Medisyneman – Adele Reynders

medisyneman

    Medisyneman – Adele Reynders

Gretha Conradie ontmoet Richard Roodt op ‘n afgryslike ongelukstoneel. Sy freak uit en hy slaag daarin om mense te help met ‘n wonderlike kalmte. Wanneer Gretha egter by die Modjadji Son koerant begin werk, is daar mense wat ‘n ander storie oor hierdie onbaatsugtige, aantreklike man vertel. Het hy nie dalk duistere motiewe nie.

Medisyneman is ‘n storie oor mensehandel. Dit bevat spanning, moord en liefde.

Eboek verwerking deur Renza boeke.

 

 

Hoofstuk 1

Geluk is nie die enigste kriteria vir sukses in die bedryf waarin hy werk nie. Tydsberekening, plek en vaardigheid speel ‘n veel groter rol.

Sondagmiddag, einde van die maand en vandag kies hy ‘n ander plek suid van Polokwane, waar die middelman van die snelweg ophou en die verkeer in twee bane kop aan kop op mekaar afpyl. Hierdie roete word gereeld in baie koerante beskryf as die pad van die dood.

Dit is nie die eerste keer dat hy vir ‘n voertuig se bande in die donker korrel nie. Al mis hy gewoonlik die bande, is daar op so aand steeds aksie. Ruite en ligte spat aan flarde. Meer as een keer word die bestuurder getref, maar die resultaat bly altyd dieselfde.

Die bus of trok skiet soos ‘n missiel tussen die aankomende voertuie in.

En natuurlik word vyf of meer ander voertuie in die proses saamgeneem. Tydens so ramp wonder niemand waarom ‘n oorskot onvolledig uit ‘n geel plastieksak kom nie. Inteendeel, oorsaak van die dood is gewoonlik so voor die hand liggend dat oorwerkte staatspatoloë met algemene verslae wegkom. Veelvuldige beserings.

Sy wegsteekplek is half in ‘n donga en agter die groot boom met die gerieflike mik vanwaar hy later met die R4 dooierus kan neem.

‘n Veilige plek, vir wanneer voertuigwrakstukke die snelweg buite beheer verlaat en soos skrapnel oral rondvlieg.

Dis reeds sterk skemer, maar nog vroeg genoeg om die hamburger wat hy in Polokwane gekoop het, saam met koffie uit sy duur vleklose staal fles te geniet. Hy kan amper ontspan, soos op ‘n Sondagskool piekniek.

Of soos in die stilte voor ‘n verskriklike storm …

 

Gretha Conradie stap ‘n laaste keer deur die woonstel wat sy die afgelope sewe jaar huis genoem het. Dis leeg. Dis skoon en dit wag vir nuwe intrekkers.

Al sien sy hòè uit na haar nuwe toekoms in die pragtige vallei van die reënkoningin, bring dit ‘n knop in haar keel om die plek nou so koud en onpersoonlik te sien. ‘n Tuiste wat eens warm en huislik was, vol van haar eie meubels met kleurvolle skilderye teen die mure en foto’s van haar en die twee seuns in elke stadium van hulle lewens. Die foto’s en skilderye is nou in ‘n boks agter in haar voertuig. Sy sal dit so gou as moontlik by haar nuwe plek gaan ophang.

Gretha draai om en stap voordeur toe. Uitstap en vir oulaas sluit, voordat sy die sleutel by Ela gaan los om vir die eienaar te gee. Elke dag gaan oor keuses. Dit was lekker, maar nou is dit verby. Tyd om uit haar gerieflike gemaksone te ontsnap en nuwe horisonne te gaan verken.

“Dis te laat om Haenertsburg toe te ry. Jy slaap vanaand hier by ons.” Vriendin Esmé blok die roete na haar kar, hande op die heupe en Gretha kan net glimlag oor die kastige dreigende houding.

Heel middag moes sy van haar twee vriendinne en buurvroue hoor. “Jy beter ry voordat dit te laat word. Ry asseblief voordat die son sak.” En nou, op die kop drieuur, met ‘n yl wintersonnetjie wat korrel vir die weste, besluit hulle eenparig sy mág nie meer ry nie.

“Haenertsburg is ‘n hoes en ‘n proes van Pretoria af. Net anderkant Polokwane,” stel Gretha haarself meer gerus, as vir Esmé en Ela. Sy stap verby en maak seker dat die toue om haar trekkie op die sleepwa agter die Jeep Cherokee stewig vas is.

“Kan nie verstaan hoekom jy ‘n nuwe Toyota Yaris vir hierdie skedonk geruil het nie,” brom Esmé agter haar.

“Bosse en berge, julle weet mos,” verduidelik sy vir die hoeveelste keer. “Ek sal stories teen berghange en uit diep slote moet gaan grawe.”

“Ek sal jou in ‘n leeftyd nie verstaan nie. Jy is een van die bekendste illustreerders en spotprentkunstenaars in Gauteng en nou los jy dit vir ‘n eenmans-wat-de-joos-ookal-saak, iewers in die oerwoud.”

“Lex se koerant verteenwoordig nuwe uitdagings. Dis uniek, omdat hy vir die meer plaaslike mark sorg.”

“Klink taamlik abstrak vir my,” knor Ela.

“Dit is seker ietwat abstrak. Wat presies dit behels en wie sy teikenmark is, sal ek ook maar moet uitvind,” bieg Gretha.

“En daarvoor betaal hy jou met piesangs en mango’s en alles wat in elk geval wild groei in Haenertsburg.”

“Dis die basiese salaris. Die res kom met kommissie deur advertensies, ensovoorts.” Gretha staak haar verduideliking, toe sy sien dat die buurvrouens nie regtig dink dat daar potensiaal in die advertensies ensovoorts gedeelte is nie. Die manier waarop hulle haar aangluur spreek langer sinne as enige woorde. Sy voeg maar net by. “Ek sal gereeld e-posse aanstuur en julle op die hoogte hou. In ‘n groot organisasie stagneer mens maklik. Lex gee my ‘n kans om my joernalistieke en bemarkingsvaardighede saam met die kuns op die proef te stel.”

“Lex vra van jou waarskynlik om vir ‘n dooie muil ‘n bloedoortapping te gee en dit dan weer op sy pote te help.” Esmé is dalk reg. As studentemaats en oud-kollegas ken Gretha en Esmé vir Lex al vir jare. Lex wat alles soos ‘n wilde perd op ‘n stywe galop teen die wind in aanpak. Selfs toe hy saam met hulle by die uitgewers gewerk het, was hy gewoond daaraan om sy eie ding te doen en het gedurig met die baas kop gestamp. Gretha is uitgeslape genoeg om te weet dat hierdie werksaanbod van hom aan haar net mooi genoeg gepoets en bewoord is om ‘n plakkerige muggie tydelik uit haar oog te hou.

Sy skraap nietemin ‘n mate van bravade bymekaar voordat sy verklaar: “Wat maak dit saak? As Lex se koerant regtig vou, doen ek weer vryskutwerk. Ek is lus vir nuwe uitdagings en moeg vir die stad. Haenertsburg is ‘n pragtige dorpie.”

“‘n Pragtige dorpie waardeur jy in Januarie eenmaal gery het…” begin Ela. “Jy ken die plek glad nie.”

“Dit was liefde met die eerste oogopslag,” val Gretha haar in die rede. Sy sal haar nie laat afsit nie. Sy beplan al vandat sy gehoor het dat dit toevallig is waar Lex se koerant se kantore is, aan hierdie skuif van haar. Hy kon haar eintlik enige aanbod gemaak het, sy sou dit aanvaar het. Dit moet sy ten minste aan haarself erken.

“Toemaar, neem jou sabbatsjaar en laat weet as ek vir jou weer moet werk soek in Pretoria.” Esmé staan terug, gee boedel oor. “Ek kan nie wag dat jy terugkom Pretoria toe nie.”

“Gee my net eers kans om weg te gaan. Ek groet julle. Dankie vir alles. Kom kuier gou.”

Dit vra al haar selfbeheersing om nie tranerig te wees toe sy hulle elkeen ‘n afskeidsdrukkie gee nie, en sy klim agter die donkergroen Jeep se stuurwiel in.

Maar tot haar frustrasie sê die kar net klik toe sy die sleutel draai.

“Die bed in my gastekamer is skoon oorgetrek. Ek bestel pizzas.” Ela trek haar selfoon uit haar sak.

“Nee, ek ry.” Gretha sit met haar gesig teen die stuurwiel en probeer uitwerk wat die viertrek se nuk kan wees. Battery dalk? Waarskynlik. Sy trek die kap voor oop, klim uit en wikkel aan die batterypole. Klim terug en draai die sleutel. Klik. Toe klim sy weer uit, haal die moersleutel van die domkrag uit en moker die battery se pole dat die vonke spat. Die liggies op die paneelbord gaan aan. Sy draai die sleutel en die uitlaatpyp spoeg ‘n bol dieselrook uit, terwyl die enjin eers rukkerig luier en daarna soos ‘n uitgevrete kat aan die spin raak. Sy klap die kap hard toe, groet weer plegtig en trek met ‘n vae benoudheid in haar bors weg.

Die vorige eienaar van die viertrek het gewaarsku dat die enjin steeks is in die koue en dat een of ander liggie op die paneelbord eers moet afgaan. Daar is glo ‘n ding met die naam ‘globe plug’, wat iets anders moet warm maak. En sy moet die sleutel twee keer vinnig na mekaar in die aansluiter draai sodat die skakelaar twee keer sy ding doen, dan sal hy vat. Maar die man het niks van die battery gesê nie.

Eers toe sy op die Polokwane snelweg afdraai en die kar bly loop, voel dit amper asof sy kan ontspan.

 

‘n Yskoue laatmiddag wintersbriesie slaan Gretha se asem vir ‘n oomblik weg toe sy haar venster by die Phumulanitolhek oopmaak om te betaal. Sy trek by die Modimole Eenstop in om diesel in ‘n dorstige Jeep te gooi. En haar moraal bereik ‘n laagtepunt, toe die kar se battery na die tyd weer net klik sê.

“Jy moet ‘n spiekertjie langs die poel inkap,” verduidelik die brandstofman hulpvaardig, nadat hy met die batterypool slaanwerk gehelp het om die kar weer aan die gang te kry.

“‘n Wat?” Genugtig, het sy al ooit so ‘n woord in Afrikaans gehoor?

“‘n Spiekertjie met so skerp puntjie. Moet ek een gaan soek?”

“O, ‘n spykertjie.” Sy skud haar kop. “Nee dankie, ek het nie vanaand tyd om tydelike herstelwerk aan ‘n monsterkar te doen nie. Ek sal môre die battery se pole laat herstel in Haenertsburg of Tzaneen. Daar sal ‘n garage met ‘n opgeleide werktuigkundige wees, hoop ek. Nou wil ek net my bestemming bereik. Ek gaan regtig nie weer stop nie. Ek is seker ‘n vol tenk diesel sal selfs ‘n Jeep tot in die Limpopoprovinsie laat ry.”

“Die kar het jou tot in Limpopo gebring,” lag die vrolike knaap op wie se bors daar ‘n identiteitskaartjie met die naam Jimmy staan. “Jy is nou hier.”

“Oukei Jimmy, maar my Limpopo moet nog aangaan tot anderkant Polokwane. Sala kahle.”

“Hamba kahle. Jy moet mooi en veilig ry.”
Hoofstuk 2

Veilig ry, kry ‘n nuwe betekenis net verby die Zebediela Plaza.

Alles gebeur so verskiklik vinnig. ‘n Ent voor haar sien Gretha in ‘n oomblik van afgryse en skok hoe ‘n aankomende bus ‘n ent voor haar skielik gevaarlik swenk en kantel. Vonke begin spat toe dit eenkeer, tweekeer omrol en op sy sy oor die teerpad voortskuur reg voor die aankomende verkeer in. Stukke voertuie vlieg in alle rigtings en Gretha trap hard rem. Daar is nie eens tyd om te dink aan die sleepwa wat dalk kan knipmes nie. Sy moet net kophou om nie in die voertuie in haar onmiddelike omgewing vas te jaag nie.

Voertuie wat mekaar tref en kruis en dwars in die pad rondom haar stop. Hazards gaan aan. Daar is algehele chaos. Gretha hou ook stil en klim bewerig uit, om te probeer agterkom wat die omvang van die ramp is.

Dis net genade dat sy en haar kar ongedeerd daarvan afgekom het.

Vir ‘n baie kort oomblik ervaar sy net stof en stilte. Daarna die geweeklaag van huilende en kermende slagoffers wat haar maag laat draai. As daar ‘n hel iewers is, klink dit sekerlik só wanneer jy deur die poorte gaan.

Moenie kyk nie. Sy skakel die noodnommers op haar foon om die ambulans en brandweer te laat kom.

“Het jy ‘n rooi driehoek in jou kar?” Iemand raak aan haar arm.

“Ja, in die bak.” Sy beduie werktuiglik oor haar skouer.

“Toemaar los. Dis seker toegepak.” Die persoon draf weg om ander driehoeke te gaan oes.

Dis waar. Haar kar is so gelaai, as sy nou die bak oopmaak beland die helfte van haar besittings op die teerpad. Gretha huiwer ‘n oomblik. Sy moet probeer help. Mense uit die bus help haal? Sy stap met loodswaar bene in die rigting waar die grootste deel van die impak was.

Wat sy sien laat haar geskok vassteek, want dis veel erger as wat sy aanvanklik gedink het.. Half onder die bus lê ‘n roomwit verfrommelde bussie met mense in. Dis moeilik om te sien hoeveel voertuie in die proses beskadig is.

Onmoontlik in die donkerte om vas te stel wie nie meer by hulle beplande bestemmings gaan opdaag nie.

Sy moet iewers help.

Die naaste figuur is dié van ‘n vrou wat stil met haar gesig na onder lê. Maar nog voordat sy aan haar kan raak, begin die aarde weer om haar kantel en sy struikel op haar hurke af.

“Is jy orraait? Was jy in een van die ongeluksvoertuie?” ‘n Man buk langs haar.

“Nee, ek wou probeer help, maar ek voel nou siek. Ek kan nie bloed hanteer nie,” bieg sy.

“Dan moet jy liewer in jou voertuig wag.” Hy help haar op haar voete en hou haar regop terwyl hy met haar begin aanstap. “Haal diep asem. In en uit. Watter een is jou kar?”

“Hierdie Jeep.” Sy maak haarself uit sy arms los.

“Goed.” Hy help haar agter die stuurwiel in. “Sluit jou deure. Skakel jou radio aan, maak jou oë toe en luister musiek. Probeer kalm bly.”

“Sluit my deure?”

“Mens weet nooit wie buit ‘n geleentheid soos hierdie uit om ander mense se besittings te steel nie.” Hy draai om, stap weg en gaan hurk by die vrou vir wie Gretha wou help. Sy sien in die ligte van ‘n stilstaande voertuig hoe hy sy vingers teen die slagaar in haar nek hou. Daarna skud hy sy kop negatief. Vir haar kan hulle nie meer iets doen nie.

Gretha skakel Lex op haar selfoon. Hy verwag haar van agtuur af. Nou het sy geen idee hoe laat die paaie weer gangbaar sal wees nie.

“‘n Nare ongeluk. Die verkeer het eenvoudig tot stilstand gekom,” verduidelik sy toe hy antwoord.

“Sowaar? Bring vir my ‘n storie en foto’s.” Net ‘n koerant redakteur kan so entoesiasties reageer as hy agterkom dat daar bloed op die teerpad loop. “Bel my sodra jy weer begin ry. Ek het gekook. Ek wag vir jou.”

“Dit gaan te laat word vir eet. Ek kan sommer langs die pad iets gryp. Miskien slaap ek in Pholokwane en ry vroeg môreoggend.” Sy druk die radio se knoppie. Geen reaksie.

Blerrie battery!

Miskien moet sy soos ‘n ware nuwe koerantfotograaf tog na die toneel voor haar kyk deur die lense van haar kameras. Deur die skerm van die splinternuwe videokamera wat sy met haar selfoonkontrak gekry het, lyk die toneel voor haar in elk geval beter as in die werklikheid.

Sy begin afneem, draai die kamera se lens na die man wat haar teruggestuur het kar toe. Barmhartige Samaritaan, doop sy hom. Op die kameraskerm sien sy hoe hy iets optel en ‘n oomblik styf teen hom vashou. Sy mond beweeg en hy praat met ‘n doodstil bondeltjie pienk komberse. Daarna kry die bondel lewe en toe peul daar skoppende handjies en voetjies tussen die komberse uit. Dis ‘n baba wat haarself uit die kokon loswikkel. Komberse wat bedoel was om die koue te keer en wat waarskynlik haar lewetjie gered het.

Sy sien dat die man die kleintjie in die wagtende arms van ‘n huilende omstander sit. Die kind se dankbare ma.

Dis vir Gretha te veel om te hanteer. Sy laat sak die kamera, terwyl die trane oor haar wange stroom.

‘n Klop aan haar venster verwar haar. Sy sit regop en kyk weer vas in ‘n gesig wat nou ongelooflik sag van bekommernis is.

“Hey, is jy oukei?” Dis die barmhartige Samaritaan.

“Ja … dankie.” Sy hoop dat hy nie die kamera raaksien nie. Netnou trap hy haar uit vir onmenslikheid. Sy is nie in staat om mense te help nie, maar sy korrel tog met ‘n lens om die ellende af te neem.

Maar die man huiwer net ‘n oomblik by haar ruit, voordat hy omvlieg en haastig drafstap na ‘n kind wat probeer orent kom op ‘n been wat sy eie koers inslaan.

Gretha lig weer die videokamera en sien deur die skerm hoe hy die seun help om te gaan sit. ‘n Man met ‘n dokterstas kom by en Samaritaan los die beseerde in bekwame hande en stap weg om elders te gaan help. Gretha sit die kamera op die paneel voor die stuurwiel neer toe die man ‘n spuitnaald uithaal en dit in die pasiëntjie se sy druk. ‘n Kalmeermiddel, want die outjie word oombliklik slap in sy arms. Sy kan nie meer kyk nie.

Die videokamera moet maar op sy eie afneem. Miskien is die toneel in elk geval te donker om te wys.

Van iewers af kom sirenes nader en noodvoertuie stoei hulle pad oop tot tussen die wrakstukke. Die volgende oomblik laat die rooi flikkerende ligte van die ambulans en die helder spreiligte van die brandweerwa die toneel lyk asof dit op ‘n verhoog in ‘n ander dimensie afspeel.

Dit gee Gretha kans om haar stilkamera uit te haal en foto’s te neem, sonder dat die flits aandag trek.

Eers toe sien sy dat iemand ‘n bebloede kombers oor die jong beenbreukpasiëntjie gegooi het. Dit beteken hy is dood. Maar dis tog onmoontlik. Die kind het ‘n kort rukkie tevore nog probeer staan. Tensy dit nie hy is nie. Dalk was daar ‘n ander beseerde reg langs hom. Sy maak haar oë toe en wonder met groeiende paniek hoe lank sy nog hier in die hartjie van hierdie storm sal moet wag.

Wanneer sy dit waag om later weer te kyk, is die eerste persoon wat sy raaksien die barmhartige Samaritaan. Wie is hierdie aantreklike onbaatsugtige man wat in staat is om ander met soveel deernis in hulle krisisuur by te staan? Die man is geklee in ‘n blou denim, wit hemp en swart leerbaadjie. ‘n Leerbaadjie wat hy uittrek en oor die skouers van ‘n skraal man vou. Hy lei die man van die teerpad af en laat hom op die skouer van die pad sit.

Uiteindelik na wat voel soos ‘n leeftyd, gaan die pad voor haar oop en ‘n verkeersman kom sê dat die karre kan begin ry. Volgens hom staan die verkeer opgedam tot verby Bela Bela en van die anderkant van Modimole af. Gretha bêre die kamera in sy sak en draai die sleutel van die Jeep.

Klik.

Agter haar blaas motoriste ongeduldig toeter en ligte flikker.

Gretha klim uit, trek die kap oop en stap na die voorkant van die Jeep. Die feit dat sy ‘n vrou is, maak die meeste toeterblasers darem stil. Gelukkig weet sy nou al waar om die moersleutel raak te vat en met manne wat uit alle oorde naderstorm, gee sy die batterypole weer die mishandeling wat die vorige keer gewerk het. Sy klim in die kar en die enjin kry lewe toe sy die sleutel draai.

“Blerrie kar,” brom sy toe sy sien dat die barmhartige Samaritaan ook een van die helde is wat nadergekom het en nou die kap van die enjin vir haar laat sak. Sy waai ‘n dankie en trek met gloeiende wange weg.

Hoekom voel sy so in die verleentheid gestel? Dis nie heeltemal haar skuld nie. Buitendien gaan sy nie een van hulle weer sien nie.

Gelukkig so.

Of ongelukkig? Dis verspot om te voel asof sy ‘n onvolkome mens sal wees as sy die barmhartige Samaritaan nooit weer sien nie. Sy mòèt hom eenvoudig weer sien en nie net op die foto’s wat sy môre op haar laptop wil deurwerk nie.

Verspot, besluit sy. Vergeet van vreemde ridders, ruk jouself reg en konsentreer op die pad en die verkeer om jouself veilig anderkant te kry. Dis wat belangrik is vir die oomblik.

Haar senuwees is dun geskaaf, besef sy toe sy ontsenu raak deur voertuie wat haar verbysteek en ligte wat soms in haar truspieëltjie vashaak en bly weerkaats.

Gretha draai by die laaste Ultra City voor Polokwane in, los die kar en sleepwa op die verste punt van die parkeerterrein en drafstap haastig by die deurnagwinkel in om die badkamer te besoek. Dit was ‘n lang wag. Terwyl sy vir haarself in die spieël kyk kom sy agter dat sy staan en bewe soos ‘n riet. Nie net van die koue nie. Miskien is dit naskok.

Sy was haar hande en spoel haar gesig af. Daarna gaan koop sy wegneemkoffie om van binne af teen die vretende koue en senuwees te baklei. Later drink sy haar koffie in die Jeep en besluit om tog maar in Pholokwane te gaan soek vir ‘n goedkoop hotel of gastehuis.
Hoofstuk 3

Dis al verby tienuur, sien Gretha en verlang intens na Ela se lekker warm bed in haar gastekamer. Haenertsburg voel nou soos ’n dagreis te perd vêr. Hoekom het sy nie maar die uitnodiging aanvaar en oorgebly nie? Sy kon vieruur môreoggend uit Pretoria weggery het en voor nege in Haenertsburg gewees het.

Wanneer sy die sleutel draai, maak dit weer net daardie klikgeluid en die enjin bly dood.

Vervlaks! Dis die laaste strooi. Sy val oor die stuurwiel en huil soos ‘n baba.

“Aag Here asseblief, help. Ek is so moeg.”  Moeisaam en getraumatiseerd trek sy die enjinkap van binne oop en klim uit met die moersleutel in haar hand, Toe sy die kap oplig, sien sy uit die hoek van haar oog boonop hoe ‘n swart viertrek langs haar stop.

Ignoreer dit. Konsentreer. Maar die deur van die voertuig gaan oop en die geluid van voetstappe klink op die teer. Die persoon kom reguit na haar toe.

“Leave me alone. I know what I am doing,” roep sy uit en hou die moersleutel gereed om dit as wapen vir selfverdediging te gebruik.

“Hey wag, ek kom in vrede. Wys my wat verkeerd is met die kar, sodat ek jou kan help.” Suiwer Afrikaans, ‘n sagte vriendelike mansstem wat nie by ‘n geheimsinnige swart Mercedes vierwieldryf pas nie en sy swaai om. Dan kyk sy op in die sagte blou oë van die man vir wie sy op die ongelukstoneel gesit en dophou het. Hy hou sy hande in die lug om te wys dat hy ongewapen en basies onskadelik is.

“Dis net die simpel battery,” struikel sy oor haar woorde, verleë oor die trane wat beslis blink strepies oor haar wange maak. “Ek kan dit hanteer …”

Hy byt op sy onderlip. Die uitdrukking op sy gesig wys dat hy ook amper enigiets kan hanteer, solank die probleem net nie ‘n tranerige vrou insluit nie. Dit lyk vir ‘n oomblik asof hy nie kan besluit of hy moet weghol en of hy haar in sy ams moet toevou en troos nie. ‘n Gevoel van desperate radeloosheid laat haar wens dat hy eerder laasgenoemde doen.

Maar hy kies nie een van die twee opsies nie en breek oogkontak. Hy draai om en wikkel aan die batterypole van die Jeep.

“Jou klampe is te los. Die battery se pole maak nie kontak nie,” verklaar hy.

“‘n Petroljoggie het gesê ek het ‘n spyker nodig.”

“Huh.” Hy ruk orent. Gelukkig is die enjinkap te hoog, anders het hy homself van onder af  uitgeklink teen die gewigtige metaal.

“‘n Skerp spykertjie om langs die pool in te kap. Hy wou ‘n spyker gaan soek het, maar ek was te haastig om te ry,” erken Gretha.

“O dit!” Nou wat het die man anders gedink? “Nee, dis net ‘n tydelike oplossing. Ek draai dit liewer so goed as moontlik vas en as dit hierna nog sukkel, moet jy die klampe laat vervang. Wag ‘n oomblik.”

“Dankie.” Hy draai om en gaan maak die swart viertrek se agterdeur oop en haal van iewers ‘n moersleutel te voorskyn. Noudat sy in staat is om verby die bloedvlekke op sy klere te kyk kan sy nie anders as om raak te sien dat die man nogal ‘n sexy lyf en ‘n aantreklike gesig het nie.

Nie die tyd en plek om dít raak te sien nie.

Mooi hande! ‘n Paar stewige draaie en hy kyk op. Sy kyk haastig weg.

“Start die kar nou.” Dié keer rus sý oë met ‘n vraagteken op haar.

“Reg.” Sy skuif agter die stuurwiel in. Dit werk. Daar is onmiddelik vuur in die enjin en sy druk die kar in rat. “Baie dankie.”

Is dit die oomblik van afskeid, of gaan hy haar naam vra? As hy nie vra nie, kan sy waarskynlik aanvaar dat hy getroud is. Daar is nou wel nie ‘n trouring aan sy linkerhand nie. Sy het spesiaal gekyk toe hy die battery se pole gewikkel het. Maar deesdae kan ‘n mens nie meer bo alle twyfel aanvaar dat ‘n huweliksertifikaat met ‘n goue band verseël word nie.

“Plesier.” Hy maak die enjinkap toe en druk met sy hande op die halfoop ruit. “Is jy orraait genoeg om te bestuur? Ek kon nie help om te sien dat jy ‘n oomblik gelede … ‘n bietjie moedeloos was nie.”

“Ek voel nou beter, dankie,” verseker sy hom. Sy was nie moedeloos nie, sy was na aan histerie kan sy byvoeg, maar sy doen dit nie want om een of ander rede voel sy skielik soveel beter. Dis net haar hart wat skielik op dieselfde magtige frekwensie dreun as die V8 enjin wat onder die kap van haar donkergroen voertuig staan en luier.

Die man het op hierdie ysige wintersaand steeds net ‘n dunnerige katoen hemp aan.

“Kry jy nie koud nie?” vra sy. “Ek kan vir jou ‘n baadjie leen, of gee.”

“Dink nie jy het ‘n baadjie wat my gaan pas nie. Tensy jy met jou man se klere in jou kar rondry. Maar dankie, ek het ‘n verwarmer in my kar.” Dan word sy gesig ernstig en hy lig ‘n vinger waarskuwend op. “Jy moenie so alleen ry in die middel van die nag nie. Daar is wolwe wat om elke hoek en draai wag dat mooi vrouens soos jy met ‘n kar moet gaan staan. Waarheen is jy oppad?”

“Polokwane. My man bel elke vyf minute,” lieg sy gladweg. Die effense ruk van sy hand  laat haar besef dat hy ook oor haar huweliksstaat gewonder het. Veral omdat hy sy blik doelbewus verskuif na waar haar hande nou op die stuurwiel rus. Natuurlik sal hy sien dat sy ook nie ‘n ring aan haar vinger dra nie.

“Ry voor. Ek wil sien dat jy veilig by jou bestemming aankom.” Daar is skielik ‘n formele klank in sy stem.

Sy sal hom moet afskud, besluit sy toe hy terugklim in sy kar en wag dat sy moet wegtrek. Dit sal die sewe kleure daglig uit hom frustreer as hy teen haar pas agter haar, die Jeep en sleepwa moet aan skilpad. Sy sal so gou as moontlik moet voorgee dat sy haar bestemming bereik het. Iewers in Polokwane. Maar sy het geen idee waar om vir die nag in te klok en te slaap nie.

En snaaks genoeg is sy glad nie meer vaak nie. Sy kan maklik deurdruk Haenerstburg toe. Volgens haar inligting is die dorpie minder as sestig kilometer van Polokwane af.

Vir ‘n paar kilometer is sy pynlik bewus van die groot swart voertuig agter haar. Dan sien sy die afdraai na Tzaneen, die roete wat sy eintlik moes volg. Sy moet vinnig ‘n plan maak. Sy ry verby die afdraai, die dorp in. Groet met waarskuwingsligte, maar die ML volg op haar hakke.

Borde in die hoofstraat van Polokwane wys dat daar alternatiewe roetes is wat haar na Haenertsburg toe kan neem. Gretha draai by die derde pad regs en bevind haar in ‘n woonbuurt, en die swart viertrek doen dieselfde. Is dit tyd om te bieg? Sy oorweeg dit om stil te hou en met die sak patats vorendag te kom. Maar op daardie oomblik draai haar geluk. ‘n Voertuig wag dat die hek van ‘n veiligheidskompleks voor hom oopgaan en sy sit haar flikkerlig aan. Toe die kar indraai, volg sy op sy hakke.

Sy skakel weer hazards aan om te groet en dankie te sê en die Samaritaan flikker ligte om die groet te erken en die keer ry hy verby. Met die terugkykslag sien sy hoe die  agterligte van die Mercedes vinnig kleiner word. Dit was die regte ding om te doen, raas haar verstand met haar hart, toe sy die impulsiewe drang ervaar om agter hom aan te jaag en hom te keer.

Sy draai om, ry tot voor die toe hek en verduidelik aan ‘n onthutste hekwag dat sy per ongeluk by die verkeerde kompleks ingedraai het.

Terug in die grootpad wonder sy of die Samaritaan intussen sy bestemming bereik het en of hy nog steeds ry. Sy verwag nie om hom ooit weer te sien nie en op ‘n eienaardige manier, terwyl die donker nag haar en haar kar omvou, voel dit vir haar reg. Op hierdie manier behou die man sy misterie.

En op dié manier is haar hart veilig gepantser teen ‘n onverwagte aanslag van iets waaraan sy lankal nie meer glo nie. Die spontane magnetiese aantrekkingskrag tussen twee mense waaroor hulle nie beheer het nie.

Nee, … sý nie beheer het nie. Op geen manier kan sy aanvaar dat hy ook hierdie gevoel van, ek het jou pas ontmoet, maar miskien het ons al in ‘n ander dimensie ‘n sak sout in die Oatspap ingeroer. Nie dat sy glo of weet van ander dimensies nie.

Maar sy kan amper glo dat indien hulle onder ander omstandighede en op ‘n ander plek mekaar vir die eerste keer ontmoet het, hy beslis ‘n tweede en ‘n derde afspraak sou gemaak het.

 

Hoofstuk 4

Noodleuens het die manier om ‘n mens in te haal, kom Gretha agter nadat sy die blinkoog draadbreker bokke en beeste op die Moreapad getrotseer het.

Daar in die bergpas, kort duskant Haenertsburg, gaan haar hart so woes aan die klop dat dit dreig om haar met kar en al oor een van die gapende afgronde te stuur. Sy het nie verwag om hom weer vanaand te sien nie. Sy het nie verwag om hom ooit weer te sien nie.

Al het sy stilletjies gewens dat sy hom weer iewers sou raakloop.

Daar op ‘n plek waar mens net met moeite kan stilhou, balanseer die Samaritaan se swart kar twee wiele op die grond, twee wiele op die skouer van die teerpad.

Miskien droom sy.

Sodra sy wakker word gaan die swart kar soos ‘n seepbel bars en in die niet verdwyn. Sy knip haar oë ‘n paar maal. Maar die toneel voor haar bly onveranderd, selfs nadat sy verby die rooi waarskuwings driehoek gery het.

Hoe nader sy kom hoe meer besef sy dat die Samaritaan ‘n man met ‘n probleem is. Hy hurk moedeloos by ‘n regteragterwiel wat op sy wielfelling lê. Na sy onbaatsugtige optrede op die ongelukstoneel en nadat hy haar met die batterypool gehelp het, kan sy hom tog nie hier in wind en ysige weer aan sy lot oorlaat nie.

Gretha sien hoe hy langs sy kar orent kom en die naderende voertuig met sigbare agterdog dophou, terwyl sy hand oor iets vou wat aan ‘n leergedoente om sy skouer hang. ‘n Rewolwer in ‘n holster. Vanselfsprekend wil hy seker maak of dit vriend of vyand is, wat met volsterkte ligte op hom afgery kom. Maar wanneer sy verby hom ry en reg voor hom van die teer aftrek, kom hy met ‘n glimlag nader.

“En nou Mevrou Batterypool? Het manlief in Polokwane jou uitgeskop?” Daar verskyn ‘n onmoontlike stout uitdrukking op sy gesig toe hy by haar oop ruit inkyk. “Ek raai, jy het gejok. Jou man wag nie in Polokwane nie. Daar is nie ‘n man in jou lewe nie, anders sou jy nie in die middel van die nag met huisraad op ‘n sleepwa rondry nie. Wat is jou uiteindelike bestemming?”

“Haenertsburg,” erken sy. “Ek was bang jy dink jy moet my die hele ent pad oppas en saam met my ry.”

“Hoekom sal dit jou bang maak om saam met my te ry? Ek woon op ‘n plasie tussen Haenertsburg en Tzaneen. As jy vir iets wìl bang wees, moet dit vir die pad tussen hier en Polokwane wees. Sou jou kar byvoorbeeld hier gaan staan, sou jy dalkies besonder lank moes wag voordat daar hulp opdaag. Hier beweeg nie baie voertuie die tyd van die nag nie. En daar is altyd rondloper diere op die pad. Jy sien hulle nie maklik in die donker nie.” Hy frons streng. “Het jy ‘n vuurwapen by jou?”

“Nee, ek het nie, maar ek is nie bang nie,” antwoord sy kordaat.

“Vuurwapens is nie vir bang mense nie, dis vir mense wat voorbereid na die oorlog toe gaan.” Hy spot nie regtig nie. “Terloops, ek is ook nie bang nie en ek byt nie. As jy my tande hoor klap, aanvaar dis van die koue.”

“Het jy nie iets warmer in jou kar om aan te trek nie?”

“Nee, my naweektas en bagasie is op die ongelukstoneel gesteel. En my domkrag. Gelukkig was my rollie onder die passasiersitplek, anders was die polisie na dese baie ontevrede met my. Het jy dalk ‘n domkrag wat ek kan leen?” Hy lag met ‘n soort gelatenheid. Sy houding wys dat sulke goed soms gebeur en mens kan nie veel daaraan doen nie. Deur teen die prikkels te skop gaan nie sy besittings terugbring nie.

“Ek het. Gebruik dit gerus, ek vermoed dit werk honderd persent.” Sy maak die linkeragterdeur van haar kar oop en beduie onder die passasiersitplek.

“Slim skuif. Anders moet jy al jou bagasie uitpak,” komplimenteer hy haar en sy is skielik pynlik bewus van sy liggaam baie naby aan haar waar hulle saam in die deuropening van die kar staan.

“Dis wat die Jeep se vorige eienaar ook gesê het, toe hy dit vir my gewys het. Eerstehandse ervaring neem ek aan.”

Hy steek sy hand na haar toe uit. “Terloops, ek is Richard Roodt. En jy is?”

“Gretha Conradie. Aangenaam,” sê sy en voel kortasem toe sy hand om hare vou.

“Jy kry koud, wag in jou kar tot ek klaar is.” Hy kyk besorg na haar. “Dis nie nodig dat ons albei blootgestel staan in die koudste nag van die jaar nie.”

“Die koue help om my wakker te kry vir die laaste skof.” Sy staan eenkant toe, sodat hy die domkrag kan uithaal.

“Jy spreek Richardt as Rieggard uit. Spel jy dit met ‘n ‘g’ of ch?” vra sy en maak die Jeep se deur aan die passasierskant oop om haar flits uit te haal.

“Jy spel dit ch, maar dit word ‘gee’ uitgespreek,” verduidelik hy vriendelik en stap terug na sy kar toe. “Lig asseblief vir my met die flits.”

Gretha hurk langs hom en lig waar hy vra.

“Dankie, dit help.” Hy skuif die domkrag in posisie, maak die moere effens los en lig die kar op. Hy steun terwyl hy die gewigtige wiel afhaal en dit na die kant van sy kar toe rol. Hy lyk heel behendig vir ‘n man met skoon hande en ‘n duur kar, wat waarskynlik die meeste padkrisisse op ‘n motorplanskema deponeer.

“Plesier. Kan ek vir jou ‘n kombers gaan haal om om jou te hang terwyl jy werk?” vra Gretha. “Jy het jou baadjie weggegee. Ek het gesien. Dit was nogal onbaatsugtig. Cool.”

“Cool? Dis nie cool nie, dis damn koud!” Hy kyk ‘n oomblik geamuseerd na haar, voordat hy die spaarwiel afhaal. “Maar cool is ‘n cool woord vir iemand wat nie meer ‘n skoolkind of student by Tuks is nie.”

“My skool en studentedae lê in die verre verlede, maar ek het twee seuns wat op Tuks is.”

“Seuns op Tuks? Dit maak van jou ‘n cool ma. My kinders swot ook daar.” Hy steun weer effens terwyl hy die spaarwiel in posisie sit.

“Hoeveel kinders het jy?”vra sy met haar oë vasgenael op sy mooi hande, wat nou nie meer te skoon is nie, maar steeds goed versorg lyk.

“Ook twee. Seun en dogter.”

“Mooi.” Amper glip die woord ‘cool’ weer uit. Dit sou un-cool gewees het.

“Jy het nie dalk ‘n fles met koffie in die kar nie?” vra hy onverwags.

“Nee, jammer.” Sy is self weer lus vir koffie.

“Eish,” sug hy oordrewe en bepaal weer sy aandag by sy projek.

“Kan ek help? Iewers vashou? Help vasdraai?” vra sy.

“Ek kom reg, dankie. Buitendien, jy het my al klaar baie gehelp.” Hy beloon haar met ‘n besondere mooi glimlag en sy is dankbaar dat sy agter die ligkol van die flits staan, sodat hy nie die onverwagse kleurtjie wat langs haar wange opkruip kan sien nie.

Richard begin moere vasdraai en toe hy amper klaar is, klink sy stem besorg toe hy vra.

“Het jy seker gemaak dat jou volle vrag nog op die sleepwa is?”

“Dit is gelukkig. Miskien omdat ek in die kar bly sit het. Al die los goed is onder of binne-in en dit wat op die sleepwa is, is met verskeie toue vasgemaak. Dis nie net vir gryp en weghol nie.”

“Slim vrou. Het jy slaapplek vir die klein stukkie van die nag wat oor is? Jy is seker doodmoeg.”

“Ja dankie. Lex wag vir my.”

“Wie?” Op daardie oomblik is sy konsentrasie half gebreek en hy knyp sy vinger geniepsig tussen die spanner en die vleklose staal rim vas toe hy die laaste moer vasdraai. Hy struikel half orent, brom ‘n lelike woord en gluur haar aan. “Praat jy van Lex Avenant, die redakteur van die Modjadji Sun koerant?”

“Die einste.” Hoekom gluur hy haar ‘n oomblik aan asof sý hom sopas met die moersleutel op die vinger gefoeter het? Hy het dit aan homself gedoen. Daarna verbreek hy oogkontak en laat sak die viertrek van die domkrag af. Wat op aarde het van die man se gemoedelike bui geword? wonder Gretha toe hy die pap band optel en hardhandig in die Mercedes se vakante bagasieruim deponeer.

“Dankie vir die leen van jou domkrag.” Hy laai dit darem minder hard terug in haar kar en beduie met ‘n hand in die rigting waar Haenertsburg is. “Ry voor.”

Van die vriendelike joviale Richard Roodt is daar skielik niks oor nie. Hoekom kry sy die gevoel dat die noem van die naam Lex Avenant iets daarmee te doen het?

“Jy hoef nie agter my aan te ry nie. Ons is mos byna daar.” Gretha klim met ‘n stywe rug terug in die kar, klap die deur toe, voordat hy dit dalk in sy kop kry om heer te speel en dit vir haar te doen. Sy skakel aan en begin ry. Hoekom ontstel die man se houding haar? Sy ken hom nie eens nie.

Daar is ‘n groter probleem wat op haar wag in Haenertsburg. Sy het geen idee waar Lex se huis is nie. Plan ‘a’ was dat sy Lex vanaf die dorpie waar sy koerant se kantore glo is sou bel en dat hy haar sou kom haal het. Daar is nie ‘n plan ‘b’ nie en dis absoluut ‘n genadelose uur van die nag om van iemand te verwag om haar te kom haal.

Na ‘n ewigheid begroet die enigste motorhawe op die dorp haar en sy hou eenkant stil. Richard trek langs haar in en af kom sy passasierskant ruit.

“Jy kan my maar hier los. Ek bel vir Lex,” praat sy, voordat hy iets kan vra of sê. Hy moet liewers ry as hy nooit weer vir haar gaan glimlag nie. So het elke mens ‘n krakie in sy mondering. Richard s’n is duidelik onvoorspelbare buierigheid. “Ek was van plan om vir jou hier binne koffie te koop. Maar nou sien ek jy het ‘n by in jou tenk. Totsiens.”

“‘n By in my tenk? Ek glo nie, my tenk is dolleeg. As ek nie nou brandstof inneem nie, gaan staan ek oppad na my huis toe. En as ek nou koffie drink, slaap ek nooit weer nie,” antwoord hy deur stywe lippe, voordat sy ruit weer opgaan. Daarna trek hy langs ‘n dieselpomp in, klim uit en stap by die vier-en-twintig uur kiosk in.

Gretha slaan haar sitplek plat om ‘n bietjie van ‘n lê te kry. Sy is gedaan. Maar net toe sy amper insluimer is daar ‘n klop aan haar venster. Gesteurd sit sy regop.

“Wanneer kom Lex Avenant?” vra Richard Roodt.

“Ek het pas besluit ek sal hom môreoggend by sy kantore ontmoet. Ek gaan hom nie nou bel nie. Weet jy hoe laat dit is?”

“Ja Dolla, ek weet presies hoe laat dit is. Dis hoekom ek omgekrap is omdat Lex nie vir jou hier wag nie. Hoekom gaan jy nie na sy huis toe nie?”

“Ek weet nie waar hy bly nie,” bieg sy.

“Ek sal jou gaan wys. Ek bly vier plotte van hom af.” Die man is regtig knaend. “Of kom saam na my huis toe. Ek het ‘n gastekamer waarin jy met liefde vir ‘n uur of meer kan slaap. Daar is jou trek veilig.”

“Meneer Roodt, mevrou Roodt gaan nie daarvan hou as jy in die middel van die nag vroulike gaste huis toe bring nie. Asseblief, ek en my goeters is honderd persent veilig hier en ek is regtig baie moeg.”

“Daar is nie meer ‘n mevrou Roodt in my lewe nie,” raas hy, asof dit haar skuld is, en dié van die petroljoggie en die bestuurder van ‘n taxi wat pas daar gestop het. “Nie by die huis nie en ook nie meer in my onderbewussyn of geheue nie. Maggies, ek sal jou nie aanval nie. Ek weet mos jy is al die beste deel van die dag en nag op die pad.”

“As jy dink ek gaan vanaand by ‘n vreemde man in sy vreemde huis op ‘n vreemde plek oornag, sónder dat daar ‘n vrou in die huis is, maak jy ‘n groter fout,” vlieg sy hom terug in. Wat dink hy miskien van haar? “Dan vat ek liewer my kanse op ‘n openbare garage waar ‘n klomp ligte brand en mense is wat gaan hoor as ek dalk om hulp moet roep. Ek kán skree as dit nodig is.”

“Ek het geen behoefte aan vroumensgille nie. Dan luister ek liewer na heavy metal, jazzmusiek of die klank van ‘n elektriese saag wat ‘n moer in ‘n sleeperbalk raaksaag,” kap hy terug. “Ek wou net probeer help, maar aangesien jy dit duidelik as ‘n soort teistering sien, gaan ek nie langer aan jou torring nie.”

Hy maak ‘n omgekrapte gebaar met sy hande voordat hy omdraai. Maar hy stap nie weg nie.

“Wat nou weer?” vra sy.

“Bêre daardie videokamera. Netnou slaan iemand jou ruit uit vir ‘n stuk elektronika.”

“Oukei.” Sy het heeltemal vergeet van die videokamera wat soos ‘n oopvlerk kuiken nog op die kar se paneelbord lê. ‘n Verklikker as die man twee en twee bymekaar wil sit oor wat dit daar maak. Sy gryp dit, druk die lens toe en prop dit terug in sy boks en toe in die kar se paneelkissie.

“Dis beter. Goeienag.”

“Nag.”         Sy sal hom nie eens agterna kyk nie, al wil sy eintlik agter hom aanhardloop en verduidelik dat dit regtig nie behoorlik voel om so ‘n aanbod te aanvaar nie, ten spyte van sy lelieblanke motief.

Sy sak weer skuins af in die bestuurdersitplek en verbasend genoeg raak sy feitlik dadelik aan die slaap. Waarskynlik nie baie ure se slaap nie, maar sy voel tog ‘n klein bietjie beter toe sy wakker word.

Sy sit stadig orent, vee die ergste mistigheid van die kar se ruite af om te probeer agterkom waar die son homself bevind. Sesuur, wys die horlosie aan haar arm. Die een op die paneelbord het die pad heeltemal byster geraak omdat die kar se battery dit nie bygehou het nie.

Sy maak haar deur oop, klim stram uit en sien tot haar groot verbasing dat ‘n swart Mercedes Benz viertrek reg langs haar geparkeer staan en dat ‘n besondere aantreklike man met donker hare skuins agteroor in die sitplek lê en slaap. Anders as haar kar, is die ruit langs hom halfmas oop en die vensters glad nie toegewasem nie.

Richard Roodt.

Gretha skud haar kop in ongeloof. Kan dit wees dat hy spesiaal gebly het om haar op te pas? wonder sy en voel vir ‘n baie kort oomblik werklik spesiaal. Maar dan besef sy dat hy waarskynlik self vodde was en waarskynik ook nie kans gesien het om verder te ry nie.

Vir net ‘n kort oomblik staar sy na die man in sy ongemaklike slaap posisie en wonder of die lyntjies langs sy mondhoeke van lag of seerkry is. Dalk sal sy eendag die geleentheid kry om hom oor sy lewe uit te vra. Of dalk het hy op ‘n stadium ‘n behoefte om haar daarvan te vertel.

Maar net nie vanoggend nie. As sy so oes lyk as wat sy voel, moet sy liewer geen bekendes sien nie. Ook nie minder bekendes nie. En veral nie aantreklike nuwe buurmanne soos Richard Roodt nie.

Sy maak die agterdeur van haar kar oop en haal haar toiletsakkie en handdoek uit haar oornagtas. In die garage se kleedkamers moet sy probeer om haarself respektabel te maak vir die dag.

Selfs ‘n gewaste gesig, tande wat geborsel is, bietjie grimering en ‘n kam deur haar hare vee nie die vorige nag se ontsteltenis en min slaap van haar gesig af nie. Haar groen oë, wat gewoonlik ‘n bate is as sy net ‘n druppel grimering aansit, word vanoggend met donker kringe onderstreep. Haar skouerlengte roesbruin hare staan wild rondom ‘n gesig wat net té bleek is. Selfs die drie sproetjies op haar neus slaag nie vandag daarin om kleur en lewe terug te bring nie. As dit nie haar eerste dag by ‘n nuwe werk was nie, sou sy vanoggend in ‘n bed wou deurbring.

Maar Richard Roodt is nog steeds nie weg nie. Hy wag haar in, geklee in ‘n trui met die logo van die motorhawe waarby hulle geparkeer staan. Hy self lyk vars en uitgerus asof hy van ‘n sesmaande lange vakansie op ‘n tropiese eiland af teruggekeer het en daarna ‘n halfuur in ‘n borrelbad spandeer het. Behalwe vir sy nuwe petroljoggie uitrusting, het hy twee koppies koffie gekoop. Hy teug behaaglik aan syne, sit hare op die Mercedes se kap neer en beduie dat sy self die suiker moet ingooi.

“Dankie vir die koffie, maar ek drink versoeter.” Sy draf by die winkel in, bedel twee sakkies en skeur dit met die terugkom oop. Sy roer die wit poeier met die dun plastiekstokkie in en geniet die eerste sluk koffie met oorgawe. In die oggendstond lyk alles beter. Veral die man en sy besluit doelbewus om nie te veel en te reguit na hom te kyk nie. Haar gesig verklap gewoonlik wat sy dink en voel.

Sy dink en voel dat Richard Roodt een van die aantreklikste manne is wat sy nog gesien het, maar hy mag dit beslis nie agterkom nie.

“Hierdie goed is baie sleg vir jou gesondheid.” Richard tel die leë sakkie op en beduie na ‘n woordjie wat te klein is vir meeste mense om met die blote oog te sien. Sy inkluis. “Aspartame.”

“Die ou cliché, alles wat nie vet maak nie maak dood. Moenie Aspartame en die welsyn van die aarde se bevolking jou probleem maak nie.”

“Ek verkies om dit nie te doen nie, maar soms word dit sommer vanself my probleme,” antwoord hy uit die hoogte. “Het jy jou kêrel gebel om jou by sy kantore te ontmoet, of moet ek jou gaan wys waar die plot is?”

Amper het sy vergeet. Die man se humeur was nog laas in ‘n ietermagô rolletjie opgedinges by die aanhoor van Lex se naam. Veral omdat hy sy vinger daarna opgespanner het.

“Klink my asof hier ‘n liederlike misverstand ontstaan het,” help sy hom reg. “Daar is niks romanties tussen my en Lex Avenant nie. Hy is ‘n ou studentevriend, oud kollega en langtermyn vriend, wat van vandag af my nuwe baas is. Ek begin by sy koerant werk.”

“Werk vir hom? Dan trek jy darem nie by die vent in omdat hy die liefde van jou lewe is nie?” Om een of ander rede verkas ‘n groot deel van sy knorrigheid na haar onthulling oor haar en Lex Avenant se status quo.

“Helaas nie. Dis slegs platonies. Maar ek trek wel daar by ‘die vent’ in, want hy het blykbaar ‘n woonstel of kothuis eenkant op sy plot waarin ek gaan woon, as deel van my salarispakket.”

“O daardie vinknessie teen die hang? Nouja, sterkte met jou inskakeling by Lex se enterprising venture.”

“Klink my jy hou nie baie van hom nie. Of is dit die Modjadji Sun wat jou pla?”

“Eerlike antwoord? Beide. Ek en Lex is feitlik bure, maar jy sal dit van hom ook hoor. Ons het nie ooghare vir mekaar nie. As die blyplek jou nie geval nie, daar is ‘n gemeenskapsbord langs die apteek by die sentrum met ander tuinwoonstelle te huur.” Hy gooi sy leë papierkoppie in ‘n asblik. “Nou ja Gretha Conradie, wees gegroet en laat dit goed gaan.”

 

Hoofstuk 5

Niemand maak ‘n groot en invloedryke tradisionele geneser kwaad nie.

Die man wat vir homself ‘n FNB bankrekening met ‘n ID dokument in die naam van Karel Muller in Polokwane geopen het, kyk bekommerd na die groot toordokter voor hom. Hy het sy bes gedoen om die bestelling haarfyn uit te voer. Duidelik was sy beste al weer nie goed genoeg nie.

“Ek het vir jou gesê die vet is dringend, maar jy kom met allerhande ander produkte hier aan.”

“Tagtig persent van jou lys is afgetik.”

“En daarvoor sal jy betaal word. Maar as jy jou werk wil behou, sal jy meer aandag moet skenk aan dit wat as dringend gemerk word. Eerste opdragte eerste.”

“Dit was moeilik. Daar was onmiddelik baie mense op die ongelukstoneel.”

“Presies. Ongelukstonele het maar die manier om skares te lok. Jy gaan in die moeilikheid beland as jy nie jou werksmetodes aflos nie. Die vet moet jy op ‘n ander plek gaan versamel.” Die toordokter staan op. Vandag lyk hy minder skrikwekkend as op die tye wanneer hy in sy tradisionele drag met die vervaardiging van sy muti besig is. “Gaan soek ‘n vrou by ‘n wegneem hoender eetplek, of ‘n roomys winkel. Wys haar dat jy van haar hou en lok haar weg na waar julle alleen is, sodat jy jou werk ongehinderd kan doen.”

“En vermoor haar?” Hy moes dit nie gesê het nie. Die toordokter se rug trek styf. Hy pers sy lippe opmekaar en altwee sy hande maak vuiste asof hy homself met moeite inhou.

“Dis nie moord nie. Dis om een liggaam te offer, ter wille van die heling van honderde ander. Dis die wetenskap.” Verstommend soos dit is, glo die man dit regtig. Hy kyk Karel reguit aan en daar is ‘n uitdagende klank in sy stem toe hy vra: “Beskou jy die sewentien liggame wat gisteraand in die ongeluk dood is as moord?”

“Dit was ‘n ongeluk. Buitendien, wat het dit met my te doen?” Karel maak sy stem dik. Skuil agter ‘n fassade van bravade, maar voel hoe vrees die raamwerk van sy skelet in kraakbeen verander.

“Dis moord, want die ongeluk sou nie gebeur het, as jy nie die sneller getrek het nie.” Die toordokter glimlag. Nee, dit is nie hoe dit lyk wanneer iemand glimlag nie. ‘n Grynslag laat sy oë lyk soos twee soekligte wat ‘n ontsnapte bandiet verstrengel in die lemmetjiesdraad van verbode land betrap.

“Wat laat jou daardie raaiskoot waag?” Wat het nou met sy sterk stem gebeur?

“Dis nie ‘n raaiskoot nie. My lyfwagte hou jou al ‘n tyd lank dop. Dis baie vindingryk om self die ongeluk te laat gebeur.”

Hy kan nie dankie sê nie. Sy stem gaan hom weggee. Die leeu wat eintlik ‘n muis is.

“Ek wil jou nie verloor nie. Te veel van my werkers skram weg van die mensaspek. Hulle verkies om op die plante en diere te konsentreer.” Die toordokter staan op. “Ek het vir ons sop laat kook vir onbyt.”

“Ek eet nie so vroeg in die oggend sop nie. Later miskien spek en eiers, maar nie sop nie,” keer Karel. Die vorige keer wat hy iets saam met die toordokter gedrink het, het hy geen idee gehad hoe sy nuwe viertrek na die tyd in die stoorgarage naby sy blyplek beland het nie.

“Vandag sal jy eet. Jy vat my nie so in die gesig nie. Hou jy nie van my kos nie?” Hy stuur een van die vrouens wat doodstil daar naby sit en wag uit, voordat hy verder praat. “Plante en diere is maklik. Dis waar die mensfaktor inkom waar die risiko groot raak. Dis hoekom ek jou kans wil gee om jou belangrikste opdragte af te handel, voordat ek jou die res van die lys gee.”

“Die vet …”

“Haar hart … en twintig kilogram vet,” voeg die mutiman nog ‘n item by sy bestelling. “Jy bring die groot vrou se hart en die rugvel van ‘n albino kind. Ek verstaan nie hoekom ek nog nie my vel gekry het nie?”

“‘n Lelieblanke pigmentlose vel skop mens nie agter elke bossie uit nie. Die Afrika-son looi sulke mense.”

“Dis hoekom dit ‘n jong vel moet wees.”

“My informant het vir my gesê daar sou so ‘n kind op die bus wees. Ek kon haar nie kry nie.”

“Wel, iemand het haar gekry. Sy is nie meer by haar ma nie.” Hy wys vir die vrou wat terugkom met twee bakkies sop, om dit tussen hulle neer te sit. “As iemand die kind voor my kry, sal jy baie jammer wees. Eet.”

Die dik vleissop ruik verbasend lekker. Smaak ook nie te sleg nie, besluit Karel toe hy daaraan proe. Daarna kyk hy op sy horlosie, sit die lepel neer en staan op.

“Dankie, laat ek nou gaan werk.” Dis asof daar skielik ‘n diep skaduwee oor die wye sitkamer val. Hy móét hier uit. Hoe dieper hy betrokke raak, hoe meer raak hy bewus van donker magte waaroor hy nie beheer het nie.

“Jy het nie jou sop klaar geëet nie. Ons het spesiaal gisteraand geslag.” Die toordokter lyk diep seergemaak.

“Lekker vars en ek waardeer dit,” komplimenteer hy sy gasheer. “Maar dinge gaan nie vanself gebeur nie. As jy my weer sien, is dit met die twintig kilogram vet en die vrou se hart.”

“Die seep van ‘n vrou se vet is baie werd. Dis hoekom die geld so goed is. En jy sal jou deel van die seep kry. Bad daarmee en jy word sterker as jou slagoffers.”

“So gehoor.” Oor sy eie dooie liggaam bad hy met seep wat uit mensvet vervaardig is. Maar hy hou sy gesig reguit. Uitdrukkingloos? Seker nie. Maar hy moet liefs nie sy afgryse wys nie.

“Vat die res van jou sop saam.”

“Nee, dankie, ek sal later ‘n hamburger by die koffiewinkel gaan eet.” Hy is net vaag bewus van die wagte wat soos altyd langs hom inval. Die volgende oomblik is die swart doek oor sy kop en sy voete van die grond af.

Hy skrik nie meer so groot soos daardie eerste keer nie. Daardie dag het hy sy broek natgemaak van vrees.

Maar soos altyd is dit vir hom ‘n groot verligting wanneer die doek ‘n ent vêrder afgeruk word en hy sy oë aanhoudend moet knip teen die helder son. Die manne wat hom gedra het, is weereens weg voordat hy gesigte kan eien.

Die binnekant van sy versteekte voertuig voel vandag vir hom soos die veilige arms van sy oorlede pa, toe hy ‘n seuntjie van vier was en die bure se wolfhond hom met flitsende tande en grypende kake bestorm het.

Maar wat hom bybly lank nadat hy begin ry het, is die onwrikbaarheid waarop die dokter daarop aangedring het dat hy sy sop moet eet. As hy eers begin spekuleer oor wat dit is wat vir die sop geslag is, sal hy waarskynlik netnou stilhou en sy ingewande langs ‘n bossie uitbraak.

Nie dink nie. Nooit dink nie. Nie in hierdie beroep nie.

 

Die ou huisies in Haenertsburg se hoofstraat is so mooi soos wat sy onthou en laat Gretha aan Pelgrimsrus dink. Sy vind die uithangbord met Modjadji Sun Nuus redelik maklik langs die drukkers en trek onder ‘n boom in om vir Lex te wag om kantoor toe te kom. Dis nog ‘n driekwartuur voordat Lex se kantoordeure oopgaan. Sy kan seker uitklim, die kar sluit en nog koffie, hierdie keer in ‘n regte porselein koppie gaan soek by die interessante koffiewinkel aan haar linkerkant. Maar dan weet sy ook uit ervaring dat, wanneer Lex uiteindelik sy opwagting maak, hy waarskynlik nie net vir koffie lus sal wees nie. Hy sal wil eet ook.

En sy gaan vandag saam eet. Sy is lekker honger.

Sy trek haar sketsblok nader, kou aan die agterkant van haar potlood en besef, as ‘n skrywer vashaak en nie weet wat om verder te skryf nie, noem mens dit skrywers-blok. Kunstenaars ly aan die leë doek sindroom. ‘n Spotprentjiekunstenaar wat nie kan werk nie ly aan ‘n leë kos en yskas-situasie! Maar Gretha het inspirasie. Sy het ‘n behoefte om ‘n aantreklike donkerkopman wat met ‘n Mercedes ML se pap wiel spook te skets.

Interessante verskynsel, ene meneer Richard Roodt, besluit sy en betrag die lyne van haar skets oomblikke later krities. Natuurlik kan sy nie nou so uit die kop presies onthou hoe hy lyk nie. Kort, netjiese hare. Mooi gelaatstrekke en sielvolle blou oë. Skralerige lyf, maar nie te maer nie.

Wat doen hy vir ‘n lewe? Die viertrek waarmee hy ry is nie die nuutste model van sy soort nie, maar kan beslis ook nie aan ‘n armlastige behoort nie.

Sy raai, reisiger verteenwoordiger. Hy verkoop waarskynlik duur stofsuiers, besluit sy en teken hom met allerlei huishoudelike toerusting wat so intelligent is dat dit kan terug antwoord as die mêrrim opdragte uitdeel. ‘n Stofsuier wat vir die vrou van die huis koeldrank op ‘n skinkbord langs die swembad aflewer en die kinders namens haar skool toe vervoer.

Gretha besluit dat die sketse waar Richard Roodt die stofsuier soos ‘n hond afrig, haar algehele gunsteling is. Sy sal dit raam en binnekort in haar nuwe huis se kombuis ophang.

Sy skryf by, sit, lê, rol om. En die stofsuier gehoorsaam met ‘n waaiende elektriese koord en wiele wat punt in die wind staan.

Sy loer weer na haar horlosie. Dis amper kwart voor nege.

Die plek sal seker enige tyd van nou af lewe kry. Haar potlood bodder weer met Richard Roodt se waardigheid. Dalk is die man ‘n boer. Hy is dalk die rots van die omgewing se samelewing wat op die kerkraad dien en van die algemene sinodalevergadering in Potchefstroom afkom? Sy teken hom staande agter die stuurwiel van die ML wat met trekkeragterwiele toegerus is. Oor sy gesig hang ‘n hoed en sy oë glinster agter ‘n duur ingevoerde sonbril. Sy skryf onderaan: Boer soek ‘n vrou.

Daarna kyk Gretha rond om te sien of Lex nie al iewers geparkeer het nie. Sy is lankal nie meer die enigse voertuig in die straat voor die winkels nie. Amper wil sy glimlag toe sy sien dat die piepklein Haenertsburg ook ‘n motorwag het. Die vrou met die oranje veiligheidsbaadjie sien ‘n man aankom, maar toe sy op hom afstorm, treë hy haastig agter ‘n boom in, asof hy wegkruipertjie speel.

“Duifie, waar was jy vanoggend toe die bussie vertrek het?” roep die vrou en hardloop op die man se skuilplek af. “Pietie wou nie vir jou wag nie. Ek het hom probeer keer. Toe sê hy hy kan nie die ander ouens laat op die job kry nie. Is jy weer besig met privates, Duifie?”

“Sjuut Santjie, ons praat nie hier daaroor nie. Die bome en karre het oë en ore,” kan Gretha  net-net die man wat pas as Duifie aangespreek is se stem hoor.

Hoe sal ‘n spotprent kunstenaar Duifie se ‘privates’ op papier vaslê? ‘Privates’ wat groot en belangrike sake is en so hoogs geheim is dat die man agter ‘n boom se stam moet wegkruip om sy geheim te bewaar? Maak hy dalk blikkies en bierbottels in sy vrye tyd bymekaar? ‘n Manslyf met ‘n duifkop loop en speel op ‘n fluit en hordes blikke, papiere en bottels kom van heinde en vêr soos muise uit die dorp aan en volg hom na die ‘dumping site’, waar hulle paaie skei. Blikke by blikke, glas by glas en papier by papier.

Al konsentreer sy hard op haar werk, spits Gretha haar ore by die oop venster om te probeer luister wat die twee praat. Dis deel van haar nuwe werk, want dikwels kom ‘n joernalis se beste wenke hier van ‘grondvlak’ af, besluit sy. Sy teken haarself met ore so groot soos DSTV skottels waar sy op haar maag lê en luister na diep geheime wat ondergronds uitbroei.

“Miskien sal ek binnekort hierdie parking job moet los, Santjie,” fluister Duifie en Gretha kan net raai dat dit die keer sy ogies is wat soos woer-woere ronddraai om seker te maak dat daar nie mense is wat afluister nie. “Jy moenie worry as ek soms laat kom of glad nie opdaag nie. Ek gaan groot geld maak. En nou gaan ek daar anderkant lê en ‘n bietjie slaap. Ek is gaar. Moenie my soek nie.”

“Ek sal jou wakker maak vir middagete of as Pietie kom. Hy gaan jou kamer vir iemand anders gee, as jy nie op die job is nie.”

Sy volgende uitroep laat Gretha besef dat Pietie se goedkeuring of die kamer nie vir Duifie belangrik is nie.

“Sies Duifie, jy vloek deesdae baie lelik,” raas Santjie, voordat sy na mense toe stap wat van iewers af terugkeer na hulle kar toe. “Ek het mooi gekyk terwyl julle koffie gedrink het.”

Maar die twee vrouens ignoreer haar asof sy ‘n bries in die wind is. Lastig, maar onsigbaar.

“Vrekselse tewerasies,” brom Santjie toe hulle wegry sonder om die gebruiklike aalmoesie vir ‘n opgepaste kar te betaal. “Hulle doen dit altyd. Die rykes met die smart karre.”

Nie ‘n makike manier om ‘n mens se brood en botter te verdien nie, kan Gretha nie help om te dink nie. Op daardie oomblik ryg Lex sy langerige lyf uit ‘n platterige sportmotortjie onder ‘n paar skaduweenette naby die koffiewinkel. Sy maak vensters toe en klim uit.

“Kan ons maar kyk, mevrou? My naam is Santjie.”

“Asseblief ja. Al my aardse besittings is in die kar en op die sleepwa,” erken Gretha.

“Ek sal mooi kyk terwyl jy shop,” troos die vrou en kyk die inhoud van die sleepwa krities deur, asof sy ‘n inventaris opstel om seker te maak dat niks van die sleepwa afklim nie.

“Ek gaan nie shop nie. Ek is nuut op die dorp en ontmoet die baas van my nuwe werk in die koffiewinkel,” verduidelik Gretha.

“Lex Avenant van die koerant?” vra Santjie. Sy maak waarskynlik die afleiding omdat Lex reguit na Gretha toe aankom.

“Die einste.”

“Ek dog jy maak nog ‘n bed seer in Polokwane.” Lex trek haar teen hom vas. “Welkom op ons mooi dorp, Gretha. Sal ons eers iets eet, voordat ek vir jou die kantoor gaan wys?”

“Ja dankie. Ek is nuuskierig oor die kantoor en alles, maar ek is regtig honger.”

“Dan gaan ons eers eet.” Lex stap reguit na die koffiewinkel toe. ‘n Goeie keuse, want die reuk van gebraaide spek, roosterbrood en vars koffie laat haar maag sommer draai.

“Wanneer kom jou trek?” vra Lex, nadat die kelner hulle bestelling geneem het.

“Ek het nie ‘n trek nie. Alles wat ek besit is in die kar en sleepwa wat daar onder die bome staan.”

“In daardie geval ry ons plot toe sodra jy die kantoor gesien het, sodat jy kan gaan uitpak en nesskrop.” Sy oë kry daardie spesiale glans van ‘n koerantman wat ‘n voorbladstorie ruik voordat hy vorentoe leun en vra. “Het jy gisteraand vir ons mooi foto’s saam met die storie gekry? Daar het ‘n interessante verslag van die SAP deurgekom, kannie wag om jou reaksie te sien wanneer jy dit lees nie.”

“Wat is dit?”

“Kom ons geniet eers die ontbyt.”

Dit is nie ‘n moeilike opdrag nie. Die kos wat die kelner net daarna op die tafel tussen hulle neersit lyk heerlik dekadent. Eiers, spek, ‘n kaasworsie, hoenderlewertjies, sampioene en ‘n gebakte aartappelkoekie. Twee snye roosterbrood en die romerigste koffie. Lanklaas in haar lewe het kos so goed gelyk en geproe. En toe die koffie kom roer Gretha haar twee versoeters in. Sy kan nie help om vir ‘n oomblik aan Richard Roodt se frons en opmerking daaroor te dink nie.

“Daar is iets omtrent die ongeluk wat jy moet weet.” Soos altyd hou Lex se kop nie vir een oomblik op met werk nie. “Dis die hoeveelste keer dat dit gebeur, maar ons mag nie daaroor skryf nie. Dis uiters konfidensieel, soos wat jy in die verslag sal lees.”

“Wat?” Lex maak haar nou regtig nuuskierig.

“Wil jy nog iets eet? Wafels met room of roomys?”

“Nee dankie Lex. As ek nog iets eet bars ek oop. Vertel my van die verslag.”

“Dis eintlik vir niemand se ore bedoel nie,” waarsku hy. “Onderdele van slagoffers wat op die toneel verwyder word, waarskynlik vir die muti handel. Dit gebeur gereeld, maar die inligting word nooit gepubliseer nie. Dis te sensitief.”

“Wat bedoel jy met onderdele?”

“Oë, geslagsdele, stukke vel.” Lex hoef dit nie meer breedvoerig te beskryf nie. Gretha keer met die hand toe ‘n mislikheid in haar opstoot.

“Bedoel jy die lyke is daar op die toneel geskend?” Sy wou nie hierdie addisionele inligting omtrent die slagoffers van die ongeluk hoor nie.

“Jip. En die staatspatoloog is gevra om met groter deeglikheid na alles te kyk.”

“Ek sou so dink ja. Wie is die staatspatoloog?”

“Dokter Valentine Ufondu. ‘n Nigeriër, maar ‘n ware heer, soos wat jy eendag sal sien wanneer die kantoor saam met hom ‘n bier drink.” Dit is nogal Lex se manier om homself oral in te werk. Wees almal se vriend … maar hulle beter onthou soos Esmé altyd in Engels aanhaal: “Nothing is ever off the record when you speak to a journalist.”

“Daar is iets wat my bekommerd maak van die polisie se weerhouding van inligting. Tydens die ongeluk het ‘n perdfris gesonde albino babatjie verdwyn. Die ma het hom in iemand se helpende hande gesit en hy is vanoggend net weg.”

“Dis frustrerend,” stem sy saam “As daar ‘n foto van die kind op die koerant se voorblad of selfs op TV nuus is, kan die kinderdief dalk vasgetrek word. Iemand wat nie ‘n kind het nie, en nou ‘n kleinding met ‘n spierwit velkleur het, gaan beslis raakgesien word.”

“Glo ek ook. Nou beweer die polisie dat ons die ondersoek mag opfoeter as ons in hierdie stadium daaroor berig.” Hy bestel nog koffie. Dan val iets anders hom by. “My ander ou vriend in die SAP sal dalk vir jou ‘n paar vrae wil vra. Jy het toevallig die ongeluk sien gebeur.”

“As ek kan help, doen ek dit graag.” In haar geestesoog sien sy weer hoe Richardt ‘n baba van die grond af optel. Maar sy aksie was om die kind in haar ma se arms te sit, nie uit te haal nie. En die baba wat hy hanteer het, het beslis ‘n gesonde donker kleur gehad.

“Sal ons gaan?” vra Lex nadat hy sy roosterbrood en konfyt met nog ‘n laaste koppie koffie afgesluk het. Hy maak ‘n som in sy kop en druk ‘n paar note in die vouer wat die kelner daar neergesit het. Toe Gretha wil bydra keer hy. “Hierdie een is op my.”

 

 

Hoofstuk 6

My donner, hoeveel skokke moet daar op een dag vir hom wag? Amper pirts hy vir die tweede keer vandag byna in sy broek. Nie in sy wildste verbeelding sou hy kon raai dat die vrou in die groen Jeep Cherokee, wat so lustig gesit en foto’s neem het by die ongeluk, se eindbestemming die kantore van die Modjadji Sun sou wees nie. Hy moet daardie kamera in die hande kry. Sien hoeveel inkrimenerende getuienenis sy daarop vasgelê het.

Hy het gisteraand diskreet wegbeweeg vandat hy die kamera se flitse raakgesien het, maar wie weet, miskien is daar een of ander wysneus wat agterkom dat hy op die regte tyd op die verkeerde plek was. Dalk bring niemand ooit die kloutjie by die oor nie. Maar sou die papryp sappige papaja net per dalks eendag in ‘n volspoed waaier beland, wil hy gerus genoeg voel dat daar nie iewers stukkies bewyse rondlê wat hom daaraan verbind nie.

As daar foto’s is, moet dit vernietig word.

Dis jammer dat sy die kamera saam met haar by die restourant ingevat het. Hy kon maklik die karwag bitch se aandag afgetrek het en die ruit met ‘n klip uitgefoeter het.

Nou lê die kamera oop en bloot tussen die vrou en die windgat grootbaas van die koerant. Hy kan seker vir een van die leeglêer manne daar naby betaal om die ding te gaan gryp en iewers neer te smyt waar hy dit kan kry.

Behalwe dat daar dan nóg ‘n potensiële getuie is wat hom eendag kan ontmasker.

Nee, hoe minder mense hy hierby betrek, hoe beter. Hy sal sy hande op die kamera kry, voordat Lex of een van sy polisie gabbas dit sien.

Geduld. As Mohammed nie na die berg toe kom nie … sal die berg na Mohammed toe moet gaan. Of hy sal dalk hierdie eenkeer iemand moet betaal of omkoop om die getuies te laat verdwyn.  Terwyl hy sy plan van aksie uitwerk, sal hy aangaan met sy werk, asof daar nie vanoggend  ‘n tydbom met roesbruin hare in ‘n aaklige groen Jeep Haenertsburg se hoofstraat ingery het nie.
Die kantoor is in een van die sinkdakhuisies agter die koffiewinkel. Die traliehek voor die deur gaan met ‘n klikgeluid oop toe iemand daarbinne ‘n knoppie druk. Van buite af lyk dit soos ‘n normale werkplek waar mense elke dag brood en botter verdien. Maar met die intrapslag deins Gretha terug.

“Wat de vrek?” vra sy toe sy oor haar ergste skok kom en naderstap om ‘n opgestopte bobbejaan wat langs die voordeur sit van nader te bekyk. Die dier wag besoekers aan die Modjadji Sun glasoog en met ‘n uitgestrekte bakhand in. “En dit, Lex? Betaal mens toegangsgeld? Of moet ek vir hom my ID wys?”

“Dis Petrus, die hekwag, die butler en sekuriteitsman,” verduidelik Lex droog.

“Interessant,” kry Gretha dit flouerig uit.

Maar die woord interessant is heeltemal ontoereikend om die kantoor waar sy van nou af gaan werk te beskryf. Veral noudat sy met groter aandag rondom haar kyk.

Geen kantoor van enige koerant of uitgewery waar sy tot dusver gewerk het, het al ooit naastenby so gelyk nie. Dit lyk soos ‘n sosiokulturele antropologie museum se stoorkamer. Dis ‘n groterige vertrek. Maar dit voel klein omdat dit so oorvol is. Elke spasie teen die mure is gevul met iets.

“Gretha, aandag asseblief.” Lex klap laggend met sy vingers voor haar gesig. “Laat ek jou aan jou kollegas voorstel. Theo het vir ons die deur oopgemaak. Hy doen ons rekeninge, admin en algemene kantoorwerk en antwoord die foon. Daardie ander ou wat na die rekenaar se skerm staar is Jackson, hy is ons webwerfman en bladuitlegkunstenaar. Clifford is die joernalis en advertensiebeampte met wie jy nou saam gaan werk. Surprise kom net op Maandag en Dinsdag in. Sy hanteer ons snuffelgids en maak die kantoor so eenmaal ‘n week skoon.”

“Theo, Jackson, Clifford en Surprise, aangenaam.” Gretha maak notas in haar kop. Alles is so oorweldigend, maar sy mag nie daarom haar kollegas se name weer vergeet nie. “Lex en julle vier het die koerant tot nou toe alleen aan die gang gehou?”

“Ons het. Gelukkig verskyn dit net eenmaal ‘n week. Maar ons sien uit na jou nuwe breinkrag en kreatiwiteit in die kantoor. Aangename kennis.” Theo glimlag effens. Hy is beslis al verby aftree ouderdom, maar sy wakker groen oë verklap ‘n skerp verstand.

“Welkom. Noem my Cliff. Die familie in die Kaap en Lex is die enigste mense wat my Clifford noem.” Cliff knipoog vir Lex.

“Nou wat maak ‘n Kapenaar hier in die verre Noorde? Ek dog julle val van die aardbol af as julle deur Meiringspas gaan.”

“Nee wat, ek hou van Limpopo. Ten minste word dit lig voor mens by die werk kom en sous dit nie, om van ‘n wintersdag ‘n marteling te maak nie.”

“Clifford, jy kan van nou af al jou illustrasies en spotprent idees met Gretha bespreek. Sy is ‘n puik kunstenaar en hoe vinniger sy iets op papier neerpen, hoe meer beskrywend is haar sketse. Ek kan nie wag dat sy moet pretmaak met party van ons meer statige lesers in die omgewing nie.” Lex se oë glinster en hy kry daardie roekelose uitdrukking op sy gesig wat Gretha van studentedae af onthou. Die laaste keer toe hy so gelyk het, het iemand Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein met ligblou verf bygekom. Dit was so hittete of hierdie Bloubul ondersteuner het ‘n nag in die selle deurgebring.

“Ons doen weekliks ‘n profiel van ‘n bekende van die omgewing,” lig Clifford haar in. “Ek is nou juis besig met ‘n sonneblomboer van Roedtan.”

“Dis wyd.” Gretha probeer om Roedtan op die kaart te plaas.

“Ek weet, maar soms betaal iemand ons vir die blootstelling en dan word dit ‘n soort advertorial. Hier is sy foto.”

“Wag eers, voordat julle weghol met die lekker dinge. Gretha het foto’s op gisteraand se ongelukstoneel geneem en dit moet voorkeur geniet, sodat dit op Vrydag se voorblad kan wees.”

“As Cliff te besig is, gee dit vir my,” bied Theo aan. “Dit gebeur  min genoeg dat ‘n nuwe joenalis met so ‘n scoop vir ons koerant instap. Ek sal die storie doen. Waar is die kamera?”

“Hier by my.” Gretha sit die kamera by Theo op die tafel neer. “Daar is seker omtrent ‘n honderd foto’s.”

“Great. En Lex, moenie bekommerd wees nie, jy kan my storie maar edit totdat daar net ‘n geraamte oorbly.” Cliff tel die kamera op en koppel die kabel op. “Ek belowe ek sal jou kamera mooi oppas.”

Lees gerus die eboek op jou laptop of selfoon: Bestel by liefdesverhalenmeer@gmail.com

Die storie is ook op Amazon as eboek beskikbaar en kos net $1.00

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.