As jy maar weet – Adele Reynders Romanza

asjymaarweet

Rika Smit maak bruin waterverfskilderye onder haar eie naam en malse gekleurde etniese prente onder ‘n skuilnaam Nonyana. Haar laaste uitstalling was nie besonder suksesvol nie. Net Nonyana maak geld. Boonop soek die koerante ‘n gesig
by die naam. Sy is bereid om met die sak patats vorendag te kom, maar haar kurator sal dit nie toelaat nie. Hy verdien immers net so lekker geld soos sy.
Dan is daar die geheimsinnige motorfietsryer Adriaan Olivier, wat om een of ander rede net soveel belangstelling in haar werk toon. Hoekom?

Hoofstuk 1

“Dis nou ‘n mooi tyd om genade te betoon, maar dankie in elk geval!” verwyt Rika die wolke wat nog steeds swaar en donker in die laatmiddag oor die bosse hang. Sy is amper by die huis. Die moeilikste deel van die pad kon sy nie sien nie. Dit het lanklaas so gereën in hierdie deel van Mpumalanga.
Maar toe sy op die grondpad afdraai sien sy in die skerp ligte van haar motor dat die storm Marlothpark ook nie gespaar het nie. Sy ry in tweede rat verby en deur die dongas in die grondpad. Eers toe die strook teerpad weer voor haar verskyn, waag sy dit om vinniger as dertig kilometer per uur te ry. Sy kan nie wag om by die huis te kom nie. Die kunsuitstalling waaraan sy in Pretoria deelgeneem het, was toe nie so suksesvol as wat sy gehoop het nie. Slegs tien van die sestig skilderye wat sy gemaak en laat raam het, is verkoop. En wat meer is, dis nie die tien skilderye met haar eie naam onderaan nie.
Nonyana! Dis die naam wat sy gekies het, omdat die kurator van die galery vir wie sy werk, ‘n paar jaar gelede voorgestel het dat sy ‘n skuilnaam vir haar meer etniese pastelwerke gebruik.
Aanvanklik het Rika gedink die skuilnaam idee was die beste ding wat sy nog vir haar loopbaan gedoen het. Veral oorsese kunsversamelaars was gaande oor die vrolike, kleurvolle skilderye en sketse, waarvan een selfs in Engeland ‘n rekordprys behaal het. Maar nou is daar druk van alle kante. Die koerante en beleggers wil meer weet en skryf oor die persoon wat die kwas en houtskoolpotlode vashou. Hulle is opsoek na die gesig agter die skilderye.
Alles goed en wel, het sy gedink. Dit is dan nou die tyd om met die waarheid vorendag te kom. Sy wat Rika Smit is, doen haar sobere bruin natuurstudies onder haar eie naam en die malse werkies teken sy as Nonyana. Sy sal nie die eerste kunstenaar wees wat ‘n skuilnaam of selfs verskeie skuilname gebruik nie.
Maar toe sy dit vanoggend teenoor Dave Small opmerk dat dit tyd is dat Nonyana se ware identiteit openbaar gemaak word, het dit gelyk asof die man ‘n hartaanval kry. En net daar kom hy toe met die sak patats vorendag. Sy mag nooit aan enigiemand erken dat dit haar werke is nie. Hy het vir die samesteller van een van die voorste kunsboeke in die land, ‘n profiel van Nonyana voorgestel. Donker, groot en sy bly in ‘n modderhut op die oewers van ‘n groot rivier in Mpumalanga. Inheems. Outentiek. Want dis wat die mense soek, nie ‘n bleeksiel namaaksel nie.
Verbeel jou, donker en groot! Rika kon stik van verontwaardiging. Dis presies die teenoorgestelde van wie sy is. Haar hare is ligbruin, amper blond, tipies van die Germaanse afkoms. En sy is kleinerig gebou. Sy is dus die bleeksiel namaaksel wat Dave nie vir die kunsversamelaars wil bekendstel nie. Volgens hom vat haar Westerse voorkoms die romantiek agter die skilderye weg. Verkope het niks te doen met hoe goed die werke is nie, dit het alles te doen met hoe goed dit bemark word.
En natuurlik die handtekening onder aan die werke. Honderd mense kan so goed of selfs beter as Picasso skilder, maar as dit nie die groot meester se naam is wat onder aan die werke geskryf is nie, sal niemand dit koop nie.
En Nonyana is nou dáár waar kunsversamelaars ernstiger na die handtekening kyk, as die komposisie self. Nonyana is ‘n náám. Rika Smit is ‘n niemand.
Rika wonder opstandig wat Dave sal doen, as sy besluit om die kraan toe te draai en op te hou om die Nonyana prentjies te vervaardig? Nie dat sy dit in hierdie stadium kan bekostig om op te hou skilder nie. Die twee dae per week kunsklasse wat by ‘n skool in Komatipoort betaal nie regtig haar huis en karpaaiement nie. Sy het afhanklik geword van die brood en botter wat Nonyana op die tafel sit.
Rika ry nou weer stadiger. Die afdraai na haar huisie is naby en al bly sy al vir drie maande hier, ry sy steeds dikwels verby omdat die bos ruig is en die huis nie van die straat af sigbaar is nie. Sy skakel haar flikkerlig aan en draai. Die volgende oomblik is daar ‘n enkele helder verblindende lig reg voor haar in die oprit na die huis. Instinktief swenk sy na links, betyds om te sien hoe ‘n rooi agterlig nou langs haar in die bos verdwyn. ‘n Motorfiets! Dan volg die skuur van metaal en ‘n slag.
Ag nee, by al haar drama en spannende vyf ure se bestuur in druk verkeer op ‘n Sondagmiddag tussen Gauteng na Mpumalanga wil sy nie ooggetuie wees van ‘n nare ongeluk in haar eie oprit nie.
Vir ‘n oomblik sit sy geskok en vasgenael agter die stuurwiel van haar motor, voordat sy haar flitslig gryp, die deur oopruk en hardloop na waar die motorfiets nou brommend op sy sy lê. ‘n Ent daarvandaan lê ‘n man bewegingloos, gesig ondertoe in die modder. Die spoed was miskien nie baie hoog nie, maar sy weet dat ‘n ryer se nek kan breek, al val sy motorfiets om.
Terwyl sy tussen die takke deur sukkel om by hom te kom, sien sy die registrasienommer van die motorfiets het ‘n ‘GP’ agterna. Waarskynlik nie iemand van hier rond nie.
Op daardie oomblik begin die man roer. Hy draai steunend om en sit stadig regop. Toe haal hy die valhelm van sy kop af en gooi dit op die grond langs die motorfiets neer.
“Het jy seergekry?” Rika hurk langs hom, onseker of sy hom moet aanraak of ophelp.
“Ek weet nie. Ek wag nog om uit te vind.” Hy vryf die kant van sy gesig, waar ‘n dun straaltjie bloed met die modderwater meng.
“Jy bloei. Ry jy nie met ‘n beskermende baadjie in die reën rond nie?” Sy is ontsettend verlig om te sien dat hy leef. ‘n Duisend en een prentjies van bloed en verminking is voor haar geestesoog verby in die paar sekondes wat dit haar geneem het om hom te bereik. Maar noudat sy sien hy leef, lyk hy meer soos ‘n man wat pas in sjokoladesous gedoop is, as na ‘n pasiënt wat met ‘n ambulans na ‘n hospitaal afgevoer moet word. Alles aan hom is bruin van die modder.
“Dit het nie gereën toe ek hier aangekom het nie,” brom hy en toets sy bene een vir een voordat hy stadig opstaan. “Vervlaks, ek dink nie biking is my scene nie.”
“Biking?” Rika toets die Engelse woord wat die Afrikaanse taal op twee wiele binnegery het. “Ek dink ook jy is te oud om met ysterperde in bosse op nat grondpaaie te galop.”
“Is nie! Die manne ry tot ons tagtig is en ek is nog ver daarvandaan. Hierdie is ‘n dual bike wat beteken mens kan hom op teer en grondpad gebruik. aldus die ouens wat weet van motorfietse.” Hy begin om sy weg tussen die takke deur te baan en werk homself netjies in die groot haak en steek bos vas.
“Staan stil. Ek sal jou moet uithelp anders gaan jy meer bloei van die dorings, as van die val.” Rika kom nader en begin om die geniepsige takkies een na die ander uit sy arms en hemp te trek. “Wat van die fiets?”
“Ek dink nog.” Hy kyk nie eens weer na die geel motorfiets wat homself in ‘n petroldamp doodgesmoor en nou in ‘n taamlike patetiese hoop teen die boomstam lê nie.
Toe hy uiteindelik van takke en dorings verlos is, help Rika hom tot by haar huisie, omtrent dertig meter van daar af is. Sy laat hom buite op die trap wag en trotseer nog ‘n keer die reën om haar motortjie te gaan haal. Met die terugkom sien sy dat haar gas staan en bewe, met sy arms beskermend om sy lyf gevou.
“Kom in dat ons jou warm en droog kan maak. Dan moet ek jou by ‘n dokter kry. Jy ly dalk aan skok.” Vir die eerste keer in ‘n lang tyd mis sy haar gewese man. Hy was ‘n dokter, hy het altyd noodgevalle soos hierdie hanteer. Of liewer, hy kon dit hanteer tot op ‘n sekere stadium …
Kobus haar ex, was self ‘n motorfietsryer, totdat sy beste vriend en kollega drie jaar gelede reg voor hom in ‘n brug vasgejaag het en op slag dood is. Sy magtelose frustrasie omdat hy niks kon doen om die man te help nie, het uiteindelik gemaak dat hy sy eie fiets en dié van hulle studenteseun verkoop het. Sy kon niks doen om hom te help deur sy slapelose nagte en donker gat van depressie daarna nie. Dit was Kobus se voorstel om te skei, nadat hy ‘n pos by ‘n hospitaal in Londen aanvaar het. Hy wou Suid-Afrika se laaste stof van sy voete afvee en alle herinneringe van die verlede uitwis. Hy het egter een kosbare ding saamgeneem, hulle seun.
Ironies dat sy daarna troos en vertroosting in die arms van nog ‘n ander motorfietsryer kennis van Kobus gevind het. Jan Durandt, haar vriend tot redelik onlangs was nooit in ‘n ongeluk nie en het nog nooit geval nie, touch wood. Maar hy was een van die manne wat sy motorfiets gebruik het om ‘n harem vrouens bymekaar te maak. Dit het sy met skok agtergekom in die tydjie wat sy hom as haar alfa en omega gesien het.
Kortom, haar ervaring van manne met ysterperde laat veel te wense oor.
Nou hinkepink ‘n bibberende bloeiende motorfietsryer agter haar aan na haar huis toe en dit op ‘n Sondagaand wat reeds blouselblou was toe die son begin sak het. Sy was van plan haarself in haar kussing aan die slaap te huil oor die uitstalling.
“Ek is Rika Smit. Wat is jou naam en waarheen was jy oppad?” vra sy, terwyl sy haar voordeur oopsluit.
“Adriaan Olivier.” Hy steek ‘n verkeerde hand uit en raak hare liggies in ‘n groet aan. ‘n gebaar wat waarskynlik die plek van ‘n bladskud moet inneem, omdat hy sy regterhand vodde geval het. Daarna vou sy arms weer koulik oor sy bors. “Ek het jou adres by Engela Botha gekry en onder die afdak hier by jou huis vir jou gewag, maar toe jy nie uitkom nie het ek besluit om maar weer te ry.”
“O,” daar gaan vir haar ‘n lig op. “Wou jy in my gastehuis oornag?”
Omdat die skilderye nie so goed doen as wat sy aanvanklik gehoop het nie, het sy besluit om die tweede huisie op haar grond beskikbaar te stel vir toeriste wat in die park wil oornag en dit vir Engela en Buks, die eiendomsagente genoem om te help bemark.
“Dit was nie die oorspronklike plan nie.” Daar gaan ‘n rilling deur sy lyf en hy kyk bekommerd na die wolke wat dreig om weer emmers water af te gooi aarde toe. Dit het nog lank nie klaar gereën nie.
“Nou wat was die plan?” vra Rika verbaas. Sy trek die deken van ‘n groot bank op haar onderdakstoep af en vou dit om sy lyf. “Ek kan verstaan dat jy onseker is oor die motorfiets se lot na dese, maar mens beplan tog waar jy jouself wil bevind wanneer die son begin laag hang.”
“Ek het beplan. My plan was om na jou skilderye te kom kyk en daarna terug te gaan huis toe. Ek het by die Dave Small Galery in Johannesburg gehoor jy woon en werk deesdae in Marlothpark.” Hy beweeg die vingers van sy seer hand stadig en sy gesig vertrek van pyn. “Maggies, dit maak seer en ek maak jou deken vol bloed en modder.”
“Vergeet die deken, dis horingoud en hoort lankal op die ashoop.” Rika kyk skerp na hom. Haar kurator sal nie maklik vir enige mens vertel waar sy kunstenaars hulleself bevind nie. Dit bring sy eie kommissie in gedrang. Dit beteken dus dat hy nie meer haar skilderye wil verkoop nie. ‘n Wete wat haar selfbeeld ‘n verdere knou gee.
“Wil jy koffie of warm sjokolade drink?” verander sy die onderwerp.
“Sjokolade sal lekker wees en dan moet ek padvat. Ek sal jou deken laat was en terugbring.” Hy vou dit stywer om sy lyf. Sy gaan dit nie vanaand terugkry nie.
“Ek dink nie jy behoort vanaand verder ry nie. Jy weet nie wat nóg kan gebeur met bejaarde mans wat danksy reuse ego’s op ‘n motorfiets klim nie”
“‘n Reuse ego?” Sy mond val oop van verbasing. “Waarop het jy hierdie vinnige opsomming gebaseer?”
“Baie eenvoudig!” Sy hoef nie eens daaroor te dink nie. “Dis koud en jy ry sonder ‘n baadjie in ‘n donderstorm rond. Dit is nie dapper nie, dis dom. Dis amper donker en ek verseker jou, al is jou ego hoe groot is dit beter om nie na donker en in hierdie reën, met die motorfiets op die pad tussen Malelane en Nelspruit te wees nie. Veral nie op ‘n Sondagaand nie.”
“Tussen Malelane en Nelspruit?” Hy kyk met ‘n eienaardige uitdrukking op sy gesig na haar. ‘n Uitdrukking wat haar laat voel asof sy die een is wat stapelgek is.
“Dis die pad Johannesburg toe, as ek reg onthou. Maar dan is ek nie die een wat my breins uitgeval het nie,” antwoord sy koel en uit die hoogte. Sy weet die woorde is kras, maar sy is nie lus om onbeholpe mans te vertroetel nie.
“Ek het nog my breins. Dis die enigste goed wat ek nie stukkend geval het nie.” Hy druk met sy vingerpunte teen sy voorkop en Rika wonder of dit ‘n poging is om te keer dat die laaste bietjie verstand wat oor is, nie ook sy kop verlaat nie.
“As jy hier wegry, is dit Hectorspruit, Malelane, Nelspruit,” verduidelik sy stadig en afgemete om hom te help onthou. “Tensy jy weet van ‘n ander roete.”
“Na Johannesburg toe? Ja, deur die wildtuin, Krokodilbrug in en Phabeni of Numbi uit. Maar helaas, die wildtuin se hekke is in die aand toe. En hulle sal nie die geel ysterperde toelaat nie, dis ‘n uitheemse spesie,” verduidelik hy gevat.
“Korrek, blikmonsters met wiele, wat die ekosisteem opdons met geraasbesoedeling.”
“Jy hou nie van motorfietse nie…” Hy kyk haar aan asof hy sy ore nie kan glo nie. “Die meeste vrouens vind mans wat met monstermasjiene rondbeweeg onweerstaanbaar.”
“Helaas, ek het tot my skok agtergekom dat dit die persepsie is wat meeste motorfietsryers van hulleself het,” antwoord sy kil.
“Oehoe, een of ander ou het die ystermanne se naam weggegooi en nou is jy kwaad vir ons almal.” Spot hy met haar? Of hoor sy die onmisbare klank van simpatie in sy stem. Sy sal nie daarop antwoord nie. Dit het niks met hom uit te waai nie.
“Luister, gaan ons heel aand hier buite staan en seker maak dat ons môre albei sterf van longontsteking of gaan jy besluit wat jy wil doen?” Sy sug oordrewe. “Ek is regtig baie moeg en dis koud. Wil jy my huisie huur, of wil jy ry? Dis mos deel van die voorregte om ‘n motorfietsryer te wees. Afval dat die bloed spat en opklim om weer te ry.”
“Ek moes uitswaai. Ek sou nie geval het, as jou kar nie skielik die hele pad vol was nie,” verweer hy homself. “Ek het amper my lewe gegee vir ‘n terroris.”
“Terroris? Dis ‘n Terrios, ‘n Daihatsu Terrios.”
“Ek weet watse kar dit is. Moenie so kwaai wees nie,” keer hy. “Daar is ‘n klein probleempie, ek sal nie die fiets alleen uit die modder kan optel nie. Ek dink nie jy besef wat weeg ‘n BMW motorfiets soos daardie een nie. Mens moet kan vastrap en vasvat.”
“Dan moet jy maar oorslaap en môre mense kry om jou te help. Op Maandae loop heelwat werkers in die straat verby as jy vroeg uit die vere is.”
“Goed, wys my die huisie. Ek moet erken, ‘n warm bad of stort sal in die stadium welkom wees. En ‘n bed! Is hier ‘n tuimeldroër? Ek moet my klere probeer droog kry.”
“Ek het nie ‘n tuimeldroër nie, jammer. Het jy niks op jou motorfiets saamgebring nie?” Sy kyk ondersoekend na hom.
“Ek weet nie.”
“Hoe kan jy nie weet wat jy op jou fiets saamry nie?” vra sy geskok.
“Miskien moet ek gaan kyk of daar iets in die fiets se bagasieruim is.” Hy lyk ietwat verlore terwyl hy met sy gesonde hand oor sy skouer in die rigting van die geel fiets beduie.
“Ek dink dis presies wat jy moet doen,” daag Rika hom uit.
“Reg.” Hy draai om en sy sit hom agterna.
“Dis daardie boks agter jou boude, wat jy met ‘n sleutel oopsluit en afhaal. Gewoonlik sit die ouens wat gereeld op raleighs gaan hulle bagasie daarin,” verduidelik sy.
“Okay.” Hy hurk langs die fiets en probeer om die deksel oop te maak. Uiteindelik gee hy op. “Weet jy hoe om dit oop te kry?”
“Toevallig ja.” Rika weet nie of sy moet lag of huil nie. Sy trek die sleutel uit die aansluiter, sluit die kas agter van die saal af los en haal dit uit die modder. Hy probeer om dit by haar af te neem toe sy daarmee begin terugstap, maar sy ruk los. Hy moet nie nou maak asof hy dit self kon doen nie. Hy moet ook nie voorgee dat hy in staat is om dit te dra en homself in die proses verder seermaak nie. Sy plak die geel metaalhouer hardhandig op die tafel in haar lapa neer.
“Dankie.” Teen die tyd het die reën die meeste van die bloed en modder van die man se gesig afgespoel. Rika sien weer dat dit ‘n gesig is wat verskriklik aantreklik mag wees, wanneer dit skoon is.
“Jy gebruik dieselfde sleutel waarmee jy die houer afhaal, om dit oop te sluit. Dis hierdie kleiner sleuteltjie.” Sy hou die bossie sleutels na hom toe uit.
“Sal jy dit vir my oopsluit, asseblief?” vra hy egter. “Jy is reg, my hand wil nie werk nie.”
Dis nie net sy hand wat nie werk nie. Niks aan hom funksioneer nie, besluit sy en sien weer rooi. “Ek dink nie jy weet hoe nie. Dit is waarskynlik nie jou eie fiets nie. Ek dink jy die fiets geleen of… gestee… gevat by iemand.”
Hy swaai na haar toe, sy oë wydgerek van verontwaardiging. “Wou jy sê gesteel?”
Sy antwoord nie. Dis presies wat sy wou sê en sy weet dat dit dwarsoor haar gesig geskryf staan.
Hy leun oor na haar toe en as sy mond haar nie op daardie oomblik uitlag nie, doen die lagplooitjies langs sy mooi oë dit. “Is dit so opvallend?”
“Nogal.” Dit voel of haar keel toetrek. Die man het pas teenoor haar erken dat hy iemand anders se ryding gesteel het. Vir die eerste keer kom dit by haar op dat hy dalk nie heeltemal normaal is nie. Sy optrede is baie vreemd en hy lag oor goed waaroor ander mense, gewone mense soos sy, in trane sou laat uitbars. Gestel die man het uit een of ander inrigting ontsnap en die naaste voertuig gegryp, om uit die stad weg te kom? Dis dalk hoekom hy nie in volle motorfietsmondering rondry nie. Die wettige eienaar staan dalk iewers in ‘n polisiestasie in ‘n swart leerpak met ‘n kopbeen en chauvinistiese spreuk op die rug geverf ‘n verklaring en aflê oor sy motorfiets wat soos mis voor die son verdwyn het.
“Jy wen. Maar ek gaan nie vanaand vir hom laat weet wat gebeur het nie.”
“Wil jy eers jou spore doodvee?”
“Beslis. Dit sal betrekkinge tussen ons beter hou,” verklaar hy onomwonde, terwyl hy die inhoud in die fiets se bagasiehouer inspekteer. Daar is sowaar klere in. Vir die stukkende denim langbroek en T-hemp trek Adriaan Olivier onmiddelik sy neus op en Rika kry die gevoel dat indien die asblik ‘n paar meter nader gestaan het, die klere waarskynlik kortpad na die bodem sou gevind het. Die toiletsakkie met tandeborsel waarvan elke haar ‘n nuwe windrigting ontdek het verdien ‘n oomblik sy onverdeelde en hoogs geamuseerde aandag, voordat hy dit op die tafel neersit. Daarna haal hy ‘n lekker warm sweetpak met die Universiteit van Pretoria se logo daarop uit. Die donkerblou sweetpak is steeds in sy plastiek verpakking.
Adrian se kop knik goedkeurend op en af.
“Miskien te square vir party ander ouens wat ek ken,” merk hy op en Rika vermoed dat hy na die wettige eienaar van die fiets verwys. “Vir my is dit perfek. Nou vir daardie stort en bed waarmee jy so spog en dan moet ek seker vir my huishulp laat weet dat ek nie môreoggend tuis gaan wees nie.” Hy trek sy selfoon uit die hemp se bosak. “Aha, bly om te sien die ding werk gelukkig nog.”
Rika sluit die huisie se deur oop en skakel die ligte aan. Sy trek die dubbelbed vinnig oor en sit ‘n handdoek en seep reg. Sy is skaars daarmee klaar, toe sy besef dat hy stil agter haar ingekom het en nou die nederige gastehuisie staan en deurkyk. Behalwe vir die dubbelbed, is daar in die ander hoek van die oopplan huisie twee bankbeddens, waarop gesit of geslaap kan word. Die kombuis bestaan slegs uit ‘n wasbak teen die muur en ‘n kroegyskassie. Gaste kan in die lapa kook en braai.
“Ek moet jou waarsku, as jy dalk geluide hoor in die nag. Hier slaap ‘n vlakvark gesin reg onder die houthuisie. Vanaand sal hulle seker spook om rustig te raak, want hulle bed het ‘n modderbad geword.”
“Toemaar, ek is nie ‘n bang ou nie. En die huisie is mooi.” Hy gaan staan voor die drie Nonyana skilderye bokant die een bankbed en draai sy kop skeef. “Vreeslik oulik.”
Vreeslik oulik! Is dit wat hy die ellendige goed, waaroor die kunsversamelaars deesdae so gaande raak noem? Sy trek haar skouers reguit en besluit om nie te antwoord nie. Sy is beslis nie van plan om enige van haar skilderye met ‘n ligsinnige knert op ‘n gesteelde motorfiets te bespreek nie.
Rika raak aan sy arm en beduie na die enigste ander deur in die vertrek. “Dit is die badkamer. Daar is nuwe toiletware in die kassie. Ek is seker jy wil nie daardie ander ou se tandeborsel en skeermes gebruik nie.”
“Jy is reg, dankie. Daardie tandeborsel is net geskik vir ‘n weermag groentjie om ‘n toilet mee te skrop En ook net as die samjoor vir hom regtig kwaad is.” Hy haal ‘n tandeborsel uit haar badkamerkassie en beduie daarmee in haar rigting, voordat hy die verpakking afskeur. “Sit dit op my rekening.”
“Op jou rekening?” roep sy verontwaardig uit. “Mans wat met gesteelde motorfietse by my huis ingeval kom, betaal slegs kontant.”
“Kontant? O gits! Skuus…,” grinnik hy gemaak verleë en soek met sy verkeerde hand in sy nat broeksak. Hy haal ‘n hele paar sopnat note uit. “Is dit genoeg?”
“Dis… te veel,” stotter sy, skielik skaam oor haar uitbarsting. Sy gee daarvan aan hom terug. Dit was nou nie die manier om ‘n toeris te behandel nie.
“Nee, hou die geld,” keer hy. “Ek hoop dit kan betaal vir aandete ook, anders sal ek maar na die pub hier naby moet stap. My maag skree.”
“Dis ‘n oortreding om na donker hier te stap. Dis ‘n natuurreservaat, ‘n wildtuin. Hier is leeus en beamptes kan jou in hegtenis sal neem.” Sy gooi haar arms desperaat in die lug. “Weet jy niks van niks af nie?”
“Nee, ek weet dit darem. Just checking!” Hy trek sy skouers ongeërg op.
“Nou dan los ek jou eers om reg te maak.” Sy stap deur toe, maar draai bekommerd om en vra. “Gaan jy regkom met die stortery?”
“Ek sal maar sukkel met die verkeerde hand. Hoekom vra jy? Is jy bereid om my te kom help?” Hy loer vraend om die badkamer deur en toe sy net geskok staan en gaap, maak hy die deur agter hom toe. “Just checking.”
“Simpel mansmens!” raas sy, toe sy weer tot verhaal kom.
“Ek het jou gehoor,” roep hy van agter die toe deur. “Om dit van ‘n weerlose onskuldige man in pyn te sê.”
Weerloos en onskuldig? Dis mansmense met sulke vroom en mooi gesiggies wat ou tannies uit hulle laaste spaargeldjies verneuk.
Hoekom op die aarde het sy gevra of hy sal regkom? Vervlaks, sy gee nie om of hy regkom nie, raas sy met haarself. Sy gee nie eens om of ‘n koekie seep onder sy voet beland en hy nog ‘n keer met ‘n slag afkom aarde toe nie. Sy sal nie toelaat dat ‘n nat ‘biker’ met ‘n middeljare krisis of ‘n sielkundige probleem haar gevestigde wêreld kom omkrap nie. Inteendeel, een verkeerde skuif van sy kant af en sy bel die sekuriteit en polisie en laat hierdie vent so diep toesluit, dat hy in die volgende sewe jaar nie daglig sien nie.

Hoofstuk 2

Rika laai die kruideniersware uit haar kar en stap teen die trappe op na haar huisie. Haar lyf is ongemaklik koud van die natreën en die spieël in haar kamer vertel vir haar dat sy al beter gelyk het. Sy trek vinnig droë klere aan.
Terwyl sy die ergste nat uit haar skouerlengte hare droogblaas, wonder sy wat die man in haar gastehuisie se eerste indrukke van haar is. Bleek van die lang ry en met hare wat in slierte oor haar gesig hang. ‘n Gesig wat ook in die proses ‘n blerts modder ontvang het, danksy haar reddingspoging. Nie dat dit saak maak nie. As dit van haar afhang, gaan hulle mekaar nie lank genoeg ken om op ‘n stadium te kan terugkyk na die dag waarop hulle ontmoet het nie.
Maar sy is nuuskierig. Hoekom sou iemand soos Adriaan Olivier na haar beskeie woonplek in Marlothpark kom, terwyl haar skilderye in elk geval van die goedkoopste in Dave Small se galery is? Sy oorweeg weer sy verduideliking dat hy by die galery gehoor het dat sy in Marloth woon en toe boonop haar adres by Engela en Buks hier in die park gekry het. Dis nie asof sy haar vinger op iets kan sit nie, die man se verduideliking pas net glad nie by Dave se protokol nie. Maar sy sal dit later met hom uitklaar.
Haar groter probleem is egter minder eenvoudig. Adriaan Olivier self. Wat is dit aan die mooi man wat haar hart van die eerste oomblik af onkeerbaar op ‘n drafstap stuur as hy net ‘n oomblik te lank na haar kyk? Dit is tog nie die eerste keer dat haar pad met dié van ‘n aantreklike man kruis nie.
Om geen rede hoegenaamd nie, of dis wat sy haarself wysmaak, borsel sy haar hare met groter sorg, sodat die man darem kan sien dat sy nie altyd lyk asof sy altyd in konflik met die elemente is nie.
Sy sit die borsel hard neer. Genoeg. Hoekom soek haar hart nou moeilikheid wat kon gebly het? En hoekom wil sy so graag haar beste voetjie voorsit?
Miskien het dit te doen met die feit dat Adriaan so sterk en manlik voorkom, maar so onbeholpe en weerloos soos ‘n seuntjie gelyk het toe sy hom die donker stormagtige nag probeer instuur het. Sy moet teenoor haarself bieg dat sy nie ‘n oog sou toemaak as hy die motorfiets opgetel het en wel vanaand die pad terug na Johannesburg toe aangepak het nie. Al is hy niks van haar nie en al ken sy hom van geen kant af nie.
Sy gee ‘n vegie rooi oor haar lippe. Vir haarself, besluit sy, nie vir hom nie. Dis wat sy moet onthou. Adriaan is ‘n vreemde man, wat sy waarskynlik net eenmaal in haar lewe sal sien. Gewapen met die gelui van ‘n duisend waarskuwingsklokke in haar ore en ‘n skans so dik soos die muur van China om haar hart te beskerm, stap sy kombuis toe om iets te ete te gaan maak. In die kombuis sit sy die afstandbeheer van haar alarm op so plek neer dat sy dit enige oomblik kan gryp om die knop te druk. Gaste in haar huis is vir haar nog ‘n nuwe ding. Sy sal van vooraf moet leer om mense te vertrou.
Maar hoe vertrou mens ‘n man wat mal genoeg is om sonder afspraak, in ‘n donderstorm op ‘n gesteelde fiets by haar huis in die bos aangery te kom.
Diep asemhaal en konsentreer. Sy draai in die rondte. Kos! Dit is nie by die pakket ingesluit nie, maar sy kan tog nie ‘n stukkende honger man aan sy lot oorlaat nie.
Adriaan Olivier moet net nie ‘n gourmet ete verwag nie. Sy maak ‘n pak pasta oop en sit dit in ‘n pot. Daarna braai sy uie, sampioene en repies spek en teen die tyd dat haar gas gestort en in sy warm sweetpak fonds by haar huisie in stap, ruik die kombuis heerlik gesellig. En op Adriaan se gesig sien sy onmiddelik die waardering raak.
“Voel jy soveel beter as wat jy lyk?” vra sy en kyk haastig weg voor sy reguit ondersoekende blik. ‘n Kyk wat ‘n oomblik langer op haar gesig huiwer as wat nodig is. En sy is heeltemal vrou genoeg om aan die uitdrukking op sy gesig agter te kom dat hy haar ook aantreklik vind. Sy is bly oor die vegie rooi op haar lippe, al het sy gehoop dat hy nadat hy gestort en droog aangetrek het, soos ‘n prins in ‘n aaklige padda sou verander. Hy het nie. Inteendeel, die prins lyk soos ‘n sjeik wat met die klap van sy vinger ‘n hele harem vroue kan verower en diensbaar stel.
En dis die ander ding, besluit Rika. As hy nie getroud is nie, hou hy waarskynlik ‘n harem vrouens aan en is elkeen wat by sy bewonderaarsklub aansluit, ‘n veer in sy hoed.
Adriaan loop effens mank en in die sitkamer inspekteer hy elke skildery, voordat hy tot in die kombuis stap.
“Jy is min of meer die skepper van al die werke teen jou mure, Rika Smit. Behalwe die paar in hierdie hoek,” verras Adriaan haar met sy oplettendheid. “Maggie Loubser, Maude Sumner, Otto Klar, Gregoire en sowaar ‘n Pierneef potloodskets! Indrukwekkend. Wil jy daarvan verkoop?”
“Nee, dis erfstukke.” Sy frons effens. Dis ‘n teer punt wat hy aanraak. Haar agent, Dave Small het haar ‘n maand gelede so ‘n groot aanbod op die Maggie Loubser skildery gemaak dat sy haar huis se volle verband met die geld sou kon aflos indien sy dit sou oorweeg om te verkoop. Niemand is veronderstel om te weet dat sy hier in die bos in ‘n houthuis met duur kunsskatte teen haar mure woon nie. Die man trap op heilige grond.
“Dan sal ek jou maar eendag moet trou daarvoor,” spot hy.
“Vergeet dit. Dis my goed en ek beplan nie om weer te trou nie.” Dis uit voor sy haarself kan keer en sy is oortuig dat hy kan sien dat sy jok. Natuurlik wil sy weer trou. Sy mis ‘n man in haar lewe. Iemand wat haar teer teen sy bors kan hou en mooi goed in haar ore wil fluister, omdat sy spesiaal is vir hom. Iemand wat ‘n klankbord kan wees vir haar vrae en soms antwoorde kan verskaf. Vir wie sy ‘n spesiale aandete kan beplan, die tafel mooi kan dek en kerse kan uitpak. Wat sal luister as sy vertel van ‘n dag wat nie lekker verloop het nie. ‘n Man wat met haar wil gesels en haar van sy eie daaglikse ervarings vertel, terwyl hulle elkeen met ‘n glasie wyn saam op die groot bank op haar stoep kuier.
Al is sy volledig vrou, het sy ‘n behoefte aan ‘n maat en sy verstaan hoekom haar pa van haar ma as sy ander helfte praat. As die son sak, wil die twee ou mensies bymekaar wees.
“Mens beplan nie om verlief te raak en te trou nie, dit gebeur net!” spot Adriaan, waarskynlik totaal onbewus van die gedagtes wat ‘n paar sekondes onbeheersd deur die binnekamers van haar emosies hardloop.
“Jy het genoem dat Dave Small vir jou gesê het dat ek in Marlothpark woon en werk. Het jy regtig na my kom soek?” Sy sal nie kommentaar lewer op sy aanmerking oor verliefraak en trou nie. Dis beter om terug te keer na die rede vir Adriaan se teenwoordigheid in haar huis, as om te probeer ontleed wat hy aan haar hartklop en ekwilibrium doen.
“Jou natuurlewe werke. Ek stel belang om ‘n paar daarvan te koop,” verduidelik hy.
“Mý natuurlewe skilderye?” Sy kan nie help om skepties en effens bitter te klink nie. “Dis snaaks. Tot nou toe stel almal net in Nonyana se skilderye belang.”
“Nonyana!” Hy kyk lank na haar. “Ek sien jy het ‘n hele klomp van haar skilderye teen jou muur. Die koerante skryf dat Nonyana se werke op hierdie stadium as redelike beleggings beskou kan word.”
“Nie net redelike beleggings nie, dis besondere goeie beleggings. Maar raai wie bepaal in die stadium die pryse en doen die persverklarings? Dave Small wat haar ‘ontdek’ het. Dis maklik om met goeie bemarking die pryse kunsmatig hoog te hou…” Hoekom doen sy dit? Rika kan haar tong afbyt na haar uitlating. Gewoonlik is die inligting wat sy teenoor ander mense oor Nonyana kwytraak beperk tot een lettergrepige woorde.
“Bietjie jaloers omdat sy meer aandag as jy trek?” slaan Adriaan die spyker op sy kop. Hy weet net nie hoe raak nie. Ja, sy ís jaloers op Nonyana se naam, want dit is haar eie werke wat sukses behaal.
“Kan ons asseblief oor iets anders praat?” vra sy.
“Ons kan. Maar net een laaste vraag. As jy nie van haar hou nie, hoekom werk julle saam?”
“Wat laat jou dink ek hou nie van haar nie?”
“Jou hele…” hy soek na woorde. “Jou hele body language.”
“Okay, ek sal vir jou sê hoekom. Dis alles so onregverdig. Sy krap drie lyne met ‘n swart houtskoolpotlood en trek ‘n paar strepe waterverf en akkriel tussenin en mense dink sy het ‘n wonderwerk verrig. Ek het kuns geswot, werk ‘n paar dae lank aan een skildery en verstaan wraggies nog steeds nie wat dit is wat mense beweeg om sekere werke te koop en ander te ignoreer nie,” raas sy en begin om kaas te rasper om oor die pasta en sous te strooi.
Dis nou stil in die sitkamer en toe sy klaar is met haar takie, kyk sy op en betrap Adriaan se ondersoekende blik op haar.
“Hoe het dit gebeur dat jy en Nonyana saam uitstal?” vra hy na ‘n ruk.
“Dave het voorgestel dat ons saam uitstal om ‘n groter spektrum van die mark te dek.” Dis die waarheid. “Maar hoekom vra jy so uit? Is jy ‘n koerantman of ‘n spioen?”
“Nee. ” Hy lag lekker. “Ek wil net ‘n paar skilderytjies koop.”
“Van Rika Smit?” Sy druk die bak met pasta in die oond. “Baie raar, want onthou Nonyana is baie meer suksesvol as wat ek kan droom om te wees.”
“Ek gee nie om wat die Rapport vandag oor Nonyana geskryf het nie,” verklaar hy adamant. “Ek soek jou skilderye vir my plek.”
“In die Rapport? Wat staan in die koerant?” Natuurlik gaan haar hande onbedaarlik aan die bewe. Wat voer Dave in die mou? Gewoonlik bespreek hy elke stukkie publisiteit met haar.
“Dat sy wonderlike werk in die arm gemeenskap doen en dat ‘n deel van die opbrengs van haar volgende uitstalling gebruik gaan word om ‘n kinderhuis te bou.”
“Damn, dis vreeslik lame.” Amper brand sy haarself teen die stoof van skok.
“Nee, dis vreeslik edel.” Adriaan trek een van die kroegstoeltjie by die kombuis toonbank nader en gaan sit.
“En jy het dit in die koerant gelees?” Rika wonder hoekom die man heeltyd so geamuseerd lyk. Is dit omdat hy die volle waarheid ken en dit geniet om haar te sien kleitrap?
“Dit staan geskryf in die bylaag van die Rapport.”
“En is daar ‘n foto van haar?” Dit sal die top punt wees!
“Nope.” Hy skud sy kop van kant tot kant. “Net van haar huisie. Toe wonder ek of sy ook hier naby woon.”
“En as jy haar vind, wil jy agter Dave Small se rug by haar ook skilderye koop?” Sy weet dis nie net ‘n katterige opmerking nie, sy bedons die man se intergriteit met ‘n gruwelike belediging, maar dit rol klaarblyklik van hom af soos water van ‘n eend se rug.
“Dalk. Ek hou ook van prente teen my mure en ek weet mos hoe buit die handelaars soms die kunstenaars uit,” erken Adriaan en daar is ‘n vonkeling in sy donker oë. Mens sou sweer dat hulle ontmoeting vandag die grootste grap is wat nog ooit in sy lewe met hom gebeur het.
“Baie kunskopers sou nie van sekere kunstenaars se bestaan geweet het nie, was dit nie vir die agente nie,” treë sy vir Dave in die bresse. “Handelaars is in staat om te bemark, die meeste kunstenaars is beroerd met daardie aspek van die besigheid.”
“En Dave trek haar voor. Klink my sy is die blou oog favourite?” Hy dink ‘n oomblik na, voordat hy homself korigeer. “Figuurlik gesproke, want ek sien dat jy die een is met die blou oë. Pragtige, opvallende hemelsblou oë. ‘n Mooi mensie propvol talent en vuur, as ek dit mag opmerk sonder om self ‘n blou oog te verdien.”
“Nee wat, ek beskou dit as ‘n kompliment en waardeer dit.” Sy breek slaai in ‘n bak en was tamaties. “Is jy ‘n kunsversamelaar?”
“Versamelaar, nee. Maar ek kan ‘n mooi skildery waardeer,” antwoord hy ernstig. “En ek kan sien as iets verkeerd geraam is. Byvoorbeeld daardie Gregoire van jou sal baie beter vertoon met ‘n breë montering en ‘n swaar houtraam om.”
“Ek het nie nou geld vir rame nie,” trap sy hom uit, omgekrap omdat hy die skildery van Distrik ses uitsonder. As die goed wegraak, sal sy wéét waar om te gaan soek. Of sal sy? Sy ken nie eens sy adres in Johannesburg nie. “Die kos is amper reg.”
“Ruik heerlik.” Adriaan haal ‘n servet uit die pak en klad sy stukkende hand daarmee.
“Wag dat ek vir jou iets bring om jou wond te verbind. Daar is verbande in die noodhulpkas in my badkamer.” Sy los alles, skuldig omdat sy hom nog nie met sy wonde gehelp het nie.
“Dankie, dis nogal lastig.” Hy volg haar tot in die klein badkamertjie en hou sy hand na haar toe uit soos ‘n kind wat wag dat Mamma dit moet regsoen. Rika trek haar asem in, toe sy sien dat die vel van sy palm heeltemal weggeskuur is. Verbeel sy haar of sien sy selfs klippies en doring waar daar dieper skraapmerke is? Sy deins terug.
“Die wond moet deur ‘n dokter skoongemaak word. Ek wil jou nie seer maak nie.” Sy sien nie regtig kans om daaraan te karring nie.
“Ek is nie kleinserig nie,” antwoord hy en staan vas. “Ek het dit al begin skoonmaak, maar kon seker iets gemis het. As jy nie kans sien om my te help nie, draai dit maar net toe.”
“Nee toemaar, ek kan dit doen.” Sy byt op haar tande. “Ek het ook ‘n seuntjie gehad wat van sy driewiel afgeval het.”
“Gehad? Waar is die jong man nou?” vra hy versigtig.
“By sy pa in Londen. Hy studeer op Oxford.”
“Met ander woorde sy pa is darem nie oppad hiernatoe om my en sy mooi vrou saam in een badkamer te betrap nie.”
“Nee Adriaan, hy is te kwaad vir die lewe omdat sy beste vriend met ‘n motorfiets verongeluk het, om ooit weer vir enigiemand behalwe sy kind om te gee.” Sy wen haarself op. “Julle doen dit aan julleself en dan moet ander mense die kastaiings uit die vuur krap.”
“Of klippies uit die wonde.” Sy lyf ruk toe sy met ‘n wattestokkie daarin slaag om die ergste gemors uit die seerplek te haal, maar hy hou sy hand wonderbaarlik stil tydens die mishandeling. Net sy oë blink onnatuurlik en sy vel word gryswit. Dit moet seer wees, besef Rika toe hy sy lip vasbyt.
Sy druk salf op ‘n gaasstrokie en vou dit oor die wond en draai dit met ‘n verband toe en wonder wie van hulle twee die blyste is toe die wond nie meer sigbaar is nie.
“Nou toe.” Sy hou sy hand nog ‘n oomblik vas. Maak seker dat die verband nie in die nag sal loskom nie. “More stop jy by ‘n dokter dat hy ook net kyk.”
“Mm.” Dis nie regtig ‘n antwoord nie, besef Rika en sien dat hy stip na haar mond kyk. Soos in ‘n droom kom sy gesig nader en sy besef met ‘n ligte paniek en fladdering in haar hart, dat ‘n wildvreemde man haar gaan soen. Wat haar egter die meeste verwar is die feit dat sy dit met alles in haar begeer dat hy haar soen.
Maar dan trek hy sy regterhand uit hare en bring die wys en middelvinger van sy linkerhand na sy mond. Hy kus die punte van sy eie vingers, waarna hy sy hand omdraai en haar lippe in ‘n teer gebaar met daardie selfde twee vingers aanraak. ‘n Gebaar wat meer aan haar vrouwees doen as selfs die mees passievolle soen van enige minnaar wat sy nog ooit naby haar toegelaat het.
“Dankie,” sê Adriaan eenvoudig, skynbaar salig onbewus van wat hy so pas haar gedoen het. Hy draai op sy hakke om en stap terug kombuis toe.
Terwyl haar hart onstuimig in haar keel klop ruim Rika die badkamer op en was haar hande. Wat het gebeur? vra vir haarself. Geen man het hierdie soort uitwerking op ‘n vrou, wat hom pas ontmoet het nie.
Veral nie een wat dalk die vyand of een van Dave se spioene is nie.
Sy stap ook by die badkamer uit en vermy Adriaan se reguit blik, waar hy weer op die kroegstoeltjie plaasgeneem het.
“Kan ek jou help met iets?” vra hy. “Ek verwag nie regtig om bedien te word nie.”
“Nee dankie. Die kos is reg. Ek maak nog net slaai. As jy lus het vir ‘n glas wyn, moet jy een kies.” Die kombuis is klein en as hy so naby aan haar is, maak dit herinnerings in haar wakker, wat sy lankal wou vergeet het. “Daar is bottels witwyn in die yskas en rooies op die rak.”
“Hierdie Shiraz lyk goed.” Hy kyk nie eens in die yskas nie. Dis duidelik dat hy ‘n rooiwynman is. “Maar ons maak dit net oop as jy dit saam met my sal drink.”
“Natuurlik. Die oopmaker is in die laai.”
Terwyl hulle daarna met die trappe afstap na die lapa toe, loer Adriaan by die vierwieldryf motor se ruit in.
“Nog skilderye?” vra hy en sit die wynbottel en twee glase op die tafel neer.
“Skilderye wat ek terugbring, van ‘n nié so suksesvolle uitstalling af. Ek dink na hierdie week moet ek seker aanvaar dat ek nie my deeltydse onderwyspos behoort te bedank nie.”
“Bekendheid kom nie oornag nie. Nie eens van Gogh was dadelik beroemd nie,” troos Adriaan.
“Veral nie van Gogh nie. Die man moes eers sy oor afsny en daarna doodgaan, maar ek wil nie my ore afsny nie en ek beplan nie om dood te gaan nie.” Sy lag saam met hom toe hy uitbars van die lag. Vir die eerste keer sedert sy vanoggend uit Johannesburg weg is, begin sy ontspan. Sy sit die bak slaai en servette neer en haal borde en messe en vurke uit die kas in die lapa.
“As ek iets oor Michael Angelo se krom neus sê, sal jy weer lag?” vra hy kastig onskuldig, maar daarna word sy gesigsuitdrukking ernstig. “Ek dink jy moet meer kere lag. Dit voel asof die son pas opgekom het, al is dit agtuur op ‘n donker onweersaand.”
“Dankie, dit is lekker om weer te lag.” Sy beduie na ‘n stoel. “Sit solank. Ek wil gou opstap om die pasta en my selfoon te gaan haal. My seun bel gewoonlik na agt op ‘n Sondagaand.”
“Wag ek kom saam.”
“Nee bly, ek het ‘n nare gevoel dat jou lyf more lekker styf gaan wees, na jou avontuurlike ervaring van vandag.”
“Jy is waarskynlik reg.” Hy sak met ‘n ligte steun in die stoel neer. “Ek het myself laas in die laerskool so te pletter geval.”
“Dit moes baie lank terug gewees het,” spot sy oor haar skouer.
“Maar dit voel soos gister.”
Met die terugkom steek Rika die vuurtjie, wat altyd aangepak staan in die lapa, aan. En toe sy oomblikke later droomverlore in die vlamme staan en kyk weet sy, al maak sy in haar lewe nooit weer ‘n skildery nie, sal sy nie die rustigheid van die bos hier aan die Krokodilrivier verruil vir die gejaagde lewe van die stad nie.
“Hier is jou wyn,” praat Adriaan langs haar.
“Dankie!” Sy proe daaraan voordat sy die glas op die tafel neersit. “Ek skep in. Die kos gaan vinnig koud word in hierdie weer.”
“Nee, eers ‘n heildronk. Op ‘n talentvolle opkomende natuurlewe kunstenaar, Rika Smit.” Hy lig sy glas.
“Op die oomblik is ek een van die armste kunstenaars wat ek ken,” erken sy.
“Nee wat. Jy gaan binne die volgende halfuur ‘n aanbod op ‘n paar van die mooi skilderye in jou kar ontvang.”
“Hoeveel is… ‘n paar?” vra sy versigtig.
“So ongeveer tien.” Hy proe aan die pasta en sy gesig helder op. “Dis lekker. Mag ek vir ons ‘n tafelgebed doen?”
“Ja asseblief,” antwoord sy, toe sy oor die ergste skok kom. Maar skaars het hy amen gesê, of sy tree hom aan. “Hoekom sal jy so iets doen?”
“Daar is tien plekke teen my muur, en geld in my sak,” antwoord hy nonchalant en trek sy skouers op, asof dit die eenvoudigste ding op aarde is.

Die boek is beskikbaar as eboek op Amazon by hierdie skakel

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.