tensy dit gaan oor geld en finansiële bystand. Wat sy nie kán gee nie.

Sy wag dat die vrou moet verduidelik.

“Ek is jammer oor die slegte nuus.” Dink sy Tersia het stil geraak omdat sy geskok is? Hartseer oor haar pa? Nie in haar drome nie. Ene Natasha Viljoen het natuurlik geen idee nie, daarom lig sy haar met deernis in haar stem in. “Hy wil jou en sy kleindogter bitter graag sien. Sê daar is goed wat hy met julle wil regmaak voor hy gaan.”

Sy kleindogter. Dan het hy sowaar gehoor van Eliza se bestaan.

Maar duidelik weet hy nie dat sy intussen oorlede is nie. Voordat Tersia haarself kan keer, steun sy. “Ek is so jammer om van sý probleme te hoor. Wag tot ek hom van myne vertel.”

Dit moes kras geklink het. Die geskokte stilte wat volg spreek boekdele.

Uiteindelik praat die vrou weer. “Ja die lewe is beslis nie net maanskyn en rosegeur nie. Jou pa se lewe was ook nie altyd maklik nie. En die bietjie wat hy daarvan oor het staan haas einde se kant toe. As jy hom wil sien, doen dit nog vandag. Die dokter het hom ontslaan. Jy weet seker wat dit beteken. Hulle gee hom kans om by die huis te gaan sterf.”

“En?”

“Sien jy kans om hom te kom groet?”

“Ek weet eerlikwaar nie. Jy sien, meneer Serfontein se tydsberekening is perfek. My ma, mevrou Elizabeth Serfontein is twee weke gelede oorlede.”

“Jammer, ek besef dit is baie sleg. My ma is twee jaar gelede oorlede en ek mis haar nog elke dag.”

Eintlik mis Tersia haar ma ook al reeds, maar sy gaan dit nie met ‘n vreemdeling bespreek nie.

“Jou pa wil gaan rus. Al wat hom nog hier op die aarde hou is die feit dat hy wil vrede maak met jou en jou dogter. Maar ek kan julle nie dwing nie, daarom vra ek net mooi: Sien hom of bly weg. Of gee hom ten minste ‘n geleentheid om in sy kleindogter se oë te kyk.”

Dìt sal hy gouer doen as wat hy verwag, maar nie in hierdie lewe nie, kom dit by haar op. Tersia gaan onbedaarlik aan die bewe. Sy soek iets om op te sit.

‘n Boks.

“Ek sien nie regtig kans nie.” Haar stem stol in haar keel. “Sê vir hom groete en sterkte.”

“Ek sal dit so aan hom oordra. Ek gee in elk geval vir jou die saal se nommer, as jy dalk van plan verander.” Sonder enige verdere omhaal van woorde lui sy af.

Dit is een van dáárdie netelige situasies, vertel Tersia se kop haar. Die oomblik waarop jy dit hoor, twyfel jy of jy iets daaraan wil doen. Jou eerste reaksie is, nee beslis nie. Maar oor ‘n jaar is jy waarskynlik spyt dat jy nie die geleentheid aangegryp het nie.

Die keuse om nie meer deel van haar pa se nuwe ‘kring’ te wees nie, was destyds hare ook. Met natuurlik heeltemal te veel hulp van Moeder se kant af! Tersia het soms deur die jare gewonder of sy nie liewer moes kontak hou nie. Die gedagte was daar vir kort oomblikke, maar dan het sy dit met alles in haar onderdruk.

Haar pa het haar en Ma gelos vir ‘n tannie met vyf kinders wat in ‘n dubbeldekkerbus op die plasie langs Pa s’n ingetrek het om in die stroompie te kom delf. ‘n Weduwee met vier groter seuns en ‘n klein dogtertjie.

Wat was die meisiekind se naam nou weer? Tersia moet diep dink, omdat sy almal, behalwe die een seun lankal uit haar kop verban het.

Dan onthou sy. Natasha! Die seuns het haar Nana genoem. Die vrou wat haar nou net gebel het is waarskynlik Natasha Romeneske wat intussen getroud is en nou Viljoen is.

Die boks onder haar duik stadig in. Sy sit op klere.

Tersia strompel orent, voordat sy op die grond beland.

Sy onthou haar ma se waarskuwing. Romeneske, is ‘n Russiese van. Die Russe is kommuniste. Hulle is hier om te steel. Ons grond, ons mans en ons kinders.

Dit is presies wat gebeur het. Elizabeth het háár man, Tersia se pa aan ‘n Russiese vrou met ‘n dubbeldekkerbus vol kinders verloor. Die Rus het kom delf agter lieflike diamante aan en so die minerale ook gesteel. Al was hulle eintlik tweede geslag Hongare wie se oupa na Suid-Afrika gevlug het na die Tweede Wêreldoorlog.

Maar Ma het gesê Hongare is so goed soos Russe, al het die vyf kinders net so goed Afrikaans gepraat as sy!

Haar ma het verder verbitterd opgemerk dat sy gedink het sy trou destyds met ‘n geleerde argitek, toe is hy eintlik ‘n rondloper bouer wat sy talente in modderhoophuise begrawe het.

Hy was seker nie heeltemal so verlore vir die samelewing nie. Meer as een tydskrif het op stadiums artikels oor Stefan Serfontein geskryf en hom geloof vir sy baanbrekersbouwerk met modder, klei en ander alternatiewe boumateriaal. Sogenaamde kobhuise! Al het die huisies op die foto’s vir Tersia soms soos krale in Timbuktu of midde Afrika gelyk. Kunstige vloeiende vryvorms.

Miskien was daar meer beeldhouersbloed in haar pa as bouersbloed.

Tersia het al die inligting wat sy oor sy werk in die hande kon kry gehou en gereeld weer na die prente daarin gekyk. Pa se skeppings was vir haar mooi, al sou die meeste van haar vriende haar smaak in twyfel getrek het, as sy dit moes erken.

Daarom het sy nooit daarmee gespog, of genoem dat hy haar pa is nie.

Mevrou Romeneske was eers pa se buurvrou, toe houvrou, maar uiteindelik ook trouvrou.

“Het jy gesien die vrou lyk soos ‘n Turk of ‘n Egiptenaar? Hulle is almal sulke vieslike swartkop uitlandse gemors.” So het ma Elizabeth die Romeneske’s uitgekyk vanagter ‘n kantgordyn toe haar gewese man, Stefan vir Tersia vir daardie een en enigste Desembervakansie kom oplaai het met sy nuwe Kombi.

‘n Voertuig wat ‘n mens net koop as jy baie kinders het om rond te ry.

Die vakansie het ‘n week voor Kersfees begin en ‘n volle week na Nuwejaar ten einde geloop.

Haar laaste en enigste drie weke by haar pa se nuwe familie, ‘n leeftyd gelede.

‘n Vakansie wat sy nooit sal vergeet nie, want op daardie vakansie het sy haar eerste spesiale liefde ontmoet, al was hy een van die vyand.

‘n Rus. ‘n Hongaarse kommunis.

Ivan Romeneske. Een van die mooiste seuns waarop sy nog ooit haar oë gesit het. Die ander kinders was ook mooi, maar hy het uitgestaan … Daardie donker oë het haar met ‘n soort magnetisme getrek. Sy moes haarself dwing om nie te staar nie.

Hy was pas klaar met standerd agt. Sy sou die volgende jaar standerd sewe toe gaan.

Ivan was die middelkind. Michka ‘n jaar ouer as hy. Adolf net klaar met matriek.  Dan was daar Mikhail wat vier jaar jonger as Tersia was en die kleintjie Natasha was vier jaar oud.

Tersia moet haarself seker skaam as sy daaraan dink hóé verlief sy was op Ivan Romeneske. Hy was deel van laeklas delwersgemors, soos wat haar ma na hulle verwys het.

Haar ma sou haar waarskynlik ‘n loesing gegee het as sy moes sien hoe betower Tersia was deur die seun se sjarme en donkerbruin omgee oë.

Dit was hy wat die eerste dag ‘n blikkie met Afrikanerblommetjies in, langs haar slaapbank neergesit het. Natasha het by haar daaroor geklik. Ivan het die saadjies by ‘n maat gekry, die grond sorgvuldig omgespit en dit gesaai. Sy versorging en gereelde natgooi was verantwoordelik vir die vrolike goudgeel plaat voor die rooi bus.

Voor dit was daar net grond en klippe.

Dit was die mooiste blommetjies wat Tersia ooit in haar lewe gesien het. So geel, so sonnig. Mooier selfs as angeliere, want Ivan Romeneske het dit vir haar daar neergesit.

Sy mag nie eens aan haarself erken dat sy dikwels na daardie vakansie gewonder het wat van Ivan Romeneske geword het nie. Soos nou weer … Is hy gelukkig? Is hy getroud? Natuurlik is iemand soos hy getroud en die een wat gelukkig is, is waarskynlik sy vrou.

Is hy dalk op Facebook? Tersia is, met net ‘n klein vriendekring.

Sy kon seker al geloer het, maar sy het nie.

Sy sal nie. Daarvoor het sy te veel selfrespek en genoeg selfdissipline, dankie Ma!

Maar wat maak dit saak wat van hom geword het. Dit sal nie haar besluit beïnvloed of sy haar pa in die hospitaal moet gaan sien of nie.

Van daardie eerste kalwerliefde het buitendien niks gekom nie. Hy was toe op die ou end glad nie wat hy voorgegee het om te wees nie. Inteendeel, hy het haar verraai. Hy was so vals soos ‘n klavier wat ‘n leeftyd in die reën gestaan het.

Gemaak of hy vir haar omgee, intussen het haar pa hom gevra om ‘n oog oor haar te hou. ‘n Vlerk uit te steek, waaronder sy al te gewillig wou inkruip. Gelukkig het sy hom uitgevang, voordat sy vir nog ‘n vakansie een van sy vele aanhangers was.

Tersia gaan sit die ketel aan. Sy het koffie nodig, terwyl sy wik en weeg oor die hospitaalstorie.

Haar ma sou onmiddelik gesê het: As jy mý vandag wil seermaak, sal jy vir die ou boslanster in die hospitaal gaan kuier.

Maar haar ma is nie meer hier nie. En haar pa byna ook nie. Dit sal die laaste keer wees wat sy hom sien. As sy hom wil sien …
Hoofstuk 2

Sy wil nie, maar sy moet. Hoe gaan sy ooit met haarself saamleef as sy hom laat sterf sonder om sy wens om haar te sien uit te voer?

Nadat Tersia haar illustrasies na die tydskrif ge-epos het, bad sy vinnig en trek ‘n langmou T-hemp en denimlangbroek, met ‘n wit baadjie daarby aan. Net ‘n druppel onderlaag en maskara, waarna sy in haar Corsa-bakkie klim en die pad hospitaal toe aandurf.

Terwyl sy ry, dink sy aan Pa se nuwe mense.

Oukei, sy ander mense, want hy is teen die tyd langer getroud met mevrou Romeneske, as wat hy met háár ma getroud was. Die plasie wat hy gekoop het, het ‘n heeltemal ander wêreld verteenwoordig as wat sy geken het. Dorpshuise, meenthuise, plekke wat in ander plekke vaskyk.

Daar was nog nie ‘n huis op die plasie, daardie Kersfees nie. Net die rooi dubbeldekkerbus. Pa en sy span was nog aan die bou.

Tersia en Natasha het op die onderste vloer van die bus geslaap. Die seuns bo. Die tannie agter ‘n skerm in die bestuurskajuit en Pa in ‘n halfvoltooide kobhuisie langsaan. Kastig kuis, want sy dogter kuier op die plaas. Maar laatnag het Tersia die tannie sien uitglip. Natuurlik na haar pa toe.

Tersia was miskien nog onskuldig, maar sy was nie dom nie!

Maar sy kon dit alles hanteer, solank as wat Ivan iewers in die omtrek was.

In die dag het hy en Michka haar pa gehelp met sy bouprojekte. Seker vir sakgeld, of omdat die twee gedink het haar pa is Kersfeesvader omdat hy so ‘n groot blonde reus was, was haar ma se suur opmerking toe Tersia haar later so ietsie probeer vertel het van die lewe op die plaas.

Die tannie was regtig baie fluks. Sy het haar dae van douvoordag tot sononder met ‘n sif langs die rivier deurgebring opsoek na groot blinkes. Haar eerste fonds het vir die grondjie langs Pa betaal. As Tersia die twee jongste kindertjies se spogbekke moes glo, was daardie diamant net ‘n rapsie kleiner as die bekende Cullinandiamant.

Haar tweede diamant van meer as ‘n karaat, het mevrou Romeneske vir Pa Stefan geruil vir huise wat hy sou bou. Pa het daardie diamant vir Ma in ‘n ring laat set, toe hy nog gehoop het dat Elizabeth en Tersia saam met hom op die plasie sou gaan woon. Ma het natuurlik vasgeskop en geweier. Ook maar goed. Tersia kon haar nooit voorstel dat haar ma op so plek sou aard nie.

Vir Tersia was die plek regtig mooi. Dit was ‘n stukkie Bosveld, ver van die stad se geraas. Pragtige groot platkroondoringbome, die rivier wat eintlik net ‘n stroompie was en ‘n koppie aan die eenkant waar die wildevy se wortels sy staanplek oor en tussen die rotse en klippe gemaak het.

Ma se diamantring. Tersia glo dat Pa dit self ontwerp het, want dit was ‘n kunswerk op sy eie. Glad nie iets wat sy self sou dra nie, maar Ma het dit geniet om daarmee te spog. Sy het die ring met elke spesiale geleentheid aan die middelvinger van haar linkerhand gedra, al was die man wat dit vir haar gegee het lankal nie meer deel van haar lewe nie. Daarom het Tersia ook nie vir haar vertel dat dit die hardwerkende Romenesketannie was wat die diamant uit die rivier gewas het nie.

Ivan het dit vir haar vertel toe sy een middag net voor sononder saam met hom afgestap het rivier toe om sy ma te gaan inwag. Sy ma het blykbaar vir elke seun en haar dogtertjie ook ‘n diamant wat sy uitgewas het laat slyp. Dit wag in die kluis tot die dag waarop elkeen van hulle ook ‘n ring aan iemand se vinger wil sit.

Hy het lank en aandagtig na Tersia gekyk asof hy iets wou sê en toe die onderwerp verander. “Daar is nogal ‘n simbiose tussen wat jou pa doen en my ma se delwery. Die slikdam wat haar wassery tot gevolg het, is die ideale substansie om sy klei mee te meng.”

Vir ‘n agtertangse ‘Hongaar’ was Ivan intelligent. Sy het daarvan gehou om te luister as hy praat.

“Simbiose?” het sy hom uitgedaag. “Dit is tog ‘n goeie samewerkingsooreenkoms wat vir beide partye voordeel inhou.”

“Juis.” Daar was ‘n glinstering in sy andersins ernstige donker oë. “Jou pa maak reg wat my ma opdons.”

Hy het sag gelag en haar hart het so aan die klop gegaan dat sy ‘n boomtak moes vasgryp sodat haar bene nie onder haar invou nie. Toe moes sy bieg. “Dit is baie mooi hier. Die riviertjie. Die doringbome. Die rotse en koppie.”

“Dan moet jy eendag saam met my … ons hier kom woon. Jou pa praat van huise bou vir elke kind. Hy het vir my die basiese beginsels van ontwerp geleer. Ek wil ook ‘n argitek word.” Hy het ‘n oomblik nagedink. “Of ‘n kunstenaar. Dalk maak ek eendag beelde. Abstrakte beelde.”

“My ma sê daar is nie geld in kuns nie. Kyk na my pa …”

“Ek het jou pa nog nooit oor geld hoor kla nie. En hy het altyd werk, al is dit dikwels in die buiteland. Ek en Michka gaan die hele April en Julievakansie vir hom in Tanzanië werk.”

In Tanzanië. Sy het dadelik besef dat dit beteken dat sy haar pa, en vir Ivan nie gedurende die April of Julie vakansie gaan sien nie. Oktober dalk? Dit het op daardie oomblik soos ‘n leeftyd later gevoel.

Sy was sommer kwaad: “Natuurlik behoort my pa nie voor ander mense oor geld te praat nie. Mens is trots en privaat oor geld.” Haar ma se woorde altyd. Daarom het sy ook haar ma se stemtoon gebruik om hom op sy plek te sit.

“My ma praat met ons. Dan weet ons om sekere kruideniersware of elektrisiteit versigtig te gebruik,” het hy eerlik opgemerk.

Dit is seker nodig as jy vier honger, groeiende seuns moet grootmaak, het sy by haarself gedink. Haar ma het nog nooit nodig gehad om vir haar te sê , stadig met die kos nie. Haar ma sal eerder raas, éét jou kos. Daar is vele mense wat nie het nie.

Soos die Romeneske’s?

Onder by die delwery se dam het Ivan opgemerk: “As my ma eendag besluit om op te hou sif, sal ek en jou pa hier ook mooi maak. Jou pa het gesê as hy genoeg geld maak met sy Tanzanië projek, koop hy die grond anderkant die dam wat teen daardie koppie oploop.”

“Die uitsig daarvandaan is seker pragtig.”

“Dit is. As jy wil kan ons Saterdag ‘n piekniek pak om die plek bietjie te verken.”

Sy wou en hulle het! Ivan, sy, Pa en die hele Romeneske familie, wat ewe entoesiasties die heuwel verken het en klippe gepak het waar die nuwe huis kwansuis sou staan.

Stop dit. Sy wil nie onthou nie!

 

Tersia sluip by die hospitaal in. Dis ‘n doolhof van gange en sy moet twee keer vra om by die regte saal uit te kom.

‘n Voordode saal, sien sy dadelik toe sy mense in verskillende stadia van versterwing daar sien lê. Sy stap verby ‘n dokter … of altans sy vermoed hy is een, want hy staan by bed een en hou die pasiënt se pols tussen sy vingers. Daarna deel hy opdragte aan ‘n verpleegster uit en gooi ‘n oog oor die res van die saal.

Sy donker oë val op haar.

Sy knik ‘n groet, maak seker dat daar niemand van die Romeneske’clan naby die brose figuur in bed agt rondsit nie en sluip nader. Nie dat sy hulle sal herken nie.

Al probeer sy hoe hard om roekeloos, sterk en onbetrokke te wees, verkrummel sy daar langs die beskeie hospitaalbed en bars in trane uit. Dit breek haar om die sterk man van haar herinneringe so te sien lyk. Weg is die woeste blonde hare wat hy altyd met ‘n sweetband om sy kop in toom probeer hou het. Selfs in die winter en veral nadat hy gebad het. Sy kop is kaal. Dalk van die chemo …

Of het sy hare net minder geword, namate die tyd aangestap het? ‘n Paar jaar jonger as Ma, raak hy ook al aan tagtig.

Terwyl sy met die klip in haar borskas hiernatoe gery het, was sy nie seker wat om hom te noem nie. Nou steun sy dit uit: “Paps …”

Hy maak sy diep versonke oë moeisaam oop en kyk haar met die blou van die hemele aan. Ten minste is dit nog dieselfde as wat sy onthou. Nie dat sy toegelaat word om daarvan te vergeet nie. Sy het sy blou oë geërf.

Haar pa se vel is vreemd geel. Suurstofpypies in sy neus.

“Tersiatjie.” Verbasend genoeg herken hy haar dadelik. Trane dam in sy oë op en maak stroompies langs sy slape af, voordat ‘n benoude hoesbui hom oorval.

“Pa, is alles reg?” Die ‘dokterman’ kom van bed een af aangedraf. Hy help haar pa om regop te sit. Wag geduldig dat die hoesbui moet bedaar en hou ‘n bakkie voor sy mond as hy dalk wil spoeg. Tersia staan haastig eenkant toe.

Wanneer die ou man weer beter voel, roep die dokter na haar.

“Jou pa is beter.”

Haar pa! Sy kon sweer hy het ook pa gesê. Dit is bisar.

Maar haar pa se volgende hortende woorde haal die wind heeltemal uit haar seile “Tersia, onthou jy vir Mikhail Romeneske? Dokter Romeneske.”

“Mikhail…” prewel sy.

Hy was tienjaar oud toe sy hom laas gesien het. So verpiep en verfynd dat sy gewonder het of hy nie eerder die sussie moes wees en Natasha die boetie nie. Hy het boonop die dag na Kersfees Natasha se Barbiepop se hare met ‘n skêr afgesny en daarna ‘n lap soos ‘n tulband om haar kop gedraai. Hy was gedurig besig om noodhulp op sy arme teddie en speelgoedhond toe te pas. Vyf drukke op die borskas en ‘n allemintige blaas in die mond, terwyl hy die speelgoed se plastiek neuse toedruk tussen twee vingers.

Sy het hom teen die boarm getik en gevra. “Hoekom doen jy dit? Mens soen nie jou poppe nie, die goed is onhigiënies.”

“Om sy lewe te red.” Mikhail het die teddie gelos en gesê. “Ek kon nie my pa help toe hy in die dam geval het nie, toe wys die dokter ons wat om te doen as iemand volgende keer amper verdrink. Nou oefen ek gereeld. Mens weet nooit wanneer jy dit nodig het nie.”

“In geval? Waar het hy in geval?” het Tersia geskok uitgeroep.

“In die slikdam daar onder. Dit suig jou in soos dryfsand. Niemand kom ooit daar uit nie.”

Sy wou nog uitvra oor Pa Romeneske se tragiese dood, toe Natasha histeries aangehardloop kom met ‘n babakat wat seergekry het.

“Linker agterbeen sleg verstuit,” was Mikhail se diagnose nadat hy hom behoorlik deurgekyk het. Toe het hy die beentjie met drie stokkies gespalk. “Hier mejuffrou Serfontein. Jy is nou pleegma van ‘n beseerde katbaba. Hou die pasiënt stil en bring haar oor ‘n week terug vir ‘n opvolg besoek.”

“Wat is jou baba se naam, Tersia?” wou Natasha weet.

“Sokkies.” Die logiese naamkeuse vir ‘n pikswart katjie met vier wit pootjies en ‘n blertsie wit oor die neus.

Ivan het haar gehelp om die katjie in ‘n lapslinger om haar nek te dra.

Sy het Sokkies oral rondgedra. Selfs toe Sokkies ‘n week later weer kon loop, het sy gekies om deur Tersia gedra te word. Of deur Ivan.

Tersia was Sokkies se ma en Ivan die pa, het Natasha besluit.

Sy is dus ‘n tannie. ‘n Vierjarige tannie.

Uiteindelik, na soveel jare, word dit vir Tersia duidelik dat Mikhail se plastiek poppe en sagte speelgoed wat sý bed in die bus met hom gedeel het, eintlik almal sy ‘pasiënte’ was.

Sy weet dit nou. Mikhail was gebore om ‘n dokter te word.

Die man steek ‘n hand na haar toe uit. “Mikhail Romeneske. Dankie dat jy jou pa kom sien het.”

Hulle skud blad. Uiters formeel. En sy handdruk is heel ferm. Maar sy houding wys dat hy beslis nie meer die vriendelike geselserige seuntjie van destyds is nie.

Wanneer haar hand weer haar eie is, steek haar pa ‘n koue benerige hand na haar toe uit en sy moet dit ook vat.

“Sit ‘n oomblik … Sit by my.” Hy snak weer na asem. “Jou gesiggie nooit vergeet nie. Jy is nog net so pragtig…”

Mikhail keer. “Pa, jy moet nie nou praat nie. Ons moet jou by die kar kry. Julle kan by die huis inhaal.”

Huis? Watter huis? Hulle moet net nie verwag dat sy agter hulle gaan aanry plaas toe nie. Die oomblik van weersiens en afskeid is nóú. Kort en intens.

En klaar.

Dan praat nog ‘n stem agter haar. “Is julle reg om te gaan? Ek het die kar voor die deur getrek? Natasha wag daar. As dit in die pad is, moet sy dit skuif.”

Tersia wil die yskoue hand los en eenkant toe staan. Padgee, teruggaan na die chaos in haar sitkamer en van alles vergeet.

Maar haar pa hou vas asof hy ‘n drenkeling is en sy die enigste graspol op die wal. Dan vou die eienaar van die stem se hande oor haar en haar pa s’n. Hy probeer om die greep te laat verslap en praat mooi en sag. “Pa los eers die vrou se hand… Ons gaan jou huis toe vat.”

Maar dan ruk hy los asof hy aan ‘n lewendige elektriese draad geraak het. Hy roep uit van skok: “Tersia!”

Ivan? Sy kyk op in sy gesig en voel hoe die bloed haar wange verlaat. Sy gaan flou word. Haar hart hou eenvoudig op met klop. Sy staan in ‘n lugleegte en snak na asem.

“Ivan, ek sien jy en Tersia onthou mekaar …” Mikhail se wenkbroue trek saam, voordat hy haar pa se boarm versigtig vasvat, maar sy oë is vasgenael op Ivan en Tersia.

Hy sien iets. Miskien weet hy nie mooi wát hy sien nie, maar dit laat hom beslis twee keer kyk.

“Natuurlik onthou ek haar. Tersia, sal jy asseblief eenkant toe staan, sodat ek en Mikhail jou pa in die rolstoel kan laai?” Donker oë blits nou in hare. As sy nie padgee nie, gaan hy haar eenkant toe skouer.

“Toemaar ek loop.” Uiteindelik slaag sy daarin om haar hand te bevry. Sy buk vooroor en soen die ou man op sy voorkop. “Paps ek groet sommer hier …”

“Nee, eers met …jou praat,” fluister Pa en sy gesig vertrek van pyn toe die manne hom in die rolstoel help. Selfs al werk hulle hoe versigtig. Iets maak seer.

Of alles maak seer.

Ivan maak die rolstoel se rem los, sit haar pa se voete op die trappe en begin om hom gang af te stoot, terwyl Mikhail sy naweeksak en suurstoftenk saamtrek. Pa Stefan se hand soek weer na Tersia s’n.

“Waar is my feëtjie kind…?”

Tersia krimp ineen. Sy waag dit nie om weer na Ivan of Mikhail te kyk nie. Hulle lag waarskynlik agter haar en haar pa se rug oor sy tere kleintyd troetelnaam vir haar. Sy het miskien so bietjie soos ‘n feëtjie gelyk toe sy ‘n klein dogtertjie was. Feëtjies is jonk en mooi. Maar sy is nie meer jonk nie en helaas, al dra sy haar jare nie te sleg nie, is sy alles behalwe mooi vir haarself. Sy vat haar pa se hand en stap langs die rolstoel.

Die donkerkop vrou wat hulle by die kar inwag is ‘n baie mooi vrou. Met haar donker oë en hare en fyn gelaatstrekke herinner sy aan Juliette Binoche.

“Natasha?” vra Tersia.

“Die einste. Dagsê Tersia.” Haar arms gaan spontaan om Tersia se skouers. “Jammer dat ons mekaar na soveel jare onder hierdie omstandighede moet sien.”

Sy wil sê dis oukei. Geen probleem nie. Maar haar stem is weg. En die een wat troos nodig het is buitendien Natasha. Die vrou is in trane.

Uiteindelik het die manne vir Pa Stefan in Ivan se viertrek. Die passasiersitplek is ver teruggeskuif en platgeslaan. Mikhail laai die suurstof tenk en rolstoel in die bagasieruim en maak die agterdeur oop. Dit is waar hy gaan sit.

Ivan staan die storie lank en betrag, toe oorhandig hy sy sleutels aan Natasha. “Die kar is vol. Jy sal met my kar moet ry. Ek sal op ‘n ander manier by die huis kom.”

“Tersia, is jy reg om saam te kom plaas toe?” vra Mikhail. “Pa wil graag met jou gesels as hy sy asem terugkry.”

Nee, sy wil nie! roep alles in haar uit. Sy skud haar kop van kant tot kant. “Nee.”

“Hy vra net ‘n uur van jou lewe, Tersia. Asseblief,” smeek Natasha.

Wanneer sy huiwer, stel Mikhail voor: “Jy het seker ‘n voertuig hier? Miskien kan Ivan sommer saam met jou ry.”

“Nee!” Ivan gee hom ‘n vernietigende kyk en trek sy skouers reguit sonder om in Tersia se rigting te kyk. “Ek ry nie saam met haar nie. Ek sal plaas toe Uber.”

Natasha sug en hou die sleutel na hom toe uit. “Toemaar Ivan, ry met jou eie kar. Ek sal vir Hennie bel om my te kom haal.”

“Ja reg. Dan moet jy ‘n uur staan en wag, want hy moet nog van die plaas af ry. Ek sal Uber.” Ouboet en kleinsus se koppe is ewe hard.

“Kan ons asseblief ry,” raas Mikhail. “Pa is uber ongemaklik.”

“Tersia … moet … kom.” Pa maak die deur langs hom oop en probeer uitklim.

“Vervlaks,” steun Ivan en gluur haar woedend aan. “Dit sou beter gewees het as hy jou liewer glad nie gesien het nie. Kon jy nie ten minste gewag het tot hy sy asem uitgeblaas het voor jy kom aas nie?”

“Aas?” Tersia kan ontplof, maar terwille van ‘n baie siek pasiënt sal sy haarself inhou. Sy fluister. “Daar is net mooi ff … niks wat ek van julle of my pa wil hê nie.”

“Ai Ivan, los haar. Dit is tog duidelik sy verwag nie om iets te erf nie. Ék het haar gebel om haar pa te kom groet. Sekerlik verskaf dit haar ook geen plesier om hom so breekbaar te sien nie.” Natasha draai na Tersia. “Sal jy asseblief saam kom plaas toe en kan ek saam met jou ry?”

Sê finaal nee en kry klaar, beveel haar verstand haar.

“Mm.” Waar is Ma se ystere wil as sy nodig het om haar voet neer te sit? Boonop dreig die emosies om by haar oë uit te stroom. Sy vou haar hande ‘n oomblik oor haar gesig. Probeer die trane keer en die mense om haar uitblok.

Sy doen dit van kleins af. Instinktief.

Mikhail gee haar ‘n deurpriemende kyke en vra. “Tersia, is jy orraait? Kan jy ry?”

“Ek is.”

Mikhail knik stadig, asof hy haar nie heeltemal glo nie. “Gaaf, ek is bly. Tasha, ry saam met jou. Mens kan nogal deesdae verdwaal plaas toe. Daar is ‘n nuwe ingang gebou.”

Asof sy die ou ingang goed genoeg geken het om dìt te vind.

“As jy nie lekker voel nie, laat my sussie bestuur. Sien julle daai kant.” Mikhail klim in.

Ivan se gesig is self bleekwit en sy woorde soos ys toe hy eers naby aan Tersia se oor sis. “Jy besef dat nie een van ons jou daar wìl hê nie. En ek belowe as dit verby is kan jy maan toe vlieg en vir altyd daar bly sover dit ons aangaan, maar dankie dat jy bereid is om nog ‘n uur of twee by hom te wees.”

Daarmee skuif hy agter sy kar se stuurwiel in, sluit die enjin aan en trek weg.

Tersia staan verlam in haar tekkies. Van vanoggend af het sy geglo haar lewe sal van nou af heelwat rustiger word. Sorteer die plek uit en sy kan dubbelskofte werk om die blokkies vir die mark te verf. Nou voel dit asof sy voor ‘n trein ingestap het en in plaas van platgery is, opgeraap en saamgesleep word.

Natasha kyk die viertrek agterna voordat sy sê. “Dit is nie waar dat niemand jou daar wil hê nie. Dit is net Ivan wat …”

Haar haat? Sy sug diep. “Dis oukei, ek het dit nie anders verwag nie.”

“Hy was seer. Lank seer. Is nog seer. Die lewe het hom ‘n bietjie geruk en pluk.”

Tersia se keel is dik en sy sluk swaar. “Ek is jammer.”

“Dit is seker maar die verloop van dinge. Sal ons gaan?”

“Natuurlik. Jy moet maar verskoon my ou bakkie is nie te skoon nie. Ek ry met ‘n klein bakkie. Dit is prakties, want ek stal uit by markte. Dan ry mens gedurig rakke en bokse rond.” Sy stap vooruit en wonder wat Natasha se reaksie op haar ietwat gehawende bakkie gaan wees.

Sy moes liewer met ma se Golf gery het, wat nou onder haar afdak by die woonstel staan. Die kar is miskien ouer as die bakkie, maar lyk beter.

Maar Natasha sê niks. Sy knip nie ‘n oog terwyl sy inklim en haar veiligheidsgordel vasmaak nie.

Bestel die eboek vir R20.00 by liefdesverhalenmeer@gmail.com of volg die skakel om dit op Amazon te lees: https://www.amazon.com/Wanneer-die-weer-skyn-Afrikaans-ebook/dp/B073WV7S86/ref=sr_1_1?keywords=Adele+Reynders+Wanneer+die+son+weer+skyn&qid=1551701278&s=digital-text&sr=1-1-spell

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.