Vuur van Verlange – Adele Reynders

Vuur

Die eerste paar hoofstukke uit Vuur van Verlange – Adele Reynders. As jy belangstel kan jy die res van die boek op Amazon lees. Of jy kan dit as Afrikaanse eboek vir R20.00 koop om op jou rekenaar of selfoon te lees. Bestel by liefdesverhalenmeer@gmail.com

Na haar egskeiding huur Daleen Gerber ‘n yslike ou huis op ‘n plaas naby Lydenburg. Na dese haat sy prokureurs (haar ex was een) en nadat sy ‘n joernaal wat uit die Boereoorlig kom begin lees het, haat sy die Ingelse ook. Arme Thomas Smith is beide. Soos wat sy nou voel, staan hy nie ‘n kans in haar lewe nie. Boonop het hy nooit vir haar vertel dat dit op die plaas Van Zylsrus spook nie. Of weet hy dit dalk nie? Komies en bonatuurlik.

eboek verwerkin Renza Boeke

 

Vuur van Verlange – Adele Reynders

Hoofstuk 1

Die rook is oral. Verterende vuurtonge wat woedend aan die bome lek om net daarna soos verskietende sterre teen die stamme op te spring. Agter lê ‘n pad van verwoesting.

Daleen keer met een hand om die hitte uit haar gesig weg te hou, maar skielik is sy omring deur die vlamme en verstikkende rook. Sy storm in ‘n rigting waar die vuur laer brand. Haar longe smag na asem, vars lug, maar voordat sy daar kom gee haar bene onder haar pad en sy sak op haar knieë neer, terwyl trane oor haar wange stroom.

“Nee, ek sal nie toelaat dat jy hier sterf nie,” hoor sy die stem van ‘n man langs haar. Iemand wat Engels praat met ‘n swaar Britse aksent. Sy voel hoe sterk arms haar opraap, vasvat en saamsleep, na waar die nag skielik baie donker lyk en waar die lug vars en skoon is.

“Asem in.”

“Kan nie ..” Sy begin hoes. Eers flou en toe asof haar lewe daarvan afhang totdat haar liggaam seer is. Hoe lank sy so gelê het weet sy nie, maar toe sy opkyk staan hy steeds by haar, afgeëts teen die gloed van die helder kole wat ‘n eeu oue bloekomboom soos ‘n kanker verteer.

Sy vee moeg oor haar brandende oë en staan stadig van die grond af op, bang dat duiseligheid haar gaan oorval.

“Kom, ek wil seker maak jy is veilig terug in die opstal.” Die man begin aanstap huistoe en sy val ietwat onvas op haar bene langs hom in. Hulle stop by die trappe aan die onderpunt van die stoep waar ‘n groot boerboel hulle inwag.

“Ek is Graham Howell.” Die man steek sy hand na haar toe uit en toe dit rondom hare vou is dit yskoud.

“Daleen Gerber. Aangename kennis.” Sy kyk vir die eerste keer mooi na hom. Hy is ongetwyfeld een van die heel aantreklikste mans wat sy nog in haar lewe gesien het. Maar die intense blou oë waarmee hy na haar kyk lyk moeg en hartseer.

Met slegs ‘n dunnerige langmou kakie hemp aan, moet hy min of meer sterf van die koue. Weg van die hitte van die vuur pynig die koue haar selfs deur die langmou frokkie, dik hemp en sweetpaktop.

Dit is waarskynlik die rede hoekom sy hande dreig om af te vries. “Jy kry koud. Kan ek vir jou ‘n baadjie of jas leen?” wil sy simpatiek weet.

“Die koue pla my nie.”

“Orraait!” As hy te trots is om ‘n baadjie te leen en graag longontsteking wil opdoen, moet hy maar macho man speel. Sy is nie moeder Theresa nie. Sy vra: “Woon jy hier rond? Jy het ‘n vreemde aksent.”

“Ek is oorspronklik van Brittanje, maar ek is lankal in die omgewing.” Hy draai skielik om. “Nou ja, totsiens Daleen Gerber.”

“Wag eers. Jy het my lewe gered. Die minste wat ek kan doen is om vir jou ‘n koppie koffie aan te bied. Of ‘n glasie sjerrie teen die koue.”

“Nee dankie. Ek moet gaan.” Hy buig galant en stap weg.

“Dankie vir jou hulp!” roep Daleen agterna, maar die Engelsman reageer nie weer nie, beweeg net doelgerig aan. Dit lyk asof die maanlig uit hom weerkaats inplaas van ophom skyn waar hy deur die rivier gaan en teen die oorkantste oewer uitklim. Hy draai links en hou aan met stap langs die koppie. Sy wag dat hy moet omkyk en miskien net eenmaal waai. Maar vreemd genoeg doen hy dit nie. Sy het duidelik nie dieselfde indruk op hom gemaak as hy op haar nie.

Dit kon nogal seergemaak het, as sy nie so uitgekuier met mans was nie …

 

Daleen kan nie glo toe iemand alreeds sewe-uur die volgende oggend aan die voordeur klop nie.

“Gaan weg,” steun sy in haar kussing, maar na die vierde dringende klop vlieg sy uit die bed, trek ‘n warm baadjie oor haar sweetpak aan en draf teen die dubbelverdiepinghuis se wye trappe af. Sy mag seker vriendeliker lyk toe sy die deur oopmaak, maar sy wil nie.

“Skuus, ek dog julle boere staan vroeg op.” Die vrou klink regtig apologeties.

“Boer?” Dit laat Daleen effens glimlag. “Ek boer nie, ek woon net hier. Kom binne, dis koud.”

“Besonder koud. Dit gaan ‘n lang winter word.” Die vrou steek haar hand uit. “Ek is Alma van Erfplaas Eiendomme. Ek sien daar is ‘n te koop bordjie by die hek opgesit, maar die nommer is onleesbaar. Mag ek die eiendom op ons boeke sit.”

“Jy is die derde eiendomsagent wat die afgelope twee weke sedert ek hier ingetrek het kom navraag doen. Maar jy is die vroegste. En dan het ek slegte nuus. Ek weet nie wie die eienaar is nie. Ek is net ‘n huurder.” Daleen beduie na die kombuistafel toe Alma onseker bly staan. “Ek gaan koffie maak. Drink jy saam?”

“Dit sal lekker wees, dankie. Skuus oor die vroeg. Ek glo aan die Engelse spreekwoord early bird catches the worm.” Alma gaan sit op een van die stoele en kyk om haar rond. “Pragtige ou geelhoutmeubels wat jy hier het.”

“Baie mooi, maar dit is nie myne nie. Ek huur die plek met meubels en al.” Daleen skakel die ketel aan en gooi korrels in die koffiebekers. “Dit is natuurlik nie ‘n goeie tyd om te verkoop nie. Die plaas het gisteraand amper heeltemal afgebrand. Dit lyk seker vanoggend maar sleg”

“Skuus?” Die vrou kyk haar skeef aan. “Waar het dit gebrand?”

“Die hele wêreld het afgebrand. Jy moes dit tog gesien het oppad hiernatoe. Die stompe lê seker nog en smeul. Hoe dit ookal sy, sover ek weet is die plaas in ‘n trust. Ek het die ‘te huur’ advertensie toevallig in ‘n boerdery tydskrif gesien. Die huur is uiters billik. Dit pas selfs ‘n plat sak soos myne…” Sy gooi kookwater in die bekers en sit dit saam met melk en suiker op die tafel voor die agent neer

Die vrou oorweeg haar woorde en toe stel sy voor. “As jy my help om die eienaar op te spoor, sal ek vir jou kommissie betaal indien hy dit by ons lys en ek dit verkoop.”

“Klink wonderlik Alma, maar die feit is ek weet nie met wie jy moet praat nie. Miskien moet jy by Sarah en John gaan hoor of hulle die eienaar ken. Klink my hulle woon al vir jare hier.”

“Ek sal. Maar dit sal ook help as jy vir my die naam en nommer gee van die prokureursfirma by wie jy die huurkontrak geteken het?”

“Dit is op my selfoon.” Sy wil nie regtig help nie. Vervlaks, sy het dan nou net hier ingetrek. Wat maak sy as die plek binne die volgende maand verkoop?

“Dankie.” Die agent se gesig straal terwyl sy die nommer op haar eie selfoon sit. “En waar kan ek met Sarah en John gesels?”

“Hulle woon in ‘n woonstel daar langs die stalle. John is voorman en opsigter en Sarah maak die huis skoon.” Dan val dit haar by. “Ek wonder waar was hulle twee toe die plaas gisteraand gebrand het. Dit is tog ‘n voorman se werk om die plek op te pas. Of om die brandweer te bel. Of dalk het hy …”

Sy weet sy klink onsamehangend, maar alles is vanoggend so vaag. Sy kan nie eens onthou hoe sy in die middel van ‘n vlammesee beland het nie.

Alma se volgende woorde help ook nie regtig nie. “Daleen, vanjaar het nog geen plase in die omgewing afgebrand nie. Het jy nie gedroom nie?”

“Beslis nie. Ek ruik nou nog die swaar rook.” Sy staan op en maak die gordyne voor die kombuisvenster oop. As Alma nie wil glo nie, moet sy maar self sien.

Maar daar voor haar kruip die wintersgras van die huis af teen die heuwels op. Gras wat buig en ruk in die koue Augustus wind. Goudgeel gras, onder bloekombome en blackwattles in ‘n landskap wat strek so ver as wat die oog kan sien. Onaangeraak deur enige van die ander elemente, behalwe die koue yswind wat dit uitdroog tot brandbare materiaal.

“Dis onmoontlik.” Sy maak die venster oop en sien dat gisteraand se boerboel haar met ‘n ronde bek sit en uitlag. Dan behoort die dier seker aan die twee mense en nie aan die Engelsman nie. By ‘n gebrek aan ander skuldiges, trap sy hóm sommer uit. “Wat is jou storie? Jy het tog alles aanskou.”

“Praat jy met iemand?” Alma wat orent gekom het om deur die venster te kan sien, kyk haar vreemd aan. Iewers tussen die tafel en haar mond het ‘n beker koffie in die lug gevries.

“Ja, met die vervlakste brak.”

“Waar … is die hond?”

“Daar op die stoep.”

“Ek sien nie ‘n hond nie,” verklaar Alma en besluit net daar en dan: “Hier hang ‘n nare griep in die lug. Miskien moet jy maar laat kyk.”

“Ek is nie siek nie,” kap Daleen terug. Maar dan moet sy erken. Iets vreemd is aan die gang. “Dalk het ek tog gedroom. Maar nee, dit was so realisties.”

“‘n Nagmerrie?”

“Erger.” Daleen gaan sit weer. “Nou wat van die Engelsman wat ek ontmoet het?”

“Was daar ‘n Engelsman ook in jou droom? Het hy ‘n naam gehad?”

“Ja, hy het. Graham Howell. Jy ken seker heelwat mense in die omgewing. Het jy al van hom gehoor?”

“O nee. Ek en my man is ook nog nie lank in die omgewing nie.”

“Dalk was hy ook maar net…”

”’n Visioen?”

“Nee, ek sien nie sulke goed nie. Ek dink ek moet my gesig gaan was en my kop teen die muur stamp om by te kom,” sug Daleen.

“Miskien het jy jou kop eers gestamp en daarna bygekom,” oorweeg die agent versigtig. Sy gaan sit uiteindelik weer en laat sak die beker tot op die tafel. Haar houding wys dat sy klaar is met daardie vloeistof daarin. Die kans is goed dat dit soos polisiekoffie gedokter is.

“Ek dink nie so nie,” besluit Daleen. “Niks pyn nie.”

Die agent raak skielik haastig om te gaan. “Hier is my kaartjie. As jy nie omgee nie wil ek vinnig by die voorman en sy vrou hoor of hulle weet waar ek die eienaar kan opspoor.”

“Jy is welkom.” Daleen staan op en maak die kombuisdeur oop sodat die vrou kan uitstap.

“By watter deur moet ek klop?”

“Die tweede deur van hier waar die boerboel lê.”

“Ek sien regtig nie die boerboel nie.”

“Of aan watter ras hy ookal behoort. Ek ken nie regtig hondespesies nie. Stap maar net tot by die tweede deur en klop. Ek glo nie die dierasie sal byt nie.”

 

“Op watter plaas huur jy?” Die man by die koöperasie loer oor sy bril na Daleen. Terwyl sy dorp toe gery het om ‘n paar stukkies kruideniersware te koop, kan sy netsowel bietjie speurwerk doen. Die aarde het miskien nie verbrand nie, maar daar was ‘n man. En ‘n hond!

“Die Van Zylplaas teen die bult.”

“Sowaar? Daardie ou kasarn lyk soos ‘n ou museum. Geen wonder mense sê dit spook daar nie. Wat is die naam van die gawe buurman na wie jy soek?

“Ene Graham Howell.”

“Lui nie ‘n klokkie nie. Kan nie dink dat so iemand by ons koop nie.” Hy buk af en haal ‘n dokument onder die toonbank uit. En toe blaai hy deur die lang lys name voor hom tot by ‘H’. “Daar is nie so iemand op my boeke nie.”

“Wie sê dit spook daar?”

“Twakpraters. Daar bestaan nie so iets soos spoke nie. Dit is net omdat die plek so bietjie verwaarloos lyk.” Daarna soek hy op die rekenaar: “Howell? Nope. Nie so persoon nie. Miskien boer hy nie. Bly dalk op een van die nabygeleë dorpies. Gaan hoor by die dokter se spreekkamer. Hulle sien baie mense van die omgewing.”

Sy stap oor die straat na waar die dokter se bordjie pryk.

“M-m, ons het nie so ‘n pasiënt nie.” Die ontvangsdame skud haar kop negatief. Sy hoef nie eens deur haar databasis op die rekenaar te gaan nie. Sy het nog nooit van so persoon gehoor nie. “Gaan praat met Poppie by die tuisnywerheid. Sy het baie vriende en mense moet eet en kos koop.”

Dis ‘n vrolike tuisnywerheid wat selfs in die winter warm voel met sy outydse geel, groen en blou sonneblomtema. Dis nou wel nie meer in die mode nie, maar tog pas dit op hierdie dorpie.

“Kan ek help?” roep ‘n vrou oor haar skouer en sit ‘n skinkbord voor gaste neer.

“Ja asseblief. My naam is Daleen. Ek is ‘n nuwe intrekker en is opsoek na iemand wat my gisteraand kom help vuurslaan het op die plaas. Of liewer, ek het gedink daar is ‘n brand …” voeg sy as amper nagedagtenis by.

“Ek is Poppie. Welkom in my tuisnywerheid. Wil jy iets bestel om te eet?”

Nie ‘n slegte gedagte nie. Kos was nie die afgelope paar dae op haar prioriteitslys nie en die geure van die winkel maak haar skielik rasend honger.

“Julle spesiale ontbyt en tee aanbod lyk lekker.” Sy wys na die nota wat met wit kryt geskyf is op ‘n swartbord teen die muur.

“‘n Goeie keuse. Sit solank. Ek gee gou jou bestelling na die kombuis toe deur, dan kom gesels ek met jou.”

Daleen kies ‘n eenkanttafeltjie en wag darem nie te lank oor Poppie met ‘n pot tee en twee koppies terugkom nie.

“Jy soek na iemand. Man of vrou en wat is die persoon se naam?” Poppie gaan sit oorkant haar.

“‘n Man. Sy naam is Graham Howell.”

Sy huiwer nie eens ‘n oomblik nie. “Ek ken nie die naam nie. Beskryf hom vir my.”

“Dis moeilik. Gemiddelde lengte, gemiddelde bou. Ongelooflik aantreklik,” beduie Daleen en voel hoe ‘n warmte in haar nek opklouter. Sy vroetel met die suikersakkies en hoop die ander vrou sien dit nie raak nie. “Korterige ligbruin hare. Mooiste blou oë en besonder waardig.”

“Waardig? Ek kan net aan twee mense dink wat aan daardie beskrywing voldoen,” is Poppie se gevolgtrekking. “Die dominee van die klipkerk. Daar is iets amper heilig aan hom, so waardig is hy.”

“Praat hy met ‘n Britse aksent?” Daleen gooi suiker en melk in haar tee en skuif die koppie vorentoe toe die kelnerinnetjie die bord met kos bring.

“Nee, dominee Koos is ‘n boerseun. Sy van is Pienaar en hy is getroud met ‘n vrou wat sal naels wys as iemand kom lol,” waarsku sy.

“Toemaar, die plan is nie om vir ‘old blue eyes’ van die kerk te verlei nie,” keer Daleen laggend.

“Jy moenie eens probeer nie, die gemeente sal jou stenig. Eet jou ontbyt voor dit koud word.”

“Dankie. Dis baie keurig voorgesit.” Sy smeer die roosterbrood en vra. “Wie is die tweede kêrel wat aan die beskrywing voldoen?”

“Dis een van die prokureurs op die dorp. Kan ‘n gawe mens wees, as hy net eendag weer kop bo water uitsteek.”

“Hoekom is sy kop onder die water? Het hy trustgeld gesteel?” vra Daleen. Sy maak ‘n grap, maar Poppie kyk haar geskok aan.

“Nee man,” kom die vrou tot verhaal toe Daleen begin lag. “Thomas Smith sit elke aand in sy huis en sulk oor sy vrou wat ‘n jaar gelede met sy kinders weggeloop het.”

“Thomas Smith prokureurs. Dis die firma waar ek my huurkontrak gaan teken het. Ek het gelukkig net sy klerk gesien, want ek haat prokureurs. My ex was ‘n prokureur en hy het my om elke hoek en draai bevark.”

“Hierdie een is anders.”

“Dit was beslis nie ‘n prokureur wat kom vuur slaan het nie.” Daarvan is Daleen oortuig. “Prokureurs help nie, hulle sal net die ou dagvaar wat die vuur begin het.”

Dis die soort gesprek wat in ‘n hewige rusie kon ontaard, maar gelukkig stap een van Poppie se bobaas melktert-baksters in en sy verskoon haarself stywerig.

Nie dat Daleen omgee nie. Nou kan sy haar ontbyt in vrede geniet.

Met die uitstap ‘n rukkie later, sit Daleen ‘n pak beskuit en koerant op die toonbank neer. Daar is fout met die datum op die koerant, sien sy dadelik raak. Oktober lê nog vêr in die toekoms. Veldbrande in Mpumalanga is hoofnuus. Sy betaal en vou die beskuit in die koerant toe.

“Hier is my besigheidskaartjie ook.” Poppie sit ‘n vrolike sonneblom kaartjie met ‘n strikkie op alles neer. Sy is darem nie meer so verontwaardig omdat Daleen iets minder vleiend oor haar held kwytgeraak het nie, want sy sê: “Kom loer asseblief weer in.”
Hoofstuk 2
Dis regtig nie meer snaaks nie, besluit Daleen toe mense Sondagoggend agtuur aan haar deur klop.

“Ons sien die plaas is in die mark. Mag ons ‘n bietjie rondkyk? Skuus ons wou bel, maar die nommer op die bord is onleesbaar.”

Haar dag is daarmee heen. Sy werk dwarsdeur die heilige Sondag tot diep in die nag. En daar gebeur dit boonop weer Maandagoggend seweuur. ‘n Uur toe die huiskykers ry, gryp sy haar selfoon en bel.

“Ek is op soek na die persoon wat gemoeid is met die verhuring van die Van Zylplaas,” vra sy toe ‘n dame antwoord.

“Dit is meneer Thomas Smith self.”

Poppie se held! “Is hy al op kantoor en mag ek asseblief met hom praat?” of is hy ook een van daardie tipes wat meer op die golfbaan of in die plaaslike kroeg rondhang as by sy werk en dan slaap tot die koeie terugkom van die weiveld af? Sy byt haar onderlip om te keer dat haar gedagtes nie by haar mond uitglip nie.

“Hy is gewoonlik al seweuur op sy pos. Wie moet ek sê skakel?”

“Daleen Gerber. Ek huur die huis op Van Zylsrus.”

“Ek onthou jou. Jy het die kontrak kom teken. Net ‘n oomblik, ek skakel jou deur.”

Moet die vrou so vriendelik wees, terwyl sy van binne kook?

“Mevrou Gerber, dis Thomas Smith wat praat. Waarmee help ek?” vra ‘n hoflike mansstem in Engels.

Sy kan ook Engels praat, sy sal hom wys. “Meneer Smith, ek het ‘n probleem. Die afgelope weke was hier verskeie mense wat belangstel om die plaas te koop, enige tyd van die dag of nag, naweek in en naweek uit.”

“Mevrou Gerber, my klerk het blykbaar aan jou genoem dat die plek in die mark is en dat dit die rede is hoekom die huur so laag is en die kontrak aanvanklik net vir drie maande geldig is, waarna dit op ‘n maand-tot-maand basis verleng kan word,” verduidelik hy langasem geduldig, tipies prokureur.

Die hare in Daleen se nek kriewel terwyl sy afgemete antwoord: “Dit verstaan ek. Maar die nommer op die bord is onduidelik en almal kom klop aan my deur, sonder afspraak. En dan wil hulle deur die huis stap.”

“Nie dat dit so vreemd is nie. Mense kyk gewoonlik eers na ‘n huis, voordat hulle hand op papier slaan om dit te koop. Maar ek wonder net wie die bord alweer gesabotteer het.” Hy paai. “Moenie bekommerd wees nie, ek sal Adona stuur om die bord te kom regmaak.”

“En kan Adoons asseblief ook daarop verf ‘slegs per afspraak’?”

“Sy naam is Adona!” Sy stem verraai dat hy so byna sy koeligheid verloor. “Ek sal by hom hoor, maar met daardie ekstra inligting sal hy die bord dalk eers moet afhaal en later terugbring.”

“Terwyl hy dit doen, sal Adona dalk nog bordjies met pyltjies maak, wat mense reguit na John en Sarah se plek toe sal laat ry. Ek sal daarvoor betaal as daar ekstra koste aan verbonde is.”

“Natuurlik,” antwoord hy in ‘n stem wat nog ‘n persentasie van ‘n graad minder vriendelik is. “Mevrou Gerber, ek wil ook graag iets van jou weet. Lees jy enige dokumentasie en e-posse wat vir jou gestuur word?”

Sy kan hom seker invlieg en vertel dat dít niks met hom te doen het nie. Behalwe dat sy ‘n sinkende gevoel kry dat dit dalk álles met hierdie situasie te doen het.

“Nie alles nie,” antwoord sy, nadat sy ‘n paar moontike antwoorde oorweeg het. Eintlik niks behalwe dit wat op haar vryskutvertaalwerk van toepassing is, sou sy moet erken as sy regtig eerlik wou wees. “Is daar iets wat belangrik was?”

“Ja, ek dink die e-pos waarin geskryf staan dat jy as huurder van die hoofhuis bereid sou wees om potensiële kopers te ontvang en toe te laat om rond te kyk. Jy moes dit gelees het voordat jy die kontrak geteken het.”

“Regtig?” Sy hap na suurstof. “Ek weet nie of ek nog sou gehuur het as ek daardie klousule raakgesien het nie.”

“Sowaar. Jy het nie dalk die kontaknommer op die bord uitgekrap om mense daar weg te hou nie?”

“Nee.” Die man laat ‘n duisend klein kolletjies voor haar oë ontplof. Hy sal haar ‘n beroerte gee. “Ek het die bord vir die eerste keer gisteroggend behoorlik bekyk. Bekyk, nie bevat of betjorts nie.”

Daar is ‘n geluid wat gevaarlik na aan ‘n ingeslukte snorklaggie klink, voordat hy sedig opmerk: “Nou toe nou. Dit is werklik jammer dat jy die korrespondensie misgekyk het. Dit kon jou die moeite gespaar het om in die eerste plek daar in te trek.”

“Moontlik ja.”

“Nou kom asseblief in kantoor toe, dat ons die kontrak nul en void kan verklaar. Dan kan jy vertrek voor die einde van die maand. Ek het huurders wat toustaan om daardie pragtige huis vir ‘n appel en ei te huur.”

“Jy verstaan nie, meneer Smith.” Sy slaan oor in Afrikaans. Sy is besig om haarself gruwelik vir die man te vererg. En as jy na die slagveld gaan waar tonge in pleks van die swaarde kruis, is dit beter om dit in jou moedertaal te doen. “Ek gee glad nie om dat die mense kom kyk na die plaas nie. Hulle moet net eers bel. Ek werk ongereelde ure en my bed is dikwels nie eens opgemaak as hulle hier aankom nie. Soms slaap ek nog.”

“En wat doen jy wat maak dat jou ure so ongewoon is?” Hy slaan ook oor na Afrikaans. Glad nie slegte Afrikaans nie, al is die aksent onmisbaar diè van ‘n Engelse boertjie. En dit klink … vervlaks cute!

“Ek doen vertaalwerk. Afrikaans en Engels na Sotho.”

“Dit is ‘n baie belangrike werk.” Hy soek waaragtig vir haar! “Hoe laat verwag ek jou in my kantoor?”

“Om te wat?”

“Om jou deposito te kom haal.” Sommer net so.

“Onder geen omstandighede sal ek dit doen nie. Waar moet ek in die middel van die maand ‘n ander blyplek kry?”

“Mm …” dink hy? Nee hy is sarkasties laat sy volgende woorde haar besef. “Gits ek weet nie. Kyk weer in die landbou tydskrif se snuffelkolom. Sal negeuur jou pas?”

“Nee! As jy dink ek sal agter so arrogante en ongenaakbare prokureur soos jy aanry vir enigiets, maak jy ‘n fout.”

“Met ander woorde iemand van my kantoor sal agter ‘n bedorwe brokkie soos jy moet aanry.”

“‘n Wat?” vra sy skerp. Nog nooit in haar lewe was sy so verontwaardig nie.

“Jy het my gehoor. Ek sal die tjek laat aflewer.”

“Moenie dit waag nie. Ek hou nie van prokureurs nie en ek onthou nou weer wat die rede daarvoor is. Soos altyd is daar ‘n catch of klousule in kontrakte wat ons gewone mense nie raaksien nie.”

“En jy laat my weereens onthou hoekom ek nie van vroumense hou nie. Julle probeer om agterlosigheid met sjarme of katnaels toe te krap. Dis nie net ‘n klousule in die kontrak wat jy misgekyk het nie. Ons het ook vir jou ‘n e-pos gestuur, in veertienpunt hoofletters, Times New Roman getik en gemerk as uiters belangrik om te lees vóórdat jy die huurkontrak teken.”

“Nie gesien nie…”

“Ag tog.” Waar sy sug val, is daar nou so ‘n diep gat dat dit ‘n vloedramp in Japan veroorsaak. “Ek sal met John praat en seker maak dat niemand jou tyd verder mors vir die paar dae wat jy nog daar is nie. Nou moet jy my verskoon. My tyd is ook beperk. Die plaas is nie my enigste probleem nie. Beskou my bloot as die waghond van die Van Zyltrust.”

“Waghond? Van honde gepraat.” Sy dog sy sit nog in die bed, toe staan sy al langsaan. “Dis duidelik aan my gestel dat niemand hier troeteldiere mag aanhou nie. Gisteraand het John en Sarah se boerboel so vir die maan gekerm dat dit geklink het asof iemand sy keel met ‘n stomp mes afsny.”

“‘n Boerboel? Tensy hulle tussen ‘n week gelede en gisteraand ‘n hond gekry het, kan ek jou verseker daar is nie so iets nie. Hulle Jack Russell is twee jaar gelede dood nadat ‘n pofadder hom gepik het. Maar sê net volgende keer vir hierdie denkbeeldige hond voertsêk met daardie kwaai stemmetjie van jou en hopenlik verdwyn hy in dik mis. Intussen kry ek jou deposito reg en jy kan maar begin pak.”

“Ek gaan nêrens heen nie. Daarom, voertsêk jy liewer.” Daar gaan haar humeur.

Syne ook. “Ekskuus my?!” sis hy afgemete. “Wat het jy gesê?”

“Jy het my gehoor. Ek het gesê jý moet voertsêk. Ek bly waar ek is, ons het ‘n kontrak.”

“Waarmee jy al klaar in gebreke was omdat jy nie kan … wóú lees nie. Ons sal dus maar moet kyk wie voertsêk en wie bly. Net ‘n wenk, as vertaler behoort jy met interessanter woorde te skel as voertsêk. Voertsêk is so blerrie platvloers.”

“Izzit? Meneer Smith, kom ons hou liewer by die woord voertsêk, want as ek die ander woord sê wat ek eintlik nou voel, laat sluit jy my dalk toe!” Sy skakel die selfoon gekrenk af.

Sy is so ontsteld, as sy haar eie bloeddruk kon meet, het sy waarskynlik gaan lê en vir haarself ‘n ambulans bestel. Daar is egter net een skaal om haar bloeddruk nou mee te meet en dis die Richterskaal. Sy moet liewer vergeet dat sy vir Thomas Smith gebel het.

Net toe klop Sarah en John aan die glasdeur van die kombuis en sy stap teen die trappe af, sluit oop en groet so vriendelik as wat haar onstuimige gemoed haar toelaat.

“Môre mense.”

“Môre mevrou,” antwoord hulle feitlik gelyk. Hoeveel keer moet sy hulle nog vra om haar op haar naam te noem? Dan wil John weet. “Kan Sarah vandag kom huisskoon maak? En as jy wasgoed het …”

“Asseblief ja.” Daleen staan van die deur af weg en wag dat die vrou instap. Toe wil sy weet. “Wat het van hierdie huis se eienaar geword?”

“Meneer en mevrou van Zyl is albei oorlede mevrou.”

“Het die huis leeg gestaan tot ek hier ingetrek het? Of was hier ander slagoffers wat hulle teen die geheime klousules en aparte e-posse vasgeloop het?”

“Skuus mevrou?”

“Kanselleer die laaste sin. Wie het die huis gehuur voordat ek ingetrek het en hoe lank het die mense dit hier uitgehou?”

“Thomas Smith het hier gebly, maar hy hoef nie uit te gehou het nie. Hy het baie lekker gebly vir langer as ‘n jaar,” antwoord Sarah, waar sy begin om wasgoed te sorteer.

“Thomas Smith!” herhaal Daleen. Dit sink nie net in nie, dit val soos ‘n klip tot in die middel van haar sentrale senuwee stelsel. “Nou hoekom is hy weg?”

“Sy gewese vrou het na hulle egskeiding in sy groot huis gebly. Toe trek sy agter die rekenmeester aan en hy moes teruggaan. Mense breek plekke wat leeg staan. Nou het die smart huis verkoop. Thomas het nie gedink sy plek gaan so vinnig verkoop nie. Hy soek nou ‘n kleiner woonstel om te huur.”

“Hy sou seker eerder weer in hierdie huis wou kom woon as in ‘n klein woonstelletjie.”

“Hy sê die plaas is baie gerieflik geleë.”

Dit klop. Dit is seker hoekom hy haar so dringend hier wil uitkry. Hy wil terugtrek.

Daleen maak vir Sarah en John elkeen ‘n beker koffie en glip weg om te gaan bad en aantrek. Later met die laptop oop voor haar op die kombuistafel sukkel sy steeds om al die inligting te verwerk.

“Hoekom werk jy nie in die studeerkamer nie?” vra John en kom sit sy leë beker in die wasbak.

“Die lessenaar is toegepak. Die plek lyk soos ‘n museum.”

“Maar ons pak weg en maak vir jou werkplek. Kom ek gaan help jou.” John stap sommer daarnatoe en sy stertjie maar agterna.

“Het die Van Zyls kinders? Hoekom het hulle nie die plaas geërf nie, John?”

“Hulle was kinderloos. Daar is geen testament nie. Dit is hoekom die plaas se boedel nie klaarkry nie. Thomas praat van interstaatlik.” John beduie na ‘n foto teen die muur. “Dis hulle op die kiekie.”

Twee strak gesigte staar onsiende van agter ‘n bolglas uit ‘n ovaalvormige raam na haar. Die foto is waarskynlik op hulle troudag geneem. Lank terug.

“Bly te kenne meneer en mevrou Van Zyl,” groet sy en John gluur haar vreemd aan.

“Het hulle jou geantwoord?” vra hy dringend. Sy donker oë so groot soos die van ‘n ooruil.

“Nee man. Ek maak sommer net … ‘n grap.”

“Jy moenie. Daar is mense wat hulle partykeer sien … Maar soos wat hulle in die laaste jare gelyk het.”

“Ek is nie een van daardie mense nie.” Daleen kyk stip na die ou man op die ander foto. “Vertel my van hulle.”

“Mevrou was musiekonderwyseres en het vir jare die orrel in die kerk gespeel. Oom Faan was skoolhoof, voordat hy kom boer het. Hy het so vier jaar terug ‘n vreeslike liking in Thomas gekry. Gesê die kêrel voel vir hom soos ‘n eie kind.”

“Raar, dat enigiemand hom like,” brom sy.

Daar is ander foto’s ook teen die muur. Die groepfoto van die kerkraad van die klipkerk laat Daleen naderstap. Sy is nuuskierig om te sien hoe die waardige en heilige blouoog dominee van die klipkerk lyk.

“Old blue eyes,” spot sy. “Nie sleg nie. Net jammer jy is getroud.”

John grinnik saam.

“En hierdie ou geweer?” Daleen haal ‘n stokou Lee Mettford van sy haak af, waar dit langs die boekrak teen die muur gemonteer is.

“Oom Faan het dit by daardie koppie opgetel. Hier was mos battles van die Anglo Boer War.” John wys na die heuwel wat skerp styg net verby die rivier. Maar dan trek iets aan sy linkerkant sy aandag. Sy oë trek skrefies. “Daar kom ‘n kar.”

“Dis Thomas.” roep Sarah uit en storm verby om die voordeur te gaan oopgooi as gebaar van verwelkoming.

“Ek het gewonder wanneer kom hy weer.” John se gesig verhelder.

Daleen stap uit en hou die stofstreep met toenemende ergernis van die stoep af dop. Die man ry soos ‘n maniak. As ‘n klein donkerblou Volkswagen Polo in staat was om vlerkies te groei, het Thomas Smith aangevlieg gekom. Hy stop dwars voor die huis en netjies in ‘n donkerblou pak en das, klim ‘n halfgebakte Engelse kapokhaan, verskuil agter ‘n Police donkerbril agter die stuurwiel uit. Maar dan uiter hy iets onverstaanbaar en duik terug in die kar. Woorde wat sy as taalkundige tog beslis moet gaan opkyk, indien dit in enige woordeboek verskyn. Die man klap die deur toe en draai die venster op ‘n klein skrefie oop.

“Moenie skiet nie. Kom ons skik in vrede.”

Vir die eerste keer besef Daleen dat sy met die Lee Mettford uitgestap het en dat die punt min of meer vir die deur van die Polo korrel. Dit voel goed. Dit voel amper soos om die hef in die hand te hou, dink sy geamuseerd.

“Kan Thomas asseblief uitklim? Hy kom gewoonlik ongewapen hier aan,” fluister John.

“Hy bly net waar hy is.” Sy roep. “Ek het jou gewaarsku om weg te bly, prokureur Smith.”

Deur die skrefie van die ruit verskyn ‘n koevert.

“‘n Vrywaring wat die huurkontrak nul en void verklaar en ‘n tjek om jou deposito terug te gee.”

“Los dit. Ek sàl nie trek nie. Jy het verniet hiernatoe gekom. Gaan asseblief.”

“Nee, hy mag nie nou al ry nie. Thomas kom drink eers saam met ons tee.” Sarah stap na die kar toe en viendelik nooi.

“Moenie jou aan Daleen steur nie. Dis die ou Mettford wat teen die muur sit,” skaar John hom ook by die vyand.

“Ja dankie, dan sal ‘n koppie tee lekker wees.” Die dikvellige vent ignoreer Daleen se ontstoke gesig en klim uit. Buite haal hy die donkerbril van sy gesig af en toe hy opkyk en vriendelik in Sarah se rigting glimlag, kry Daleen vir die eerste keer kans om behoorlik na sy gesig te kyk.

Sy snak na asem. Thomas Smith kyk amper met dieselfde sagte blou oë van Graham Howell na haar. Oë wat musiek met haar siel kan maak en haar hartklop in so ‘n vreemde ritme opklits dat dit voel asof sy kortasem en lighoofdig van haar voete af kan steier.

Sarah vat Thomas se arm vas en begin met hom aanstap. “Kom saam mevrou Gerber, ek weet jy het nog nie vanoggend iets geëet nie. Ek gaan maak vir ons almal tee en broodjies.”

“Nie vandag nie dankie. Ek gaan ‘n entjie stap. En sê vir die vent ek bly net hier, hy gaan my nie uitgewerk kry nie.” Daleen prop die Lee Mettford in John se hande en vlieg om. Haar voete begin vanself aanstap al het sy geen idee waarheen nie.

Wanneer sy uiteindelik opkyk is sy naby die koppie waar sy Graham Howell sien wegstap het. By die rivier kom die boerboel van iewers af aangehardloop.

“Hallo hond.” Hy draai sy kop vraend skeef. Wanneer sy ‘n stok optel en dit gooi, lag hy haar alweer met daardie ou groot bek uit.

“Te smart om stokke te gaan haal?”

‘n Onverwagse beweging en die gerunnik van ‘n perd aan die oorkant van die rivier laat haar omswaai. Al sien sy hom net vir ‘n kort oomblik weet sy dat daardie aristokratiese houding aan net een persoon kan behoort, Graham Howell. Dan is dit nie ‘n droom nie. Die man bestaan werklik.

Dis duidelik dat die hond hom ook gesien het, want hy waad deur die water en sit die ruiter met ‘n spoed agterna.

“Graham, wag vir my, ek wil met jou praat!” Daleen druk riete weg en soek desperaat na ‘n smal plek in die rivier. Wanneer sy uiteindelik deurstap kom sy nie eens agter dat sy met een van haar tekkies in die yskoue waterstroompie trap nie.

Die hond wag haar aan die anderkant van in, maar van die ruiter en perd is daar nie ‘n spoor nie.

“Soek hulle Snuffels.” Sy wys op die grond en die hond snuif teen die grond. Dan is dit asof hy iets vind en hy laat waai teen ‘n dowwe paadjie op wat skerp na regs draai. Sy volg hom verby ‘n natuurlike rotswand en kan skaars byhou teen die skuinste. Beslis nie die roete wat ‘n ruiter en perd sou volg nie, maar die hond lyk besonder seker dat hy vir haar iets belangrik kan gaan wys.

Ens ens ens …

As jy die eboek graag op jou laptop of foon wil lees, stuur epos aan liefdesverhalenmeer@gmail.com Koste R20.00 Jy betaal eers nadat jy jou boek ontvang het. Jy kan ook enige 3 eboeke kies en R50 betaal vir al 3

Lesers van eboeke op Amazon, kan vanaf 1 Maart 2019 hierdie boek vir slegs $1 aankoop.

Op Amazon as Afrikaanse eboek: https://www.google.com/url?sa=i&source=images&cd=&cad=rja&uact=8&ved=2ahUKEwiZ47_2m-DgAhUDXRoKHRl2BWgQjhx6BAgBEAM&url=https%3A%2F%2Fwww.amazon.com%2FVuur-Verlange-Afrikaans-Adele-Reynders-ebook%2Fdp%2FB01MZ6I7F6&psig=AOvVaw3PM-dvE0FYkGI9hvjXzLkG&ust=1551504798994196

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.