Dokter Pyn in die … -Adele Reynders

DrPyn0001

Dokter Pyn in die…  – deur Adele Reynders

Kopiereg Adele Reynders.

E-boek verwerking en verspreiding Renza Publikasies in samewerking met Afrikaanse Liefdesverhale 35+ en ander stories. Meer inligting: liefdesverhalenmeer@gmail.com

Celia se jarige buurvrou sterf in ‘n ongeluk. Die wewenaar lyk so weerloos dat sy instem om hom te help om die laaste huis wat mev Dolores moes verkoop te hanteer. Dit is die huis van die afgryslike dokter Russel Conroy.  ‘n Man wat sy pasiënte ‘n pyn gee en dan moet hulle betaal sodat hy hulle kan beter maak.

 

Dokter Pyn in die … – Adele Reynders

Hoofstuk 1

Celia Delport word wakker en lê vir ‘n oomblik verbaas en kyk na die rigting waarheen die wysers van die horlosie langs haar bed mik. Half nege. Sy sit haastig regop. Is dit regtig al so laat? Sy wou vroeg vanoggend al begin werk het vir die Lentedaguitstalling wat om die draai is, maar die wekker het om een of ander rede nie afgegaan nie.

Celia klim uit die bed, trek ‘n warm baadjie oor haar sweetpak aan en stap kombuis toe om die ketel aan te skakel. Koffie kry haar gewoonlik aan die gang. Sy druk die ketel se skakelaar, haal ‘n beker uit die rak, gooi die bruin korrels en suiker in en wag dat die water kook.

Tevergeefs. Die ketel het iewers in die nag gebreek.

Sy druk die koffiebeker met water en melk in die mikrogolfoond, doen die verstellings en druk die regte knoppie. Geen reaksie. Die mikrogolfoond is ook stukkend.

Die plan om ‘n potjie water op die stoof se plaat te kook werk ook nie. Selfs nadat sy die skakelaar volstoom op nommer agt draai, bly dit koud en sy draai dit moedeloos terug na nul. Alles in die kombuis het iewers in die nag opgehou werk.

In die sitkamer druk sy die afstandbeheer van die televisie. Daar gebeur ook niks nie. Sy kan nie eens kyk hoe ander mense koffie drink op televisie nie.

Dis omdat sy nog nie koffie gedrink het nie, dat sy nie behoorlik wakker is nie. En as sy nie heeltemal wakker is nie, funksioneer haar brein nie soos wat dit moet nie, want terwyl sy haar gesig in die badkamer was, wonder sy vir die eerste keer of die krag dalk in die nag uitgeklink is. Nadere inspeksie wys die probleem is nie by die verdeelbord in haar gang nie, wat beteken dis waarskynlik Eskom se probleem. Gelukkig, want anders het sy dalk met ‘n bakkievrag vol stukkende huistoerusting gesit. Sy kan amper giggel oor haar eie gedagtes terwyl sy die voordeur oopsluit en uitstap om te probeer vasstel of sy die enigste huis sonder elektrisiteit in die Hartbeespoortomgewing is.

Dit neem haar ‘n hele paar sekondes om die toneel voor haar in die straat in te neem en te registreer. Daar is chaos voor haar huis. Drie wit en blou voertuie van die SAP, ‘n rooi nood mediese voertuig, ‘n ambulans, karre wat oor en op die sypaadjie staan.

Het iemand die Eskompaal omgery? Toe nie. Die paal troon nog bokant die bome uit en sy sien nie ‘n gebuigde kar of insleepvoertuig nie.

Buitendien is al die toeskouers se aandag op die voordeur van die huis langsaan gevestig.

Daar moes iets verskriklik met haar bure gebeur het, besef sy geskok en stap nader.

“Goeie môre. Wat gaan aan?” vra sy toe die straatstaners groet en hulle die kring wyer maak, sodat sy kan inskakel.

“Mevrou Wilson het haarself doodgeskop met die ketel,” verduidelik een buurvrou.

“Doodgeskop? Nooit! Hoe gebeur so iets?” Celia sukkel om te glo wat sy hoor. “Skop die krag nie by ‘n verdeelbord of iets af as daar ‘n kortsluiting is nie?”

“Dit doen normaalweg, maar die vloer was nat en sy was kaalvoet,” verduidelik prof Nel, wat regoor Celia bly, met ‘n somber uitdrukking op sy gesig. ‘n Spiertjie pluk in sy onderlip en dis duidelik dat hy hom die gebeure besonder erg aantrek.

“Miskien het sy water op die vloer gestort terwyl sy die ketel volgemaak het. Dit gebeur so maklik,” mymer sy vrou en soek in haar sakke vir ‘n skoon snesie.

“Is dit ‘n pynlike dood?” vra iemand anders.

“As iemand so sterf, weet hulle dikwels nie eens wat hulle tref nie. Dis soos weerlig.” Henk, die man wat op die straat se boonste hoek bly klap met die vingers om te wys hoe vinnig dit verby is as dit gebeur.

“Dis erg.” Celia krimp ineen.   “Dink julle dis ‘n instandhoudingsprobleem?”

“Ek dink veel eerder dis ‘n sabbotasieprobleem. Sodra iets met ‘n stuk elektriese toerusting verkeerd gaan, sal die aardlekeenheid eerste afskop,” lig Henk hulle in. “En daarna sal die stroom die meter trip. Hoekom het dit nie gebeur nie?”

“Ek kon sweer ek het iemand in die straat hoor hardloop net voor die krag af is,” beduie een van die bure wat so twee huise van hier woon.

“Ek het ook iets gehoor, maar ek het eers gedink dit is my man op die stoep. Of iemand wat gaan draf het of haastig werk toe stap.” Professor Nel se vrou draai na hom toe en raak aan sy arm. “Skat, het jy iets gesien?”

“Nee …” Hy lig sy hand asof hy die gedagte van hom af probeer wegkeer, maar toe almal na hom kyk moet hy dieper delf en harder dink. “My koerant was vanoggend sewe minute laat en toe ek die tweede keer terugkom om dit te kom soek, was daar ‘n klapgeluid en toe hoor ek Hannes Wilson skree.”

Die oorledene se man …

“Arme Hannes,” sug Marie. “Ek wonder of hy alleen sal regkom. Dolores was die kragbron en energie agter Hannes Wilson eiendomme. Sy het elke Sondag huise geskou. Ek het haar bordjie en vlaggies nog gister by ‘n huis hierbo teen die bult gesien toe ons met die honde gaan stap het.”

“Die skouhuise ja. Dolores was altyd so besig,” onthou nog iemand.

Dis waar, dink Celia. Altyd besig en alles moes gewoonlik teen die spoed van lig gebeur. As iemand vanoggend vir haar kom sê het dat mevrou Wilson en haar BMW tweede gekom het teen die Eskompaal op die skerp draai vêrder aan, sou sy dit makliker aanvaar het. Maar die ongewone manier waarop haar buurvrou gesterf het, laat haar besef ‘n mens kan nie altyd jou pad vorentoe bestel nie. Sy sien hoe die professor omdraai en wegstap en besluit om sy voorbeeld te volg. Sy wil nie daar wees wanneer arme mevrou Wilson se liggaam in ‘n plastiek kokon op ‘n draagbaar uitgestoot word nie.

Maar op daardie oomblik kom ‘n jong man by die Wilsons se hek uit en lig sy hand om aandag te trek. Toe die mense stil raak praat hy.

“Ek is konstabel Britz. Is hier ‘n Cecilia Delport tussen julle?”

Vir ‘n kort oomblik weier Celia se brein om te registreer dat die naam wat hy pas geuiter het, aan haar behoort. Haar bene word selfs nog lammer as wat dit gevoel het toe sy die eerste keer gehoor het wat met mevrou Wilson gebeur het. Haar tong is loodswaar in haar mond en haar gesig gloei warm, ten spyte van die winterkoue om haar. Henk se agterdog is gegrond. Sabbotasie word vermoed. En sy is moontlik ‘n verdagte.

“Dis nie ek nie,” gebruik sy die enigste woorde wat op daardie skrik oomblik in haar gedagtes kom. “Ek het nog geslaap toe dit gebeur het.”

“Maar jy is mevrou Delport?” vra die konstabel en kyk haar met ‘n streng uitdrukking op sy gesig aan. Toe sy knik, vervolg hy. “Kom asseblief saam met my. Meneer Wilson wil dringend met jou praat. ‘n Dokter behandel hom vir skok. Die oom het ‘n hartkwaal en trauma soos hierdie kan sy eie dood kos.”

“Dit is verseker nie eens goed vir iemand wat blakend gesond is, as so iets met ‘n naasbestaande gebeur nie.” Iemand klik simpatiek met die tong.

“Nou maar goed.” Met ‘n hart wat benoud in haar borskas protesteer, volg Celia die konstabel by die buurhuis in.

“Dis my baas, kaptein Grobler,” stel hy haar aan sy senior voor. Maar Celia hoor skaars wat hy sê, want net een kyk in meneer Wilson se rigting waar hy op die sitkamerbank lê en sy voel intens jammer vir hom.

“Meneer Wilson. Ek is so jammer oor wat met julle gebeur het.” Sy bedoel dit opreg, al was hulle buurskap nie altyd op die beste van voete nie. “As daar enigiets is wat ek kan doen …”

“Daar is, asseblief. Ek weet nie wat om met Dolores se hondjie Dollie te doen terwyl ek in die hospitaal is nie,” antwoord haar buurman emosioneel en beduie na die harige steekbaard gedoentetjie wat Celia dikwels in Dolores se arms gesien het. “Jy weet dit dalk nie, maar ons oorle Yorkie was Dollie se ma en jou swart en wit hond die pa.”

“Dollie is Toppel se dogter?” vra Celia verbaas, maar haar hart vermurwe toe sy die verwarring in die bruin hondeogies raaksien. Die diertjie is getraumatiseer deur die tragiese gebeure in haar huis. “Natuurlik. Dollie kan met graagte by my kom kuier.”

Sy tel die hondjie in haar arms op en wil uitstap.

“Die ander probleem wat ek het, is die besigheid.” Meneer Wilson wys moedeloos na ‘n klomp bruin vouers en selfoon op die eetkamertafel. “Al wat jy moet doen is om die selfoon te beantwoord en om ons afsprake na te kom of uit te stel.”

“Nee jammer. Die hondjie is geen probleem nie, maar ek is nie ‘n eiendomsagent nie. Ek kan nie daarmee help nie. Het julle nie ander mense wat vir julle werk nie?” Dis net hier waar sy haar voet neersit. Van huise verkoop en klante rondneem weet sy niks en sy stel glad nie belang om enigiets daaroor uit te vind nie.

“Nee, net ons twee, ek en Dolores,” en toe korrigeer meneer Wilson homself. “Net ek alleen na dese. Dolores en ons seun het jare terug stry gekry oor hoe om die besigheid te bestuur en toe is hy hier weg.”

“Dit sal net vir ‘n paar dae wees, totdat meneer Wilson se hartklop en bloeddruk weer stabiel is,” paai die dokter. “Antwoord die telefoon, hou voornemende kopers op die ys en verduidelik aan hulle dat hier ‘’n tragedie was. Maar volgende week is dit besigheid soos altyd. Glo ek.”

“Oukei, ek sal kyk wat ek kan doen.” Celia tel die selfoon met lang vingers van die tafel af op in die hoop dat dit nooit sal lui nie. Maar asof dit ’n teken is vir ‘n vreemde wese met ‘n bisarre sin vir humor, brand Frans Liszt se klavierkonsert op daardie oomblik in Celia se regterhand los en amper slinger sy die klein swart stukkie tegnologie met ‘n boog van haar af weg.

“Wat nou?” Celia staan in haar spore versteen.

“Antwoord die foon,” roep die konstabel uit.

Sy druk die groen telefoonteken en bring die foon stadig na haar oor toe. “Celia Delport van e… e … ” en daar slaan sy bottoe.

“Celia Delport van Wilson eiendomme? Anders het ek verkeerd geskakel. Maar hierdie is die nommer waarop ek julle nog altyd bereik het,” klink ‘n man se ietwat ongeduldige stem in haar ore.

“Dit is Wilson eiendomme se selfoon.” Celia probeer wegkom van almal wat haar aangaap. Maar die sitkamer se vier mure keer haar en sy sien nie kans om gang af te stap nie.

“Dis Russell Conroy wat praat. Hoekom bel julle nie terug nie?” Òf die man is vreeslik haastig, òf hy is te horibaal omgekrap om sy stem anders as bot en ongeskik te laat klink. “Was daar toe enige belangstelling tydens die skou van my huis gister?”

“Ek weet nie. Maar as jy jou naam en nommer los sal ek probeer uitvind,” fluister sy. “Anders sal ek meneer Wilson vra om jou oor ‘n paar dae terug te skakel.”

“Ek wil nie oor ‘n paar dae van hom hoor nie, ek moet nou weet,” antwoord hy. “Ek het self kopers wat belangstel, maar mevrou Wilson het daarop aangedring om eers te skou, aangesien julle ‘n alleenmandaat het.”

“Hou aan, ek hoor gou.” Sy druk die foon toe. “Meneer Wilson, dis die man wie se huis gister geskou is. Hy wil weet of daar enige mense was wat wou koop?”

“Ek glo nie. Dolores het niks genoem nie.”

“Dit klink nie so nie,” antwoord sy die man.

“Met wie het jy nou gepraat? Gee asseblief die foon vir  mevrou Wilson.” dring die omgekrapte man aan.

“Sy kan ongelukkig nie die oproep neem nie.” Celia fluister weer. “Dinge is op die oomblik ‘n bietjie … deurmekaar hier. Ek kan nie nou verduidelik nie.”

“Moenie eens probeer verduidelik nie. Sit die foon in haar hand.”

“Nee!”

“Dit is regtig onprofessioneel.” Hy sug diep en swaar voordat hy vra. “Wat sou jy gedoen het as jy in my skoene was en haastig was om te verkoop?”

“Ek is nie ‘n kenner nie, maar ek dink nie die alleenmandaatding is iets wat ek sou doen as ek haastig was om te verkoop nie. Bring gerus jou eie kopers.”

“Dankie, dis nou ‘n mooi tyd om vir my daardie eerlike raad te gee. En die kommissie?”

“Ek ken nie die reg nie, maar as jy dit klaar weggeteken het, sal jy maar moet betaal.”

“Dan sien ons mekaar in die hof.” Dit was duidelik nie die antwoord wat ene Russell Conroy wil hoor nie.

“U reken?” Sy draai om en sien dat almal na haar kyk. Veral meneer Wilson lyk bekommerd en sy verwens die feit dat die man aan die anderkant van die selfoon. juis nou moes skakel. Hierdie oproep moet nou stop. “Baie dankie meneer, ek bel u later terug. Totsiens.”

“Vervlaks!” hoor sy net voor sy die foon in sy oor dooddruk. Sy sal hom terugskakel wanneer sy by haar huis is en dan verduidelik wat aan die gang is. Hy behoort te verstaan.

Daar is ‘n doodse stilte in die sitkamer.

“Toemaar, alles is reg,” verklaar sy en stap met die hond in haar arms deur toe. “Sterkte meneer Wilson. Sien later.”

Maar sy is nog nie eens by die eerste trappie van die stoep nie, toe lui die selfoon weer.

“Wilson eiendomme.” Hierdie keer is sy reg vir die klant.

“Jy het die foon in my oor afgesit!” raas die man.

“Ja ekskuus. Ek wou jou terugskakel en verduidelik wat aan die gang is.” Dis nou haar kans om hom van die ongeluk te vertel, maar die man gee haar nie kans nie.

“Ek het ‘n vraag: Doen julle eiendomsagente nie ‘n kursus voordat julle in die mark losgelaat word nie?”

“Net die wat genoeg belangstel om ‘n loopbaan daarvan te maak.”

“En jy is nie een van daardie wat genoeg belangstel nie?” Hy beantwoord self sy vraag met ‘’n harde ‘nee’. En aangesien hy nie verkeerd is oor haar gebrek aan opleiding en haar flou entoesiasme om sy huis te verkoop nie, laat sy hom toe om stoom af te blaas. Dit is ook sy reg om haar by die Raad vir Eiendomsagente te gaan aankla, soos wat hy dreig, want hulle weet nie eens van haar nie!

Daarna raak die foon stil en sy glo hy het afgelui.

“Simpel vent,” kreun sy.

“Ek het jou gehoor,” sis hy. Daarna is hy regtig weg en toe Celia deur die geheue kyk, staan daar private number.

Sy sug moedeloos. Sy kan regtig nie onthou of die man sy naam gesê het nie en as hy het, is dit by haar een oor in en by die ander een uit.

“As ons hier klaar is bring ek vir jou die kar en huissleutel en die lêers.” Die wysneus konstabel staan agter haar en lyk vreeslik geamuseerd met die hele situasie.

“Hoekom wil jy vir my die kar en die huis se sleutels bring?” vra Celia omgekrap. “En wat is miskien so snaaks?”

“Niks.” Maar sy grinnik gaan nie weg nie. “Oom Hannes dink nie dat jou ou bakkie geskik is om sy voornemende kopers in rond te ry nie.”

“Ek gaan niks met voornemende kopers doen nie.”

“Almal het gehoor hoe jy belowe het om te help.”

 

Hoofstuk 2

Celia is glad nie lus om weer met die mense in die straat te praat nie. Sy wil by die huis kom en vergeet wat pas gebeur het. Veral wil sy nooit weer dink aan die man wat so kwaad vir haar en Wilson eiendomme is dat hy waarskynlik op die oomblik sit en hyg met ‘n papiersakkie voor sy lugweë nie.

Terug by haar eie huis, sluit sy die voordeur agter haar toe en stap reguit kombuis toe waar sy die hond op die grond neersit en die ketel met lang vingers aanskakel. Ketels is bliksems wat mense kan pos. Die sagte gesuis vertel haar dat vanoggend se probleem met die elektrisiteit intussen opgelos is.

En sy is nog op haar voete.

“Welkom in die Delporthuis, Dolliehond,” gesels sy toe sy sien dat die diertjie penorent gaan sit en elke beweging wat sy maak dophou.

Net toe sy met haar eie koppie koffie op een van die kombuisstoele gaan sit, word die stilte weer wreed versteur toe Liszt se klavierkonsert in haar baadjiesak begin speel en Dollie opruk en kakofonies begin saamhuil. Celia haal diep asem voordat sy dit uit haar sak haal. Dis weer ‘n privaat nommer, sien sy voordat sy dit na haar oor toe bring. Die vyand is nog nie klaar met haar nie.

“Wilson eiendomme.” Haar mond is droog en sy begin skoon bewe van spanning.

“Mevrou Delport, dit is weer Russell Conroy.” Russell Conroy! Celia skryf sy naam vinnig op haar kombuis notablok neer en wag dat hy verder praat, al wil sy stem nog nie vriendeliker raak nie. “Ek sal dit vir jou maklik maak. Ek het inderdaad self mense wat die huis wil koop. Ek sal stééds die kommissie te betaal. Al wat ek van jou vra is om seker te maak dat die plek skoon en netjies is en goed vertoon wanneer hulle oor ‘n paar dae gaan kyk. Ek kan my net nie self op die oomblik hier loswikkel nie.”

“Natuurlik.” Dis ‘n redelike versoek. “Waar is die huis?”

“Hoe kan jy my vra waar is die huis? Julle het dit dan gister geskou. Vervlaks. Die hele ding voel soos ‘n slegte nagmerrie.”

“Meneer Conroy, ek is regtig jammer om te hoor dat jou sake dringend afgehandel moet word, maar hier was ‘n ongeluk. Het jy ‘n oomblik tyd, dan kan ek vir jou verduidelik wat gebeur het?”

“Nee mevrou Delport, op Maandae het ek nie eens tyd om ‘n koppie koffie te drink nie,” smoor hy haar poging om vrede te maak in die kiem. “Dis hoekom dit so frustrerend is dat ek na twintig oproepe nog nie hond haaraf kon maak nie. Verskoon my, ek moet dringend gaan.”

En terwyl Celia na die stil foon met sy private number in haar hand staar, lui haar voordeurklokkie en sy wip soos sy skrik. Haar senuwees is reeds rou geskaaf toe sy die voordeur vir die konstabel oopmaak.

“Good luck en don’t break a leg. Ek hoor by die kaptein dis ‘n wilde BMW. Hulle wou hom al vastrek vir spoed en roekelose bestuur.” Hy druk ‘n boks vol sleutels, ‘n pak hondeblokkies, vouers en ‘n dagboek in haar hand en terwyl sy wonder of sy boonop moet dankie sê daarvoor, laat spaander hy in die rigting van ‘n blou en wit gemerkte kar daar naby.

Dis lekker om jonk en sorgvry te wees, besluit Celia en maak die voordeur onnodig hard toe. Sy sluk haar koffie haastig af en stap badkamer toe om te gaan bad.

Later kyk sy die Wilsons se bosse sleutels deur. Daar is gekleurde gelamineerde kaartjies aan almal en Celia kom op ‘n ringetjie af met twee sleutels waarop geskryf staan Dr Russell Conroy. Nogal ‘n man met ‘n titel. Net jammer sy titel is nie ‘n waarborg dat sy humeur in toom bly nie. Aan die anderkant, as sy nou in doktor of dokter Russell Conroy se skoene was, sou sy ook nie tevrede met Wilson Properties se prestasie gevoel het nie. Sy neem haarself dus voor dat al doen sy nooit weer iets reg in haar onbeplande en onwelkome nuwe loopbaan nie, sal sy sorg dat die Conroy huis van eienaars verwissel.

“Dollie, jy moet soet bly, want ek moet ry.” Sy buk af en vryf oor die hond se koppie. “Met my bakkie, Let wel!”

 

Celia sien dadelik dat die Conroyhuis een van die oulikste plekke in Hartbeespoortdam is, met ‘n uitsig oor die hele dam, verby Broederstroom, Skeerpoort, Muldersdrif en dalk ook tot in Johannesburg as jy in ‘n goeie teleskoop belê. Iets wat Russell Conroy self gedoen het, sien sy toe sy die deur oopsluit en by die sitkamer instap en die teleskoop dadelik raaksien. Die plek is mooi gemaak. Twee reuse swart leerbanke domineer die prentjie in die sitkamer. ‘n Leer en chroomstoel by die teleskoop. Leer, glas en chroom eetkamerstel. ‘n Pragtige swart klavier as fokuspunt teen een van die mure. ‘n Joernalis in ‘n binnenshuise tydskrif sal hierdie klassieke benadering beskryf met woorde soos ‘tydlose elegansie’, maar Celia plaas dit in die kategorie van duur. Peperduur en smaakvol.

Totdat sy by die kombuis instap.

Sy steek vas want haar asem word onmiddelik weggeslaan, maar beslis nie omdat dit ook smaakvol ingerig en by die res van die huis se styl pas nie. Juis omdat dit so heeltemal verskillend is van die res van die huis. Iemand het totaal oorboord gegaan met skakerings van pienk en dit lyk … vreemd en uit verband.

Haar mond val oop toe sy sien dit eggo in die twee badkamers ook. Prente van blomme in skakerings van pienk pryk teen die mure en pienk potte met syplante in die vensterbank. Pienk handdoeke, waslappe, badsout en sepies. Iemand het baie moeite gedoen om hier ‘n rooskleurige uitkyk op die lewe te skep. Genadiglik is die baddens, wasbakke en toilette wit.

‘n Vrou. Of die man se oordrewe vroulike kant.

Celia se gesonde verstand vertel haar dat dit die rede is hoekom Russell Conroy se huis op die koppie nog nie verkoop is nie. Nie almal hou so baie van pienk nie.

Hier sal sy moet ingryp. Aangesien die restourasie van ou weggooi goeters haar werk is en aangesien Russell Conroy nie van plan is om sy voete weer hier te sit nie, kan die regruk van die huis ‘n interessante uitdaging wees. Sy het immers haar eie huisie ook mooigemaak.

Tyd is beperk. Sy spring in haar bakkie en ry na waar Andries gewoonlik op die een straathoek wag met leer, roller en handgeverfde bordjie waarop hy sy ‘pynter’ beroep adverteer.

Hy is gewillig en dankbaar om op Maandag ‘n job te kry.

Nadat sy vir hom oopgesluit het, vaar sy die dorp in vir die nodige aankope.

Vir die mure kies sy ‘n eenvoudige beenwit skakering. En aangesien gordyne nie regtig pas in ‘n moderne huis soos dié nie, koop sy donkerbruin bamboesblindings vir die kombuis en badkamers.

Terug by die Conroy huis skuur Andries al dat jy net pienk poeier sien spat.

“Kan jou vrou môre kom help stofsuig en skoonmaak?” vra sy vir hom toe hy vyfuur oppak om huis toe te gaan.

“Sy sal mos altyd.”

 

Later by haar eie huis wonder Celia vir die eerste keer wat Russell Conroy se reaksie sal wees as hy moet sien dat sy sy unieke smaak in twyfel trek. Maar dit is te laat om haar daaroor te bekommer. Die badkamer van die hoofslaapkamer het reeds ‘’n eerste laag verf.

Celia pak vir haar ‘n bordjie peuselgoedjies van roomkaas, kersietamaties en oorskiet pizza van Saterdagaand. Daarna skink sy vir haarself ‘n glas wyn en gaan sit met Dollie op haar agterste stoep om die son oor die dam te sien sak.

“Ons moet vir jou ‘n lekker bedjie maak.” Celia sit ‘n snoepworsie voor Dollie neer.

Sy kon nog nie haar oorlede hond Toppel se mandjie, kussing en komberse weggooi, nadat hy verlede jaar een kar te veel gejaag het nie. ‘n Fratsongeluk waarin sy regter oor in ‘n wieldop vasgehaak het. Celia en Beatri, haar dogter was albei stukkend.

Toppel se lyfie rus nou onder die rooi roosboom in die voortuin langs die hek, maar sy siel is veilig in hondehemel, troos hulle mekaar gereeld.

Teen slaaptyd sit Celia die hond se slaapgoedjies in ‘n hoekie in die kombuis en tik op die kussing in die mandjie. Dollie wip in en krul teen die kant op, sonder om haar ogies van Celia af te haal.

“Dis ‘n gróót honne.” Maar sy lieg. Die diertjie verdwaal in Toppel se mandjie.

Saam met die klik van die ligskakelaar gaan Dollie hartroerend aan die huil. Geen menshart kan so iets hanteer nie. Celia gaan haal die geel lapleeu wat sy by een of ander kermis met ‘n loterykaartjie gewen het en sit dit by die hond in die mandjie.

“Hier is vir jou ‘n nuwe maatjie. Soet bly.” Die leeu is groter as Dollie, maar sy aanvaar heeltemal dat die speelding vir haar bedoel is. Sy wil egter glad nie in die kombuis agterbly nie. Leeupoot in die bek stap sy met wye beentjies wat sukkel om die res mis te trap reguit na Celia se kamer toe.

“Nee nee nee,” keer Celia moedeloos. Maar sy weet dat sy hierdie rondte verloor het en gaan haal maar ewe gelate die mandjie in die kombuis en sit dit in die hoek van haar slaapkamer neer. “Nie eens Toppel is in hierdie domein toegelaat nie. Jy roep my as jy ‘n draai  wil loop. En onthou, dis tydelik. Jy is onder pleegsorg en hierdie is eintlik mý leeupop.”

 

Hoofstuk 3

Dollie is regtig nie lastig nie en dis eers weer die volgende oggend dat sy op die bed spring en Celia met ‘n neus in die gesig vertel dat haar behoeftes nou groter as haar knyp is en dat deure dringend vir haar moet oopgaan.

Terwyl Celia die ketel later aanskakel kan sy nie help om daaraan te dink hoe Dolores gisteroggend min of meer hierdie tyd die ketel in die huis langsaan aangeskakel het nie. En dat dit die laaste keer was wat Dolores enigiets gedoen het nie.

Sy drink haar koffie sommer so staan staan op die stoep, terwyl Dollie hadedas van die witgerypte grasperk af wegjaag en daarna koddig woedend vir die agterste buurkat op die muur blaf.

“Los die kat uit, hy vang muise in my stoor. Kom Kieta.” Sy steek haar hand uit, maar die kat retireer haastig en loer agterdogtig na die indringer in die erf waar hy tot nou toe baas gespeel het. Daarna kyk hy Celia met verwyt op sy gesig en houding aan. Hoe kan sy hierdie klein barbaar op húlle twee se plek toelaat?

“Jammer, maar julle twee sal maar ‘n tande en kloue stilstand moet hou totdat ek vanmiddag terugkom. Van vandag af deel julle my agterplaas.”

Celia bad, trek ‘n ouerige paar jeans, ‘n warm hemp en sweetpaktop aan en bo-oor alles haar verfbesmeerde oorjas.

Net voor sy by die deur uitstap lui Doloris Wilson se selfoon waar sy dit op ‘n laaier in haar studeerhoekie gelos het. Sy is te laat om te antwoord, maar kan sien dat daar ‘n magdom boodskappe op is.

Sy luister van ‘n kant af. Besigheid en sy maak notas vir wanneer Hannes Wilson weer op sy pos is. Dan praat Russell Conroy. Gelukkig klink dit nie meer asof hy haar wil verwurg nie. Hy verduidelik kort en saaklik dat sy voornemende kopers vir haar om twaalfuur Donderdag by Jasmyn sal wag en Celia skryf die naam en nommer van die man neer.

Die volgende boodskap laat haar yskoud van skok.

“Ma, dis John. Jammer dat ek nou eers van my laat hoor, maar ek wil vrede maak. Bel my asseblief terug.” Celia besef dat Dolores se stemboodskap onveranderd op die foon gelaat is en dat niemand hulle seun nog laat weet het van sy ma se fratsongeluk nie.

Sy begin soek na mense met titels op Dolores se foon. Titels soos dominee, eerwaarde of pastoor. Mense wat opgelei is om minder goeie boodskappe aan naasbestaandes oor te dra.

Daar is ‘n reverend, sien sy verlig en skakel. Dit voel asof ‘n berg van haar skouers afrol toe sy agtekom dat dit die Wilsons se ‘reverend’ is wat reeds van Doloris se ongeluk weet. Noudat hy ‘n kontaknommer het, beloof hy om John Wilson te bel.

Gewapen met al wat ‘n skoonmaakmiddel is, ry Celia daarna na die Conroy-huis waar Andries en sy vrou Kuki reeds vir haar wag.

“Wat maak ek met die tiens op die kas?” vra hy vanuit die kombuis en Celia stap nader.

“Wat is tiens?” Celia klim op die leer om Andries se probleem op ooghoogte te staan en bekyk. ‘n Reuse versameling blikke. “O tiens!”

“Ja, baie tiens!” eggo Andries.

“Vat asseblief aan en pak by die wasbak, ek sal dit eers was en dan kan ons dit in die spens wegsteek, sodat die kombuis minder deurmekaar lyk.”

Celia verstom haar aan die versameling blikke. Hollandse shortbread en wafelblikke. ‘n Klein eiffeltoring met ‘n deksel op waarin daar eens Franse sjokolade verpak was. ‘n Coca Cola spaarbussie. Ouma se beskuitblik. Rondom die wêreld met tagtig blikke.

En toe skrik sy so groot dat sy amper van die leer aftuimel, want so meegevoer was sy dat sy hom glad nie sien inkom het nie. Sy het geen idee hoe lank die wildvreemde man hulle vanuit die sitkamer gestaan en dophou het nie. ‘n Lang, donker en besonder aantreklike man.

“O gits, het ons die voordeur oop vergeet?” kry sy haar asem uiteindelik terug. Sy vat die Amaroela likeur blik stywer vas en probeer konsentreer om dit in Andries se wagtende hande te sit, sodat dit nie kortpad grond toe gaan nie.

“Ek het ‘n sleutel om in te kom.” Die man stap tot by haar en bekyk haar met ‘n ligte frons tussen sy wenkbroue op en af.

“O aarde, ek het nie genoeg vertroue by Russell Conroy ingeboesem nie. Hy stel toe nog ‘n eiendomsagent aan om te kom help om sy huis te verkoop.”

Die lid van die opposisie verwerdig hom nie eens omte antwoord nie. Hy bekyk alles, som die stitusaie op, analiseer, waardeer en nadat hy ‘n draai deur die res van die huis geloop het, kom hy terug en kyk lank na die blikke wat nou in die wasbak staan. “Ek is verbaas om te sien dat Wilson eiedomme soveel moeite doen om ‘n plek te verkoop.”

“Dis my eerste huis en ek gaan my bes probeer. Veral aangesien ek en Conroy gister op die verkeerde voet afgeskop het.” Sy huiwer ‘n oomblik. “Mag ek jou ‘n guns vra? Moet asseblief nie aan hom gaan rapporteer dat ek sy kombuis en badkamers oorverf nie.”

“Never.” Daar is ‘n skaterlag in sy oë, maar hy hou sy gesig verbasend reguit. Celia verkyk haar aan die man. Dis ‘n sonde dat een mens so aantreklik kan wees. Sy volgende vraag bring haar egter hard terug aarde toe. “Wie is veronderstel om vir al hierdie huisverbeterings te betaal?”

“Ek het gehoop dit kan van my kommissie afgetrek word. As jy my nie voorspring met die verkoop nie.” Sy plaas klem op die begrip ‘my kommissie.’ “Hoekom vra jy? Het jy ook ernstige kopers?”

“Ek het toevallig ja.”

“Dan sal ek dit maar moet afskryf. Nie dat ek dit kan bekostig nie.” Celia klim van die leer af, maar toe sy onder kom, besluit sy om weer die onderste twee sporte te bestyg. Die man troon kop en skouers bo haar uit. Maar amper trap sy mis en hy spring vorentoe en gryp haar vas. Sorg dat haar voete daarna veilig op moederaarde staan.

“Versigtig. Vroumense op lere maak my vreesbevange.” Wanneer hy haar los, besef sy dat sy opgehou het om asem te haal.

“Dankie.” Sy staan terug, bewus van die warmte wat sy hande op haar lyf gelos het. Sy druk haar hare uit haar gesig en probeer om so kalm as moontlik te vra. “Wat is jou plan van aksie?”

“Ek dink ons twee moet maar onderling reëllings tref en kyk wie verkoop die huis eerste, daarna kan ons dit met Dolores uitklaar.” Hy vou sy arms oor sy bors.

“Hannes Wilson is die baas van Wilson Eiendomme. Hy is die een met wie jy moet praat. Doloris is mos nie meer … met ons nie.”

“Nie meer by Wilson eiendomme nie. Het sy haarself gefire?” Hy lag. “Ek dog dis eintlik haar besigheid en dat sy eerder die omie sou fire.”

“Nee, sy is oorlede.”

“Dood? Nee! Ek het Sondag nog met haar gepraat. Wat het tussen Sondag en vandag gebeur?” Soos ‘n taai klap haal haar woorde die lag van sy gesig af.

“Ek dog almal in Hartbeespoortdam weet reeds.” Celia twyfel nie daaraan dat die skok en verbasing op die gesig eg is nie. “Elektrisiteit. Die polisie vermoed dat daar iets met die ketel en ‘n nat vloer gebeur het. Het jy nog nie die nuus gehoor nie?”

“Nee, nie ‘n woord nie. Jammer daaroor.”

“Miskien het die koerante nog nie oor die storie berig nie. Die Wilsons se seun het teen vanoggend nog nie geweet wat gebeur het nie.”

Hy skud sy kop. “Elektrisiteit? Genugtig.”

“Die skok was so erg dat ons hele straat se krag in die proses uitgeskop was.”

“Die hele straat?” Hy skud sy kop. “Nee, dis nie moontlik nie. Iets het êrens ge-backfire.”

“Sê die ander wyse manne van die straat ook.” Celia draai om en begin warm water in die wasbak tap. Sy kan skaars asemhaal toe hy met sy netjiese lyf baie naby aan haar teen die kombuiskas kom leuen. Hy lyk nie soos iemand wat aanstaltes gaan maak om nog huise te gaan soek om te koop of verkoop nie. En sy gee regtig nie om nie. ‘n Aantreklike man soos hy mag maar ‘n bietjie daar rondhang.

“Is dit nie bietjie van ‘n waagstuk om soveel ondernemingsgees aan die dag te lê voordat jy eers met die eienaar van eiendom self gepraat het nie?”

“Nee, klink my hy het op die oomblik meer op die brein as sewe skakerings van pienk. Hy emigreer iewers heen.”

“Sewe skakerings van pienk?” Die man se wenbroue trek koddig saam.

“Jy moes die plek gesien het voor ons hier ingevaar het. Ek weet nie wie se idee die kleure was nie, maar dit het regtig nie by die huis gepas nie. Weet jy of die ou dalk gay is?”

“Nee damn. Beslis nie.” Hy trek sy skouers reguit. Dis duidelik ‘n saak waaroor hy baie seker is. “Ek dink ek moet vir ons koffie maak.”

Tot Celia se verbasing mik die man om die ketel op die rak aan te skakel.

“Nee aarde, waar val jy uit? Ons mag nie Russell Conroy se koffie drink nie,” raas Celia. “Dis taboe om klante se goed te gebruik.”

“Orraait!” Hy hou sy hande in die lug. “Mag ons dan op ‘n ander plek gaan koffie drink, sodat ons die besigheidstransaksie kan bespreek. Jy wil seker nie die geld wat jy hier spandeer verloor nie.”

“Nee, ek wil nie.” Sy droog haar hande af en maak seker dat Kuki en Andries alles het wat hulle nodig het om mee aan te gaan. “Maar ek wil nog iets vra. Wat ookal ek en jy tussen mekaar besluit, moet asseblief net nie na daardie aaklige Russell Conroy toe hardloop en aan hom uitblaker dat ek boonop nie by die eiendomsraad geregistreer is nie. Ek wil graag my buurman deur hierdie krisis help.”

“Aaklige Russell Conroy?” Sy wenkbroue trek weer vreemd saam.

“Die ongeskikste mens met wie ek nog oor ‘n selfoon gepraat het.” Sy steek haar hand na hom toe uit. “Terloops ek is Celia Delport. Wie is jy?”

“Billy Jo .. hannsen.” Hy huiwer ‘n oomblik, maar vat daarna haar hand redelik stewig vas, skud dit en los dit weer dadelik. “Ons ry sommer met my kar.”

 

Hoofstuk 4

As dit die kar is waarmee Billy normaalweg ry, kan Celia nogal verstaan hoekom hy adamant is dat hulle met sy kar moet ry. Dis die heel nuutste model en grootste Audi wat op die oomblik op die mark is, waarvan die bekleedsel nog na leer ruik. Dis in skreiende kontras met haar halfgaar bakkie met sy stukkende sitplek.

“Heerlikheid hoeveel huise verkoop jy elke maand om met ‘n kar soos hierdie te kan ry?” vra sy.

“Ag mens werk maar … harderig.” Hy trek sy skouers beskeie op. Dit lyk nie asof hy wil te koop loop met sy vermoeëns om huise te bemark nie.

“Ek kan net raai.”

“Waar gaan ons koffie drink?” vra Billy toe hulle die onderpunt van die straat bereik.

“Sommer by die Wimpy. Dis naby die Conroy-huis vir wanneer jy my weer moet gaan aflaai. Hulle maak baie lekker koffie.”

“En ontbyt. Ons gaan seker ietsie eet ook.” Hy draai by die parkering agter die gebou in en stop onder ‘n boom. Hy klim uit en Celia wonder of sy soos ‘n dame moet wag dat hy omstap en die deur vir haar oopmaak, maar besluit daarteen. Sy klim uit en maak die deur so beskaafd as moontlik agter haar toe. Haar bakkie se deure moet sy meesal met brute geweld toeslaan.

Hulle gaan sit onder die groot bome buite en bestel elkeen ‘n glas lemoensap en ontbyt.

“Aangesien jy nie ‘n eiendomsagent is nie,” gesels Billy. “Wat doen jy as jy nie Russell Conroy se huis oorverf om te verkoop nie?”

“Ek jazz weggooigoeters in my agterplaas op en verkoop dit in my vriendin se winkel.”

“Watter soort weggooigoed?”

“Ou lampskerms, stukkende tafels, tasse, potte.”

“Wat jy waar kry?”

“Ek besoek stortingsterreine, tweedehandse winkels en mense bel my as hulle leegmaak. Ek ry die goed met my bakkie weg.”

“Intussen verkoop jy huise?”

“Een huis! Operasie Conroy huisverkoop. Sorry, ek moet seker sê ‘dokter’ of ‘doktor’ Russell Conroy. Die man dink mos hy is verhewe bo ons aardlinge.” Sy sit terug toe die kelner die borde tussen hulle neersit en strooi sout en peper oor haar eiers. “Dis hoekom ek meneer Wilson gaan help om die krulstertjie van sy nek af te kry.”

“Krulstertjie?” Billy wag geduldig dat sy met die sout en peper klaarmaak.

“Waarvoor staan die dr?” vra sy. “Ek twyfel of hy ‘n mediese dokter is. Hy is te temperamenteel en met die smart klavier in sy sitkamer, vermoed ek hy het sy doktorsgraad in musiek. Waarskynlik jare se navoring gedoen oor iets soos die laaste drie note van Frans Liszt se Hongaarse Rhapsody soos vertolk deur Hu Li Hang en verwerk deur Elton John vir Piero Wintergate se begrafnis. ‘n Tesis van vierhonderd een en veertig bladsye.”

“Wie is Hu Li Hang?” Die soutpot stop in die middel van ‘n geskud en Billy kyk verward op. “En wat het Piero Wintergate gedoen om so ‘n gevierde begrafnis te verdien?”

“Fiktiewe karakters,” antwoord sy ernstig.

Billy se mond val oop, maar voor hy kan asem skep om kommentaar daarop te lewer, lui sy selfoon. Hy bring die foon na sy oor toe, nadat hy vlugtig na die skerm gekyk het.

“Kaitlin, als reg daar?” Billy luister na wat die persoon sê voordat hy tevrede knik en instemmend antwoord. Dit moet ‘n dogter van hom wees, lei Celia uit die trant van die gesprek af. “Stuur vir my ‘n sms sodra julle anderkant aankom, dat ek kan ontspan.”

Hy sug effens en sluit die gesprek af met: “Sien julle meisies Vrydagaand, maar as julle intussen na nog plekke toe moet ry, sms of bel my weer.”

“Dogters?” vra sy. “Skuus, ek kon nie help om te hoor nie.”

“Drie van hulle. ‘n Handvol.” Maar dit lyk nie juis asof die spulletjie besig is om hom grys hare te besorg nie. Inteendeel, sy aantreklike gesig versag in deernis. “En het jy kinders? Jy is nie dalk getroud nie?” Hy beduie na haar ringvinger en sy voel besonder gevlei dat dit vir hom belangrik genoeg is om te vra. “Troupant afgehaal om dit teen die aanslae van die verf te beskerm?”

“Nee, enkel. Sewe jaar gelede al geskei. En jy?”

“Ook enkel. Eers geskei en toe gaan sy dood en nou sit ek met baie kinders.” As dit ‘n tragedie is, lyk dit beslis ook nie soos iets waaroor Billy homself in ‘n bottel substansie wil verdrink nie. “Sandy, ons jongste was ses toe ons geskei is en my gewese vrou is vyf jaar later oorlede. Daarna was ek vir presies ses weke getroud voordat die skuitjie rotse toe is. Na nog ‘n paar rampspoedige verhoudings is ek deesdae skugter om weer te trou.”

“Skugter of nugter?” vra sy.

“Flippen bang,” erken hy ruiterlik. Hy soek in sy sak en haal ‘n beursie te voorskyn. “Wil jy my dogters sien? Ek het foto’s by my.”

Hy maak die beursie oop en daar in ‘n plastiekvenstertjie sit hy tussen drie jong meisies.

“Mooi meisies,” komplimenteer sy hom.

“Dis Kaitlin my oudste, sy is nou vier en twintig jaar oud. Judy, die rooikop is negentien en het saam met my jongste Sandy verlede jaar matriek geskryf.” Hy vou sy beursie weer toe. “Nou is dit jou beurt om te spog.”

Celia haal haar bakkiesleutels uit haar handsak. Aan die sleutelhouer is daar ‘n foto van haar en Beatri met Toppelhond penorent tussen hulle. ” Dis ons familiefoto. Beatri, my dogter werk deesdae in Rustenburg en Toppel is oorlede. Hy is blykbaar die Wilsons se Yorkie kruising se pa. Dit beteken ek is nie die hond se pleegma nie, ek is haar ouma.”

“Nê?” Hy lag lekker voor hy vra: “Wat doen jou dogter?”

“Sy is ‘n apteker.”

“Julle is twee ewe pragtige vrouens.” Billy se bord is leeg en hy wink die kelner nader. “Koffie?”

“Ja dankie. ‘n Vinnige een.” En toe is dit die Wilson selfoon in Celia se handsak se beurt om te lui. Sy krimp ineen en fluister. “Aag seblief, gee tog net dat dit nie daardie ongeskikte Russell Conroy is nie.”

Sy haal die foon stadig uit haar handsak, amper te bang om te kyk. Maar dis ‘n vreemde landlyn nommer.

“Wilson eiendomme,” antwoord sy so professioneel as moontlik.

“Celia, dis Hannes Wilson.”

“Meneer Wilson!” Sy het nooit gedink dat sy eendag bly sal wees om van hom te hoor nie. Vandag is sy bly, veral omdat sy stem soveel beter klink as gister.

“Jammer ek bel nou eers om te hoor hoe dit daar gaan.”

“Geen probleem nie. Alles hier is onder beheer. Die foon lui gelukkig of ongelukkig nie so baie nie en Dollie is tevrede by my.” Sy huiwer ‘n oomblik voordat sy vra. “Julle seun het na jou gesoek.”

“Ons het gepraat.” Hannes Wilson se stem stol in sy keel en hy kug hard voordat hy verder praat.

“Ek is net so jammer dat hy hierdie nuus moes hoor, na so ‘n lang … stilte tussen julle. Hoe gaan dit verder met jou?”

“Beter, dankie. Steeds geskok. Mens sukkel steeds om te aanvaar dat ‘n ongeluk soos hierdie moontlik is.” Hannes Wilson se stem raak weer weg. Dis duidelik dat hy net met selfbeheersing in staat is om weer te praat. “Sit hierdie nuwe nommer op die foon en laat weet as jy iets nodig het.”

“Sal doen, dankie.” Na die gesprek bêre Celia die nommer en sit die foon in haar handsak. “Billy, ek wil nie ‘n party pooper wees nie, maar sal jy my asseblief nou jou koffie sluk en my terugneem na Russell Conroy se huis toe? Ek moet gaan seker maak dat alles reg is teen die tyd dat sy kopers opdaag.”

“Natuurlik.” Hy sluk sy laaste bietjie koffie waarskynlik vinniger as wat hy wou en beduie vir die kelner om die rekening te bring.

 

Hoofstuk 5

Met die instap by die huis sit sy ‘n papiersak op die kombuistoonbank neer en roep. “Andries, Kuki, hier is hamburgers en koeldrank vir julle.”

“Ek sal in die kombuis ‘n tweede laag verf moet aanbring, maar ek het solank in die tweede badkamer begin om nie tyd te mors nie,” verduidelik Andries wat van iewers uit die gang te voorskyn kom. Daarna stap hy en Kuki uit om hulle kos op die stoep te gaan eet.

Celia en Billy bly half onbeholpe in die sitkamer agter. Hoekom wens sy dat iets hom net vir ‘n paar minute nog daar kan hou?

Daar is iets: “As ek belowe om nie die klawers op te gebruik nie, mag ek asseblief op daardie klavier speel?”

“Ek kan nie sien hoekom nie.” Celia hou hom dop toe hy omdraai en na die klavier toe stap. Hy maak die klavier oop en streel liefderyk oor die klawers, voordat hy die stoel uittrek en gaan sit.

Celia trek haar oorjas aan en tel die pan met kwas en verf op, om die hoeke in die kombuis af te rond.

Billy begin speel. Lekker populêre stukkies wat haar laat dink aan die musiek van Richard Clayderman, pragtig en foutloos. En voor Celia haarself behoorlik kan keer, vergaap sy haar aan die man wat binne ‘n oogwenk in ‘n wêreld van sy eie verdwyn.

Daardie sensitiewe mond, wat weereens wys dat dit nie net altyd lag nie, maar soms ook in pyn vertrek fassineer haar. Die donker oë is nou dromerig versluier deur lang wimpers wat menige vrou met haar hele hart kan begeer. Onder behendige vingers gebeur klanke wat haar oortuig dat as ‘n man so kan speel, hy beslis in staat is om die snare in ‘n vrou se hele komplekse samestelling ook aan te raak. Gevaar! Rooi ligte. Billy kry dit reg om ‘n simfonie van emosies in haar wat Celia is wakker te maak en sy het hom skaars drie ure gelede ontmoet.

Ens

Bestel die eboek by liefdesverhalenmeer@gmail.com R20.00 Onthou om die titel te skryf.

Die boek is ook op Amazon as eboek beskikbaar vir slegs $1.00:

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.