Liefde en Konflik op Verdwaal – Adele Reynders

liefdekon

Liefde en konflik op Verdwaal – Adele Reynders

Eboek verwerking deur Renza Boeke

Twee jaar na Verdwaalpad na die Liefde aanvaar Natalie ‘n pos op Verdwaal. Daar ontmoet sy Derek de Vos, een van die veldwagters en ‘n geswore alleenloper. Sy sien ook dat die bos nie net sorg vir idilliese vakansies nie. Renosters, olifante en leeus word maklik die prooi van stropers. Het hierdie harde lewe vir Derek te sinies gemaak om homself oop te maak vir die liefde?

Hoofstuk 1

Om in Januarie in die Klasserie of Timbavati reg langs die Krugerwildtuin te stap is nie ‘n grap nie. Selfs al hang die wolke laag oor die aarde in die belofte van ‘n laatmiddag reënbui, bly dit versengend warm.

Vyf paar voete trap versigtig waar die staptoerleier sy voete oplig. Heel agter stap sy adjudant. Sewe pare oë kam die golwende gras, die droë rivierloop, die bome.

Die veldwagter lig opeens sy hand en gaan staan. Die netjiese ry breek op en vyf mense struikel in mekaar vas, die oë groot van afwagting op hom gerig.

Derek de Vos glimlag maar net. Dit gebeur elke keer. As hy halt roep, verwag hulle dat hy vir hulle een of ander natuurwonder gaan wys.

“Ons rus hier vir ‘n paar minute.” Hy  haal sy waterbottel uit en neem ‘n paar slukke. Vandag se groep bestaan uit vier Duitse toeriste en ‘n kollega Natalie Greeff.

Natalie is ongeveer twee maande gelede aangestel in ‘n pos wat ewe pretensieus as toerisme en bemarkingsbeampte geadverteer is. Dit het gewerk, die optimistiese aansoekers het met die regte grade en papiere gereageer. Natalie se CV was nie die mees indrukwekkendste nie, maar wat die deurslag gegee het was die feit dat sy nie soos die meeste ander hakskene gewys het, toe die kwessie van besoldiging ter sprake gekom het nie. Die salaris is regtig nie wat mens sou beskryf as mededingend nie.

Maar Natalie bring haar kant, dit het sy al binne die eerste week op Verdwaal gewys toe die besprekings sommer hier in die warmste maand van die jaar toegeneem het.

“My naam is Nátálie,” het sy hulle gou reggehelp, toe iemand haar Nêtilie noem. Die a’s is a’s, nie ê’s nie. Dit is hoe haar ma en pa haar jare gelede laat doop het en dít is wie sy is! Tipies vroumens, het hy gedink. Hy gee nie ‘n watsenaam om hoe mense sy naam uitspreek nie. Deerik of Dêriek soos wat mense altyd na sy vernoem-oupa verwys het.

Natalie is besonder mooi met haar skouerlengte donker hare en groenblou oë. ‘n Baie besondere kleur wat hom laat dink aan die diepsee op ‘n helder sonskyndag. Hy hou van vroue van sy eie ouderdom en dit is sy toevallig.  Volwasse, met sulke sexy karakterlyntjies om die oë en mond. Die probleem met Natalie en dit het hy al met die eerste onderhoud besef, is dat sy eintlik té mooi is om goed te wees vir ‘n enkelloper soos hy, in ‘n werksituasie wat slegs uit ‘n paar personeellede bestaan.

Maar hy het nie die hart gehad om die ander se keuse om haar aan te stel te veto nie.

Daarom het hy maar net besluit om nie vir nonsens te soek nie. Hy bly liefs uit haar pad, tensy dit absoluut van hom vereis word om in haar teenwoordigheid te wees. Gedurende Desember was dit maklik, hy was vir twee weke oor Kersfees met sy kinders by die see. Daar het hy ‘n ander belangrike besluit geneem. Hy vat nooit weer sy twintigjarige meisiekind strand toe nie. Hy wou net heeltyd klere aan haar lyfie trek en manne wat staar foeter.

Maar dit was goed om tyd met haar en sy seun deur te bring.

Nou is hy vars, uitgerus en reg vir werk. Behalwe dat vennoot Marius sommer nou met sy eerste stapgroep vir hom moeilikheid gemaak het. Dit was sý idee, nee noem dit liewer ‘n opdrag, dat Derek vir Natalie vandag saambring om so iets van die bos ook te beleef. Sy kan glo nie die stap-ekskursies verkoop, as sy dit nog nie self meegemaak het nie.

Derek neem nog ‘n sluk uit sy waterbottel en hang dit terug aan sy gordel.

Al het hy sy oë absoluut belet om dit te doen, dwaal dit al weer in Natalie se rigting. Hy onthou dat daar op haar CV geskyf staan dat  sy ‘n seun het. Niks oor sy ouderdom, of waar hy homself bevind nie. Dit beteken waarskynlik dat die mannetjie al op sy eie voete staan. Hy kan haar seker eendag vra. Maar nee hy wil nie regtig uitvind nie. Hy is nie in die minste van plan om sy lewe so te kompliseer dat dit vir hom belangrik genoeg sal raak om uit te vind nie. Hy gaan beslis nie meer by haar betrokke raak as wat absoluut van hom as kollega vereis word nie.

Sy sit half eenkant, bene opgetrek en vingerpunte inmekaar gestrengel net onder die buig van haar kniëe. As sy so doer in die bos staar wonder hy vir ‘n kort oomblik waaraan sy dink. Slegs ‘n ‘vyftigsent vir jou gedagtes’ waaroor hy nie langer as ‘n sekonde gaan tob nie.

Op daardie oomblik draai Natalie om en betrap sy blik op haar. Haar skouers roer ongemaklik en sy draai haar rug effens op hom, voordat sy ‘n boksie sap  uit haar rugsak haal. Met hande wat effens bewe druk sy  die strooitjie by sy gemerkte plek in.

Hy hoop nie dat sy ongemaklik voel omdat sy die idee gekry het dat hy staar nie, want dit was nie doelbewus nie. Hy sal ook nie weer nie. As geswore alleenloper is enige gedagtes wat langer as vyf minute aan ‘n vrou gespandeer word, te lank. Hopeloos te lank. Hy is hier om te werk. Om vir sy stappers maksimum kwaliteit bostyd te gee en dis waar sy aandag nou moet wees.

Derek wink sy adjudant Izak nader en saam begin hulle rondkyk. Hulle wil graag Verdwaal se trop leeus vir die groep wys, daarom het hulle ‘n roete gekies waar die groot katte gereeld gesien en gehoor word.

En daar is dit ook so! Leeuspore, in die wildspaadjie wat na die watergat lei. Vars getrap bo-oor alle ander spore. Hulle wink die groep nader, beduie na die spore op die grond en wys dat hulle doodstil moet wees.

Natalie lyk net so opgewonde soos die res van die groep. Sy sluk die laaste bietjie vrugtesap en bêre die leë boksie in haar rugsakkie. Daarna lyk sy vir Derek soos ‘n fyn  balarienatjie wanneer sy op die punte van haar tekkies staan en trippel. Oulik …

De Vos! Hy beter vir homself ‘n vinger lig. Van wanneer af raak sy hartklop onreëlmatig deur bloot na ‘n vrou te kyk? Twee maande gelede al, moes hy seker aan homself erken.

Maar die nugter Derek waarsku dat dit eintlik die vars leeuspore is wat veroorsaak dat sy hart vinniger klop en die oormaat bloed ‘n effense suisgeluid na sy ore stuur. Adrenalien en die wete dat al is die raakloop van hierdie groot katte in die bos hoe opwindend, die groep se veiligheid sy verantwoordelikheid en syne alleen is.

“Leeus. Die Simpsontrop. Een ouer maanhaar, twee jonger volwasse mannetjies, drie wyfies en drie welpies,ongeveer vyf  maande oud,” bevestig Izak in ‘n fluisterstem. Hy wys van die grond af  hoe hoog die kleintjies is.

Opvallend hoe almal skielik nader aan mekaar staan. Een misstap en selfs die mens kan ‘n prooidier word, al is die tweebeen spesie die sogenaamde kroon van die skepping.

“Ons kan nie lank vertoef nie, selfs al kry ons die leeus. Dit lyk na reën en dan gaan dit vroeg donker word.” Derek wys na sy horlosie en op na die wolke. “Gereed?”

Koppe wat op en af knik.

“Hier gaan ons.” Met twee vingers beduie hy dat die groep se oë wawyd oop moet wees en hulle monde bottoe. Die persoon wat die leeutrop eerste gewaar moet kalm bly en aan die een naaste aan hom raak. Nie ‘n woord nie. Enige mensgeluid of vreemde bewegings sal maak dat die trop laat spaander … of storm.

Wanneer die watergat voor hulle opdoem, is daar egter geen diere in sig nie en Derek beduie vir hulle om agter die bossies af te sak en doodstil te wag en te luister.

As leeus nie besig is om te jag nie, kommunikeer hulle dikwels luidrugtig onder mekaar. Te voet, in die veld hoor mens hulle dikwels lank voor jy hulle sien. As hulle jou eerste sien, is die normale gedrag om laag  af  te sak en weg te sluip van die regop gestalte van die mens. Veral die leeus op die plase buite die Krugerwildtuin wat die mens nog met jag assosieer is baie skugter.

Miskien het hulle dit reeds gedoen.

Behalwe vir die borrelende roep van ‘n vleiloerie, is die bos rondom hulle onheilspellend stil.

Natalie sit reg langs Derek en dié keer betrap hy haar oë op hom. Die glimlag wat haar gesig verhelder stuur sy hart al weer op ‘n vreemde driegang trippel wat sy asem ‘n oomblik wegslaan. As ‘n man elke dag van sy lewe in sulke mooi oë kan kyk, hoef hy nooit weer na enige ander vrou te kyk nie.

Nie dat hý vrou soek nie. Glad nie, dankie.

Derek haal diep asem, glimlag terug en gebruik die verskoning dat hy moet verspied om dadelik weer weg te kyk. Sy lyf bly bewus van ‘n skouertjie wat aan sy arm raak.

Is daar minder suurstof in die lug as dit so bewolk is? Moet wees. Sy longe smag skielik na meer.

Minute tik verby en net toe Derek besluit dat dit tyd is om die groep terug te neem na die Land Rover toe, hoor hulle skielik duidelik hoe swaargewigte die bosse breek.

Alle oë is op hom en hy sit ‘n vinger voor die mond. Hulle moet doodstil wag om te sien watter verrassing die bos gaan uitspoeg.

Renosters. Twee pragtige diere. Nee, drie.

Shaka en sy vrou Kosbaar en hulle nuwe kleintjie. Vir die eerste keer sien Derek dat die koei intussen haar kalfie afgelaai het. Fantasties. Sy hart klop weer vinniger, maar die keer is dit van blywees. ‘n Kersgeskenk vir Verdwaal! Hy prewel sag. “Sy naam sal beslis Geskenk moet wees.”

Die renostergesin huiwer ‘n oomblik aan die soom van die bos, voordat hulle na die water stap. Die bul lig sy kop, snuif die lug en loer langs sy horing verby, terwyl die koei dorstig begin suip. Dis die kleinste renosterkalfie wat Derek nog gesien het. Saam met sy groep vergaap hy hom aan die bedrywige nuweling.

Vergaap hom nog meer aan die openlike verwondering op Natalie se gesig.

Aandag op die toneel voor jou Derek, nie die prentjie langs jou nie! Om een of ander rede bly die renosterbul onrustig. Sy kop draai aanhoudend windop.

“Dis waarskynlik waar die leeus is,” fluister Izak. “Hoop nie hulle het ‘n oog op die kalf nie.”

“Hulle sal hom nie sommer by sy ma afvat nie,” troos Derek, wanneer Natalie pieringoog in sy gesig opkyk. Hy voel lus en sit sy arms broederlik om haar. Kry ‘n rare en onverklaarbare behoefte om haar te verseker dat die natuur vir sy kleingoed sorg en dat alles in die wêreld reg en onder beheer is. Sy moenie bekommerd wees nie.

Broederlik se ghwar! Hy is besig om mal te word. Sodra hulle terug is in die kamp, sal hy haar vir die volgende drie weke vermy om homself reg te ruk.

Een van die ouens in die groep neem die renosters met ‘n videokameratjie af. Twee ander korrel met stilkameras.

Hy wys. Vyf minute. Die Land Rover staan minstens ‘n half kilo van hier geparkeer. Soos wat die wolke nou lyk, gaan hulle heel waarskynlik in die reën terugstap.

Maar dan gebeur die ondenkbare. ‘n Nagmerrie. Daar reg voor hulle oë, uit die rigting vanwaar hulle die leeus verwag, staan vyf mensfigure uit die gras en bossies op.

Een bring ‘n geweer na sy skouer toe en al draai die renosterbul snorkend om en probeer wegkom klap die skote soos ‘n klein oorlog rondom en in hom. Die groot dier tol in die rondte, voordat hy witoog van vrees en pyn inmekaarsak en genadiglik sterf. Stropers huiwer nie om horings te oes van lewendige, erg beseerde of tydelik verlamde diere nie.

Takke wat in verskillende rigtings breek en kraak, vertel ‘n storie van ‘n koei en kalf  wat paniekbevange uitmekaar spat.

Wanneer die manne met pangas en byle nader draf om te begin kap, kom Derek tot verhaal. Hy sal iets moet doen. Maar sy nommer een prioriteit is om die toeriste hier weg te kry. Veilig en ongemerk.

“Izak vat die groep terug na die Land Rover toe,” fluister hy dringend. “Laat kom Marius en die polisie. Ek wag hier.”

“Nee ..,” vorm Natalie se mond en sy skud haar kop van kant tot kant.

“Gaan!” Derek bring die swaar jaggeweer na sy skouer toe en rig dit op die stropers om dekking te verskaf. Gelukkig is die spul so besig met hulle buit dat die stappers waarskynlik ongesiens sal kan wegkom.

“Kom,” probeer Izak om die toeriste tot aksie te dwing.

Maar asof dit wat hulle gesien het, nie reeds erg genoeg was nie, loop dinge verder verkeerd. Die een Duitse dame spring op en storm histeries op die stropers af.

“Monsters!” skeur die rou klanke uit haar liggaam.

Chaos. Pandemonium, terwyl haar man haar inhardloop en plattrek.

Die stropers is vir ‘n oomblik totaal verdwaas en onkant gevang. Die skieter gryp na sy geweer waar hy dit teen ‘n stomp neergesit het, maar toe hy dit oplig, word sy skedel versplinter deur ‘n enkele loodpunt uit Derek se 30-06. Hy tref ‘n tweede ou iewers in die lyf en stuur hom ook grond toe. Paniek onder die drie oorblywende stropers. Hulle hardloop eers in mekaar vas en toe bosse toe, terwyl Derek ‘n rondte agter hulle aanstuur.

Hopelik sal hulle lank genoeg weghol vir hom en Izak om die groep by die Land Rover te kry.

“Kom.” Derek haak by die histeriese huilende vrou in en hy en haar man sleepdra haar van die toneel af weg.

Dit voel asof hy die Land Rover in Kaïro gelos het, maar uiteindelik bereik hulle die bosgroen voertuig. Derek druk die sleutel in Izak se hande.

“Ry so vinnig as wat jy kan.”

“Ek los jou nie hier nie. Dis oor minder as ‘n uur donker,” maak Izak beswaar.

“Hulle sal dink ek het saam met die Land Rover vertrek. Gaan nou, ek kan julle nie almal beskerm as die spul besluit het om ons te agtervolg en wraak te neem nie. Mens weet nie hoeveel hulle bereid is om te waag vir duisende dollars nie.”

“As hulle jou kry sal hulle geen genade vir jou hê nie,” waarsku Izak. “En as jy hulle probeer agternasit, sal hulle vir jou ‘n lokval stel.”

“So maklik sal ek nie in een beland nie. Maar ek gaan waaragtig nie dat hulle met die buit wegkom nie. Weg is julle.”

Iets op sy gesig, maak dat niemand verder stry nie. Izak draai die sleutel en die dreun van die Land Rover se enjin verraai onmiddelik hulle posisie in die bosse. Daarom trek hy weg en begin ry.

Derek begin dadelik met ‘n ompad terugstap watergat toe. Wanneer hy hoor hoe die Land Rover uit die veld, op die grondpad draai, trek hy sy asem diep in en blaas dit stadig uit. Hopelik sal sy gaste nou veilig wees. Maar adrenalien en woede laat sy ore steeds sing.

“Kalm word,” maan hy homself, want teen die tempo waarteen sy hart nou pomp, slaan hy voorwaar dood neer. Hy stop ‘n oomblik om sy geweer na te gaan en te herlaai.

Wanneer hy weer begin stap, sak die reën na ‘n ligte windbries met ‘n sagte gesuis uit. Dit word ‘n digte wit watergordyn wat hom deurweek lank voordat hy die watergat bereik. Dis ongemaklik, maar hy het al veel erger ontberings in die bos beleef.

Wat hom meer ontstel, is die ontsettende gevoel van hartseer en teleurstelling hoe nader hy aan die toneel van slagting kom.

Hy hoop dat die koei en kalf weer bymekaar sal uitkom. Hy weet nie of een van hulle gewond is tydens die koeëlreën wat die bul se lewe geëis het nie.

Ai, hoe trots en opgewonde was hy en kollega Marius nie, toe hulle teritoriale koei hierdie pragtige bul gekies het om die pa van haar kalfie te word. Geskei van die koei is die paar weke oue diertjie uitgelewer aan elke roofdier wat sy pad kruis.

Dan hoor hy iets anders.Voeteval? Hy gaan staan ‘n oomblik om te luister. Daar is dit weer.

Derek sak op sy hurke tussen die bossies af. Daar is ‘n redelike goeie kans dat die oorblywende stropers noudat dit donker word sal terugkom om die renoster se horings steeds te oes.

Dis nie die koue of die nat wat maak dat die hare in Derek se nek skielik begin kriewel nie. Bokant die geluid van die reën hoor hy duidelik hoe nat gras teen broekspype en bene piets. Mensvoete, een paar in tekkies, die ander in stewels. Skrikwekkend naby. En hulle kom van agter af…

My donner, dring dit tot Derek deur. Hulle het waaragtig die stapgroep agtervolg tot by die Land Rover. As die reën dit nie doodgevee het nie, sou hulle sy wegbreek voetspore opgemerk het. Die kans is meer as goed dat hulle wéét dat hy nou daar langs die wildspaadjie skuil.

Derek lig die oorgehaalde geweer en wag gespanne.

 

Hoofstuk 2

***

Die maanhaar is onmiddelik op sy voete. Met daardie geluid het hy en sy trop al tevore kennis gemaak. Geweerskote wat geassosieer word met bloed, pyn en dood. ‘n Paar oomblikke gelede nog was sy grootste probleem die knaende hongerpyne op sy dun maag en sy wyfies wat met elke sintuig ingestel gewag het op prooi om die watergat windop te benader. Die wolke het reeds laag gehang toe hulle stelling ingeneem het. ’n Hinderlaag met militêre presiesie.

As die reën eers geval het, drink die bokke water by die poele in die veld. Reën, of dit nou lekker of sleg voel, is iets wat die natuur van tyd tot tyd uitdeel. Daarna kry die bos en sy inwoners nuwe lewe. Sade wat ontkiem. Dorings wat hulle angel verloor en wegsak onder voetkussings en hoewe. En amper is die groei van nuwe takke, blare en lote sigbaar en hoorbaar vir die sensitiewe oor.

Geweerskote maak ‘n diepgewortelde, oergesentreerde angs in elke dier wakker. Die sterwensgeluide van ‘n renoster stuur skokgolwe deur murg en been.

Die maanhaar trap diep vas en spring met ‘n spoed weg en asof ‘n bevel uitgekryt is, druk die res van trop stert tussen die bene en volg hom. Onwaardig met koppe wat angstig oor die skouers bly draai, asof hulle aanvaar dat dit hulle is wat gejag en agtervolg word.

Die maanhaar is langs ‘n klipperige koppie toe sy asem min raak en die reën begin val. Hy sou seker nog verder gevlug het, maar die water wat ongemaklik koud deur sy digte pels tot op sy vel dring, laat hom swenk om skuiling onder een van die groot oorhang klippe te vind. Sy harem bondel saam onder ‘n ander rots waarteen ‘n wildevy geanker staan. Die leeuwyfie en haar opgeskote welpies gaan lê links van hom.

Ongeveer dertig meter verder gaan hurk die twee jong nomadiese mannetjies tussen mopaniestruike. Die maanhaar maak of hy hulle nie sien nie, maar intussen is hy deeglik bewus van elke beweging wat hulle maak. Slegs die rukbewegings van sy stert wys dat hy nie daarmee gediend is dat hulle hom so stip sit en dophou nie.

Vir weke al doen hulle dit. Al het hulle gister tweede gekom in ‘n onderonsie met hom wag hulle vir ‘n geskikte oomblik om sy leierskap nogmaals uit te daag. Een of ander tyd gaan hulle hom uitdryf, want wat is sterker as ‘n volwasse leeu? Twee leeus. ‘n Gedugte broederskap wat van buite af by sy trop aangesluit het.

Hy het hulle verdra in ‘n stadium toe hulle honger en onderdanig was. Versigtig eenkant het hulle saam met die wyfies en welpies gewag na ‘n vangs. Aanvanklik altyd laaste hulle porsie by die karkas opgeëis.

Maar toe raak hulle astrant. Verjaag die welpies, lewer kragvertonings voor die wyfies en daag hom uit om te bewys dat sy trop steeds net aan hom lojaal is.

Dis die natuur se manier. Daar is nie meer plek vir al drie van hulle nie. Óf  hy moet gaan … óf hulle. Een of ander tyd gaan die byt, krap en bloedhale wat hy en die twee jonger mannetjies mekaar soms gee, in ‘n geveg tot die dood toe ontaard.

Baklei of hardloop. Hy gaan nog nie nou al sy posisie opgee nie, al daag hulle hom in dubbelsterkte staal uit.

Uiteindelik sluit hy sy oë en wag dat die ongemak van die gietende water en die rustelose gevoel van nuwe bedreigings moet bedaar.

***
Natalie kyk bekommerd na die mense by haar op die Land Rover voordat sy die tweerigingradio se mikrofoon optel om Marius te roep. Dis sy wat die Duitse groep oortuig het om hulle ‘African wildlife exprience’ op die pragtige afgeleë Verdwaal te kom ervaar. Oorsese besoekers kom na Suid-Afrika toe om twee dinge te sien, Tafelberg en die groot vyf.

Daar is één Tafelberg.

Die Groot Vyf wil hulle sien in die ongerepte natuur waar elke skakel van die voedselketting voortbestaan en sy rol in die groter skema speel. Verkieslik sonder onnodige inmenging van die menslike hand. Maar toeriste haal beslis nie geld uit om te sien hoe beskermde wild in ‘n bloedbad afgemaai word nie.

Die vrou huil steeds. Die groep is bleek, geskok, getraumatiseerd. Verbasend stil, al is dit die duiwel self wat vandag in hulle pasontdekte Afrika kom foeter het.

Natalie moet twee keer in die mikrofoon roep, voordat Marius antwoord.

“‘n Baie slegte ding het gebeur. Renosterstropers hier op Verdwaal.” Sy vertel kortliks. Probeer kalm bly, al voel haar eie stem dik in haar keel.

“Ek laat weet die polisie en kom dadelik.” Kort en kragtig. Maar dan skemer sy ontsteltenis deur toe hy byvoeg: “Julle moes nie vir Derek alleen daar gelos het nie. Dis lewensgevaarlik. Oor.”

“Daar was niks wat Isak of ek kon doen om hom tot ander insigte te bring nie. Oor.”

Stilte. Dis duidelik, Marius is nie meer by die radio in die kantoor nie.

Die Land Cruiser wat oomblikke later van voor af aankom uit die rigting van Verdwaal se lodge en safarikamp bevestig dit. Marius ry tot op die skouer van die pad en hou langs hulle stil.

“Natalie, sal jy kan bestuur? Izak moet vir my gaan wys waar die slagting was.”

“Natuurlik.” In die omstandighede het sy nie ‘n keuse nie.

Kalm word, maan sy haarself, toe Isak die ratte in neutraal sit, uitspring en rats oorklim na Marius se voertuig toe. Diep asemhaal. Sy skuif agter die stuurwiel in, intens bewus daarvan dat dit een of ander tyd sag begin reën het.

Natalie wag ‘n oomblik dat die bewing van haar hande bedaar voordat sy stadig wegtrek. Konsentreer op die pad. Dis nie asof sy elke dag met bosvoertuie soos hierdie rondjaag nie. Inteendeel. Dis die heel eerste keer dat sy ‘n Land Rover wildbesigtingsvoertuig bestuur.

Maar al is sy onverwags by die diepkant ingegooi is sy dankbaar dat Izak saam met Marius gaan, want haar groter bekommernis is Derek! Mag hulle hom spoedig en ongedeerd vind. En mag hulle hom vind voordat hy en die stropers slaags raak. Sy ken die man skaars, maar die uitdrukking op sy gesig het wraak gespel. Hy gaan skiet. Sy plan is nie om prisoniers terug te bring nie. Maar net soos wat hy nie genade gaan betoon nie, sal hulle hom ook nie laat wegkom nie.

Geleidelik kom Natalie agter dat die groot voertuig nie soveel moeiliker hanteer as enige ander viertrek  nie en sy ry so ietsie vinniger. Maar wanneer sy uiteindelik voor Verdwaal se pragtige grasdakgeboue stilhou, besef sy dat sy vir lang tye haar asem opgehou het.

Sy druk haar voorkop teen die stuurwiel en wag dat die gaste afklim.

Dan asof die natuur sy wolke net lank genoeg in toom gehou het vir haar om die mense veilig te besorg, skeur ‘n paar woedende blitse deur die swart wolke waarna water soos uit gietende emmers op hulle afstort. Wolke wat breek asof die natuur poog om die gruwels van die dag en die reuk en kleur van bloed weg te was.

“Natalie, ek is so jammer dat jou groep hierdie aakligheid beleef het.” Marius se vrou Frankie kom met sambrele teen die stoep se trappe afgehardloop.

“Dis …” Sy wil terughou tot agter haar toe kamerdeur, maar dan is dit asof  iets in haar breek. Rou snikke skeur uit haar liggaam.

Sy voel Fankie se arms om haar. Netsowel,want sy sou dalk nie op eie stoom teen die trappe kon opstap nie.

Wanneer sy wankelrig in ‘n stoel in die kantoor gaan sit, sê Frankie”Ek gaan vir jou suikerwater en ‘n kalmeerpilletjie haal.”

Natalie probeer nie eens om haar te keer nie. Sy voel soos ‘n wrak. Werktuiglik sluk sy die pilletjie met die soet suikerwater af toe Frankie later terugkom.

“Ek het die pilletjies vir ons gaste ook ingejaag.”

“Dankie. Ek dink hulle is uiters geskok. Dis seker een van die ergste dinge wat enige mens kan beleef. Wreed en gewetenloos. ‘n Moord … Arme Derek.”

“Is my boetie orraait?” Daar is angs in Frankie se stem. Sy wou waarskynlik lankal vra. “Ek hoor by Marius dat skote oor en weer geklap het.”

“Derek is ‘n held. Hy moes uit selfverdediging skiet en het een van die stropers noodlottig getref.” Nou is dit Natalie se beurt om vertroostend aan Frankie se skouer te raak, toe sy die skok en ontsteltenis op die jonger vrou se gesiggie sien.

“Die renosterkwessie is so sensitief. Skiet of beseer ‘n stroper en jy word aangekla van moord. Dit sal nou seker Derek se voorland wees.”

“Nie noodwendig nie. Die spesifieke stropers het vir Shaka doodgeskiet en toe die geweer se loop koelbloedig na die stappers gedraai toe Maja ons posisie verraai.” Natalie probeer om die gebeure so kalm as moontlik te rekonstrueer. Die polisie gaan haar en die stappers waarskynlik peper met vrae. Dan onthou sy: “Daar was kameras. Ons gaste het alles afgeneem.”

“Die vreksel wou ons almal doodmaak. Toe skiet Derek hom, netjies en sekuur. Net hier.” Hulle het nie gesien dat een van die Duitse gaste intussen in die deur by hulle kom staan het nie. Hy praat Afrikaans met ‘n swaar aksent, lig sy hand en druk met sy wysvinger net bokant sy eie neus se brug.

“Dis Gerard,” stel Natalie hulle aan mekaar voor. “Gerard, ontmoet Frankie van der Walt. Derek is haar broer.”

“Bly te kenne.” Hy stap nader om haar hand te skud. “Jou broer is ‘n held. Hy het my vrou se lewe gered. As daar ‘n hofsaak kom, sal ek en sy vir hom getuig.”

“Dankie. Die polisie sal waarskynlik van elkeen van julle ‘n verklaring verlang.” Frankie sug swaar. Dan kyk sy verbaas na Gerard. “Jy praat en verstaan Afrikaans?”

“Ek was vir vier jaar lank besturende direkteur by ‘n bekende motoraanleg in Port Elizabeth. Ek en Maja keer nou terug Duitsland toe.”

“Die stap was ‘n afskeidsgeskenk van sy vriende en kollegas.”

“En om die nuwe bemarkingsbestuurder te verwelkom.” Gerard beduie oor sy skouer gang af, na waar die ander Duitsers se kamer is. “Wat ‘n verwelkoming!”

“Ek hoop nie dit laat so ‘n letsel dat hulle ook dadelik wil terugkeer Duitsland toe nie.”

“Nee wat,  Nelson Mandela Bay en Verdwaal se poachers is duisende kilometers uitmekaar,” besluit hy. Dit moet troos, want hy voeg met groter bravade in sy stem by. “En as julle nie omgee nie, gaan ek nou vir my ‘n stywe dop by die kroeg skink.”

“Doen asseblief. En aandete sal teen seweuur gereed wees. Dis ongelukkig te nat om in die lapa te kuier, maar daar is reeds ‘n lekker vuur in die kaggel op die stoep gemaak. Ons dek daar.” Dankie tog dat Frankie beheer neem. Veral toe sy sê. “En Natalie, jy wil ook seker gaan bad en droog aantrek.”

“Beslis. Ek sal dadelik terugkom en met die gaste kom help.”

“Onnodig, ek en Bartholomew het alles onder beheer. Ek stuur vir jou en Derek elkeen ‘n lekker warm bord kos oor. Gebruik die golfkar voor die stoep.”

Eers in haar eie blyplek, gee Natalie haarself finaal oor aan die gevoel dat ‘n stuk van haar hart en die helfte van haar bosvelddrome vandag in skerwe gebreek het. Sy het haar lewe lank gewens om op ‘n plek soos Verdwaal te werk. Lankal op haar eie en met seun Roual wat klaar studeer het en nou sy eie potjie krap, het die bemarkingspos hier haar perfek gepas.

Die salaris, nou wel klein, voldoen aan haar behoeftes en betaal haar nuwe Jimney. Oor blyplek hoef sy nie bekommerd te wees nie, want sy gebruik een van die mini-woonstelletjie in Verdwaal se groot ou plaashuis. ‘n Huis wat sy met Derek en Bartholomew die sjef deel.

Laasgenoemde is ‘n groot en gemoedelike jong man wat hom uitleef in kosmaak.

Derek? Wel, sy weet nie regtig wat om van hom te dink nie, want sy sien hom byna nooit. Maar wanneer sy hom sien, kan sy nie help om elke keer te wonder hoe dit gebeur het dat so ‘n aantreklike man alleen is nie. Sy weet van ten minste drie van haar alleen vriendinne wat krane van sjarme sal oopdraai om iemand soos hy vir hulleself aan te keer

En sy wat Natalie is?

Nee wat, na te veel verhoudings wat nie uitgewerk het nie, staan sy nou sterk teen die mansgeslag. Maar as sy eerlik met haarself is, moet sy erken dat hierdie man iets aan haar hartklop doen die min kere wanneer hulle in mekaar se geselskap is.

Of as sy hom iewers sien.

Om hom netnou daar in die bos te moes agterlaat was een van die moeilikste eise wat nog aan haar gestel is. As hy vanaand seerkry, of iets moet oorkom, pak sy môre haar tasse en gaan plak … iewers. Enige plek, behalwe hier. Verdwaal sonder Derek sal nie sin maak nie.

Sy het dit nooit tevore besef nie. Nou weet sy dit egter met sekerheid.

“O Derek, wees asseblief veilig,” vra sy mooi, terwyl sy krane oopmaak en badskuim ingooi.
Hoofstuk 3

Derek hurk laag teen die grond en hou die 30-06 gereed om homself  te verdedig. Die twee stropers stap feitlik teenaan hom verby. Aan die raserige manier waarop hulle voortstoom kan Derek aflei dat hulle glo dat almal met die Land Rover weg is. Hy inkluis.

Hulle was dus te laat om die voertuig te sien vertrek en die reën het genadiglik sy wegstap-spore doodgevee.

Kan die bliksems so argeloos gevoelloos wees? wonder Derek terwyl hy stadig orent kom.

Hy staan ‘n oomblik om sy stram gehurkte spiere te rek. Daarna begin hy om hulle so stil as moontlik agterna te sit. Hoe maklik word die rolle nie in die Afrika bos omgeruil nie? Van roofdier, na prooidier en terug na roofdier. Van moordenaar na slagoffer.

En die vreemdste van alles is dat jy nie altyd seker kan wees of jy steeds die jagter is nie, want as jy ‘n bloedspoor nalaat, word jy meedoënloos deur die aasdiere gevolg, tot waar jy nie meer kan nie.

Grimmige gedagtes wat een na die ander by Derek opkom.

By die watergat sak hy weer agter ‘n paar bosse weg, terwyl die stropers oop en bloot verbystap na waar die renosterkarkas lê. Daar verruil die geweerdraer sy wapen vir ‘n byl en ‘n siek ritme klink op terwyl die twee van hulle saamwerk om die groot dier van sy horings te stroop.

Hulle het nie ‘n saak met die dooie makker wat gesig na onder in die modderwater lê nie.

Daar was vyf van hulle, onthou Derek. Waar is die ander twee? Of is daar nog lede in hierdie bende, wat iewers agter ‘n stomp sit en waghou? Derek kan amper nie glo dat hierdie manne so paraat soos guerillavegters is nie. Maar aan die ander kant maak dit seer as hy daaraan dink dat hulle desperaat honger mense is wat graag ‘n paar rand wil verdien.

Nee, beslis nie, maak hy die laaste gedagte dadelik af as twak. Honger mense skiet koedoes en vang rooibokke en vlakvarke in strikke. Hulle skiet nie bosreuse en kap net ‘n stel horings of tande uit nie.

En as hy nie vinnig iets doen nie, stap hulle binnekort met die buit weg. Maar wat en hoe? Natuurlik gaan hy alles in sy vermoë doen om te keer dat hulle met die horings wegkom. Maar hy sal graag ten minste een van die groep wil terughou en lewendig gevange neem, sodat die polisie hom kan ondervra. Miskien kry hulle genoeg inligting uit hom, om die res van ‘n smokkelnetwerk vas te trek.

Derek lig die geweer en mik in die rigting van een van die kappers, maar sy hande gaan onbedaarlik aan die bewe.

Swaartekrag wen en die swaar geweer se punt duik eerste grond toe.

Dis ‘n mens, van vlees en bloed en met ‘n siel, nes jy. Dis een ding om te skiet in selfverdediging. Dis ‘n ander saak as jy moet skiet om dood te maak. Moord …

Maar nee, dis nie mense nie. Dis moordenaars, wat op jou onskuldige stapgroep geskiet het … en weer sal skiet. En jou sou doodmaak, sonder om ‘n oog te knip as hulle op jou afgekom het daar in die veld.

Diep asemhaal en weer probeer. Al het die harde reën opgehou, is die kanse dat hy in die skemerdonker en misreën groter dat hy gaan mis, as om raak te skiet.

Hy tel die geweer op en mik. Wanneer sy vingers dan om die sneller krul, spat die byl uit die kapper se hand en sy bene vou onder hom in. Sy makker wag nie om te kyk wie dit is en waar die bedreiging vandaan kom nie. Nog ‘n keer kraak takke, soos wat hy weghardloop.

Pynkrete en smekinge om nie agtergelaat te word nie, val op dowe ore.

“Bly waar jy is, of ek skiet weer,” skreeu Derek in Engels en die gewonde man bly oënskynlik vreesbevange of halfpad dood plat lê.

Op daardie oomblik hoor Derek die gedreun van ‘n viertrekvoertuig wat deur bosse breek. Dis Marius en Izak wat na hom roep. ‘n Welkome geluid, want tipies Afrika se sonsondergange op reëndae kan hy nog een oomblik sien, en die volgende oomblik is dit stikdonker.

“Ek is hier!” roep hy en struikel-stap na waar die ligte tussen die bome wip.

“Is jy oukei?” Marius se Landcruiser staan nog nie eens behoorlik stil nie, toe hy voor langs die veldwagter inklim.

“Die stropers het waaragtig teruggekom vir die horings. Ek het nog een gewond. Ry om die suiping as jy kan.”

“Bliksems.”  Marius stop langs die renosterkarkas en deins effens terug toe hy die lyk sien lê. “Hoe beskerm ons die liggaam totdat die polisie kom? Die veld is sopnat. Ons kan nie eens vuurmaak om die roofdiere weg te hou nie.”

“Seker ook nie met doringtakke toepak nie. En vanselfsprekend mag ons niks van die toneel af verwyder nie. Ons sal maar net hier moet waghou tot hulle kom.” Derek voel hoe ‘n dodelike afgematheid saam met die nat koue van hom besit neem. Hy kan sy oë nie van ou Shaka se stil karkas afhou nie. Dit voel so onwerklik. Jy hoor van hierdie soort ding in die wildtuin, Noordwes, op ander plase vêr van hier. Dit gebeur nie op Verdwaal nie.

“Waar is die ou wat jy gewond het, Derek?” wil Izak weet.

“Daar. ” Hy stap na die plek waar hy die man sien platval het. Daar is geen liggaam meer nie. Net baie bloed. Ligrooi skuimende bloed. ‘n Longskoot. “My donder, hy het waaragtig opgestaan en weggekom. Dis seker my plig om hom te gaan soek en hospitaal toe te neem vir behandeling, anders is hy vanaand roofdierkos.”

“Hoe ver dink jy sal sy spoor sigbaar wees in hierdie nat weer,” raas Izak. “Wil jy ons wragtig nog ‘n keer oor jou laat worry? Netnou is dit jou bene wat die hiënas in die nag rond scatter.”

‘n Nare gedagte as mens grafies daaraan dink. Derek ril. Die bloedreuk hier op die moddergrond sal beslis een of meer vleisvreters nader lok. Dis nou as hulle nie alreeds buite sig agter die bome wag nie.

Uiteindelik kom die polisiehelikopter aan. ‘n Skerp soeklig skyn oor die bosse en Marius skiet ‘n fakkel in die lug op. Daarna kom die helikopter doelgerig nader. Marius draf na ‘n plek waar die terrein relatief gelyk is en waai met die arms om vir die vlieënier te wys waar hy kan land.

Drie ouens klim kop tussen die skouers ingetrek uit die raserige tuig. Hulle draf  deur die nat gras en spartel om op hulle voete te bly wanneer hulle modderpoele langs die watergat tref.

“Moet hierdie soort gemors altyd gebeur as die weer op sy slegste is,” raas die een ou na ‘n buitengewone repertoire van knope. Hy vee sy een hand aan sy broek af en mik in die algemene rigting van Marius, Derek en Izak. Iemand gaan sy hand raakvat, hoop hy seker. “Inspekteur Dawid Fourie, en dit is my kollega Tito September. Dan Dlamini met die kamera. Maggies, dit was ‘n mooi dier. So verskriklik erg …”.

 

Bestel Liefde en konflik op Verdwaal vir R20.00 vanaf liefdesverhalenmeer@gmail.com Onthou om die boek of boeke se titel by te sit. Jy betaal eers nadat jy jou boeke ontvang het.

Lees dit op Amazon vir $1.00 https://www.amazon.com/Liefde-konflik-Verdwaal-Afrikaans-Reynders-ebook/dp/B00KJIWYOS/ref=sr_1_1?keywords=Liefde+en+Konflik+op+Verdwaal&qid=1551602719&s=digital-text&sr=1-1-spell

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.