Verdwaalpad na die Liefde – Adele Reynders

Verdwaalpad

 

VERDWAALPAD na LIEFDE – Adele Reynders

eBoek verwerking – Renza Publikasies

Frankie Castillo vlug halsoorkop weg van haar gewese man in Italie, wat nie skroom om mense wat van hom verskil, met geweld uit die pad te vee. Haar broer verwelkom haar met oop arms op die plaas Verdwaal, in die Klasserie / Timbavati omgewing regs lans die Krugerwildtuin. Hier sal sy veilig wees, as sy net haar hart in toom kan hou, want van die oomblik wat sy Marius van der Walt die eerste keer raaksien, is sy gek oor hom. Marius worstel met sy eie einas. Hy het sy vrou en kind 13 jaar tevore in ‘n motorongeluk verloor … en hy was die bestuurder van die kar. Hy glo, as jy niks en niemand het nie, is daar niks om te verloor nie. Want om mense te verloor, sien hy nie weer voor kans nie.

Daar is nog vier boeke waarin jy die manne van die Timbavati sal herken – In Liefde en konflik op Verdwaal vind Derek Liefde. In die Romein van die Timbavati ontmoet Andrea die blou-oog Italianer wat haar hart steel. En Pieter se bachelor’s bestaan word bedreig na ‘n wilde rit op ‘n Sprinter bussie – Beenaf op ‘n bussie.

Lees gerus Verdwaalpad na die Liefde se eerste hoofstukke.

Hoofstuk 1

Wat is dit wat haar laat opspring en hardloop het? ‘n Senuwees wat dun geskaaf is? Die kurator wat met sy selfoon eenkant toe gestap het om privaat met iemand te praat? Kameras wat uit elke hoek van die gallery op haar gemik is? Dit was beslis nie haar verbeelding dat die sekuriteitswag op daardie stadium stadig maar seker in die rigting van die glasdeure beweeg het nie.

Sy uitroep en harde voeteval toe sy voor hom by die deur uitglip, het alles bevestig.

Johannesburg se strate is besig en Frankie vleg paniekerig tussen mense deur om afstand tussen haar en die sekuriteitswag te kry. Twee blokke verder koes sy by ‘n klerewinkel in, sit die swaar sak op de grond neer en wag agter ‘n rak vanwaar sy die sypaadjie kan dophou. ‘n Minuut gaan verby. Vyf minute.

Frankie tel die sak weer op en stap stadig tot by die deur. Kyk straatop, straataf. Hopelik het die wag opgegee en omgedraai. Sy glip tussen die malende menigte in. Teen die tyd dat sy veilig in die Uno is moet sy wag dat haar hartklop bedaar voordat sy kan ry.

Sy is in die moeilikheid. Sy weet dit. Nagmerries wat tot nou toe in haar onderbewussyn spook, is besig om werklikheid te word. Maar wat het sy anders verwag?

Naby die hotel waar sy werk, trek sy van die pad af en haal haar selfoon uit haar handsak.aH

Sy hou dit in haar hand. Wik en weeg. Moet sy vir Derek bel, of nie? Vanselfsprekend sal sy eerste woorde wees: ‘Wat het jy verwag? Ek het jou mos gewaarsku teen die man!’ En daarvoor sien sy nie regtig kans nie. Om na al die drama nog verwyte ook aan te hoor.

Buitendien moes sy Derek al laat weet het dat sy terug is in Suid-Afrika toe sy van die laaste trappie van die vliegtuig afgestap het. Maar sy wou so graag eers voete vind. Vir hom wys dat sy op haar eie kan regkom. Dit was dom. Sy het hom nodig. Nou.

Sy skraap al haar moed bymekaar en skakel sy nommer, maar toe hy antwoord, kan sy nie verby die knop in haar keel praat nie.

“Dis Frankie…,” kry sy dit uiteindelik uit, toe hy vir die derde keer vra of daar iemand is.

“Frankie? Sussie, waar is jy?”

“Terug in Suid-Afrika.” Stert tussen die bene, kon sy seker byvoeg, as dit nie so vernederend is nie.

“Jy en Leonardo is uitmekaar.” Daar is iets vreemd neutraal aan haar broer se stem, asof hy die oproep elke dag van sy lewe verwag het. “Wat het gebeur?”

“Dis ‘n lang storie,” antwoord sy moedeloos. “Kan ek jou iewers ontmoet?”

“Waar is jy?”

“In Johannesburg.”

“Wat? Van wanneer af?”

“Ongeveer ‘n maand.”

“En jy laat weet my nou eers.” Verwytend. “Wat doen jy daar?”

“Ek werk as sjef in ‘n hotel.”

“’n Sjef?” ‘n Uitroep van verbasing. Sy neem hom nie kwalik nie. Die sprong van pianis na kok kan seker as uiterstes beskou word.

“Ek het ‘n diploma by ‘n Italiaans hotelskool verwerf.”

“My maggies, ek kan dalk vir jou soortgelyke werk hier by ons in Limpopo gekry. Ek en ‘n ou studentevriend het ‘n staptoer en safari-besigheid langs die Krugerwildtuin. Ons ken al die lodge eienaars.” Sy stem slaan effens deur. “Ek mis jou jongie.”

“En ek vir jou. Kan ek asseblief by jou kom kuier?” Sy durf nie ‘n dag langer in Johannesburg bly nie.

“Natuurlik, ounooi! Jy hoef nie net te kuier nie, jy kan by my kom bly.”

“Dankie. Net vir ‘n rukkie, totdat ek werk gekry het daar in die omgewing.”

“Solank as wat jy wil. Moet ek jou iewers kom haal?”

“Nie nodig nie. Ek het ‘n kar.”

“Nou kom so gou as moontlik.” Hy klink opgewonde. Die knop in haar keel is skielik so groot dat sy amper nie kan asem skep om te antwoord nie. “Frankie, is jy daar?”

“Ek laat weet jou môreoggend wanneer,” kry sy dit uiteindelik uit. “En asseblief, ek wil nie op jou nek kom lê nie. Sê as daar enigiets is wat ek kan doen totdat ek ander werk gekry het.”

 

Toe Derek weer vyf minute later by die vergadering instap sit sy vennoot Marius van der Walt en prentjies teken op ‘n stuk papier voor hom. Klein Boesman-mannetjies wat jag met pyle en boë. Hy teken silhoeëtte van bokke wat met gestrekte bene hardloop. Hy bekyk sy prente van alle kante. Dis amper so goed soos die San se eie oorspronklike werke. Nee, besluit hy, dit is eintlik veel beter. Hy is ‘n kreatiewe en talentvolle jagter en hy is nie eens in ‘n trans nie.

Maar Marius van der Walt was wel half aan die slaap en tot die dood toe verveeld, voordat hy begin teken het. Dis Lente, die eerste reën val daar buite en Marius sug swaar. ‘n Man het mos nie Natuurbestuur geswot om op so dag in ‘n vergadering te sit nie. Hy voel verskriklik verontreg want as oudste seun van die eienaar van die plaas, verwag almal van hom om iets van alles te weet. Dis veral die vroumensgoed, soos funksies, binnenshuise versiering, spyskaarte en onmin tussen die damespersoneel, wat hom die meeste irriteer.

Op sulke geleenthede weet Marius met sekerheid dat hy een belangrike bestanddeel in sy veertigjaaroue lewensresep mis.

‘n Vrou.

Hy teken ‘n Boesman-vrou met ‘n vooruitstrewende buustemaat en ‘n sitvlak wat baie potte vleis gesien het en skryf langsaan, Marius se vrou. Hy self is ‘n dapper jagter met ‘n boog en omtrent tien pyle in ‘n koker. Hy gee homself tot Desember volgende jaar, en dan wil hy ook gevestig en getroud wees. Hy skryf: Vyftien maande doelwit!

In daardie tyd sal hy nie te kwaad wees as hy en mevrou van der Walt geseën word met ‘n broodjie of twee nie. Hy teken soveel kleintjies op ‘n ry, dit lyk soos ‘n panfluit.

Intussen moet daar ‘n man uit die hemel val, om funksie en onthale te doen. Hy en Derek het al dikwels daaroor gepaat, maar gisteraand het hulle besluit om die saak vandag na ‘n kant toe te stuur.

Daar is baie werk vir ‘n sjef op Verdwaal. Hoe lyk ‘n sjef in Rotskuns? Hy begin by die maag. ‘n Man wat lekker kook, sal lekker eet ook.

“Marius!” Terwyl sy pa Marius van der Walt Senior se geduld met hom aan die opraak is, konsentreer hy so hard, hy hoor niks. Marius voel hoe Derek de Vos saggies teen sy linkerarm tik. Is Derek ook verveeld? wonder hy en draai na hom, maar kêrel konsentreer hard op die agenda. Miskien het hy per ongeluk teen hom geraak, besluit Marius en gaan sy twee bladsye vol sketse noukeurig deur.

Weer die tik teen sy arm. Die keer onmisbaar so.

“Junior, wat het jy hierop te sê?” Pa Marius se blou oë blits nou van ongeduld. Dit bring sy oudste seun van ver af terug na die hede, nou en hier. Vergadering!

“Ja, beslis… Wat julle ookal besluit is honderd persent reg by my,” antwoord hy. Dis altyd beter om saam te stem, maak nie saak wat die vraag is nie.

“Maggies, kêrel, het jy ooit die vraag gehoor?” roep sy pa ongeduldig uit.

“Ek het, en dit is tyd dat hier op Verdwaal ‘n sjef aangestel word,” kondig Marius streng aan, toe hy agterkom dat dit nie net sy pa is wat na hom staar nie, maar al die ander mense rondom die tafel ook. Selfs Derek het sy kop nou gedraai en kyk reguit na hom en toe val sy venoot se oë op die sketse voor hom, en ‘n glimlag verskyn om sy mondhoeke. Marius keer vir ‘n vale. Sy notas is privaat.

“Wat op aarde het ‘n sjef met die ligging van die rondawels vir die nuwe staptoerbasis te doen?” Sy pa gryp die waterbeker voor hom en skink ‘n glas vol. Die helfte verdwyn in sy keel af.

“Alles. Julle bring nog mense hiernatoe. Nuwe kampe, nog perderuiters, kantore. En die kombuispersoneel is van vanoggend af al haaks. Ek en Derek het het lankal besluit. Ons kan nie meer self  by die kosmaak betrokke wees nie,” beduie Marius. “Op die oomblik moet ons gasheer en gasvrou…”

“Wie is die heer en wie is die vrou?” Sy pa ruk geskok op.

“Nie een nie. Hulle kort waarskynlik net albei vrouens.” Broer Conrad lag lekker en stuur state vir sy pa aan. Hy is ‘n B.Com-man wat ook by hulle pa se boubedryf op die dorp betrokke is. “Hulle maak genoeg geld om ‘n kok te betaal.”

“Daar is ‘n Amerikaanse maatskappy naby Phalaborwa wie se bestuur elke Woensdag wil kom perdry. Die ouens is kieskeurig as dit by kos kom.” Derek stuur ook papiere aan.

“Wel, Marius en Derek, kry dan vir julle ‘n kok. Stem almal saam?” Van der Walt Senior kyk glimlaggend van die notas voor hom af op na Marius. “Ek sien die erns van die saak tussen hierdie aantekeninge.”

“Sjef,” help Marius hom reg. “’n Sjef, wat deur ‘n hotelskool is en ‘n ordentlike en stylvolle spyskaart kan opstel. Wat vir mý kan leer van hors d’oeuvre, cuisine minceur, roulades en soufflés sonder dat ek vir ‘n week daaroor moet navorsing gaan doen en dan met die kombuis personeel moet baklei, omdat die goed nie soos die prentjie lyk nie. Ek soek ‘n Cordon Blue sjef, dankie.”

“Broer, jy het jou punt gemaak.” Conrad se wenkbroue maak snaakse krulbewegings toe die notas met ‘n wye draai terugkom by hom. “Ons adverteer volgende week in die Job mail en plaaslike Herald.”

“Volgende week is te laat. Die man moet hierdie naweek al begin werk.” Marius druk met sy vinger op die tafel voor hom.

“As julle nie kan wag tot die advertensie in die koerant kan verskyn nie, moet julle maar ‘n Cordon Blue-sjef iewers van ‘n tak af gaan pluk,” besluit Conrad. “Groei die goed aan maroelabome of apiesdorings?”

“Baie snaaks,” vlieg Marius hom in.

“Gaan rokkel een af van die Krugerwildtuin.”

“Dis oneties.”

“Dis ‘n demokratiese land met ‘n vryemarkstelsel,” daag Conrad hom uit.

“Staak dit, manne!” Pa Marius wil die vergadering na ‘n punt toe stuur, maar dit is bitter moeilik as jou familie nie bereid is om by die vergaderingsprotokol te hou nie.  Die plaas is nie die ouer man se grootste sakebelang nie. Hy het al vir Marius en Derek gesê dat as dit oral so gaan, soos hier op Verdwaal, was hulle al bankrot. “Is hier nie een van die swart dames in die kombuis wat ons op kursus kan stuur nie.”

“Nee, die sjef moet ‘n man wees. Sy lewe gaan nie altyd maklik wees nie. Waar ons hom wil saamneem, is daar soms nie water aangelê nie. Hy sal moet water dra en vuur maak. Dit moet ‘n sterk man wees, wat gewillig is om te werk. Met skouers so breed soos ‘n…” Marius wys met die hande, maar hy kan nie regtig dink aan iets om sulke yslike skouers mee te vergelyk nie.

“Regtig breed,” snel Conrad hom te hulp.

“Presies.” Marius kyk af na sy notablok en toe gaan sy mond oop en toe maar hy kry geen geluid uit nie. Al sy aantekeninge en lyste het soos mis voor die son verdwyn. Hy spring op en sê. “Gee my goed terug.”

“Waarna soek jy?” vra Conrad.

“Een van julle het my aantekeninge gevat.”

“Nope.” Die manne lieg gelyk soos tandetrekkers.

“Julle team teen my op. Verskoon my.” Marius stoot sy stoel hard agteruit.

“Hey sit,” raas sy pa. “Jy sal verskoon word wanneer die vergadering verdaag.”

“Dis nogal toevallig, maar ek het nou net met iemand gepraat wat pas terug is uit Italië. Diploma van een of ander hotelskool daar, werk op die oomblik in ‘n hotel in Johannesburg,” toets Derek die waters. “Sal ons die persoon aanstel op ‘n driemaande toetsbasis?”

“Watter soort salaris moet so iemand kry? Dis die bos! Dis Verdwaal. Of het jy vergeet?” herinner Conrad hom. “Mens wil niemand beledig met die besoldiging wat ons gee nie.”

“Ons bied aan wat ons kan,” antwoord Derek.

“Wie is dit en wanneer kan hy begin?” vra Marius. Amper verskyn daar ‘n silwer randjie rondom sy donder wolk.

“Frankie Castillo.” Derek spreek dit uit as Frankie, nie Frênkie nie. “Moet ek vir jou ‘n CV bring?”

“Nee dankie. Bring vir ons ‘n sjef voor die naweek.”

“Ek dink dit kan sowaar gedoen word. Dit gee ons tyd om ‘n meer geskikte persoon te vind as dit nie uitwerk nie.”

“As wat nie uitwerk nie?” wil Marius verbaas weet. “Kyk, as ons die sjef met ‘n tjekboek en begroting kan vertrou, en hy doen sy werk, sal dit goed gaan. Dis verskriklik eenvoudig.”

 

Na vanoggend voel Frankie soos ‘n skurk en ‘n rower toe sy om drieuur by die bank instap om haar rekening feitlik leeg te trek. Laatmiddag terug by die hotel pak sy twee groot sakke klere. Sy durf nie alles saamvat nie. Die baas van die hotel moet dink dat sy net iewers kuier gedurende haar vyf af dae. Michaelo is ‘n groot vriend van haar gewese man Leonardo en sy weet dat hy gereeld oor haar bewegings Italië toe rapporteer. As hy teen Sondagaand lont ruik omdat sy nie vir diens in die kombuis aangemeld het nie, moet daar baie kilometers tussen haar en Johannesburg wees.

Sy ruk soos sy skrik toe haar foon lui. Die simkaart het ‘n vriendin vir internet gebruik. Net een of twee mense het die nommer. Dankie tog, dis Derek.

“Goeie nuus. Jy hoef nie net te kuier nie. Hier is ‘n tydelike pos vir jou.” Hy bly ‘n oomblik stil. “Wanneer sien ek jou?”

“Oormôre, laatmiddag?” Hoekom fluister sy? Leonardo sal tog nie so ver gaan om ‘n afluister apparaat in haar kamer te laat sit nie. Of sal hy? Sy stap uit en gaan praat buite in die parkeerarea.

“Het jy darem ‘n ou geldjie om tot hier te kom?” Na soveel jare is Derek steeds die besorgde ouboet. “Ek is seker Leonardo het nie sy miljoene aan jou geskenk toe jy besluit het om terug te kom nie.”

“Nee beslis nie sy miljoene nie, maar Leonardo het vir my tien beeldjies gegee wat volgens hom ‘n hele paar rand werd is en wat ek kon verkoop.” Skaars is die woorde uitgespreek of sy weet dit was ‘n fout om dit te noem.

“En toe jy in Suid-Afrika kom is daar nie kopers nie en die beeldjies is niks werd nie.” Daar is ‘n skeptiese klank in Derek se stem.

“Toe nie! Vyf van die beeldjies is aan mense verkoop, teen astronomiese bedrae geld. Selfs nadat ek die helfte aan Leonardo oorbetaal het, kon ek vir my ‘n ouerige karretjie koop.”

“En die ander vyf beelde?” vra Derek.

“Daar is drie oor. ‘n Ander koper het gekom en twee saamgeneem, waarvoor hy nooit betaal het nie.”

“Dit klink soos ‘n tipiese Leonardo-streep. Hulle het hom seker direk betaal en hy het jou bevark.”

“Moontlik.” Sy kan nie nou al vir Derek vertel dat Leonardo die geld vir die twee beelde by haar soek nie. Hy moet liewer nooit uitvind dat sy vanoggend probeer het om een op eie stoom aan die kunshandelaar te verkoop nie En veral nie hoe dit heeltemal skeefgeloop het nie.

“Nouja, lekker slaap,” bring Derek haar terug na die werklikheid. “Hou kontak en laat weet my sodra jy daar wegry.”

Slaap! Hoe gaan sy dit ooit weer doen?

Michaelo is nooit sesuur in die oggend wakker nie. Wat soek hy vanoggend by ontvangs? Frankie se hart tamboer in haar keel toe sy Woensdagoggend haar bagasie uitdra kar toe.

“Kuier vir ‘n vriendin in Kroonstad,” lieg sy blatant en sy weet dit staan waarskynlik dwars oor haar gesig geskryf toe ‘n eienaardige glimlag om Michaelo se mondhoeke krul.

Sy kom terug en gaan haal die boks met die drie laaste plastiek Bernini namaaksels. Dis toegedraai in trougeskenkpapier met ‘n silwer lint rondom en flambojante strik bo-op.

“My ou skoolvriendin trou mos Saterdag.” Verduidelik sy toe Michaelo daarna kyk. “Bye.”

“Ciao.”
Hoofstuk 2

Marius hou Conrad se driejarige seuntjie Manie dop waar hy die werkers ywerig help om die spoelgate in die pad toe te gooi. Die sonskyn na die reën die afgelope drie dae is broeiend warm en die manne werk met kaalblink bolywe en sweetbande om die kop. Grawe, pikke en modderstewels maak van elkeen ‘n Rambo in eie reg. Manie trek sy eie hempie ook uit.

“Die son gaan vir jou braai, selfs deur die wolke. Trek aan,” keer Marius.

“Mm-mm. Ons werk.” Die kind skud sy kop en gooi per ongeluk ‘n graaf vol modder in Marius se stewels. Sy oom trek maar ewe gelate sy stewels uit en skud die modder uit. Manie gaan sit plat op sy boude in die modder en trek sy eie rooi reënskoene ook uit en skud vir ‘n vale, maar daar val niks uit nie. Hy kom nie agter dat dit vir hom is wat almal weer staan en lag nie. Hy lag lekker saam vir wat ookal die grap is.

In die hernude ywer waarmee hy daarna sy graaf gryp, tref hy Marius se maermerrie. Bloed spat.

“Ô… ô. Jy sal moet steke kry,” besluit een van sy werkers. “Moet iemand jou vat?”

“Nee, dis nie so erg nie. Ek sal self na Dok se spreekkamers toe ry.” Marius bind ‘n sakdoek om sy been en sien dankbaar dat Derek met sy Landrover bykom.

“Hoe vorder julle hier? Ouch, wat was dit?” Derek deins terug toe hy naderkom en die bloedbevlekte sakdoek om Marius se been sien.

“Kleinman se werk.” Marius tel die seuntjie op. Daar is duidelik ‘n groter stroom trane as bloed op pad. “Als reg, Manie. Dit was ‘n ongeluk, jy wou help. Derek, sal julle aangaan? Ek gaan by dok stop en wil sommer hierdie outjie by sy ma en pa op die dorp aflaai. Dit was ‘n lang dag en ek dink hy is moeg.”

 

Die bus stop voor die Proteahotel in Phalaborwa. Frankie wag dat die bestuurder haar bagasie aflaai. Dis ongeveer ‘n blok van die restourant af waar sy vir Derek moet wag. Haar hart klop in haar keel van opgewondenheid en afwagting omdat sy hom vir die eerste keer na nege jaar weer gaan sien.

Verstommend genoeg het alles die afgelope twee dae sonder voorval verloop. Sy glo vas dat dit die regte besluit was om die Uno in Bela Bela te verkoop. Sy het die papiere ‘n week gelede saam met die kar gekry. Die nuwe eienaar het dus nog veertien dae om die kar op sy naam te sit.

Sy het die beelde in ‘n sluitkas by die warmwaterbronne agtergelaat. Dis hopelik veilig daar, totdat sy weet wat om daarmee te doen. Die ontdekking wat sy gemaak het nadat sy een met ‘n klip stukkend geslaan het, was net bevestiging vir dit wat sy sedert eergister reeds vermoed het. Daardie wit poeier in die dik plastieksakkies het net te veel kere op Leonardo se lessenaar gelê om haar te laat twyfel of dit heroïen is.

Wat ‘n skokkende ontdekking om agter te kom dat Leonardo haar gebruik het om heroïen die land in te bring.

As doeane en aksyn haar bagasie op die lughawe deursoek het en dit gevind het, het hulle haar so diep toegesluit dat sy nie in twintig jaar weer daglig sou sien nie.

Die regte ding is waarskynlik om die inligting vir Interpol deur te gee. Sy is kwaad genoeg vir Leonardo om dit te doen. Maar sy kan nie. Daar is te veel manne in sy netwerk wat kan wraakneem. Die enigste ander opsie is om self van die aardbol af te verdwyn. Dis wat sy nou doen.

Sy stap by die restourant in, gaan sit by ‘n tafel en skakel Derek se nommer om hom te laat weet dat sy by die ontmoetingspunt is.

“Drink solank iets. Ek moet gou stort. Ek het ‘n modderbad ge-erf nadat Marius ‘n ongeluk was.”

“Ernstig?” vra sy besorg

“Nee wat. Sy peetkind het sy maermerrie per ongeluk met ‘n graaf raakgekap. Hy moes steke kry.” Hy lag. “Van Marius gepraat. Hy verwag ‘n manlike sjef, met skouers wat so breed is dat die ou moet dwars draai as hy by ‘n garagdeur instap. Intussen moet jy ons kom uithelp. Hy moet jou net nie dadelik sien nie.”

“Geen probleem nie.”

“Gelukkig is hier baie ander lodges in die omgewing as Marius dink jy is nie geskik vir die pos nie.”

“Maar ek kán die werk doen.” Sy is skoon verontwaardig.

“Ek weet dit, maar jy sal dit aan my vennoot ook moet bewys. Ons praat netnou. Ek laai jou so oor ‘n halfuur op.”

Na die gesprek sit Frankie die foon langs haar op die tafel neer en kyk uit straat se kant toe. Dit het sowaar weer saggies begin reën. Sy bestel warm sjokolade en pannekoek en begin blaai in die tydskrif wat sy gekoop het om op die bus te lees.

Ongeveer ‘n halfuur later trek ‘n bakkie in die oop parkeerplek voor die restourant in. Op die kant lees sy: Verdwaal. Dis die naam van die plaas waar Derek werk en sy maak haar goed opgewonde bymekaar. Hy is hier.

Maar die aantreklike man wat uitklim het ligbruin hare en die helderste paar blou oë, sien sy. Hy stap rondom die bakkie en maak die deur aan die passasierskant oop. ‘n Vrou in ‘n verpleegstersuniform klim uit en saam stap hulle teen die trappe op na die restourant waar sy sit.

Eers toe hulle in die deur staan, sien sy die verband om sy maermerrie.

Sy buk laag oor die tydskrif wat voor haar op die tafel lê. “As daardie beenaf man nie Marius van der Walt is nie, is my naam nie Frankie Castillo nie!”

Die aantreklike man en vrou stap tot by ‘n tafel naby haar en gelukkig is hy die een wat met sy rug na haar toe gaan sit.

“Eet ons iets?” vra hy.

“Dis ‘n snaakse tyd vir kos,” keer die vrou. “Kom ons drink iets, dan maak ek vanaand vir jou bobotie.”

“Vanaand? Bietjie moeilik. Ek en my vennoot verwag ons nuwe sjef en ons wil die ou bietjie touwys maak.”

Dinge loop skeef. Hy is nie veronderstel om deel van die verwelkomingskommitee te wees nie.

Op daardie oomblik sien Frankie hoe nog ‘n ‘Verdwaal’de voertuig in die straat verby ry en ‘n paar parkeerplekke van Marius se Cruiser af stilhou. Dit kan net Derek wees en Frankie raak sommer lam van spanning. Haar broer klim uit en steek langs sy vennoot se bakkie vas. Sy mond gaan ‘n paar keer oop en toe, asof hy met homself praat. Hy besef duidelik dat sy en Marius saam hier in die restourant sit en hy wonder waarskynlik hoe om haar ongesiens hier uit te kry.

“Hey, daar is Derek.” Marius klop teen die venster. “Kom drink saam met ons koffie.”

Derek stap in, maar sy oë bly draai na Frankie toe. Gelukkig is Marius se volle aandag by die vrou in uniform.

“Ek kan nie bly nie, ek moet ons sjef by die bus gaan haal,” beduie Derek en draai senuweeagtig om.

“Ek weet, maar laat ek jou net eers aan Zelda voorstel. Sy is Dok se nuwe persoonlike assistente. Ek het haar gevra om saam met my na die Lentebal te gaan,” verduidelik Marius.

“Aangenaam. Gelukkige man.”

Frankie tel haar tasse op en stap om haar rekening te gaan betaal. Sy sien dat Derek homself tussen haar en die ander posisioneer.

“Keer daardie dame! Sy het haar selfoon op die tafel vergeet,” roep die kelner wat haar tafel afdek egter uit.

“Alles reg. Ek sal dit vir haar neem.” Derek duik vir die foon en Frankie stap swaargelaai en met ‘n stywe rug in die motreën uit tot by die Landrover. Gelukkig het daar intussen ‘n bussie ingetrek wat die uitsig van die restourant se kant af versper toe Derek uitasem bykom.

“Wat ‘n noue ontkoming, maar welkom hier by ons.” Derek trek haar teen om vas.

“Dankie. Dit is wonderlik om jou te sien.” Sy wou nie emosioneel raak nie. Nou stroom die trane sommer toe hy met sy een hand vertroostend oor haar hare streel.

“Ons moet hier wegkom voordat Marius en Zelda uitstap.” Derek laat haar uiteindelik gaan en laai haar reissakke agterin sy kar.

“Kan jy dit oorvertel? In my haastigheid vergeet ek toe boonop my selfoon,” giggel Frankie toe hulle begin ry.

“Gelukkig het ek gestaan, anders was Marius die een wat jou agterna gesit het. Hy is ‘n ware heer.”

“Dan is Zelda ‘n gelukkige vrou.”

“Sy weet dit nog nie. Hulle het mekaar vandag ontmoet.”

“En hy is enkellopend? As hy so ware heer en droomvangs is, hoekom is hy ongetroud?”

“Hy was getroud. Sy vrou en kind is dertien jaar gelede in ‘n motorongeluk dood,” verduidelik Derek. “Dit het hom van sy voete af geruk, want hy het die kar bestuur. Vir ‘n tyd lank het hy in Botswana gaan rondhang en gewens ‘n krokodil vreet hom op.”

“Dit was in die tyd toe jy dikwels toergroepe Botswana toe geneem het?”

“Jip. My hart wou breek toe ek hom so uitgewas in een van die hangmatte in die boskamp sien hang. Ek kon vir hom werk aanbied, totdat sy pa het vir ons die proposisie gemaak het om Verdwaal te ontwikkel as vennote”

Al gooi die gesprek daarna jakkalsdraaie tussen hulle kinderjare, haar lewe in Europa, Derek se eie huwelik wat rotse toe is en hulle onderneming hier op Verdwaal, kan Frankie nie ophou om aan Marius te dink en hoe seer dit moes wees om sy gesin te verloor nie.

“Nou ja, welkom op Verdwaal, Frankie.” Derek stop voor ‘n reuse ou plaashuis met n stoep wat feitlik reg rondom gaan. Naby hulle is ‘n ry netjiese perdestalle.

“Ek sien net die stalle, waar slaap die gaste?”

“Rondawels net anderkant daardie stalle. Baie mooi. Ek sal jou netnou gaan wys.” Derek wil net uitklim toe Marius oor die tweerigting radio roep: “Victor Delta, kom in. Ek kan nie vanaand met die sjef praat nie. Sal jy?”

“Ek het klaar.”

“En hy lyk oukei?”

“Dis ‘n positief.”

“Mooi, want ek is eintlik die hele naweek uit aksie. En en Zelda gaan Sondag by my ma-hulle eet.” Marus klink nie baie spyt omdat hy afwesig gaan wees nie.

“Gaan so lank as wat jy wil. Gee jou been kans om gesond te word.”

“My been is orraait. Uit.”

“Moet die skoot hoog deur hê as hy die girl al sommer hierdie naweek vir moeder Drika wil gaan wys.” Derek sit die radio op sy plek terug. “Nou kan ek jou rustig rondwys.”

Die huis is een van daardie groot ou aangelapte plaasopstalle, waarvan die stoep reg rondom gaan. ‘n Saal van ‘n kombuis, met koolstowe, moderne stowe, yskaste en vrieskaste, yslike werksoppervlaktes en alles wat nodig is om n sjef se lewe baie maklik te maak.

Frankie se slaapkamer is reg langs die kombuis en sy en Derek sit net vinnig haar sakke neer. Tyd vir uitpak is daar nie. Hulle naweekgaste meld voor nege môreoggend aan.

 

Die rondawels anderkant die stalle kyk uit oor ‘n skilderagtig mooi watergat. Terwyl Derek Saterdagoggend met die berede groep uit is, gaan sit Frankie op ‘n stomp daar naby vir hulle en wag. Sy kyk deur ‘n verkyker na die watervoëls. ‘n Trop bobbejane verskyn op die oorkantste oewer. Met harige swart vingertjies grawe hulle tussen die groenigheid in die modder. Hier en daar word ‘n klip omgekeer en Frankie sien hoe een groot mannetjie ‘n skerpioen se angel behendig uitpluk en daarna die krioelende insek in sy kies prop.

“Kreef, ‘n lekkerny,” spot sy.

‘n Koedoebul loer agterdogtig na haar, voordat hy ook behoedsaam nader gaan om water te drink.

Frankie kyk op haar horlosie. In die ruiters se rugsakke is daar eet- en drinkgoed, maar sy vermoed dat die omelette wat sy vir ‘n laatontbyt beplan, nie onaangeraak teruggestuur sal word nie. Omdat alles reeds in die kombuis reg gesit is, gun sy haarself nog so vyf minute in die paradys.

Tussen die bobbejane op die oorkantste oewer is daar skielik ‘n kakofoniese ontsteltenis en Frankie soek met die verkyker tussen die bome en bosse na die rede vir die paniek aanval.

Luiperd, sien sy opgewonde. Die gespikkelde lyf is een oomblik tussen die riete sigbaar en toe glip hy rats tussen die blare van ‘n groot maroelaboom in. Kort daarna maak die groot kat homself in ‘n mik tuis, vanwaar hy vrees en gesag afdwing, want die bobbejaantrop vertrek haastig van die watergat af.  Die atmosfeer by die watergat is skielik gespanne.

Agter haar hoor Frankie perdehoewe en sy staan op.

“Daar is ‘n luiperd in die mik van die wildevyeboom oorkant die rivier,” beduie sy van ver af.

“My maggies, wat ‘n meevaller,” roep Derek uit en klim van sy pard af. “Kom mense. As die luiperd nog daar is, het julle vandag vier van die vyf grotes gesien.”

“Wat kort?” vra Frankie.

“Leeus. Ons het lanklaas leeus op die plaas gehad. Ons ry meesal na ‘n kampplek in die Timbavati om leeus te gaan soek.”

“Ek dog die heinings is af en dat die diere vryliks oor die grond beweeg.”

“Hier is steeds grond waarop mense jag tussenin en daardie plase is toegespan. Vir die diere om hier by ons te kom moet hulle dikwels rondom en oor grond beweeg. Jy kan raai dat hulle dan ook van tyd tot tyd hulle rieme styfloop in die visier van ‘n jagter.”

Al bly dit harde werk om mense se mage vol te hou, laat dit Frankie vir ‘n kort rukkie te vergeet van dit waarvan sy weghardloop.

Maar Sondagaand toe die gaste vertrek is die ou beklemming weer daar. Sy weet dis net ‘n kwessie van tyd, dan spoor Leonardo haar op. Sy twyfel nie eens daaraan nie. Wanneer hy haar kry, is haar lewe minder werd as sy misrabele plastiek beelde sonder hulle kosbare inhoud.

“Watter seer staan op daardie gesiggie van jou geskryf?” vra Derek waar hulle ‘n glas wyn op die stoep drink.

“Sommer Sondagaand blues.” Sy sal hom nie opsaal met haar probleme nie.
Uiteindelik kry Frankie in die volgende paar dae kans om uit te pak en haar voete in die huis te vind. Dinsdagmiddag staan sy voor die kombuisvenster en uitkyk toe Marius met sy Landcruiser bakkie onder die groot appelkoosboom voor die stoep stilhou en uitklim.

Sy weet sy moet gaan wegkruip, maar sy kan nie ophou kyk nie. Wat ‘n toonbeeld van manlikheid. Derek kom op daardie oomblik met ‘n groot swart hings aangery en Marius stap na hom toe.

“Zorro!” Marius klop die perd op die flank. “Nie gedink ons gaan hom ingebreek kry toe hy almal om die beurt in die modder afgelaai het nie.”

“Hoe voel daardie been?” Derek klim af en oorhandig die perd aan die staljong wat met hom wegstap.

Marius stap saam met Derek tot by die stoep. “Amper gesond. Ek sal die ruiters môre uitneem veld toe. Het jy met die sjef gereël vir pieknieksakke?”

“Natuurlik. Lus vir ‘n bier?”

Frankie krimp ineen. As die manne nou begin kuier, beteken dit dat sy vir die res van die aand in haar kamer moet skuil. Maar Marius het ander planne.

“Nee dankie. Zelda het my genooi om saam met haar by Dok se huis te gaan eet.”

“Jy en Zelda skop met ‘n spoed af,” lag Derek. “Het jy planne?”

“Nee man, sal eers die kat uit die boom kyk,” keer Marius. “O ja, onthou asseblief my ma se verjaarsdag. Twintig mense. Drie is vegetariërs. Nie braaivleis nie.”
Hoofstuk 3

“Drika van der Walt se verjaarsdag is een van die groot okkasies in Verdwaal se bestaan. Die fees strek oor die hele naweek,” skets Derek die agtergrond vir Frankie terwyl sy Woensdagoggend vir hulle eiers bak. “Gebruik my Landrover vir jou inkopies. Ek kan saamgaan as jy wil.”

“Ek sal dit baie waardeer.” Miskien sal sy eendag weer haar selfvertroue terugkry. Maar vir nou is sy innig dankbaar om op haar broer te kan steun en om hom naby haar te hê.

Later gaan wys Derek vir haar die onthaalarea in Verdwaal se groot nuwe gasdakhuis.

“Hier kan wraggies vier en twintig mense by die tafel aansit!” roep Frankie uit toe sy die stoele in die eetkamer tel. “Dit laat my dink aan Italië. Ek verlang.”

“Moenie verlang nie. Konsentreer op jou werk en om uit die Van der Walts se pad te bly.”

“Ek belowe ek sal nie my gesig in die eetkamer kom wys terwyl die mense kuier nie. Ontspan.”

“As hierdie naweek glad verloop, kan party maar agterkom dat Frankie ‘n vrou is. Is kosplanne agtermekaar.”

“Jy gaan trots wees op my. Ek het selfs spyskaarte en servetringe gemaak vir die okkasie.”

“Fantasties. Kom ek wys jou die kombuis.”

Hulle stap deur die sitkamer waar ‘n reuse Steinway-vleuelklavier staan en Frankie bestorm die instrument met ‘n klein gilletjie van plesier. Sy gaan sit om ‘n paar akkoorde daarop te toets. Derek wag met ‘n geduldige glimlag dat sy moet klaarmaak en toe sy die klavier weer toevou, vat hy haar deur na ‘n moderne kombuis met vleklose staal toerusting en marmerblaaie. Hy maak die kaste oop en wys vir haar waar alles is. Daarna stap hulle verby die agt en suite-slaapkamers.

“Waar bly meneer en mevrou Van der Walts, as hulle nie op die plaas is nie?”

“In ‘n mansion in Magoebaskloof. Die tannie hou nie van die plaaslewe nie en Phalaborwa en Hoedspruit word in die somer te warm vir haar.”

“Is een van hierdie slaapkamers Marius s’n?” vra Frankie.

“O nee, hy bly in ‘n rondawel langsaan.”

Die klavier is ‘n reuse trekpleister. Met alles onder beheer Saterdagoggend jeuk Frankie se hande weer. Geluk is aan haar kant. Sy sien hoe Marius teen negeuur stalle toe stap en later met die swart hings Zorro uitkom. Wanneer hy wegry, besluit sy om vinnig in die klavier se stoel te gaan kyk of daar bladmusiek is en sy maak ‘n heerlike ontdekking.

Tschaikovsky se eerste klavierkonsert! Sy kan nie onthou wanneer laas sy die stuk gespeel het nie.

 

Marius stuur die perd teen die koppie daar naby uit en verspied die wêreld om hom. Dan hoor hy die veraf klank van klaviermusiek en besef dat dit uit die nuwe huis se sitkamer kom. Hy besluit om ‘n klein bietjie nader te ry.

Hy weet dat Derek hom gevra het om nie vandag met die sjef en sy span se bedrywighede in te meng nie, maar die klanke van die musiek hipnotiseer hom. Hy is soos ‘n medioker swemmer wat in ‘n sterk seestroom beland het, en homself nie kan verset nie.

Marius huiwer voor die huis, klim van sy perd af en stap in. Hy is so in vervoering dat hy vergeet om die perd se leisels te los. In die sitkamer sien hy ‘n vrou voor die klavier. ‘n Baie mooi vrou, met goue hare wat op haar skouers hang en wat ‘n baie besondere talent het.

Zorro roer sy ore senuweeagtig, want die musiek is baie hard. Die vrou het geen genade vir die akkoorde van Tchaikovski se eerste klavierkonsert nie.

“Damn,” fluister Marius. Asof dit ‘n bevel is waarop Zorro gewag het, draai die perd sy kop skeef en trek die groot bos blomme uit die pot wat in die middel van die sitkamer op die lae tafel staan. Dit kraak tussen sy tande en die blompot val dawerend stukkend op die teëlvloer. Dit laat die vrou by die klavier stop en opvlieg.

“Nee, wat maak jy hier?” roep sy uit, waarna Zorro sy persoonlike merk met ‘n dowwe plof daar op die skitterblink teëlvloer laat val.

“Jammer! Ek sal ander blomme gaan koop. My kop het nie gewerk nie. Sê asseblief vir Frankie ook ek is jammer.” Marius vat die teuels vaster en sleep sy sirkus agter hom aan by die deur uit.

Vir kort oomblik staan Frankie versteen. Haar hart fibrileer verwoed aan die binnekant van haar borskas. Skok omdat sy die man glad nie hoor aankom het nie. Maar ook iets anders. ‘n Opgewonde gevoel wat haar palms laat sweet en haar ore laat sing.

‘n Afwagting, soos wanneer jou sintuie jou waarsku dat hierdie man heeltemal instaat is om jou ekwilibrium uit sy wentelbaan te stuur.

Sy gryp haar selfoon en bel vir Derek.

“Marius was hier. Ek het hom sommer ingevlieg. Selfverdediging.”

“Vervlaks.”

“Toemaar, hy weet nog nie dat ek Frankie is nie.”

Verdwaalpad na die liefde is as volledige Afrikaanse eboek gratis op die volgende skakel te lees: verdwaalpad-na-die-liefde

Jy kan nou Verdwaalpad na die Liefde – Adele Reynders as eboek bestel vir R20.00 vanaf liefdesverhalenmeer@gmail.com Lees op jou laptop of selfoon. Jy ontvang eers jou boek en betaal daarna.

Of lees Verdwaalpad na die Liefde op Amazon:  https://www.amazon.com/Verdwaalpad-na-die-liefde-Afrikaans-ebook/dp/B01N6Y7D8O/ref=sr_1_2?keywords=Verdwaalpad+na+die+Liefde&qid=1551509503&s=digital-text&sr=1-2-spell

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.