eBoeke in Marloth Park – Adele Reynders

Hoekom Marloth Park? Vir baie skrywers is die see, wit sand en goue strande die ideale agtergrond waarin ‘n liefdesverhaal kan afspeel. Vir my hou die Krugerwildtuin, die Afrika bos, daar waar die groot 5 vryliks kan ronbeweeg daardie bekoring in.

Die volgende vraag is, hoekom self uitgee of selfs party van die boeke gratis weggee as eboeke? Ek is so bietjie van ‘n wilde perd. ‘n Bietjie van ‘n rebel. Nie juis iemand wat in ‘n blokkie pas nie. Ek skryf stories waarmee ek gemaklik is. Stories wat ek graag self wil lees. Avontuur, interaksie met die wilde diere, spanning en selfs ‘n moord of twee. Dit pas nie juis in die liefdesverhale of Romanza genre nie. Boonop is ‘n goeie storie vir my belangriker as die verliefraakproses.

Lapa uitgewers enMalanmedia het wel altesaam tien van my boeke gepubliseer en ek is so dankbaar daarvoor. Dit was ‘n goeie reis! Altyd lekker om te hoor dat jou boeke aanvaar is vir publikasie. Malanmedia was die mamma van Epos vir my ‘n droom en Isa se uitdaging.

Lapa het Man van vele talente (Marloth Park), Romein van die Timbavati (Groot 5 omgewing langs die Krugerwildtuin), Reenboogforel, Op die sewende dag en Vrou in die Roosbedding uitgegee.

Ek was gelukkig genoeg dat LAPA 3 van my boeke in hulle Romanza stal aanvaar het: Volmaan, As jy maar weet en Twaalfuurman. Volmaan en As jy maar weet speel in Marlothpark af in die eerste houthuisie wat ek daar besit het. Die ‘groot’ huisie was op pale ongeveer 2.1 meter van die grond af. Ek kon maklik met my Terrios onder die dak inry en daar parkeer. Later het my bakkie net so lekker daar gepas.

Op die erf was daar ook ‘n ‘granny flat’. Slegs ‘n oopplan plekkie met eie badkamer, mini kombuisie en slaaphoekie. Dan was daar ‘n grasdaklapa waar onder mens kon braai. Oulike plekkie wat nogal, teen die reels omhein was. Maar hout het natuurlik ure se instandhouding nodig. Elke keer as ek my voete daar gesit het, moes ek eers kreosoot koop en verf. In Januarie 2007 het dit daar ou olifante met maroelavrugte gereen en toe vrot die houttrappe. Ek het daarna die eerste aanbod om te verkoop aanvaar. Dit is net onmoontlik om ‘n plek instand te hou as jy net so sewe keer per jaar daar kan kom.

Toe koop ek die erf. Ook aan die teerpad. My gevoel, minder stof en ons voel net veiliger as jy dalk eers laataand daar aankom. Ek wou dadelik daar bou. Nie weer hout nie. Iets met ons ligter gewig sement panele … Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander keer.

Skaars twee maande later bel Engela my (Ja, dit is die eiendomsagent wat vir Lana haar huisie in Man van vele talente gaan wys het) Sy bel en vertel … daar is drie huisies wat sy vir my wil wys. Al drie helaas diep in die bos, maar huise van steen of asbes! Nommer een se binnemuur het gedreig om op die kombuis te val. Nommer twee se vloer was nie gelyk nie. Dis afdraende pad van die sitkamer tot in die slaapkamer. Seker ‘n goeie ding as Bacchus saam gekuier het. Jy rol tot in die bed. En nommer drie, die asbeshuisie, die plek waar Pieter Pieterse vermoor is.

Ek wou nie een van hulle koop nie. Maar omdat Engela en Buks soveel moeite gedoen het om vir my te wys, maak ek toe ‘n veel laer aanbod op huis nommer drie. Nie vir die grap nie! Eerder om hulle af te sit.

En toe koop ek per ongeluk die asbes-huisie in die bos. Oeps … Daardie einste huisie was my inspirasie vir die storie Bosengel wat ook in Renza Publikasies se Afrikaanse skrywers Omnibus 1 verskyn. In die storie word die heldin, Hanlie, down and out voor die kansel gedrop. Sy besit nie meer ‘n blyplek nie, want sy sou by die bruidegom intrek. Haar meubeltjies word gestoor tot na die ‘wittebrood’ wat nie meer gaan gebeur nie. Nou soek sy huis en wegkruipplek. Khayabos, wat ek die huisie in die bos gedoop het, is die ideale wegkruipplek.

Hanlie, die heldin in Bosengel moet nou skielik benoude, soms komiese spronge maak om ‘n paar rand bymekaar te maak om mee te oorleef. Gelukkig kan sy vir ‘n paar maande gratis in Khayabos woon. Net jammer die engel wat dit moontlik maak, boul vir die ander span!

Al die boeke is op Amazon as eboeke beskikbaar. Maar dit kan ook bestel word van liefdesverhalenmeer@gmail.com Boeke se prys is R20.00 ongeag van hoeveelheid woorde. Party bestaan uit tot 42000 woorde. Jy betaal eers nadat jy jou boek of boeke ontvang het.

Jy kan ook boeke gratis lees op Afrikaanse Liefdesverhale en stories. Kykmop die bladsy Afrikaanse Liefdesverhale 35+ en stories vir skakels. Hoekom gratis? Die werk is reeds gedoen. die stories is reeds daar. Ek het lankal nie meer drome van best sellers en roem nie. Lees dit gerus., verniet mahala!

Marlothparkstories

Henk, man van vele Talente – Adele Reynders. Lana koop ‘n huisie in Marlothpark. Sy wil wegkom uit die stad en rustiger leef. Sy gaan haar huisie mooi maak en vryskutartikels vir ‘n tydskrig doen op haar ex-man se laptop. Min weet sy dat haar man se laptop ‘n warm patat is en dat iemand se moor om dit te kry.

Dan is daar natuurlik Henk Maritz, wat soos ‘n ridder oral opduik. Lana kan maar net hoop dat sy belangstelling in haar opreg en sonder bybedoelings is. ‘n Lekker komiese liefdesverhaal met ‘n ligte spannings-ondertoon. ‘n Heerlike kuier in Marloth Park.

Hier is die skakel om Man van vele talente gratis op jou foon of laptop te lees. https://adelereyndersauthorartist.wordpress.com/henk-man-van-vele-talente/

Maanhaar op haar stoep – Danya se geliefde buurman is sterwend. Hy was ‘n legende in Marlothpark. Hy wens om sy seun Adrian nog eenmaal te sien. Die man neuk rond in die oerwoude en snaakse plekke agter giftige slange, wilde bere en mensvreter-tiere. Is Marlothpark en die Krugerwildtuin vir hom te mak. Wat sal hy doen as hy weet daar loop ‘n maanhaarleeu tussen die huise rond? Seker dadelik kom kuier.

Dit gebeur inderdaad soms dat daar leeus en roofdiere in Marloth Park rondloop. Ons weet dit net nie altyd nie. Vandaar die reel dat niemand na sononder en voor sonsopkoms daar rondloop nie. Leeus is soort van passief en lui in die dag. Slaperig veral as hulle dik gevreet is. Moet net nooit jou rug op ‘n leeu draai nie. Hy gaan jou plattrek. In die nag is dit egter ‘n perd (of is dit ‘n leeu?) van ‘n ander kleur.

Stryd om Bateleur – Ruanda erf ‘n lodge van haar biologies moeder in Marloth Park. Die voorwaarde is dat sy vir ten minste 3maande daar moet gaan woon. Niemand het haar gewaarsku dat daar kompetisie gaan wees in die vorm van ‘n vreeslike aantreklike man nie. Eduard tree op asof die plek reeds syne is. Dan is daar ook ‘n vrou wat enige tyd van die dag of nag daar opdaag. Afrikaanse liefdesverhaal met ‘n bonatuurlike ondertoon. (Spookstorie! Maar darem nie vreesaanjaend nie.)

Volmaan –  Adele Reynders. Tessa woon deesdae in Marloth Park. Sy verdien haar brood en botter met die neem van pragtige natuurlewe foto’s. Haar lewe neem egter ‘n vreemde wending na haar pa se begrafnis. Daar is ‘n brief wat haar paaie weer met Jonathan s’n laat kruis. Jonathan was haar eerste groot liefde. Hoekom doen haar pa dit aan haar?

Jonathan lei deesdae toere, na die Krugerwildtuin en Mosambiek. Hy ken die omgewing soos die palm van sy hand. Hy gaan sy kennis deedlik gebruik wanneer hy Tessa op ‘n vreemde staptoer ekspedisie saamneem. Iewers deur die Lebombo’s en in die wildste deel van die Oosgrens park in Mosambiek. En iewers kruis hul paaie met die van ‘n trop mensvreter leeus.  Liefdesverhaal met ‘n spannings-ondertoon.

Volmaan is deur LAPA Uitgewers uitgegee en op die oomblik slegs as eboek op Amazon beskikbaar.  Google Amazon Afrkaanse eboeke en skryf Volmaan – Adele Reynders in die blokkie as jy belangstel om dit te lees.

As jy maar weet – Adele Reynders. Nog ‘n Marloth Park storie. Adriaan val met sy motorfiets in die oprit voor Rika se huisie in Olifantstraat. Rika skilder vir ‘n lewe. Sulke sober bruin ultra realistiese waterverfwerke van die Afrika natuurlewe. Dan doen sy sulke malse vrolike kleurvolle etniese prentjies onder ‘n skuilnaam Nonyana. Nou soek die koerante ‘n gesig by die suksesvolle kunstenaar en sy wil met die sak patats vorendag kom. Maar haar kurator en kunsverkoper wil niks weet nie. Hy wil niks doen wat die hen wat die goue eiers produseer doodmaak nie.

Bosengel – Adele Reynders. Hanlie Wessels se verloofde daag nooit by hulle troue in Marloth Park op nie. Hy is weg met haar spaargeld en alles wat sy in haar lewe kon bymekaarmaak. Haar meubels staan iewers gestoor. Haar vriendin se familie besit ‘n piepklein huisie wat al vir jare leegstaan. Sy kan vir ‘n paar maande gratis daar woon. Nou moet sy benoude spronge doen vir ‘n inkomste, want sy moet darem ten minste haar eie elktrisiteit betaal, steeds eet en petrol in haar kar gooi. Alles kos geld. Sy sal enigiets doen om te oorleef. Haar vriendin se broer besit die lodge daar naby. hy en sy maat is fantasties en help waat hulle kan. So jammer dat hy nie van vroue hou nie … Sy kan nogal vir hom lief raak. Nie dat sy in die stadium beplan om haar kop weer met enige man te stamp nie.

Clarissa Clairvoyant – Wraak van die vrou in die water – Adele Reynders. Uiteindelik kom Clarissa by Francois Duval se huis in Marloth Park aan. Hy het die huis by Harry Croxley gekoop. Dit is die huis waar Croxley se vrou Diana verdwyn het. Francois wil sy motorhuis in ‘n woonstel omskep, sodat hy die huis as ‘n soort lodge kan bedryf. Maar dan is daar ‘n vreemde wending en die polisie stel skielik baie belang in die eiendom.

Daar is ook ander boeke van Adele Reynders waar die karakters vlugtig ‘n draai in Marloth Park kom gooi. Reenboogfore en ePos vir my ‘n droom. Op die sewende dag, Vrou in die Roosbedding en Skaakspel van die liefde, laat jou lekker rondkuier in die Malelane, Hektorspruit omgewing.

Adele Reynders kan maar net nie uit Marlothpark wegbly nie …

En as ek nie oor Marloth Park mag skryf nie, vat ek jou saam na die Klasserie en Timbavati omgewing waar die groot 5 ook vryliks rondbeweeg- Romein van die Timbavati. Verdwaalpad na die Liefde en Liefde en konflik op Verdwaal.

Die bonatuurlike genre fassineer my deesdae egter net so veel. Clarissa se vermoee om iets te sien en te beleef in die ander dimensie is geinspireer deur twee persone wat ek self leer ken het. Daar is reeds ‘n hele paar stories in die Clarissa reeks. En ek glo dit gaan nie sommer opdroog nie. Sy praat steeds elke dag met my …