Volmaan – Adele Reynders Romanza

volmaanJonathan Lombard was die liefde van Tessa se lewe. Maar haar pa en sy polisietrawante het sy lewe verwoes. Nou, na haar pa se dood, verwag hy dat sy vir hom ‘n baie belangrike brief moet gaan aflewer. Weet hy wat hy van haar vra? Die haas onmoontlike …

Hoofstuk 1

Tessa huiwer lank in die deur van haar pa se studeerkamer voordat sy instap. Nie eens sy dood en begrafnis het haar voorberei op die melancholie en pyn wat die opruim van die ou huis nou aan haar doen nie. Sy het gedink sy sal maklik kan oppak en wortels uittrek, maar alles hier verteenwoordig ‘n leeftyd van herinnerings, lief en leed.

Huurders is haastig om in te trek, en al weet sy reeds volgens die testament dat die eiendom hare word, moet sy eers wag dat die boedel afgehandel word voordat sy kan besluit wat om uiteindelik daarmee te doen.

Kaptein Oubaas Greyling se studeerkamer is ‘n vertrek wat Tessa as kind vermy het, want dit was die manne se plek. Dis die eerste deur langs die voordeur, maar die vertrek wat sy gelos het tot heel laaste. En nou is dit al wat nog oorbly.

Al voel dit vir haar asof haar keel toetrek begin sy doelgerig uitsoek en weggooi. In die ornamente stel sy nie belang nie. Boeke kon sy nog nooit weggooi nie. Sy gooi dit in ‘n boks en stuur dit saam met Amos uit om dit op die geleende sleepwa agter haar Trooper te laai.

Daarna gaan sit Tessa op haar pa se stoel agter die reuse lessenaar. Sy blaas haar asem stadig uit en trek die boonste laai oop, want dit voel vir haar asof hy nog daar iewers is en haar enige oomblik kan betrap waar sy in sy goed krap. Die boonste laai is vol skryfbehoeftes, koeverte en seëls. In die middelste laai is daar skoendose. Een bevat foto’s van haar kleintyd, toe hulle drie Greylings nog ‘n gelukkige volledige gesin was, sien sy en voel skielik emosioneel. Die ander skoendoos is toegeplak en sy sit dit eenkant om saam te neem huis toe. Daar is nie nou tyd om alles rustig deur te kyk nie en sy aanvaar dat die inhoud soortgelyk is as dié van die vorige een.

Harde werk keer nie dat haar gedagtes koers kry nie en sy stap op die onthou pad.

Sy was skaars tien jaar oud toe haar ma oorlede is, waarna sy en haar pa holderstebolder uit Johannesburg weg is. ‘n Treklorrie het alles wat hulle in daardie stadium besit het, op ‘n onordelike hoop in die sitkamer van hierdie kasarn van ‘n ses slaapkamerhuis in Phalaborwa kom ‘dump’ het. In die daaropvolgende maand moes Tessa probeer orde skep en meubels rondskuif. Meubels wat verdwaal het tussen die wye mure van elke vertrek. Sy het gou agtergekom dat haar pa nie belangstel om van die huis ‘n woning te maak nie. Haar ma se dood het haar pa ook weggeneem en sy was ‘n verskriklike eensame klein dogtertjie.

Kaptein Oubaas Greyling het van die huis ‘n polisiebasis gemaak, vanwaar hy kon verdwyn op sy geheime missies. Soms het die ekspidisies hom na die wildtuin geneem, of na die anderkant van die grense van Zimbabwe en Mosambiek. Selfs so ver as Namibië en Angola waar menige wilddief en diamantsmokkelaar hulle rieme styfgeloop het teen hom en sy gedugte span ‘voetsoldate’. En in die tye wat hy weg was, was Tessa seker dat hy nie eens aan haar gedink het nie, terwyl sy nooit vir ‘n oomblik opgehou het om na hom te verlang nie.

In die onderste laai is verskeie dokumente wat sy sal saamneem en later met sorg wil deurgaan om te sien of daar iets van belang is. Tussenin is sertifikate van getroue en voortreflike diens. Sy glimlag wrang: ‘Getroue diens.’ Die ouens wat hierdie nuttelose stukkies papier aan hom uitgereik het, het geen idee gehad waarmee Oubaas Greyling en sy trawante hulleself besig gehou het nie. Tessa ook nie regtig nie. Sy was net deeglik bewus van die feit dat die kaptein en sy groep nie baie graag uitgevang wou word daarmee nie.

Onder in die laai is daar groot bruin koeverte, gesig na onder en Tessa haal dit uit. Noudat sy dit sien, onthou sy vir die eerste keer weer dat haar pa haar gevra het om sy laaste belangrike skrywes in sekere mense se hande te sit. Dit is seker hierdie koeverte waarvan haar pa in die hospitaal gepraat het. Sy moes plegtig beloof dat sy erns daarvan sal maak om die ontvanger van elk van die vier briewe op te spoor en seker te maak dat hulle dit oopmaak en die inhoud lees. Sy en sy alleen. Dringend! En dat dit die laaste en mees belangrike ding is wat sy vir hom moet doen.

Maar sy het haar nie veel daaraan gesteur nie. Haar pa het gereeld ‘laaste belangrike opdragte’ aan haar uitgedeel. Die verskil is net dat sy glad nie meer op aandag gespring en gedraf het om dit uit te voer nie. Sy was in die laaste jare te ontnugter met die pa wat haar klein dogtertjie held was.

Nuuskierig draai sy die koeverte om, om te sien wie op haar pa se sogenaamde laaste adreslys was. Op die eerste twee koeverte staan Amos en Anna se name. Die twee mense wat vir dertig jaar getrou vir hom in sy huis gewerk het. Dit kan nie die dringende deel van die opdrag wees nie, dis te maklik. Albei die mense is hier en hulle help haar om die huis op te ruim. Hy sou dit geweet het.

Die derde koevert is aan haar gerig: Laetitia Greyling. Haar doopnaam en nooiensvan. Haar pa is die enigste persoon wat haar ooit op haar doopnaam genoem het. Dit is ook nie baie moeilik om uit te voer nie. Die groter probleem is om haarself te oortuig om dit oop te skeur en die inhoud te lees. Sy skud maar net haar kop en blaai verby.

Die naam wat op die vierde koevert geskryf staan, laat haar egter orent vlieg en terugdeins asof dit ‘n mamba is wat gereed staan om sy giftande in ‘n slagoffer te laat wegsink. ‘Sersant Jonathan Lombard / Streng Privaat.’

‘n Nota in haar pa se handskrif wat lees: Asseblief Laetitia, spoor die man op en gee vir hom die koevert. Dringend. Onderaan staan ‘n selnommer geskryf, wat moontlik nog kan werk, aldus haar pa.

Tessa tel die koevert weer op en terwyl sy in afgryse staar, begin die woorde swem voor haar oë: Sersant Jonathan Lombard / Streng Privaat. Dit is nie net ‘n ‘belangrike’ opdrag nie. Vir haar is dit ‘n haas onmoontlike opdrag. Sy sien nie kans om Jonathan Lombard ooit weer in haar lewe te sien nie. Hy was haar eerste en grootste liefde. Die enigste man wat haar vir ‘n baie kort rukkie net na matriek soos ‘n kosbare vrou laat voel het. Maar hulle lewens was nooit bestem om die pad van ‘n normale gelukkige paartjie te loop nie. Al kon sy hom nooit in haar lewe vergeet of ophou liefhê nie.

Terwyl sy wonder of sy haar stem kan vertrou as hy dalk antwoord, sleutel sy die nommer op haar foon in. Dis nou of nooit. Eerder nou, want as sy tyd het om hieroor te dink, bel sy nooit.

Miskien bly die man in die Kaap. Moontlik het sy nommer intussen verander en dan kan sy haar gewete sus met die wete dat sy probeer het. Die foon begin egter lui en terwyl sy in spanning wag dat hy antwoord, voel sy hoe haar hartklop elke oomblik meer versnel. Haar asem begin jaag en saam met die klank van die foon is daar skielik ‘n suisende klank in haar ore.

Dan is hy daar, slegs ‘n stem op sy antwoorddiens, maar dit maak haar skoon duiselig.

“Lombard Toere, ek is tot die sewentiende van die maand met ‘n groep in Mosambiek. Los jou naam en nommer. Miskien hoor jy eendag van my.” Sy skakel die foon af, want die laaste ding wat sy sal doen is om ‘n boodskap te los.

Jonathan Lombard se stem is steeds vaag bekend, wat die ou verlange weer soos die steek van ‘n dolk in Tessa se borskas laat brand. Dan het Jonathan Lombard toe tog sy eie toeragentskap begin, dink sy hartseer. Hulle het destyds saam daarvan gedroom en gepraat. Sy sou hom help.

Terwyl sy die nommer onder Jonathan Lombard op haar foon stoor, loop die trane sommer vanself. Sy huil oor wat was. Sy huil oor wat kon gewees het. Oor onreg wat deur haar toedoen aan hierdie eerlike en opregte man gedoen is.

Sy huil oor ‘n pa wat nooit daar was vir haar nie, en nou boonop vir altyd weg is. En sy huil omdat hy ‘n skoendoos vol foto’s uit haar baba en kleuterdae in die laai van sy lessenaar gehou het en sy dit nooit geweet het nie.

So weggevoer is sy deur haar emosies dat sy wip soos sy skrik, toe haar selfoon onverwags in haar hand lui. Dit kan nie Jonathan wees wat terugskakel nie. Volgens sy boodskap is hy in Mosambiek. Sy lees die naam op die skerm. ‘n Naam wat haar lus maak om die gelui te ignoreer totdat dit vanself ophou. Die foon is egter skaars stil of dit begin weer van vooraf raas.

Tessa antwoord ongeduldig want sy weet dat haar gewese man nie sal ophou voordat hy met haar gepraat het nie.

“Eric wat wil jy hê?”

Al is hulle al amper tien jaar gelede geskei, het sy hom dikwels tussenin gesien en heeltemal te veel kere van hom gehoor. En meesal is dit asof hy net vir haar wil sê, trap in jou spore ek het oë en ore oral.

Eric Loubser het nooit gestop voordat hy gedoen het wat hy wou doen nie of gevat het wat hy wou hê nie. Hy het dikwels gespog dat hy selfs mense uit sy pad vee, waar en wanneer nodig. En dit glo Tessa heeltemal, want sy was ook een van die verbruikbares waarvan hy ontslae geraak het toe dit hom gepas het. Genadiglik so, want as dit van haar afgehang het, sou sy eintlik al ‘n paar maande nadat hulle getroud is, self padgegee het.

“Groet jy nie eers nie?” Dis tipies van Eric om haar te tart met so vraag.

“As ek groet is dit om vaarwel te sê en daarna antwoord ek nooit weer my foon wanneer jy bel nie. Kom tot die punt.” Van haar vrees van lank gelede het daar niks oorgebly nie. Wat sy nou voel is minagting en haat en ‘n wete dat hy, saam met haar pa, ‘n groot deel van haar lewe verwoes het.

“‘n Klein gunsie…” begin hy.

“‘n Gunsie? Alweer.” Sy vererg haar so, sy sien ‘n duisend klein kolletjies. “Die antwoord is nee, koebaai.”

“Dis die laaste keer in my lewe dat ek jou iets vra, Tessa.”

“Ek glo dit nie.” Sy ken hom mos. Daar bestaan nie so iets soos ‘die laaste keer’ nie. Sy kan die ergernis nie uit haar stem hou nie. “En moenie dink ek was bly om jou by my pa se begrafnis te sien nie.”

“Jy kon my nie daar weghou nie. Ek en jou pa was close.” Selfs al sien Tessa hom nie voor haar nie, weet sy dat hy sy wys en middelvinger kruis om te wys hoe na hulle aan mekaar was.

Sy antwoord nie. Sy sal hom nie die satisfaksie gee om die bitterheid wat dit in haar opstoot in haar stem te hoor nie. Ja, Eric en haar pa was na aan mekaar. Hulle kon nie bekostig om teen mekaar te draai nie, want albei het ewe veel gehad om te verloor.

“Is jy daar Tess? Luister jy?” Eric se stem klink sowaar angstig asof hy bang is dat sy die selfoon sommer net sal afskakel.

“Wat wil jy hierdie keer hê?”

“Ek wil eintlik my hulp aanbied. Ek wil jou kom help om jou pa se laaste goed in sy studeerkamer op te ruim.” Asof hy wéét dat sy op daardie oomblik agter haar pa se lessenaar in die studeerkamer sit! Dit stuur ‘n rilling langs haar ruggraat op, wat in haar nek bly kriewel.

“Nee.” Sy hoef nie eens daaroor te dink nie. Sy wil hom nie daar hê nie.

“Asseblief.” Dis ‘n woord wat nie te regtig in Eric se woordeskat bestaan nie en Tessa besef dat wat ookal Eric in haar pa se huis wil kom doen, vir hom regtig belangrik is.

“Hoekom, Eric? Is daar spore om dood te vee?” Tessa kan amper nie glo dat sy die een is wat so iets kwytraak nie. Eric is ‘n man wat kan kwaad word. En as hy kwaad word klap die vuiste, maak nie saak of die opponent kleiner of groter as hy is nie. Dit maak ook nie saak as dit ‘n vrou is nie. En veral nie as die vrou sy, Tessa is nie!

“Pa het iets vir my gelos in die kluis onder sy lessenaar.”

“Jy kan maar net hoop dat dit nog daar is. Ons maak leeg en gooi uit. Wanneer laas het jy met Oubaas gepraat?” Sy herhaal doelbewus nie die woord ‘Pa’ nie.

“Ek het hom gesien kort voordat hy sy laaste asem uitgeblaas het,” antwoord Eric. “Hy het vir my gesê die goed waarna ek soek is steeds in ‘n kluis onder in die lessenaar.”

Die brief, skreeu dit in haar. Hoe kan hy weet van die brief wat haar pa vir Jonathan gelos het? Maar die brief was oop en bloot in ‘n laai.

“‘n Kluis? Hier is nie so iets nie.”

“Niemand weet van die die kluis nie,” verduidelik hy egter. “Daar is ‘n spesiale afskorting agter ‘n deurtjie, waarvan net ek en jou pa weet. Daar is net ‘n klein gaatjie in die een hoek, waarin ‘n sleutel pas.”

“Hoekom vertel jy my daarvan? Wat sal jy doen as ek dit self oopsluit om te sien wat dit is waarna jy soek?” treiter sy hom en gaan hurk by die kant van die lessenaar. Aan die eenkant is daar sowaar ‘n paneel met ‘n klein gaatjie in.

“Sjym, waarmee wil jy dit oopmaak? Met jou vingertjie, Tessie? Jy benodig ‘n spesiale sleutel om dit oop te sluit.” Sy smalende manier van praat maak haar sommer lus om die deur oop te skop.

“Dit sal nie in my pad staan nie. Ek het lankal geleer om slotte en deure met ander gereedskap oop te maak. By die meester self. By jou.” Sy is op dun ys, sy weet dit.

“Hierdie is een slot, wat nie eens Houdini sal oopkry nie. En moenie die paneel probeer oopskop nie. Dis met yster versterk.” Hy lag sag, maar dit is nie ‘n plesierige lag nie, voordat hy byvoeg: “Terloops, ek sien jy het die res van die huis se slotte die afgelope week vervang. Moenie dink ek sou nie daar kon inkom as ek regtig wou nie.”

“Ek het nie gedink die slotte sal jóú daaruit hou nie. Dis vir my pa se ander scaly vriende wat ook deur die jare sleutels gekry het.”

“Gaaf, dan verstaan ons mekaar.” Sy stem is skielik ongenaakbaar en Tessa kan haarself net voorstel hoe dit hom moes frustreer toe hy agterkom dat sy persoonlike stel sleutels van die huis nie meer pas nie. Boonop is daar op elke buitemuur en by elke deur steeds ‘n oog van die alarm stelsel wat vir oortreders loer. ‘n Uitstekende stelsel, wat hy destyds self help installeer het. Die waarheid is dus dat hy nie sou kon inbreek sonder dat sy gesig iewers op ‘n monitor te wys nie.

“Toemaar, ek stel in elk geval nie belang om te sien wat jy daar uithaal nie,” stel Tessa hom gerus. Vir Eric, nes haar pa, ontstel jy nie onnodig nie. Jy speel liewer saam, tot op ‘n punt. “Kom vat wat jy wil vat en kry jou ry na die tyd.”

“Ek is daar binne my vyf minute.” Die wete dat hy oppad is hiernatoe, laat haar tot aksie oorgaan. Sy gryp die koeverte wat aan haar en Jonathan gerig is, saam met die dokumente en skoendose en hardloop by die voordeur uit. Sy sluit dit in ‘n metaalkissie onder die agterste sitplek van die Trooper toe. As Eric sê hy is in vyf minute daar, is dit gewoonlik nader aan drie.

Haar hele lyf ruk toe sy die agterdeur van die vier by vier toeklap.

“Tessa, huil jy?” Sy het Anna nie sien uitkom nie. In haar hande hou die dierbare groot vrou die oorblyfsels van ‘n blommerangskikking wat langs Oubaas Greyling se bed was op die dag waarop hy dood is. Selfs om daarna te kyk maak seer. Anna volg die blik in haar oë. “Wou jy die droë blomme saamvat na jou huis toe?”

“Nee, gooi gerus weg,” keer Tessa, toe sy verby ‘n dik knop van spanning en seer in haar keel gesluk kry.

“Ek dink ons het min of meer alles gelaai.” Amos bring ‘n laaste boksie met breekware uit die kombuis en laai dit agter in die Trooper. Dit is kophou vir hom en Anna met die drie sleepwaens wat daar geparkeer staan. Die een wat Tessa by haar buurman Bruce in Marlothpark geleen het, om dit wat sy wil behou terug te neem Marlothpark toe. Die ander een behoort aan die pantjieswinkel op die dorp. En sleepwa nommer drie gaan na die munisipaliteit se vullisterrein toe.

Dis op sleepwa nommer drie waarop Anna die blommerangskikking neersit net toe Eric en ‘n vriend daar stop. Dis beter dat hy versterkings saambring, dink Tessa in haar enigheid. Haar bui is van so aard dat sy lus voel om hom op te frommel en onder die dooie blomme op die munisipale sleepwa te laat versmoor.

“Chuck,” stel die ander man hom aan Tessa voor, toe dit duidelik raak dat Eric dit nie gaan doen nie.

“Ek weet wie jy is, Chuck Nel. Al het ek jou vir twintig jaar nie gesien nie, sal ek jou nooit vergeet nie,” antwoord sy en draai haar rug minagtend op hom, terwyl sy vooruit instap. Haar houding verskaf Eric groot genoegdoening, sien sy uit die hoek van haar oog toe hy vir sy vriend knipoog.

“Wat maak hy hier?” sis Anna dreigend langs Tessa.

“Iets kom soek in die lessenaar,” antwoord sy ewe omgekrap.

“Kry ons koffie, Anna,” tart Eric haar ook.

“Vergeet dit. In hierdie plek word gewerk.” Anna gluur hulle aan, asof hulle in honde-gemors getrap het, en dit nou onderaan hulle skoene by haar silwerskoon huis indra.

Min gepla hurk Eric langs die lessenaar. Toe eers sien Tessa dat daar wel ‘n deurtjie aan die een kant van die lessenaar is, soos wat hy verduidelik het. Hy haal ‘n sleutel aan ‘n tou van sy nek af en waai dit vermaaklik in haar rigting, voordat hy die paneel met groot gebaar oopsluit, waarna Anna snorkend en stomend terugstorm kombuis toe.

Daar is pakke en pakke dokumente, ‘n projektor en ou films in en sowaar ‘n kluis in die een hoek. Eric lyk hoogs in sy skik met sy fonds. Hy pak die los goedere in die krat wat hy gebringe het en beduie vir Chuck om dit terug te neem bakkie toe. En toe inspekteer hy die kluis van naderby, terwyl Tessa oor sy skouer loer. Dis verseker onaangeraak. Hy glimlag tevrede in Chuck se rigting toe die man weer instap.

“Dit sal net ‘n minuut neem.” Hy begin om die kombinasie in te voer, maar Tessa keer hom.

“Vat die hele lessenaar vir jou,” besluit sy op die ingewing van die oomblik. Sy het net een behoefte sedert Eric hier ingestap het, en dit is om hom weer te sien uitstap. “Ek was van plan om dit na ‘n pandjieswinkel toe stuur.”

“Wat? Is jy ernstig?” Eric gaap ‘n paar maal. Dis duidelik dat hy sy geluk nie kan glo nie en toe bulder hy. “Amos, Anna, kom help.”

Hulle steun en kreun onder die gewig van die swaar embuia lessenaar, terwyl hulle al vyf sukkel om dit op die bakkie te laai. Die verligting wat Tessa ervaar toe die twee manne net daarna by die hek uitry, is onbeskryflik. Na dese sal sy hopelik nooit weer vir Eric sien of van hom hoor nie.

“Kyk wat gee daardie ander man skelmpies vir my om vir jou te gee.” Amos hou ‘n erg verkreukelde besigheidskaartjie na haar toe uit. Dit lees, Chuck N Private Investigator.

Die manne se besoek maak Tessa nog haastiger om hier weg te kom en sy werk verbete om die laaste goed te laai.

 

Hoofstuk 2

 

Tessa slaap bitter min en ongemaklik op die dun matras wat sy vir die nag in haar ou kamer gegooi het. Teen vyfuur die volgende oggend rol sy die matrassie op. Sy bad vinnig en terwyl sy haar hare voor die spieël in die badkamer kam, besef sy dat die kassie daar agter dalk ook vol goed is. Sy maak die deur oop en vind ‘n vol bottel sjampoe, nogal van die soort wat sy graag gebruik.

“Dankie, dit vat ek saam.” Die enigste ander item in die kassie is ‘n houer met rooi en groen kapsules wat vir haar pa voorgeskryf was en Tessa staan lank en kyk daarna. Dis seker die soort goed wat mens in die toilet afspoel, sodat kinders dit nie in die hande kry nie. Sy haal die proppie af, maar huiwer. Sedert sy in Marlothpark bly is sy uiters bewus van die skade wat die mens aan die natuur doen. Dalk vernietig die chemikalië daarin die vriendelike bakterië wat ‘n rioolplaas laat funksioneer. Sy lag by haarself en sit die houertjie saam met die sjampoe in haar toiletsakkie. Miskien sal ‘n apteker eendag vir haar verduidelik wat om daarmee te doen, sodat sy nie verantwoordelik is vir die vernietiging van die groen planeet nie!

Teen ligdag, toe Anna en Amos aanmeld, oorhandig sy die sleutels van die huis aan hulle.

“Hierdie koeverte het my pa vir julle in die skryftafel gelos.”

Hulle praat nie, skeur net oop. Weet nie wat om te verwag nie.

“Geld!” roep Amos uit.

“Baie geld,” bevestig Anna en haal die persblou note uit haar koevert. Albei se oë staan yslik groot en stokstyf in hulle koppe. Hulle kan nie glo wat hulle sien nie.

Tessa ook nie, maar sy sal dit nie vir hulle wys nie.

“Dan was Oubaas tog dankbaar vir alles wat ons oor die jare hier vir hom gedoen het.” Daar is ‘n snik klank in Amos se stem toe hy sy briefie lees.

“Ek is seker hy was,” troos Tessa. Sy raak haastig om te vertrek. “Kyk dat die huurders nie die plek afbreek nie. Ek hoor dit is vier jong manne wat op die myn gaan werk.”

“Dis wat die agent gesê het,” bevestig Anna met trane in haar oë. “Dit moet goed gaan met jou. Moenie ons vergeet noudat jou pa dood is nie.”

“Jy weet ek sal dit nooit doen nie.” Tessa druk haar ‘n oomblik teen haar vas. “Dankie vir alles wat julle twee vir my en my pa gedoen het. Deel die geld van die pandjieswinkel ook gelykop tussen julle twee. Ek sal kom kuier.”

Dit was ‘n mooi ding van haar pa om te doen, dink Tessa. Sy sou self graag hierdie twee mense wou vergoed vir jare se getroue diens, maar haar geldjies is maar min.

Sy probeer hard om haar pa se optrede te verstaan. Miskien is dit Oubaas Greyling se siekbed wat hom gelouter het, sodat hy weer die meer genaakbare man geword het wat hy lank gelede was.

Al was haar pa siek, was dit steeds vir haar ‘n skok toe die hospitaal daardie aand net na middernag skakel en haar inlig dat die ou man pas oorlede is. Die suster het uitgestap om iets in die kafeteria te gaan eet en toe sy terugkom is hy weg.

Rustig in sy slaap heengegaan. Natuurlike oorsake. Bloot opgehou om asem te haal. Vreemd. Sy het nooit gedink dat haar pa van natuurlike oorsake sou doodgaan nie. Sy het geglo dat hy sou veg, tot die bittereinde. Dat sy hom nog ‘n keer sou huis toe bring.

Kan sy aanvaar dat hy self vrede gemaak het met die feit dat sy tyd min raak en die laaste maande gebruik het om sy lewe in orde te kry? Dat hy selfs met Jonathan Lombard wil vrede maak?

Dis moeilik om te glo. Sy ry tot by die Phalaborwahek van die wildtuin waar sy die staalkissie oopsluit en die twee ander koeverte uithaal. Sy skeur hare oop. Dis weereens geld. Honderd en tweehonderdrand note. ‘n Lang brief waarin haar pa vra dat sy die geld nuttig moet gebruik. Volgens die brief was die geld deel van ‘n polis wat hy onlangs te gelde gemaak het, om kontant in die huis te hou om van te leef. Tessa hoop dat dit die waarheid is. Sy stel nie belang in bloedgeld nie, al sal die bedrag ‘n hele paar gate in haar eie begroting toestop. Daar volg nog ses bladsye, geskryf in sy bekende deurmekaar handskrif, maar Tessa besluit om dit later te lees. Sy glo in elk geval dat dit opdragte en nogmaals opdragte is, van die anderkant van die graf af.

Dit laat Tessa aan die dik koevert, wat aan Sersant Jonathan Lombard gerig is voel. Sy oorweeg dit om dit oop te skeur en te loer wat haar pa daarin gesit het. As dit ook geld is, kan sy nie vir een oomblik glo dat Jona dit sal aanvaar nie. Vir hom sal dit ‘n belediging en ‘n klap in die gesig wees as hy nog dieselfde beginselvaste Jona is van jare gelede. Sy begin om die hoekie van die koevert oop te woel, maar haar normale oordrewe eerlikheid en pligsbesef neem van haar besit. Al het sy geen idee wat haar pa se motiewe was nie, glo sy dat slegs een persoon mag die koevert se inhoud sien en dit is Jonathan Lombard.

Jona is natuurlik lankal nie meer sersant nie. Maar vir haar pa, Kaptein Oubaas Greyling, was die Mag sy alfa en omega, niks en niemand daar buite het iets beteken nie.

Daar was van die eerste oomblik af geen liefde te spaar tussen haar pa en Jonathan nie. Inteendeel, haar pa en sy manne het waarskynlik onmiddelik agtergekom dat hierdie jong man hulle ondergang sal beteken. Hulle moes ‘n eenvoudige keuse maak; reg of weg.

Die gevolg was dat Jonathan ‘n hoofstuk in Tessa lewe was, wat sy moes uitskryf. Hy sou nêrens in die wêreld veilig gewees het nie, as hy in daardie stadium vir homself ‘n groter vyand van Oubaas Greyling en Eric Loubser gemaak het.

Sy moes hom laat gaan … Maar nie sonder ‘n prys nie. En dit het haar verander. Sy het ‘n front rondom haar gebou en die mees manlik domein van die Mag betree. Fotograaf, die muur waarteen almal wat rokdra in daardie stadium vasgeloop het. Alles wat haar manlike kollegas moes doen, wou sy beter regkry, al is sy eintlik maar kleinerig en fyn gebou.

Die kortste roete van Phalaborwa af, na Marlothpark, is deur die wildtuin. Tessa bêre albei koeverte weer en klim uit om haar toegangspermit te gaan uitneem. Al ry sy vandag met ‘n trek agterop ‘n sleepwa, wil sy geen geleentheid laat verbygaan om haar natuurlewe fotos aan te vul nie. Dis so bietjie soos dobbel of visvang, want elke keer as sy haar kamera op die passasiersitplek langs haar neersit, wonder sy of dit die dag is waarop sy die spreekwoordelike grote gaan inkatrol! Haar motto, daar is altyd ‘n kombinasie diere wat nog nie tevore afgeneem is nie.

Dis hoekom sy die verskuiwing van polisie fotograaf, na natuurlewe fotograaf gemaak het, na haar uittrede uit die Mag ‘n paar jaar gelede. Sy was dikwels gekonfronteer met die meer afgryslike sy van die lewe. Nou sien sy net die mooi van die skepping raak. Sy maak beslis nie ‘n fortuin daaruit nie, maar haar uitbetaalde pensioengeld is veilig belê, nadat sy haar huisie kontant gekoop het, en die rente daarop elke maand betaal die water en ligte. Die kaartjies en poskaarte wat sy van haar mooiste fotos maak, sit so af en toe spek en eiers en ‘n lekker kreef, uit Maputo, op die tafel. Die Trooper waarmee sy ry is oud, maar gerieflik en vanuit die bestuurderssitplek kan sy in ‘n driehonderd en sestig grade hoek rondbeweeg om ‘n foto uit die beste hoek te benader.

Tessa ry stadig en stop by elke watergat. Sy het heeldag tyd om terug te kom in Marlothpark. Teen tweeuur is sy naby Onder Sabie. Dis waar haar selfoon lui maar die sein sleg waar sy haarself bevind.

“Goeiedag, ek sien jy het my gesoek, maar nie ‘n boodskap gelos nie.” Die stem is nie oorvriendelik nie, maar Tessa weet dadelik dat dit Jona Lombard is, wat haar nommer op sy foon gesien het en terugbel.

“Jonathan Lombard?” vra sy tog, om haar hart se klop kans te gee om tot bedaring te kom.

“Korrek. En jy is?”

“Ek het … ‘n koevert vir jou…”  Sy noem doelbewus nie haar eie naam nie. Sy weet mos dat hy haar nie sal wil sien nie.

“Kan nie hoor nie. Jy het ‘n wat?”

“‘n Brief. Waar … woon … jy?”

‘n Lang stilte. Dis duidelik dat indien Jona Lombard die vraag gehoor het, hy nie sommer adresse uitdeel nie.

“Toere. Ek hoor jy doen toere.” Tessa besluit om die saak uit ‘n nuwe hoek te benader. “Waar kan ek jou kom spreek? Is jy nog in Mosambiek?”

“Bespreek… vir Mosambiek?”

“Nee, ek aanvaar jy is nog in Mosambiek. Jou boodskap …” Sy probeer om hard en duidelik te praat.

“Jou stem breek op.” Daar is weer ‘n oomblik se stilte asof hy moet probeer sin maak van die brokkies wat oor die selfoon na hom toe aankom. “Het jy gevra of ek nog in Mosambiek is? Ek moet my boodskap verander. Dis al die twintigste vandag. Nee, ek is in Nelspruit.”

“Woon jy daar?” vra sy so neutraal as moontlik.

“Nie eintlik nie, die wapad is my woning. Ha ha.” Dis hoe sy Jona onthou. Gemoedelik en altyd reg om humor raak te sien. “Wil jy toer?”

“Ja, waar kan ons praat?” Sy moet die koevert persoonlik in sy hande kan sit. Dis wat haar pa van haar verwag.

“Waar is jy? Hoekom is die foon se sein so sleg?” vra hy, nadat hy waarskynlik op sy eie foon gekyk het, of die ontvangs by hom swak is.

“Sunsetdam, by Onder Sabie,” antwoord sy.

“Sabie? Mpumalanga?” vra hy en sy besef dat hy haar regtig sleg hoor.

“Onder Sabie, Kruger wildtuin. Jimmel, dis uitputtend om mekaar nie te kan hoor nie. Ek sal jou weer bel sodra ek in Marlothpark kom.”

“Marlothpark?” Dit doen blykbaar die ding. “My basiskamp is naby Komatipoort, ons kan mekaar more daar iewers ontmoet. Wie is jy… en wanneer sal… jy…?”

“Ek kan jou ook nie meer hoor nie …” Sy verbreek die verbinding doelbewus.

Tessa sit vir ‘n lang tyd doodstil by die dam by Onder Sabie, voordat sy by die ruskamp inry en voor die winkel en restourant kompleks stop. Sy bly al vir vier jaar in Marlothpark, digby Jonathan Lombard se basiskamp en sy weet dit nie.

Hoe lank is hy al in die omgewing?

Hier is die skakel op Amazon waar die Volmaan as eboek beskikbaar is:

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.