Skaakspel van die Liefde – Adele Reynders

skaak2-1.jpg

 

SKAAKSPEL VAN DIE LIEFDE – Adele Reynders

Eboek verwerking – Renza Boeke

 

Nadia Joubert gaan vir ‘n tydjie op Ingwelala werk. Maar daar gebeur vreemde dinge op die plaas wat aan Dawie en Frik Malan behoort – Iemand skilder oor die kosbare Rotskuns van die Boesmans … En speel skaak met die harte van geswore alleenlopers. Iemand gaan val vir die liefde, solank dit net nie sy wat Nadia is nie.

 

Hoofstuk 1

Dankie tog dis nog vakansie. Nadia Joubert kry vir ‘n verandering ‘n parkeerplek reg voor die administrasie gebou van die universiteit. Gedurende die jaar is die universiteit se kampus so besig dat sy soms doer ver moet gaan parkeer, en nadat sy die prof vir ‘n uur of so gesien het, soek sy vir die res van die dag na haar verlore kar. Dis een van die redes hoekom sy soms verlede jaar gewonder het wat haar besiel het om in hierdie laat stadium van haar lewe ‘n nagraadse kwalifikasie in Argeologie te verwerf.

Maar Argeologie was nog altyd vir haar ‘n interessante lees en studierigting en sy voel regtig bevoorreg om van môre af deel van professor Julissa D’Almeira se span te wees wat gaan werk op Ingwelala, ‘n afgeleë plaas in Mpumalanga.

Nadia sluit haar kar en stap by die impossante gebou in, agter ‘n varsgebroude koffiegeur aan. Professor Julissa D’Almeira se ingevoerde koffie, waarvoor baie studente bereid is om te lieg, nog verder te swot of selfs te druip, net om dit nog eenmaal te proe. Nadia is nie van plan om een van die drie te doen nie, maar sy stap tog vinniger. As Julissa iemand dringend wil sien, los daardie iemand alles om te kom hoor waaroor dit gaan.

“Bly jy kon dit maak. Ons moet gou vir Dawie Malan jou vrywaringspapiere neem om te teken. Koffie?” Julissa wag nie dat sy antwoord nie. Sy vul twee bekers met die swart vloeistof en wag dat Nadia suiker en melk by hare gooi voordat sy praat.

“Daar is iets wat jy moet weet. Dis algemene kennis dat kwaaddoeners soms met stokke en vingers oor Rotskuns krap. Maar by Ingwelala gebeur daar die afgelope paar jaar regtig vreemde dinge. Dis hoekom ek juis daardie plek gekies het om my boek oor te skryf.”

“Vertel,” por Nadia haar aan, toe sy stilbly.

“Die inligting is baie sensitief en moet asseblief nie die koerante haal nie.” Die prof meet Nadia ‘n oomblik met die oë, asof sy wil seker maak die geheim is veilig en toe blaker sy dit uit. “Iemand, of meer as een persoon skilder nuwe prente oor die oues.”

“Wat? Dis bisar. Heiligskending. Wie sal so iets doen?”

“Ons weet nie. Die mense wat op die plaas woon en werk is al gedreig met tronkstraf.” Julissa kou aan haar onderlip, trek skouers op.

“Is dit dalk kinders wat grappe maak?”

“Ek glo nie. Die werkers se kinders is net so versigtig vir die plek as wat hulle voorvaders was.”

“Kan die polisie nie vasstel wie die boosdoener is en waar hy vandaan kom nie?”

“Dis nie belangrik genoeg vir die polisie om mannekrag daarvoor af te knyp nie. Menselewens is nie in die gedrang nie. Behalwe as ék die pes in die hande kry.” Julissa maak ‘n snybeweging met haar vinger oor haar keel.

“Hoekom stel julle nie kameras op en betrap die persoon op heterdaad nie?”

“Been there, done that. Toe dra die skurk die kameras ook weg.” Julissa kyk haar streng aan. “Onthou, jou opdrag is nie om die skuldige te vang nie. Jy gaan my boek illustreer.”

“Toemaar, ek is te bang om skurke te jaag,” paai Nadia. “Hoe laat verwag meneer Malan ons?”

“Laat hom wag.” Julissa sak gemaklik agteroor in haar lessenaar se stoel, tel weer haar koffie op en teug diep voor sy vra. “Hoe het jou eerste alleen Kersfeesseisoen jou behandel?”

“Eintlik verbasend goed. My kinders het kom kuier. En my mede plotbewoners het amper elke dag gesorg vir ‘n partytjie. Daar was nie baie tyd om te dink nie.”

Daar is nie baie mense met wie Nadia die afgelope ruk oor haar nare egskeiding kon praat nie. Maar vir Julissa steek mens niks weg nie. Veral nie as jy soms verlede jaar met rooi oë hier ingestap het nie. Oë wat beslis nie getuig het van deurnag studie en harde navorsing nie. Dit was nogal lekker om haar hart uit te praat teenoor iemand wat saam met haar woedend kwaad kon word oor Francois se mannewales en huwelik met sy jeugdige vrou.

“Bly om te hoor jy is oukei.” Julissa sit haar leë beker eenkant neer en blaai deur ‘n stapeltjie papiere op die tafel tussen hulle. Sy trek ‘n biljet uit. “Dawie het al so een ontvang en Frik s’n is in my aktetas. Dis die nuusbrief van die universiteit waarin ons die Malans bedank vir wat hulle vir die universiteit se Argeologie-departement beteken. Lees gerus die stuk oor Ingwelala.”

“Interessant. Dankie” Nadia tel dit op en kan nie help om raak te sien dat die manne op die foto daarnaas besonder aantreklik is nie.

“Dawie en Frik Malan is albei alleenlopers,” verduidelik Julissa asof sy Nadia se gedagtes kan lees. “Wees versigtig vir Dawie. Hy is ‘n jagter wat ‘n bloedspoor van stukkende vroueharte agterlaat waar hy ookal gaan. Frik stel weer glad nie in vrouens belang nie. Was nog nooit getroud nie en sal ook nooit trou nie.”

“Slim man,” besluit Nadia. “Ek dink die helfte van ons is buitendien nie troumateriaal nie.”

“Vrouens is meestal orraait. Mans is nie troumateriaal nie.” Julissa staan op. “Sal ons gaan? Die man is seker teen die tyd smoorkwaad omdat ons laat is vir die afspraak.”

“Laat? Hoeveel is ons laat?” Nadia kyk ondersoekend na haar. Dit lyk sowaar asof sy moedswillig draai.

“Baie laat.”

“Nou kom ons gebruik sommer my kar, ek het reg voor die deur parkeer.” Nadia raap haar handtas en sleutels van die tafel af op.

Maar Julissa is glad nie so haastig om by die kar te kom nie. Inteendeel, ‘n badkamerdeur oppad na die uitgang sluk haar eers in en Nadia sit al vergete vir haar en wag, toe sy die agterdeur van die vier by vier oopmaak en haar eie stapeltjie papiere op die sitplek neersmyt. Daarna skuif sy aan die passasierskant in en druk die sitplek terug om plek te maak vir haar ellelange bene.

“Waarheen?” Nadia druk die kar in rat en trek weg toe die prof se deur uiteindelik toeklap.

“Brooklyn.”

Die meeste van die eiendomme in die straat waarin hulle draai is al gehersoneer en het besigheidsregte op, soos hierdie dubbelverdieping gebou met sy koperplaat by die hek, waarop die naam Malan eiendomsontwikkelaars gegraveer is. Baie netjies, baie stylvol. Nadia hou voor die deur stil.

“Nou hoop ek net Dawie het nie intussen gery nie. Hy is alweer oppad oorsee. Kan jy dit glo? Hierdie tyd van die jaar!” Die prof skud haar kop om haar ongeloof te onderstreep, voordat sy haar deur oopmaak om uit te klim. “Gaan parkeer langs daardie plat gedroggie onder die afdak en kom in dat ek jou aan Dawie kan voorstel.”

Die plat gedroggie is nie sommer so ‘n kar nie, sien Nadia. Dis ‘n formidabele stuk tegnologie met ‘n Mercedes wapen op. Sy klim uit, sluit die voertuig en stap by die hoë voordeur met sy pilare in. In die smaakvolle ontvangslokaal stop Nadia ‘n oomblik om te probeer vasstel waarheen Julissa verdwyn het. Die onderste vloer is verlate. Die personeel hou nog vakansie.

Nadia stap teen die breë trap op na die tweede verdieping waar die kwaai stem van ‘n man onverwags uit ‘n vertrek iewers aan haar linkerkant opklink.

“Ek weet nie hoekom ek gewag het nie, D’Almeira. Dis jóú papierwerk wat nie op datum is nie, nie myne nie.”

Nadia stop in haar spore toe sy ‘n man met ‘n aktetas in sy hand voor Julissa sien staan. Dit lyk asof hy op die punt was om pad te vat.

“Dawie, dit gaan rof! Jy weet mos my tyd is nie my eie nie.” Julissa se stemtoon is meer ‘n aanval as ‘n apologie.

“Jou tyd is nie jou eie nie, maar almal rondom jou se tyd is joune. Ag, vergeet dit. Ek moet seker dankbaar wees om te sien dat jy vandag slegs twee ure laat is, gewoonlik is dit vyf of meer.”  Hy plak sy aktetas op die hoek van die tafel neer. “Gee die dokument dat ek kan teken en kry jou ry.”

“Hier.” ‘n Dowwe slag toe Julissa haar vrag onnodig hard op sy lessenaar aflaai.

“Jimmel, dis nie ‘n dokument nie, dis die Bybel!” Sy stem slaan deur van verontwaardiging en Nadia koes agter die muur in die gang toe hy effens omdraai. As Malan vir D’Almeira vandag kop eerste teen die trappe gaan afgooi, wil sy nie in die pad staan nie.

“Dis net ‘n standaard vrywarings kontrak sodat een van my nagraadse studente kan agterbly om jou pa se foto’s deur te werk en te rekordeer.” Julissa val in ‘n stoel neer en rol haar duime ongeduldig oormekaar. “Maar lees dit deur as jy bang is ons verneuk jou.”

“Ek is nie meer bang nie, ek is vuisvoos. Jy het my al so baie in my lewe bedrieg, ek weet nie meer waar om te keer nie.” Dit klink nie asof hy ‘n grap maak nie.

“As julle nie so heilig was op die skyfies en foto’s nie, kon Nadia in Pretoria daaraan gewerk het.”

“As ek my mond gehou het en jou nie daarvan gesê het nie, het daar nie alreeds ‘n klomp daarvan in Pretoria weggeraak nie,” kap hy terug en begin blaai tussen die papiere.

“Dit was nie ek nie, dit was by die laboratorium.” ‘n Horde klingelende armbande protesteer saam, soos wat sy met die hande keer. “Het jy enige besware as iemand langer as die twee weke op die plaas bly?”

“Natuurlik het ek! As iemand langer as ‘n maand daar bly, kry ons dalk ‘n grondeis van die universiteit af.”

“Baie snaaks. Julle sal nie eens van Nadia weet nie. Sy is baie stil en eenkant.”

“Hoe lank beoog hierdie … persoon … om op Ingwelala te plak?”

“Maksimum twee maande.”

“Indrukwekkende CV en baie mooi sketse. Terloops, hoe lyk hierdie Nadia Joubert? Is sy darem mooier as wat sy slim en talentvol is?”

“Wat het dit met engiets te doen?” roep Julissa uit.

“Niks, ek wonder maar net.” Daarna dreig hy. “Oor twee maande verlaat hierdie Rotsvrou die plaas. Het ons mekaar?”

“Ja Dawie, ons het mekaar. Parafeer asseblief onder aan elke bladsy en teken op die laaste bladsy voluit. Nadia stel nie in mans belang nie.”

“O, nog ‘n mannehater,” spoeg hy die woorde uit. Sy pen girts op die vorm, voordat hy die kontrak oor die tafel vir haar terugstuur. “Verduidelik net vir hierdie feminis, dat sy nie mag jag of strikke stel op Ingwelala nie. En geen oop vure in die veld nie.”

“Dawie, jy moes flieks gemaak het. Met so ‘n verbeelding sou jy skatryk gewees het,” antwoord Julissa sarkasties.

“Is dit al?”

“Ja, dit is.”

“Gaaf, dan moet jy my verskoon, ek moet nog my kar op die lughawe gaan parkeer.”  Dawie beduie vir Julissa waar die deur is. Dis tyd om te vertrek. Hy gebruik nie woorde nie, maar selfs ‘n doofstom en blinde persoon sou sy gebare sonder ‘n stok begryp. Sy moet verkas. Wamoose. Nou!

En dit maak Nadia ook haastig om te vertrek. Sy sluip so vinnig en so sag as moontlik teen die trappe af en gaan trek haar kar onder die afdak uit.

Dankie tog Julissa kom sonder die man by die voordeur uit.

“Waar was jy?” Die prof klim ewe vrolik langs Nadia in, asof sy nie pas ‘n paar houe in die bokskryt ontvang en uitgedeel het nie. “Ek wou jou aan Dawie voorstel.”

“Ek het omgedraai toe ek hoor hoe julle baklei. Is hy altyd so beduiweld?” vra Nadia.

“Haai nee, dink jy Dawie is beduiweld?” Julissa begin lag. “Dawie is ‘n vreeslike gemoedelike ou. Dit verg nogal moeite om sy hokkie so te skud.”

“Wat?” Nadia gaap haar aan. Vir ‘n oomblik vergeet sy dat sy die een is wat agter die stuurwiel sit en moet ry. “So jy maak hom aspris kwaad?”

“Nee, ek jaag net sy adrenalienvlak so bietjie op. Sal ons gaan?” vra Julissa rustig en haal haar notaboekie uit en maak ‘n regmerkie langs Dawie Malan.

 

Hoofstuk 2

In ‘n konvooi neem dit veel langer om die sowat vierhonderd kilometer pad na die plaas toe af te lê. Nadia is bly dat haar motortjie so vol gelaai is dat daar nie van die ander kollegas of studente saam met haar kon ry nie.

Sy verkies dit om alleen te wees en sy sien veral uit na operasie ‘verdwyn’ in die koppies naby Malelane. Selfoonontvangs in die omgewing grens blykbaar aan ‘n primitiewe twee strepies. Daarom het sy almal gewaarsku dat hulle nie bekommerd moet raak as hulle nie van haar hoor nie. Sy sal so eenmaal ‘n week ‘n epos of twee stuur, of op Facebook inrapporteer … as sy so voel.

Naby Emalahleni lui haar selfoon en Nadia loer so in die ry na die skerm. Dis Francois, haar gewese man en amper los sy die stuurwiel van skrik. Hoekom sou hy haar soek? Het iets met een van die kinders gebeur? Sy haal diep asem en druk die groen knoppie om te antwoord.

“Het jy my paspoort by jou?” val hy met die deur in die huis, nog voordat sy ‘n geluid uitkry.

“En ‘n voorspoedige Nuwejaar vir jou ook Francois,” antwoord sy kil. “Nee kyk in die kluis. Dis waar ek altyd ons kosbare dokumente gehou het. Geniet jou reis, waarheen jy ookal beplan om te gaan en moenie my weer op hierdie nommer bel nie. Hierdie nommer behoort nie meer aan ‘n selfoon nie.”

“Wat bedoel jy?” Sy stem klim, maar sy sal hom nie antwoord nie. Sy sal ook nie toelaat dat hy haar ontstel nie. So in die ry, gooi sy die selfoon met ‘n boog by die venster uit en sien met genoegdoening in haar truspieёltjie hoe die groot trok skuins agter haar dit met ten minste drie van sy agttien wiele vergruis.

Dit was kinderagtig en impulsief, berispe haar regterbrein haar. Maar dit was so lekker, troos haar linkerbrein en sy voel skielik soos iemand wat op ‘n sorgvrye vakansie gaan.

Ingedagte skakel sy die CD speler van die kar aan en Nana Mouskouri trek los met Only love can make a memory. Only love can make a moment last …  en toe dit kom by I was part of you and you were all of me, word die pad voor haar dof. Trane rol sommer as sy dink hoe vinnig Francois na hulle egskeiding kansel toe gestap het met ‘n nuwe vrou. Haar Francois met wie sy vier en twintig jaar getroud was, wie sy as haar alfa en omega beskou het. Sy neem die kinders nie kwalik omdat hulle vanjaar gekies het om saam met hulle eie vriende in ‘n kommune in te trek nie.

Hulle is skielik groot. Onafhanklik.

Teen die tyd dat hulle stop om koffie te drink naby Machadodorp voel sy beter en hoop sy dat niemand agterkom dat sy gehuil het nie. Dis klaar. Sy sit dit nou agter haar. Daar agter waar die selfoon se duisend flentertjies waarskynlik intussen in die warm teer vasgesmelt het.

Daarvandaan kom en gaan Nelspruit vinnig. Die natuurskoon net voor Malelane slaan haar asem weg. Loodregte kranse en gapende afgronde. Silwer waterstrome tussen lowergroen plante. Klippe wat lyk asof die Groot Ontwerper van die heelal dit met ‘n fyn plan opmekaar gestapel het. Nadia kan verstaan dat daar tussen hierdie koppe steeds industrie komplekse, Rotskuns en ‘n ryke kultuur erfenis is wat wag om ontdek te word. Na ‘n ruk draai hulle van die teerpad af en korrel Noord in die rigting van die Krugerwildtuin se grens.

Julissa en haar vriendin Gaby ry vooruit in ‘n rooi Volkswagen Kombi, met die grootste deel van die groep by hulle. ‘n Man en vrou volg in ‘n Nissan bakkie en drie dames ry met ‘n Hyundai Atos reg agter hulle.

Uiteindelik bring Julissa die prosessie voor ‘n reuse houthek tot stilstand.

Nadia sien heel eerste die groot swart hings wat reguit na Julissa se Kombi toe aankom raak. Daarna staan ‘n man van ‘n boomstomp af op en rek homself luierig uit. Frik Malan, een van die manne op die foto by die artikel. Hy is soveel aantrekliker in die werklike lewe, dat Nadia wonder hoekom dit altyd die heel aantreklikste manne is wat nie belangstel om te trou nie.

“Waar bly julle so lank?” vra Frik. “Ek het julle al ‘n uur terug verwag.”

“Ons het rustig gery. Hoekom het jy gewag? Ons kon jou mos whatsApp.”

“Dan kry ek die boodskap eers oor ‘n week, want die toring is alweer af en die hekwag is tot môre met verlof.” Frik glimlag gemoedelik.

“In daardie geval, dankie dat jy gewag het. Dis lekker om jou te sien.” Julissa trek hom teen haar vas, voordat sy na Nadia beduie. “Frik jy het die lede van die groep al vantevore ontmoet, maar daardie enetjie in die silwer Kia Sportage is Nadia Joubert. Sy is die een wat agterbly om ekstra werk te doen.”

“Nadia. Jy is baie welkom.” Frik kom loer by haar kar se venster in en toe deins hy effens terug. “Is jy seker dis Nadia?”

“Dis wat haar ID-boek my vertel. Maar deesdae kan mens dit nie regtig glo nie. Hoekom?” vra Julissa streng.

“Ek dog sy is ‘n… ‘n bietjie rof.” Hy struikel effens oor sy woorde, asof hy sy gedagtes versigtig formuleer om niemand te afronteer nie.

“O aarde, Dawie het jou gebel en geskinder,” besluit Julissa selfvoldaan en stap terug na haar Kombi toe. “Hy moes sy eie afleidings gemaak het, want hy het haar nog nooit gesien nie.”

Die prof klim in die Kombi. Die enjin kry lewe en daar trek sy.

Terwyl Nadia haar kar aansluit en ook begin ry sien sy in haar truspieëltjie dat Frik met die perd tussen die mangobome wegdraai om waarskynlik ‘n ander pad deur die boord te volg. ‘n Korter roete as die kronkelpad wat die prosessie verby vrugteboorde en ‘n imposante grasdakhuis neem want hy is reeds by hulle bestemming wanneer hulle uiteindelik daar stilhou.

Die rondawelkamp het sewe hutte, ‘n ablusieblok en kombuislapa soos wat Nadia al op foto’s gesien het. Die swembad lyk asof dit uit die rots gekap is.

Julissa trek onder ‘n wye afdak in, vlieg agter die stuurwiel uit en beduie vir die bestuurders van die ander voertuie om langsaan te parkeer. Daarna maak sy klere los en pyl op die swembad af. “As ek nie nou water op my lyf voel nie sterf ek van die hitte.”

“Genugtig, het jy nie swemklere saamgebring nie?” roep Frik geskok uit. Hy kyk opwaarts en maak sy hande oop, asof hy hulp uit die blou lug verwag. Of apologie aanteken vir sy vriende se swak gedrag. Hy draai na Nadia. “Gaan jy nie ook swem nie?”

“Nie sonder swemklere nie.”

“Oukei.” Hy bestudeer haar asof hy nog steeds sukkel om sy vorige persepsie oor haar te verander.

“Mag ek maar rondkyk en bene rek?” Sy beduie in die rigting van die wildtuin se heining.

“Natuurlik. Volg die paadjie langs die draad tot by die uitkykpunt. Ek vat gou die perd terug stalle toe.” Frik keer die perd om en ry weg. “Sien jou later.”

Dis anders hier bo as by die onderste deel van die plaas waar hulle verby gery het, waar vrugteboorde georden uitgelê is. Hier is die natuur steeds ongerep met ‘n asemrowende uitsig oor die Krokodilrivier en wildtuin. Sy is bly sy het haar verkyker saamgebring.

Die roete bring haar tot by die grasdakuitkykpunt, waar sy haar sandale uitskop en op die koel klipbankie gaan sit.

“Is jy bly jy het my aanbod aanvaar om hier te kom werk?” Julissa en vriendin Gaby spoor haar ongeveer ‘n uur later daar op.

“Ja dankie. Dis verskriklik mooi hier.” Nadia sit regop. “As dit enige ander mense behalwe die Malans se plaas was, het ek gevra om in hierdie uitkykpunt te kom plak, totdat ek my kop eendag neerlê.”

“Nou hoekom kan jy dit nie vir die Malans vra nie?” vra ‘n stem agter Gaby en Nadia kyk vas in Fik Malan se geamuseerde donkerbruin oë, waarvan die wenkbroue in twee vraagtekens getrek is.

“Oeps.” Dit was nie vir sy ore bedoel nie.

“Nadia het Dawie se diep beswaarde kant beleef,” help Julissa haar uit die verleentheid. En sy vertel vir Frik hoe opgeklits Dawie die vorige dag was.

“Met ander woorde jy het hom weer kwaad gemaak, Julissa,” som Frik dit op en gaan sit op die muurtjie voor Nadia, terwyl hy haar reguit aankyk.

“Ek maak hom nie kwaad nie. Ek hou hom net op sy tone,” keer Julissa. “Hy dink hy kan enige tyd vingers klap en almal moet spring.”

“Nou haal hy dit op die pragtige Nadia uit. Siestog en sy mag nie jag, slag, strikke stel en vure maak nie. Waarvan gaan sy leef?” Frik klik simpatiek met die tong, asof hy oortuig is dat dit presies is wat sy beplan het om daar te kom doen.

Pragtige Nadia. Het sy reg gehoor? As hy dit regtig gesê het, is dit ‘n reuse kompliment vir haar.

Frik haal ‘n paar bottels yskoue vrugtesap uit ‘n koelsak wat hy gebring het.

“Frik, ek hoop nie jy gaan hom nou met die eerste geleentheid inlig dat Nadia eintlik ‘n klein fyn vroutjie is nie,” dreig Julissa. “Los hom in die stad waar hy genoeg Barbi poppe het om mee te baljaar.”

“Dis hulle wat hom lastig val,” keer Frik.

“Maar dit gee hom steeds nie die reg om soos ‘n wafferse skaakspeler elke vrou wat sy pad kruis as sy persoonlike pionne te beskou nie,” neem Gaby ook aan die aanval deel. “Hy skuif haar na hartelus rond en as hy met haar klaar is, smyt hy haar van sy geruite bordjie af.”

“Dis ‘n onregverdige vergelyking. Jy maak asof die vrouens geen wil het nie. Hulle kan mos self besluit of hulle saamspeel,” kan Nadia nie help om op te merk nie.

“Moenie glo nie. Die gode het hom mos in ‘n pakkie gesit wat die meeste vrouens onweestaanbaar vind. Julle sal nie glo nie, maar elke vrou wat hy deesdae uitneem is jonger en mooier as die vorige een. Wat sou Ester daarvan gedink het as sy nog moes leef? Dis ‘n klap in haar gesig,”

“Wat maak dit tog saak? Sy is nie meer met ons nie.” Frik staan op en draai om, asof hy besluit om liewer pad te vat. Maar dan tel hy Nadia se verkyker op. “Kyk daar. ‘n Olifanttrop met kleintjies.” Hy beduie na waar die rivier se loop ‘n draai maak.

“Moenie die onderwerp verander nie, Frik. Ek wens die universe wil vir Dawie een of ander tyd ‘n les leer. Hoekom beland Rudi se meisies altyd op die ou end in Dawie se arms?”

“Hy is volwasse.”

“Nee, hy vry hulle af, met sy subtiele maniertjies. Erken dit Frik.” Julissa hou haar bottel sap dreigend in Frik se rigting. “En sy baie geld en mooi plat kar. Hy is ‘n meester. Ek wil hê dat Nadia moet hoor hoe Dawie funksioneer. En sy moet weet dat sy waarskynlik volgende op die lys sal wees as hy plaas toe kom, daarom net ‘n laaste waarskuwing voordat ons van hierdie onderwerp afstap. As jy en Nadia enigsins … vriende raak, moenie dat hy dit agterkom nie.”

“Dit sal nie gebeur nie. Moenie bekommerd wees nie.” Frik keer met sy hande.

Nadia wonder wat dit is wat hy glo nie gaan gebeur nie. Is hy nie van plan om met haar bevriend te raak nie? Of glo hy Dawie gaan nie in haar belangstel nie?

Maar wat maak dit saak? Sy gee nie regtig om nie. Sy is nie van plan om weer deur enige man van die negende wolk afgesmyt te word nie.

 

Daardie aand hang die maan in ‘n volronde goudgeelbal oor die aarde.

“Vir baie volke is die maan die simbool van vroue en die liefde.” Julissa beduie met haar vurk.

“Slegs as jy met die maan gepla is,” snork iemand sinies.

“Die maan speel ‘n groot rol in die religie van die Boesman of San,” sê Gaby. “Dis die tuiste van die maangod. Dis die plek van groen weivelde en waar baie potte vleis op vier hoewe rondloop.”

“Maar ook waar die kaarte vir liefde en voortbestaan gedeel word,” voeg iemand anders entoesiasties by.

“Baie meer misdaad en moorde word tydens volmaan gepleeg,” brom die enigste ander man in die geselskap.

“Vergeet moord. Dink aan liefde.” Julissa lig haar glas met rooiwyn. “Mag almal wat alleen is die skaakspel met die maangod wen en liefde in die Nuwejaar vind.”

“Wat is dit deesdae met jou en die skaakspelery, Julissa? Wil jy ‘n klub by die universiteit begin?” spot Frik.

“Nee, ek wil julle net herinner dat die lewe vinnig verbysnel. As liefde en geluk jou blokkie kruis, moenie dat ‘n kasteel of koning jou kanse bederf nie.” Julissa raak amper emosioneel. Dis waarskynlik te danke aan die twee bottels Zandfliet Shiraz wat koponderstebo in die sand lê.

“My lewe is piekfyn, net soos dit is. As ‘n skaakspel met jou maangod gaan maak dat ek ‘n vrou ontmoet wat my rustige bestaan versteur, wil ek nie eens opkyk nie,” besluit Frik en lig sy bierbottel. Die ander man in die geselskap beantwoord sy heildronk met ‘n entoesiastiese amen.

Nadia neem nie deel aan die gesprek nie, maar al sou sy dit heftig ontken as iemand haar daaroor uitvra, mis sy tog iemand in haar lewe. ‘n Man wat sy arms koesterend rondom haar vou. Met wie sy later hand aan hand na haar rondawel toe kan stap.

Sal daar eendag weer iemand spesiaal vir my wees? Nadia weet daar bestaan nie iets soos ‘n maangod nie. Sy wonder maar net.

Uit die hoek van haar oog sien sy hoe die mooiste nooi in die groep, Sarita haarself langs Frik gaan tuismaak. Rondom hulle kuier en lag die ander mense baldadig, maar sy is nie lus vir saamgesels nie. Miskien moet sy wegglip om die paar stukkies klere wat sy saamgebring het te gaan uitpak en ophang.

Sy maak verskoning in die bondel, vat haar flits en gaan sit haar leë bord by die wasbak neer. Terwyl sy wegstap trek ‘n beweging langs die draad haar aandag. Sy sluip nader en loer van agter die stam van ‘n boom verby.

Die gras ritsel en die volgende oomblik kom ‘n klein geel, half naakte mannetjie orent. Hy kyk haar vas in die oё en sit ‘n vinger oor sy glimlaggende mond om te wys dat sy moet stilbly. Sy kan nie uitroep nie, al wil sy. Sy staan versteend en staar.

Die knapie kyk rond, buk af en seil energiek op sy maag onderdeur die heining, met sy volle aandag nou by die groep mense daar rondom die kampvuur.

Hoeveel glase wyn het sy gedrink? wonder Nadia. Verseker halusineer sy.

Die mannetjie sluip na waar Julissa haar glas rooiwyn neersit. Hy vat dit en gaan hurk teen ‘n boomstam waar hy dit met een teug leegdrink. Dit maak hom dapper, want daarna stap hy op die kosbakke af.

“Gabriella, Gaby! Waar is my wyn?” roep Julissa uit toe sy haar hand langs haar stoel laat sak en daar niks is waar haar glas kort tevore gestaan het nie.

“Is dit weg? Toemaar ek skink vir jou ‘n ander een.” Gaby staan op en stap tafel toe, reg op die klein wyndief af. Hy krimp gespanne ineen en sy ogies soek rond vir ‘n ontsnaproete.

Nadia wag in spanning. Gaby moet hom tog ook raaksien, anders is sy stapelgek. Dan gebeur dit. Gaby steek vas, haar oë rek wyd en sy gil hard.

Die outjie krimp ineen, draai om en skiet so rats soos ‘n kat weg.

“Wat was dit?” Frik is eerste by. Sy bier lê skuimend iewers agter hom op die grond en hy hou ‘n jaggeweer in sy hande. ‘n Geweer wat Nadia nou vir die eerste keer raaksien.

“Ek kon aan hom raak, so naby was hy.” Gaby staan en bewe.

“Aan wat?” Julissa vlieg orent.

“Iets het vleis uit die bak gesteel.” Die ander man in die geselskap het dit ook gesien.

“Watse iets? Hond, kat, aap?” vra Frik

“‘n Man.” Gaby lig haar hand tot net bokant die tafel. “Omtrent so hoog.”

“Ek het hom ook gesien. Klein, gelerig van kleur, halfnaak met baie kreukels in sy vel.” Nadia stap ook nader. “En hy lyk baie tuis hier.”

“Ek woon vir die grootste deel van my volwasse lewe op Ingwelala en ek het nog nooit so iets gesien nie.” Frik maak die geweer teen die tafel staan.

“As jy hom nie gesien het nie, is dit nie te sê dat hy nie bestaan nie.” Nadia laat haar nie afsit deur ‘n skeptiese mooi man wat haar probeer ontsenu met sy reguit kyk nie.

“Dis dalk een van my werkers se kinders.”

“Nee, dit was nie ‘n kind nie. Ek weet wat ek gesien het.”

“Hei, vrede,” raas Julissa. “Julle gaan nie nou daaroor stry nie. Skud ‘n blad.”

“Ons baklei nie,” keer Frik. “Ons verskil net.”

“Daarom eis ek dat julle vrede maak. Komaan, skud blad.”

“Orraait, vrede.” Nadia steek haar hand na hom toe uit. Vanaand gaan niemand Julissa teë nie. Sy is bevog!

Frik besef dit seker ook, want hy glimlag en steek ook ‘n hand uit. Maar die oomblik waarop sy hand rondom hare vou gebeur iets vreemd. Dis asof daar elektrisiteit deur sy vingers in hare vloei. ‘n Skok wat haar hart ‘n kort oomblik in sy sistool diastool laat stop. Sy wil los, maar die motoriese senuweestelsel van haar liggaam reageer nie op die dringende boodskap van haar brein nie.

Wanneer Frik sy hand ook probeer wegneem, trek hy haar nader na hom toe en sy donker oë rek verbaas.

Wat is besig om te gebeur? Uiteindelik slaag Nadia daarin om haar hand uit syne te trek. Daar is ‘n eienaardige uitdrukking op sy gesig terwyl hy sy vingers roer.

“Nag almal.” Nadia draai in haar voetspore om. Sy beter dringend wegkom.

Toevallig kyk sy op na die maan en amper val sy van haar voete af van skok. Sy kan sweer dat die maan skelm vir haar knipoog, terwyl ‘n wolkie ‘n stout glimlag op sy ronde gesig verf.

 

Skaakspel van die liefde – Adele Reynders kan nou as Afrikaanse eboek bestel word by liefdesverhalenmeer@gmail.com vir slegs R20.00  Lees op jou laptop of foon.

Lees gerus Skaakspel van die liefde vir slegs $1.00 op Amazon deur hierdie skakel te volg:

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.