Romein van die Timbavati – Adele Reynders

 

Romein

Uittreksel uit die Afrikaanse eboek: Romein van die Timbavati om gratis te lees.

Die Romein van die Timbavati – Adele Reynders

Aanvanklik uitgegee deur Lapa. My 2de boek wat deur hulle gepubliseer is. Dit was ‘n lekker gevoel …

 

Die ergste ding wat met ‘n vrou kan gebeur is om tot oor haar ore verlief te raak op ‘n fantastiese man en dan agter te kom dat hy dalk … net dalk haar halfbroer is. Hierdie storie speel af in die Timbavati en Klaserie gedeelte langs die Krugerwildtuin tussen die groot 5.

 

Die Romein van die Timbavati – Adele Reynders

 

Hoofstuk 1

 

Dis die soort sonsondergang wat enige besoeker aan die Timbavati in sy spore laat vassteek om te staar. Nie eens die beste skilder in die wêreld kan die kleure daarvan uit sy palet optower en akuraat weergee nie, besluit Andrea vir die soveelste keer in haar lewe. Sy kan nie regtig stilhou om dit te bewonder nie, want die stukkie sandpad tussen Ndlofumatlapa en die teerpad verg al haar konsentrasie en bestuursvernuf. Boonop sien sy al die laaste paar kilometer die spore van ‘n kleiner voertuig wat sukkelend vooruit geploeg het, en sy verwag om enige oomblik op toeriste af te kom wat in die sand vasgeval het.

Op die volgende draai is dit toe ook so. Sy is genoodsaak om van die pad af te ry en stil te hou, want daar voor haar in die pad, lê ‘n splinternuwe Alfa Spider op sy onderstel in die sand. Die deur aan die bestuurderskant is oop, maar van die bestuurder of sy passasiers is daar geen teken nie.

Andrea klim uit en stap om die motor, voordat sy bekommerd rondkyk. Sy hoop nie die mense het begin aanstap nie. Dis nog ‘n goeie sewe kilometer tot op Ndlofumatlapa. Die son sak vinnig en dis groot vyf omgewing!

Dan hoor sy iemand uitroep en sy sien ‘n man met ‘n selfoon in die hand van die koppie daar naby aangedraf kom. Sy kan nie help om te glimlag nie, want hy het waarskynlik agtergekom dat die selfoon vir hom hier by sy kar nutteloos is, aangesien daar op hierdie stukkie pad geen sein is nie.

En na sy moeite om koppie toe te stap, het hy waarskynlik agtergekom dat die ontvangs daar nie veel beter is nie.

Sy kan sommer aan sy houding sien hy is omgekrap. ‘n Ent van haar af steek hy  vas, gooi sy arms moedeloos in die lug en skree in Engels:

“‘n Vroumens! Moet asseblief net nie vir my sê dat jy ‘n vrou is nie.” Hy loop die naaste boom storm en moker die stam met sy vuis. Daarna uiter hy ‘n woord in ‘n taal wat Andrea glad nie herken nie. Die knoppiesdoring het hom teruggeneuk.

Sy skud haar kop en besluit dat so ‘n uitbarsting nie ‘n antwoord werd is nie. Laat sy liewer op die rooi gespuisie in die pad konsentreer. Daar is altyd ‘n sleeptou agter in haar Land Rover, want dis nie die eerste keer dat sy toeriste se motors uit die sand moet trek nie. Sy buk voor die kar en voel-voel na ‘n geskikte plek om die tou vas te haak.

“Dame, wat maak jy?” Weer Engels met daardie vreemde aksent. Hy draf nader en vir die eerste keer kry Andrea kans om hom behoorlik te bekyk. Italiaans, sonder twyfel, besluit sy, van gemiddelde lengte, met helder blou oë en donker hare. En ten spyte van die feit dat sy hare in ‘n kort poniestert agter sy kop vasgebind is, kan sy nie help om raak te sien dat hy besonder manlik en aantreklik is nie.

“As jy hier ry, aanvaar ek dat jy op pad is na Ndlofumatlapa toe,” antwoord sy ook in Engels. “Ek gaan jou kar daarnatoe sleep, want ry kan jy nie verder nie. Klim asseblief terug in jou voertuig. Hierdie is leeuwêreld.”

“Leeus?” Hy praat lang Italiaanse sinne terwyl hy agter die stuurwiel inskuif.

Sy wag skaars vir hom om sy deur toe te klap, of sy begin ry. Dit gaan broekskeur en amper toubreek tot op Ndlofumatlapa, en Andrea slaak ‘n sug van verligting toe sy uiteindelik die Land Rover voor die groot klipgebou tot stilstand bring. Die Italianer bly sit, met ‘n selfoon teen die oor. Dit het hom duidelik nie lank gevat om agter te kom dat die sein hier baie goed is nie. Terwyl hy praat, beduie hy woes met sy ander hand in Andrea se rigting.

“Ek stuur iemand om jou te ontvang,” sê sy. “Ons sal die tou môre losmaak.” Sy stap weg, glad nie lus om te wag vir ‘n roerende dankie van ‘n emosionele Italianer nie.

Of ‘n uittrap omdat die hardhandige bosveldhantering nie goed was vir sy rooi affêretjie op wiele nie.

 

“Andrea, jy moet kom. Die Romein, wat in doktor Hein se plek gaan waarneem, het blykbaar gisteraand gearriveer en hy wil die personeel in die eetkamer ontmoet.” Kollega Lizette, klop net voor agt die volgende oggend aan die curiowinkel se deur om Andrea se aandag te trek.

“Romein? Jy praat seker van die Italianer wat ek gisteraand hier ingetou het. As hý die man in doktor Hein se plek is, is ons in die moeilikheid. Hy is erger as ‘n onbeholpe toeris. Hy kan nie eens doktor Hein se groottoon volstaan nie, wat nog te sê van sy plek,” brom Andrea.

“Ek hoor jou nie! Kom dadelik,” beduie Lizette en wikkel aan die toe deur. “Ons is laat.”

“Ek het die voorreg gehad om hom gisteraand te ontmoet. Gaan asseblief sonder my. Ek moet nuwe voorraad uitpak,” roep Andrea oor haar skouer en sny die toue om ‘n groot kartondoos los. “Ek is nie lus vir ‘n simpel vergadering nie. Dis tydmors.”

“Jammer, maar dié keer moet jy maar die vergadering bywoon. Opdrag van Hein Kaiser uit die hospitaal in Johannesburg.” Lizette kry die deur oop, kom haal die mes uit Andrea se hand en plak dit iewers neer. Daarna trek sy haar agter haar aan konferensiekamer toe. Hulle sit skaars, of meneer Poniestert stap in met ‘n dagboek in die hand. Hy knik ‘n sku groet voordat hy gaan sit.

Hy blaai tot by vandag se datum.

“Buon giorno, signore Bettini,” groet Lizette en giggel toe die donkerkop man se gesig ophelder en hy entoesiasties in Italiaans antwoord. “Nee, nee, ek kan nie regtig Italiaans praat nie,” stel sy die saak dadelik in Engels reg. “Ek wil jou net laat welkom voel hier by ons op Ndlofumatlapa.”

“O!” Sy aantreklike gesig val weer.

“Ag siestog, amper word hy bly toe hy hoor die gawe antie praat sy moedertaal,” spot Pieter Conroy, algemene voorman en ruskampbestuurder van Ndlofumatlapa.

“Sjuut, hy hoor wat jy sê.” Andrea kyk vermanend na Pieter.

“Nee, my skat. Hy hoor dát ons praat. Maar hy verstaan nie wát ons sê nie. Die man is Italiaans,” stel Lizette haar gerus. “Hy het eergisteroggend uit Italië in Suid-Afrika aangekom. Toe het hy doktor Hein in die hospitaal besoek, waarna hy reguit hiernatoe gekom het.”

“Sjoe, maar julle is ingelig. Ek dog ek is die eerste persoon om die man op plaaslike front te konfronteer.”

“Hoe so?” vra Lizette.

“Sy moes hom gisteraand met die Land Rover insleep. Hy het die sandpad met ‘n Alfa Spider aangedurf en vasgeval,” verduidelik Pieter.

“Met ‘n Alfa Spider?!” roep Lizette uit en daar heers skielik ‘n doodse stilte om die tafel. Alfa Spider is universale taal en die Italianer weet waarskynlik nou dat hy die middelpunt van ‘n hewige diskussie in Afrikaans is. Lizette lig haar hand en slaan weer oor na Engels. “Jammer, Meneer.”

“Kan ons asseblief begin?” Stefano Bettini kyk ‘n oomblik streng en byna geïrriteerd na die mense by hom.

“Daardie ysige blou kyk kan mens teen die grond vaspen,” fluister Andrea sag in Afrikaans. “Raak aan ‘n man se kar en jy raak aan hom.”

“Hy mag maar. Daar is net een man wat mooier blou oë as hy het, en dit is Hein Kaiser,” sug Lizette en keer met die hand toe Stefano haar reguit aankyk. “Ekskusie, muwa.”

“Watter taal is dit?” vra Andrea geamuseerd.

“Sir, Mister New Boss. Kan ek gou met Andrea praat?” Hierdie keer is dit Anna uit die kombuis, wat Stefano se poging om ‘n paar woorde in te kry, in die wiele ry.

“Who is Andrea?” vra Stefano gelate en leun terug in sy stoel. Hy besluit waarskynlik nou in sy enigheid dat dit beter is om homself gemaklik te maak, sien Andrea, want dié vergadering gaan lank aanhou. Ndlofu se personeel steur hulle nie juis aan formele vergaderingsprotokol nie.

“Dis ek. Wat is dit, Anna?” vra Andrea. Sy weet sy behoort nie te lag nie, maar sy kan dit nie verhelp nie. Die uitdrukking op die Italianer se gesig spreek boekdele.

“Andrea, jy moet my help. Kan ons iewers gaan praat waar dit privaat is?” Die donker vrou kyk na Stefano. Dit is duidelik dat dit wat sy op die hart het, nie vir die nuwe baas se ore bedoel is nie.

“Jy kan praat. Hy is ‘n uitlander. Hy is Afrikaans doof.” Andrea glimlag in sy rigting en hy trek sy skouers op, so Anna laat waai met haar verduideliking.

“Oukei, die ding is so. Sjef Charl het gesê ek moet vars kruie gebruik in die kos, want hierdie uitlander gaan nie hou van gedroogde bottel-goed nie. Nou het hy gery en ek mag nie in sy tuin gaan pluk nie.”

“Niemand mag in sy tuin pluk nie!” troos Andrea. “Dan moet jy die kos maar met iets anders opjazz. Wat gaan jy kook?”

“Gedink miskien hoenderpastei met rys en groente. Charl het gesê ons moet die man beïndruk, want hy kan lekker eet.”

“Regtig, met daardie mooi lyf?” Lizette beduie met die hande hoe netjies sy lyf nou eintlik is, sonder om in die buitelander se rigting te kyk. “Dit lyk meer asof hy heeldag in ‘n swembad oefen en in die son bak.”

“Lizette, jy gedra jou soos ‘n vrou wat nog nooit ‘n man gesien het nie,” raas Andrea. Sy dink ‘n oomblik na. Sy hou niks van kosmaak nie. Sy weet nie regtig hoekom dit juis sy is wat elke keer die kombuis moet erf as die sjef, Charl die pad vat nie. “Ek dink heet hom welkom met iets wat hy ken, maar met ‘n inheemse geur. Lasagne á la Afrika, met gekapte marog en surings. Genoeg knoffel en wyn. Fyngekapte vars blare van die wortels in die groentetuin en die uielobbe wat ons gister by oom Hansie gekry het.” Andrea kyk verontwaardig na haar twee kollegas toe hulle uitbars van die lag. “Wat is verkeerd? Niks daarvan is giftig nie.”

“Ek sal so maak,” besluit Anna nadat sy ‘n oomblik nagedink het. Sy verstaan ook duidelik nie hoekom die ander lag nie. “Is daar nog iets?”

“Mopaniewurms met roomkaas vir voorgereg. En sorg dat Lizette die grootste porsie kry.” Die gewenste uitwerking. Dit vee die glimlag van haar gawe kollega se gesig af.

“Maak my liewer dood, ek eet nie wurms nie!” roep die vrou uit.

“Sien, julle mense eet dit nie. Hoekom sal daardie man dit doen?” Anna loer weer bekommerd in Stefano se rigting, maar sy gesig bly absoluut uitdrukkingloos.

“Dis net vir Meneer. Dis sy vuurdoop op Ndlofumatlapa.” Andrea draai met ‘n glimlag na Stefano wat geduldig wag dat sy moet klaarmaak. “Dis al dankie, Sir Mister New Boss Bettini. Die vloer is joune.”

“Dankie, antwoord hy in Engels en voeg sarkasties by. “Maar asseblief, noem my van nou af Stefano. Nie Mister Bettini nie en beslis ook nie Sir Mister New Boss Bettini nie. Dit neem ‘n leeftyd om deur al my titels te werk.”

“Sure! Oef, dan is hy nog ‘n kapokhaantjie ook,” fluister sy vir die ander in Afrikaans.

“Kan ek net eers hoor wie elkeen van julle is en wat julle verantwoordelikhede hier op Ndlofu is?” Stefano kyk reguit na die enigste man wat by die tafel sit.

“Pieter Conroy – ruskampbestuurder en veldwagter. Bly om te ontmoet.”

“So jy is Pieter, nie Peter die Engelsman nie?”

“Pieter, Peter, wat ook al vir jou die maklikste is.” Hy slaan oor na Afrikaans. “Dis seker omdat doktor Hein altyd van my as die ‘Engelsman’ praat dat hy dit vra. Ek het al vergeet my pa was ‘n Hanskakie.”

“Dis die Conroy-gedeelte,” besluit Lizette. “Dis ‘n Ierse van.”

“Pieter, is jy die man wat die slange aanhou?” Stefano ignoreer die Afrikaans wat tussenin gepraat word. “Doktor Hein vertel my dat jy al twee-en-veertig van die goed het.”

“En as mense in die omgewing bel omdat die diertjies in hulle pad is, gaan haal ek nog. Dis my passie in die lewe.” Pieter is baie trots op sy slange.

“Gaaf!” Andrea sien geamuseerd hoe Stefano hom ‘n oomblik aankyk asof hy dink die man is van lotjie getik, voordat hy na Lizette draai. “En jy is?”

“Lizette – finansies, skakelbord en ontvangs,” Sy sug swaar en slaan oor na Afrikaans. “En die vrou wat die grond aanbid waarop doktor Hein trap. Ek wens hy was al terug. Ek het niks teen hierdie Romein nie. Dis net dat ek doktor Hein so geweldig mis dat dit ‘n pyn is om elke oggend op te staan.”

“Lizette, bly om te ontmoet.” Stefano knik en toe kyk hy stip na Andrea. So stip, dat haar hart ‘n slag mis. Dis nie elke dag dat daar aantreklike Italiaanse ridders met rooi ysterkoetse op Ndlofu aankom nie. “Jy het jouself nie gisteraand aan my voorgestel nie.”

“Nee, daar was nie tyd nie.” Sy glimlag en verduidelik in Afrikaans aan die ander. “Hy was te besig om sy nerwe teen ‘n boomstomp af te moker, want hy het niks daarvan gehou dat dit ‘n vrou is wat hom kom red nie.” Toe kyk sy hom reguit aan. “Ek is Andrea, chief cook and bottle washer!”

“Ek is jammer, maar ek verstaan nie. Ek het reeds gesien dat jy die plaaslike insleepdiens is,” sê hy sedig, “maar wat doen jy nog?”

“Die curiowinkel is my verantwoordelikheid. Ek skuif meubels rond en probeer om die plek mooi te maak. En as Charl stad toe pollefink om voorrade te koop, soos vandag, pas ek sy kombuis op,” verduidelik sy.

“En behoed die res van ons … Charl is ons sjef,” verduidelik Lizette hulpvaardig.

“Ek sien …” Stefano frons en sy kyk uitdagend na hom.

“Wat sien jy? Dat ek dit haat om kos te maak?” vra sy in Afrikaans. Maar natuurlik sal hy nie antwoord nie. Hy verstaan haar nie en hy weet ook nie waaroor hierdie skielike opstandigheid van haar gaan nie.

“Ek ken vir Charl. Ons het in Italië ontmoet,” praat Stefano verder asof Andrea niks gesê het nie.

“Dan is dit seker op Charl se advies dat doktor Hein hierdie Italianer hoofman oor sewe gemaak het,” mor Andrea.

“Oukei … en die veearts? Is hy in die veld?” vra Stefano en skud sy kop, so asof alles hom ‘n bietjie dronkslaan en hy nie kan glo wat hier op Ndlofumatlapa gebeur nie.

“Luca versorg ‘n leeuwyfie wat in ‘n strik beland het.” Pieter glimlag skielik en praat weer met sy kollegas in Afrikaans. “Maar die Romein sal hom seker nog as gevolg van, of tydens een of ander woeste ontploffing, ontmoet. Die knaap is seker weer besig om ‘n ramp te veroorsaak.”

Andrea draai omgekrap na Stefano toe hy sy dagboek toeklap. Die vergadering kan tog nie al verdaag nie. Hulle weet nog niks van hom, of sy rol nie. Sy vra: “Verskoon my, maar wat van jou? Wat is jou verantwoordelikhede hier op Ndlofumatlapa?”

“Om heeltemal eerlik te wees …” Stefano trek sy skouers op. “Ek het geen idee nie. Dus, as iemand my nodig het en as ek iewers kan help, sê so. Ek is in elk geval net hier totdat doktor Kaiser terug is. Baie dankie en geniet die dag.”

Andrea kyk hom fronsend aan voordat sy na haar kollegas draai en haar skouers ophaal.

“Nou wat het Hein Kaiser gedink toe hy hierdie ongeletterde Fariseër vir ons gestuur het?” vra Lizette verontwaardig in Afrikaans en toe glimlag sy. “Aan die ander kant, dis lekker om ‘n mooi sterk man soos hy op die plaas te hê. Wat my betref, hoef hy net heeldag te sit en mooi lyk.”

“Genade, Lizette, dis tyd dat jy terugkeer beskawing toe om agter te kom dat daar ‘n duisend mans is wat aantrekliker én interessanter is. Gelukkig is hierdie onbeholpe een net vir ses weke hier. Maar omtrent hierdie … Romein. Wat dink julle doen hy normaalweg vir ‘n lewe?” Andrea kyk nie na Stefano nie, want hy mag nie agterkom dat hy die onderwerp van bespreking is nie. “Toerisme? Hy kan dalk vir ons duisende gaste uit Europa stuur as hy lekker hier kuier.”

“Nee, ek raai, hy is ‘n haarkapper. Daardie netjiese donkerbruin poniestert, so mooi by die blou oë, kom uit ‘n botteltjie Harmony,” besluit Lizette en kyk met openlike bewondering na hom.

“Nee, dis nie gekleur nie. Daar is te veel grys hare tussenin.” Andrea skud haar kop. “Waar is jou bril, vriendin?”

“Ek wil nie met ‘n bril kyk nie. Ek wil hierdie beeld van ‘n man onthou soos wat hy vandag in my geheue ingeprent is. En ek wil hom altyd so onthou, wanneer sy rooi stofwolkie oor ses weke van die plaas af wegry.”

“Jy is verspot,” raas Andrea. “Wat dink jy, Pieter?”

“Hy is ‘n juwelier. Die ketting om sy nek bevat genoeg goud om De Beers uit te koop, en weeg seker ‘n ton.” Pieter skud sy kop bevestigend. Hy glo beslis hy het ‘n punt beet. “En dis net ‘n uitlander wat dit sal waag om in die bos rond te loop met so ‘n flambojante ring aan sy regterhand. ‘n Kraai pik dit met vinger en al af.”

“De Beers het te make met diamante,” help Lizette hom reg. “Waar is jou algemene kennis?”

“Maak dit saak? As daar ‘n slang om sy nek gehang het, sou ek jou kon sê watter spesie dit is,” keer Pieter. “Ek hoop hy weet iets van karre af, want môre moet hy my help om die stukkende Land Cruiser se enjin uit te haal. Hy het mos aangebied om te help.”

“Wel, wees net versigtig, netnou knyp jy sy silwerskoon sagte vingertjies in ‘n piston vas,” spot Andrea. “En laat hy net eers die goudmyn aan sy regterhand in die kluis toesluit. Verskoon my, ek het werk en daarna moet ek die tafels in die lapa gaan mooi maak, aangesien ons ‘n belangrike uitlander vir aandete het.”

“Stefano, wil jy saam met my en my Franse gaste op ‘n wildbesigtigingstoer gaan?” vra Pieter vriendelik in Engels en die laaste wat Andrea van die Romein sien op haar pad uit, is dat hy die uitnodiging dankbaar aanneem.

 

Prentjies maak en goed bymekaar sit om mooi uitstallings te maak, is iets wat Andrea goed kan doen. Op elke tafel staan ‘n plat bak met ‘n aalwyn in. ‘n Kraanvoëlblom aan ‘n lang stingel lyk asof dit die aalwyn se eie blom is. Kerse, lanterns en ‘n heerlike kampvuur sorg vir ‘n lekker knus Afrika-atmosfeer, net wat nodig is op so ‘n koelerige wintersaand. Die kos en slaaie word in kleipotte en in swart driepootpotte opgedien. Andrea staan terug toe Stefano saam met Charl, die ‘wettige’ opgeleide sjef op Ndlofumatlapa, by die lapa instap.

Op daardie oomblik kom Anna nader en oorhandig met groot gebaar ‘n bakkie mopaniewurms aan Stefano. Charl staar stomgeslaan na die Afrika-lekkernye, terwyl Andrea en die ander asem ophou vir Stefano se reaksie.

Die stilte is tasbaar en Stefano moet agterkom dat almal se aandag op hom gevestig is. Maar hy neem sonder omhaal ‘n tandestokkie op die tafel, steek dit deur een van die wurms, doop dit in die sousie en eet dit.

Lizette lyk of sy gaan omdop van skok en verbasing.

“Blikkies, en dan moet iemand daardie mond een of ander tyd soen,” steun Andrea. Sy het ook geglo dat hy in afgryse sal staar voordat hy die bakkie met ‘n boog van hom af wegslinger.

“Shut up. Onthou dis jy wat dit aan hom gedoen het,” raas Lizzette.

“Baie lekker, maar ek is beslis nie van plan om my eetlus te bederf nie. Kry gerus vir julle ook.” Stefano sit die bakkie op die kant van die tafel neer en aanvaar die bord wat Charl na hom toe uithou. Hy skep vir homself ‘n baie klein porsie lasagne in voordat hy by die tafel gaan sit.

“Nou ja, Pieter, sal jy vir ons dank?” vra Charl en skuif langs Stefano by die tafel in.

“Seker.” Soos wat die man vir die kos dank, en die hande wat dit voorberei het seën, sou Andrea kon sweer hy dink dat haar gereg die spul gaan siek maak vanaand. Sy maak haar oë oop en kyk vas in die geamuseerde uitdrukking op Stefano se gesig.

As sy nie van beter geweet het nie, sou sy amper kon glo hy verstaan elke woord wat Pieter sê en dat hy dit vreeslik snaaks vind. Sy knyp haar oë weer haastig toe.

“Buon Appetito!” Stefano proe aan die lasagne, terwyl almal hom dophou. Na die eerste hap sit hy sy vurk neer, leun agteroor en drink van sy wyn.

“Is daar fout met die kos?” vra Charl bekommerd. Hy proe en roep ontsteld uit. “Nee, net nie dit nie! Wortelblare en marog?! Suring klawertjies vir versiering? En sampioensoppoeier? Jy moes harder gebid het, Pieter.”

“Dis Afrika. Onthou, ons het nie altyd die regte soort vars goeters om in te gooi nie. Buitendien, net jy sal gepla wees oor die soppoeier. Die meeste ander mans, soos hy, gee nie om nie, want hulle weet nie van beter nie.” Andrea beduie met haar duim in Stefano se rigting.

“Jy reken? Lyk dit of hy sit en smul aan die kos? Stefano besit restourante in Italië, Kaapstad en Johannesburg. Hy is ‘n gourmet sjef. Ek het vyf jaar lank vir hom gewerk in sy restourant in Rome. Nie saam met hom nie, vir hom, ónder hom. Hy was my baas! Wat ek van kos af weet, het ek by hom geleer. En hoekom praat julle van Stefano asof hy nie hier is nie?” Hy kyk na Stefano en Stefano kyk stom terug.

“O ja, ekskuus, hy dink seker ons skinder van hom.” Andrea kyk verskonend in Stefano se rigting.

“Magtig, hy weet julle skinder van hom! Dink julle hy verstaan nie wat ons sê nie? Dink julle hy is ‘n moroon?” Charl raak by die oomblik meer opgeklits. Sy stem klim ‘n oktaaf of selfs meer.

“As hy verstaan, vreet ek sy Gucci-stewels met olyfolie op.” Lizette skud haar kop. “Nee, geen manier nie.”

“Jy moet hoor wat ons al alles voor hom in Afrikaans kwytgeraak het, terwyl sy gesig so reguit soos ‘n Michelangelo-beeld gebly het,” verduidelik Andrea.

“Nee, julle het nie! Wat het julle alles voor hom kwytgeraak?” Charl se oë rek groot. “Stefano, is daar iets wat die kollegas gedoen of gesê het waarvoor ek moet skaam kry?”

“Pardon, Charl?” Vir nog ‘n kort oomblik hou Stefano sy gesig uitdrukkingloos, maar toe vryf hy oor sy hare en trek sy skouers op.

“Stefano, wat het in my afwesigheid hier gebeur? Moet ek die mense fire?”

“Nee, maar jy sou lekker saam gelag het, as jy hier was,” antwoord hy in die mooiste Afrikaans en toe begin hy om sy skoene se veters los te maak. “En nou het ek ‘n vraag vir daardie dame. Jou naam is mos Lizette? Wil jy my skoene nou opvreet of vir ontbyt? Terloops, dit is sommer Jeep, nie Gucci nie. En ek het dit in Johannesburg by ‘n taamlik gewone winkel gekoop.”

“Hoekom het jy nie gesê dat jy Afrikaans praat nie?” vra Lizette nadat almal vir ‘n paar minute van skok sit en gaap het.

“Ek het gedink dat julle oorwegend Engels is. Ek het Andrea gister langs die pad ontmoet en sy praat Engels soos ‘n Engelse nooi. Ek was daarop voorbereid om Engels te praat, want doktor Hein het van Peter Conroy gepraat asof hy Engels is.”

“En toe ons almal voor jou Afrikaans praat, en jy verstaan elke woord wat ons sê?” Andrea weet nie waar om haar kop in te druk nie. “Hoekom praat jy nie toe Afrikaans nie?”

“Baie eenvoudig. Dit was verskriklik vermaaklik! Dan was dit natuurlik die beste manier om ‘n oor agter die skerms van Ndlofumatlapa in te gooi en agter te kom wie en wat die mense regtig is.”

“Dit was agterbaks,” raas Andrea verontwaardig. “Sies, man.”

“Oppas, jy praat met jou nuwe baas,” keer Charl.

“Jammer.”

“Twak.” Stefano lag lekker oor haar verleentheid. “Ek is niemand se baas nie.”

“Dis nie wat doktor Hein sê nie. En terloops,” voeg Charl gewigtig by, “indien daar enige van julle vroumense is wat Stefano as ‘n vangs beskou … die man is verloof aan ‘n pragtige Italiaanse vrou.”

 

Hoofstuk 2

 

“Gaan gerus aan met jou werk. Ek kom net kyk lyk die chief cook en bottle brusher se winkel.” Stefano stap stadig tussen die rakke deur. Hy hou sy hande waar sy dit kan sien, om te wys dat hy geen bybedoelings van enige aard het  nie. Sy hele houding wys dat hy maar net ‘n bietjie na al die mooi goedjies kom kyk.

“Vryf dit nou in.” Andrea is nog steeds skaam en verleë omdat hulle klomp hom die vorige dag so bespreek en ontrafel het. Sy vryf oor haar skouerlengte hare wat sy sommer met ‘n stuk tou bymekaar gebind het. Die helfte het egter reeds uitgeglip en besluit om die wette van gravitasie te verontagsaam. Sy gryp ‘n mes om ‘n boks vol nuwe voorraaditems oop te maak. Sy kan nie vir hom kyk nie. Behalwe dat sy skaam is oor haar aandeel in die totale anargie wat gister in sy vergadering geheers het, maak die kyk in daardie blou oë van hom iets in haar vrouwees wakker wat sy lankal in ‘n donker kas toegesluit het.Ontoelaatbaar.

“Ek kan sien dat jy baie kunstig is.” Stefano gaan staan skielik botstil en draai sy kop skuins, asof hy luister. “Surta è la notte … Ernani! Ernani, involami. Luister jy opera?”

“Dis die musiek waarvan ek hou.”

“Wow! Nou weet ek waarheen ek gaan ontsnap as die bosse my inhaal! Ek is so bly hier is nog iemand wat na operamusiek luister.”

“Dis die enigste musiek wat ek in die winkel speel. Dis van ‘n ver land, maar dit pas vir my by die bos. Sing jy?” Andrea sny toue los. Sy kan nooit verstaan hoekom mense hulle produkte verpak asof niemand dit ooit weer hoef uit te haal nie.

Maar Stefano kom vinnig nader en haal die mes versigtig uit haar hand.

“Laat my toe om dit te doen, want bloed gaan spat as jy ‘n mes so hanteer. Jy korrel reguit vir jou ander hand!”

Vir ‘n oomblik staan sy versteen. Sy aanraking stuur skokgolwe deur haar liggaam. Wat moet sy doen? Baklei en die mes terugvat? Vir hom wys wie is baas in die winkel? Maar dan staan sy terug.

“Jy vra of ek kan sing?” Stefano moes haar reaksie gesien het, maar hy steur hom duidelik nie daaraan nie. Hy sny die toue deur en sit die mes op die rak neer voordat hy antwoord. “Nee, nie alle Italianers kan mooi sing nie. Italianers word natuurlik groot met opera. Maar ek beskou myself eintlik as ‘n baster-boerseun. Ek was in ‘n Afrikaanse hoërskool in Pretoria. En vakansietye saam met dokter Hein op sy woeste avonture.”

“Saam met doktor Hein?” Sy kyk verbaas na hom. En sy het gedink dat hulle klompie hier op Ndlofu min of meer alles van Hein af weet. En hier arriveer ‘n skim uit sy lewe waarvan nie een van hulle, behalwe miskien Charl, iets geweet het nie. “Is jy familie van doktor Hein?”

“Nie so dat enigiemand dit sal agterkom nie,” antwoord hy met ‘n vreemde glimlag. En toe bly hy stil, asof daar ‘n deel van sy lewe is wat hy privaat wil hou.

Privaat wees is iets wat Andrea respekteer.

Sy pak kerse met diervelmotiewe uit en begin die verpakking rondom die kerse oopvou. En kort voor lank werk die Italianer saam met haar. Hy gee vir haar die kerse aan en sy rangskik dit op ‘n rak wat sy daarvoor leeggemaak het.

Maar hy werk ook op ‘n ander manier aan haar, veral wanneer hulle hande aanmekaar raak as hy ‘n kers aangee …

Hoe gaan sy hierdie ses weke verbykry, wonder sy minder as ‘n halfuur later. Vir die eerste keer in sestien jaar stap ‘n man vir wie sy dalk kan omgee, haar lewe binne. En nou is dit ‘n Romein, op wie daar ‘n pragtige vrou in Rome of iewers wag.

“Ek dink die mense gaan daarvan hou,” besluit sy en staan terug om die uitstalling te bekyk.

“Die mense behoort van alles in jou winkel te hou. Jy het goeie smaak.” Stefano gaan sit op ‘n stoel langs die toonbank en beduie na ‘n perkoleerder wat staan en prut. “Van Italianers gepraat. Onthou, die meeste baster-Italianers hou van goeie koffie, maar die helfte van hulle sal vrek voor hulle vra.”

“Is jy een van die Romeine wat vrek voor hulle vra?” spot sy saam.

“Beslis nie. Kan ek koffie kry, asseblief” Geen melk of suiker nie, dankie.”

“Natuurlik,” lag sy, en vee haar hande sommer aan haar uniform se langbroek af voordat sy vir hom ‘n beker uithaal en koffie skink. “Ek is bly jy praat Afrikaans.”

“Ek ook. My Engels is maar beroerd.” Hy glimlag skeef.

“Toemaar, jy kon jouself darem duidelik genoeg uitdruk,” troos sy. Toe hulle elkeen met ‘n koppie koffie in die hand sit, vra sy: “Vertel my van jou verloofde. Is sy mooi?”

“Ja, verskriklik mooi,” antwoord hy so ernstig dat Andrea wonder of hy trots daarop is, of spyt. “Glansende donker hare en groen oë. Mans sien haar nie net raak nie. Hulle loop teen lamppale vas as sy op straat verskyn, want hulle kan nie weer wegkyk nie. Haar klere kom uit die duurste winkels en jy kan haar altyd deur ‘n ring trek. So, dis ‘n opsomming van Angelika. Het … jy ‘n ridder in jou lewe?”

“Nee.”

“Onmoontlik. Hoe kan ‘n pragtige mens soos jy nie iemand spesiaal in jou lewe hê nie?” En dan, asof hy voel dat hy dalk uit lyn was met sy opmerking, verander hy  die onderwerp: “Kom ons praat liewer oor die plaas. Hoe lank ken jy vir doktor Hein en van wannneer af is jy hier op Ndlofumatlapa?”

“Ek het ongeveer vyf jaar gelede hier begin werk. Ek ken doktor Hein al vir jare, aangesien ek in die omgewing gebore en getoë is. Wel, so goed as wat iemand soos doktor Hein hom seker laat ken. Hy is eintlik baie privaat.” Sy wag dat hy daarop moet reageer, maar hy sit net na die laaste bietjie swart vloeistof in sy koppie en staar.

“Het jy gehoor dat hier, na baie jare, weer wit leeuwelpies in die Timbavati is?” vra sy om hom weer aan die praat te kry. Sy hou nie van die ongemaklike stilte wat skielik tussen hulle kom lê het nie.

“Ja, gesien in die koerante. En ek is bly dat niemand meer leeus mag jag in die omgewing nie.” Hy sit die koppie onverwags neer en staan op. “Ek moet seker iets anders gaan vind om te doen. Jy het nie dalk vir my nog werk nie?”

“Jy is baie snaaks,” lag Andrea. Hoe kan die man waarvoor hulle moet baas sê in Hein Kaiser se afwesigheid, vir haar werk vra? Gelukkig kom Pieter tot haar redding.

“Andrea, kom help my gou by die slange, asseblief.” Hy beduie na ‘n emmer in sy hand. “Ek is bly Stefano is ook hier. Hy moet ook kom kyk na my reptiele. En dan wil ek hom ‘n guns vra. Daar is Italiaanse gaste op een van die buurplase. Hulle oorweeg dit om ‘n paar aande hier te kom spandeer. Sal jy hulle vir ons kan ontvang en bietjie rondneem?”

“Natuurlik.”

Hulle stap agter Pieter aan.

“Andrea, ek het pas ‘n vylslang persent gekry het.” Pieter haal ‘n yslike metaalkleurige slang uit die emmer en sit dit in haar wagtende hande.

“Kenmerkend, met sy driehoek-lyf. Hy is pragtig,” besluit sy, nadat sy die reptiel van alle kante bekyk het.

“Pragtig? Hoe kan slange pragtig wees?” Stefano bly geskok in die deur van die groot skuur staan. Hy is duidelik nie van plan om nader as dit te kom nie.

“Kom kyk naby.” Pieter vat die slang by Andrea, laat sak hom in sy nuwe glasbak-tuiste, en sit ‘n deksel op. “Nie een van die diertjies kan uitkom nie.”

“Dis winter en die meeste van die slange is passief en skuil agter klippe en tussen takke en blare in hulle hokke,” verduidelik Andrea, en dit gee Stefano blykbaar genoeg selfvertroue om nader te staan en deur die glas te kom kyk. Maar toe Pieter ‘n bruin huisslang uittel en na hom toe uithou, spring hy eenkant toe. Dit was suiwer adrenalien gemeet aan die afstand wat skielik tussen hom en Pieter is.

“Jy sal die man ‘n hartaanval gee,” raas sy, en probeer hard om ernstig te lyk. “Jy moet ophou om slange in mense se hande te sit, Pieter Conroy!”

“Ek het dit net na hom toe uitgehou om te kyk wat sy reaksie is. Ek sal nie my kinders laat val nie. Andrea, wys vir Stefano wie jou gunsteling is,” daag Pieter haar uit.

“Die een.” Sy tel ‘n yslike groot molslang uit. “Hierdie outjies raak nou skaars, want mense maak hulle dood omdat hulle so intimiderend lyk. Hulle is skadeloos, kry maklik seer en het baie vyande in die natuur.”

“Nou wat vreet die meneer? Ek is oortuig daarvan dat Italiaanse mensvleis-geregte ook op sy spyskaart is.” Stefano sorg dat daar ‘n afstand van minstens twee meter tussen hom en haar bly, net vir ingeval, sien Andrea.

“Dis ‘n sy. Mollie eet muise en molle, soos wat haar naam sê. Wil jy nie net aan haar voel nie?” vra Andrea en stap nader. Maar vir elke tree wat sy nader kom, staan hy min of meer drie verder weg.

“Nee, dankie. Mollie is nie my soort meisie nie,” keer hy desperaat.

“Andrea, staak dit. Nou maak jý die Romein bang!” raas Pieter. “Stefano, dis vir my baie duidelik dat die slange nie soveel aandag van jou gaan geniet dat jou gesondheid daaronder gaan ly nie, maar bly weg van daardie mamba, al die kobraspesies, die rinkhals en die pofadder. Die boomslang in daardie hok en sy voëlslang buurman is ook nie ‘n man se maat nie, al sal hulle nie maklik ‘n byt inkry nie. Dis agtertandslange. Maar hulle kan ‘n vinger raps of ‘n skrams byt gee. Die slagoffer begin bloei en die bloed stol nie.”

“Dis genoeg inligting vir een dag. Laat ek dit kortliks vir meneer Bettini opsom,” val Andrea hom in die rede. Pieter sal heeldag op hierdie trant aangaan. “As jy die slange nie ken nie, en jy weet nie wat hulle aan jou kan doen nie, dan bly jy weg en jy vat nie aan hulle nie. Goed so?”

“Jy lees my gedagtes!” antwoord Stefano sedig.

 

“Ek sien jy het darem intussen werk gevind vir jou hande.” Andrea sien Stefano eers weer later die middag waar hy met sy notaboek rondstap.

“Ek was jare gelede laas hier, maar hier is nie veel veranderings aangebring nie. Hierdie ou meubels het doktor Hein nog by sy ouers geërf. Ek sien darem ‘n nuwe oortreksel hier en daar. Dit is duidelik dat hier nie juis onbeperkte fondse beskikbaar is nie.”

“Jy weet dan,” glimlag sy. “As jy oor geld wil praat, praat met Lizette.”

“Ek wil. Kom saam.”

In Lizette se kantoor tref die waarheid omtrent Ndlofumatlapa se finansies Stefano om een of ander rede soos ‘n koeël uit ‘n jaggeweer, sien Andrea. As hy vermoed het dat die wildsplaas finansieel nie te goed vaar nie, weet hy dit nou vir ‘n feit.

“Hein Kaiser se beleggingsgeld is opgebruik, Stefano. Die personeel is al tot op die been gesny en die wat oorgebly het, probeer hard om die plaas op ‘n manier finansieël te laat oorleef. Die grond is miljoene rande werd, maar die kontantvloei is daarmee heen. Die balju het al meer as een draai deur die gebou gestap en goedere opgeskryf,” verduidelik Lizette simpatiek.

“Dis die soort stres wat vir Hein Kaiser hartprobleme kan gee.” Stefano kyk bekommerd na haar. “Ndlofumatlapa is sy hele lewe.”

“Syne en ons s’n. Almal probeer help. Andrea genereer ‘n klein salaris uit die curiowinkel en betaal die res in die plaas se rekening in. Die ander mense, ek inkluis, se salarisse is drie maande gelede al met die helfte gesny. Luca Willemse het sy dienste as veearts in die omgewing beskikbaar gestel en hy betaal die helfte van alles wat hy verdien in Ndlofumatlapa se bankrekening in, sodat doktor Hein kan aanhou met sy navorsing.”

“Charl doen gereeld intieme klein gourmet onthale vir uitgelese gaste,” voeg Andrea by.

“Ek weet nie watter soort besoldiging Hein Kaiser jou aangebied het nie, maar hier is nie geld wat rondlê nie.” Lizette kyk verskonend na hom.

“Moenie bekommerd wees nie. Doktor Hein betaal my nie ‘n sent nie. Ek het aanvanklik nie geweet wat my doel hier gaan wees nie. Nou besef ek dat hy waarskynlik te desperaat en trots is om met my oor sy finansiële dilemma te praat. Hy wou gehad het ek moet dit self kom uitvind.” Stefano staan op en stap heen en weer in die kantoor, asof hy probeer uitwerk hoe om die situasie te hanteer. En toe Andrea die uitdrukking op Lizette se gesig sien, besef sy dat haar kollega, net soos sy wonder hoekom dit Stefano so ontstel. Na ses weke keer hy terug na sy deftige restourante en daarna sal hy van hulle vergeet.

“Ek moes lankal hiervan gehoor het …,” sug hy egter.

“Wat kan jý hieromtrent doen? Het jy geld om in ‘n bodemlose put te gooi?” vra Lizette skerp. “Of stel jy dalk belang om Ndlofu by doktor Hein te koop?”

“Nie regtig nie,” keer Stefano. “Maar myns insiens is Ndlofu nie ‘n bodemlose put nie! Dit is ‘n goudmyn.”

“Ek stem saam. Die plek moet ontgin word en ordentlik bestuur word, deur iemand wat weet hoe om dit te doen. Nie deur ‘n wetenskaplike nie,” spreek Andrea haar gedagtes ook uit.

“Ek is mal oor Hein, Stefano. Maar in alle respek, hy weet nie hoe om met geld te werk nie. Hy gebruik die een belegging na die ander om te oorleef. En hierdie hartoperasie van hom is dalk die laaste strooi wat die kameel se rug gaan knak.” Lizette skakel haar rekenaar aan en trek die stoel langs haar nader. “Kom kyk. Ek hoop nie dat Hein gaan kwaad wees omdat ek dit vir jou wys nie.”

Stefano kyk na die syfers wat op die skerm voor hulle verskyn en kom tot een gevolgtrekking: “Dis duidelik. Hein Kaiser is amper deur sy astronomiese erfdeel en nou bly feitlik net die grond en sy huise in Duitsland oor.” Tot hulle verbasing begin Stefano lag. “Dis Hein Kaiser hierdie! Dink jy dat hy oorweeg om te verkoop?”

“Amerikaners het hom ‘n maand gelede ‘n hele paar miljoen rand vir Ndlofu aangebied.” Lizette lyk onthuts omdat hy lag. “Die huise in Duitsland sê hy, mag hy nie verkoop nie, omdat dit eintlik aan iemand anders behoort.”

“Huh?” Dit laat Stefano om een of ander rede sy lag heel insluk. “Hoe weet jy dit? Ek het dan verstaan dat doktor Hein se lewensverhaal die bes bewaarde geheim in die Laeveld is.”

“n Prokureur het ongeveer drie jaar gelede ‘n boodskap by my gelaat om aan doktor Hein oor te dra. Hy het die geboortedatum en besonderhede gesoek van die dogter aan wie hy sy huis by die Sternbergzee wil nalaat.”

“Sy dogter …” Stefano gaap haar nou openlik geskok aan. “Het hy ‘n dogter iewers? Kan jy onthou wat haar naam is?”

“Nee, die man het nie gesê nie. Ek het die boodskap vir doktor Hein gegee, en toe het hy in sy laboratorium gaan terugbel.”

“Het doktor Hein of die prokureur van enige ander kinders of familie gepraat?”

“Nie wat ek gehoor het nie.”

“Nou toe nou. Sy ‘dogter’ kry sy huis by die Sternbergzee … Dan het hy dit seker goedgedink om Ndlofumatlapa in sy testament vir een of ander instansie wat kakkerlakke navors na te laat.” Is daar ‘n vreemde bitter klank in Stefano se stem? Andrea en Lizette kyk na mekaar, maar nie een sien kans om dieper in die saak te probeer delf nie. Stefano kyk onverwags weer na Lizette. “Wat gebeur met doktor Hein se huis in Frankfurt?”

“Geen idee nie. Miskien het ek in elk geval heeltemal te veel uit my beurt gepraat.” Lizette kyk ernstig op na hom. “Dink jy ons kan iets doen om die plaas vir Hein Kaiser te red? Hy moet iewers werk en funksioneer solank hy leef. Na sy dood kan die grond seker maar verkoop word.”

“Jy is reg. Hy kan die plaas van die aardbol af laat tuimel, wanneer hy eendag nie meer daar is nie. Wie gee in elk geval om? Maar intussen moet ons kreatief begin dink en ander bronne ontgin om julle salarisse te betaal.” Stefano kyk ernstig na hulle. “Dit gaan moeilik wees, want soos julle weet luister die koppige ou Duitser na geen ander persoon as homself nie.”

“Wat stel jy voor?” vra Andrea.

“Ons sit vanaand koppe bymekaar en kyk of ons iets kan uitdink om hierdie vallende rammelende Dakota in die lug te hou solank as wat Hein Kaiser dit nodig het,” antwoord Stefano.

 

Teen sesuur spoor Andrea die Romein op waar hy onder ‘n boom by ‘n tafel sit en weer ‘n keer deur sy notas kyk.

“Jy is seker lekker honger na gisteraand se dieetkundige blaps. Het jy vanmiddag iets geëet?” vra sy. “Daar is altyd koue vleis en kaas in die yskas in die personeelkwartiere. Jy kan enige tyd deur die dag instap en vir jou ‘n toebroodjie maak. Ontbyt en aandete word in die personeel se lapa bedien. Dis deel van jou voordele as jy hier woon en werk.”

“Sê jy my nou eers. Daardie veraf rammeling wat jy hoor, is nie donderweer nie, dis my maag wat skree! Toemaar, ek spot sommer. Ek het biltong gekoop en geëet …” Stefano maak sy notaboek toe en staan op. “Is daar nog ‘n kamer in die personeelkwartiere?”

“Daar is. Maar doktor Hein het vir Charl gesê dat jy die beste kamer in die hoofgebou moet gebruik.”

“Nee, die beste kamer is vir gaste.”

“Die kamer langs dokter Luca Willemse staan leeg. Maar ek moet jou waarsku, julle deel ‘n badkamer en ‘n kombuis.”

“Is dit ‘n probleem?”

“Hy is bietjie van ‘n slonskous, maar hy is darem dikwels nie hier nie. En hy mag dalk lus wees om van jou goed in die yskas te leen. Veral as jy dit gebruik om jou bier koud te hou.”

“Toemaar, ek drink liewer rooiwyn en port. Ek gaan vanaand nog my goed oorskuif.”

 

Hoofstuk 3

 

Die volgende dag na ontbyt sluit Andrea Hein Kaiser se heiligdom vir Stefano oop. Hier hou hy duisende goggas agter glas en in kaste.

“Hein Kaiser is mos ‘n Duitser,” glimlag sy. “Sistematies en georganiseerd met sy werk. Ek dink nie daar is ‘n gogga-spesie in Suid-Afrika waarvan hy nie ‘n voorbeeld hier het nie, en ek dink nie hier is ‘n ander plek waar dit so mooi uitgestal word nie.”

“Ja, Hein Kaiser is ‘n ware Duitser: Sistematies en presies met sy werk.” Stefano skud sy kop. “Vertel my iets wat ek nie weet nie. Hy het glo al op universiteit sy eerste goggas versamel. Maar Madagaskar en Tanzanië het natuurlik gesorg vir die meer opwindende dierasies.”

“Madagaskar?” Andrea kyk verbaas na Stefano. Hoe is dit moontlik dat hy goed van doktor Hein weet wat sy en die ander personeel nog moet uitvind?

“Hy is amper dood aan een of ander uitheemse pes daar,” onthou Stefano.

“Het jy hom toe al geken?” pols Andrea hom. Sy wil nie hê hy moet ophou vertel nie.

“Ek het hom daar vir die eerste keer ontmoet.” Stefano kyk vinnig na haar en toe weer na die glaskas voor hom. “Ek kan nie glo dat hy sedertdien soveel goggas bymekaar gemaak het nie. Ek is verstom. Eaaauw!”

“Ek sien jy hou ook nie baie van spinnekoppe en skerpioene nie.” Sy lees die plaatjie voor hom.

“Aragnide,” bevestig Stefano. “Harig en grillerig. Ek het as kind altyd van sy spinnekoppe gedroom, maar in my drome was hulle groter as ek. En dan moes doktor Hein troos, of hy wou of nie.”

“Ek weet dat daar net ‘n paar spesies giftige spinnekoppe en skerpioene is, maar ek hou ook links verby as ek die goedjies gewaar,” erken Andrea.

“En tog hanteer jy slange!” Stefano kyk weer na haar met daardie ongelooflike blou oë van hom.

“Dis anders! Sien jy daardie rooibruin skerpioen? Die spesie is nie giftig nie, maar hy steek seerder as ‘n perdeby. Persoonlike ervaring.” Sy lig haar pinkie. “Die outjie het nie baie daarvan gehou toe ek hom teen die mat vasdruk nie!”

“Nou vir wat doen jy so ‘n sotlike ding?” vra Stefano gemaak besorg, maar die humor praat in sy oë.

“Ek het hom nie gesien nie. Gaan jy nog lank wees?” Andrea raak skielik haastig. Dit voel asof haar keel toetrek. Sy weet dat sy gaan begin nonsens praat om hom te probeer beïndruk. En sy weet dat sy moet wegkom voordat hy sien hoe haar hart op ‘n galop wegspring wanneer hy so reguit na haar kyk. “Ek moet my kunstenaars aan die werk gaan sit. Jy kan die deur net toetrek, dit sluit vanself. Sien jou later.”

“Nee, ek sal my ontdekkingstog voortsit as doktor Hein terug is. Ek gaan nou eers kyk of ek Pieter kan help met daardie Land Cruiser. Dis nou as hy belowe om nie my vingers in ‘n piston vas te knyp nie. Soos jy kan sien, my goudmyn het ek in my kamer gelos.”

“Sorry.” Sy hou haar hand voor haar gesig toe sy die gloed teen haar nek voel opkruip.

“Toemaar. Ek hou nie eintlik van sulke karbonkels nie, maar aangesien dit ‘n geskenk van my verloofde was, moet ek dit dra, anders raas sy met my. Kom ons gaan.”

Sy verloofde! Die woorde bring Andrea weer met ‘n dofsware plof terug aarde toe. Sy moet haarself aanhoudend herinner dat hy nie ‘n lank vergete prins is wat haar dalk eendag uit ‘n honderd jaar slaap gaan wakker kus nie.

Wanneer Andrea die deur agter hulle toetrek, val iets haar by. “Lizette het ook gevra of jy later vanmiddag ‘n groep Duitse gaste met die groot Land Rover sal uitneem veld toe? Jy kan mos Duits praat. Miskien het die mense vrae, waarmee jy hulle dan beter kan help.”

“Ek help graag. Dit raak opwindend hier op Ndlofumatlapa.”

“Spot jy met ons?”

“Nee, ek begin onthou hoekom ek elke vakansie so daarna uitgesien het om hier by doktor Hein te kom kuier.”

“Het jy elke vakansie by Hein Kaiser kom kuier?”

“Byna elke vakansie … Maar soms het my oupa my Kerstyd in Italië laat bly.”

“Ek en my sus was weer amper elke vakansie by my ma. Sy was ‘n operasangeres en het meestal tussen Kaapstad en Pretoria gebly,” vertel Andrea spontaan. “Soms was sy die hele Desember in Oostenryk en toe het ons daar gaan kuier.”

“En jou pa?” Stefano kyk vraend na haar.

“Ons het hom nie geken nie. Ons het by aanneem-ouers groot geword. En nou gaan ek winkel oopsluit vir die Duitsers en hoop hulle koop die plek leeg.”

Terwyl Stefano van haar af wegstap om te gaan kyk of hy Pieter met die Land Cruiser kan help, kyk sy hom peinsend agterna. Sy moes hom tog iewers te vore hier in die bos gesien het as hy so dikwels Ndlofumatlapa toe gekom het as wat hy te kenne gee. Was hy dalk die maer knapie wat elke keer weggeloop het veld toe as sy en haar aangenome pa by doktor Hein se kamp ‘n draai gemaak het? Is Stefano dalk die vreemde skraal seun met die swart hare wat elke skoolvakansie deur een van doktor Hein se veldwagters agtervolg is, asof die man aangestel was om hom met sy lewe te verdedig? Dis seker nie onmoontlik nie.

‘n Insident later in die boek:

Teen Vrydag durf Stefano en Andrea die nuwe pad met sy rooi Alfa aan. Hulle kom stadig teruggery toe Luca in ‘n stofwolk langs hulle stop.

“Haai, jou bobbejaan!” roep Stefano vies uit. “Die pad het my die helfte van my koningkryk gekos en nou ry jy dit weer stukkend! Van nou af geld hier ‘n dertig kilometer per uur spoedbeperking. Ek het klaar gevra dat Andrea ‘n paar borde verf.”

“Sorry. Maar ek wil net vir julle sê, ons slaap vanaand almal in die boomhuis. Daar lê ‘n buffel in die rivier, hy moes vanoggend vroeg gevrek het. En die leeus het gisteraand daar naby gebrul. Met ‘n bietjie geluk, kom sit hulle vanaand by die feesmaal aan.”

“Dit moet ek sien. Wat moet ons saamneem?” vra Stefano opgewonde.

“Ek en Pieter het genoeg slaapsakke opgelaai, maar bring warm baadjies en komberse. Dis koud langs die water. En sorg asseblief vir kos, Andrea!”

 

“Jammer, maar Stefano gaan nie saam nie.” Charl klap sy kookboeke doelgerig toe, toe Luca hom van die aand se uitstappie vertel. “Doktor Hein het gesê hy mag niks doen wat gevaarlik is nie.”

“Wat?” Stefano frons. “Hoe durf die ou Duitser vir my voorsê wat ek mag doen en wat nie?”

“Hoe kan dit gevaarlik wees? Luca is mos by,” vra Andrea verbaas.

“Natuurlik moet hy saamkom.” Die veearts se hele houding getuig van verontwaardiging. “Die buffel lê vyftien meter van die boom af. Dit is nie iets wat Stefano elke dag van sy lewe gaan sien nie. En een van die dae is hy weer in Johannesburg. Of Rome of waar ook al. Daar sal hy dit nooit sien nie. Hoe kan enigiemand hom keer om dit te beleef?”

“Dis nie die roofdiere of die boomhuis wat gevaarlik is nie. Dis jy, Luca Willemse, dis uit jou pad wat alle regdenkende mense moet bly. Jy maak altyd so … woes droog,” raas Charl. “Stefano slaap vanaand agter die klipmure en ystergrendels van Ndlofumatlapa se hekke.”

“Ek gaan saam,” roep Stefano uit. “Ek sal self besluit wat ek gaan doen, of nie gaan doen nie.”

“Toemaar, Charl, ek sal hom babysit,” spot Andrea. “As hy iets oorkom, kan jy my maar vir die leeus voer.”

“As hy iets oorkom, voer Hein Kaiser ons almal vir die leeus,” waarsku Charl, voor hy uitroep. “Loop! Vat kos vir die aand en verdwyn, ek het werk om te doen.”

“Het ek iets gemis? Het doktor Hein jou aangestel as my oppasser?” vra Stefano omgekrap.

“Boetman, jy weet duidelik nie. Gaan trek ‘n wessie en ‘n warm baadjie aan en kom veilig terug. En Andrea …” Hy maak ‘n gebaar teen sy keel, wat haar laat verstaan dat sy min of meer tereggestel gaan word as Stefano met soveel as ‘n muskietbyt terugkom. “Hy is jou persoonlike verantwoordelikheid.”

“Ja, Samajoor!” Sy kap haar hakke teen mekaar en trek Stefano hardhandig agter haar aan.

 

“Almal aan boord wat land toe vaar?” vra Luca en skakel die Land Rover aan. Hy het ‘n reuse stuk droëwors agter elke oor.

“Eet jy alleen, Luca? Waar is ons s’n?” vra Andrea en knipoog vir Stefano wat geskok na haar toe draai. Hy sál nie aan ‘n stuk vleis te byt wat ‘n man agter sy oor gestoor het nie.

“Sorry.” Luca hou een van die worse na hulle toe uit. “Maar julle sal die een moet deel. Die res is by die kos in die koelhouer gepak.”

“Nee dankie, ons kan wag,” antwoord hulle gelyk en toe dawer die Land Rover soos almal lag.

“Wat is so snaaks?” vra die veearts verontwaardig en druk die voertuig in rat en begin ry.

‘n Rukkie later nader hulle die boomhuis van die agterkant af. Die konstruksie bestaan uit ‘n platform met ‘n dak en hier en daar ‘n paar dwarslatte. Dis eintlik net ‘n groot skuiling wat ingerig is om na watervoëls te kyk. Andrea sien hoe Stefano die balke aan die onderkant inspekteer.

“Die konstruksie is sterk. Jy kan ontspan, ons gaan nie omval as die leeus kom nie,” troos sy.

“Nee, ek is nie daaroor bekommerd nie. Ek kyk net of my naam nog hier staan.”

“Jou naam? Uitgekerf in die hout?” Andrea kyk verwonderd na hom en toe begin sy ook soek. En wraggies, daar staan sy naam groot en duidelik uitgekerf in een van die plat planke. En langsaan staan die naam Hein Kaiser, en die naam Mkhulu. Sy sien hoe Stefano met sy hand daaroor streel en kom agter dat sy emosies skielik baie vlak lê.

“My maggies, is dit jy wat dit gedoen het?” Pieter skud sy kop verbaas. “Ek het vergeet dat ek die name hier gesien het toe ons die platform eenkeer herstel het. So jy ken Ndlofumatlapa van lankal af? Hoe oud was jy toe jy die eerste keer hier gekom het?”

“Klein,” antwoord Stefano en Andrea sien dat hy sukkel om neutraal te klink. Sy besef dat daar binne-in hom waarskynlik ‘n vuurspuwende berg dreig om uit te bars. Hy sluk ‘n paar maal voordat hy verder praat. “Doktor Hein het die kliphuis pas begin bou. Daar was toe nog net drie kleinerige vertrekke klaar.”

“Ek verstaan dit nie. Jy ken doktor Hein soveel jare, maar tog was jy in die sewe jaar wat ek op die plaas werk, nooit hier nie. Niemand weet iets van jou nie. Waar pas jy in sy lewe in?” vra Pieter verbaas.

“Ek pas nie in sy lewe in nie,” antwoord Stefano en klim teen die skuins leer op om die goed aan te vat wat die ander uit die voertuig laai. “En om alles net meer te kompliseer, hou doktor Hein nie van my verloofde nie en my verloofde hou nie van hom – of die bos – nie. Daarom bly ons liewer weg.”

“Ouch. Dis ‘n ongemaklike situasie,” besluit Pieter. “En jy was nog nooit tevore getroud nie?”

“Ek was. Jare gelede, vir ‘n kort rukkie. Ek en mevrou Bettini nommer een is nie kwaad vir mekaar nie, en sy is die ma van my kind. Ek gaan kuier twee keer per jaar by hulle in Rome en sorg dat alles by my restourant daar vlot verloop. En dan kom my meisiekind so eenkeer per jaar Suid-Afrika toe. Haar naam is Isabella.” Hy loop oor van trots en Andrea kyk met ander oë na hom toe hy vra: “Wat kan ek nog aanvat?”

“Net die slaapsakke,” antwoord Luca van onder af. Met alles wat hulle gaan nodig hê op die platform, begin Andrea en Stefano nesskrop.

Daarna gaan sit sy op een van die bankies en trek haar gesig toe die wind effens draai. “Sies, die karkas stink al. Ek hoop die leeus dink ook dis ‘n geurige maaltyd.”

“Natuurlik. Hulle het waarskynlik klaar geruik dat hier ‘n lekker afvalletjie op hulle wag,” verduidelik Pieter.

“Nou onthou ek hoekom ek nie afval eet nie,” antwoord sy vies en skuif effens op toe Stefano langs haar kom sit.

“Toemaar, Luca gaan hom gou dokter, dan sal selfs jy lus wees vir ‘n buffelvleisie.” Pieter spring af om die kollig aan die Land Rover se battery te gaan koppel. Hy roep hardop uit en Andrea weet dis om haar te terg. “Haai, Luca, dink jy nie ons moet ‘n paar repe biltong uit die ou grote se lyf gaan sny nie?”

“Ek het meer gedink in terme van ‘n lekker buffelfilet. Andrea, sal jy dit vir ons gaarmaak? Ek is seker dat jy met ‘n besonderse reseppie vorendag sal kom. Buffelgoulash bredie met ‘n rooipeper-en-amaroelasousie,” spot Luca saam.

“Moenie my so verkleineer voor die sjef van wêreldformaat nie! Ek is nie só ‘n vrot kok nie,” keer Andrea.

“Nee, jou kos is meestal vreeslik interessant. Wat het jy vir ons gemaak om vanaand te eet?”

“Olifantmis met ‘n skerp rissiesous.”

“Verduidelik liewer vir my hoe ons die leeus nader gaan lok, of maak julle staat op die diere se reuksintuie?” Stefano onderdruk ‘n laggie en raak besig met sy verkyker en kamera.

“Ons nooi hulle net uit na die partytjie.” Luca beduie na die CD-speler wat langs hom staan. Toe klim hy teen die leer af en stap met sy jagmes na die buffelkarkas en sny die maagholte verder oop. Met ‘n tak sprei hy die derms oor die grond.

“As Hein Kaiser hiervan hoor, is ons dood! Ons mag niks doen om die balans in die natuur hier op sy plaas te versteur nie,” waarsku Andrea en pak die bakke met southappies en broodjies op die opslaantafeltjie voor hulle uit. “So, hierdie is special treatment!”

“Dan is ek sowaar geëerd om saam met julle hier te kan wees. Baie dankie!” Stefano fynkam die omgewing met sy verkyker.

“Is alles daarbo? Waar is die koelboks met die drinkgoed?” vra Luca met die terugkomslag.

“Jip.” Pieter tik op die rooi houer en begin drinkgoed uitdeel.

Luca maak die hek van die hout-en-draadhok onder die houthuis toe, waar die Land Rover geparkeer staan, om hiënas van die voertuig se wiele af weg te hou.

“Dis die lewe,” sug Andrea in ekstase.

“Jy hou van die veld.” Sy sien dat Stefano ietwat vreemd na haar kyk. Dis duidelik dat hy nie gewoond is aan vrouens wat dit geniet om in die winterstof en sand van die bos te wees nie.

“Ek kan nie meer op enige ander plek as hier funksioneer nie,” antwoord sy eerlik.

“Julle weet nou omtrent alles van my af,” sê Stefano nadat elkeen vir hom ‘n sitplek gevind het. “Vertel my nou van julle. Kom ons begin by jou, Andrea. Getroud? Kinders?”

“Geskei, een seun. Hy studeer natuurbestuur en doen op die oomblik sy prakties in die wildtuin. Ek het sy pa sestien jaar laas gesien. Ek is dolgelukkig op my eie.”

“Ek is ook geskei,” verduidelik Pieter toe Stefano na hom toe draai. “My gewese vrou is gelukkig getroud met iemand anders en die ander ou is goed vir my kinders. Hulle bly hier naby op die dorp en ek sien hulle elke Sondag.”

“My verloofde was gelukkig al met iemand anders getroud nog voordat ek op Ndlofu kom bly het.” Luca neem ‘n diep sluk van sy bier. “Ek was nog nooit getroud nie. En as ek van julle probleme hoor, weet ek nie of ek ooit sal belangstel om te trou nie.”

“Ja, behoed die arme vrou wat probeer om jou op hok te laat staan. Jy is te wild.” Pieter tik op die CD-speler en vra: “Sal ons kyk of die konsert werk?”

“Sure.” Die veearts druk ‘n knoppie en die volgende oomblik luister hulle na die klank van leeus wat weglê aan ‘n karkas, daar in die skuiling oor die luidsprekers.

‘n Hiëna wat op pad was na die buffelkarkas steek dwars vas en loer behoedsaam in die rigting van die boomhuis. ‘n Ent daarvandaan steek ‘n trop blouwildebeeste vas en draai in ‘n stofwolk om voordat hulle begin weghardloop. Luca skakel die CD-speler dadelik af. “Siestog, laat hulle eers gou kom suip.”

“Nou kom ons eet en drink ook, terwyl ‘n mens nog iets kan sien.” Andrea deel bordjies uit. “Dit word vinnig donker, netnou eet julle torre en besies vir aandete.”

“Is dit nie bosveld-cuisine nie?’ terg Stefano en sit sy verkyker langs hom neer.

“Nee, maar mopaniewurms is. En ek kan nou nog nie glo dat jy waaragtig een geëet het nie.”

“Ek het al vreemder disse as dit geëet.”

“Soos wat?” vra sy en sit gereed om ore toe te druk as die verduideliking té grafies raak.

“Aapbredie, in die Amasone.”

“Sies!”

“Maaiers in Botswana. Baloet in die Filippyne. Dis eendeiers wat vir een-en-twintig dae bebroei word. Hierdie eiers word dan in die dop gekook en jy eet dit as volg: Breek die dop, en drink die vrugwater. Dan eet jy die vastestof. Die bene is nog so sag dat niks vermors word nie.”

“Nee, aarde! Dis seker die ergste ding wat ‘n mens kan eet.” Andrea kyk in totale afgryse na hom.

“Nooit! My ergste dis, tot nou toe, was die Ndlofu Lasagne á la Andrea,” spot hy en kyk haar vas in die oë.

“Sies, Stefano Bettini. Iewers in Afrika is daar duisende honger kindertjies wat sal sterf om daarvan te eet.”

“Hulle sal sterf ás hulle daarvan eet. Maar kom ons gee dit in elk geval liewer volgende keer vir hulle,” kan Pieter nie help om te spot nie.  Hy vang die leë koeldrankbottel waarmee sy hom gooi behendig.

Terwyl almal eet en drink verbaas dit Andrea soos altyd hoe verskriklik vinnig skemeraande in die bosveld plek maak vir stikdonker nag. Sy is dankbaar toe die maan net daarna opkom en die veld in ‘n sagte gloed verkleur, want om een of ander rede bly haar armhare kriewel.

Tienuur klouter sy in haar slaapsak op een van die matrasse en los die waghou vir die manne wat beurte maak om die kollig op die karkas te laat skyn. Sy moes ingesluimer het, want toe die veearts teen tweeuur besluit om weer leeu-musiek te speel, skrik sy met ‘n ruk wakker en sit penorent. Vir ‘n oomblik voel dit vir haar of die leeus binne-in die boomhuis is.

Sy moes uitgeroep het, want Stefano is onmiddelik by en slaan sy arm beskermend om haar skouers terwyl hy in haar oor fluister. “Sjuut, als reg. Maar die leeus is naby, ons het die maanhaar hoor steun.”

“Daar is dit weer.” Luca fluister ook. “Onmisbaar. Die grootman van die bosveld se stem. Maar dit is nie die stem van ‘n baie plesierige kêrel nie.”

“Hoe waai die wind?” vra Andrea en sy kan die vrees nie uit haar stem hou toe die klank van die grommende leeu vinnig nader kom nie. Hy wil waarskynlik sien wie die opposisie is wat kom oortree in sy gebied.

“Goed en sleg vir ons,” grinnik Luca. “Ons is tussen die leeu en sy prooi. En die boomhuis is relatief laag bokant die grond aan die kant waarvandaan ouboet kom. Dis nou ás hy nader kom, as die mensreuk hom nie wegjaag nie.”

“Ons het nie ‘n geweer hier nie, of hoe?” wil Stefano versigtig weet.

“Net ‘n .38 rewolwer,” fluister Pieter en haal die vuurwapen onder sy baadjie uit. “Maar ons mag nie skiet nie. Ons sal maar een van die mense moet offer as die leeu besluit dat hier ‘n lekkerder happie in die boom sit.”

“Sal ons lootjies trek oor wie dit moet wees?” spot Luca. “Of besluit ons laaste in, eerste uit?”

“Jy gaan verloor, pêl, as jy dit teen Stefano mik. Jy was nog ‘n glinster in jou mamma se oë, toe het hy al langs doktor Hein op hierdie platform gesit.” Pieter bly skielik stil toe die maanhaar tussen die struike deurbars en vinnig nader kom.

Hy stop naby die boom en tuur tussen die takke deur. Om een of ander rede is daar geen vrees vir mense by hom te bespeur nie. Dit is skielik so stil in die boomhuis dat Andrea wonder of enigiemand nog asemhaal. Haar eie hart tamboer in haar borskas en die volgende oomblik besef sy dat sy en Stefano mekaar styf vashou. Vir hoe lank al?

Luca het sy groot jagmes uit sy skede getrek en hou dit nou in sy hand. Hy hou die lig sodat dit reg in die leeu se goudgeel oë skyn. Uiteindelik draai die dier sy kop weg en die volgende oomblik stap hy tussen die lae struike in, terwyl hy aanhoudend terugkyk na die konstruksie tussen die takke.

“Simba is heeltemal te nuuskierig oor die vreemde spesie hier in die boomhuis,” fluister Pieter bekommerd.

“Daar is hy nou aan die ander kant van die bos. Lyk my die res van die trop het ook nou bygekom,” beduie Luca en Andrea se oë rek groot. Onwillekeurig dring sy stywer teen Stefano aan, want die maanhaar is ‘n reus van ‘n dier, wat kop en skouers bo sy wyfie uittroon. Niemand het besef hoe groot hy werklik is toe hy alleen onder die boom was nie.

Lank tuur die leeu weer in die rigting van die boomhuis. As hy besluit om werklik te kom ondersoek instel, kan hy met ‘n paar groot spronge tussen hulle wees. Andrea stuur haar tong oor haar droë lippe. Sy het grappenderwys teenoor Charl opgemerk dat sy Stefano met alles waartoe sy in staat is, sou verdedig, maar hierdie dier kan hulle almal met die klap van ‘n voorpoot die ewigheid instuur.

“Ek wens doktor Hein was hier,” fluister sy in Stefano se oor.

“Ek voorwaar ook,” fluister hy terug en dit klink asof hy dit uit die diepte van sy hart bedoel.

“Twak, as Hein Kaiser hier was, maak hy ons dood as die leeus dit nie doen nie,” grom Luca en hou die lig op die leeus terwyl hulle op die karkas afstap. Daar volg eers ‘n bloedige konfrontasie tussen hulle en die hiënas wat die karkas vir hulleself toegeëien het, voordat die kroon van die voedselketting sy regmatige plek by die prooidier inneem.

Dis Andrea wat Stefano eerste los en haarself sag uit sy greep losmaak.

“Jammer … ek hoop nie …” fluister hy en raak besig met sy kamera. Hy voltooi nie sy sin nie, en Andrea wonder wat dit is wat hy wou sê.

 

Lees die Romein van die Timbavati as eboek op jou Laptop of selfoon R20.00 liefdesverhalenmeer@gmail.com Jy betaal eers nadat jy jou boek ontvang het. Of volg die skakel en lees die boek op Amazon

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.